Sunday, May 27, 2012

Preek 27 May 2012


 Dien soos Jesus

Hierdie kwartaal het ons gefokus op die waarde van Betekenisvolle verhoudings. Ons het dit gedoen met die reeks oor doelgerigte liefde aan die hand van 1 Korintiers 13 en met die pinksterreeks wat gegaan het oor Geesvervulde verhoudings waar ons by Jesus geleer het oor verskillende aspekte van verhoudings. Vanoggend op hierdie pinksterfees sluit die pinksterreeks af deur te kyk hoe ons in Geesvervulde verhoudings mekaar moet dien soos Jesus.

Ek wil begin met ‘n storie wat ‘n mooi voorbeeld is van diens. Dit het onlangs as ‘n artikel in Die Beeld verskyn. Dis die oor die NG Gemeente Boksburg-Suid. Die omgewing waarin die gemeente geleë is het verander en baie van die gemeentelede het na ander voorstede toe getrek. Dit het gemaak dat die gemeente op die randjie was om hulle deure te sluit. Daar was net 5 kerkraadslede, 5 kinders in die Sondagskool en op ‘n Sondag was daar net so 20 mense in die erediens. Die Ring het toe aanbeveel dat die gemeente moet gesluit word.
Maar ‘n paar lidmate onder leiding van Choert Maartens het geweier, want hy het gevoel hulle was daar met ‘n roeping. Hulle het toe ‘n kerklike kultuurverandering ondergaan. Waar die gemeente vroeër net ingestel was op instandhouding en oorlewing was hulle fokus nou op dienslewering.
Dit het klein begin, met kos aan ‘n paar lidmate wat dit nodig gehad het. Vandag koop hulle maandeliks kruideniersware vir ‘n hele paar gesinne. Hulle betaal die skoolgeld van ‘n klompie kinders. Hulle het ‘n groot klerebank. Hulle gee vir straatmense kos. Hulle help mense wat vasbrand koshuisgeld vir kinders, huurgeld en munisipale rekeninge.
En die pastorie is omskep in ‘n huis waar 16 mense woon wie nie ‘n ander heenkome het nie. Die vrou wat die huis bestuur het ookal ‘n klompie mense wat in die huis woon gehelp om werk te kry.
Vandag is daar weer 130 mense wat die eredienste bywoon. En hulle weet nie waar al die geld vandaan kom vir al hierdie projekte nie, maar hulle boeke klop en daar is nog geld oor om te spaar ook.   
Toe hulle begin fokus op dienslewering en die aanspreek van nood in hulle omgewing het die gemeente weer begin groei.
Dit het my laat dink aan die eerste gemeente in Handelinge. Hulle het nie gegroei oor die uitstorting van Heilige Gees en al die wonderwerke nie. Hulle het gegroei omdat hulle vir mekaar gesorg het en omdat hulle diens gelewer het in hulle gemeenskap. Die uitstorting van die Heilige Gees het hulle gedagtes verander en hulle bemagtig tot dienslewering.

Kom ons gaan kyk wat leer ons by Jesus oor dienslewering. Ek gaan 2 teksgedeeltes gebruik hiervoor.

Johannes 13: 2-5; 12-17
Toe Jesus vir sy dissipels wou leer wat dienslewering is. Toe was hy hulle voete. Omdat die mense oral gestap het, het hulle voete baie vuil geword en die gebruik was dat die laagste slaaf in ‘n huishouding mense se voete was voordat hulle by die huis ingaan.
Dis die eerste belangrike ding – Jesus, die rabbi, die leermeester doen die werk van ‘n slaaf. Niks is benede hom nie. Diens begin by nederigheid.
Verder was hy ook Petrus en Judas se voete. Hy weet hulle gaan hom verraai en verloën, maar Hy was nog steeds hulle voete. Jesus se liefde en diens bedek hulle foute en sondes. Niemand word dus uitgesluit as dit by diens kom. Ons het nie die luukse om te besluit wie gedien moet word en wie nie. Ons word net geroep om te dien waar dit nodig is.

Wat leer ons nog by Jesus oor diens?

