Sunday, May 29, 2011

Preek 29 Mei 2011


Om vrede te maak met wie ek regtig is

Ons fokusteks vir die week:

Romeine 12: 3

“Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.”

Wie is ek regtig?

Wie is ek nie

  • Wie ek regtig is, is nie wat ander mense van my dink nie – hoe goed of sleg dit ook al mag wees… Hulle opinies is op beperkte inligting gebasseer.
  • Dis ook nie wat Lae Selfbeeld my wysmaak nie: dat ek nie goed genoeg is nie; dat ek nie maer genoeg is nie; dat ek nie aantreklik genoeg is nie; dat ek nie “suksesvol” genoeg is nie; dat ek nie genoeg “in beheer” is nie...
  • Nog minder is dit my verskonings, rasionalisering en “blame-shifting” vir my negatiewe gedrag. Hierdie gedrag kan baie dinge insluit. Die volgende is bloot voorbeelde:
  ontvlugting na kos, drank, rekenaarspeletjies, werk of slaap;
  “over-indulging” in die uitgee van geld, die eet van “junk food”, my kinders, of ander mense;
  my onvermoë om “nee” te sê, wat my te besig maak, my verhoudings laat afskeep, stress-simptome meebring of uitbranding / depressie tot gevolg het.
  Die lysie kan aangaan…

Wie ek regtig is…

  • Wie ek regtig is, is ‘n kombinasie van genetiese en sosiale realiteite wat ek rustig, nugter en realisties in die oë moet kyk.
  • Elke gebeurtenis van my lewe - elke klein dingetjie in die verloop van my lewensverhaal – het bygedra om my te vorm tot wie ek vandag is. En die Here was deel van alles! As God op hierdie oomblik na my kyk, is God gemaklik met alles in my lewe. Alles in my verlede het ‘n plek in die legkaart; alles kan deur God gebruik word. Ek behoort niks weg te wens of anders te wil hê nie!
  • Ek kan myself sien soos ek regtig is, as ek deur God se oë kan kyk. God sien die goed en sleg – en word nie daardeur afgesit nie.
  • God het my geskep en wil die dinge van my lewe gebruik om my verder te vorm.
  • Ware spiritualiteit kan net beoefen word deur mense wat hulleself kan sien soos hulle regtig is – en wat gemaklik kan wees (vrede kan hê) oor wie hulle is, omdat hulle weet hulle is veilig by God en goed genoeg vir God.

Beteken dit dat ek maar kan aangaan met wie ek op die oomblik is?

Nee, beslis nie! Want daar mag dinge wees wat ek tans toelaat om my te beïnvloed wat sleg is vir my: slegte gewoontes waaraan ek vashou, wat my afbreek; negatiewe denkpatrone wat my verhoudings benadeel en my selfbeeld aftakel; ontvlugtende gedrag wat my en my verhoudings afbreek; onvergewensgesindheid wat my verhoed om aan te beweeg; onverwerkte pyn en trauma wat my verhoed om vrede te hê en vry te wees; bagasie uit my verlede wat ek met my saamsleep…
Enige iets wat my “minder” maak en waaraan ek iets kan doen, is nie wie ek regtig is nie.
Wie ek regtig is, is nie volmaak nie, maar dis mooi… Ek kan, met God se goedkeuring, vrede hê met wie ek werklik is…

God se uitnodiging aan ons

God wil BAIE graag hê ons moet 1) vrede maak met wie ons regtig is en 2) ontslae raak van alles wat ons minder maak as wie ons regtig is. Ek glo dat God ‘n baie ernstige uitnodiging aan ons rig in Jesaja 30: 15.

Jesaja 30: 15

So sê die Here my God, die Heilige van Israel: “As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Maar dit wou julle nie…”

In die engels: Isaiah 30: 15

This is what the Sovereign Lord, the holy of Israel says: “Only in returning to me and resting in me will you be saved. In quietness and confidence is your strength. But you would have none of it…”

Wat presies sê God? Wat staan in die oorspronklike Hebreeus?

So sê die Here my God, die Heilige van Israel

Adonai Yahweh: Lord God

  • Yahweh is die heilige naam van God - so groots en heilig dat die Jode dit nie eers wil uitspreek nie (uit ontsag en verwondering)
  • Adonai is a very strong, powerful name for God, emphasising God’s greatness & sovereignty
  • Die teks gebruik nie die een of die ander naam vir God nie, maar albei

Kaw-dosh: holy

  • Maar dis nie genoeg nie! Daar word bygevoeg dat Adonai Yahweh HEILIG is
  • The word means without shortcomings; no criticism can be made
Die effek is dat God as uiters ontsagwekkend, groot, magtig, betroubaar, veilig, heilig en onfeilbaar voorgestel word. Dis die onbeskryflike groot, sterk, ontsagwekkende God, waarteen ons geen kritiek kan inbring nie, wat hier praat…
As julle julle bekeer

Shubah: repentance

  • Die word beteken letterlik “aftrede” (retirement): om af te tree uit een lewenstyl en te begin met ‘n nuwe lewenstyl
  • Daar is twee kante aan die woord: wegstap en terugkeer.
Ek moet dus wegstap van sekere gewoontes, maniere van dink, oortuigings, swakhede, maniere van ontvlugting en enige iets wat my minder maak as wie ek regtig is. En ek moet terugkeer na God en ‘n lewe volgens God se wil: ‘n gesonde en gebalanseerde manier van lewe, gesonde gedagtes, vrede met my lewe, vryheid om goeie keuses te maak (teenoor om vasgevang en “stuck” te voel), vryheid om te wees wie ek regtig is.
…en tot rus kom

