Sunday, September 30, 2012

Preek 30 September 2012


Spreuke 9: 1-6

Verbeel julle die volgende toneel. In die Bybelse tyd was daar gewoonlik ‘n plein in die middel van die stad. Dis waar die mense bymekaar gekom het vir byeenkomste, dorpsvergaderings en waar hulle handel gedryf het op die dorpsmark. Stel julle voor daar is ‘n klomp mense wat saamdrom op die stadsplein. Weerskante van die stadsplein staan 2 groepe mense en roep. Hulle roep na die mense in skare, veral die jonger mense wat nog onervare is en nog min kennis het.
Die een groep wat staan en roep verteenwoordig wysheid. Hulle nooi die jongmense na wysheid se huis, waar die tafels gedek staan met die heerlikste eet en drinkgoed. Die jongmense moet net kom.
Die ander groep wat staan en roep verteenwoordig dwaasheid. Hulle nooi ook die jongmense na ‘n feesmaal, maar dit is ‘n rowwe partytjie, waar daar allerhende snaakse goed gebeur.
Wysheid se feesmaal bring insig en lewe. Dwaasheid se feesmaal bring onkunde en die dood. Wysheid bring lewensvreugde. Dwaasheid bring lewensmoeilikheid.

Dis wat in hierdie teks gebeur. Dit gaan oor die stryd tussen wysheid en dwaasheid en die jongmense wat moet kies wie se uitnodiging hulle gaan aanvaar. Ongelukkig lyk dit vir my asof baie mense val vir dwaasheid se uitnodiging.

Kom ons kyk waaroor gaan Bybelse wysheid. Wysheid in die Ou Testament gaan nie oor intellektuele kennis nie. Die mense van die Ou Testament het geglo daar is ‘n sekere orde in die skepping. En wysheid het daaroor gegaan dat mens hierdie orde moet leer ken en dan jou lewe daarvolgens moet inrig. Wysheid is met ander woorde nie kopkennis nie, dis prakties. Dit gaan oor die vermoë om die regte dinge op die regte tyd te doen. Dit gaan daaroor om die regte dinge op die regte tyd te sê. Dit gaan oor wat jy dink, wat jy doen en hoe jy optree. En dit gaan oor jou mense wees, die tipe mens wie jy is. Ons kan dus sê dat wysheid is hart-en-hand kennis.  

Kom ek vertel gou vir julle ‘n storie wat hierdie tipe wysheid illustreer.
Dis ‘n storie uit die lewe van Henry Ford. Hy was mos die eerste ou wat karre vir gewone mense begin bou het. Hy het kragopwekkers vir sy motorfabriek nodig gehad. Hy vra toe ‘n elektrisiën om die kragopwekkers te bou. Sy naam was Charlie Steinmetz om dit te doen. Hy bou dit toe en alles werk goed. Eendag het hierdie kragopwekkers skeilik tot stilstand gekom met die gevolg dat produksie tot stilstand kom. Henry Ford se mense kon nêrens die fout opspoor nie en hy laat kom toe vir Charlie Steinmetz om die fout te kom regmaak. Hy kom toe en bekyk eers die kragopwekkers van naderby en hy begin toe kap aan die kragopwekkers. Nadat hy ‘n rukkie daaraan gekap het, sit hy die skakelaar aan en dit kragopwekkers begin weer werk. Hy stuur toe vir Henry Ford ‘n rekening van ‘n $1000. Ford was bietjie moeilik oor die hoë rekening en hy doen toe navraag daaroor. Steinmetz se antwoord was toe: Dis $10 vir die gekap en $990 om te weet waar om te kap.   

Dis hoe wysheid in die Bybel werk – dit help jou om te weet wat om te doen en wat om te sê op die regte tyd. Dis praktiese wysheid.

Die Bybel leer ons dat hierdie wysheid kry ons net by God.

