Sunday, September 12, 2010

Preek 12 September 2010

Lukas 15: 1-10

Die gelykenisse van Lukas 15 word mos gewoonlik onthou in negatiewe in plaas van positiewe terme. Ons praat van die verlore skaap, nie die gevindde skaap nie; ons praat van die verlore muntstuk, nie die gevindde muntstuk nie; ons praat van die verlore seun, nie die gelykenis van gevindde seun of die liefdevolle vader nie. Ons praat negatief daaroor, terwyl al 3 hierdie gelykenisse eindig met ‘n feesviering. Al hierdie gelykenisse gaan oor liefde, genade, vergifnis en blydskap. Dit gaan oor God wat nooit opgee op mense nie, maar wat aanhou soek.
Dis so anders as die fariseers en die skrifgeleerdes. Hulle was die leiers van die kerk van daai tyd. Maar hulle is beswaard en moan oor die mense met wie Jesus meng. Oor die tollenaars en die sondaars. So hulle besluit wie deel mag wees van die geloofsgemeenskap en wie nie. Hulle tref ‘n onderskeid tussen mens. Sommige mense kwalifiseer vir genade en ander nie.
Met die gelykenisse wil Jesus vir hulle uitnooi om na die wêreld te kyk soos God daarna kyk. En die wêreld wat hy voorhou, is ‘n wêreld waar die mees sondige mense ‘n plek by God kan kry. Waar verlore mense deur God omhels word. ‘n Wêreld waar die kerklike mense nie in God se pad staan wanneer hy op soek is na hulle wat hom nodig het nie. ‘n Wêreld waar genade nie voorwaardes het nie, maar waar almal ingesluit is.

Hulle vertel dat die skape in die Skotse hooglande dikwels dwaal na die meer rotsagtige dele. Die gras op hierdie dele is lekker soet en die skape hou daarvan. Hulle spring af in die rotsskeure om daarby uit te kom en bly sommer dae lank daar totdat al die gras opgeeet is. Maar dan kan hulle nie weer uitkom nie. Dan staan en blêr hulle daar. Die herders los hulle dan daar totdat hulle moeg is, voordat hulle afklim om die skape te gaan uithaal. Die herders sê, die rede hoekom hulle die skape eers daar los totdat hulle lekker moeg is, is omdat hulle sal skrik en by die afgrond afspring.

Ons is ook mos maar partykeer soos hierdie skape, ons dwaal af, ons leef soms naby die afgrond. Ons vra ook soms – waar is God? Ons wil ook soms weet, waar is die herder wanneer daar slegte goed gebeur met ons of met ander mense gebeur. Ons voel ook soms ver van God af en vasgekeer in die rotsskeure van hierdie wêreld.
Die gelykenisse gee vir ons ‘n antwoord – Hy is altyd by die wat hom reeds gevind het. Hy is teenwoordig by hulle wat Hom nog soek. En hy is spesiaal teenwoordig by hulle wat Hom nie meer kan vind nie.
Hierdie verhael herinner ons dat ons almal ewe waardevol is vir God en hy sal jou soek totdat jy gevind word. Selfs al het almal oor jou moed opgegee, gee God nooit moed op nie.

‘n Vrou het ‘n stuk geskryf waarin sy teruggedink het aan haar verhouding met haar pa. Sy vertel toe sy jonk was, was sy baie na aan haar pa. Die tye wat sy die meeste bewus was daarvan, was by familie-saamtrekke. Iewers tydens hierdie aande het daar gewoonlik ‘n tyd gekom wat die plate uitgehaal is en gedans is. Onvermydelik het iemand gewoonlik ‘n lied met die naam “beer barrel polka” aangesit en dan het haar pa haar geroep en gesê: “Ek glo hierdie is ons dans” en dan het hulle gedans.
Eenkeer toe sy ‘n tiener was en in een van tienerbuie en die “beer barrel polka” het weer gespeel en haar pa het gesê: ‘ek glo hierdie is ons dans”, het sy teruggehap, “moenie aan my vat nie, los my uit” En haar pa het haar nooit weer gevra om te dans nie. Sy skryf dat hulle verhouding deur haar tienerjare maar moeilik was. As sy saans laat by die huis gekom het, dan het hy gewoonlik half aan die slaap op een van die sitkamerstoele gesit en dan het sy na hom gesnap en hy sou maar net met hartseer oë na haar kyk en sê: “Ek het net vir jou gewag”.
Toe sy weggaan college toe, was sy net bly om uit die huis uit te kom en weg te kom en die jare daarna het hulle maar min gekommunikeer. Maar soos sy ouer geword het, het sy hom begin mis. En eendag het sy besluit om weer na een van die familie-saamtrekke te gaan. Iewers in die aand het iemand weer die ‘beer barrel polka’ aangesit. En sy het diep asemgehaal, na haar pa toe gestap en gesê: ‘pa, ek glo hierdie is ons dans”.
Hy het na haar toe gedraai en gesê: “jy weet nie hoe lank ek al hiervoor wag nie…vir jou wag nie.”
Dis hoe God is – Hy plaas nie druk op ons nie en Hy sal wag vir solank as wat dit nodig is.