Nakh’ath: come to rest

  • Become quiet; gear down; calm down
  • Die word beteken letterlik “lighting down” – die proses van ligte afskakel voor jy gaan slap.
Ek moet, soos aan die einde van ‘n dag wanneer ek gereed maak om te gaan slaap, klaar woel, ophou om dinge te doen en tot rus kom. Ligte afskakel beteken dat ek nie verder in daardie vertrekke gaan besig wees nie. Aktiwiteit hou op. Ek kom tot rus.
…sal julle gered word

Yaw-shah: will you be saved

  • Salvation is given to you
  • Die beteken letterlik “preserve”, soos om kos in te lê om te keer dat dit vrot raak en bederf
God wil ons beskerm teen dinge wat ons kan afbreek en laat “sleg word”. Hy wil ons red, “inlê”, “preserve”…
Julle krag

Gheb-oo-raw: strength

  • Courage to continue; courage and strength to do what must be done
My moed om te doen wat gedoen moet word (om weg te stap van swak lewensgewoontes, denkpatrone, verdedigingsmeganismes en ontvlugtings-meganismes; om heel te word van pyn;om te vergewe) lê in stil wees en vertoue hê…
(Julle krag)

Haw-yaw: (krag) lê

  • Come to pass; become a reality; is secured in
  • Die woord het ‘n betekenisveld wat “om in die huwelik te tree” beteken: ‘n baie intieme, eerlike vereniging. Jy kan niks wegsteek vir ‘n huweliksmaat nie. Hulle leef te na aan jou en hulle ken jou soos jy regtig is…
My krag / moed om te doen wat ek moet doen is intiem verbind met en word ‘n werklikheid en word verseker deur “stil wees” en “vertoue hê”…
(Julle krag lê) in stil wees

Shaw-kat: quietness

  • Undisturbed, calm, being content, having peace
  • Die woord beteken letterlik “pacified”, soos wanneer jy ‘n onrustige kindjie in jou arms sus om hulle rustig te laat raak; soos wanneer jy ‘n fopspeen (pacifier) vir ‘n baba gee
My moed om die nodige te doen word verseker deurdat ek God toelaat om my soos ‘n kindjie te sus, tot ek stil raak. Tot ek tevrede is en tot rus kom (soos ‘n baba wat niks het wat pla nie)…

…en vertroue hê…

Bit-khaw: vertroue

  • Die grondwoord (root word) beteken letterlik ‘n “trust”, soos ‘n “family trust”of trustfonds
  • Ons skep ‘n trust om bates te beskerm en veilig te hou
God wil my “trust” wees: dié een wat my beskerm en veilig hou
Maar dit wou julle nie…”

Aw-baw: you would have none of it

  • You did not consent, give permission, say “yes”
Ek wou God tot dusver nie toelaat nie; ek wou nie instem vir wat God my aanbied nie; ek wou nog nie ‘ja’ sê vir wat God na my uithou nie

Kom ons omskryf die teks in meer detail

Jesaja 30: 15 sê dus die volgende

Die baie grootse, sterk, betroubare, magtige, onkritiseerbare God gee die persoonlike versekering: “As jy wegstap van alles wat jou “minder” maak en terugkeer na My toe…en as jy ophou besig wees en woel, en rustig raak – soos wanneer jy die ligte afskakel voor jy gaan slaap…sal Ek jou verdedig teen dinge wat jou kan afbreek; sal ek keer dat enigiets jou “minder” maak… Jy sal die moed kry om op die regte manier voort te gaan met jou lewe… As jy by My tot rus kom en kalm raak, sal jy in My immuun wees teen die aanslae van die lewe; tevrede met jouself en jou lewe; rustig in My liefde… As jy My as jou “trust” sien, kan Ek jou beskerm en beveilig. Hierdie kamlte, vrede en sekuriteit word ‘n werklikheid wanneer jy een word met My; wanneer ons aan mekaar verbind is… Maar jy wil nie hiervoor “ja” sê nie…? Jy wil nie hiertoe toestem nie… En Ek kan jou nie dwing nie, want jy het die vryheid om te kies…”

Do two things:

  1. Write down all the things that hold you back from making peace with yourself and living Isaiah 30: 15. Wat keer jou om regtig jouself te wees en om vrede te maak met jouself en jou lewe? Waarvan wil God hê dat jy moet wegstap?
  2. En nou, sonder om jou te laat beïnvloed deur slegte denkpatrone, gewoontes, verdedigingsmeganismes, ontvlugtingsmeganismes, lae selfbeeld, ander mense se opinies, verskonings of rasionaliserings, kyk ‘n slag nugter en realisties na jouself. Wie is jy regtig? Skryf jou drie sterkste punte en jou drie swakste punte neer – en gaan deel dit met iemand wat jou baie goed ken.

Filippense 4:13

Luister met nuwe ore na hierdie teks: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee”

2 Timoteus 1:7

“Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing”

Gáán nou en dóén wat jy moet doen, stap weg van alles wat jou afbreek en minder maak en keer terug na God toe. Neem die uitnodiging van Jes. 30: 15 aan! Hou op om bang te wees! Sê “ja” vir die groot God wat by jou pleit…

Sunday, May 22, 2011

Preek 22 Mei 2010

God se beste vir jou lewe.