Psalm 111: 10 leer ons: “Wysheid begin met die dien van die Here; almal wat dit doen het ware insig”. 
Wysheid het niks te doen met ‘n hoë IK of ‘n klomp grade nie. Dit het alles te doen met jou verhouding met God. Dis waar dit begin.
William Wordsworth het gesê: Wysheid is nader as ons kniel as wanneer ons vlieg
Hoe meer jy groei in jou verhouding met God, hoe wyser word jy. Dis hoekom dit so belangrik is om tyd met God te spandeer.

Ek wil gou vir julle lees wat George Bernanos hieroor geskryf het: “dit het nodig geword dat ons weer ‘n ‘gesonde verstand’ kry. Wat nie beteken dat ons meer koelkop en nugter moet wees nie, maar dat ons verstand gesond gemaak moet word deur die Herskepper, deur die Gees van God. Ons verstand moet ‘gesond’ word in die sin dat ons nie meer beslissings sal maak op sterkte van mense se opinies en oordele nie, maar dat ons verstand ons sal aanspoor om ten diepste uit die hand van God te leef en voor God te dink en beplan.”

Wysheid begin by my verhouding met God. Dis om uit die hand van God te leef, voor God te leef en Hom in alles te ken.

Maar hoe lyk ‘n wyse lewe? Ek het sommer so ‘n klompie goed bymekaar gesit. Die teks praat van wysheid wie se huis 7 pilare het. In die Bybel is 7 God se getal, die heilige getal. Die wyse getal. So ek het gereken ek gaan 7 goed noem om ons te help verstaan hoe ‘n wyse lewe lyk.

1. Wyse mense sien hulleself soos God hulle sien. God wil hê dat ons onself moet sien as Sy geliefde kinders. Nie om ons hoogmoedig of belangrik te laat voel nie, maar om vir jou vrede en sekerheid te gee.

2. Wyse mense kyk anders na ander mense. Alle mense is God se geliefdes . dit beteken ons moet ander mense soos God se geliefdes . Ons moet hulle sien soos God hulle sien. En ons moet mense insluit en nie uitsluit nie.

3. Wyse mense is goeie rentmeesters. Ons leef in ‘n materialistiese wêreld, waar mense al hoe meer goed opgaar. Dis mense wat besef dat hulle nie al hulle goed eendag saam hemel toe kan vat nie. Soos iemand gesê het: ‘n doodskis kom nie met ‘n sleepwa nie. Dis mense wat weet dat alles van God af kom. Dis mense wat dankbaar is vir wat hulle het. Wat tevrede en vergenoegd is met wat hulle het. Dis mense wat met oop harte en hande leef.

4. Wyse mense maak tyd vir stilword. In hierdie besige samelewing van ons is dit nodig dat ons soms ook moet stilword. Jesus stel vir ons ‘n wonderlike voorbeeld, Hy het gereeld tyd gemaak om stil te word.
Patrick Brennan het gesê: “Our lives ought not to be all busyness. Our lives ought not to result in the “hurry” sickness that we see in our culture. Overly busy people become emotionally spiritually depleted.”
In ons huis praat ons van “me-time”. Dis tyd op jou eie. Ons mag dit vir onsself toe-eien en ons moet dit respekteer en vir mekaar gun.

5. Wyse mense loop die pad van vergifnis. Mense moet jouself en ander mense vergewe, omdat God ons vergewe het. Dit maak ook jou lewe ligter, want onvergewensgesindheid maak jou ‘n bitter mense. Dit maak dat jy ‘n swaar vrag bagasie met jou saamsleep. Dit steel jou lewe.

6. Wyse mense is oor niks spyt nie. Wyse mense weet dat die lewe tydelik is. Daarom moet jy die meeste maak van jou lewe. Jy moet die meeste maak van die geleenthede wat God oor jou pad bring. Mens moet die lewe vier en nie aan die einde van jou lewe spyt wees oor ‘n klomp goed nie.

