Sunday, April 29, 2012

Preek 29 April 2012


Die liefde hou van die waarheid!
Soos almal hopelik al weet is ons tans besig met ‘n 40 dae van liefde reeks in die gemeente.  Die afgelope twee Sondae het ons gepraat oor 1) Die liefde maak die meeste saak en 2) Die liefde is vriendelik en geduldig.  Ek is seker daarvan dat elkeen baie uitgedaag is en weer ‘n slag of wat moes gaan introspeksie doen het, want as ons eerlik met onsself is, dan besef ons dat ons maar sukkel om met liefde op te tree, liefde wat geduldig en vriendelik is, agape liefde, liefde wat onvoorwaardelik liefhet.

Vanoggend gaan ons verder in hierdie reeks:  Liefde hou nie van die onreg nie, want liefde hou van én bly by die waarheid.  Ja, ons gaan weer uitgedaag word, ons gaan weer bietjie introspeksie moet doen vanoggend.

Kom ons lees saam uit so paar verskillende vertaling van 1 Kor 13: 6
NLV:  Liefde treur oor die onreg wat plaasvind en juig as die waarheid seëvier
The word on the Street:  Love doesn’t smile when dark stuff goes on, but throws a party when the truth gets out.
Die Lewende Bybel:  Oor verkeerde dinge kan hy nooit gelukkig wees nie. Dit is net die waarheid wat hom gelukkig maak.
The message:  Doesn’t revel when others grovel, takes pleasure in the flowering of truth.
Bybel vir almal:  Hy is nie bly wanneer mense verkeerde dinge doen aan ander mense nie, hy is bly wanneer mense die waarheid praat.
NAV:  Liefde hou nie van die onreg nie, want liefde hou van én bly by die waarheid

Kindertyd
Ek wil he so veel as moontlik kinders moet hier voor by my kom sit.  Ek wil sommer dadelik met ‘n baie moeilike vragie begin – praat julle altyd die waarheid? 
Hierdie volgende eksperiment leer ons iets oor die waarheid en oor hoekom ons maar eerder altyd eerste die waarheid moet praat.

Kry iemand om bal onder die water te hou - Bal skiet op
Vra om bal dieper in te druk - Bal skiet op
Vra om bal langer onder die water te hou – Bal skiet op
Waarheid werk ook so.  Baie mense dink as jy net die waarheid sal wegsteek, sal niemand weet nie.  Soos die bal kom dit op.
Ander dink weer die probleem is dat die waarheid nie diep genoeg weggesteek word nie. Ook dit sal nie die waarheid nie laat uitkom nie.
Ander dink die oplossing is om net baie lank die waarheid te onderdruk, weg te steek.  Ook dit werk nie! Uiteindelik sal alles aan die lig kom as ons voor God se troon verskyn.
Wat leer ons vandag oor mense wat met liefde leef?
DIE LIEFDE HOU VAN DIE WAARHEID

 

Luister dieper na die Woord

Ek wil begin deur vanoggend se teksvers in twee op te deel. Aan die eenkant hoor ons iets oor onreg en aan die ander kant hoor ons iets oor die waarheid. Die vers handel dus oor ‘n teenstellings. En om te weet wat die een is, moet ons weet wat die ander is. 

1.  So die eerste gedeelte kom herinner ons dat die Liefde nie van onreg hou nie, want volgens Paulus (die skrywer) is dit die teenoorgestelde van die waarheid.  As Paulus hier van die liefde praat, dan laat fokus hy ons van die begin af op interpersoonlike verhoudings.  Dit is maar net ‘n baie groot woord wat verwys na die verhoudings wat ons met mekaar het.  Die verhouding met jou ouers, die verhouding met jou kinders, die verhouding met vriende, geliefdes en selfs die wat jy nie van hou nie. En Paulus wil weet: hoe tree ons binne hierdie verhoudings op en wat is ons motief of rede hoekom ons so optree?

