Sunday, August 29, 2010

Preek 29 Augustus 2010

Luk 4: 7-14(Nagmaal)

Ons almal hou mos van partytjies. Tye wat ons saam met saam met vriende eet en kuier. Dis lekker ontspanne en ons leer mekaar so ken. Wie mens nooi na ‘n partytjie sê nogal iets, want ons nooi mos mense wat vir ons belangrik is. Mense saam met wie jy graag wil tyd spandeer.

So was Jesus ook genooi na ‘n partytjie toe. Kom ons lees daarvan.Lees vers 7-11.

Ek wil begin met ‘n storie

Daar was lank terug ’n waterdraer wat twee kruike gedra het - elkeen het gehang op die punt van ’n paal wat hy oor sy nek gedra het. Een van die potte was gekraak en ander een was volmaak en die gekraakte een het altyd halfvol water by die huis aangekom.

So het dit vir twee jaar aangegaan en soos die tyd aangestap het, het die gekraakte pot skaam gevoel oor sy gebreke en sleg gevoel omdat hy net die helfte van die werk kon doen - hy kon net vir ’n halwe kruik water sorg.

Na twee jaar het die gekraakte waterkruik met die waterdraer gepraat: “Ek skaam my vir myself en ek wil jou om vergifnis vra.” Die waterdraer het met ’n frons op sy voorkop gevra: “Waaroor skaam jy jouself?”

“Ag, as gevolg van my kon jy ten spyte van jou harde werk, nooit jou werk doen soos jou meester dit wou hê nie.”

Die waterdraer het met sagte oë na die waterkruik gekyk en met deernis in sy stem gesê:

“As ons terugloop na die meester se huis toe wil ek hê jy moet oplet hoeveel blomme daar langs die paadjie is.”

Die gekraakte waterkruik het die pragtige kleurvolle blomme opgemerk en dit het hom baie bly gemaak, maar toe hulle weer by die huis aankom, het hy hom weer van vooraf doodgeskaam, want die helfte van die water was weer weg.

Die waterdraer het vir hom gesê: “Het jy opgemerk dat daar net blomme aan jóú kant van die paadjie was? Jy sien, ek het geweet van jou gebrokenheid en daarom het ek saadjies daar geplant en jy het dit elke dag natgemaak. Die afgelope twee jaar kon ek blomme pluk om my meester se huis elke dag mooi te maak.

Besef jy nou hoe spesiaal jy is? In jou stukkend-heid het jy gehelp dat die saadjies in mooi blomme verander, wat weer op hulle beurt die meester se huis spesiaal gemaak het.”

Wanneer Jesus by hierdie partytjie aankom, sien hy dat daar mense is wat dink hulle is belangriker as ander mense. Hulle dink hulle verdien om aan die kop van die tafel te sit, want hulle het gedink dis waar die belangrike mense gesit het. Maar Jesus sê dat almal ewe belangrik is. Almal is gelyk. Almal van ons is maar soos die stukkende kleipot, maar vir God is ons almal spesiaal. Vir God is ons almal iemand, soos wat ons gemeente se visie sê.

Maar daar is ook ‘n tweede deel aan hierdie storie. Jesus sê dat ons ook gasvry moet wees.Lees vers 12-14

Jesus herinner ons dat die kerk ‘n plek moet wees, waar almal welkom is. Veral die mense wat ons nie noodwendig na ons partytjies toe sal nooi nie, moet hierheen uitgenooi word.

Wie van julle onthou nog die TV program Cheers.

Making your way in the world today

Takes everything you've got;

Taking a break from all your worries

Sure would help a lot.

Wouldn't you like to get away?

Sometimes you want to go

Where everybody knows your name,

And they're always glad you came;

You want to be where you can see,

Our troubles are all the same;

You want to be where everybody knows your name.

Be glad there's one place in the world

Where everybody knows your name,

And they're always glad you came;

You want to go where people know,

People are all the same;

You want to go where everybody knows your name.

Where everybody knows your name,

And they're always glad you came

Dis hoe die kerk ook moet wees. ‘n Plek waar jy altyd welkom is. ‘n Plek waar jy met al jou probleme en issues kan kom en kan weet, dis OK, hier gaan ek nie geoordeel word nie, hier is ek veilig.

En Jesus stel vir ons die voorbeeld, hy het ‘n reputasie gehad dat hy die stukkende mense, die sondaars, die mense met probleme en issues liefgehad en nader getrek het.

