Sunday, January 29, 2012

Preek 29 Jan 2012

1 Korintiërs 9: 16-23


Ek het op hierdie foto van die rooi skoen afgekom. Dit het onmiddelik my aandag getrek en my laat wonder oor die vrou wat die skoen verloor het. Hoekom het sy dit agtergelaat. Wat was die omstandighede waaronder sy die skoen verloor het? Is sy oraait?
Dit het my ook aan die storie van Cinderella laat dink. Dis ook ‘n storie met ‘n skoen wat agter gelaat word – glas skoen. Dis die storie van ‘n meisie wat dit regkry om te ontsnap van die mishandeling en wreedheid van haar wrede stiefma en stiefsusters en uiteindelik haar selfwaarde en waardigheid ontdek. Dis ‘n storie wat die donker en die goeie kant van mense en van die lewe uitbeeld.  Wanneer sy haar glasskoen verloor lei dit tot iets positiefs en ‘n nuwe lewe vir haar. Daar is closure, ‘n positiewe einde aan die storie. Happily ever after.
Dis anders as die rooi skoen – die storie van die rooi skoen is onvoltooid. Dis ‘n storie wat onopgelos is en wat ‘n mens ongemaklik maak. Ons weet nie wat van die vrou geword het nie. 
Gee die glas skoen van die Cinderella storie nie dalk vir ons vals hoop nie – ons weet mos hoe deurmekaar die wêreld is? Is die lewe nie meer soos die rooi skoen nie – onvoorspelbaar, onvoltooid en ongemaklik.

Die Bybel help vir ons hiermee. Soos in die storie van Cindarella kry ons ook verhale wat die donker en die ligte kant van mense en die lewe uitbeeld. En soos met die foto van die rooi skoen kry ons ook verhale in die Bybel wat vir ons wys dat die lewe soms maar lekker morsig, hard, pynlik en onregverdig is. Voorbeelde dat die lewe nie altyd perfek is en ontvou soos wat ons dit graag wil hê nie.

Maar deur dit alles ontmoet ons ook ‘n God wat ons wil heelmaak. Wat ons wil vrymaak. Wat verhoudinge wil herstel. ‘n God wat die “happily ever after” vir mense wil gee. Hierdie verlossing en versoening wat God vir ons gee is heeltyd aan die gang in ons lewens. En dit gebeur omdat elkeen van ons saak maak vir God. Elke mens is vir God belangrik – ook die vrou wat die rooi skoen verloor het.

Dis hierdie wete wat vir Paulus ook dryf en hom so passievol oor die evangelie maak. Want hy weet watter verskil die evangelie in mense se lewens maak.
Kom ek lees gou vers 19: “Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.”
Hy is so passievol oor die evangelie en die verkondigings daarvan. Hy is op ‘n missie om mense vir Christus se wen. En hy sal doen wat nodig is.

’n Motiveringspreker het op ’n keer gesê: “There are two kinds of people in this world: those who say “whatever” and those who say, “whatever it takes.”
En hy is reg. Paulus is ‘n “whatever it takes” tipe mens en hy wil ons as MEDE volgelinge van Jesus motiveer om ook so te wees. “Whatever it takes” beteken vir Paulus – hy verkondig die evangelie kosteloos, hy gebruik al sy talente en bronne daarvoor en vir die Jode word ek ‘n Jood, vir die swakkes word ek swak. Vir almal het ek alles geword. Hy doen wat nodig is.

Wat bedoel Paulus met ‘alles vir almal”? Gandhi was ‘n Hindoe. Hy het te doen gehad met Hindoes wat oorlog wou maak teen die Moslems. Toe sê hy vir hulle: “Ek is ’n Moslem, ek is ’n Hindoe, ek is ’n Christen en ek is ’n Jood.”
Net soos Paulus bedoel hy nie hiermee dat hy nou sy geloof gaan prysgee of compromise nie.
Dit gaan daaroor om in iemand anders se skoene te gaan staan. Om langs iemand te gaan staan en hulle te probeer verstaan.