Ons is nog steeds besig met die R12 kursus oor egte spiritualiteit. In die eerste week het ons gesê dat egte spiritualiteit gaan nie oor godsdienstigheid nie, maar oor ‘n verhouding met God. Verlede week het ons oor oorgawe gepraat met die verhaal van Abraham as riglyn. Ons het gesien dat oorgawe soms moeilik is, maar dit is ook die kanaal waardeur God die beste met ons werk. Vandag gaan ons gesels oor die tema: God se beste vir jou lewe.
Wanneer ons praat van God se beste, dan moet ons dit nie verwar met “die maklikste” of dat dit altyd gaan goed gaan met ons en dat ons alles gaan hê wat ons graag wil hê nie. Nêrens staan daar dat dinge altyd maklik gaan wees vir gelowiges of dat ons altyd alles gaan kry wat ons wil hê nie. Wanneer ons praat van God se beste dan gaan dit daaroor dat God my wil verander om die mens te wees wat Hy bedoel om te wees. Om te lewe volgens Sy wil – dit is die beste vir ons.

Die teks waarmee ons vanoggend gaan werk is Romeine 12:2.

Ons kan die vers in 3 dele opdeel – 2 opdragte en die uitkoms of doel. Ons gaan by elkeen van die dele stilstaan.

Opdrag 1: “Moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie”
As ek dit in ander woorde kan sê: “hou op om jou te laat beïnvloed en te vorm deur die invloede en die druk van die wêreld waarin jy leef.

Of ons dit nou wil weet of nie, ons almal word beïnvloed deur die waardes van die wêreld waarin ons leef. Elke dag word ons daarmee gebombardeer – op advertensieborde, in flieks, liedjies, video games, TV programme en die internet. Al hierdie goed bevestig dat die lewe gaan eintlik maar oor myself. Oor dit wat ek kan kry, oor dit wat ek moet hê, oor wie ek moet beïndruk, wat ek moet besit, waar ek woon, wat ek bestuur, hoeveel geld ek maak, wie my ken en hoe suksesvol ek moet wees. Ons dink as ons al die goed het, dan is ons gelukkig en suksesvol. En ons maak keuses en neem besluite op grond van hierdie onwaarhede wat aan ons verkondig word en in die proses lei onsself, ons gesinne en ons verhoudings daaronder.

Ons het laas week by die sinode weer oor hierdie goed gepraat en ‘n predikantvriend vertel toe dat hulle gesin besluit het om nie meer net hulle geld aan stuff gaan spandeer nie, hulle gaan dit eerder aan memories spandeer. Want hulle het agtergekom dat hulle allerhande nice tegnologie en goeters in hulle huis het, maar hulle spandeer nooit meer tyd as familie saam nie, en gaan nie eintlik iewers heen nie.

Ek lees onlangs ‘n artikel wat ook hierby aansluit – ‘n Britse skrywer en haar gesin wat besluit het om vir ‘n week te leef soos die mense in 1953 geleef het. Dit beteken hulle moes oral heen stap, moes die huiswerk  alles self doen, geen junkfood nie, geen TV, rekenaar of telefone nie. Dit het onder andere ook beteken dat sy as vrou by die huis moes bly en alles moes doen, huisskoonmaak sonder ‘n stofsuier, wasgoed met die hand was, vloere met die hand politoer en dan moes sy nog mooi aangetrek en gegrimeer wees vir wanneer haar man by die huiskom, want ‘n vrou moet altyd mooi lyk vir haar man. Hulle het ‘n paar dinge geleer daai week – hulle almal het gewig verloor, want hulle het orals heen gestap, hulle kos was varser en gesonder en hulle het kleiner porsies geeet. Dis hoekom jy in daai tyd ook minder oorgewig mense gesien het. Maar die belangrikste ding wat hulle agtergekom het, was hoe min hulle deesdae met mekaar tyd spandeer en met mekaar praat. Want die TV is heeltyd aan of hulle is heeltyd op die rekenaar of op hulle selfone besig. In daardie week het hulle weer in die aande om die tafel of voor die vuur gesit en met mekaar gepraat en hulle het weer hulle vriende en vriendinne in die oë gekyk, want daar was nie facebook en selfone nie. Ons het ‘n na-binne gekeerde, selfsugtige samelewing geword.   

Daarmee saam het ons ook verleer om te kan wag en te spaar. Alles moet mos dadelik gebeur, so ons maak al hoe meer skuld en plaas onsself al hoe meer onder druk omdat alles nou moet gebeur en omdat ons alles nou moet hê. Ek lees onlangs toe die nuwe Apple I-pad ‘n paar weke terug uitgekom het – in Hong Kong het mense mekaar by ‘n winkel vertrap om ‘n I-pad te kan koop. Mense het in die hospitaal beland omdat hulle nie net kon wag nie, hulle moes dit dadelik kry. 

In 1 Johannes 2: 15-17 word dit mooi saamgevat.
Die wêreld waarin ons leef voed ons selfsugtige begeertes en ons gierigheid en dit laat ons al hoe meer op onsself fokus. Dit maak ons selfsugtig.
Paulus sê dat ons moenie in hierdie slaggat trap nie – ons moenie toelaat dat hierdie mindset ons verlei en mislei nie, want dit het ‘n manier om jou weg te trek van God en van mense af.