7. Wyse mense is leerbare mense. Dis mense wat nie net vasgevang is in hulle eie idees en opinies nie. Dis mense wat oop is om nuwe dinge te leer en te ervaar. Dis mense wat na ander se opinies en idees kan luister. Dis veral mense wat oop is vir God se leiding en die paaie waarop Hy jou wil neem.

Terug by die toneel op die stadsplein waar wysheid en dwaasheid na ons roem. Kom ons maak die wyse keuse om op wysheid se uitnodiging te reageer. Dit gee vir ons ‘n voorsprong in die lewe. Sonder wysheid is dit soos om met ‘n donkerbril deur die lewe te gaan. Alles lyk dowwer en slegter en dis makliker om te kla.
Om met wysheid deur die lewe te gaan is om die wêreld in al sy wonderlike volheid en mooiheid  raak te sien en te beleef. Dis om gelukkig, tevrede en vergenoegd te wees. Kies wysheid en kies die lewe!    

Sunday, September 16, 2012

Preek 16 September 2012


Die hel…                          Sondag 16 September 2012
Ek het grootgeword met die hel baie laag op my radar… Trouens, die hel was nie in my wêreld toe ek ‘n jong kind was nie! Die hel was ‘n uiters klein ‘blip’ iewers aan die verste grense van my bewussyn.
Toe ek in St. 5 (graad 7) “tot bekering kom” het die hel egter ‘n prominente plek in my wêreld gekry! Die amper onsigbare ‘blip’ het ‘n enorme groot ‘blob’ geword wat heeltyd by my was. Ek was met vrees gevul en my eerste jare as gelowige word gekenmerk as vreesbevange jare waarin ek my uiterste probeer het om die klewende, oorweldigende, oorheersende vooruitsig van die HEL van my af weg te kry! Ek het met elke greintjie energie probeer om ‘n “goeie lewe te lei” sodat ek nie te lig gevind sal word as God my oordeel nie!
Daar was spesifieke teksgedeeltes wat my soos slawedrywers voortgejaag het:
§  Mattheus 5:22 - …wie sy broer uitskel vir 'n idioot, is strafbaar met die helse vuur.
§  Mattheus 10:28 - Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.
§  Mattheus 18:8-9 - “As jou hand of jou voet jou van My afvallig maak, kap hom af en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om vermink of kreupel die lewe in te gaan as om met altwee jou hande of voete in die ewige vuur gegooi te word. En as jou oog jou van My afvallig maak, ruk hom uit en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om met een oog die lewe in te gaan as om met altwee oë in die vuur van die hel gegooi te word.”
§  Mattheus 25:41-43 - “Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.’ En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.”
§  Mattheus 13:40-43 - “Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son. “Wie ore het, moet luister.”
Ek het ore gehad en ek het geluister! Maar, maak nie saak hoe hard ek probeer het nie, ek kon nooit op ‘n punt kom waar ek na myself kon kyk en “goed genoeg” voel nie… Ek moes uiteindelik breek onder hierdie las wat ek myself opgelê het – en toe kon God se genade my weer aanmekaar sit, heelmaak, as God se geliefde kind. Verlig, vry, heel, goed… Die hel was steeds GROOT, maar groot en VER! Weg van my af…
In die daaropvolgende jare lees ek toe die boek “A divine revelation of hell”, deur Mary Katherine Baxter. Sy glo dat Jesus haar vir 30 nagte na die hel toe geneem het, sodat sy ‘n boek kon skryf oor haar ervaring, sodat mense hulle sal bekeer!
Sy skryf vroeg in hoofstuk 1:
Screams filled the air as we came near the base of the tunnel. Piercing cries came up the dark tunnel to meet us. Sounds of all sorts filled the air. I could feel fear, death and sin all around me. The worst odour I have ever smelled filled the air. It was the smell of decaying flesh, and it seemed to be coming from every direction. Never on earth had I felt such evil or heard such cries of despair. Soon I would find that these were the cries of the dead and that hell was filled with their wails.
I felt a gust of evil wind and a small suction force ahead of us. Lights like lightening or strobe flashes penetrated the black darkness and threw gray shadows on the walls. I could barely make out the form of something in front of me. I recoiled in shock when I realized that it was a large snake moving along ahead of us. As I continued to look, I saw those ugly snakes were slithering about everywhere.
And that was just the right wing of hell! She had me…! Só het die hel min of meer 50 keer groter geword in my wêreld…!