Matteus 5: 41-42.
Om hierdie woorde te verstaan moet ons iets van die gebruike van hulle samelewing verstaan.
Destyds het die Romeinse soldate dikwels dwaar begasie – hulle kit – oor groot afstande gedra. Veral wanneer hulle deur dorpsgebiede gestap, was die gebruik dat iemand hulle swaar vrag dan vir hulle gedra het. Daar was selfs ‘n wet wat jong seuns verplig het om die soldaat se swaar sak vir ten minste ‘n kliometer ver te dra.
Alhoewel dit ‘n alledaagse gebruik was, het niemand daarvan gehou nie. 
Omdat die gebruik so wyd verspreid was in Jesus se tyd, het Jesus iets voorgestel wat total onverwags was en dinge op sy kop gekeer het. Niemand het daarvan gehou om die Romeinse soldate te help nie  - nou kom Jesus en Hy sê moenie die sak net een kilometer dra nie, dra dit nog ‘n kilometer verder. 
So die beginsel wat ons hier by Jesus leer: doen altyd meer as wat van jou verwag word.
My ervaring is dat daar min verkeersknope is in die tweede kilometer, want daar is min van ons wat kans sien om dit te doen. Veral as dit by dienswerk kom.

Vir Jesus-volgelinge gaan dit nie oor mag en heers nie, dit gaan oor nederigheid – dis bereid om die werk van ‘n slaaf te doen.
Diens gaan daaroor om die beste vir almal te soek – dis wen-wen vir almal of niks nie.
Diens beteken gehoorsaamheid aan God – ons maak soos Jesus vir ons gewys het.
Diens beteken omgee vir alle mense – vriende, familie, vyande, vreemdelinge, mense met sondes en foute.
 
Ek wil afsluit met 2 aanhalings:
Jesus het gesê: “Maar die grootste onder julle moet bereid wees om ander te dien.” (Matt 23: 11)

“Almal het die mag van grootsheid.  Nie vir roem nie, maar vir grootsheid, omdat grootsheid bepaal word deur diens”. (Martin Luther King Jr)



Sunday, May 20, 2012

Preek 20 May 2012


Die gewoontes van die liefde
1 Korintiërs 13:7

Hierdie is nou al reeds die sesde Sondag wat ons besig is met die liefde en as julle selfs net in een van die vorige dienste was sal julle onthou en met my saamstem dat hierdie nie ‘n sommer-maar-net liefde is waarmee ons besig is nie. Hierdie eienskappe wat ons hier van leer oor die liefde gebeur nie net sommer-maar-net omdat ons lief of verlief is nie. Dit gebeur nie sommer-maar-net vanself voordat ons dit nog kon keer soos daai groot liefdes wat ons almal een of ander tyd op skool gehad het nie. Dit kan nie sommer-maar-net wees nie, want dit is ‘n doelbewuste liefde. Dit is daai agape liefde waarvan ons al herhaaldelike kere gepraat het.  Wanneer ons dus vandag oor nog ‘n paar gewoontes van die liefde gaan praat, moet ons dus onthou dat ook hierdie gewoontes van die liefde nie sommer-maar-net is nie. Daarom gaan julle dalk ongemaklik voel as julle dit hoor of (soos ek) sukkel om dit ten volle te verstaan. Maar dis hoe dit moet wees. Dit is onmoontlik dat ons sommer-maar-net sal saamstem of dit sommer-maar-net sal kan doen, want Agape liefde werk nie so nie. Dit is, soos ek gesê het, doelbewus en daarom is ook hierdie gewoontes waaroor ek iets gaan probeer om met julle te deel, ook doelbewus, want hierdie liefde het onvoorwaardelik lief, dit het lief al voel ons nie altyd om lief te he nie.  Dit is die tipe liefde wat uiteindelik daartoe gelei het dat God sy Seun aan die kruis laat sterf het – nie sommer-maar-net nie, maar doelbewus, om vir ons te kom red.

Met dit alles in gedagte, kom ons lees 1 Kor. 13:7. Ons het hier te doen met vier gewoontes van die liefde, maar enige iemand wat al probeer het om elke oggend vroeg op te staan om te gaan draf en hiervan ‘n gewoonte te maak, sal met my saamstem dat gewoontes nie sommer net vanself tot stand kom nie, dit verg harde werk – bitter harde werk. So as jy hierdie vers lees en voel: nooit gaan ek kan liefhê met agape liefde nie, moenie skuldig voel nie, jy is nie alleen nie, maar dit is wel soos iemand wat hom of haarself dwing om elke oggend op te staan: dit raak al hoe makliker soos wat jy fikser raak. So dalk moet ons eerder net aan onsself as onfikse lief hê-ers dink en hierdie volgende vier gewoontes moet ons oefen. Die voordeel hiervan is dat ons darem nie noodwendig vroeg op te staan om dit te doen nie.