Opdrag 2: “laat God julle verander deur julle denke te vernuwe”
As ek dit in ander woorde kan sê: “laat God toe om jou denke vernuwe en in die proses ook jou optrede en jou manier van leef te verander.”

Paulus skryf - die manier hoe ons kan loskom van die baie selfsugtige waardes waaraan ons in hierdie wêreld blootgestel is, is om vir God toe te laat om ons denke te verander.
Soos ons ook lees in Fillipense 2:13 “…want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer.”
Ons kan nie dit op ons eie regkry nie. Ons gaan dit nie regkry deur skuldig te voel en harder te probeer nie, of om reëls na te kom of meer en meer godsdienstig te raak nie – dis iets wat God doen.  
God wil ‘n metamorfose in ons lewe teweegbring. Soos met ‘n skoenlapper – voordat die mooi skoenlapper daar was, was daar eers ‘n lelike wurm. Dan vind daar ‘n transformasieproses in ‘n kokon plaas en die wurm verander in ‘n mooi skoenlapper.

Hierdie transformasie gebeur van binne af – dis iets wat God hier in ons binnekant doen en mettertyd dan spoel dit oor na ons uiterlike lewe. Dit beïnvloed dan hoe ons ons lewe leef, hoe ons na onsself kyk, hoe ons na ander mense kyk en hoe ons na die wêreld kyk.

So, hoe vernuwe God ons denke? Wat gebruik Hy daarvoor? 
Hy gebruik sy Gees wat in ons werk;
Hy gebruik die Bybel – dis hoekom dit belangrik is om tyd met die Bybel te spandeer;
Hy gebruik die natuur – daarom kan ons nie maar net voor die TV en die rekenaar in ons huise sit nie; oorweeg ‘n slag om vir ‘n dag of 2 te vas van die TV en die internet en eerder daai tyd in die natuur of met jou mense te spandeer.
Hy gebruik goeie boeke - dis hoekom ons ook ons kinders moet aanmoedig om te lees, maar ons moet dit natuurlik self ook doen;
Hy gebruik ander mense om in te bou in ons lewens – nie net medegelowiges nie, maar ook mense wat anders dink en praat en lyk as ek.

Vraag is: hoe lyk ons geestelike en intellektuele dieet – dit wat jy inneem is belangrik. As jou geestelike dieet net bestaan uit TV kyk, tydskrifte lees, self-help boeke en video-games dan gaan jou lewe later net om jouself draai en jou denke gaan nie vernuwe word nie.

Hierdie proses van denke vernuwe maak dat ons anders begin dink – ek begin besef dat die lewe nie net oor myself gaan nie, ek begin anders dink oor gebed, Bybellees en oor die erediens, ek begin anders dink oor my verhouding met ander mense en oor my roeping in hierdie wêreld. Stadig maar seker binne die kokon van God se liefde word ek verander soos die wurm wat ‘n skoenlapper word. Word ek die mens wat God my bedoel het om te wees. Dit is God se beste vir my lewe.

Uitkoms of doel van dit alles: “Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Die doel van ons verandering en ons nuwe denke, sê Paulus, is dat dit nie meer vir ons gaan oor ons eie wil en die bevrediging van ons eie behoftes nie, maar dat ons God se wil sal beleef en dat ons lewens iets van God se wil sal demonstreer.
Vernuwing van my denke herinner my daaraan dat Hy die Here van my lewe is – nie ekself nie en nie die waardes van hierdie wêreld nie. Dit help my om te verstaan dat die lewe gaan oor dit wat ek gee, oor wie ek liefhet, oor hoe God my gebruik, oor die verskil wat ek maak, ten spyte van hoeveel ek verdien, waar ek woon, wat ek bestuur of wie my ken. Dit is God se beste vir my lewe. Mag ons elkeen dit verstaan en ons eie maak.


Sunday, May 15, 2011

Preek 15 Mei 2011

Gee vir God wat hy verwag!

Ons is besig met die kursus oor egte spritualiteit aan die hand van Romeine 12. Net om weer te hersien. Verlede week het ons gepraat oor die vraag: wat is egte spiritualiteit? Ons het gesê dat egte spiritualteit begin by ‘n positiewe  prentjie van God; dit is gebaseer op 2 kern verhoudings, naamlik my verhouding met God en my verhouding met my naaste; en ons het vining gekyk na die leiding wat Romeine 12 vir ons gee.

Dink gou bietjie oor hierdie vraag: wat verwag God van jou? Wat sal jy daarop antwoord?

In Amerika is daar ‘n navorsingsgroep, die Barna Research group, wat spesifiek navorsing doen oor kerk en gemeente sake. Hulle het ‘n tyd gelede navorsing gedoen om uit te vind wat Christene dink oor die vraag: wat verwag God van my? En hulle het nogal interessante resultate gekry. Hulle het gevind dat 80% Christene in Amerika dink dat God verwag van ons die meeste om die reëls na te kom, spesifiek die 10 gebooie.  ‘n Groot persentasie het ook gesê: God verwag getroue kerkbywoning, Bybel lees en om geld te gee. Dis nogal insiggewend veral omdat ons laas week mos gesê het dat spiritualiteit gaan oor ‘n verhouding met God en nie daaroor om die regte dinge te doen of nie te doen nie. Of oor ‘n stel reels nie.
So om dit in perspektief te plaas - vanoggend gaan ons stilstaan by hierdie vraag: wat is dit wat God van ons verwag.