Dit gaan nie vir Paulus so seer nét oor die kwaad of onreg wat ons sélf aan ander mense doen nie, maar ook oor daardie lekkerkry of plesier wat ons ervaar as ons iets sleg/ negatief/ afbrekend van iemand anders hoor.  Hy kom spreek ons dus nie net aan oor ons dade nie, maar ook aan oor die emosie wat ons oor ander ervaar - al voel ons soms asof ons geen beheer daaroor het nie.  So Paulus kom sê dat die liefde nie daarvan hou as ons dit geniet om slegte dinge van ander hoor nie.  Ongelukkig is dit een van daardie vreemde dinge van die mens – dat ons dikwels verkies om eerder te hoor van die slegte dinge van mense eerder as die goeie.

As Paulus dan skryf en sê dat die liefde nie van onreg hou nie, dat dit nie van die verkeerde dinge hou nie, dan praat hy van hierdie tipe gedrag.  Hy praat van daardie kere wat ons lekkerkry as ons iets slegs van iemand anders hoor.  Die volgende storie help ons om dit beter te verstaan.

Een dag, lank terug, as deel van Ronald Patterson se opleiding as predikant, het hy as ʼn hospitaalkapelaan in die Boston City Hospitaal gewerk. Hy is gevra om in die saal van die gevangenes te werk – waar een van die gevangenes ’n berugte dwelmhandelaar was.  Dit was Ronald se plig om hom te besoek, maar hy het die taak maar halfhartig gedoen.
Hy het dit later bely teenoor ʼn Rooms Katolieke non, wat ook sy supervisor was:  “Hoe kan ek bid vir iemand wat die stad verwoes.  Hy verdien sy siekte en sommer ʼn klomp ander goed ook.” 
Weet jy wat die non hom geantwoord het?
“Patterson, wie het gesterf en jou tot God verkies?  Iewers diep binnekant daardie man, bedek deur lae van pyn en ontkenning en elke slegte dinge wat hy al ooit gedoen het, is daar 'n saadjie van die  beeld van God.  Jou enigste taak is om daardie vonk te sien en die enigste manier wat jy dit ooit sal sien, is om alles te vergeet wat iemand anders vir jou ooit vertel het van reg en verkeerd en met jou hele hart te glo dat die vonk daar is. Hy, nes enigiemand anders wat jy ooit sal ontmoet, is 'n kind van God se liefde.”

Ongelukkig leef ek en jy in ‘n samelewing wat daarvan hou om die slegte te hoor en om dit te glo.  Dink maar aan die koerante – dis die koerante met die skindernuus of slegte nuus op die voorblad wat verkoop.  Dink aan die nuus – wanneer daar goeie nuus is gaan dit maar net by ons verby, maar oor die slegte nuus praat ons ure en ure.  Wanneer ons slegte of skindernuus hoor word daar ook stertjies bygelas en kort voor lank weet niemand meer wat die waarheid is nie.

Die verhaal van Ronald Patterson leer vir ons dat ons verby al die slegte dinge wat ons al van ‘n persoon gehoor het moet kyk en moet soek vir daardie stukkie van God wat in iemand is. Dit beteken dat, as ons terug verwys na 1 Korintiërs toe, dat die waarheid altyd iets goed ook bevat – dat enige storie met net sleg, nie die volle waarheid is nie. Een van die kommentare som dit goed op as die skrywer se: Love takes no joy in evil of any kind.

Hierdie Christelike liefde waarvan Paulus ons kom leer, is dus nie ‘n liefde wat plesier kry uit kwaadwillige berigte nie, maar altyd iets goed, iets waar’s ook soek.  Die gedeelte roep ons basies tot die volgende reëls:

a)    As jy net sleg oor iets of iemand kan sê  – moenie!
b)    As jy niks goeds oor iemand te sê het nie, bly stil!
c)    As jy iets negatief oor iemand hoor, bedink dit en sink dit!

2.  Die 2de gedeelte van vers 6 kom verduidelik dan wat dit is wat ons wel moet doen. As ons dan nie bly moet wees oor onreg nie, waaroor moet ons dan bly wees? Paulus sê vir ons dat die ‘liefde hom verheug oor die waarheid’.  / “liefde hou van én bly by die waarheid”. Die eerste vraag is natuurlik waarom Paulus kies om die  woord ‘waarheid’ hier te gebruik, want die logiese woord sou eerder die teenoorgestelde van ‘onreg’ gewees het, soos bv. goedheid.  Maar hy kies waarheid. 