Hoor wat staan in Luk 15:1-2: “By this time a lot of men and women of doubtful reputation were hanging around Jesus, listening intently. The Pharisees and religion scholars were not pleased, not at all pleased. They growled, "He takes in sinners and eats meals with them, treating them like old friends."

Jesus het dit gedoen omdat hy nie na hulle gekyk het in terme van reg-en-verkeerd nie, hy het na hulle gekyk met liefde en omdat hulle vir hom spesiaal was.

Die een plek waar dit die beste geillustreer word is rondom die nagmaalstafel. Die nagmaal is ook ‘n partytjie. Maar dis nie ‘n partytjie waar daar sitplekke vir belangrike mense is nie. Dis nie ‘n partytjie waarheen net sondelose mense genooi word nie. Ons kon sit juis by die nagmaal tafels met al ons sonde en issues en probleme. Ons kom sit hier met al hierdie goed omdat ons weet sodat ons herinner kan word daaraan dat ons spesiaal is vir Jesus en dat ons vergewe is. Ons kom sit hier as kleipotte wat maar lekker gekraak is, maar wat spesiaal is vir God. So maak nie saak wie jy is nie, maak nie saak waarmee jy in jou lewe sukkel nie, by hierdie tafel is jy welkom.

Gebruik die nagmaal

Sunday, August 22, 2010

Preek 22 Augustus 2010

Jesaja 58:9 -14


Julle het darem seker agtergekom dat ons die afgelope paar Sondae so ‘n kort reeksie oor tekste uit Jesaja gedoen het. Eers uit Jesaja 1: 10-20 wat gegaan het daaroor dat God moeg was vir volk se godsdienstige rituele. Hulle doen al die godsdienstige goed maar terselfdertyd laat hulle onreg, ongeregtigheid en onregverdigheid in hulle midde toe. Verlede week het gegaan oor Jes 5: 1-7 wat ook bekend staan as die wingerdlied. Dis ‘n liefdeslied van God oor sy volk. Dit het gaan oor God wat alles moontlik doen om te verseker dat die volk goeie vrugte sal dra, maar Hy kry net suur vrugte van hulle af terug. Dit het ons weer herinner daaraan dat ons ontvang genade van God af, daarom het ons ook ‘n verantwoordelikheid om genadig te gaan leef en ‘n verskil te maak in ons wêreld.

Vandag sluit ons hierdie reeksie af met Jes 58:9-14. Lees teks

Ek weet nie van julle nie maar hierdie teks maak my ongemaklik – ek hou nie daarvan nie. Want ons lees hier van die oorsaak en gevolg ding. Ons lees hier dat God sê, ons moet dit en dat doen, dan sal Hy vir ons iets doen. As ons Hom please, dan sal hy nice wees met ons.

Dit maak my ongemaklik, want dit klink darem baie middeleeus. Dit klink soos die tyd toe die Katolieke kerk, vir die mense gesê het dat hulle iets moet betaal om vergifnis en ‘n plek in die hemel te kry. Dit het Marten Luther gevat om vir ons te sê dat God se genade vir ons genoeg en verniet is. Ons hoef nie, en ons mag dit nie probeer verdien nie. Ons hoef nie vir God te probeer please nie.

Maar wat maak ons dan nou met teksgedeeltes sooos hierdie een in Jesaja? Want dit noem dan nou ‘n lysie goed wat ons kan doen om God te please? En om goeie goed van God se kant af te kry.

Wel, ek dink dit hang alles af van hoe ons dit lees. Trouens, ek dink dit hang alles af van hoe ons die hele Bybel lees.

As ons die Bybel lees as ‘n boek vol voorskrifte en wette, dan gaan ons tekste soos Jes 58 verstaan as iets waaraan ek moet voldoen om vir God gelukkig te hou en te sorg dat Hy nice goed vir my doen.

Maar daar is ‘n beter manier om die Bybel te lees. Ek moet eerder die Bybel lees as ‘n boek wat vir my gesonde waardes wil leer en vir my riglyne vir my lewe wil gee. As dit die manier is hoe ek die Bybel lees, dan doen ek die goed in die Bybel omdat ek weet dit gaan my lewe meer sinvol maak. Dan doen ek dit omdat ek weet dat God die beste vir my wil hê.

