Sunday, January 30, 2011

Preek 30 Jaunuarie 2011

Kyk na jouself, niemand anders gaan nie.
“Would you sell the colours of your sunset and the fragrance of your flowers and the passionate wonder of a forest for a creed that will not let you dance?” (Helen Johnson)
Dink vining oor die aanhaling? Wat hoor jy daarin?

Die vraag in hierdie aanhaling is. Sal jy dit wat jy regtig geniet, dit wat vir jou energie gee, dit wat jou goed laat voel, en jou laat ontspan prysgee vir iets wat jou moeg maak en gespanne maak?
My eerste reaksie op hierdie aanhaling was, “nee, ek sal nie dit doen nie.” Tot ek daaroor gaan dink het en besef ek dink die meeste van ons doen dit tog elke dag. Elke dag is ons besig om dinge te doen wat ons moeg en gestress maak in plaas van goed wat vir ons vreugde gee. Ons is elke dag besig te veel te doen en is ons tog so besig.

Ons programme is so vol met ons beroepe en ons kinders en mense wat dinge van ons vereis.
En het julle al opgelet, hoe baie van die goed wat ons elke dag doen is vir ander mense. Vir ons base, vir ons maatskappye en besighede, vir ons kollegas, vir ons kinders en ons families en in die proses skeep ons onsself ongelooflik af.
Daarmee saam is ons ook mos hard op onsself. Ons wil alles perfek doen. Alles moet reg wees, so ons plaas baie druk op onsself. En in die proses raak ons afgestomp en verloor ons onsself.
Daar is nie meer tyd om ‘n sonsopkoms te waardeer nie. Daar is nie meer tyd om die blomme te ruik nie. Daar is nie meer tyd vir myself nie. Daar is nie meer tyd om die dinge te doen wat vir my energie gee, my laat ontspan nie.

En die slag wanneer ons begin dink oor ons lewens en ons besef dinge raak te veel. Wat doen ons? Ons maak verskonings. :
“Ek kan nie anders nie; daar is nie geld vir ‘n huishulp nie.”
“Ek het geen keuse nie; dis ‘n klein besigheid en ons kan nie nog personeel aanstel nie.”
“Daar is nie ‘n ander manier nie; werk is skaars.” “
“Ek kan nie anders nie; wie anders gaan dit doen?”

Ons is goed met die uitdink van verskonings.

Kom ek lees weer die aanhaling: “Would you sell the colours of your sunset and the fragrance of your flowers and the passionate wonder of a forest for a creed that will not let you dance?” (Helen Johnson)
Ek dink ‘n beter antwoord op hierdie vraag is: Ek wil dit nie graag doen nie, maar ek is besig om dit wat my laat dans, dit wat vir my vreugde gee te verkoop.

In die Bybel is daar ‘n verhaal van mense aan wie baie eise gestel is. Mense wat moeg was om aan ander mense se eise te moes voldoen. Mense wat heeltyd gevoel het, hulle is nie goed genoeg nie en daarom het hulle net harder en harder probeer.  
Die fariseers en die skrifgeleerdes het daarop aangedring dat die mense elke letter van die wette van die OT moes nakom. Hulle het druk geplaas op die mense en op hulle gevoel gespeel. Hulle moes die wette nakom om goeie gelowiges te wees.
In Matteus 23:4 lees ons: “hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie ‘n vinger verroer om dit te dra nie.”

En dan kom Jesus en Hy sê vir hulle die volgende: Matteus 11:28-30

Jesus sê, Sy las is lig, Hy gaan nie eise aan hulle stel nie. Hy het nie gekom om die las op hulle skouers swaarder te maak nie. Hy het gekom om dit ligter te maak. En Hy sê ons kan by Hom kom leer.  Kom ons kyk gou wat ons by Hom kan leer.
“Teen dagbreek het Hy uitgegaan en na ‘n eensame plek toe vertrek” (Luk. 4:42).
“Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid” (Luk. 5: 16).
“Jesus het uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed…” (Luk. 6: 12).
Jesus het in Sy program gereeld tyd gemaak om homself af te sonder en stil en rustig te raak.

In die week kom my oudste seun na my toe. Sê vir my – weet jy dat dit goed is vir ‘n mens om elke dag vir 10 minute net stil te wees. Heeltemal stil, sonder die TV of koerant of mense wat gesels. Net stil op jou eie.   

Ons moet leer om ons Here se voorbeeld ook hierin te volg… Ons moet leer om “nee” te sê en ons moet minder dinge aanpak! Ons moet leer om die lewe teen ‘n stadiger pas aan te pak en meer geleenthede te skep om tot rus te kom ná besige tye. Ons moet leer om tyd te maak om die sonsopkoms te sien en die blomme te ruik. Ons moet leer om tyd te maak wat ons saam met ons mense kan spandeer.