Verskillende vetalings:
Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles. Die liefde sal nooit vergaan nie. (NLV)

Puts up with anything, Trusts God always, Always looks for the best, Never looks back, But keeps going to the end. Love never dies. (The Message)

As 'n mens iemand liefhet, kan jy stilbly oor sy foute. Jy kan die beste dinge oor hom glo en die beste van hom verwag en nooit ophou om hom lief te hê nie. Liefde gaan nooit tot niet nie! (Die Lewende Bybel)

It protects more than blockbuster hero; it trusts more than a toddler. It’s always positive; it always hangs in there. Love doesn’t let you down. (The Word on the street)

Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het; liefde glo altyd die beste van ander mense en verwag dit ook van hulle. Liefde ken ook g’n einde nie. Liefde is nie iets wat ’n mens kan opgebruik en dan sê dis klaar nie. (Die Boodskap)

Love knows no limit to its endurance, no end to its trust, no fading of its hope; it can outlast anything. It is, in fact, the one thing that still stands when all else has fallen. (JB Phillips translation)

Die liefde 1) bedek alles, 2) glo alles, 3) hoop alles, 4) verdra alles. (1983 Vertaling)

Dis eenvoudig om hierdie vier punte raak te sien, ons vertaling som dit mooi vir ons op, maar wat beteken dit. Om ‘n gewoonte te vestig, moet ons tog weet wat daardie gewoonte behels. Om vroeg op te staan om te gaan draf, behels dat ek eerstens ‘n wekker moet hê en as ek een het, moet ek hom stel. Dan moet ek actually opstaan en aantrek en buiten toe gaan en begin hardloop. En hardloop op sy beurt het weer ‘n hele stel reëls, soos dat jy moet strek, nie te vinnig moet begin nie, ens. Al hierdie “reëls” vir die vestiging van die gewoonte klink redelik vanself sprekend tot jy dit actually moet begin doen. Want wie druk nie die snooze knoppie ‘n paar keer voor hulle opstaan nie, en wie warm werklik heeltemal op voor hulle begin hardloop?

So al wat ek vandag wil doen is om bietjie met julle te gesels oor wat hierdie vier gewoontes behels, want as ons dit weet kan ons begin deur “ten minste ons wekker te stel.”  

1.  Bedek alles
Die eerste gewoonte waarvan ons lees, is dat die Liefde alles bedek.  Die Griekse woord στέγει kan ook vertaal word met ‘om ‘n dak op te sit’.  

Ons sou dus kon sê: die liefde bou ‘n dak oor als.  En wat is die basiese doel van ‘n dak?  Om ons veilig te hou, om ons te beskerm, om te keer dat ons natreën.  Twee goed is egter belangrik wanneer ons aan die idee van ‘n dak dink, die eerste is dat wanneer ons ‘n huis bou moet ons kies om ‘n dak op te sit (obviously) en tweedens help dit nie daar is ‘n dak, maar ons kies steeds om buite in die reën te slaap nie. Ons moet dus kies dat die liefde alles bedek, die dak spring nie net vanself op die mure nie, maar ons kies ook om self onder daardie liefde in te beweeg.

Onder hierdie dak van liefde hou ons mekaar veilig.  Daar sal foute of gebreke van mense nie in die openbaar gebring word nie.  Onder hierdie dak sal liefde probeer om dinge stilweg reg te maak eerder as om dit in die openbaar te stel sodat mense verneder of oor die vingers getik kan word.  M.a.w. die liefde, agape liefde, is bereid om alles te bedek vir die doel van genesing. Die welwese van die ander persoon is altyd die heel belangrikste en daarom moet versorging onder hierdie dak geskied.

Liefde haat dus ‘n skandaal, want ‘n skandaal maak mense seer en liefde haat dit as mense seerkry.  Onder hierdie dak kan daar nie klippe gegooi word na ander nie, selfs nie na bekende mense se sondes nie.  Dit is belangriker vir liefde dat mense genees word, as wat hulle verneder word. Skinder gebeur dus daar waar ‘n huis sonder ‘n dak staan.

In Matt 18: 15 kom leer Jesus ons iets van hoe ons optree onder die dak van liefde.
As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word.
Hy sê as iemand onreg aan jou gedoen het, probeer dit tussen julle twee oplos en as dit werk het jy jou broer/suster terug gewen.  Indien dit nie werk nie, neem nog een of twee mense saam.  Om die hele kerk te betrek en te vra om hulp moet net as die heel laaste uitweg gebruik word. Let wel dat Hy nêrens sê dat die saak geïgnoreer moet word nie. Bedek beteken nie dat ons net die ander pad kyk uit liefde nie, maar dit beteken wel dat ons wat ook al onder die dak is, nie aan die groot klok  hang nie.