Kom ek verduidelik dit met ‘n beeld. Die meeste van ons het mos een of ander tyd in ons lewens sport beoefen. Ons neem hokkie as ‘n voorbeeld. Daar is mos sekere reels waarvolgens mense hokkie speel. Die reels is nie om jou in te perk of om die skeidsregter gelukkig te hou nie, is daar om te verseker dat die spel regverdig gespeel word. Dis daar om te sorg ons mekaar nie seermaak nie. Ons kan mos nie almal maar net doen wat ons wil nie, dit sal chaos wees. Binne die reels van die spel kan jy doen wat jy wil. Net so werk dit ook met die Bybel, die riglyne wat ons in die Bybel kry, is nie bedoel om ons in te perk en die lewe vir ons moeilik te maak nie of om vir God te probeer please nie. Dit wil juis die lewe vir ons beter maak. Dit help ons juis om beter mense te wees en om beter teenoor mekaar op te tree en mekaar nie seer te maak nie. Dis waardes en riglyne om ons lewens meer sinvol te maak. Dis nie voorskrifte en wette waaraan ons moet voldoen nie, om God se guns te prober hou nie.

As ons Jesaja 58 op hierdie manier lees, dan word dit ‘n stuk wysheid wat vir ons waardes gee om die lewe beter te maak. Waardes wat ons en die mense rondom ons gesond en sterk kan maak.

So, kom ons kyk bietjie na die waardes wat Jesaja vir ons voorhou. En dis duisende jare sedert Jesaja hierdie waardes voorgehou het, maar hy kon dit net sowel vandag geskryf het :

Jy moet sorg dat die mense by jou nie verdruk word nie. Dit kan dalk by die werk wees waar iemand uitgebuit of verdruk word. Dit kan dalk wees dat jy weet van iemand wat sy vrou of kinders emosioneel of fisies verdruk. Jesaja sê ons moet sorg dat dit nie gebeur nie.

Jesaja sê mense moet nie gedreig word nie. M.a.w. mens moenie jou mag oor mense misbruik nie. Nie oor jou vrou nie, nie oor jou man nie, nie oor jou kinders nie, nie oor jou vriende of kollegas nie.

Jesaja se ook dis wys om mense nie vals te beskuldig nie. Om nie vinger te wys na mense nie, om nie rumours te versprei en mense te beskinder nie.

En sê hy ook, daar is altyd die mense tussen ons wat een of ander nood het. Mense wat ons hulp nodig het. God se mense sien mekaar se nood raak en wil iets daaraan doen.

Dis nogal opvallend dat die waardes wat Jesaja vir ons voorhou alles te doen het met die verhoudings tussen mense. So wat hy vir ons wil beklemtoon is dat ons ons verhoudings met mekaar met die skoonste en beste waardes moet aanpak.

En dan sê Jesaja, wanneer ons leef met hierdie waardes, dan word ons ook sterker mense wees.

Dan sal ons lewens soos lig wees, wat nie afgetrek word deur die donkerte van hierdie wêreld nie.

Dit sal van ons sterk mense maak, wat die slegte dinge kan weerstaan en sal opstaan vir die goeie.

Ons sal soos ‘n tuin wees wat ‘n lushof is. Soos ‘n fontein wat net die beste water voortbring en nooit droog raak nie. In die Ou Testament is ‘n tuin en ‘n fontein simbole van dit wat goed is en waar daar goeie verhoudings is en waar mense bymekaar kom en mekaar vind.

Om te leef met goeie waardes en goeie verhoudings vat jou na goeie plekke toe en maak van jou ‘n sterker mens.

Maar vers 12 het my veral aangespreek. Kom ek lees dit gou weer.

Hier sê Jesaja dat goeie waardes van ons bouers en herstellers sal maak.

As ons vir mekaar omgee, as ons mekaar nie verdruk nie, as ons mekaar se nood raaksien en iets daaraan doen, as ons mekaar nie dreig nie en mekaar nie vals beskuldig en beskinder nie – dan is ons bouers en herstellers. Mense wat positief is en nie net altyd kla en negatief en pessimisties is nie. Mense wat opbou en nie afbreek nie. Mense wat brûe en paaie bou sodat mense bymekaar kan uitkom. Mense wat veilige plekke bou waar mense kan tuiskom en veilig voel en hulleself kan wees en weer kan heel word. Goeie, positiewe waardes maak dat ons bouers en herstellers is.

