Sunday, November 14, 2010

Preek 14 November 2010

Lukas 21: 5-19

Ek het onlangs ‘n ding oorgekom wat baie van julle seker ook al oorgekom het. As julle sê julle het nie, dan jok jy of jy is net skaam om dit te erken. Ek was by die hospital om iemand daar te gaan besoek. In die ICU, waar jy eers met ‘n intercom moet sê wie jy is voor jy mag ingaan. En so het ek toe ingegaan en my besoek gedoen. En nou moet ek uitgaan. So ek kom by die deur en ek druk teen die deur, maar die deur wil nie oopgaan nie. En ek sukkel met die deur, totdat een van die susters vir my kom wys daar staan “druk die knoppie om uit te gaan”. Toe voel ek  al klaar bietjie stupid, maar ek druk toe maar die knoppie en ek hoor die buzzertjie gaan af, maar die deur wil nie oop nie. Totdat ek sien daar staan op die deur “trek”. Toe besef ek, ek moet die deur trek en nie druk nie.
Moenie vir my sê dit het nog nie met almal van ons gebeur nie. Ons mense sukkel mos om tekens te lees. Soos die mense vir wie Lukas skryf. Hulle leef in ‘n tyd van baie tekens. Tekens van oorloë en opstande en aardbewings, hongersnood, epidemies en Christene wat vervolg word. En hulle lees die tekens as die eindtyd – die einde van die wêreld. En dit laat hulle onseker en bang voel en hulle gryp na enigiets wat vir hulle sekerheid sal bied – soos die tempel en mense wat vir hulle allerhande goed sê en beloftes maak.

Dinge is nie anders vandag nie, hierdie eeu verskil nie van ander eeue nie – ons beleef ook oorloë, hongersnood, opstande, aardbewings, vloede, epidemies en Christene wat vervolg word.  En dit voel vir my dit raak al hoe meer en erger. En wat doen mense? Hulle lees die tekens en raak onseker en bang en dan raak hulle op hol oor mense wat boeke skryf of preke daaroor preek. Veral as die skrywers en predikers nog voorspel dat hierdie tekens vir ons wys dat ons in die eindtye leef en die einde van die wêreld is naby. 

As dit is hoe ons hierdie tekens lees, dan lees ons dit verkeerd. Want dit is juis nie wat Jesus hier sê nie. Hy sê nie dat hierdie tekens die begin van die einde is nie. Net God weet wanneer dit gaan wees, ons gaan dit nie kan weet uit tekens nie. Hy sê juis dat ons nie paniekerig en bang moet raak as ons die dinge rondom ons sien nie. Dis nie die tekens van die einde nie.
Die Message vertaling sê dit baie mooi: “When you hear of wars and uprisings, keep your head and don’t panic. This is routine history and no sign of the end.”

So wat probeer Jesus doen te midde van al hierdie negatiewe tekens? Miskien sal die volgende beeld help om te verstaan wat Jesus probeer doen.
Twee bekende kunstenaars Christo & Jean-Claude. In die 1960’s en 70’s het hulle bekend geraak vir ‘n baie unieke kunsvorm. Hulle noem hulle werk omgewingskuns. Hulle neem groot stroke materiaal en trek hulle bekende natuurlike en mensgemaakte strukture daarmee oor. So het hulle byvoorbeeld 15 000 vierkante meter oranje lap geneem en aan weerskante van ‘n bekende valley in die Rocky gebergtes in Calorado gehang. Hulle het ook 2 eilande aan die kus van Florida met helder pienk material omring. Op ‘n stadium het hulle ook die Duitse regerings geboue met materiaal toegedraai. Om hierdie kunswerke te skep het natuurlik jare se beplanning en voorbereiding en spesiale toestemming en baie geld geverg.
Hoekom doen hulle dit? Robert Storr, Professor in moderne kuns in new York sê dat “ons loop dikwels verby dit wat reeds daar is, sonder om dit werklik te sien of daaraan aandag te gee. So, hierdie kunswerke is bedoel om dit wat reeds in die wêreld teenwoordig is visueel uit te lig, meer te beklemtoon en op nuwe maniere sigbaar te maak.” Op hulle website sê die 2 kunstenaars:  “In doing so, we see and perceive the whole environment with new eyes and a new consciousness.”

Wat Jesus hier vir die mense leer is dat hulle op ‘n nuwe manier na die lewe en dinge wat in die lewe gebeur moet kyk.
In ‘n tyd van onsekerheid, hardloop mense mos baie maklik agter enige ding of enige mens aan in ‘n soeke na sekerheid.  Dis hoekom die mense so opgemaak was met die tempel. Vir die ou Jode was die tempel die simbool van God se teenwoordigheid. Dit was vir hulle ‘n teken van vastigheid en sekerheid.
Vandag is daar dalk ander goed as die tempel waarin mense sekerheid soek. Dalk goed soos geld, sukses, sport, my werk ens.
Maar Jesus sê vir hulle dat die tempel maklik afgebreek sal word. Dinge wat ons dink vir ons sekerheid gee kan maklik wegval. Daarom moes hulle leer om die lewe op ‘n nuwe manier te sien. Hulle moes leer daar is ‘n stewiger hoeksteen as die hoeksteen van die tempel. Hulle moes leer dat Jesus ‘n baie stewiger hoeksteen is as die hoeksteen van die tempel.

So wat Jesus doen, hy herinner die mense, dat swaarkry maar deel is van die lewe. Ons gaan sulke tye beleef, ons gaan onsekerheid beleef, ons gaan selfs beleef dat mense die lewe vir ons gaan moeilik maak. Soos wat mense die lewe vir Jesus moeilik gemaak het. Maar jy moet op ‘n nuwe manier daarna kyk. In sulke omstandighede is dit juis belangrik om vas te hou aan Jesus, die enigste werklike anker en hoeksteen.

Hulle moes ook leer om nie teveel aan mense vas te hou nie. In daardie tyd van onsekerheid was daar baie mense wat gesê het hulle is die messias en mense het agter hulle aangegaan. En so is die arme mense mislei en hulle onsekerheid is uitgebuit. Lukas herinner die mense daaraan dat dit gevaarlik is om sommer agter enigiemand aan te gaan. Jesus is die enigste mens wat waardig is om gevolg te word. Die enigste een wat jou sal help om sin te maak van die onsekerheid en vir jou perspektief sal gee.