Wat interessant is, is dat die direkte vertaling uit die Grieks eintlik sê: ‘die liefde verheug hom met die waarheid’ en nie oor die waarheid nie.  As liefde uitgenooi sou word na ‘n heerlike ete of dans toe, sou sy/hy saam met waarheid gegaan het.  Liefde is op sy/haar beste met waarheid aan die sy. 

Wanneer waarheid by liefde is, dan is liefde eerlik en realisties.  Dit beteken dat liefde nie blind is en dat ons mense lief het omdat ons glo hulle is perfek nie, maar waarheid laat ons juis hulle foute sien en ware liefde maak dat ons dan t.s.v. hierdie foute vir hulle lief is.  En daarom moet die twee saam gaan.  Daarom hoort die twee saam. Daarom word waarheid ook teenoor onreg geplaas: want as liefde en onreg die grootste mismatch is, dan is liefde en waarheid die beste couple.

Liefde hou waarheid eerlik, want sonder liefde trek waarheid se beheptheid met feite die feite skeef of nog erger, dit word gevoelloos.  Maar as liefde saam met waarheid is, dan verbreed dit die omvang van waarheid se lens om die hele persoon in te sluit sodat waarheid herinner word daaraan dat iemand wat droogmaak, steeds die beeld van God is!

Ons kan die volgende dinge sê wat die Bybel bedoel met waarheid:
·         Waarheid is groter en breër as akkurate stellings, korrekte syfers/statistieke en konsekwente  beredenering.
·         Waarheid is 'n Persoon, 'n Persoon wie se dade en woorde saamvloei (“blend”) om 'n profiel van die menslike lewe te skilder soos God bedoel het om geleef te word.  Waarheid is Jesus.  Jesus se self in Joh 14: 6 ‘ek is die weg,die waarheid en die lewe”.  As ons dan enigsins iets oor waarheid wil leer of wil weet, moet ons daarvoor gaan soek by die bron van waarheid.

Die tweede gedeelte van vers 6 het dan die volgende praktiese implikasies vir ons lewens:
a)    Praat die waarheid altyd in liefde. Veral in moeilike omstandighede moet die waarheid altyd in die sagtheid van liefde toegevou word. Daar is ’n ou Arabiese spreekwoord wat sê:  Wanneer jy ’n pyl skiet, doop dit eers in heuning. Die waarheid is net effektief as dit hand aand hand met liefde stap, want dit is hoe God dit wil he.  As jy reguit moet praat, laat jou woorde soos sonlig in die ander persoon se hart skyn.  Sagte oë praat altyd die waarheid met sagte woorde.

So wanneer praat ’n mens die waarheid in liefde? Hier is die toets: Wie gaan by jou woorde baat? As jy self goed gaan voel omdat jy ‘n baie goeie toespraak gelewer het terwyl jy iemand sleg gesê het, het jy waarskynlik nie die toets geslaag nie. Maar as jou woorde die ander persoon sal help om in sy of haar menswees te groei, sê dit dan met liefde – en slaag daarmee saam die toets.

b)    Praat die waarheid altyd met takt. Spreuke 16:23-24 gee wyse raad: ’n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde so dat hy ander kan leer. Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens.
Dink voor jy praat.  Moenie oor ’n moeilike saak praat voor jy daaroor nagedink het nie. Takt is baie nodig as dit by die waarheid kom.


Dit laat dink 'n mens aan die die storie oor die twee broers:
Die een broer was weg met vakansie en hy het die ander broer gevra om sy geliefde kat op te pas! Toe hy by die lughawe instap, bel hy dadelik sy broer om uit te vind na die welstand van sy kat. “Jou kat is dood!” was sy broer se antwoord en hy het die telefoon neergesit.  Die man was verpletter deur die nuus, maar veral deur sy broer se onsensitiwiteit!
Hy bel weer sy broer terug: “Jy moes nie so direk en sonder hart die nuus oorgedra het nie”. “Hoe moes ek dit dan gedoen het?” kap die broer terug.
“Wel, jy kon die nuus geleidelik aan my gebreek het!” het hy verduidelik. “Jy kon gesê het die kat het op die dak gespeel. Dan kon jy later gesê het dat die kat van die dak afgeval het en sy been gebreek het. As ek later die kat kom haal het, kon jy vir my gesê het dat die kat dit nie gemaak het nie... Terloops hoe gaan dit met Ma?” Na 'n lang stilte antwoord sy broer hom: “Man, Ma speel op die dak.”

