Sunday, August 26, 2012

Preek 26 Aug 2012


Doop & nagmaal

Ons kan die doop met opvoering of ‘n toneelstuk vergelyk. Die opvoering bestaan uit 4 karakters.
Hoofkarakter is God:  Alles begin by Hom. Hy neem die inisiatief in julle kinders se lewe. Hy ken julle kinders reeds van voor hulle geboorte af. Hy staan vanoggend voor julle kind en Hy sê: “Ek wil jou God wees.” “Ek wil ‘n rol in jou lewe speel.” “Ek belowe ek sal altyd by jou wees.”

Die kinders: Julle kinders is nog babas - hulle verstaan niks nie. Hulle kan niks doen om God se liefde te verdien nie. Tog is God lief vir hulle en verbind aan hulle. Dit noem ons genade. Ons kry van God wat ons nie verdien nie.

Die ouers: Julle wei vandag julle kinders aan God. Julle is ook God se instrumente in hierdie kinders se lewens. Julle moet hulle groot maak volgens dit wat ons glo, sodat hulle eendag self kan kies om hulle lewe saam met God te leef. Julle moet vir hulle die voorbeeld stel, julle moet vir hulle ‘n rolmodel wees. Hulle moet in julle lewens kan sien wat beteken om ‘n gelowige te wees.

Die gemeente: Ons is die getuies van hierdie doop. Ons is ook die geloofsfamilie waarby julle baba nou in getrek word. Ons is julle broers en susters wat julle wil ondersteun en julle wil help met die taak wat God vir julle gegee het.

Bedien die doop
Met die 4 karakters van hierdie opvoering in gedagte…
Aanvaar julle die God se inisiatief in julle kind se lewe en dat Hy ‘n rol in hulle lewens wil speel. Aanvaar julle dat God Hom aan julle kinders verbind en dat Sy genade genoeg is.
Aanvaar julle julle verantwoordelikheid as God se instrumente in julle kinders se lewens.
Aanvaar julle dat julle kinders ook nou ingetrek word en deelgemaak word van God se geloofsfamilie.

Lied: Laat Heer u seën

Preek
Psalm 139: 13-15 & Jesaja 43: 1
Hierdie tekste bevestig dit wat ons nou net met die doop weer beleef het. Ons behoort aan God. Ons is verbind aan Hom. Hy ken ons. Ons is syne. Dit word ook weer en weer in die Bybel vir ons bevestig. 
Maar tog lyk dit vir my asof ons dit nie aldag so maklik glo nie.

Soms voel ons dit is waar en ons is dankbaar daaroor en ons voel naby aan God. Maar baie keer voel ons net niks nie. En dit laat ons twyfel of ek regtig God se kind is. As ek was, dan sou dit mos anders gevoel het.

Soms as ons so na ons lewens kyk, dan ontdek ons dat ons lewens het verander as gevolg van God se betrokkenheid in ons lewens. En dit gee vir my moed en ek weet dat ek wel God se kind is. En ek loof Hom daarvoor. Maar dan kom daar ook tye wat ek nie daarin slag om te leef soos Sy kind nie. Ek het hierdie wonderlike voornemens om te leef soos sy kind, maar dan kry ek dit nie reg nie. Dan voel dit weer vir my of God ver is en ek is nie ‘n kind van God nie. kyk maar net na my lewe.

Soms luister ek so na die getuienis van medegelowiges en ek word daardeur opgebou en versterk en dan weet ek weer: ‘ek behoort aan God. Ek is syne.” Ander kere luister ek weer na hierdie ervarings van my medegelowiges en ek dink: “So, iets het nog nooit met my gebeur nie.” “Is ek dan goed genoeg?” Is ek regtig ‘n kind van God?

Soms verloop die lewe vir my voorspoedig. Dit gaan goed en dis maklik. Maar dan gebeur daar iets wat alles omkrap en alles deurmekaar krap. En dan gaan dit nie meer so goed nie. Dan beleef ek die donker dieptes waarvan Ps 23 praat. En ek wonder hoekom dit nou met my moes gebeur. Waar is God in dit alles?

Die punt is: Ons hoor die beloftes van Ps 139 en Jes 43. Ons hoor die beloftes van die doop – dat ons aan God behoort en dat Hy altyd by ons sal wees. En ons glo dit, maar ons sukkel ook daarmee, want die lewe maak dit vir ons moeilik. Dit maak dat ons sukkel om die beloftes te glo.