Maar daar is nog ‘n manier om hierdie onsekerheid te hanteer, waarmee Jesus ons help. In sulke omstandighede is dit baie maklik om in ‘n “victim mode” verval, ‘n slagoffer mentaliteit te hê. Om te sê, dis nou maar hoe dit is en ons moet nou maar leef daarmee. Ons is ‘n slagoffer van die tye waarin ons leef. Ons is maar die slagoffer van mense wat dit moeilik maak. Maar Jesus weier dat ons soos slagoffers moet voel. Daarom sê Hy: “ek sal vir julle woorde en wysheid gee, ek sal vir julle help om te volhard.”
‘n Goeie voorbeeld van iemand wat dit verstaan het was Michael Lapsley, hy is ‘n predikant  in die Anglikaanse kerk, hier iewers in die Kaap. In die apartheids jare het hy albei se hande verloor toe ‘n briefbom in sy hande ontplof het. Hy sê daar was 2 dinge wat hom gehelp om homself nie as ‘n slagoffer te sien nie.
Eerste ding was Albert Luthuli se woorde: “Those who think of themselves as victims eventually become the victimizers of others.”
Die tweede ding wat hy vir homself gesê het: “People have asked me how I survived, and my only answer is that somehow, in the midst of the bombing, I felt that God was present. I also received so many messages of love and support from around the world that I was able to make my bombing redemptive – to bring life out of death, good out of evil.”

So dis die boodskap van hierdie teks.
Ja, die goed gebeur, maar dis nie die einde van die wêreld nie.
En ja, dit is sleg en dit maak mens bekommerd en laat jou onseker voel, maar dis nie nodig om jou sekerheid te gaan soek in tydelike goed en in mense wat jou mislei nie, want Jesus is die hoeksteen en ons sekerheid.
En ja, soms voel mens soos ‘n victim en uitgelewer aan die dinge wat gebeur, maar ons hoef onsself nie daaraan oor te gee nie, want Jesus sal vir ons insig en perspektief gee en ons help om te volhard.

Ek wil afsluit met ‘n gebed van Aartsbiskop Desmond Tutu:
“Lord, goodness is stronger than evil;
Love is stronger than hate;
Light is stronger than darkness;
Life is stronger than death;
Victory is ours through You who love us.
Amen

Oordenking
  • Lees die teks
  • Wat spreek jou aan in die teks?
  • Die evangelie van Lukas is ongeveer 60 jaar na die kruisiging geskryf. Baie van die slegte goed in die teks was besig om te gebeur. Hoe sou hierdie teks vir die mense rustigheid gegee het? Hoe sal dit ons help in vandag se tye?
  • Ons weet dat swaarkry maar deel is van die lewe. Ons kan nie daarvan ontsnap nie. Maak hierdie wete dit makliker of moeiliker om dit te hanteer?
  • Die tempel is die plek wat vir mense sekerheid en vastigheid gee te midde van moeilike tye. Wat is vandag die “tempels” wat mense gebruik om sekerheid te kry? En wat is die effek daarvan?
  • Die dissipels vra weer vir ‘n teken. Wat was Jesus se konstante antwoord as dit oor tekens gaan? (vers 9)
  • Hoe dink julle oor die woorde van Albert Luthuli: “Those who think of themselves as victims eventually become the victimizers of others.”
  • Watter uitdagings staar jou op die oomblik in die gesig? Hoe help hierdie teks jou om dit te hanteer?
  • Sluit af deur Jesaja 65:17-25 as gebed te lees.

Sunday, November 7, 2010

Preek 07 November 2010

Luk 20: 27-40

Lees die teks

Ek het “stupid questions” gaan google en hier is so ‘n paar wat ek gekry het:
If one synchronized swimmer drowns, do the rest drown too?
How did the man who invented cottage cheese know he was done?
Why is there an expiration date on sour cream?
If you try to fail, and succeed, which have you done?
Why is it that you continually go back to the fridge in the hope that something new will be in there?
If vegetarians eat vegetables. What do humanitarians eat?
If a man with multiple personalities threatens to kill himself, is it considered a hostage situation?
Why do Kamikaze pilots wear helmets?
If you get shot in the head, and go to heaven, do you live in heaven the rest of your life with a bullet in your head?
Can u cry under water?
Why doesn’t Tarzan have a beard?
The more you study the more you know. The more you know the more you forget. The more you forget, the less you know… So why study?
If olive oil is made of squeezing olives, then what is baby oil made from?

By hierdie lys van stupid vrae kan ons die vraag van die Sadduseers ook bevoeg. Hulle vra: “die vrou, wat met 7 broers getrou het, wie se vrou word sy by die opstanding?”
Hierdie vraag was natuurlik bedoel om vir Jesus te toets. Hulle wou hom uitvang. Maar om te verstaan hoekom hulle hierdie vraag gevra het, moet mens verstaan wie die Sadduseers was.
Die Sadduseers het gekom uit die vooraanstaande priesterfamilies. Uit die ryker deel van die Joodse samelewing. Hulle was die mees konserwatiewe en wettiese groep in die Judaiese samelewing. Hulle het net die eerste 5 boeke van die Bybel gelees en streng gelewe volgens die wette wat ons daar lees.
Dis dan ook waar die vraag oor die vrou met die 7 broers vandaan kom. Die gebruik wat genoem word die swaershuwelik. Ons lees daarvan in Genesis en Deuteronomium.  Wanneer ‘n man doodgaan sonder seuns dan moes sy weduwee met sy broer trou en kinders by hom hê. Dit is gedoen om te verseker dat die man se familienaam voortbestaan. En het natuurlik ook gewys hoe min regte vrouens gehad het. Hulle was besittings wat aangegee is.
Omdat die eerste 5 boeke al was wat hulle gelees het, het hulle daarom ook nie geglo in die opstanding of enige lewe na die dood of engele nie.
So hulle probeer vir Jesus ‘n lokval stel deur hierdie absurde vraag aan hom te stel. Eintlik probeer hulle vir hom sê dat alles eindig in hierdie lewe. As jy in die opstanding glo dan gaan jy jou vasloop in goed wat nie sin maak nie. Daarom vra hulle die stupid vraag.