Leer om die waarheid altyd met taktvolheid, met sagtheid te sê soos hierdie gediggie van WB Yeates dit uitstekend illustreer:

A truth that’s told with bad intent,
beats all the lies you can invent.

Met waarheid as liefde se metgesel, kom liefde goed reg in 'n wêreld soos ons s’n, maar liefde keur nooit goed of verheug in die onreg/kwade/boosheid wat hierdie goeie wêreld die deurmekaar werklikheid maak wat dit is nie.

Kinders
EK weet julle het my al lankal verloor:  so ek wil net vandag se preek vinnig vir julle in kort opsom.  1 Kor 13:6 kom se vir ons dat Liefde nie van verkeerde dinge hou nie – dit hou nie daarvan dat ons lekker kry as ons slegte dinge van ander mense hoor nie.  Dit hou ook nie daarvan as ons slegte dinge oor ander mense vertel nie.  En tweedens – liefde hou van die waarheid.  Liefde hou van eerlikheid.  En al hoor ons die stories oor ander mense wat sleg is, wat dalk selfs waar is, moet ons verby al die lelike dinge van ‘n persoon kan kyk en steeds daardie persoon liefhe!

Sunday, April 22, 2012

Preek 22 April 2012


2. Die liefde is geduldig en vriendelik

Alle mense het ‘n behoefte aan liefde. Ons is gemaak daarvoor. Iemand het gesê:
“Die liefde is God se eerste woord, die eerste gedagte wat by Hom opgekom het.  Toe hy gesê het: “Laat daar lig wees,” het die liefde ontstaan. En alles wat hy geskep het, was baie goed en Hy wou niks daarvan weer ongedaan hê nie.” 
God het ons geskep vanuit liefde en vir liefde.

Verlede week het Jalize verduidelik: Liefde kom van God af. Dit kom uit sy hart uit. God is liefde. As volgelinge van Jesus word die agape-liefde waarvan Jalize verlede week gepraat het, deur die Gees in ons harte gevestig. Agape-liefde is liefde wat bereid is om op te offer. Dis liefde wat jy gee ten spyte van hoe jy voel.

Ons word gemeet aan hoe ons hierdie liefde uitleef. Dis deel van ons getuienis.
Johannes 13:34 sê: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos ek Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.”
Dis ‘n opdrag, ons het nie ‘n keuse daaroor nie.
Johannes 13:35 sê: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
Die manier hoe ons liefde uitleef, wys vir mense dat ons volgelinge van Jesus is. Dit wys wie Jesus is.

Dit is daarom belangrik dat ons sal weet hoe hierdie Agape-liefde lyk en hoe ons dit moet uitleef. Paulus noem ‘n klomp karaktertrekke in 1 Korintiers 13. Ons gaan vandag na 2 kyk.
Lees 1 Korintiers 13: 4 “die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik…”

Die liefde is geduldig
Ander vertalings vertaal dit as volg:
“liefde is lankmoedig” (1933) “love suffers long” (KJV)   of “Love never gives up” (The Message) of “Love gives people space and time” (Word on the Street) of “Om ander lief te hê beteken om nooit iemand sleg te behandel wat jou irriteer nie” (die Boodskap)  
Die Griekse woord beteken letterlik: “stadige woede” of “iemand wat lank vat om woedend te word”.

Dis hoe God is - Eksodus 34:6: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.” 
Robert Ingersoll is ‘n bekende Ateis wat gereeld lesings aangebied het teen die bestaan van God. Hy het die gebruik gehad om aan die einde van sy lesings uit te roep: “Ek gee vir God 5 minute om my dood te maak vir die goed wat ek gesê het”. En dan na 5 minute het hy gesê die feit dat hy nog lewe is ‘n bewys dat God nie bestaan nie. Totdat Theodore Parker eendag gesê het: “Jy kan nie God se liefde en geduld in 5 minute uitput nie”. 
Ons moet na God kyk as ons iets wil verstaan van geduld. Selfs vir mense wat dit nie verdien nie.