Dis hoekom God vir ons die nagmaal gegee het. Die nagmaal maak die twyfel in ons ‘n bietjie stiller. Dit maak dat ons weer die goeie nuus wat Jesus vir ons gebring het kan glo. Met die nagmaal is dit asof Hyself voor ons kom staan en vir ons sê: “Hierdie brood en wyn is die tekens van my liggaam en bloed. Dit is vir jou om te eet en te drink, want ek het jou daarmee gekoop. Dit bevestig vir ons weer die belofte van die doop. Jy is myne en jy hoef nooit weer daaroor te twyfel nie.

Gee paar oomblikke stilte om dankie te sê.

Lees Psalm 23
     
Lied: Song 23

Stel Nagmaal in

Gesamentlike geloofsbelydenis en gebed:
Vir die brood wat ons geëet het,
vir die wyn wat ons gedrink het,
vir die lewe wat u gegee het:
Vader, Seun en Heilige Gees, wil ons U prys.

Vir die lewe van Christus in ons,
vir die beloftes van ons doop,
wat ons help om vrese te oorwin:
Vader, Seun en Heilige Gees, wil ons U prys.

Vir die mag van Christus om ons te lei
in lewe en in dood,
tot aan die einde saam met al U mense:
Vader, Seun en Heilige Gees, wil ons U prys.

Slotlied

Seengroet


Sunday, August 19, 2012

Preek 19 Aug 2012


VAKATURE :: AMBASSADEUR : DOEN AANSOEK HIER BINNE!!
SONDAG 18 AUGUSTUS 2012
----------------------------------------------------------------------
Kom ons stap vanoggend eers so’n ’n paar treë terug  :: Die gemeente streef in die jaar na vier waardes : Eenvoud // Betekenisvolle verhoudings // Gestuurdheid // Egtheid!

Die kwartaal fokus ons op GESTUUR DEUR DIE VADER :   Met die temas  ::    ***   Die HART van God >>  Dis mos waar alles begin :: God se hart is genadig, oop en vol liefde en Hy wil alle mense na Hom toe trek en by Hom hê. En die uitdaging dat ons soos die vader moet wees, want Hy stuur ons om uit reik na mense en hulle nader te trek en deel te maak van sy familie.     ***   Gestuur deur die Vader >> Jesus wat sê: “Soos die Vader my gestuur het, stuur ek julle ook”.   Met die uitdaging om te GAAN en soos ‘n vuurtoring te wees wie se lig helder skyn :  En nie soos The Hill vuurtoring nie , wat mooi lyk, maar ‘n museum met geen lig nie.    ***   Waar ons lewe, werk en speel >> MENSE Jy en Ek en Ons :: Wat LEWENDE STENE is : Wat waar ons werk en speel en woon en elke dagbesig is,  KERK  moet wees en DAAR ’n verskil moet maak!!

En dis met vandag se tema in gedagte :: AMBASSADEURS vir Christus, dat ek moet bekend maak //  Dat ek publiek kan gaan daarmee :: VAKATURE :: AMBASSADEUR ::  DOEN AANSOEK BINNE!!   KANTNOTA ::  Maar iets wat jy DADELIK moet weet voordat jy aansoek doen :: Jy gaan HARD moet werk :: Jy gaan ALLES moet uithaal!!  Jy gaan jou BESTE moet gee!!        Om HARD te werk is geen grap nie ::  Dis nie vir sissies nie!!   Hoe voel jy na ’n dag se ploeg en plant tot laat-aand??  **  Na ’n dag se harde werk op kantoor en dan deur die stringe verkeer terug huis toe!  **  Na ’n Saterdag se geswoeg in die tuin!  

SKRIFLESING ::   Luk 3 : 4-6 en Mark 1 :: 2-5 capita selecta   >> In daardie tyd het die Woord van die Here tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom. Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig ::  BEKEER JULLE EN LAAT JULLE DOOP! EN GOD SAL JULLE SONDES VERGEWE!  So skryf Jesaja >>  Iemand roepin die woestyn :: Kyk! ’n Boodskapper sal voor jou uitgaan. Hy sal die pad vir jou regmaak! Hy maak die pad vir die Here gereed! Elke kloof moet opgevul word en elke berg en bult moet platgemaak word  Die krom paaie moet reguit en die ruwe paaie gelyk gemaak word.   So het Johannes die Doper in die woestyn opgetree.  En al die inwoners van die landstreek Judea en Jerusalem het na hom gestroom. Hulle het hulle sondes bely en hy het hulle in die Jordaan rivier gedoop!  