Jesus se antwoord sit hulle op hulle plek, soveel so dat hulle nie weer vir hom ‘n vraag wou vra nie. Maar voor ons daarby kom, kom ons begin by dit waaroor Jesus en die Sadduseers saamstem.
Hulle stem saam daaroor dat hierdie lewe van ons iewers tot ‘n einde gaan kom. Dit is onvermydelik dat ons met die dood gekonfronteer gaan word. Dis ‘n feit dat ons almal gaan dood gaan en dat ons deur die loop van ons lewe gekonfronteer gaan word met die dood van iemand na aan ons. Volgens die Sadduseer is dit waar dit stop, daar is niks meer as hierdie lewe nie. Dit eindig hier. En hieroor het hulle met Jesus gebots.

Maar kom ons kyk gou weer wat Jesus geantwoord het – uit die Message vertaling.
“Jesus said, “Marriage is a major preoccupation here, but not there. Those who are included in the resurrection of the dead will no longer be concerned with marriage nor, of course, with death. They will have better things to think about, if you can believe it. All ecstasies and intimacies then will be with God. Even Moses exclaimed about resurrection at the burning bush, saying, 'God: God of Abraham, God of Isaac, God of Jacob!' God isn't the God of dead men, but of the living.  To him all are alive.”

Jesus se antwoord bevestig dat dinge nie hier eindig nie. Daar is lewe na die dood en dat daardie lewe baie beter en wonderliker is as wat ons ooit kan droom. En ons moenie daardie hemelse lewe beoordeel op grond van dit wat ons hier op aarde beleef nie, want dit gaan baie beter wees.
Andrew Greeley, die priester-skrywer, stel dit pragtig:
“We will love one another in the resurrected life even more intensely, even more joyfully than we do in the present life. It is utterly unthinkable that there would not be between those who work closely with one another on earth an even more powerful and more rewarding intimacy in the life of the resurrection.”
Uit Jesus se antwoord kan ons dus aflei dat ons baie het om na uit te sien in die lewe na die dood. 

Maar Jesus se antwoord en die gedagte dat die lewe eindig, leer ook vir iets oor ons lewe hier-en-nou.
Miskien sal die volgende gedagte ons hiermee kan help.
In 1911 is die Mona Lisa skildery uit die Louvre kunsmuseum in Parys gesteel. Dit was vir 2 jaar lank weg voordat dit teruggekry is. So vir 2 jaar was daar ‘n leë spasie teen die muur in die museum. Vir daardie 2 jaar was daar meer mense wat na daardie leë spasie gestaar het as in die vorige 12 jaar wat die skildery daar gehang het.
Rabbi Sydney Greenberg skryf dan die volgende na aanleiding hiervan:
“It points to our all too human tendency to fail to take adequate note of precious things while we have them. But let one of them be taken from us and we become painfully aware of the blank spaces in our lives, and our attention is sharply focused on that blank space. The walls of our lives are crowded with Mona Lisa’s, but we are unmindful of them. Countless blessings attend us daily and we are so insensitive to them. The more often and the more regularly we receive any blessing, the less likely we are to be aware of it. What is constantly granted is easily taken for granted. Too often, it takes a serious threat to our blessings to make us aware of them...”

Helen Keller, wat doof en blind was, het iewers hierdie woorde geskryf wat baie aansluit by die Rabbi se woorde:
“Ek het al dikwels daaraan gedink dat dit so ’n groot seën sal wees as elke mens vir ’n paar dae gedurende hul volwasse lewe blind en doof word. Donkerte sal hulle meer waarderend maak vir lig en stilte sou hulle die vreugde van klank leer!”

Dis eers wanneer dinge van ons weggevat word, wat ons gewoonlik die waarde daarvan regtig besef. Ons moet leer uit Jesus se antwoord dat ons nou moet begin om die seeninge en die mense met wie ons in verskillende verhoudings leef te waardeer. Ons moet dit doen voordat dit dalk van ons weggeneem word. Of voordat ons dalk met die dood gekonfronteer word. 

Die voorbeeld van die huwelik word in die teks gebruik, maar ons kan dit van toepassing maak op enige verhouding waarin ons staan. Ons moet moeite doen met die mense in ons lewens, want hulle gaan nie vir ewig daar wees nie. Daar gaan ‘n dag kom wat daar ‘n leë spasie langs ons gaan wees.
Daar is ‘n wonderlike storie van ‘n huwelikspaartjie, Florian en Myrtle Krebsbach wat op ‘n klein dorpie gewoon het. Hulle lewe was vreeslik voorspelbaar – elke dag was dit dieselfde. Soveel so, dat Myrtle elke Vrydag dieselfde maaltyd voorberei het. Elke Vrydag was dit gekrummlede visfilette. En elke Vrydag het Florian ‘n happie van die visfilette geneem en dan het hy gesê: “ai, my vrou, dis die beste wat jy dit nog gemaak het.”
Na 47 jaar en +/- 2500 visfilette het hy nog sy vrou bewonder en sy waardering uitgespreek. 

Soos Mark Twain tereg opgemerk het: “I can live for two months on a good compliment.”

Dit bevestig ook wat Jesus gesê het in Matt 6:21 “onthou waar jou skat is, sal jou hart wees.” Ons skat is die seeninge wat ons nou al ontvang en ons skat is die mense met wie ons in verhoudings leef. En as ons nou al waardering het daarvoor, dan sal ons nou al hier op aarde ‘n stukkie van die hemel beleef.

Op op te som: Die sadduseers vra ‘n dom vraag, maar Jesus gee ‘n wonderlike antwoord. Hy antwoord dat daar ‘n wonderlike en mooi lewe vir ons wag in die hemel, maar dat ons nou al iets daarvan kan beleef as ons besef hoe bevoorreg ons is, as ons dankbaar is vir ons seeninge en as ons waarderend is teenoor die mense met wie ons in verskillende verhoudings leef.

Oordenking
  • Wat was vir die Sadduseers die grootste struikelblok in Jesus se lering?
  • Die vraag wat die Sadduseers vra oor die vrou met die 7 mans is nie eintlik waaroor dit gaan nie. Wat was hulle eintlike punt? Hoe het Jesus die vraag geantwoord?
  • Die gesprek oor die dood en die lewe daarna leer vir ons ook iets van ons lewe hier-en-nou. Wat het die preek vir julle hieroor duidelik gemaak?
  • Watter reaksie vra die teks en die preek van jou?  