In Romeine 12:1 lees ons: “Gee jouself as lewende en heilige offer…”
Dis die opdrag wat ons ontvang. Dis wat God van ons verwag – dat ons onsself volledig vir Hom sal gee. Wat beteken dit? Ek wil die verhaal van Abraham gebruik om hieroor na te dink.

Ons lees Abraham se verhaal in Genesis 12-22. Ek wil net so ‘n paar momente in hierdie verhaal uitlig. In die proses sal julle sien dat Abraham se lewe is ook maar ‘n journey. Hy is nie hierdie perfekte mens wat altyd die regte goed gedoen het nie. Hy is saam met God op ‘n journey en ek hoop julle sal dalk iets van julle eie journey in sy storie raaksien.

Sy verhaal begin in Genesis 12 waar God hom roep om weg te trek uit sy bekende omgewing. Lees Gen 12:1-4.
So, God sê vir hom, Ek wil hê jy moet trek. Ek wil hê jy moet my vertrou en ‘n stap in die geloof neem. Hy woon in een van die bekendste stede van daardie tyd. Sy familie is daar, sy huis is daar, sy wortels is daar. En God sê vir hom – Ek wil hê jy moet hierdie bekende omgewing en jou comfortzone agter laat en trek na ‘n onbekende plek toe wat ek nog vir jou sal wys. En God maak die belofte dat Hy ‘n geseënde mens sal wees. God vra dus van hom om alles te gee. Volledige oorgawe. 

Van Gen 12: 10 af lees ons van ‘n baie swaar hongersnood en Abraham trek Egipte toe. Op pad soontoe sê Abraham vir Sara dat sy moet sê dat sy sy suster is, want sy is ‘n mooi vrou en hy is bang dat die Farao hom sou doodmaak om vir Sara te kry. So Abraham, die geloofsheld word ‘n twyfelaar. Hy sal liewer vir Sara opoffer as om self in die slag te bly. En daarom vertel hy ‘n leuen. Bevestig net weer dat vrees en spanning bring dikwels die swak plek in ‘n mens se mondering uit. Dit wys vir ons dat maak nie saak hoe vroom, hoe beroemd of hoe bekwaam jy is nie. Almal is kwesbaar en het swakhede. Dit hou jou nederig en laat jou op God vertrou. Maar ten spyte van Abraham se swakhede los God hom nie. God hou aan om by hom te wees en om sy beloftes aan hom te bevestig.

En dan in hoofstuk 15 sien ons dat Abraham ontnugter is. Toe God hom destyds geroep het, het hy vir hom 2 beloftes gemaak, naamlik die belofte van ‘n nageslag en van ‘n land. Maar hy sien nog niks van hierdie beloftes nie. Hy het immers sy kant nagekom. Hy was gehoorsaam en het gedoen wat God van hom gevra het, maar niks gebeur nie. Hy spreek die frustrasie dan uit teenoor God. Maar God veroordeel hom nie, Hy weet waardeur Abraham gaan. En daarom bevestig hy sy belofte van ‘n nageslag weereens in vers 5.
Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.”

En in vers 6 sien ons dan hoe Abraham se teleurstelling en ontnugtering oorgaan in vertroue.
Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het.”
Ook die belofte van ‘n land word deur God bevestig deur ‘n offerritueel. God bly getrou en Abraham moes Hom net vertrou. Weereens moes Abraham leer wat volle oorgawe beteken beteken.

Maar om te bly glo teen alle menslike moontlikhede in, bly moeilik. Abraham het nou wel hierdie belofte van God ontvang, maar Sara is nie oortuig nie. Sy was nog steeds nie swanger nie, en sy het begin ouer word. En daarom maak sy die voorstel vir ‘n surrogaat moeder. Dit was die gebruik in daardie tyd. As ‘n vrou nie kon kinders kry nie, dan kon die man ‘n kind hê by ‘n slavin en hulle het dan die kind as hulle eie grootgemaak. Abraham stem toe in en Ismael word gebore, maar van die begin af het dit net konflik en probleme in hulle huishouding veroorsaak.
Abraham hulle is ook maar net mense. Hulle probeer self die oplossing vind. Soos ons almal maak hulle goeie en slegte keuses. Maar die nice ding is dat God nie vir Abraham los nie, hy gaan soek nie iemand anders om Abraham se plek oor te neem nie. Hy verstaan vir Abraham. Hy verstaan dat ons almal maar net mense is wat foute maak.
En in Hoofstuk 17 lees ons hoe Hy die verbond met Abraham sluit. Die verbond wat vandag nog steeds bevestig word elke keer as ons ‘n kind laat doop. En ons sien hoe God vir Abraham en Sara ‘n seun gee. Isak word gebore as Abraham se erfgenaam, heeltemal teen alle verwagtings in. 

Sien julle die patroon wat hier aan die ontwikkel is. Aan die een kant is daar God wat sekere beloftes aan Abraham maak. Maar Abraham sukkel om vir God te vertrou en daarom faal hy elke keer. Maar elke keer verseker God hom weer van sy beloftes en herinner hy vir Abraham dat hy Hom maar kan vertrou. Dat hy hom heeltemal moet oorgee aan God.