Hoe ons bou is nogal belangrik. Kom ek wys gou vir julle wat Paulus daaroor skryf 1 Korintiers 3. Paulus sê dat ons fondament is Jesus Christus en die redding wat Hy deur sy genade allen vir ons gegee het. Dan sê Paulus ons het ‘n verantwoordelikheid om te bou op hierdie redding. Kom ons lees gou wat hy dan skryf oor hierdie bou en die belangrikheid daarvan. Lees vers12-15.

So, hy sê ons redding is vas niemand kan dit van ons wegvat nie, maar dis tog belangrik hoe ons bou op ons redding. Gaan ons mense wees wat positief en opbouend bou of gaan ons mense wees wat sleg bou en afbreek? Want alhoewel ons redding vas is, gaan God tog kyk hoe ons gebou op ons redding.

Ek wil afsluit met iets wat die aktrise Audrey Hepburn gesê het. Sy was iemand wat was vir goeie bouwerk. Hulle het eendag vir haar gevra vir ‘n paar skoonheidswenke. En toe sê sy die volgende:

“For attractive lips, speak words of kindness.

For lovely eyes, seek out the good in people.

For a slim figure, share your food with the hungry.

For beautiful hair, let a child run his or her fingers through it once a day.

For poise, walk with the knowledge that you never walk alone.

People, even more than things, have to be restored, renewed, revived, reclaimed and redeemed; never throw out anyone.

Remember, if you ever need a helping hand, you'll find one at the end of each of your arms. As you grow older, you will discover that you have two hands, one for helping yourself, the other for helping others.

The beauty of a woman is not in the clothes she wears, the figure that she carries, or the way she combs her hair. The beauty of a woman must be seen from, in her eyes, because that is the doorway to her heart, the place where love resides.

The beauty of a woman is not in a facial mode, but the true beauty in a woman is reflected in her soul.

It is the caring that she lovingly gives the passion that she shows.

The beauty of a woman grows with the passing years.

If you share this with another woman, something good will happen -- you will boost another woman's self esteem, and she will know that you care about her.”

Sunday, August 15, 2010

Preek 15 Augustus 2010

Jesaja 5: 1-7


Dit was Hans Christian Anderson, die bekende Deense sprokieskrywer, wat gesê het: “Waar woorde misluk, praat musiek!”

In vanoggend se teks sing Jesaja ‘n liefdeslied. In aansluiting by Hans Chrsitian Anderson – hy sing nou maar want dit lyk nie asof al sy gepraat met die volk gehelp het nie. Hy sing oor ‘n wingerd en die boer wat sy wingerd liefhet. Die boer waarvan hy sing verwys na God en die wingerd verwys na die volk.

Lees die teks

Nadat die Beatles opgebreek het en hulle elkeen hulle eie ding gaan doen het, het John Lennon eenkeer vir Paul McCartney gekritiseer en gesê hy skryf teveel ‘silly love songs’. Paul McCartney se reaksie was om ‘n liefdesliedtjie te skryf waarin hy die volgende gesing het:

“You’d think that people would have had enough of silly love songs,

but I look around me and I see it isn’t so.

Some people want to fill the world with silly love songs,

and what’s wrong with that?

I’d like to know, ‘cause here I go again.”

Ons hou mos maar van ‘n mooi liefdesliedjie. Maar daar is mos ook ‘n ander kant hieraan, miskien hou ons so baie van liefdesliedjies juis omdat ons so sukkel met die liefde.

’n Antropoloog het onder die Hopi-mense gewerk en agtergekom dat al hulle kuns/musiek oor reën gaan. “Waarom?” wou die antropoloog weet.

Die antwoord: “Omdat daar ’n skaarste aan water in die land is waarin ons bly.” Toe vra die Hopi mense vir die antropoloog: “Is dit hoekom daar so baie van julle westerlinge se liedjies oor liefde gaan?”

Dis mos die paradoks van ons wêreld. Ons leef aan die een kant in ‘n wêreld waar ons mal is oor liefdesliedjies en liefdesverhale en romantiese comedies, maar aan die ander kant sukkel ons om mekaar lief te hê. Ons is liewer vir onsself as vir ander mense. Ons dien ons eie belange eerder as om na mekaar om te sien. Ons sien dit tussen vriende, in huwelikke, in werksituasies , ons sien dit in die verhoudings tussen die verskillende mense in ons land.

Dis presies die probleem wat Jesaja in die teks aanspreek.