En weet jy niemand anders gaan dit vir jou doen nie! Jou baas gaan nie vir jou sê – neem ‘n uur af en gaan stap bietjie langs die see nie. Jou baas gaan nie vir jou sê, neem die oggend af en gaan speel bietjie met jou kinders nie. Jou kinders gaan nie vir jou sê, ma, pa gaan eet uit ‘n bietjie op julle eie, of gaan bietjie die naweek op julle eie weg nie.
Niemand anders gaan dit vir jou doen nie. Jy gaan dit self moet besluit. Jy is verantwoordelik vir jouself. Jesus het ons kom vry maak. Ek moet daardie Vryheid vir myself toeëien. Ek moet verantwoordelikheid neem vir my lewe. Jesus het duur betaal om hierdie gawe vir my te gee. En Hy wil hê ek moet lig en vry gaan lewe.

Mag ons weer besef dat Jesus ons vry gemaak het en dat Hy wil hê dat ons hierdie Vryheid verantwoordelik moet gebruik.
Mag ons besef dat ons dit nodig het om tot rus te kom.
Mag ons verantwoordelikheid neem vir ons eie lewe, want niemand anders gaan dit vir ons doen nie.
Mag vry en lig lewe. 

Oordenking
Waaroor het die aanhaling aan die begin van die preek jou laat dink?
Wat is die goed wat jou elke dag die meeste besig hou?
Wat is dit wat jy regtig geniet? Wat gee vir jou vreugde en energie?
Watter veranderinge moet daar dalk in jou lewe gebeur sodat jy tot rus kan kom?

Sunday, January 23, 2011

Preek 23 Januarie 2011

Antieke wysheid vir modern tye.

Gewoonlik as mens so aan die begin van ‘n kwartaal is, dan het jy mos baie dinge om na uit te sien. Dinge wat nog die kwartaal gaan gebeur. Maar ek gaan nou vanoggend bietjie terugkyk. Ver terug, ‘n paar eeue terug. Hulle sê mos, jy kan net vorentoe gaan as jy weet waar jy vandaan kom.
Chesterton, "it means giving votes to the most obscure of all classes, our ancestors.  It is the democracy of the dead”.
Daarom dan die tema van vanoggend se preek, antieke wysheid vir ‘n moderne tyd. Wat kan ons vandag leer by ons ou geloofsvaders? 

Ek gaan vanoggend terug na die 4de, 5de eeue toe om te kyk wat ons kan leer by die woestyn monnike van daardie tyd. Hulle was die ouens wat in daardie in die woestyn in kloosters gaan woon het.  In die Bybel speel die woestyn mos ‘n belangrike rol. In die OT het die volk deur die woestyn getrek. Ons lees van Johannes wat in die woestyn geleef het. Jesus was in die woestyn deur die duiwel versoek. So kan mens aangaan. Die woestyn is ‘n fisiese plek, maar dis ook ‘n baie spirituele plek en daarom het die monnike in kloosters in die woestyn gaan bly, want hulle het gereken dat hulle daar in die stilte en afgesonderheid werklik vir God kan ontmoet.

Vir hierdie woestyn vaders het hulle afsondering gegaan oor werklike innerlike transformasie. Dis een van die dinge wat ons by hulle kan leer – dit het nie vir hulle gegaan oor die teologiese debatte en teorieë nie, maar oor innerlike hartsverandering ten spyte van jou uiterlike omstandighede.
Verder is ek ook nogal beindruk met hulle omdat so geheel en al net mens was. Iemand het geskryf dat hulle beoefen ‘n “spirituality of imperfection” waar hulle nie skaam was vir hulle foute, gebrokenheid, hulle wonde, en hulle worstelings nie. Hulle het het nie probeer om perfek te wees nie, hulle was maar net mense wat naby aan hulle God probeer leef het en ‘n behoefte gehad het dat God hulle innerlik moet verander.

So wat kan ons by hulle leer? Ek het so paar goed uit hulle geskrifte wat ek graag met julle wil  deel.  Ek gaan nie teveel daaroor kommentaar lewer nie, want ek wil hê dat julle dit self in julle lewens moet van toepassing maak.

1. Moet nooit ophou om van vooraf te begin nie.
Hulle uitgangspunt was dat elke dag is ‘n nuwe begin wat deur God vir ons gegee word. Arsenios het in die 5de gesê: "My God, do not abandon me. I have done nothing good before Thee, but grant me, in Thy compassion, the power to make a start".