Maar dan kom die finale uitdaging in hoofstuk 22. God vra vir Abraham om sy seun, Isak te gaan offer. En Abraham het toe gegaan, hout gekap, altaar gebou en vir Isak vasgebind. Reg om hom te offer soos God gevra het. En net toe Abraham vir Isak wou offer, toe keer God hom en gee ‘n skaap om eerder te offer. Die punt hiervan is dat God vra vir Abraham om dit waarvoor hy die liefste is op te offer. Hy moes leer dat alles, ook jou kosbaarste besitting behoort aan die Here. Hy moes leer om alles vir God te oor te gee en God te vertrou.

Kom ons gaan terug na die vraag aan die begin: Wat is dit wat God van ons verwag? Hy verwag alles. Hy verwag totale oorgawe. Soos Abraham moet ons bereid wees om alles aan Hom oor te gee. Rom 12: 1 sê dat ons onsself volledig aan Hom moet oorgee. Dit is ons wil, ons gedagtes, ons emosies, ons besittings, alles gee ons vir God. God verwag van ons totale oorgawe.

Te dikwels word die woord “oorgawe” egter geassosieer met dit wat ‘n mens moet opgee, dit wat jy gaan verloor of dit waarop jy gaan uitmis,  terwyl dit eerder moet gaan oor dit wat jy in die proses ontvang. Met oorgawe ontvang mens nuwe lewe, vrede, hoop, liefde, vryheid, lewe in oorvloed. Jy kry perspektief oor die lewe en oor wat regtig belangrik en wat nie.

Wat is die motivering daarvoor? Hoekom doen ons dit? Rom 12:1 sê dis “op grond van die groot ontferming van God”. Ons motivering vir totale oorgawe is nie om enigiets van God te verdien nie. Dis nie om in God se goeie boekies te kom nie. Oorgawe is ‘n dankbare reaksie op Sy genade. Dis omdat mens verstaan dat jou sondes vergewe is en dat God jou liefhet. Dis om te sê: “Ek glo dat God vir my ongelooflik lief is en goed is en daarom gee ek vir Hom my hele lewe.”

En die rede hiervoor vind ons in die laaste deel van die vers. “Dis die wesenlike van die godsdiens” – m.a.w. dis waaroor dit alles gaan. Dis hoekom ons gelowiges is. Oorgawe is die logiese en beste ding om te doen in die lig van dit wat God vir ons elkeen gedoen het. Oorgawe is een van die sleutels tot egte spiritualiteit.

Nou is die vraag: is dit iets wat jy al gedoen het?

Ek het ‘n oulike storie raakgeloop. Dis van middeljarige man wie se vrou oorlede is en hy moes klere bymekaar sit wat hulle vir haar sou aantrek voordat sy in die kis geplaas sou word. En hy kyk so deur haar kaste en sit die klere op die bed neer. Hy trek toe die onderste laai van haar kas oop en vind daarin ‘n toegedraaide pakkie. Toe hy dit oopmaak toe is dit hierdie mooi, duur sagte sy onderklere wat sy so tien jaar tevore gekoop het. Maar die prys was nog daaraan. Sy het dit nooit gedra, want sy het dit gebêre vir ‘n spesiale geleentheid. Hy gaan sit dit toe by die ander klere op die bed, want hy het gereken dis mos nou ‘n spesiale geleentheid. En hy gaan sit toe so langs die klere en sê: ”moet nooit enigiets bêre vir ‘n spesiale geleentheid nie.”
My ervaring is, dat baie mense, ook gelowiges hulleself bêre vir ‘n spesiale geleentheid. Hulle dink, ek sal myself en alles in my lewe oorgee eendag wanneer ek eers dit of dat gedoen het. Wanneer ek eers my lewe geleef het, wanneer ek eers sekere goed gekry het. En dan is dit dalk te laat.
God wil hê dat ons ons lewens nou aan Hom moet oorgee.

Ons gaan vir julle so ‘n kaartjie uitdeel. As jy reg is om jou lewe oor te gee, teken jou naam op daardie kaartjie. En dan, skryf ook jou adres daarop, en dan sal ons oor so ‘n maand dit vir jou pos, as ‘n herinnering daaraan dat jy jou lewe op hierdie dag aan God oorgegee het.
Van ons sal dit vandag weer doen – om te bevestig dat jou lewe aan God oorgegee is. Dis eintlik iets wat ons elke dag moet doen. Ander van julle doen dit dalk vir die eerste keer, wat wonderlik is. Maar vat die kans en gee jouself as ‘n lewende en heilige offer vir God. Want dis wat Hy vir ons verwag.

Sunday, May 8, 2011

Preek 08 Mei 2011

R12: Wat is egte spiritualiteit?