Sunday, October 31, 2010

Preek 31 Oktober 2010

Dankbaarheidsfees 
Teks: Psalm 100
Iemand het iewers gesê: “die moeilikste rekenkunde om baas te raak – is dit wat jy nodig het om jou seëninge mee te tel.”
Vandag is dankbaarheidsfees. Vandag gaan oor dankbaarheid teenoor God vir al ons seeninge die afgelope jaar. Maar daar is seker baie van ons wat wonder wat ons nou eintlik het om oor dankbaar te wees. Elke dag hoor ons van al die korrupsie en geweld in ons land. Ons hoor van leiers wat onbetroubaar en sonder intergriteit is. Ons hoor van mense wat hulle werk verloor. Ons hoor van sosiale probleme en mense wat siek is. Dis makliker om bitter, kwaad en moedeloos te wees as om dankbaar te wees.
Maar daar is ook ‘n ander perspektief. Iemand het gesê: “ons kry nie altyd alles wat ons van God vra nie, maar ons het altyd ‘n rede om vir Hom dankie te sê.” 
Psalm 100 gee vir ons 3 redes om dankbaar te wees. 
Ons moet dankbaar wees omdat God goed is.
Ons almal het mos goed waarvoor ons kan dankie sê. Goed wat ons elke dag van God ontvang en goed wat in ons lewens gebeur. Maar wat die Psalm vir ons leer is dat ons nie net moet dankbaar wees vir dit wat God vir ons gee nie, ons moet dankbaar wees vir wie Hy is. En Hy is goed. Dis wie Hy is, dis sy karakter, Hy kan nie anders as om goed te wees nie. Wees dankbaar omdat God goed is. 
Ons moet dankbaar wees, want aan sy liefde is daar geen einde nie.
Ons leef in ‘n wêreld waar liefde ‘n baie goedkoop woord geword het. Liefde het begin gaan oor plesier, dit het voorwaardelik en selfsugtig geword, dit het begin gaan oor liefde die gevoel en nie meer liefde die commitment nie. Mense soek vining groener weivelde omdat hulle nie meer die harde werk van liefde wil doen nie.
Soos die storie van die engelse predikant wat besig was om iemand te trou. Hy kom toe by die belofte: "DO YOU TAKE THIS WOMAN TO BE YOUR WEDDED WIFE, FOR BETTER OR WORSE, FOR RICHER, FOR POORER, IN SICKNESS OR IN ... op daai punt toe stop die bruid die predikant en sê vir hom:
“asseblief ds. Sal jy ophou, jy is besig om hom af te skrik.” 

Teenoor dit sê die psalmdigter: “dank Hom, prys Hom, want aan sy liefde is daar gee einde nie.”
Richard Halverson som dit baie mooi op: “There is nothing you can do to make God love you more! There is nothing you can do to make God love you less! His love is unconditional, impartial, everlasting, infinite and perfect.”  
Ons moet dankbaar wees want sy trou duur vir ewig.
Ons moet dankbaar wees, want God bly getrou, selfs al is ons soms ontrou. Want dis wie Hy is. Hy kan nie anders nie. Wanneer die oppe-en-affe van die lewe ons tref, wanneer ons deur moeilike tye gaan, dan kan ons daar deurkom. Nie omdat ons geloof so sterk is nie, maar omdat God getrou is. 
Ps 100 leer ons om dankbaar te wees omdat God goed is, omdat sy liefde nooit ophou nie en omdat Hy vir altyd getrou sal wees.
Daar is ‘n legende van ‘n man wat eendag by ‘n skuur gekom waar Satan die sade gestoor het wat hy in mense se harte saai. Hy stap so deur die skuur en hy sien dat hoop wat die grootste is, is die saad van moedeloosheid. Hy vra toe vir Satan daaroor. En satan antwoord: dis sade wat omtrent enige plek groei, behalwe een plek. “En waar is dit?” vra die man. En Satan antwoord: “in die hart van ‘n dankbare mens.” 
Gebed 
Nagmaal
Vandag se nagmaal is ‘n dankseggings maaltyd. Vandag is ons ook ‘n familie wat om die nagmaalstafel saam kom en dankbaar is vir dit wat Jesus vir ons kom doen het.  Dankbaar vir sy liefde, sy genade, sy getrouheid.  
Getuienisse 
Gee van dankbaarheidsoffers
Daar is ook ‘n ander kant aan dankbaarheid wat dalk die beste opgesom word deur die volgende aanhaling:
“Not what we say about our blessings, but how we use them, is the true measure of our thanksgiving.”  ~W.T. Purkiser
Daar is ‘n doenkant aan dankbaarheid. Ons wys ons dankbaarheid deur iets te gee. Ons gee nie omdat ons moet nie, ons gee ook nie omdat ons iets van God terug verwag nie of iets van hom wil hê nie. Ons gee omdat ons dankbaar is vir alles wat hy vir ons gee en doen. So, die enigste vraag wat ons onsself eintlik moet afvra is: “weerspieël hierdie gawe my dankbaarheid?”
Kom ons wys ons dankbaarheid met die gee van ons dankbaarheidsoffers 
Om oor te dink
As jy terugkyk oor die afgelope jaar – waarvoor is jy dankbaar?
Lees weer die aanhaling:
“Die moeilikste rekenkunde om baas te raak – is dit wat jy nodig het om jou seëninge mee te tel.” 

  • Hoekom is dit vir ons so moeilik om dankbaar te wees? 
Lees Ps 100 en die verduideliking daarvan in die preek.
  • Wat leer ons van God in hierdie Psalm?
  • Wat leer ek van myself in hierdie Psalm?
  • Wat reaksie vra die Psalm van ons? 
Lees weer die aanhaling: “Not what we say about our blessings, but how we use them, is the true measure of our thanksgiving.”  ~W.T. Purkiser
  • Dankbaarheid word ook weerspieel deur dit wat ek bereid is om te gee en te doen. Hoekom is dit so moeilik?  