2. Leef opsetlik, nie doelloos nie.
M.a.w leef doelgerig, leef intensioneel, maak die meeste van elke oomblik wat God vir jou gee. "Think nothing and do nothing without a purpose directed to God. For to journey without direction is wasted effort" (St. Markus, 5de eeu).

3. Moet nooit wanhopig raak nie.
Moenie toelaat dat die foute wat jy maak, of die dinge van jou verlede jou onderkry of wanhopig maak nie. In Psalm 145: 14 staan daar: “ Die Here help almal op wat geval het.”
Do all in your power not to fall, for the strong athlete should not fall. But if you do fall, get up again at once and continue the contest. Even if you fall a thousand times...rise up again each time" (St. Johannes van Karpathos).

4. Bid eenvoudig.
Volgens hulle bid ons baie keer hierdie ingewikkelde gebede, en vra ons van God die goeie dinge wat ons nodig het, en in die proses ignoreer ons dikwels die wil van God. En as ons dan nie kry wat ons gevra het, dan is ons kwaad vir God.
Vader Macarius het gesê, "It is enough to say, 'Lord, as you will, and as you know, have mercy.' And if the conflict grows fiercer, say: 'Lord, help!'"

5. Hou op om ander te oordeel
Hulle het geglo dat jy niemand op enige manier ooit mag oordeel nie, want niemand van ons is tog immers perfek nie. Hulle vertel van Vader Marcurius dat hy die foute wat hy gesien het beskerm het asof hy dit nie gesien het nie en die wat hy gehoor het, asof hy dit nie gehoor het nie.

6. Bly waar jy is en leer wat jy moet leer.
In ons moderne samelewing verander dinge mos baie vining en maklik.En mense is mos vreeslik aan die gang en ongeduldig.  Mense skuif rond, trek maklik na ‘n ander plek, wissel maklik van beroep. Dikwels sonder enige goeie rede.  Ons soek gedurig na meer, na beter en na groter goed. In die proses verloor ons onsself. Hulle vertel dat ‘n student eendag vir St. Moses kom raad vra het. En St Moses se antwoord was: “gaan terug na jou kamer toe, daar sal jy alles leer wat jy nodig het.” Soms moet ons net rustig wees waar ons is en leer wat ons moet leer.

7. Wees nederig in jou geloof
St Johannes het gesê: “we do not know wholly even what is given in part, but know only a part of a part.”
Ons moenie ons manier van glo op ander afdruk nie, of dink ons weet beter of dink ons glo sterker of beter as ander nie. Ons moenie so selfversekerd wees oor ons geloof nie, want ons weet nie alles nie, ons ken maar ten dele soos die Bybel sê.
Soos ons lees in Spreuke 29: 23 “Hoogmoed bring mens tot ‘n val; nederigheid bring eer.”

8.  Erken jou gebrokenheid
St Maximus het gesê : "The person who has come to know the weakness of human nature has gained experience of divine power. Such a person never belittles anyone...He knows that God is like a good and loving physician who heals with individual treatment each of those who are trying to make progress" Soos Paulus ook skryf: ons is almal kruike wat maklik breek. Ons is vol krake, maar God se lig skyn deur die krake en Hy los ons nie.

9. Wees genadeloos realisties
St Makarios van Egipte het gesê: 'expect trials and temptations until your last breath.'" "I am convinced that not even the apostles, although filled with the Holy Spirit, were therefore completely free from anxiety...Contrary to the stupid view expressed by some, the advent of grace does not mean the immediate deliverance from anxiety"
Die lewe is soos ‘n roller coaster – daar is oppe en affe. Ons moet dit aanvaar en realisties wees daaroor dat alles nie perfek vir jou gaan uitwerk net omdat jy ‘n gelowige is nie.

10. Dink altyd die beste van almal
Ons moet minder wantrouig wees. Moenie altyd net die slegte in mense raaksien nie. Niemand is net sleg nie. Almal het goed in hulle. Evagrios(4de eeu) het gese: "Show the greatest gentleness toward all people.”

11. Lees die doodsberigte
Kyk bietjie in die koerant – die doodsberigte sê mos altyd iets van die persoon wat dood is, se lewe. Die woestynvaders sê dis goed om die doodsberigte te lees, want dit laat jou dink aan die manier hoe jy jou lewe leef.
Gregorius die grote het vertel toe Arsenius naby aan sy einde was toe sy mede monnike eendag sien dat hy huil. Hulle vra toe vir hom of hy bang is. ‘Ja’ het hy geantwoord, ‘want by die oomblik van ons dood gaan ons almal presies weet wat die resultaat van ons lewe was.’
Die vraag waaroor ons dus moet gaan dink, is: wat gaan daar oor elkeen van ons se lewens in ons doodsberigte geskryf word?