In die begin jare van my studentedae was ek in Majuba koshuis. Die koshuis was in seksies opgedeel elkeen met ‘n naam en ‘n leier. Ons leier was ‘n derde jaar student.  Hy was ‘n aangename, joviale ou – was lekker om saam met hom te kuier. Hy   kkkk  Hy was ook baie lief vir kuier en daar was ‘n hele paar aande wat ons hom na sy kamer toe moes vergesel. Ek weet nie altyd hoe nie, maar hy het deurgekom, trouens hy was nie ‘n slegte student nie. Hy was ook iemand wat elke Sondag in die kerk was. En dit was vir hom belangrik om elke Sondag in die kerk te wees. Want, het hy gesê, dit gee vir hom ‘n geleentheid om sy sondes van die week te bely, sodat hy weer reg en skoon kan wees vir die week wat kom en nie skuldig hoef te voel oor die week se kuier wat voorlê nie. Hy het selfs af en toe ‘n Bybelstudiegroep op Woensdagaande in die koshuis bygewoon  Hy het dus baie goed daarin geslaag om die verskillende dele van sy lewe te balanseer deur dit in kompartemente op te deel. Daar was sy studies, sy gekuiery en sy kerklike lewe. Op ‘n manier het die 3 nooit mekaar beïnvloed nie.
Ek weet nie hoe hy dit altyd reggekry het nie, maar na dese verstaan ek dit beter, want ek het ontdek hoe baie Christene so ‘n tipe lewe lei. Volgens navorsing in Amerika wil nege uit 10 Christene werklik volgelinge van Jesus wees, maar hulle lei ‘n skitsofreniese lewe wat hulle waardes, geldsake, integriteit, verhoudings, werkslewe betref. Hulle leef in kompartemente met hulle geloof en die kerk aan die een kant en hulle lewenstyl aan die ander kant en hulle sukkel om dit bymekaar uit te bring. Ons leef ons lewens dikwels in kompartemente – geen wonder mense sê dat Christene doen nie wat hulle sê nie.
Dis waarmee hierdie kursus ons oor die volgende 6 weke wil help. Hoe kry ek dit reg om ‘n geïntegreerde lewe te lei? Hoe maak ek om al die verskillende dele van my lewe bymekaar te bring, sodat ek ‘n vervullende, outentieke verhouding met God kan hê?
En daarmee saam wil dit ons ook help om te verstaan dat God vir ons lief is, dat geloof gaan oor genade en ‘n verhouding met God en nie oor performance en godsdienstige aktiwiteite en reëls nie.

Dit alles begin by die vraag: Wat is egte spiritualiteit?
Kom ek unpack dit gou eers. Spiritualiteit verwys na my verhouding met God en die impak en invloed wat hierdie verhouding in my lewe het. ‘n Spirituele mens is iemand wat leef met ‘n bewustheid van God en van God se invloed in elke deel van sy/haar lewe.
As ons praat van ‘n egte spiritualiteit dan verwys dit na eg soos in outentiek of “real” – is my verhouding met God iets wat “real” is in my lewe? Het dit ‘n invloed of ‘n impak in my lewe? Of is dit iets wat ek hou vir Sondagoggende hier by die kerk?    

Daar is 3 gedagtes wat belangrik is as ons praat oor ‘n egte spirtualiteit.
Egte spiritualiteit het baie te doen met die prentjie wat ons van God het. Dit bepaal uiteindelik hoe jy vir God gaan beleef, hoe jy geloof gaan beoefen.
As jy vir God gaan sien as ‘n kwaai God en jy is bang om gestraf te word, dan is daar gewoonlik ‘n lysie van goed wat jy gaan doen om Hom tevrede te hou en te sorg dat jy nie gestraf word nie. Jy bid soveel keer elke dag, jy gee soveel geld, jy mag nie dit nie of jy mag nie dat nie – alles sodat God tog net nie sal kwaad raak nie. Dis een prentjie van God.

‘n Ander prentjie van God is die van ‘n tellinghouer. God hou telling van jou goeie en slegte dade, van dit wat jy doen en nie doen nie. Jy hardloop rond en probeer ‘n goeie mens wees, maar jy is nooit heeltemal seker of jy genoeg doen nie.

Nog ‘n prentjie van God is dat Hy hierdie onpersoonlike krag is. Hy is daar ver, maar Hy is ook hier rond en jy moet die formule ontdek om by Hom uit te kom en een te raak met Hom. Maar Hy bly maar altyd so half buite bereik. Soos daai liedjie van Bette Midler: “from a distance, God is watching us”.

Kom ons gaan kyk gou na ‘n paar beelde of metafore van God in die Bybel wat in my opinie ‘n beter prentjie van God skets.
God as liefdevolle Vader; God as moeder; God as Vriend; God as mentor; dienskneg; herder; regverdige regter ens.
Die prentjie wat ons uit hierdie beelde kry is van ‘n God wat omgee, liefhet, genadig is, regverdig is, wat die meeste vir ons wil hê, wat in ‘n verhouding met ons wil wees.

Die tweede gedagte oor egte spiritualiteit is dat dit gaan oor die beginsel van verhoudings.
Egte spiritualiteit gaan nie daaroor om die reëls na te kom om in God se goeie boekies te bly nie. Dit gaan nie oor die doen van die regte godsdienstige aktiwiteite nie. Dit gaan oor 2 verhoudings waarvan ons lees in Matteus 22: 37. “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Egte spiritualiteit begin wanneer ek in ‘n verhouding met God en my naaste leef. En dis hierdie verhoudings wat bepaal hoe ek my lewe leef en my keuses maak.

En dan kry ons die derde gedagte oor egte spiritualiteit in Romeine 12.
Dis die basis teksgedeelte van hierdie kursus. Oor die volgende 6 weke gaan ons in detail hierby stilstaan, so ek wil vandag net ‘n vinnige oorsig gee, sodat julle weet om te verwag.