PADBOUERS  Dis soos met padbouers : Padbouers werk hard!!     **  Johannes was so ’n Padbouer ::Johannes kry die OPDRAG ::   Maak die pad vir My reguit! Maak die paaie vir My gereed!!   **  Dis ’n omvangryke taak en verantwoordelikheid ::    Dis ’n LYWIGE pligstaat ::    >>  Moes die pad vir Jesus voorberei en gelyk maak!!  >>  Moes mense vertel dat die Koninkryk van God NABY hulle gekom het!  >>  Moes mense OPROEP om die Rooi Tapyt voor Hom uit te rol!   >>  Moes die mense uitnooi na die Koninklike besoek van Jesus!  >>  Moes die mense UITDAAG om hulle lewens VOLTYDS tot Jesus se beskikking te stel!!!

HOOGTEPUNT >> Die HOOGTEPUNT vir enige padbouer is as die pad KLAAR is  : As die lint geknip word :: As die pad oopgestel word :: Gereed om gebruik te word!   So ook vir Johannes ::   Johannes het sy werk voltooi met die DOOP van Jesus  ::  Een oggend vroeg in die Jordaan rivier :  Net buite Betanië :  Met die verklaring ::  **  Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!  **  Hy gaan julle doop met die Heilige Gees!  **  Bekeer julle!!   **  Gooi die rooi tapyt voor Hom uit!!  **  Kom na Sy koninklike besoek!!  **  Kom werk VOLTYDS vir Hom!!  **  VAKATURE :: DOEN AANSOEK BINNE!!!

INSTANDHOUDING STEEDS NODIG :  Johannes het inderdaad die pad klaar gebou ::  Maar dit moet nogsteeds  INSTAND gehou word // ONDERHOU word!!  >>     En daarvoor het God MENSE nodig ::  Jy en Ek en Ons!!!  Veral ook vir JOU!!   >>  Jy moet OOK kom HELP om die pad vir die Koninkryk GELYK en REGUIT te hou :: Sodat ander mense OOK die pad kan vind!!   JY moet vir hulle gaan vertel van JOU Koning wat ’n NUWE PAD gebring het wat tot reg in die hemel strek!!   >>     En jy mag nie nalaat om te sê dat daar vir ELKEEN ’n plekkie op hierdie NUWE PAD is nie!! 

En dis waar die VAKATURE vir ’n AMBASSADEUR vandaan kom ::   >>  Sien jy kans om te help jy met die INSTANDHOUDING??  Is jy GEREED om jou deel vir die saak van die Here te doen ??      >>   Sien jy kans om as VERTEENWOORDIGER / AMBASSADEUR / GESANT //  VLAGDRAER van Jesus, soos Johannes, HARD te gaan werk // Lang ure te gaan werk ::  Om die boodskap van VERSOENING aan mense te bring  ::  Te gaan vertel dat Jesus hierdie wêreld waarin jy en ek leef, met HOMSELF versoen het deur Sy seun, Jesus Christus :: Dat Hy daarom die mense nie meer hulle sondes wil toereken nie :: Dat iemand wat aan Jesus Christus behoort, ’n NUWE mens is : Nuut gemaak in Jesus Christus!

Paulus vra so mooi :: 2 Kor 5 : 20 >> Wil jy nie ASSEBLIEF vanoggend  Sy aanbod AANVAAR nie??  Jy hoef EINTLIK nie eers AANSOEK te doen nie!! Jy kan maar net kom aanmeld!!   Wil jy nie ASSEBLIEF die aanstelling as Voltydse Werker ::  AMBASSADEUR in Jesus se diens aanvaar nie!!      **  Of is die werk darem net TE eenvoudig vir jou?  **  Is die vergoeding darem net TE min vir jou?   **  Is die OPOFFERING darem net TE groot vir jou?  **  Moet jy darem net TE veel dinge prysgee?  >>  Of voel jy dalk dat ander Christene nou maar hulle deel kan doen – Dat jy nou jou deel afgehandel het??  >>  Is jy na ’n lang dag se werk, net TE moeg om nog vir ’n siek persoon te gaan bid / te gaan bemoedig ::  Om ’n eensame mens te gaan besoek en op te beur?

Weet jy wat :: As jy nie AANSOEK doen nie :: As jy nie die aanstelling AANVAAR nie:: As jy jou nie kom AANMELD nie,  gaan baie mense rondom jou NIE die padaanwysings vind nie :: Heentemal verdwaal :: Die pad heentemal mis ::  Verby ry :: Die vereerde pad vat ::   En in die ewige verdoemenis eindig!!!     >>>>    Laat my nogals dink aan Paulus in 1 Kor 9 : 16 >>  Ek kan nie ANDERS as om mense van Jesus te vertel nie! Dit is waarvoor ek leef omdat God dit van my verwag.  Ek weet nie wat met my sal gebeur as ek dit NIE doen nie!!!  
>>>   En Maria in Luk 1 : 38 :: Jonk en Onervare :: Maar toe die Here haar roep, skuif sy haar drome ager God se wil in : Antwoord sy sonder om te skroom   Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar WAT Hy ookal wil hê!