In hierdie lied sing Jasaja oor die verhouding tussen God en sy kinders. God is die boer sy kinders is die wingerd. En die boer gee alles vir sy wingerd, en hy verwag daarom die beste oes. Maar hy kry dit nie – die wingerd lewer net suur druiwe.

God gee die beste, sodat sy kinders die beste vrugte sal dra.

Die lied beskryf wat hy alles gee:

Hy kies vrugbare grond

Die grond word omgespit en die klippe word verwyder

Veredelde wingerd word geplant

Wagtorings word gebou om die wingerd te beskerm

En ‘n parskuip word uitgekap.

God het alles gedoen wat nodig is om goeie vrugte te verseker.

Daar is die storie van ‘n bedelaar wat eendag langs die pad gesit en bedel het, toe Alexander die Grote daar verby kom en vir ‘n handvol goue muntstukke gee. Een van Alexander se raadgewers vra hoekom gee hy vir die bedelaar ‘n klomp goue muntstukke. ‘n Paar koper munte sou mos genoeg wees. Alexander sê toe: “‘n paar kopermuntstukke sou wel genoeg wees om die bedelaar se behoefte aan te spreek, maar die goue muntstukke pas beter by my manier van gee.

Dis hoe God is, sy goedheid en genade, ken geen einde nie. En ek dink ons almal het al hierdie goedheid in ons lewens op verskillende maniere beleef. Die probleem is net dat ons baie keer soos Israel hierdie goedheid vir ons self neem, maar ons leef dit nie uit nie. En dan word die vrugte suur.

Soos ons lees in vers 7…

Vers 7 sê dat die volk geraak het soos die ou wat eendag oor ‘n koppie koffie vir sy vriend gesê het: “Ek het al ‘n klomp lewenstrategiee uitprobeer – en om totaal selfgerig te wees, werk die heel beste vir my.”

Dis nie hoe God ons gemaak het nie, dis nie God se wil vir ons nie.

God het Israel gemaak vir geregtigheid, maar hulle doen ongeregtigheid.

God het Israel gemaak om vrug te dra, maar hulle is vrugloos.

God het hulle gemaak vir regverdigheid, maar hulle beoefen boosheid.

God het hulle gemaak vir diens, maar hulle bevredig net eie behoeftes

God het hulle gemaak om goedheid te pleeg, maar pleeg net misdaad

God het hulle gemaak vir die waarheid, maar hulle lewe en praat onwaarhede.

God het hulle gemaak om te wandel in die lig, maar hulle lewe in die donkerte.

Op hierdie manier rig hulle meer skade aan as goed.

Die Christelike geloof lei skade en is ongeloofwaardig as ons nie ook focus op diens, goedheid, geregtigheid, regverdigheid en onvoorwaardelike liefde nie. As mens m.a.w. nie die goed wat jy van God ontvang gaan uitleef ook nie.

Hoor net wat sê Jesus hieroor in Matteus 23:23 waar hy met die fariseers praat.

“Ek waarsku julle, Fariseërs en Joodse teoloë. Julle is pynlik presies oor hoe julle kerk hou en julle werk julle tiendes tot op die laaste sent uit. Maar as dinge gedoen moet word wat regtig vir God saak maak, skitter julle in julle afwesigheid. Ek praat van dinge soos om vir almal ’n regverdige kans te gee; of dat julle so vir mense omgee dat julle hulle graag wil help; of dat mense weet dat hulle julle kan vertrou. Ek sê nou nie die ander dinge wat julle doen, is noodwendig verkeerd nie. Maar dit is niks werd as julle nie ook die dinge doen wat regtig vir God saak maak nie.” (Die Boodskap Matt 23:23)

Wat Jesaja sê: die Here wil hê dat die lewe soet moet wees vir almal, maar dit word suur as sy kinders nie liefdevol teenoor almal optree nie; wanneer sy kinders nie ‘n oog het vir hulle naaste nie en nie reg leef nie.

Kom ek wys gou vir julle ‘n voorbeeld van mense wat hierdie beginsel ernstig opgeneem het. Dis die mense van Primedia Broadcasting. Hulle het die radiostasies soos Cape talk, KFM, 702. Hulle het gewonder hoe kan ons die gees van welwillendheid van die world cup laat oorspoel na die res van ons land. Toe kom hulle met Leadsa

Leadsa wil die volgende doen: “Leadsa aims to highlight the achievements of the nation and celebrate the efforts of ordinary South Africans who continually seek to do the right thing for themselves, for their families and for their country.