Sunday, October 24, 2010

Preek 24 Oktober 2010

2 Timoteus 3: 14-4:5
So ‘n paar Sondae gelede het ons tydens die diens gehoor van die werk van die Gideons doen en hoe hulle mense se lewens beinvloed deur die plaas van Bybels op verskillende plekke.
Verlede Sondag het ons geluister na Thys Visser van Geopende Deure wat werk in die lande waar Christene vervolg word vir hulle geloof. Groot deel van hulle werk is om Bybels te voorsien aan mense in hierdie lande. So ek het gedink dat ons vanoggend bietjie kan stilstaan by die rol van die Bybel in ons lewens. Ek gaan vanoggend oor die Bybel preek.
Ek wil nou nie vanoggend die Bybel verdedig nie. Ek dink mens het nodig om dit te doen nie. Soos Spurgeon lank teruggesê het: “There is no need to defend a lion when he is being attacked. All we have to do is open the gate and let the lion out. The lion will defend itself.”
Die Bybel is ‘n inspirerende boek. Ek dink ons almal kan getuig van kere wat die Bybel vir ons iets beteken het. Maar daar is verskillende kante aan die Bybel. Die Bybel is ‘n boek wat mens laat goed voel, jou troos en inspireer. Die Bybel is ook ‘n gevaarlike boek, want dit daag ons uit, dit laat ons dink, dit dwing ons partykeer om veranderinge in ons lewens aan te bring. Alhoewel my ervaring is dat ons nie eintlik hou van daai deel van die Bybel nie, want dit vra partykeer van ons goed wat ons nie graag wil hoor nie. Maar die Bybel is ook gevaarlik in die sin dat mens enige iets uit die Bybel kan regverdig, soos oorloë, poligamie, selfs goed soos moord en selfmoord en rassisme. 
Op ‘n ligter nood, mens kan selfs uit die Bybel regverdig hoekom ons nie moet draf nie: Spreuke 28:1
“Die goddelose hardloop weg al jaag niemand hom nie.” 
Die punt is: Hoe mens die Bybel lees en verstaan is belangrik. Dis byvoorbeeld belangrik  om die konteks, die agtergrond, die kultuur vir wie dit geskryf is in ag te neem wanneer mens die Bybel lees, sodat jy beter kan verstaan wat bedoel word. Dis ook belangrik om nie teksgedeeltes een-een uit te pluk nie, want tekste vorm deel van ‘n groter geheel wat saam die betekenis bepaal. Dis ook belangrik om te weet dat die Bybel is nie ‘n geskiedenis of wetenskap handboek nie - dis ‘n geloofsboek, dit gaan oor God se betrokkenheid in mense se lewens. Dis daarom veral belangrik om te onthou dat ons met baie nederigheid en in afhanklikheid van die Gees met die Bybel sal werk, want ons weet nie alles nie. 
So kom ons kyk wat skryf Paulus vir Timoteus oor die Bybel. Wanneer ons dit lees moet ons 2 goed in gedagte hou. Paulus is besig om vir Timoteus te help met sy roeping. So hy herinner hom aan die rol wat die Bybel in sy lewe speel. En ons moet onthou dat wanneer Paulus oor die Skrif praat, dan praat hy oor die Ou Testament, want hulle het nog nie die Nuwe Testament gehad nie. Maar vir ons, wat NT Christene is kan ons die goed wat Paulus skryf op die hele Bybel van toepassing maak.
Lees die teks
Ons gaan veral fokus op vers 15 &16, so kom ons kyk gou hoe dit in 2 ander vertalings weergegee word.
“... why, you took in the sacred Scriptures with your mother's milk!
There's nothing like the written Word of God for showing you the way to salvation through faith in Christ Jesus.   Every part of Scripture is God-breathed and useful one way or another--showing us truth, exposing our rebellion, correcting our mistakes, training us to live God's way.”(The Message)
But you! Keep on track with your training. You’re convinced, so carry on, focussed. You know where your coaching comes from-you’ve had the instruction manual since you were a toddler, it’s oozing with wisdom. It sorts you out when you take the Liberator, Jesus, at his word. It’s totally inspired. It’s the only manual you need for coaching, counseling, correcting. If you want to be up and ready for every possible variation on doing the right thing, the
instruction manual is the only book for you. (The Word on the Street). 
 
Kom ons unpack wat sê Paulus hieroor.
Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus
Ons het uit getuienisse van die Gideons en van Geopende deure gehoor hoe mense net die Bybel begin lees het en hoe hulle lewens daardeur verander is.  Ek weet van geen ander boek wat dit kan doen nie. ‘n bibliografie van ‘n bekende persoon gaan jou dalk perspektief
kan gee, of ‘n versameling kortverhale of gedigte kan jou inspireer. Maar dis net die Bybel wat lewe kan verander. Want God sit daaragter - dis deur God geinspireer en dit vertel vir jou van die verlossing deur Jesus Christus.  Soos die Massage vertaling sê:  ‘Every part of Scripture is God-breathed’. Dit het dus ‘n transformerende funksie.

Dit help om ons in die waarheid te onderrig en dwaling te bestry.
‘n Belangrike ding om te onthou wanneer ons oor die Bybel praat, is dat ons geloof is gebou op Jesus Christus, nie op die Bybel. God het nie vir ons ‘n boek gestuur nie, Hy het ‘n mens gestuur. Maar die Bybel bly nog steeds die beste vertelling wat ons het van Jesus se lewe. So, in daai sin kan ons ook vir God dankie sê vir die Bybel. En daarom kan Paulus dan ook sê dat die Bybel onderrig ons in die waarheid  en help ons om dwaling te bestry– want dit vertel vir ons van die waarheid – dit vertel vir ons van Jesus.
Maar daar is ook ‘n kwalifikasie, ‘n waarskuwing – iemand het gesê:  “Die Bybel is dus nie ’n stok om ander mee te slaan nie, maar ’n stok om saam op te leun, te steun...”
Wanneer Paulus praat van die Bybel wat ons in waarheid onderrig en dwaling bestry, dan bedoel hy nie dat ons mense moet bykom met die Bybel. Dit maak my so vies as mense sê: jy mag nie dit doen of jy mag nie so wees nie, want die Bybel sê so. Die Bybel is ‘n boek waarmee jy mense ondersteun, leer, help, troos en uitdaag. Dis nie iets waarmee jy mense moet bykom nie. Veral nie as jy tekste gebruik sonder dat jy eers uitgevind het wat regtig daar staan nie. So die Bybel het ook ‘n onderrigfunksie. 
Dit help om verkeerdhede reg te stel en die regte lewenswyse te kweek.
Die Bybel het ook ‘n invloed op die manier hoe ek my lewe leef. Dit het met ander woorde ook ‘n etiese funksie. Etiek in sy eenvoudigste vorm beteken: “mens moet die regte dinge vir die regte redes doen”. Ons leef in land waar dit juis nie sien nie.
Die Bybel help ons hiermee. 
Paar aanhalings wat dit duidelik maak:
 “What I want to say, is in order to read the Scriptures adequately and accurately, it is necessary at the same time to live them...  Reading the Scriptures is not an activity discrete from living the gospel but integral to it. It means letting Another have a say in everything we are saying and doing.
It is as easy as that. And as hard.” (Eugene Peterson)
“Ons lees nie die Bybel om uit te vind hoe ons God in ons lewens kan intrek of om Hom te kry om daaraan deel te neem nie. Nee, ons maak die Bybel oop en vind dat bladsy na bladsy dit ons onverhoeds betrap, dit ons verras en dit trek ons in die Bybel se werklikheid in en dwing ons tot deelname saam met God, op Sy voorwaardes!” ( Karl Barth) 
Ons kan nie net die Bybel lees nie, ons moet dit gaan doen ook, dis iets wat eties geleef moet word.       
Om op te som:
Marten Luther het van die Bybel as ‘n “lewende woord” gepraat. Maar dis lewend omdat God, daaragter sit, omdat dit ons vertel van ‘n person Jesus Christus en omdat die Heilige
Gees ons help om dit te verstaan.  
Volgens Paulus is die Bybel lewend want dit het…
‘n transformerende funksie – dit verander mense se lewens.
‘n onderrig, lerende funksie – dit leer ons van Jesus en geloof
‘n etiese funksie – dit help ons om reg te lewe. 
Miskien sal die volgende storie die effek van die Bybel die beste saamvat:
Martin Niemoller was ’n Duitse predikant wat tydens die 2de Wêreldoorlog deur Hitler na Dachau-konsentrasiekamp gestuur is. Hulle het alles van hom weggeneem, behalwe sy Bybel. Hier is sy getuienis oor die betekenis van die Bybel:  “Wat het die Boek vir my beteken gedurende lang, uitputtende jare van alleenwees in ’n sel? Die Woord van God was eenvoudig alles vir my, troos en krag, leiding en hoop, meester van my dae en metgesel van my nagte, die brood van die lewe wat my van hongersnood weerhou het en die water van lewe wat my siel verfris het.”  
Om oor te dink
     