Die Here MAAK STAAT op jou en my om hierdie pad vir Hom GEREED te HOU : Om hierdie boodskap van Versoening te bring en te leef : Jesus GEBRUIK jou :: Werk DEUR jou in die harte van mense ::  Gebruik jou TALENTE om ’n VERSKIL in hierdie wêreld te maak ::  Deur jou gebeur WONDERWERKE in hierdie wêreld van ons ::    En dan LEEF ons soos Jesus geleef het!!

’n Mooi gediggie van Beatrice Cleland wat alles mooi saamvat ::  Not merely by the words you say,   Not only in your deeds confessed, But in the unconscious way, Is God expressed.   Is it a beautiful smile?  A holy light upon your brow?   Oh, no – I felt His presence while You laughed just now.  For me ‘twas not the truth you taught, To you so clear, to me still dim. But when you came to me you brought  A sense of Him.
And from your eyes He beckons me, And from your heart His love is shed, Till I lose sight of you, and see The Christ instead!

Breekbaar. Hanteer versigtig.    Nou die dag hoor ek hoe iemand vir werkers sê wat ‘n swaar houer dra dat hulle versigtig moet wees, want dis breekbare goedere. Op baie houers staan die woord “Breekbaar” geskryf. Of iets soos: “Hanteer versigtig.” Sulke woorde kom wie weet hoeveel keer voor op lewelose houers, maar nooit op lewende mense nie Toe wonder ek hoekom ons dit nie ook van mense sê nie?. Mense is ewe broos en breekbaar. O ja, en oneindig meer werd as al daardie kosbare items wat in breekbare houers verpak word en wat versigtig rondgedra moet word.

Slegte dinge soos misdaad, siekte, werkloosheid, of verhoudings wat op die rotse geloop het beskadig mense. Daarom dat die Here ons ook aan mekaar gegee het om mekaar te help heel word. Ons moet diegene naby aan ons se wonde verbind en die laste saggies van hulle skouers help aftel as hulle seerkry. Ons moet veilige skuilplekke wees vir vriende en vreemdelinge tegelyk. Stukkendes moet in ons teenwoordigheid ontdek dat iemand daardie plakker op hulle lewe raakgesien het wat sê: “Breekbaar. Hanteer versigtig.” Boonop moet hulle beleef dat ons dit ook op verskillende maniere in die Heer se Naam doen.    DIS WAT AMBASSADEURS DOEN!!

TYD VIR STILWORD EN UITDAGING AANVAAR-TYD .....!   Ek glo met my hele hart dat U my in hierdie dag KRAGDADIG gaan gebruik en DEUR my gaan werk!

Sunday, August 12, 2012

Preek 12 Aug 2012


Psalm 130


Het skuldig ook trappe van vergelyking? Kan ons sê skuldig, skuldiger en skuldigste.
Ons kry dit mos baie keer by kinders – as hulle in die tuin speel en die blomme plat trap dan hoor ons mos gewoonlik iets soos: “hy het gesê ons mag maar in die tuin speel” of “hy het gesê ons moet die blomme met die stokke afslaan”. So asof die een skuldiger is as die ander een. 
Dit werk dalk by die huis so as jy in die moeilikheid by jou ma is, maar in ‘n hof sal dit nooit so werk nie. As jy aangekla word van diefstal, dan is daar nie iets soos minder of meer skuldig nie – al wat tel is skuldig of onskuldig.
Ook by God is daar nie trappe van vergelyking vir skuldig nie. Ons is mos skuldig of onskuldig. Of so dink ons. Want as dit waar is dat daar by God net skuldig of onskuldig is, dan is ons almal in die moeilikheid. Ons doen mos maar almal op ‘n gereelde basis verkeerde goed en as die opsies net skuldig of onskuldig is – dan is ons almal die heeltyd skuldig.
Gelukkig is God nie so ‘n rigiede reg of weg, swart of wit God nie. Hy het vir ons ‘n opsie gegee tussen skuldig en onskuldig. Hy noem dit vergifnis.
Psalm 130 help ons om te verstaan dat God mense wil vergewe – dadelik en volledig.      

Lees Psalm 130

Hierdie Psalm het deur die eeue vir baie mense baie beteken. Hulle vertel dat die kerkvader Augustinus dit op sy kamermuur geskryf het, sodat hy dit kan lees voor hy sterf.
‘n Ander aangrypende plek waar ons die psalm vind, is op die plek waar die konsentrasiekamp, Dachau gesetel was. Duisende Jode is in die 2de wêreldoorlog by Dachau vermoor. Nou is daar ‘n muur van herinnering met die eerste 5 verse van Psalm 130 daarop.  