Onder andere beteken dit die volgende:

1. Stand up for what’s right. If you’ve had a glass too many, let a designated driver take you home.

2. Stand up to corruption. Don’t bribe.

3. Stand up for morality. Report crime.

4. Stand up for your community. Get to know your neighbours.

5. Stand up against indifference. Take an interest in those around you.

6. Stand up for free speech. Listen to the other side.

7. Stand up for your future. Respect the environment.

8. Stand up for education. Read to your children.

9. Help instead of Hinder. Say yes when asked to do a favour, don’t look for excuses.

10. Acknowledge goodness. When you have something good to say, say it.

Dis maar wat Jesaja ook sing in sy lied.

Mag ons mense wees wat God se goedheid in ons lewens raaksien, maar mag ons ook mense wees wat hierdie goedheid gaan uitleef.

Mag ons mense wee swat die regte goed vir die regte redes doen

Mag ons mense wees wat soet vrugte dra en nie suur vrugte nie.

Mag ons mense wees wat die wêreld ‘n beter plek maak.

Sunday, August 8, 2010

Preek 8 Augustus 2010

Jesaja 1:10-20
Marten Luther het mos herontdek dat die Christelike geloof gaan alles oor genade. Genade is ‘n woord wat ons mos baie goed ken en ons gebruik dit ook baie. Wanneer ons bid dan sluit ons mos baie keer af met die woorde: ‘ons vra dit nie uit verdienste nie, maar slegs uit genade”. Dit terwyl ons vinnig is om te vertel hoe hard ons gewerk het om te kom waar ons is. As ons amper in ‘n ongeluk was, maar ons het niks of min oorgekom nie sê ons mos maklik: “sjoe, dit was net genade”. As dit met ons goed gaan dan sê ons: “genadiglik het dit vir ons uitgewerk”. Predikers sê baie keer “alles wat ons is en het, is net genade”. En ons het groot geword in die kerk met die gedagte dat ons “alleen uit genade gered word”.

Net verlede week het ek gepreek dat ons deur die genade van Christus ge-springclean word. Dis wat jesaja ook sê wanneer hy in vers 18 sê dat ons sonde verwyder word en dat ons skoon word soos sneeu en soos wol. Alles net uit genade.

Op so baie maniere, vandat ons kinders was, gebruik ons die woord “genade”. Maar weet ons nog wat hierdie woord regtig beteken? Of het dit maar sommer net ‘n woord geword wat maklik gebruik sonder om eers daaroor te dink?

Ferdinand Deist het iewers geskryf: “Die woord genade het verslyt geraak”. Ek het ‘n t-shirt gehad wat ek baie jare gedra het, totdat hy later so dun en uitgewas was. Genade is soos klere wat ons dra, dit word later verslyt en opgebruik van baie dra. Dis wat Ferdinand Deist bedoel: van teveel gebruik het dit met genade gebeur. Dis opgebruik.

Hierdie is nie ‘n vreemde verskynsel nie. Reeds van die vroegste tye af het mense gesukkel om te verstaan wat genade beteken.

In Deut 6: 10-12 lees ons...
Voordat die Israeliete by Kanaan intrek moes hulle daaraan herinner word dat hulle nie vir hulleself sorg nie, maar dat dit God is wat vir hulle sorg – nie omdat hulle sulke wonderlike mense is nie, maar omdat hy genadig is. Moses wou net seker maak dat hulle dit nie vergeet nie.

In Deut 7:7 lees ons...
So asof Moses sê “julle dink verniet julle is so oulik – julle is wie julle is omdat God se genade so groot is.”
God versorg mense omdat Hy so genadig is.
Dis ook hoekom God ‘n rusdag ingestel het. Dit was ‘n bewys dat God ‘n genadige God is en dat Hy vir ons sorg. Sien, op die rusdag eet jy sonder om te werk, so dis ‘n simbool van God se sorg. Dis hoekom Jesus in Markus 2: 27 dan ook sê: “die Sabbat is daar ter wille van die mens – nie die mens ter wille van die Sabbat nie”. Die Sabbat wil beklemtoon dat alles net genade is.