Message vertaling sê dit mooi: “Even though I am free of the demands and expectations of everyone, I have voluntarily become a servant to any and all in order to reach a wide range of people: religious, nonreligious, meticulous moralists, loose-living immoralists, the defeated, the demoralized—whoever. I didn't take on their way of life. I kept my bearings in Christ—but I entered their world and tried to experience things from their point of view. I've become just about every sort of servant there is in my attempts to lead those I meet into a God-saved life.”

Soos iemand gesê het: “One of our great necessities is to learn the art of getting alongside people; and the trouble so often is that we do not even try.”

‘n Ander manier om dit te sê is: Paulus ontmoet mense waar hulle is. Nie waar hy is nie, of waar hy dink hulle moet wees nie. Hy ontmoet hulle waar hulle is.
Daar het ‘n skuif by Paulus gebeur: hy vra nie meer “wat doen jy vir my?” nie. Hy vra nou “wat kan ek vir jou doen?” Dit gaan nou vir hom oor hoe kan hy ander mense bedien?

Ek dink dis belangrik lesse wat ons almal moet leer by Paulus:
  • Hoe passievol is ek oor die evangelie en die vryheid en verlossing wat dit bring vir alle mense. Is dit vir my belangrik dat ander mense di took moet beleef?
  • Hoe kan ek my talente en gawes gebruik ter wille van die evangelie?
  • Watter vooropgestelde idees en vooroordele moet ek laat gaan, sodat ek mense kan ontmoet waar hulle is?
  • Is ek bereid om weg te beweeg van ‘n “bedien my” houding na ‘n “hoe kan ek jou bedien?” houding.
  • Hoe kan ek daar waar ek elke dag my lewe leef mense ontmoet waar hulle is en hulle dien?

Dink gou aan die 5 gawes/talente/bronne wat jy het en wat jy kan gebruik om ‘n verskil in ander mense se lewens te maak en waarmee jy die gemeente en mense kan dien.

Ons leef in ‘n rooi skoen wêreld wat nodig het om die goeie nuus te hoor. God het ‘n “happily ever after” visie vir hierdie wêreld. Hy wil ons gebruik om dit waar te maak. God se skoen van genade pas aan almal se voete.

Gebed
Here, ek loof U dat ek ’n lid van U liggaam is, maar gee ons asseblief die wysheid om kerk te wees soos U dit wil hê.
Gee ons die genade om genadig teenoor almal te wees.
Ja, gee aan ons die visie van die breedte, lengte, hoogte en diepte van u genade wat ons klein harte sal uitdaag om ander te dien.
Vergroot ons omgee sodat ons die behoeftes van die wêreld sal kan raaksien en hulle kan innooi, sodat daar in die wêreld partytjie gehou sal word oor hoe groot en goed U is.
Kom, o Gees van God, hernu ons lewe.
Amen.

Sunday, January 22, 2012

Preek 22 Jan 2012

Waarde van eenvoud
Matteus 6: 25-33

Ons het 4 waardes identifiseer wat hierdie jaar ons fokus gaan wees: eenvoud, betekenisvolle verhoudings, gestuurdheid en egtheid. Hierdie is waardes wat belangrik is vir ons as individue en as gemeente. Elke kwartaal gaan ons op een van die waardes fokus. Die waarde vir die eerste kwartaal is Eenvoud.

Ek het in die opbou tot kersfees ‘n pamflet van ‘n avontuur en sport winkel gesien. Om jou aan te moedig om hulle produkte as kersgeskenk te koop. Dit het die volgende gesê:
“The time of immaculate consumption is upon us. From a flaming kayak paddle to an indestructible laptop that can pinpoint your exact location on earth, we’ve gathered the hardest, softest, smoothest, and sleekest gear of the year in our annual holiday-swag blowout. PLUS: More gift ideas for everyone on your list, from books and CDs to travel gear.”
Saam met dit was daar ‘n artikel vol resensies van die nuutste gadgets en toerusting vir advontuursporte.
Ek het nogal gehou van die frase “immaculate consumption” want dit beskryf wat van kersfees geword het. Gaan meer oor die beste geskenke en materialisme as oor die boodskap.