Die psalmdigter roep na God omdat hy worstel met een of ander sonde of siekte of nood in sy lewe. Ons weet nie wat dit is nie, maar ons kan sien dis iets waarmee hy nogal geworstel het en waarvoor hy verlossing soek. Wanneer mens soms in die moeilikheid is, in die donker dieptes is, wanneer jy worstel met iets dan kan jy maar net soos die Psalmdigter uitroep en vertrou dat God jou hoor. 

Die skrywer Dallas Willard verwoord dit mooi: “I found God’s address. It’s at the end of my rope!” Iets hiervan wat ons beleef by die psalmdigter.

Gelukkig weet ons mos ook dat God hoor ons as ons uitroep. Daar staan in Jesaja 59:1
“Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en Sy oor is nie te doof om te hoor nie.”

Omdat ons weet dat God ons uitroepe hoor, kan ons ook soos die Psalmdigter wag op die Here.
Soos hy sê in vers 5: “Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van Sy woord. 
Hierdie wag op die Here is ‘n passiewe, agteroorsit tipe wag nie. Dis ‘n hoopvolle wag, ‘n afwagting, gesetel in volle vertroue op God om die uitkoms en verlossing te bring.
Hy gebruik die beeld van wagte wat op die stadsmure wag gehou het. Ek onthou van my weermagdae, as jy in die nag moes wagstaan – dit raak nogal lank, so as jy die son in die vroegoggend sien opkom – dis ‘n gevoel van verligting, want die nag is verby.
Jy wag, want jy weet die son sal weer opkom. Jy wag op die Here, want jy weet Hy sal weer lig gee, selfs in die donkerste tye van ons lewens. Hy sal weer sin gee.

Ek dink net dat die probleem met ons moderne mense, is dat ons nie meer weet hoe om te wag nie. Omdat ons leef in ‘n samelewing waar alles vinniger en beter raak, het ons verleer om net geduldig te kan wees. Daarom maak ons ook soms stupid keuses, omdat ons nie bereid is om te wag nie.
Daar is ‘n spreekwoord: “All good things happen to those who wait”
Daar is Franse spreekwoord wat sê: “Wees geduldig! Alles gebeur op sy tyd. Die windpomp gaan soek nie die wind nie.”
Ek dink die psalm herinner ons weer hieraan.

Die Psalm herinner ons ook weer daaraan dat God al ons sondes vergewe.
In vers 4 lees ons: “ Maar by U is daar vergifnis: daarom word u steeds gedien.”
Die Message vertaling sê dit baie mooi: “If you, God, kept records on wrongdoings, who would stand a chance? As it turns out, forgiveness is your habit, and that’s why you’re worshiped.”

Daar is ‘n baie mooi storie wat dit uitbeeld.
Iemand vertel van ‘n vriend van hom wat op ‘n trein langs ‘n baie angstige en bekommerde jong man gesit het. Hy begin toe met hom gesels en uiteindelik vertel die jong man sy storie. Hy is so pas uit die tronk vrygelaat en hy is op pad huistoe. Sy misdaad het groot skande gebring oor sy familie. Hulle het nooit in die jare wat hy in die tronk was vir hom geskryf of hom besoek nie. Hy het maar gehoop dat die rede daarvoor was dat hulle arm en ongeletterd was. Daar was nie geld om hom te besoek nie en hulle kan nie skryf nie.
Hy was nie seker of hulle hom vergewe het nie en hy het daarom nie geweet wat om te verwag as hy by die huiskom nie. So, het hy toe vir hulle ‘n brief geskryf waarin hy gevra het dat as hy met die trein verby die plaas net buite sy tuisdorp ry, hulle ‘n geel lint rondom die groot appelboom naby die treinspoor moet bind as hulle hom vergewe het. As hulle hom nie wou sien nie, moet die appelboom leeg wees en dan sou hy nie van die trein afklim nie.
Toe die trein nader aan sy tuisdorp kom, kon hy nie meer die spanning hanteer nie en hy was bang om by die venster uit te kyk. Die ander het toe aangebied om namens hom te kyk en hulle het toe plekke geruil. ‘n Paar minute daarna, wat soos ‘n ewigheid gevoel het vir die jong man, het die ander man gesê: “alles is reg…die hele boom is geel van al linte”
Die man het later vir sy vriend vertel: “Ek het gevoel ek beleef ‘n wonderwerk.”