Kom ek herhaal net vir oulaas die 11 gedagtes wat ons hoor by die ou woestynvaders en soos ek dit noem moet jy besluit watter daarvan in jou lewe die meeste tot jou spreek: Moet nooit ophou om van vooraf te begin nie.
Leef opsetlik, nie doelloos nie.
Moet nooit wanhopig raak nie
Bid eenvoudig
Hou op om ander te oordeel
Bly waar jy is en leer wat jy moet leer.
Wees nederig in jou geloof.
Erken jou gebrokenheid
Wees genadeloos realisties
Moenie altyd net die slegste in mense raaksien nie.
Lees die doodsberigte

In Spreuke 3: 13-18 lees ons die volgende…

OT wysheid is praktiese wysheid. Dit wil ons help met die manier hoe ons ons lewens elke dag meer sinvol leef. Hierdie gedagtes van die ou woestynvaders is elkeen ‘n stukkie praktiese wysheid wat in ons moderne tye nog steeds relevant is en ons lewens betekenisvol sal maak.Wysheid wat groter opbrengste lewer as goud en meer waarde het as edelstene.  Mag dit vir ons elkeen ‘n ryk en ‘n vol lewe bring.


Om oor te dink

Dink aan iemand in jou verlede by wie jy baie geleer het. Wie was dit en wat het die persoon jou geleer?

Lees die teks: Spreuke 3: 13-18
  • Die wysheid van die Ou testament is nie oor slimwees nie. Dis praktiese wysheid wat vir mense wil help om elke dag ‘n beter en meer sinvolle lewe te leef en keuses te maak.
  • Wat staan vir jou uit in die teks?

Hoe sal jy die algemene indruk/gevoel van die 11 gedagtes in die preek beskryf?

Watter van die punte is die meeste op jou van toepassing en hoekom?

Sunday, January 16, 2011

Preek 16 Januarie 2011

1 Korintiers 1:1-9

Paulus skryf ‘n brief aan die gemeente in Korinte. Korinte is ‘n handelstad onder Romeinse beheer. Baie kosmopoltities met baie heidense godsdienste en onsedelikheid. Te midde van dit alles moes die groepie christene hulleself probeer handhaaf. 

Lees teks

Ek het een jaar op my verjaarsdag so ‘n multi-tool present gekry. Nogal lekker handige ding, veral as jy gaan kamp. Dis ‘n mes, ‘n sker, ‘n tang, botteloopmaker, skroewedraaier – ‘n klomp funksies in een.
My ma was ook soos hierdie multi-tool. Hoe sy alles gedoen gekry het weet ek tot vandag toe nie. Sy het 4 kinders groot gekry – 3 seuns en ‘n dogter. Sy het dit gedoen sonder om ooit ‘n huishulp te hê. Sy het ons almal se mae vol gehou, ons klere skoon en gestryk gehou, al die huiswerk self gedoen. Sy was die vrou van die skoolhoof op die dorp. Sy was by die kerk betrokke. Sy was saam met ons in die voortrekkers en sy was nog by elke rugby en hokkie wedstryd wat ons gespeel het. Voorwaar ‘n multi-tool.

Paulus beskryf ook ‘n multi-tool in hierdie teksgedeelte. Hy beskryf al die genadegawes wat deur Christus aan die gemeente gegee is. Kyk net wat is al die verskillende dele van die multi-tool wat Paulus beskryf: Genade, seëninge, gawes van woord en kennis, volharding. Dit alles word vir die gemeente gegee om mee te gaan lewe en hulleself te handhaaf in hierdie deurmekaar stad.

Die Nederlandse argitek: Mies van der Rohr het gesê: “God is in the details” en ons sien dit met al hierdie gawes wat God vir die Korintiers gee en wat hy vandag nog vir ons ook gee. Soos Paulus sê: ons ontbreek nie ‘n enkele genadegawe nie.

Tog sukkel ons hiermee, ten spyte van al die genadegawes leef ons asof ons nooit genoeg het nie. Ons voel so maklik dat ons dinge ontbreek in ons lewe, ons familie, ons loopbane, ons gemeenskap, ons kerk. Ons hoor gereeld:
As ek meer tyd gehad het…
As ek meer geld gehad het…
As ek meer mag of invloed gehad het…
As my kerk, my werk, my land tog net meer sus of so was…
Dan kan ek die mens wees wat God wil hê ek moet wees.