William Barclay het gesê: “God, too, knows the joy of finding things that have gone lost. Therefore we believe in the seeking love of God because we see that love in Jesus, the Son of God, who came to seek and to save that which was lost.”

Kom ons kyk na ‘n getuienis van iemand wat so ‘n ervaring gehad het. Dis ‘n ou met die naam van Herbert Opalek, hy was ‘n ortodokse Joodse Rabbi, God het hom gevind met die hulp van ‘n Gideonsbybel.

Kyk DVD

God is nooit weg nie, al voel dit soms vir ons so, Hy is die weg. God soek elkeen wat weg is. Maak nie saak hoe lank dit neem nie. Maak nie saak wat dit kos nie. Maak nie saak hoeveel sonde of nood of probleme ‘n mens het nie. Maak nie saak wat die etiket is wat ons so maklik om mense se nekke hang nie. God se liefde is dieselfde vir alle mense. God se liefde is vir jou.

As jy vanoggend hier sit - jy voel dalk ver van God af; jy is dalk kwaad vir God; jy het dalk nog nie vir gevind nie; jy is dalk bekommerd oor iemand naby aan jou wil ek jou uitnooi om vorentoe te kom en hier voor te kom staan vir ‘n gebed.

Sunday, September 5, 2010

Preek 5 September 2010

Luk 14: 25-33


Sagrada Familia (Heilige Familie) Katedraal in Barcelona, Spanje. Ook genoem “the unfinished church”. Van ver af lyk dit soos ‘n reuse sandkasteel. Van naby af slaan dit jou asem weg, want elke aspek van Jesus se lewe word uitgebeeld. Die argitek was Antoni Gaudi(1852-1926). Hy was ‘n baie innoverende en kraetiewe argitek, sommige hou van sy werk, ander voel weer dis te over-the-top.

Gaudi het geglo dat God die beste argitek is en daarom moet hy God se ontwerpe navolg. Soos goed wat hy in die natuur gesien het.

Die katedraal is al 125 jaar in aanbou en is nog nie klaar nie. Toe die hoeksteen gelê is, was koningin Victoria nog koningin van Engeland.

Gaudi self het vir 43 jaar aan die katedraal gewerk, voordat hy in 1926 deur ‘n trem doodgery is. Na sy dood het die mense van Barcelona besluit om sy werk voort te sit. Hulle doen dit met donasies, en hulle is nog steeds besig.

Die laaste deel van die konstruksie is die sogenaamde “toring van Jesus”, wat 170 meter hoog gaan wees. Dit sluit aan by 17 ander torings aansluit, wat die 12 apostels, 4 evangeliste sowel Moeder Maria simboliseer. By voltooiing sal dit die hoogste kerkgebou en hoogste toring ter wêreld wees. Hulle mik om die toring in 2026 klaar te hê, om saam te val met die 100ste herdenking van Gaudi se dood.

In September 2010 gaan die eerste Katolieke mis in die hoofdeel van die kerk gehou word. En in November gaan die Pous die katedraal kom heilig.

Toe hulle vir Gaudi uitgevra het oor die lang konstruksie tydperk van die katedraal toe was sy antwoord: “My kliënt is nie haastig nie.”

Gaudi het niks teruggehou nie. Hy wou die katdraal bou tot eer van God. Hy het alles daarvoor gegee. Dis nou wat ‘n mens commitment noem.