Dis wat hierdie psalm ook weer vir ons wil bevestig: vergifnis is ‘n gewoonte by God en daarvan kan ons seker wees. Soos vers 7 dit so mooi stel: “wag op die Here Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.”

Ons gaan afsluit deur te doen wat die psalm sê. Ons gaan ons verootmoedig voor die Here, ons gaan roep na Hom en staat maak op die vergifnis wat in die Psalm belowe word.
Ons gaan dit doen met ‘n lied van oorgawe en ‘n gebed waarna ons gaan afsluit met die Ons Vader.

Lied van oorgawe: Kom en vul ons met vrede.

Kom ons bid die volgende gebed:

Heilige God, niks wat ek doen is vir U ‘n geheim nie. Waar ek voor u staan, weet ek: Al my maskers moet afval. Ek wil myself nie eers probeer verdedig nie. Ek smeek net:
Here, wees my genadig!
U liefde maak my skaam. U versorg my, terwyl ek u dikwels vergeet.
Ek kan so beïndruk raak met die dinge van die wêreld, so meegesleur deur my eie dinge…
Here, vergewe my!
U roep my om alle mense lief te hê.
Maar U weet hoe sukkel ek om selfs my vriende, familie en mense wat soos ek is en dink eerste te stel.
Here, vergewe my!
Here, U wat armes, gevangenes, sukkelaars en sondaars u broers en susters noem; voor u bely ek my verwaandheid, arrogansie, beterweterigheid en hooghartigheid teenoor my broers en susters.
Here, vergewe my!
Here, die eer vir my suksesse neem ek gewoonlik vir myself en die verwyte vir my mislukkings slinger ek na U em my medemense.
Here, vergewe my!
O God, skep tog opnuut opregtheid en liefde in my binneste, sodat ek nie langer net vir myself sal lewe nie, maar vir U en my naaste.

Gee paar oomblikke van stilte.

Wanneer  ons onsself so voor Hom verootmoedig dan beloof Hy ook vir ons die volgende:
Hoe kan ek jou prysgee?
Hoe kan ek jou laat vaar?
Ek kan dit nie oor my hart kry nie, my liefde vir jou brand te sterk.
Ek is God, nie ‘n mens nie.
Ek is die Heilige wat jou vergewe en altyd by jou is.

Slotlied: Ons Vader

Sunday, August 5, 2012

Preek 05 Aug 2012


Waar ons woon, werk en speel
1 Petrus 2: 4-10

Ter wille van die besoekers wat vandag hier is, dalk net vinnig iets oor die preekreeks waarmee ons tans besig is voor ons verder gaan. Na ‘n lang proses het Tableview gemeente verlede jaar op vier waardes besluit waarna hul graag in die gemeente wil streef – eenvoud, betekenisvolle verhoudings, gestuurdheid en egtheid.  Ons het sovêr hierdie jaar probeer om elke kwartaal stil te staan by een van hierdie temas/waardes.  Hierdie kwartaal is ons besig met die tema van GESTUURDHEID. 
Hierdie blote tema maak dit moeilik om enige iets vandag te sê want dit is ‘n woord waardeur baie van ons, baie vinnig afgeskrik word.  Moet ons dan nou almal in Afrika invaar?  Almal sendelinge word onder volkere wat vreemde tale praat en nog nooit van Jesus gehoor het nie?  Dit is gewoonlik die eerste konnotasie wat ons aan hierdie woord koppel.  Wel, dit kan beslis waar wees vir sommige mense, maar meeste van ons is geroep om sendelinge te wees net daar waar ons is.  Daarom is vanoggend se tema:  Waar ons werk, speel en leef!

Agtergrond
Die teksgedeelte wat ons vanoggend gaan lees, is 1 Petrus 2.  Die hoofdoel van die brief was aanvanklik om gelowiges wat onder druk was en vervolg is, te bemoedig.  Jesus se dood, opstanding en veral die feit dat Hy weer kom, is die fondament waarop hulle geloof gebou is of soos wat ons vandag sal hoor: die hoeksteen.  Dit het gemaak dat hulle aanhou glo het, dat hulle aanhou hoop en veral volhard het. 