  • Dink aan ‘n keer of kere toe ‘n gedeelte in die Bybel jou gehelp/getroos/versterk het? Wat was die gedeelte en hoekom?
  • Hoekom is die Bybel soms vir jou moeilik om te verstaan?
  • In die inleiding van die preek word ‘n paar goed genoem oor die Bybel en hoe ons dit moet verstaan. Hoe help dit jou in jou verstaan van die Bybel?
  • Lees 2 Timoteus 3: 15-16 uit die Afrikaanse Bybel en die 2 verskillende verstalings wat preek gebruik word.
    •  
    • Wat spreek jou aan in die gedeelte? 
  • Lees die verduideliking in die preek van die verskillende dele van die teks. 
    •  
    • Hoe help dit jou met jou idee/persepsie van die Bybel?
    •  
    • Gaan jy in die toekoms die Bybel anders benader/verstaan? Indien wel hoekom? Indien nie, hoekom nie?
  • Sluit af deur die getuienis van Martin Niemoller in die slot van die preek te lees.

Wednesday, October 13, 2010

Preek 10 Oktober 2010

Ek was hierdie week vlugtig in die moeilikheid by my goeie vrou en my skoonpa. Want ek
het vergeet om ‘n boodskap oor te dra. Of laat ek liewer sê, ek het net ‘n gedeelte van die boodskap oor gedra. Ek voel natuurlik dit was die belangrike gedeelte. Jalize was in Pretoria waar sy die heel besig was met opleiding. My skoonpa kon haar nie in die hande kry nie, so hy bel toe vir my. Hy vertel toe vir my ‘n klomp goed, onder andere dat hulle vir ‘n paar dae weggaan en dat Jalize hom nie in die hande sal kan kry nie, want daar is nie selfoonopvangs
waar hulle gaan nie. So ek moet vir Jalize net sê dat hulle Donderdag terug is en dat sy dan kan bel om reelings te tref dat hulle mekaar die aand kan sien.
Dis wat ek toe doen. Behalwe dat ek al die ander goed wat hy ook vir my gesê het, ook moes oordra, wat ek nie gedoen het nie. So toe Jalize die aand by hulle kuier, toe is sy in die verleentheid omdat daar goed is waaroor hulle praat, wat ek nie vir haar gese het nie.

Daar is ‘n uitdrukking wat lui: “The world has got a two week memory.” Ons vergeet mos
so maklik. Veral as mens so begin besig raak met alles wat elke dag moet gebeur.

CS Lewis het daarom gesê: “People need more to be reminded than instructed”


Gabriel García Márquez – skrywer wat die Nobelprys vir Letterkunde gewen het met sy boek –100 Years of Solitude. Hy skryf van die mense in ’n dorpie wat aan ’n aansteeklike siekte gely het wat vergeetagtigheid veroorsaak.  Die siekte wat soos ’n plaag onder die mense
versprei het, laat mense die mees voor die hand liggende goed se name vergeet!
Een jong man wat nog nie die siekte het nie, probeer die skade verminder. Hy plak etikette op alles: bv. “hierdie is ’n tafel”, ens!  By die ingang van die dorp sit hy twee groot tekens:  “Ons dorp se naam is Maconda” en op die groter teken staan: “God bestaan!”

Dis waarmee Paulus besig is in vanoggend se teksgedeelte, hy is besig om sulke plakkate op te sit sodat Timoteus kan onthou wie Jesus is en wat sy roeping is. En ek dink nogal dis iets waaraan ons almal elke nou en dan herhinner moet word.


Lees die teks uit The Message - 2 Timoteus 2: 8-15

Hy begin deur vir Timoteus te herinner aan wie Jesus is.

Hy herinner hom dat Jesus kom uit die lyn van Dawid.

Hiermee wou hy beklemtoon dat Jesus nie sommer maar net ‘n karakter in ‘n mooi storie
was nie. Hy is hier op aarde gebore, hy het hier rondgeloop, hy het gehuil en gelag, hy het kwaad geword. Hy het ook hier dood gegaan en weer opgestaan uit die dood. Hy was ‘n mens soos ons, tussen ander mense.