Juis oor dit wat ons in Matt. 18 lees, moet ons ook onthou wat in 1Kor.13:6 (die vers net voor ons s’n) staan: die liefde hou nie van onreg nie. Want die vraag kan maklik by ons ontstaan: Bedek die liefde regtig alles?  Dit is dan wat ons herinner moet word dat die doel altyd genesing is: Om sekere weggesteekte booshede te bedek, is soos om ‘n dak te hê, maar die spreiers onder die dak aan te sit. It defeats the whole purpose. Ons moet onthou dat hierdie dak nie net vir jou en jou verhoudinge (goed of sleg) is nie, maar dat die liefde genesing vir almal moet bring. Wanneer seker dinge dus weggesteek word onder die dak, eerder as beskerm word, keer dit dat genesing vir ander moontlik is en daarom moet ons vir ‘n baie diepe wysheid bid sodat die Here ons kan help onderskei wat ons motiewe is wanneer ons iets “bedek.” Doen ons dit om te beskerm en sodoende vind almal genesing, of doen ons dit om weg te steek, wat almal net sieker maak.

2.  Glo alles
Die tweede gewoonte waarvan vers 7 ons kom leer is dat die liefde alles glo. Let wel, dit sê nie dat die liefde naïef is of stupid is nie. Dit beteken wel dat die liefde nie onnodig skepties is nie.
Die oorgrote meerderheid van kommentare stem ooreen dat daar hier bedoel word dat die liefde die goeie dinge glo.  Die liefde kies altyd om die goeie dinge van ander te glo, eerder as die slegte.  Een skrywer beskryf dit goed as hy sê: ‘love is always eager to believe the best’.  Ek wil nie hierdie idee van geloof oor vereenvoudig nie, maar ons moet erken dat as mense is ons van nature meer geneig om die slegte van mense te glo. As mense is ons van nature skepties. Die liefde is egter nie. Die liefde se geneigdheid is om die goeie te glo.  Ek dink nie hier word bedoel dat liefde maklik verneuk kan word deur mense se valse bedoelings nie, maar ek dink tog dat ons in liefde eerder vir mense die ‘benefit of the doubt’ moet gee, dat ons eerder moet kies om die goeie dinge te glo.

Soos ek gesê het beteken dit nie dat die liefde stupid is nie. Die liefde kan wel onderskei tussen die ongeregtigheid en die waarheid. En daarom kan ons nie vers 6 apart van hierdie vers lees nie, maar liefde wil nie in alles altyd eers die on-waarheid soek nie.  Hierdie agape-liefde sien  die beeld van God in ander raak.  Dit is altyd opsoek na daardie iets van God binne ‘n ander persoon, al sukkel ons soms om te glo dat sekere mense iets ‘goeds’ kan bevat.

3.  Hoop alles
Die derde gewoonte wat ons hier mee kennis maak is hoop. ελπιζει  - letterlik: om te verwag, om te vertrou, om te hoop.
Ek dink die eerste ding wat belangrik is om te besef as daar gesê word dat die liefde ‘alles hoop’, is dat dit nie verwys na ‘n tipe onredelike optimisme wat nie die werklikheid in ag kan neem nie.  Hierdie hoop verwys eerder daarna dat dit wyer om mislukking of hopeloosheid as finaal te beskou.  Hierdie hoop is anders as die optimisme wat ‘n trotse rugby ondersteuner het as hy dink sy span kan nog wen as hulle 30 punte agter is 3 min voor die einde.

Liefde wat ‘alles hoop’ rig hier die oog op die toekoms en verwag dat dinge goed sal afloop.  Dit is m.a.w. nie bereid om ‘n persoon of ‘n saak te los as verlore nie, maar verwag ‘n gelukkige wending ten goede.

Soos ek reeds genoem het moet daar ‘n onderskeid getref word tussen gewone menslike optimisme en ware hoop.  Gewone optimisme verwag dat ‘n saak of persoon vanself sal beter raak.  Ware hoop kan egter nie sonder vertroue in God nie.  Hoop gaan dus saam met die vertroue dat God die wêreld sal lei deur sy genade, tot beter dinge.

Dit is doelbewus dat ‘hoop alles’ na ‘glo alles’ geplaas word in hierdie vers.  Hoop is die sekerheid dat dit wat ons glo, die oorwinning van God se genade, uiteindelik sal waar word.  Die liefde kan nie sonder hoop nie, want dit is hoop wat liefde lewendig hou.  Dink bv.: Wanneer daar liefde aan iemand gegee word het daardie persoon weer hoop.  Wanneer iemand weet hy/sy is geliefd, het hy/sy weer hoop.  Ons moet onthou dat wanneer ons lief het, gaan ons seer kry, pyn he.  Maar hierdie ‘hoop-alles gewoonte’ waarvan Paulus in 1 Kor. 13 praat  stel ons in staat om te kan liefhê te midde van pyn, want ons leer dan om te verwag en om verras te word deur God en vreugde in ons seer.