In die jare daarna het ek geestelik gegroei en stelselmatig tot rus gekom binne die wonderlike, helende, beskermende, opbouende, ‘reassuring’ kring van God se onvoorwaardelike liefde. En hoe groter God se liefde geword het, hoe kleiner het die hel geword… Dit het stelselmatig weer terug verander in die klein, amper onsigbare ‘blip’ op die uiterste grens van my bewussyn…

Dis alles baie interessant; baie waar; ‘n ervaring waarmee baie Christene dalk kan identifiseer. Maar: GEEN van my ervarings het veel van ‘n verband met wat in die Bybel staan nie! Trouens, voor hierdie preek was my prentjie van die hel aansienlik nader aan die Griekse mitologie as aan die oortuigings van Jesus en die Bybelskrywers. Ek het vir die eerste keer in jare regtig iets nuuts geleer
In short: we face two problems, which I will address in this sermon. 1) Our conception of ‘hell’ is somewhat mistaken and deeply influenced by Greek mythology and 2) ‘eternity’ is understood incorrectly.

Hades binne die Griekse mitologie:

In die Griekse mitologie is Zeus die heerser van die hemele, Poseidon die heerser van die see en Hades die heerser van die onderwêreld.
The underworld was where the souls of the dead went. Hades was stern and pitiless, unmoved by prayer or sacrifice; he presided over the trial and punishment of the wicked after death. Under his watchful eye, the 3 judges of the dead (Minos, Aeacus, and Rhadamanthus) assigned to each soul its appropriate dwelling-place where they would spend eternity.
The virtuous were rewarded with eternal residence in the Elysian fields, a peaceful and beautiful region of the underworld, full of meadows, groves, sunlight and fresh air.
Wrongdoers’ were sent to Tartarus, the lowest section of the underworld; a deep, gloomy type of pit or dungeon of torment. There the wicked were punished in ways that fitted their crimes – for all eternity! Punishment included food or water forever being out of reach, being tortured by vultures, being burned by fire and being whipped by monstrous guards.
Dis nie moeilik om te sien hoe hierdie prentjie die spring-plank kan wees vir ‘n verstaan van die ‘hel’ as ‘n plek waar die siele van ongeredde mense na ‘n plek van verskrikking verdoem word, waar hulle gestraf word met ‘n ewigheid van lyding, nie…
Maar is dit ‘n Bybelse prentjie van die hel?