Geduld van Agape liefde maak dat mens jou naaste kan liefhê sonder om enigiets terug te verwag. Dis om vir mense nog kanse te gee soos wat God elke dag vir elkeen van ons nog kanse gee. Geduld is om aan te hou soek vir die goeie in ander mense, selfs al stem ek nie met hulle saam nie. Selfs al hou ek nie van hulle nie. Die geduld van Agape-liefde maak dat ons nie die luukse het om op te gee op mense nie.

Die skrywer Ralph Waldo Emerson het gesê: “Die sleutel tot omtrent enigiets van waarde is geduld. ‘n Mens kry nie ‘n hoender deur die eier stukkend te breek nie, maar deur dit te laat uitbroei. Leer by die natuur. Sy geheim is geduld.”

Liefde is vriendelik
Die ou kerkvader Origenes het gesê: “liefde is gaaf teenoor almal”. 
Of soos iemand gesê het: “Some people say that love is blind. It isn’t blind, but it is kind.”

Ongelukkig sien mens nie dit altyd by Christene nie. Jy kry goeie Christene, kerkmense wat dikwels onvriendelik is.
Philip die tweede van Spanje, was ‘n baie godsdienstige, gelowige mens, maar hy was ook die koning wat die Spaanse kruistogte begin het. Hy het gedink hy dien God deur mense wat anders gedink en geglo het, te vermoor.
Vandag kry ons nog steeds kerkmense wat ander mense emosioneel doodmaak met hulle kritiese en onvriendelike ingesteldheid. Mense wat baie soos die Skrifgeleerdes en Fariseers in Jesus se tyd optree.

Ek wil gou vir julle ‘n voorbeeld noem wat onlangs in die media, veral die sosiale media aandag geniet het. Ons kerk se moderator, prof. Nelis Niemand is skerp aangeval en uitgedaag op Facebook en in ander media deur ‘n klein groepie beswaarde lidmate. Hulle het sy geloof en integriteit aangeval omdat hulloe nie hou van die goed wat hy al gesê en geskryf het nie. Hy het toe daarop gereageer en dit sê vir ons iets van sy belewenis daarvan. Ek wil gou vir julle enkele sinne daaruit lees.
“Dit is duidelik dat hy en andere nie in ware gesprek belangstel en van my goeie trou oortuig wil word nie. Hulle stel self die reëls vir die gesprek op en bepaal die agenda, en is nie huiwerig om aan te dui dat hulle net belangstel in hulle eie gesprek nie.
Die vraelys wek die indruk van ‘n moderne inkwisissie – en hulle soek na geleentheid om my "uit te vang" en dan uit te lewer.
Ek is nie geneë om hulle liefdelose houding teenoor my en ander wat van hulle verskil, te versterk deur aan ‘n gesprek op hulle trant deel te neem nie.
My indruk is dat hulle gesprekke en eise ontbloot word. Daar word vals getuienis oor mense afgelê. Dit is duidelik ‘n kwaadstekery. Mense word onverhoord veroordeel. Woorde word verdraai. My en ander se goeie naam en eer word aangetas. Die kerk word verdeel. Gelowiges word tot ewige verdoemenis veroordeel.”

Van die wreedste en ongenadigste mense is ongelukkig ook dikwels kerkmense. Mense wat vergeet het dat liefde vriendelik is. Vriendelikheid maak dat ons kan verskil van mense sonder om lelik en persoonlik te raak of mekaar se bona fides of geloof in twyfel te trek.    

Die vriendelikheid van Agape-liefde beteken verder dat ons ander mense moet seën met goedheid.
J.B. Philipps vertaal dit so “Love looks for a way of being constructive.”
Die vriendelikheid van liefde gee aan mense wat op die rand van die lewe is en mense wat verstoot word weer hulle menswaardigheid terug. Dit help hulle om die beeld van God weer in hulleself te ontdek en help hulle om te sien hoe mooi en goed God is!