Maar mense dink mos hierdie genade-ding is te maklik. Alles kan mos nie maar so van God af kom nie. En mens moet mos darem iets doen om te verseker dat God sal aanhou om vir ons te sorg. So toe die Israeliete in Kanaan intrek en hulle beleef die wonderlike goed wat daar in die land van melk en heuning is – toe dink hulle, hulle moet darem iets doen om vir God tevrede te hou sodat hy sal aanhou om vir hulle te sorg. Soos om ‘n polis uit te neem om jou teen enige teenspoed te beskerm. Toe begin hulle godsdientige reels en wette maak wat jy moes nakom om vir God tevrede te hou. Soos jy moes die Sabbat onderhou en daar is seker goed wat jy op die Sabbat mag doen en ander goed wat jy nie mag doen nie. En so was die Sabbat nie meer vir die mens nie, maar die mens vir die Sabbat.

Dis mos maar wat ons ook doen. Ons probeer God tevrede hou met ‘n godsdienstige lewe, deur Bybel te lees en te bid, en elke Sondag kerk toe gaan, en ‘n tiende te gee en te vas. Of jy moet gedoop wees of gedoop word. As ons hierdie goed doen, dan is ons ‘n goeie Christen, dan sal God tevrede met ons wees en dan sal dit goed gaan met ons. En so word godsdiens ‘n verpligting en ‘n wet.

Daarom dat God hier in Jesaja 1 vir die volk sê, Hy is moeg vir hulle feeste en brandoffers, hulle vasdae en gebede. Trouens, Hy sê Hy haat dit. Hier wil ek dit net eers kwalifiseer, hy sê nie dat hierdie goed nie belangrik is nie, want dit is tog belangrik om kerk toe te gaan en te bid en so aan. Maar wat Jesaja hier sê is dat is ‘n probleem wanneer die goed blote rituele is wat mense nie herinner aan God se genade nie. Wanneer dit oor die verpligting gaan en nie meer oor God en sy genade nie.

En Jesaja sê dat hierdie manier van dink sien ‘n mens die beste wanneer mense deur hulle optrede ‘n streep trek deur die genade. En dis die probleem waaroor Jesaja vir Israel aanspreek. Saam met Israel se feesviering en godsdienstige rituele was daar onreg in hulle midde. En hulle doen niks om dit aan te spreek nie.
In vers 13 staan daar: “Ek verdra nie feesvieringe met onreg saam nie”,
In vers 15 staan daar: “selfs al bid julle ook hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande is met bloed bevlek.”
Dit wil sê: julle benadeel ander mense. Julle praat oor ‘n genadige God en julle hou selfs die Sabbat as ‘n teken van God se genade, maar julle leef nie soos genadige mense nie. Daar is niks van die genade van God in julle lewens sigbaar nie. Sê Jesaja vir die Israeliete.
Die doel van God se genade was nog nooit om vir ons ‘n versekeringspolis uit te neem of om vir ons ‘n voorspoedige lewe te verseker nie. Die doel van sy genade wat Hy so onverdiend aan ons elke dag uitdeel en waardeur hy ons sy kinders gemaak het, is om deur ons optrede van die wêreld ‘n beter plek te maak. Dat ons deur ons doen en late iets van die hemel op aarde sal laat deurbreek.

Ons sien dit al by Abraham, toe God vir Abraham gesê het: “jy en jou nageslag moet tot seën vir die wêreld wees.” En Abraham is ons geloofsvader, ons is deel van sy geloofs nageslag. Wat beteken dat ons moet ook tot seën van die wêreld wees.

Jesaja sê in vers 17 hoe ons dit doen....

Iemand het gesê:
Die toets of ons regtig kerk is, kan gesien
word in hoe ons hulle behandel wat in
die sonsopkoms van hulle lewe is, die kinders ;
wat in die sonsondergang van hulle lewe is,
die bejaardes; en wat in die skaduwees
van lewe is - die siekes, armes, die weduwees, die eensames, die
gestremdes en ander randfigure.

Ons godsdiens is iets werd wanneer dit nie maar net gaan daaroor om die regte godsdienstige dinge en gebruike en rituele te doen nie, maar wanneer mense deur ons optrede en lewe die genadige God sien en leer ken.
Wat ons vanoggend weer moet hoor is dat God deel genade uit, en Hy wil sien dat ons dit weer aan ander gaan uitdeel. Genade is ‘n geskenk wat ons ontvang en wat ons weer moet gebruik om van die wêreld ‘n genadiger plek te maak.

Ek wil afsluit met Paulus se woorde in Kolossense 3:17 “doen alles – of dit nou met woorde of dade is – asof julle dit namens die Here Jesus doen. So is julle heeltyd besig om deur Hom dank aan god die Vader te bring.”