Kom ek gee net eers vir julle die hele aanloop tot by Romeine 12.
Die Romeine brief is soos ‘n hofsaak opgebou.
In Romeine 1-3 word die aanklag uiteengesit. Dit is dat mense as gevolg van sonde, skuldig is voor God. Sonde beteken letterlik, “om jou doel te mis”. Ons doel is om in ‘n verhouding met God en ons naaste te leef.   
Die tweede deel, hoofstukke 3-4, bevat die uitspraak. Gelowiges word vrygespreek van hulle sondes, omdat Jesus in hulle plek gesterf het. Dis nie iets wat ons kan verdien nie, of waarvoor ons kan werk nie. Hy gee dit vir ons gratis en verniet. Deur genade. Al wat ons moet doen - ons moet dit glo.
Die laaste deel, hoofstuk 5-15, gee vir ons die gevolge van die vryspraak, naamlik ‘n lewe van vrede, hoop en liefde.
Waar pas hoofstuk 12 in?

In Hoofstuk 12 raak Paulus lekker prakties.Hy verduidelik wat dit prakties beteken om as ‘n vrygemaakte gelowiges te gaan leef. Want elke deel van ons lewe moet getuig dat ons vrygemaakte gelowiges is. En dis by hierdie goed waarby ons gaan stilstaan in die volgende 5 weke.
  1. Gee vir God wat Hy verwag. (Rom 12:1). Dit gaan oor oorgawe. Om jouself vir God te gee, sodat Hy jou kan gebruik.
  2. God se beste vir jou lewe. (Rom 12:2). Ons word almal beïnvloed deur die wêreld waarin ons leef. Hierdie wêreld maak dit soms vir ons moeilik om as gelowiges te leef. Daarom wil God ons denke vernuwe, sodat ons volgens Sy wil kan leef, want dit is die beste vir ons. Let op, ons word nie vernuwe deur harder te probeer of meer kerk toe te kom of heiliger te wees nie. Dis iets was God doen uit genade en liefde.
  3. Ontdek en aanvaar die egte jy. (Rom 12: 3-4). Om jouself te sien soos wat God jou sien. Iemand met sterkpunte en swakpunte. Iemand met gawes en potensiaal. Iemand wat uniek is in God se oë en wie ‘n unieke bydrae kan lewer.
Die eerste 3 temas gaan dus oor myself en my verhouding met God. Oor oorgawe, my denke wat vernuwe word en om myself nuut te verstaan. Met die vierde tema begin ons na buite kyk. My verhouding met my naaste en die wêreld.
  1. Beleef egte fellowship.(Rom 12: 9-13) Hier gaan dit oor ons verhouding met medegelowiges. Om die maskers te laat sak en werklik bymekaar te leer, bymekaar betrokke te wees, vir mekaar lief te wees en mekaar te ondersteun.
  2. Die laaste tema gaan oor hoe ek die kwaad in die wêreld moet hanteer (Rom 12:14-21). Ons kan nie wegkom van die kwaad in hierdie wêreld nie. Slegte goed gebeur met goeie mense. Mense ontnugter jou en maak jou seer. Hoe moet ek as ‘n gelowige in so ‘n wêreld optree en hierdie goed oorkom en hanteer.

Ek wil afsluit met ‘n waarskuwing. Hierdie goed waarna ons gaan kyk in Romeine 12 kan maklik weer ‘n nuwe stel reëls word waaraan ‘n mens moet voldoen om ‘n goeie Christen te wees. Paulus is nie besig om vir ons weer ‘n nuwe klomp wette te gee waaraan ons moet voldoen nie en waaraan ons onsself moet meet nie. Paulus wys hier vir ons hoe ons leef omdat ons dankbaar is vir die redding, die vryspraak wat ons deur Jesus ontvang het. Ons doen dit dus nie omdat ons iets van God wil hê nie, ons doen dit omdat ons dankbaar is vir dit wat ons reeds van Hom ontvang het. Dit is ons dankbare reaksie op dit wat God vir ons gedoen het.

So, ek wil julle uitnooi en uitdaag om aan hierdie reis na egte en verdiepte spiritualiteit deel te neem. Om sodoende te groei in jou geloof, om die mens te wees wat God vir jou bedoel het om te wees.
Ek wil jou uitdaag om die volgende 6 weke te commit om hierdie kursus te voltooi. Dis soos antibiotika – dit werk die beste as jy die kursus voltooi.

Wat behels die commitment?
  • Dis ‘n verbintenis om al die eredienste by te woon. As jy om een of ander rede nie hier kan wees nie. Om dan die preek te gaan lees. Ons sal dit teen ‘n Dinsdag op die website gelaai hê, waar jy dit kan gaan aflaai.
  • As jy by ‘n kleingroep inskakel, is dit ‘n verbintenis om die groepsbyeenkomste by te woon of om seker te maak dat jy die inligting kry as jy nie daar kan wees nie.
  • Daar is ook ‘n paar goed wat jy op jou eie moet gaan doen. Dis ‘n verbintenis om dit te doen.
  • Laastens vir die ouers. Die kinders en die tieners gaan ook hierdie kursus doen. Ek wil dus vra dat julle as ouers julleself sal verbind om te sorg dat julle kinders elke sondag hier sal wees om die kursus te voltooi.