Dink byvoorbeeld aan iemand soos Moeder Theresa. Sy en haar helpers het in haar leeftyd ongeveer 54 000 straatmense van Kulkutta versorg. Hulle het dit met liefde, deernis en vriendelikheid gedoen en so vir hulle hulle menswaardigheid teruggegee. Sy het die volgende gesê:
“Ek dink nie mense besef hoeveel ‘n vriendelike glimlag aan ander doen nie. Ons Christene vertel gedurig vir mense dat ons ‘n vriendelike, genadige, liefdevolle God aanbid. Maar aangesien hulle Hóm nie sien nie, moet hulle iets van dié eienskappe in óns gewaar. Maar sien mense regtig soveel vriendelikheid, soveel genade, soveel liefde in ons optrede? Moet nooit toelaat dat iemand wat in jou geselskap was, van jou af weggaan sonder dat hy of sy gelukkiger of getroos voel nie. Wees ‘n lewende vergestalting van God se liefde – met deernis in jou glimlag, in jou oë, in jou woorde, in die aanraking van jou hande. Hier in die krotbuurtes van Kulkatta probeer ons om nie net ons hulp te gee nie, maar ook ons hart.”  

Die liefde is geduldig en die liefde is vriendelik…dit is goed vir mense in die algemeen, dis goed vir die getuienis van die kerk, dis goed vir ons gemeente, dis goed elke huis, dis goed vir elke werksplek en speelplek en sportplek. Dis goed vir die wêreld waarin ons leef.

Sunday, April 15, 2012

Preek 15 Apr 2012

Die liefde maak die meeste saak!
1 Kor 14:1 en 1 Kor 13:1-3

Hang interessante, aanloklike, toegedraaide geskenk van die gallery af.  Die kinders moet dit nie in die hande kan kry as hulle strek of spring nie.  Hulle moet dit egter kan kry as hulle op mekaar se skouers sit.
OPDRAG: beraam ‘n plan en gebruik inisiatief om die geskenk in die hande te kry...
Geskenk moet liefde simboliseer: rooi hartjies, ’n PS sjokolade of iets

Dít wat julle nou gedoen het, is wat die woord ‘nastreef’ beteken!
1 Kor 14:1 - Julle moet die liefde nastreef...
‘Nastreef’ – diókó - om moeite te doen om iets in die hande te kry; om allerhande plannetjies te beraam om te kyk of jy dit kan regkry; amper aggressiewe najaag, soos ‘n jagter sy prooi. 
Ons moet die liefde NASTREEF / NAJAAG.  Soms is dit moeilik – jy is besonder kwaad / te na gekom; iemand is besonder hardkoppig en wil nie jou liefde aanvaar nie. Maar, sê Paulus, jy moet vasbyt; ekstra moeite doen; jy jou moet uitrek om dit te probeer bereik.

Daar is 3 Griekse woorde wat ons met ‘liefde’ vertaal:
1.    Eros = passie; die woord ‘erotic’ word daarvan afgelei
2.    Phileo = affectionate friendship; heartfelt kinship
3.    Agapé = prefering to love; choosing to love; ten spyte van; sonder voorwaarde; sonder om so te voel

1 Korintiërs 13: 1 – 3
  • Hierin gaan dit oor Agape liefde.

Wat is liefde?
Die filosoof Tagore het gesê: Love is an endless mystery... for it has nothing to explain it.

NP Van Wyk Louw het gesê: Ons weet nie hoe ver die liefde lê nie.
Die wat sê, dié weet nie en dié wat weet; die sê nie...

1 Joh 4: 7; 16b - Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God... God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.

Agapa kom van God; agape IS God...
Ons kan net ‘agape’ as ons dit by God kry
Agape proceeds rather from the nature of the lover, than from any merit in the beloved. Christians who have experienced God’s love for them while they were sinners, are transformed by the experience. They then begin to see people as God sees them; as objects of God’s love... They are then able to practise agape - the love which seeks nothing for itself, but only the good of the loved one.

Ek het die hierdie op ‘n T-hemp gesien. Dis ’n goeie illustrasie van bogenoemde aanhaling:
Love thy neighbor. Thy Homeless neighbor. Thy Muslim neighbor. Thy Black neighbor. Thy Gay neighbor. Thy White neighbor. Thy Jewish neighbor. Thy Christian neighbor. Thy Athiest neighbor. Thy racist neighbor. Thy Addicted neighbor.