Die volgende storie kan dalk help om die ‘hoop alles’ gewoonte van liefde te verduidelik:
In sy boek, The Mystery of Love, vertel Rabbi Marc Gafni van sy heel eerste bar mitzvahs wat hy moes doen. (’n Bar mitzvah is ’n Joodse oorgangsritueel waartydens ’n seun volwasse godsdienstige verantwoordelikhede kry.) Hierdie  bar mitzvah was vir ’n seun met die naam Louis gehou. Louis was egter ’n ongelukkige, onseker en hartseer kind. Sy onsensitiewe ouers het geen bydrae gelewer om sy selfbeeld op te bou nie, inteendeel! Hulle het nie ’n geheim daarvan gemaak dat hulle glo dat hy te dom was om die tradisioneel Hebreeuse gedeeltes te memoriseer wat van ’n seun verwag word om tydens bar mitzvah voor te dra nie.

Rabbi Gafni was vasberade om die beste uit Louis na vore te bring. Hy het ekstra tyd met Louis deurgebring deur liedere en gebede vir hom te leer. In die proses ontdek hy dat Louis eintlik ’n baie knap seun met ’n pragtige stem was.  Op die dag van sy bar mitzvah, het Louis vol selfvertroue die gedeeltes wat hy moes memoriseer, voorgedra.
Na afloop van die seremonie, het Rabbi Gafni voor die gemeente gaan staan, Louis in die oë gekyk en gesê: “Louis, this morning you met your real self. This is who you are. You are good, graceful, talented, and smart. Whatever people told you yesterday, and Louis, whatever happens tomorrow, promise me one thing. Remember . . . this is you. Remember, and don't ever lose it.”
’n Paar jaar later het Rabbi Gafni ’n brief van Louis ontvang. Die seun wie se ouers voorspel het dat hy te dom was om ’n tradisionele bar mitzvah te kon doen, was besig om medies te studeer. Hy was ook verloof en op die punt om te trou. Louis het sy brief so geëindig “. . . I kept my promise - I always remembered my bar mitzvah morning when you said that this is who I am. For this, I thank you.”

Die feit dat iemand in hom geglo het, alles gehoop het, het ‘n verskil gemaak in Louis se lewe.  Elkeen van ons kan ook weet dat daar Iemand is wat in ons glo en wat die beste vir ons hoop – en dit is God self.

4.  Verdra alles
υπομενει  - om onder iets te bly, om vol moed te wees, om te volhard, om te ly
Die werkwoord wat Paulus hier gebruik verwys nie daarna om iets passief te verdra nie.  Hierdie verdra verwys eerder daarna dat ons dinge aktief positief kan oorwin en verander.  So dit beteken nie dat ons net passief aan als moet onderwerp en moet ly nie.  Dit wys eerder op ‘n aktiewe aanvaarding van alles wat as lewenslas opgelê word.  Wat die liefde dan kan doen, is om te volhard in die uithou.

Al kom daar teleurstelling of allerlei moeilikhede of langdurige beproewings laat die liefde nie toe dat dit die gees breek nie.  Die liefde is sterker as al hierdie dinge – nie omdat dit gegrond is in my of jou wilskrag nie, nee, maar omdat dit ‘n vrug van die Heilige Gees in ons lewens is.

Kom ons kies doelbewus vir die liefde. Kom ons kies vir die liefde wat alles bedek, alles glo, alles hoop en alles verdra.

Monday, May 14, 2012

Preek 13 May 2012


Die liefde is onselfsugtig
1 Korintiers 13: 4, 5

Ons praat oor die verskillende gestaltes van Agape-liefde. Ons het al gepraat oor agape-liefde wat geduldig en vriendelik is. Liefde wat saam met die waarheid loop. Verlede week het gegaan oor liefde wat vergewe. Vandag praat ons oor Agape-liefde wat onselfsugtig is. 

Dis vir my nogal gepas dat ons op Moedersdag praat oor die liefde wat onselfsugtig is. Ek dink ‘n ma is die beste voorbeeld van onselfsugtigheid.
“The natural state of motherhood is unselfishness. When you become a mother, you are no longer the center of your own universe. You relinquish that position to your children.”
(Jessica Lange)

1 Kor 13:4, 5 “Die liefde…is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie… soek nie sy eie belang nie…

“Die liefde is…om ander mense dit wat hulle het of kry te gun sonder om lelik te wees as hulle dinge het wat jy nie het nie; om nie heeltyd oor jouself te praat en te spog nie; om nie heeltyd te maak asof jy soveel beter as ander mense is nie;...om nie net heeltyd aan jouself en jou eie voordeel te dink nie;” (Die Boodskap)

Al die goed wat ons in hierdie teks lees - nie afgunstig nie, nie grootpraterig nie, nie verwaand nie, soek nie eie belang nie – is eienskappe van liefde wat onselfsugtig is. So ek wil so vining iets oor elkeen van hulle sê.