Lees 1 Pet 2: 4-10

Ek wil vanoggend stilstaan by die vraag: Wie is die kerk?  En om hierdie vraag te beantwoord moet ons na twee metafore in die teks gaan kyk. Die eerste is Jesus as lewende steen en die tweede is ons as lewende stene. En ek noem dit metafore omdat die partisipium ‘lewende’ wat ons hier voor ‘steen/klip’ kry, ‘n aanduiding van metaforiese gebruik is. Dit is ‘n beeld wat gebruik word om op ‘n gedagte uit te brei. Petrus brei hier uit op die idee van kerk. Hy vergelyk as te ware die kerk met Christus deur soortgelyke metafore vir albei te gebruik. Die kerk, sê hy, is soos Christus. Daarom word die kerk se identiteit ook afgelei van Christus. In vers 9 en 10 kry ons ook te doen met verskeie beelde uit die Ou Testament wat Paulus gebruik om gelowiges se identiteit te bepaal. Ek gaan weer hierna later verwys. Ooreenkomstige verse wat of na Christus of na die kerk verwys, help ons om te verstaan hoe hierdie metafore by mekaar aansluit:
Christus is die lewende steen(2:4)                              Gelowiges is lewende stene (2:4a)
Gelowiges is ’n geestelike huis (2:5)                           Christus is die hoeksteen van die huis (2:6a)
Gelowiges moenie beskaamd wees nie(2:6b)           Die hoeksteen verleen eer aan gelowiges (2:7a)

Christus as lewende steen
In vers 4 verwys Petrus na Jesus as die Lewende Steen, die een na wie toe die mense moet gaan.  Hierdie is nie die eerste keer dat die metafoor in so ‘n konteks gebruik word nie.  Jesus self het hierdie beeld gebruik in Markus 12 toe Hy die beeld van die Messias as die steen op Homself van toepassing gemaak het.  Ook in die vroeë Christendom lees ons dat ‘die klip’/’steen’ ‘n profetiese verwysing na Jesus Christus was. 
Een so ‘n voorbeeld is die aanhaling wat Petrus in vers 6 maak. Hy haal Jesaja 28:16 aan om te verduidelik hoekom gelowiges na Jesus, die lewende steen, moet kom en hulle tot ‘n geestelike huis moet laat opbou.  In hierdie aanhaling uit Jesaja word daar gepraat van ‘‘n hoekklip’.  Vandag gebruik ons dalk eerder die woord ‘hoeksteen’.  Destyds was ‘n hoeksteen meer as net ‘n simboliese steen met mense se name op, soos vandag.  Dit was ‘n reghoekige steen wat eerste gelê is.  Hierdie steen het dan die lyne waarvolgens die gebou gebou moes word, bepaal.  Die hele gebou is dan gebou volgens wat hierdie steen aangedui het.  Vandag sal iets soos ‘n waterpas baie van hierdie werk doen.

Net soos wat die gebou dan sy vorm/struktuur aanneem volgens die hoekklip, so word daar van die kerk gevra om haar oriëntasie van Jesus af te lei.  Hierdie geestelike huis wat hulle moet bou met die gemeentelede as die lewende stene, moet van Jesus, die hoofsteen, afgelei word. 
Met hierdie idee van Christus as hoeksteen is ons redelik bekend, maar wat dan nou van ons as stene?
Ons as lewende stene
In vers 5 word daar van die mense gevra om hulle te laat opbou as lewende stene tot ‘n geestelike huis.  Hierdie is egter ook nie die eerste keer dat so iets gesê word nie.  In Psalms 118 word Israel as die klip beskou wat deur ander volke verwerp is en as waardeloos beskou is, maar wie by God weer ‘n plek van eer toegeken is. 
Petrus kom vra van die kerk om hulle karakter, hul identiteit, af te lei van Jesus as lewende steen.  Elke gelowige is dus soos ‘n steen wat saam ‘n geestelike ‘tempel’ of ‘huis’ vorm.  ‘n Klomp gelowiges saam vorm nou hierdie ‘tempel’, soos in die Ou Testament, waarin God woon. 
Petrus vra van die gemeente dat hulle die stene van die tempel sal wees.  ‘n Klomp gelowige mense, wat lewende stene is, moet saam ‘n geestelike huis bou, en nie blote, gewone, klei bakstene nie.  Mense moet die gewone klip bakstene vervang en lewende bakstene wees.  Iets wat leef, wat lewendig is en dus die vermoë het om te kan beweeg.  Hierdie geestelike huis, gebou met lewende  stene, moet nie soos ‘n dooie gebou wees wat stilstaan nie, nee, dit moet tussen die mense beweeg.  Orals waar die gemeente gaan, daar moet die ‘tempel’ wees.  ‘n Lewende kerk gebou volgens die lewende waterpas van Christus.