Dis waaroor vandag se teksgedeelte gaan. Oor ons commitment aan Jesus. Dirkie Smit het geskryf dat, onder gelowiges, kry ons bewonderaars, leerlinge en dissipels. Bewonderaars is mense wat agter Jesus aan drentel uit nuuskierigheid, leerlinge is mense wat baie van Jesus leer en selfs ander mense kan leer, maar hulle het nie regtig ‘n verhouding met hom nie; dissipels is mense wat bereid is om Hom te volg, om deel te neem en iets van hulleself te gee. Om uit te leef, dit wat hulle glo. En dis waaroor vanoggend se teks gaan. Oor wat dit beteken om ‘n dissipel te wees.

Lees die teks

In ons lewens is daar mos baie kragte wat ‘n rol speel in ons lewens en dikwels die meeste van ons tyd opvat, soos vriende, ouers, familie, besittings, beplanning, werk, eise en uitdagings van die lewe. Ons rig mos ons lewens so in om hierdie kragte te balanseer en daaruit sin te maak en ons lewe ordentlik te kan leef.

In ons teksgedeelte is Jesus besig om sommige van die kragte wat so ‘n invloed in ons lewens het uit te balanseer sodat ons as sy dissipels kan leef in hierdie wêreld.

Die krag van vriende en familie gebalanseer met commitment. (vers 26)

Dis baie sterk taal wat Jesus hier gebruik. Ons sien op ander plekke in die evangelies dat Hy dieselfde doen. Hy doen dit om mense se aandag te trek en om ‘n punt te maak. So mens moenie Jesus se woorde hier letterlik verstaan nie. Hy bedoel nie letterlik dat jy nou jou vriende en familie moet afskryf nie. Hy oordryf om ‘n punt te maak.

Hy probeer hier om aan die mense te verduidelik dat Hy nr 1 in ons lewens moet wees. Dat dissipels van Hom committed aan Hom moet wees. En as selfs familie of vriende van jou iets vra wat teen hierdie commitment ingaan, m.a.w. teen dit wat jy glo, teen die waardes waarvolgens jy jou lewe leef,teen jou verhouding met Jesus, dan moet jy nee kan sê. Byvoorbeeld: as my familie of vriende van my vra om iets oneerliks te doen, dan behoort my commitment aan Jesus my te dring om nee te sê. As my familie of vriende van my verwag om oneties op te tree, dan behoort my commitment aan Jesus my te dring om nee te sê. Want vir ‘n dissipel van Jesus, is Jesus, en die commitment aan Hom, die eerste prioriteit.

Die krag van selfbehoud gebalanseer met opoffering(vers 27)

Hierdie waarskuwing oor selfbehoud het al begin in die vorige teksgedeelte waarna ons verlede week gekyk het – Luk 14: 7-14. Toe Jesus by die Fariseer gaan eet het. Toe hy daar kom toe sien hy die gaste stry onder mekaar oor wie die beste plekke aan die tafel moes kry. Dit het vir hulle gegaan oor hulle eie selfbehoud en hoogmoed. En Jesus se dan dat almal gelyk en ewe belangrik is.

Die behoefte aan status, die behoefte om uit te styg en die sosiale en beroepsleer te klim is groot by ons almal. Ons doen dit want dit laat ons goed voel. Ek sê nie dat mens nie moet streef na meer nie, dis tog belangrik om die gawes en talente wat die Here vir ons gegee het te gebruik en die meeste daarvan te maak. Maar wanneer dit net begin gaan oor die status en die selfbehoud, soveel so dat jy bereid is om alles te doen om dit te kry. Selfs op mense te trap, dan raak dit ‘n probleem. Wanneer dit jou vasgevang hou in die rat-race dan raak dit ‘n probleem. Onthou die spreekwoord wat sê: “even if you win the rat-race, you’re still a rat.”

Jesus balanseer dit met die woorde in vers 27: “iemand wat nie sy eie kruis dra en agter Hom aanloop nie, kan nie sy dissipel wees nie.”