Is nie afgunstig nie
Wanneer kinders klein is, dan sukkel hulle mos om te deel. Hulle wil tog net nie hê hulle maatjies moet met hulle speelgoed speel nie – myne, myne, myne.  As hulle ouer word, dan moet jy tog net seker maak jy behandel albei dieselfde, gee vir altwee dieselfde goed sodat die een nie veronreg voel nie.
By volwassenes sien mens dit ook, net op ‘n ander manier – wanneer iemand bo jou gekies word vir ‘n bevordering. Wanneer iemand meer geld verdien, of ‘n nuwe kar koop. Mense is afgunstig of jaloers teenoor mekaar. Iemand anders moet tog net nie beter wees as ek of meer hê as ek nie.

Daar is 2 soorte afguns: die een soort is wanneer mense ander mense se besittings begeer. Maar die ander soort is veel erger en gevaarliker. Dis wanneer jy nie kan verdra dat ander mense dinge het of prestasies bereik wat jy nie het nie. Jy wens dus nie die dinge soseer vir jouself nie, jy wens dat die ander persoon dit nie het nie. Jy kan dit nie net gun vir die ander persoon en saam met hulle bly wees nie – jy wens hulle het dit glad nie.

FB Meyer was die predikant van die Westminster Chapel in London. Dit was in dieselfde omgewing as die Christ Church waar Cambell Morgan die predikant was en die Metropolitan Chapel waar Charles Spurgeon die predikant was. Hulle was albei baie bekende predikers so hulle het groot skares getrek. FB Meyer was dikwels gepla deur gevoelens van afguns en jaloesie. Hy vertel dat hy eers vrede gekry het toe hy begin het om vir sy kollegas te bid. Hy getuig:  “When I prayed for their success, the result was that God filled their churches so full that the overflow filled mine, and it has been full ever since.”

Ons gaan net vrede kan kry as ons wegbeweeg van ‘n Ek-fokus, na ‘n Jy-fokus. Wanneer ek nie meer afgunstig is op ander mense nie, maar ander mense goeie dinge kan gun.

Is nie grootpratering nie
Mac Davis het ‘n liedjie geskryf: “O, Lord, it’s hard to be humble”. Die koor gaan so:
Oh Lord it's hard to be humble when you're perfect in every way.
I can't wait to look in the mirror 'cos I get better looking each day
to know me is to love me I must be a hell of a man.
O Lord it's hard to be humble but I'm doing the best that I can.

“Come over here and sit next to me, I’m dying to tell you all about myself.” (Oscar Wilde)

Grootpraterige mense is selfversekerde mense wat teveel van hulleself dink. Dis mense wat soms God wil speel en ander mense se lewens wil beheer. Dis mense wat al die antwoorde het en dit baie maklik en met baie selfvertroue met almal wil deel. In Engels is daar ‘n mooi word daarvoor om so iemand te beskryf: “self righteous”  (selfvoldaan)
Petrus was ‘n goeie voorbeeld hiervan. Hy was baie grootpraterig en selfversekerd oor sy geloof…en toe kraai die haan drie keer. En daarna was hy baie nederiger.

“Be humble; you will like yourself that way and so will other people.”  

Is nie verwaand nie
Dit sluit aan by die vorige punt.
Onthou julle vir Tom Selleck, wat in die 80’s die hoofrol gespeel het in die TV reeks Magnum PI. Hy was op daardie stadium die hoogs betaalde akteur op TV.
Hy vertel: “Wanneer ek al te vol van myself raak, onthou ek die vriendelike, bejaarde paartjie wat in 'n straat in Honolulu met ’n kamera na my toe aangeloop gekom het. Toe ek gaan staan dat hulle my kan afneem, sê die man: ‘Nee, nee, ons wil hê jy moet óns afneem.”

Romeine 12: 16 sê: “ Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges.”

Soek nie sy eie belang nie
Mense wat die hele tyd hulle eie belang soek is soos passers – alles draai net om hulleself. Dis soos die broer en suster wat saam op ‘n hobbelperdjie( rocking horse) gery het totdat die boetie later vir sy sussie sê: “as een van ons nou van hierdie perdjie afklim, dan is daar meer plek vir my”.

Wanneer ek besef dat dinge nie net oor my belange gaan nie – dan kan ek ophou worry oor wat ander mense van my dink. Dan hoef ek nie altyd die laaste woord te probeer inkry nie. Dan is dit nie belangrik dat almal dinge moet sien en moet doen soos wat ek dit wil hê nie. Dan besef ek ook, die wêreld skuld my niks.
Agape-liefde weet daar is meer in hierdie lewe as ekself en my eie belange en behoeftes. Dit neem ook ander se belange ernstig.
 