Ek dink dit beeld die probleem van ons samelewing nogal goed uit. Ons samelewing is gekompliseerd en skeefgetrek. Ons samelewing maak…
  • Dat ons smag na goed wat ons nie regtig nodig het of regtig geniet nie
  • Dat ons goed koop wat ons nie nodig het nie om mense te beïndruk wat ons nie eers van hou nie.
  • Dat ons te skaam voel om met ‘n ouer kar te ry
  • Dat ons tog net uit die mode moet wees nie
  • Dat ons hebsug en gierigheid sien as ambisie
  • Dat ons mense se belangrikheid meet aan hoeveel hulle produseer en hoeveel hulle verdien en in watter huis hulle bly.

Hierdie gesindheid sluip selfs in die kerk in. Hoe baie keer hoor ons nie dat ‘n suksesvolle kerk is een met 1000de lidmate, ‘n bekende predikant, ‘n indrukwekkende gebou en baie geld, en verskillende programme wat in alle mense se behoeftes vervul. En as daar ‘n indrukwekkende band is en eredienste wat op die TV uitgesaai word – dan is dit ‘n suksesvolle gemeente.    

As Christene word ons geroep om anders te leef, met ander waardes. Daarom is dit goed om so aan die begin van die jaar ‘n slag hieroor na te dink. Wanneer ons almal so beplan en droom oor die jaar. Een van die waardes om oor te dink is die waarde van eenvoud. Waarna verwys dit? Kom ons kyk eers wat dit nie is nie.
‘n Lewe van eenvoud beteken nie ‘n mens moet al jou besittings verkoop nie of dat jy niks moet besit. Dit beteken nie ons moet geld en rykdom afskryf nie. Eenvoud verwys ook nie na ‘n behoefte om arm te wees nie.

“Simplicity does not mean getting rid of all your possessions, but rather integrating them into your life’s purpose” (Mary Gregory).
Eenvoud gaan met ander woorde oor dit wat regtig belangrik is en dit wat jy regtig nodig het. Dis die doelbewuste keuse om nie deur die dinge van hierdie wêreld ingesluk te word nie

Richard Foster beskryf eenvoud as…“an inward reality that results in an outward life-style”. Eenvoud is dus iets wat binne ons begin en dan ‘n effek het op die manier waarop ons lewe.
Dis soos die verskil tussen ‘n termometer en ‘n termostaat.
‘n Termometer meet die temperatuur. Dit het dus nie ‘n invloed op die temperatuur nie – meet dit net. Die temperatuur het ‘n invloed daarop.
‘n Termostaat reguleer die temperatuur. Dit bepaal warm of koud. Dit het ‘n invloed op die temperatuur.
As jy toelaat dat die samelewing jou beinvloed, dan is jy soos ‘n termometer. Jy gaan beinvloed word deur die waardes van die samelewing.  Terwyl die waarde van eenvoud eerder soos ‘n termostaat moet wees – eenvoud wat hier binne jou begin en bepaal hoe jy jou lewe leef.

Dis waarvan ons ook lees in Matteus 6: 25-33

Eenvoud begin hier binne ons – in ons harte en gedagtes. Jesus sê dat ons nie moet worry oor die materiele dinge van die lewe nie – begin eerder deur God se koninkryk te soek. Eenvoud begin wanneer ons die belangrikste dinge eerste stel. En God is die belangrikste. En wanneer ons die belangrikste eerste stel, sal die ander goed ook gebeur, maar dit sal nie die houvas op ons hê wat dit sou gehad het as ons dit eerste gesoek het nie.  God is met ander woorde die termostaat wat binne ons werk en wat bepaal hoe ons ons lewe leef.
Eenvoud gaan nie oor wat ons besit nie, maar deur wie en wat ons besit word. As ons baie besittings nodig het om goed te voel oor onsself en goed te lyk vir ons bure, dan word ons nie deur God bepaal nie, maar deur ons besittings en ons bure. Eenvoud begin wanneer ons die koninkryk van God eerste soek, wanneer ons deur God bepaal word en die res van die goed sal op sy tyd kom. Alles begin by God.