Dissipels is mense wat bereid is om opofferings te maak. Mense wat bereid is om ‘n kruis te dra. Mense wat bereid is om tyd en energie te offer. Mense wat bereid is om dinge te doen nie vir die status en die eer nie, maar omdat hulle ‘n dissipel van Jesus is en omdat dit ‘n verskil kan maak. (voorbeeld Thys wat met sy kar en op sy onkostes, sy tyd opoffer om vir James en Mary Bloemfontein toe te neem vir ‘n begrafnis)

Die krag van tentatiewe verbintenisse gebalanseer met toewyding(vers 28-33)

Ons leef mos in ‘n samelewing waar dinge vinnig verander. Ons verwag dit ook. Alles moet vinniger en beter. En as iets nie vir my werk nie, dan los ek dit of ruil dit om. Dis soos moderne koopkontrakte – daar word ‘n afkoelperiode ingebou, sodat as jy dalk wil kop uittrek as dinge nie is soos jy dit wil hê nie, dan kan jy wegstap en kopuittrek.

Baie keer doen ons dit mos met Jesus ook. Ons sê ons sal hom volg, maar ons doen dit so half tentatief en wanneer dinge dalk bietjie moeilik begin raak dan wil ons kop uittrek. Nêrens in die Bybel staan daar dat dit maklik is om ‘n gelowige te wees nie, maar daar staan op baie plekke dat ons moet aanhou en vasbyt en God sal vir ons krag gee daarvoor.

Dis hoekom Jesus sê: om ‘n dissipel te wees is soos om ‘n gebou op te rig, jy moet vooraf die koste uitwerk sodat jy in staat is om die gebou te voltooi. Dis soos ‘n koning wat voor hy gaan oorlog maak eers seker maak wat dit gaan behels, want as jy besluit het om dit te doen, dan moet jy dit deurvoer.

Dis soos die verhaal van die bekende Italiaanse komponis, Puccini. Hy is in 1922 op die ouderdom van 64jaar oorlede aan kanker. Op daardie stadium was hy besig om die opera Turandot te skryf. Baie mense beskou dit as een van sy bestes. Toe hy begin besef dat sy einde nader kom het hy vir sy studente gevra om die opera klaar te maak as hy dalk sou sterf voordat dit klaar is. Dis presies wat toe gebeur het. Hy het gesterf voordat dit klaar was en sy studente het bymekaar gekom, al sy aantekeninge bestudeer en die opera voltooi.

Die eerste opvoering van Turandot is in 1926 opgevoer met een van sy studente wat die dirigent was. Toe hulle kom by die punt waar Puccini opgehou skryf het aan die opera, het almal gestop, hy het die dirigeerstokkie neergesit, na die gehoor toe gedraai en gesê: “tot hier het ons meester geskryf en toe het hy gesterf.” Vir paar ‘n paar minute was daar stilte. Toe het hy weer die stokkie opgetel en gesê: “maar sy studente het sy werk klaar gemaak.” En hulle het voortgegaan en dit klaar opgevoer.

Dis presies wat van ‘n dissipels van Jesus verwag word. As ons onsself ‘n dissipel van Jesus noem, dan moet ons sy werk hier op aarde laat voortgaan. En ons mag dit nie tentatief doen nie, ons moet dit met toewyding doen.

As ons besluit om Jesus te volg is dit nie iets wat mens tentatief of halfhartig moet doen nie, soos ‘n blote bewonderaar of ‘n leerling nie. Om ‘n dissipel te wees vra commitment, opoffering en toewyding. Dis ‘n roeping en ‘n lewensstyl.

Daarom is die volgende verbintenis so belangrik:

Ek verbind my ...

om my beste self te word!

Om ooreenkomste en beloftes te maak en te hou.

Om myself voluit te gee vir die lewenslange proses van verandering, meegebring deur God en ander se liefde.

Om die goeie voornemens van ander te vertrou.

Om met respek en aanvaarding teenoor ander op te tree.

Om altyd met sagte oë - God se oë - na almal en alles in die lewe te kyk.

Om risiko’s saam met God te waag.

Om altyd bewus te wees van my unieke rol in die heelal, sodat ek vir ander ’n stukkie hemel op aarde sal skep.

Om met omgee-liefde te leef

Om met sagte gedagtes, vriendelike woorde en vrygewige dade op te tree.

Om eerder te gee as te ontvang

Om eerder te dien as om gedien te word

Om op te tree, nie ter wille van my eie eer nie, maar tot eer van God

Om elke uur te vuur vir God my Vader in Jesus my Here en deur die hulp van die Heilige Gees.