Soos ek aan die begin gesê het – die 4 goed is eienskappe van die liefde wat onselfsugtig is. As dus net kan opsom: liefde wat onselfsugtig is - is nie afgunstig nie, maar gun mense goeie goed; is nie grootpraterig en verwaand nie, maar nederig en minder selfversekerd en selfvoldaan; soek nie net my eie belang nie, maar ook die van ander.

Preek 06 May 2012


1 Korintiers 13: 5
Die liefde vergewe altyd

Soos julle reeds weet praat ons die afgelope paar weke oor die liefde en die impak wat dit in ons lewens het. Die eerste week het Jalize gepraat oor die uitdaging van Agape-liefde – om lief te hê ten spyte van. Die tweede week het ek gepraat oor die liefde wat geduldig en vriendelik is – dit maak dat mens aanhou om die goeie te soek in mense en dit bepaal hoe ons van mekaar verskil en dit vra dat ons mekaar seën met goedheid. Verlede week het Niel gepraat oor liefde wat hou van die waarheid. Liefde en waarheid loop saam, Waarheid hou liefde eerlik en liefde verhoed dat waarheid seermaak.

Vandag praat ons oor die liefde wat altyd vergewe. Ek het baie gewonder hoe ek hierdie saak moet aanroer. Vergifnis is nie ‘n maklike ding nie en ek wil ook nie vir julle net ‘n klomp teorie daaroor gee nie. Ek wil byvoorbeeld nie vanoggend vir julle vertel hoe ‘n mens iemand anders moet vergewe nie. Ek wil dit ook nie eenvoudig laat klink nie, want dit is nie eenvoudig nie – dis soms ‘n lang en moeilike proses wat met seer gepaard gaan. Ek voel in elk geval nie bevoeg om daaroor te praat nie – ek het nog nooit nodig gehad om deur ‘n lang, moeilike vergifnisproses te gaan nie. Ek kan maar net dankbaar wees daarvoor. Al wat ek vanoggend gaan doen is kortliks te praat oor die 2 belangrikste redes hoekom dit belangrik is om te vergewe en dan gaan ons ‘n kort DVD-clip kyk wat eintlik alles sê wat ons moet hoor oor vergifnis.  

1 Korintiers 13: 5:Die liefde…hou nie boek van die kwaad nie”
Verskillende vertalings:
“Love…does not keep account of evil. (JB Phillips Translation)
“Die liefde…hou nie boek van die kwaad wat jou aangedoen is nie.” (NLV) 
“Om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou sodat jy hom kan terugkry nie.” (Die Boodskap)
“Love…Doesn't keep score of the sins of others,” (The Message)
“Die liefde…onthou nie altyd dat mense slegte dinge aan hom gedoen het nie.” (Die Bybel vir almal)

Wat ek in al hierdie vertalings hoor is dat vergifnis ontken nie en vergeet nie die slegte, kwade goed wat my aangedoen is nie, maar dit help my om op ‘n nuwe, vryer manier vorentoe te kyk, sonder om die goed wat my aangedoen is te vertroetel of heeltyd ou koeie uit die sloot te gaan grawe.
CS Lewis het gesê: “Ons sal almal sê vergifnis is ‘n wonderlike idee, dat dit reg en noodsaaklik is – totdat ons self iemand moet vergewe.”
Ek vermoed dat vergifnis waarskynlik die grootste toets vir die liefde is – hoe jy optree teenoor iemand wat jou seergemaak het of ontnugter het of teleurgestel het.
Dit is een van die moeilikste aspekte van Agape-liefde. Agape-liefde is om lief te hê ten spyte van hoe jy voel. Mens voel meestal nie om te vergewe nie. Vergifnis is dus ultimately ‘n keuse wat jy maak al voel jy nie so nie. Daar is 2 redes om die keuse vir vergifnis te maak.

Ons vergewe ander omdat God ons en hulle vergewe het.
Kolossense 3:13 “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.

As God my vergewe, sê Hy daarmee dat ek vir Hom so waardevol is dat Hy bereid is om my verlede te vergeef en vir my ‘n ruimte te gee om weer te begin. So die vraag is dan nou: Hoe kan ek dit dan waag om my medemens, wat net soveel waarde in God se oë het, nie te vergewe nie? Onthou, God het sy seun vir elke mens laat sterf. Hy het dit vir my gedoen en ook vir daai persoon wat my seergemaak, of ontnugter of teleurgestel het. Hoe kan ek hulle dan nie ook vergewe nie?