Dit het my laat dink Billy Graham se bekende illustrasie van Jesus se mens wording:



Billy het teruggeloop huis toe, toe hy ’n platgetrapte miershoop sien. Hy kon sien dat hierdie fyn beplande huis geruïneer was, verskeie miere is dood of beseer. Hy het gekyk hoe hulle in pyn en verwarring rondskarrel en toe gewens dat hy vir ’n oomblik ’n mier kon wees. Hy wou een van hulle wees sodat hy vir hulle kon sê hoe jammer hy is oor hulle ramp en dat
hy graag vir hulle wou help. Maar hy het geen manier gehad om met hulle te kommunikeer nie, daarom het hy maar verder aangeloop.


God het ook gesien hoe stukkend ons mense hier op aarde is, maar hy het nie net jammer gevoel en weggeloop nie. Hy het ‘n plan gemaak. Hy het sy seun gestuur om een van ons te word en iets te doen aan ons stukkendheid, soos Johannes 3:16 mos vir ons leer.


Hy herinner Timoteus ook dat Jesus uit die dood opgestaan het.

Jesus het nie net mens geword nie. Hy het ook gesterf en weer opgestaan uit die dood.
Maar die opstanding was nie net iets wat gebeur het en toe is dit verby nie. Die opstanding het gemaak dat Jesus nou op ‘n nuwe manier elke dag by ons teenwoordig is.

Die skrywer CK Chesterton het eendag op ‘n straathoek in London gestaan toe ‘n joernalis met hom begin gesels het. Die joernalis sê toe vir hom: “meneer, ek hoor dat jy onlangs ‘n christen geword het. Mag ek jou ‘n vraag vra?” Hy vra toe: “As die opgestane Jesus skielik op hierdie oomblik aan jou sou verskyn en agter jou kom staan, wat sou jy doen? Chesterton antwoord: “maar hy is hier agter my”  

Ons word weer herinner daaraan dat dieselfde Jesus wat in die strate van Judea en
Galilea rondgeloop het, is ook die een wat vandag, elke dag hier langs ons, en by ons en agter ons en in ons is. 

En dan herinner Paulus ook vir Timoteus daaraan dat omdat Jesus vir hom mens geword en opgestaan het, moet hy ook daarop konsentreer om sy beste vir God te doen.


Ek lees van ‘n predikant wat vertel van iets wat gebeur het toe hy graad 2 was. Hy het
‘n Juffrou gehad wie se stokperdjie pottebakkers werk was. So, vir vadersdag het sy vir die kinders klei gegee en gesê hulle moet iets spesiaal maak vir hulle pa en dan sal sy dit in haar oond gaan bak. En die predikant onthou toe dat sy pa lief was vir ‘n lekker sigaar, so hy besluit toe om vir sy pa ‘n asbak te maak. Hy vertal dat die asbak maar lekker skeef en krom was, maar toe hy dit vir sy pa gee, het sy pa dit hanteer en gebruik asof dit die beste en
duurste asbak in die wêreld was.

Die meeste van ons is nie die beste en heiligste gelowiges in hierdie wêreld nie. Ons is soos die asbak, maar lekker skeef en krom. Soms faal ons met die goed wat ons doen as gelowiges. Soms doen ons niks omdat ons bang is ons gaan misluk as gelowiges. Soms vergelyk ons onsself met ander gelowiges en ons voel nie goed genoeg nie.


Daarmee saam is daar mense wat by ons die idee probeer skep dat God soos ‘n kwaai pa is
wat moeilik is om tevrede te stel. Dis die idee wat predikante en die kerk by my geskep het toe ek ‘n kind was. Ek was bang vir die dominee en ek was bang vir God. Hulle het by my die idee geskep dat God kwaai is en dat ek in my spoor moet trap.

Die God wat ons by Paulus en Timoteus leer ken is nie ‘n demanding en kwaai God wat
moeilik is om tevrede te stel nie. Hy is meer soos die pa in die storie van die asbak. Paulus herinner vir Timoteus weer daaraan dat God wil nie hê dat hy perfek moet wees nie.  Hy hoef nie dieselfde hoeveelheid mense te  bereik wat Paulus bereik het nie, hy het nie nodig om op die water te kan loop soos wat Petrus gedoen het nie. Hy herinner hom daaraan dat God net wil hê dat hy sy beste moet doen met die gawes wat God vir hom gegee het. En as hy dit doen dan sal hy eer bring aan God. 


So, laat ek julle nou weer vanoggend hieraan herinner  – God stel nie belang daarin dat ons die beste gelowiges moet wees nie, of dat ons perfek moet wees nie,  Hy gee ook nie om as ons sukkel en misluk nie - al wat hy wil hê is dat ons die beste moet doen met die gawes wat hy vir elkeen vir ons gegee het.

Soos iemand gesê het: “In our life with Christ, it is better to aim for the stars and only hit the moon than to aim for nothing and score a direct hit!”

Om op te som: as julle dit dalk vergeet het, word vanoggend weer daaraan herinner:


     
  • Maak nie saak watter uitdagings daar oor ons pad kom nie; maak nie saak waardeur ons gaan nie en wat ons beleef nie - Jesus het vir elkeen van ons mens geword sodat hy self kon beleef en verstaan waardeur ons elke dag gaan.
  • Maar hy het ook gesterf en opgestaan, sodat hy elke oomblik van elke dag by ons, in ons en saam met ons kan wees.
  • En onthou dat God is nie ‘n kwaai God wat van ons verwag om perfek te wees en alles reg te doen nie. En Hy vergelyk ons ook nie met enigiemand anders nie. Al wat Hy wil hê is dat ons die beste sal doen met die gawes wat hy vir ons gegee het.  
Oordenking

Dink terug aan jou kinderdae. Wat was die prentjie wat jy van God gehad het?

Lees
die teks(verkieslik uit The Message vertaling)
     
  • Wat maak die teks by jou wakker? 
In die
teks herinner Paulus vir Timoteus dat Jesus werklik mens geword het, en ook uit
die dood opgestaan het.(sien die verduideliking in die preek)



·        Wat leer ons hieruit van God?

·        Wat beteken dit vir jou?

By Paulus en Timoteus leer ons dat God nie demanding en kwaai is nie. En dat ons
nie nodig het om Hom te prober tevrede stel nie.


  • Hoe verskil dit van die prentjie wat jy van God het?
  • Wat doen dit aan jou om dit te hoor?

Paulus sê vir Timoteus dat hy daarop moet “konsentreer om sy beste vir God te doen”.
Hy hoef dus nie perfek te wees nie – hy moet net sy beste doen, met die gawes wat God vir hom gegee het.


     
  • Wat leer ons hieruit vir die manier waarop ons
         diensbaar is?
  • Wat kan jy doen om jou beste te doen?