Kom ek verduidelik dit met ‘n beeld: Toe my kinders baie kleiner was was dit altyd ‘n nagmerrie om winkels toe te gaan. Het julle al gesien kinders in ‘n winkel – met hulle een hand hou hulle pa of ma se hand vas, met hulle ander hand gryp hulle goed van die rakke af. Net so werk dit met eenvoud. Terwyl ons elke dag nmet die invloed en die waardes van die samelewing gebombardeer word, moet ons altyd ons ander hand in God se hand hou. En ons moet elke nou en dan opkyk na Hom toe om seker te maak dat ons nog optree volgens Sy wil en waardes vir ons lewe. 

Wat is die effek van eenvoud in ons lewens? As ek dit in een frase moet opsom – dit bring Vryheid.
  • Dit maak dat ek meer op God gefokus is eerder as op dit wat God vir my kan doen.
  • Die maak dat ons optrede en dit wat ons sê meer eerlik is.
  • Die smagting na status en posisie is weg, want jy word nie meer gedefinieer deur jou status en posisie nie.
  • Dit gaan nie meer oor wat jy kan koop, waarmee jy ry, hoe jy lyk en watter selfoon jy het nie – nie omdat jy nie kan bekostig nie, net omdat dit nie meer soveel saak maak nie.
  • Besittings is nie meer iets waaraan jy vasklou nie – dis iets wat jy bereid is om te deel.
  • Die issues van hierdie wêreld soos die ekologie, klimaatsveranderinge en armoede begin ‘n invloed hê op die manier waarop jy jou lewe leef en die keuses wat jy maak.
  • Jy gaan meer vrede, vergenoegheid, tevredenheid en geluk en vryheid beleef.
  • Jy gaan weer leer om die eenvoudige goed van die lewe te geniet, soos tyd met jou gesin en die natuur. 
  • Dit maak dat jy meer tyd het en minder gejaagd en angstig is.

Ook wat die gemeente betref: dit bring meer fokus.
  • Dit gaan nie meer gaan oor die blote najaag van getalle nie, maar oor die invloed en die rol wat ons as gemeente in mense se lewens speel.
  • Dit gaan nie meer oor die bymekaarmaak van geld nie, maar oor wat met die geld gedoen word.
  • Dit gaan nie meer oor ons status in die gemeenskap nie, maar oor diens aan ons gemeenskap.
  • Dit gaan nie meer oor hoe goed die musiek en die prediking is nie en oor hoe fancy die geboue is nie – dit gaan nou meer oor hoe ons vir God en ons gemeenskap met al hierdie goed dien.
  • Dit gaan nie meer oor die hoeveelheid programme ons aanbied nie, maar eerder oor die diepte en die kwaliteit van dit wat ons doen.

Sluit af met ‘n DVD clip wat die beginsel van eenvoud mooi beskryf. Gaan kyk dit gerus by http://www.youtube.com/watch?v=JT49cveoEm4

Sunday, January 15, 2012

Preek 15 Jan 2012

Matteus 14: 22-33

Ons het die vakansie by Porterville gaan kamp. Die kampterrein se naam is Waterval omdat daar ‘n kloof met 22 watervalle op die plaas is. Eintlik 14 watervalle en ‘n paar stroomversnellings. Dis baie mooi daar in die kloof met die watervalle en daar is ‘n staproete wat verby al die watervalle gaan. So het ek en my 2 seuns die een dag die roete gaan stap.  Dis ‘n heel gemaklike stap en die paadjie word duidelik aangedui met geel verfstrepe en pyle. Op ‘n stadium kom ons by ‘n rots waarop 2 geel pyle geteken is – in verskillende rigtings. Die een pyl wys boontoe vir mense wat op stap en die ander wys ondertoe vir mense wat terugkom op die paadjie. Die 2 pyle was nogal vir ons amusant en ons het gewonder of hulle ons wil deurmekaar maak – moet ons op, moet ons af, moet ons op, moet ons af. 
Christiaan sê toe dit laat hom dink aan die blonde grappie – hoe hou jy ‘n blonde vir ‘n paar uur besig? Jy gee vir haar ‘n vel papier waarop jy op albei kante “draai om” geskryf het.