In die afgelope week het daar ‘n brief in Die Beeld verskyn wat geskryf is deur ‘n Zimbabwiese boer, Henry Jackson nadat sy plaas op 24 April afgevat is. Hy skryf oor wat gebeur het en hoe hy dit beleef het. Dan skryf hy onder andere die volgende:   
Matteus 5:44 sê: ‘Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel ...’
Is Jesus se opdrag vir ons bedoel of nie? Waarom sien ek so baie Christene met sulke diep rassehaat en bitterheid wat in hulle kook? 
Moet ons nie kinders van ons Hemelse Vader wees wat sy karakter uitstraal nie? Watter getuienis leef ons uit as ons met siedende woede reageer? Hoe is ons dan beter as die wêreld?
Waarom sal ek dan toelaat dat my hart gevul word met haat vir ’n man vir wie Jesus gesterf het? Ek wil liewer sien dat dié man en sy gewelddadige vriende in die Koninkryk ingebring word.
Jy sal nooit die oorlog van rassehaat met haat wen nie. Dit kan slegs gewen word met liefde en vergifnis. Die sterkste krag ter wêreld is nederige liefde. Het Hy nie gesê: ‘Die sagmoediges sal die aarde beërwe’ nie?

Die boer het alle rede gehad om kwaad te wees, maar hy het besef hy moet vergewe, omdat God hom vergewe het en die plaasbesetter vergewe het. En dit het gemaak dat hy met ander oë na die plaasbesetter gekyk het.

Ons moet vergewe omdat bitterheid jou diep ongelukkig maak.
Stel julleself gou die volgende prentjie voor: Jy sit elke week die swartsak met die vullis in die drom sodat die vullisverwyderaars dit moet kom haal. Maar dan, wanneer jy die vragmotor hoor aankom, hardloop jy uit, gryp die swartsak en bring dit weer binne toe en plaas dit op die hoop swartsakke wat besig is om in jou kombuis op te gaar.
Later stink dit verskriklik, die bure dreig om jou aan te kla, jou vriendekring raak al hoe kleiner, jou gesin wil later wegtrek…maar jy gaan maar net aan om die vullissakke op te gaar. Dis ‘n absurde storie…tog is dit wat baie mense doen. Nie letterlik nie, maar met hulle onvergewensgesindheid. Onvergewensgesindheid is om heeltyd sakke vol vullis op te gaar en met jou saam te sleep totdat jy later stink daarvan. In plaas daarvan dat jy toelaat dat God die sonde-vullis vir altyd wegvat.

Ons noem dit ook die tronkvoël effek van vergifnis. Om nie te vergewe nie, is om jouself in ‘n tronk van bitterheid toe te sluit terwyl die ander persoon aangaan met hulle lewe.   
Lewis B Smedes skryf: The first and often the only person to be healed by forgiveness is the person who does the forgiveness … When we genuinely forgive, we set a prisoner free, and then discover that the prisoner we set free was us.
Om iemand anders te vergewe is soos om ‘n gevangene te bevry, en dan agter te kom die gevangene was jyself.
Ons moet vergewe want overgewensgesindheid veroorsaak bitterheid en bitterheid is ‘n tronk wat jou diep ongelukkig maak, dit kan jou selfs siek maak. Om te vergewe aan die ander kant maak jou vry.

Die boer van Zimbabwe het dit verstaan. Hy het alle rede gehad om bitter te wees, maar hy kies om eerder te vergewe en vry te raak.
Hoor net wat het hy vir die plaasbesetter gesê:
“al het ek nêrens om heen te gaan nie en al het jy op een dag my lewensdroom van my weggeneem, sal ek nie bitter of kwaad vir jou wees nie.
‘Ek wil jou seën as jy die plaas oorneem. Ek wil jou help sover ek kan. Ek wil hê jy moet dié plaas soveel geniet as wat ek dit geniet het.’

DVD-clip: Dis van ‘n seun wat vir sy pa in die tronk gaan kuier en met flitskaarte deur glas met hom kommunikeer. Hy vertel hoe sy pa hom verwaarloos het, sy vermoë om te vertrou gesteel het en sy ma vermoor het. Dan eindig dit met die seun wat sy pa vergewe.
Kliek hier om die video te kyk of "copy & paste" die volgende in u "browser" - http://bit.ly/NQPGT

Gee tyd vir stilte.
Om te kan vergewe, moet ons besef dat God ons vergewe het. Het jy al God se vergifnis aanvaar? Ek wil vir jou bid.
Ek vermoed dat hier van julle is wat sukkel om te vergewe, wat dalk in die tronk van bitterheid vasgevang is. Ek wil vir jou bid om vry te raak.