1.     Hel volgens die Bybel

‘Sheol’ in die Ou Testament

Die woord ‘sheol’ is die Hebreeuse woord vir ‘hel’. Die woord ‘hel’ kom nie een keer in ons Afrikaanse vertaling voor nie. In baie letterlike vertalings soos die King James en die 1916 Nederlandse vertaling, tref ‘n mens dit wel aan. Die woord ‘sheol’ word 62 keer in die Ou Testament gebruik. Dit word soms met ‘hel’ vertaal en ander kere weer met ‘graf.’
Volgens die “Jewish Encyclopaedia” is ‘sheol’ ‘n misterieuse plek ‘onder’ die aarde (onthou, die Bybelskrywers het geglo die aarde is plat). Dis die plek wat die verste weg is van die hemel, waar God is. Dit word verstaan as ‘n donker, beklemmende plek van Godsverlatenheid… Dit verwys nie nét na die fisiese plek waarheen jy gaan as jy sterf nie – die graf.  That is the very narrow sense of the word Sheol: the place where people go when they die: the grave - a dark, concealed place where life is no longer possible. Die Bybelskrywers (en Jode vandag nog) glo ‘n mens kan lewe en in sheol wees… Dis ‘n toestand van wanhoop. Daardie plek waarheen ‘n ouer gaan as hulle ‘n kind aan die dood afstaan – die plek van wanhoop, ontroosbare hartseer en ‘n onvermoeë om lig te sien – dis ‘sheol’!
Luister na ‘n paar teksgedeeltes:
1.      Job 14:13 - As U my maar liewer in die doderyk (sheol) wou wegsteek, my daar wou hou tot u toorn afgekoel het…
2.      Ps. 16: 8-10 - Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig. U gee my nie oor aan die dood (sheol) nie. U laat u troue dienaar nie in die graf (sheol) kom nie.
3.      Ps. 18: 6 – Bande van die dood (sheol) het my omsluit, strome van onheil (maweth = state of death) het my verskrik.
4.      Ps. 31: 18 - Here, laat my nie teleurgestel staan in my verwagting as ek U aanroep nie. Laat die goddelose teleurgestel staan in hulle verwagting, laat hulle die stilte van die doderyk (sheol) ingaan.
5.      Ps. 116:3 - Bande van die dood (sheol) het my omsluit, doodsangs het my aangegryp, ek het benoud en bekommerd geword.
6.      Ps. 103: 4 - Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, wat my red van die graf (sheol) en my met liefde en ontferming kroon, wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk.
In hierdie laaste vers is die Ou Testamentiese skrywers se verstaan “lewe” en “dood” besonder duidelik. Hulle het nie ‘lewe’ verstaan as ‘asem haal’ en ‘dood’ as ‘ophou asemhaal’ nie. Nee, veel meer! Indie woorde van Ps. 103: 4 - “Lewe” is om vergewe te wees, gesond te wees, met liefde omring te word, die goeie in oorvloed te geniet en die krag hê om bo alle kwellinge uit te styg, soos ‘n arend. “Lewe” is ‘n manier van bestaan in verhouding met God, vanuit die krag van God; die lei tot die ervaring van vrede, krag, gesondheid, oorvloed en veiligheid.
“Dood” / hel / sheol, darenteen, is ‘n manier van lewe sonder God; dit lei uiteindelik tot die ervaring van wanhoop, gebrokenheid, trauma, kommer, doodsbenoudheid en vrees… Alles wat in sommige vertalings met ‘hel’ vertaal word, verwys na hierdie ervaring en toestand.

‘Gehenna’, ‘hades’ en ‘tartaroo’ in die nuwe testament

Daar is 3 Griekse woorde wat met ‘hel’ vertaal word: ‘gehenna’, ‘hades’ en ‘tartaroo’. Gehenna kom 12 keer voor; Hades 10 keer en Tartaroo 1 keer.
§  Gehenna = Griekse vertaling van die Hebreeuse woord Gêhinnōm, wat beteken ‘Hinnom vallei / Hinnomdal’
§  Hades = kom van twee woorde wat nie’ en ‘sien’ beteken = plek waar jy nie gesien kan word nie; place where you are concealed; unseen place
§  Tartaroo = om in Tartarus (mitologiese ‘torture dungeon’) gewerp te word
Hierdie woorde word egter nie elke keer in die Nuwe Testament met ‘hel’ vertaal nie. Die woord ‘hel’ kom 12 keer in die Afrikaanse Nuwe Testament voor. Die eerste 11 keer is dit Jesus wat ‘gehenna’ gebruik; die laaste keer is in 2 Petrus 4 waar Petrus ‘tartaroo’ gebruik. Die res van die tyd word die woorde vertaal met ‘doderyk’ en ‘dood’.