Hierdie hele ervaring het my laat dink – is dit nie hoe ons ook voel so aan die begin van ‘n jaar nie. Aan die een kant is daar mos ‘n klomp goed wat verby is, wat afgehandel is, goed wat ons agter ons moet sit en moet los. Aan die ander is daar ‘n nuwe jaar met nuwe vooruitsigte, en planne en geleenthede wat vir ons wag. Die goed wat ek moet los en die nuwe goed wat voorlê.En dikwels is ons vasgevang tussen die goed – ek huiwer tussen die goed wat ek moet los en my vrese vir die nuwe die goed wat voorlê – en op die ou end kom ek nêrens nie.

Dit het my aan ‘n bekende teksgedeelte laat dink. Matteus 14:22-32
Jesus sê vir sy dissipels hulle moet solank ‘n boot kry en oor die see van Gallilea vaar terwyl hy berg toe gaan om te bid. Terwyl hulle daar op die bootjie is beland hulle in ‘n storm, maar die volgende dag, uit die bloute uit, sien hulle vir Jesus wat na hulle toe aangeloop kom. In vers 26 lees ons dan:
Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis 'n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu. Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”     

Nadat hulle van die skok herstel het en weer tot hulle sinne gekom het, doen Petrus nogal ‘n waagmoedige ding. Vers 28:
“Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”

Jesus antwoord hom en sê hy moet kom. Vol bravade klim Petrus uit die skuit uit en en begin op die water na Jesus toe loop. Maar op ‘n stadium begin sy moed hom begewe. Hy raak bewus van die sterk wind en die golwe en dit maak hom bang en daar begin hy sink en hy roep uit dat Jesus hom moet red.

Jesus steek toe sy hand uit en gryp vir Petrus en sê vir hom: “kleingelowige, hoekom het jy begin twyfel?
In ander woorde: Hoekom is jou vrese sterker as jou geloof?

Petrus was soos ek en die seuns daar op die berg met die 2 pyle – moet ek vorentoe gaan of moet ek teruggaan, vorentoe of terug, vorentoe of terug – boot of Jesus, boot of Jesus. En toe sink hy.

Wat ons hier sien, is die verskil tussen vrees en geloof. Vrees hou jou terug, vrees maak dat jy nie kan groei nie, vrees maak dat jy stagneer, vrees maak dat jy sink.
Geloof laat jou vorentoe kyk. Geloof maak dat jy geleenthede gebruik. Geloof maak dat jy leer en groei. Geloof maak dat jy vorentoe gaan selfs al lyk dinge onseker en soms moeilik.
Kom ek verduidelik dit met ‘n beeld – balanseer besemstok op my hand. Om die besemstok te balanseer moet ek boontoe kyk, sodat ek kan sien wanneer dit val en daarvoor kan kompenseer. As ek op my hand kyk, gaan die besem val, want ek gaan nie kan sien wanneer dit val nie.
Vrees is om na jou hand te kyk, vrees is om na jouself te kyk, om vasgevang te wees in die dinge wat was en die dinge wat moontlik kan gebeur. Vrees is om die bobbejaan agter die bult te gaan haal.
Geloof is om weg te kyk van jouself af. Geloof is om na Jesus toe op te kyk. Geloof is om Hom te vertrou en spreekwoordelik op die water te loop.

So, hier aan die begin van die jaar wil ek jou uitnooi om oor ‘n paar goed te dink en te bid. Vra die Here om jou met die volgende te help:
  • Sit die goed van die afgelope jaar agter jou. Los dit waar dit hoort – in die verlede.
  • En in 2012 – los nou al jou vrese. Moenie bang wees vir die lewe nie. Moenie bang wees vir trauma nie; krisisse by die werk; konflik; finansiële onsekerheid; mislukking; moenie bang wees vir foute maak nie; moet vir niks bang wees nie.
  • Bevestig jou geloof en vertroue in Jesus. Stel jou lewe in sy hande.

Ek wil afsluit met ‘n laaste stukkie goeie nuus. As jy hierdie jaar met geloof instap en langs die pad raak dit dalk moeilik. Of jy voel onseker. Of slegte dinge gebeur. Of jy begin twyfel. Jy voel of jy begin sink. Dan is die goeie nuus dat jy soos Petrus kan uitroep: “Here, red my!” En dan sal Jesus sy hand uitsteek en jou weer oplig. Soos Hy vir die dissipels gesê het – “wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”