Paulus sê: agape-liefde is eintlik al wat saakmaak.
Enige iets wat vanuit agape gedoen word, het groot waarde…
Enige iets wat daarsonder gedoen word, het geen waarde nie…

Die voorbeelde wat hy gebruik was dinge wat mense van sy tyd beïndruk het (en wat mense vandag nog beïndruk):
Om in tale te kan bid en praat
Prediking wat massas mense lok
Wonderwerke wat in geloof gedoen word, soos genesings
Groot vrygewigheid; baie geld wat vir goeie sake gegee word
Martelaarskap; om fisies te ly of te sterf vir jou geloof
Dit mag indrukwekkend wees, sê Paulus, maar sonder liefde beteken dit NIKS vir jou siel/heil nie en dit het GEEN waarde vanuit God se perspektief nie. Daardie woord ‘niks’ beteken letterlik ‘sonder enige uitsonderings’. Dit is die sterkste moontlike woord wat ‘niks’ beteken. Dit het hoegenaamd geen, absoluut niks waarde van enige aard nie… NUTTELOOS!
Niemand het dit beter illustreer as Wilfred nie…
Motor neuron sindroom het hom gestroop van alles waarmee hy mense kon beïndruk; alles wat vir hom aansien kon gee…
Hy kon nie sport beoefen nie, vergeet maar van presteer…
Hy kon nie meer werk nie…
Hy kon later nie meer loop nie…
Nie meer praat nie…
Uiteindelik nie meer asemhaal nie…

AL wat oorgebly het…was die LIEFDE! By sy afskeidsdiens Dinsdag was AL wat sigbaar was…die liefde! Die liefde maak die heel meeste saak! Dit is die heel belangrikste!
Heel eerste God se liefde vir hom, wat hom deur die donker dae gedra het, wat hom vrede gegee het, wat hom in staat gestel het om homself los van sy siekte te sien…
En vanuit God se liefde: sy liefde vir Wilana en klein Wilfie wat só sigbaar voortleef – al is hy nie meer fisies by hulle nie… Die liefde van familie en vriende…
Liefde wat mense nader aan mekaar bring en nader aan God, die bron van daardie liefde…!

New Day(Joe Niemand): ek wil vir julle die lied sing wat Wilfred gekies het om ons te laat dink oor ons lewe. ‘n Lied wat ons terugroep na God toe – terug na wat saakmaak; terug na ware agape liefde toe…

Eli Wiesel is ‘n bekende Joodse teoloog en skrywer. In sy boek “All rivers run to the sea” vertel hy van tyd toe sy familie in Hongarye gewoon het, tydens die WWII. Hulle het elke dag verwag dat die Nazis by hulle deur sou opdaag en hulle konsentrasiekamp toe neem…
Maria, ‘n Christen werkersklas vrou wat amper soos een van die familie geword het, het nie opgehou om vir hulle te kom kuier nie – selfs toe dit gevaarlik geword het. Later, toe die Jode na ghettos verban is, het sy steeds maniere gevind om by hulle uit te kom. Sy het iewers deur die doringdraad geklim om vir hulle vrugte, groente en kaas te bring.
Een dag het sy weer aan die deur geklop. “Ek besit ‘n houthuisie in die heuwels; ek wil die kinders daarheen neem voor die SS kom…”, het sy gesê. Na baie debat het die familie egter besluit om bymekaar te bly, maar hulle was diep geraak deur Maria se aanbod…

Eli skryf oor haar:
Dear Maria! If other Christians had acted like her, the trains rolling toward the unknown would have been less crowded. If priests and pastors had raised their voices, if the Vatican had broken its silence, the enemy's hand would not have been so free. But most thought only of themselves. A Jewish home was barely emptied of its inhabitants before they descended like vultures.

I think of Maria often, with affection and gratitude, and with wonder as well. This simple, uneducated woman stood taller than the city's intellectuals, dignitaries and clergy. My father had many acquaintances and even friends in the Christian community; not one of them showed the strength of character of this peasant woman. Of what value was their faith, their education, their social position, if it did not arouse their love? A simple and devout Christian woman showed us the meaning of love.