Wednesday, October 6, 2010

Preek 03 Oktober 2010

Ons leef mos in ‘n tyd waar die Christelike geloof baie prominent is. Ons lees daarvan, ons hoor daarvan – positief en negatief. En Christene speel ‘n groot rol in die samelewing. Ek wil julle terugvat na ‘n tyd toe dit baie moeiliker gegaan het met die christelike geloof. Die kerk was nog net ‘n paar dekades aan die gang. Paulus en die ander apostels was hulle geestelike mentor en inspirasie, maar hulle is al oud en besig om te sterf en Paulus is in die tronk. Trouens, hierdie was waarskynlik die laaste brief wat hy geskryf het voor sy dood.
Vir Timoteus was dit ‘n baie moeilike tyd. Hy was een van die nuwe leiers wat deur Paulus opgelei is en hy moes nou die gemeente in Efese bedien. Dit was nie ‘n maklike taak nie. Daar was ‘n paar goed wat teen Timoteus getel het. Hy was hartseer oor dit wat besig was om met Paulus te gebeur en omdat mentor nie meer lank by hom gaan wees nie. Dan was daar die Romeinse owerhede wat baie onverdraagsaam was teenoor die Christene en hulle wou hulle uitwis. En dan het timoteus ook baie onbekwaam gevoel vir die taak wat aan hom opgele is.
Dis in hierdie moeilike omstandighede wat Paulus hierdie brief vir Timoteus skryf.
Lees die teks 2 Timoteus 1: 1-14
Miskien sal die volgende DVD clip mooi verduidelik waaroor die teks gaan. Sieg en
Sakkie. (‘n Hond het vir sakkie bang gemaak. Sieg verseker hom dat hy nie meer
bang hoef te wees nie, want God en, hy wat Sieg is, is by hom) 
Timoteus voel bietjie soos Sakkie. Hy is bang en onseker en hy voel onbekwaam vir die
groot taak wat aan hom opgelê is. Paulus sê dan vir hom ‘n paar dinge om hom te
help.
Hou vas aan dit wat jy by jou geloofsvriende en mentors geleer het.
Hier verwys Paulus na homself as Timoteus se mentor en hy noem ook Timoteus se ma
Eunice en sy ouma Lois. Die mense by wie hy sy geloof geleer het.
Stef Bos sing ‘n lied: Pappa. In die lied sing hy dat hy sy pa se oë en hande het.
Dat hy lyk soos sy pa. Maar hy sing ook dat hy en sy pa baie verskil. Hulle verskil oor godsdiens en hulle uitkyk op die lewe en lewenstyl. Maar ten spyte daarvan het hy ook baie geleer by sy pa en hoe ouer hy word, hoe meer besef hy, hy lyk al meer soos sy pa en hy hou al meer van sy pa.
Ons het almal sulke mense in ons lewens. ‘n Ouma of oupa, pa of ma. Dalk ‘n vriend, iemand by wie jy baie geleer het en vir wie jy respek het. Die punt wat Paulus wil maak aan Timoteus – wanneer jy onseker voel, onbekwaam voel of bekommerd voel is daar behalwe God ook die mense aan wie jy kan dink, met wie jy kan praat en wat vir jou ‘n inspirasie sal wees. Mense wat ‘n belangrike rol in jou lewe speel en gespeel het.
Neem gou ‘n oomblik en dink bietjie wie so ‘n mens vir jou is. Wie is die mens wat  vir jou is, wie Paulus vir Timoteus was? Sê vir God dankie dat hy die persoon in jou lewe gestuur het.  Uitdaging: bel of SMS, of email die persoon en sê dankie.
Paulus herhinner ook vir Timoteus aan sy identiteit in Christus.
Hy herhinner vir Timoteus daaraan dat sy geloof en bediening kom van God af. In vers 9 sê hy dit baie mooi: 
“Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees.  Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.”
Ons geloof is die gevolg van God se werk in ons. Dit hang nie af van hoe ons voel nie of van die dinge waardeur ons gaan nie. Dit bly altyd vas, want dit kom van God af. En daarom kan ons soos Timoteus weer hoor, ons kan aan God vashou, maak nie saak wat oor ons pad kom nie.
Hierdie werking van God in ons lewens maak 4 dinge vir ons moontlik. Volgens vers 7
Dit maak dat ons nie lafhartig hoef te wees nie. Paulus bevestig dat ons vir niks hoef bang te wees nie. Die Heilige Gees woon in ons, is altyd by ons en help ons om dinge te hanteer.
Dit vul ons met krag, sodat ons enigiets kan hanteer en die lewe in die oë kan kyk.
Dit help ons om Jesus se liefde uit te leef. Om sy liefde vir onsself te neem, maar dit dan ook te gaan uitleef teenoor ander.
Dit gee vir ons selfbeheersing om te weet hoe om te reageer en die regte keuses te maak. Sodat ons positiewe getuies vir Jesus sal wees.
Timoteus word opgeroep om dit wat God gedoen het, vir homself toe te eien en daaruit en daarmee te gaan leef.
Ons word geroep om dieselfde te doen. Ons kan moed skep want ons het die krag en die Gees wat in ons werk. 
 
Graffiti op ’n muur van New York se ondergrondse stasie:    

“You can punch my lips so I can't blow my horn,
but my fingers will find a piano.
You can slam the piano lid on my fingers, but you can't stop my toes from tapping like a drum.
You can stomp on my feet to keep my toes from tapping, but my heart will keep swinging
in four/four time.
You can even stop my heart from ticking, but the music of the saints shall never cease.”
Soos Paulus in vers 12 sê:
“Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.”
Bespreking
Dink aan ‘n keer in jou lewe toe jy regtig bang was en hoekom?
In die lig van die teks en die agtergrond, wat staan vir jou uit?
In vers 2, 5 skryf Paulus dat Timoteus moet vashou aan die mentors in sy lewe en aan dit wat hy by hulle geleer het.
  • Wie is die mense wat in jou lewe ‘n belangrike rol gespeel het en hoekom?
Paulus skryf dat Timoteus moet vashou aan sy identiteit in Christus, want dis gesetel in God en nie in hoe hy voel nie. (vers 9).
  • Wat sê hierdie gedagte van God?
  • Wat sê dit vir jou?
Lees die graffiti wat op die muur van die treinstasie geskryf is.
  • Wat beteken dit vir jou?