Ons kan tog so onvergenoegd wees, terwyl ons hierdie multi-tool van genadegawes van God ontvang het. Ons probleem dink ek is dat ons nooit geleer het om te ontvang nie. En dit veroorsaak dat ons so fokus op dit wat ons nie het nie, dat ons dit wat ons wel het later nie meer raaksien en waardeer nie. 

Rob Bell vertel van ’n keer dat hy, sy vrou en hulle twee seuns op die strand geloop het. Sy seuns was besig om stukkende seeskulpe op te tel en hulle hande was vol daarvan. Skielik is daar ’n pragtige seester besig om in die branders naby hulle te dryf - dis iets wat hulle een seun graag wou gehad het. Met groot vreugde skreeu Rob vir sy seun: “Gaan kry die seester, seun” Sy seun is dadelik in die water om die seester te gryp, maar hy draai om en hardloop weer uit. Dit gebeur so 3 keer na mekaar. Met die vierde keer skreeu Rob Bell vir sy seun in die water: “Seun, waarom gryp jy nie die seester wat by jou is nie? Dis wat jy wil hê?” Sy seun antwoord met sy twee hande uitgestrek: “Ek kan nie, want my hande is vol skulpe!”

Ons is ook dikwels so  -  ons maak ons lewens so vol goed wat ons nie regtig nodig het nie. Terwyl ons net ‘n slag weer dankbaar moet wees, vir dit wat ons wel ontvang het. Daarom dink ek is dit goed om ‘n danklysie op te stel. Die teks help ons daarmee.

Dankie vir genade (Vers 4)
Op 21 Mei 1972 tydens ‘n erediens by die Vatikaan het ‘n man skielik oor ‘n muurtjie in die kapel gespring en met ‘n hammer begin om Michaelangelo se beeld van Moeder Maria stukkend te kap. Toe hulle hom uiteindelik van die beeld af wegkry toe was die beeld in 40 stukke gekap. Die Vatikaan het toe ‘n span deskundiges gekry om die beeld weer reg te maak. Dit was moeilik, maar na 7 maande was die beeld weer herstel. Soveel so dat ‘n kunskenner geskryf het: “Jy kan nie eens die fout lyne en krake wat deur die aanvaller veroorsaak is, sien nie… Dit is pragtig herstel.”
Die verhaal wys vir ons wat God gedoen het. Mense is stukkend, dikwels stukkend gekap deur die lewe, maar aan ‘n kruis is ons herstel, soveel so dat mens nie eers die foute en krake kan raaksien nie.
“Ek dank God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het…” vs 4

Dankie dat God getrou is (vers 9)
Daar is ’n wonderlike uittreksel uit die kinderboek van Dr. Seuss, Horton Hatches the Egg.
Horton vertel vir die lui voëltjie, Mayzie, wat nie haar eier wil uitbroei nie:
“I'll stay and be faithful. I mean what I say. I meant what I said and I said what I meant. An elephant's faithful. One hundred percent.”
En Horton was getrou, deur slegte weer, en spottery en dreigemente op sy lewe – totdat die eier uitgebroei het. 
Dit klink mos soos God. Hy bly getrou, maar nie saak waardeur ons gaan nie.

Dan net ‘n laaste gedagte: begin deur die regte vraag te vra.(vers 1-2)
As jy nie in die lokval van onvergenoegdheid wil val nie. As jy nie wil besig raak met goed wat jy nie regtig nodig het nie, moet jy begin deur die regte vraag te vra. 

Christopher Wright  het ‘n boek geskryf: The Mission of God. Die laaste paragraaf in die boek is as volg:
“We ask, “Where does God fit into the story of my life?” when the real question is, “where does my little life fit into this great story of God’s mission.”
We want to be driven by a purpose that has been tailored just right for our own individual lives (which is of course infinitely preferable to living aimlessly), when we should be seeing the purpose of all life, including our own, wrapped up in the great mission of God for the whole of creation.
We talk about the problems of “applying the Bible to our lives,” which often means modifying the Bible somewhat adjectivally to fit into the assumed ‘reality’ of the life we life ‘in the real world.’ What would it mean to apply our lives to the Bible instead, assuming the Bible to be the reality—the real story—to which we are called to conform ourselves?
I may wonder what kind of mission God has for me, when I should ask, what kind of me God wants for his mission.”

Die regte vraag is: waar is God besig in die wêreld en hoe kan ek daarby betrokke raak?  Ek dink hierdie vraag, tesame met ‘n lewe van dankbaarheid is die enigste manier om ‘n lewe van onvergenoegdheid te verhoed.