‘n Koninklike Priesterdom...?
SO hierdie is nie ‘n nuwe of vreemde beelde vir die lesers nie. Hulle was goed bekend met hierdie metafore, maar dit bring my steeds by die vraag: Wat beteken dit vir ons?
In vers 9 beskryf Petrus hierdie geestelike huis as ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat God se verlossingsdade moet verkondig. 
Petrus noem die gemeente ‘n uitverkore volk:  soos wat Israel die uitverkore volk van God was, is almal wat hulself nou laat opbou as lewende stene en deel vorm van hierdie geestelike huis, die uitverkore volk.  God roep nou Christene vanuit alle nasies, rasse en volke om getuies van SY dade te wees.  Petrus tref geen onderskeid tussen Jood en Heiden nie.  Almal kan nou deel wees van hierdie uitverkore volk. 
Hulle is ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, en laastens, hulle is die volk wat God se verlossingsdade moet verkondig.  As Petrus noem dat hulle ‘n koninklike priesterdom is, dan vra hy dat hulle soos priesters die verhouding tussen God en ander mense bemiddel.  Hy vra van hulle om heilig te leef – want hulle is ‘n nasie wat afgesonder is vir God, net soos die priesters afgesonder was vir God. 

Wat kom vra die teks vandag van ons?
So as hierdie dan ook waar is van ons en ons self hierdie lewende stene is en dus ook ‘n heilige priesterdom is, watter implikasie het dit vir ons woon- werk- en speelplek. Hoe beïnvloed dit die manier wat ons ons eie gestuurdheid verstaan?
In die Burger-rubriek ‘Godsdiens-Perspektief’ ‘n tydjie gelede, skryf Stephan Joubert onder die opskrif “Christus se volgelinge is Sy aardse adres” die volgende:
“Iemand vra onlangs ’n vriend van my waar die een of ander kerk is. “Sien jy die dame wat daar anderkant in die koffie restaurant sit?” sê hy. “Sy is ’n volgeling van Jesus. As jy die kerk soek, gaan praat dadelik met haar.”

Is dit nie hoe die kerk moet wees nie?  Meeste mense koppel ‘die kerk’ aan ‘n gebou, of ‘n plek waar daar op Sondae bymekaargekom word.  Dit is nie dat dit verkeerd is om daardie konnotasie te maak nie – kerkgeboue is tog ‘n spesiale plek, dit is tog ‘n plek waar baie van ons vir God kan ervaar, ‘n plek waar ons vir God saam met verskeie ander gelowiges aanbid. 

Maar sien, ‘n kerkgebou is niks heiliger as enige ander plek of gebou nie.  Daarom kan ons nie van die kerk praat as die ‘huis van die Here’ nie.  Petrus kom bevestig dit in hierdie brief.  Maar hy is nie die enigste een nie.  Paulus skryf in sy brief aan die Korintiërs drie keer dat God nie in geboue van klip en steen woon nie, maar in menslike tempels. Petrus praat van die lewende stene:  ons, sy volgelinge, is nou die huis van die Here. 
Daarom, wanneer klomp volgelinge van Christus op Sondae in ‘n kerkgebou saamkom, is dit waar dat dit die huis van die Here is, want al die ‘lewende huise’ of ‘lewende stene’ wat hier saamkom, vorm die huis van die Here.  Die doel van die kerk is om ‘n plek te wees waar mense versterk word, ‘n plek waar mense se wonde geheel word, ‘n plek waar ons saam leer, ‘n plek waar ons God loof.
Maar ‘kerk’ hou nie op sodra die erediens verby is nie.  As die ‘lewende stene’, ek en jy, by hierdie deure uitstap, dan vat ons ‘kerk’ in die wêreld in.  Dan moet ons gaan kerk wees daar waar ons ‘woon, werk en speel’.  Ons kan dus nie ‘kerk’ meet aan hoeveel projekte of bedienings hierdie gebou / gemeente het nie, maar eerder aan die vraag: waar is die kerkgangers betrokke?  Is die lewende stene van die kerk besig met verhoudings gedrewe aksies?  Is ons besig om die armes te versorg, met die ondersteuning van die wat alleen is, die siekes, die straatkinders, die jongmense, die bejaardes, die wat soekend is?

Kom ek noem nog paar voorbeelde:
Boer wat een keer ‘n week in sy huis saam met sy werkers Bybelstudie doen en Saterdae saam met hulle rugby kyk. Dit is kerk.
Prokureur wat 50% van sy tyd gee om mense te help wat nie ‘n prokureur kan bekostig nie. Dit is kerk.

Daarom is vandag se tema:  waar ons woon, werk en speel.  Juis na hierdie plekke, daar waar ons elke dag besig, daarheen is ons gestuur.  Juis daar kan ons ‘n verskil maak.  Juis daar moet ons kerk wees.
Wanneer ons hierdie dinge begin doen, wanneer ons ons identiteit van Christus aflei en gaan optree met Jesus as die hoeksteen, die waterpas, die rigting-aanwyser, eers dan het ons samekoms op Sondae werklik sin.  Nie anders om nie.