Gehenna: Hinnomdal

Elke keer as ons Bybel die woord ‘hel’ in Jesus se mond sit, is dit die woord ‘gehenna’. Soos ek reeds gesê het, is ‘Gehenna’ die Griekse vertaling van Gêhinnōm, wat vertaal word as "Hinnomdal". Dit was ‘n vallei naby Jerusalem waar al die stad se vullis gegooi en verbrand is. Daar was vure wat onophoudelik gebrand het en mense het hulle vullis in die vuur gegooi. Daar was ‘n klomp roofdiere en ‘scavengers’ wat skrapsels kos uit die vuur probeer gryp het (vleis wat mense nie meer kon eet nie, maar wat die diere nog kon eet). As ‘n mens daar gestaan het, kon jy die diere se tande hoor kners soos hulle aan kos knaag en na skrapsels vleis gryp…
Daar word vroeg in die Ou Testament al na die Hinnomdal verwys. Dit was ‘n gehate, onheilige plek waar mense by tye hul kinders aan die god Molek geoffer het en waar hulle soms lyke gegooi het van ‘onwaardige’ mense. Dis juis omdat die Hinnomdal so gehate plek vir die Jode was dat hulle niks daar wou plant nie en geen dier daarheen wou neem nie. Al waarvoor die Hinnomdal goed was, was vir vullis…
Luister wat sê God in Jeremia 7: 30 – 32: Die Judeërs het gedoen wat verkeerd is in my oë, sê die Here: hulle het hulle afskuwelike afgode gesit in die huis wat na my Naam genoem is en dit so ontwy. Hulle het die hoogte van Tofet in die Ben-Hinnomdal gebou om daar hulle seuns en dogters in die vuur te offer. Dit was teen my bevel, so iets het selfs nie in my gedagte opgekom nie. Daarom kom daar dae, sê die Here, dat hulle dit nie meer Tofet of Ben-Hinnomdal sal noem nie, maar Moorddal. Hulle sal daar mense begrawe omdat daar nie elders meer plek sal wees vir grafte nie.
ELKE keer (sonder uitsondering) as Jesus van ‘die hel’ praat – soos in Mat. 5: 29 “dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word” - verwys hy na daardie vullishoop, waar jy die diere se tande kan hoor kners en waar die vuur nooit ophou brand nie. Hy verwys nie na een of ander ewige poel van vuur nie.
Hy sê eintlik “as jy só optree dat jy afbreek en seermaak en wanhoop veroorsaak, is jy soos vullis; goed vir niks; nutteloos; ons kan maar van jou ontslae raak, want jy voeg geen waarde toe nie…” Dit is net ander woorde vir “julle is die sout van die aarde (wat moet geur gee en kos teen bederf moet beskerm); as sout verslaan het, watter nut het dit nog? Ons gooi dit weg en die mense vertrap dit…” Jesus sê presies dieselfde ding as hy sê jy kan maar in die hel (gehenna; die vullishoop) se vuur gegooi word!

Hades: the underworld

Hades kom 10 keer in die Nuwe Testament voor. Jesus gebruik die woord 4 keer; dit kom 2 keer in Handelinge voor en 4 keer in Openbaring.
Hades word op twee maniere gebruik:
1.      By tye word dit gebruik as vertaling van ‘sheol’, met dieselfde betekenis as die Ou Testament.
§  ‘n Voorbeeld is Handelinge 2: 26-27 (waar daar uit die Psalms aangehaal word): Daarom is my hart bly en my tong jubel, ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe, want U (Jesus) sal my nie aan die doderyk (hades) oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.
§  Therefore…my body will rest in hope, because you (Jesus) will not abandon me to the realm of the dead, you will not let me see decay.
§  Saam met Jesus, in God, is daar lewe, vreugde en dankbaarheid. God keer dat ‘n mens ‘die doderyk’ beleef. Jy kan rustig wees, die uitsigloosheid, agteruitgang en wanhoop van sheol / hades sal jou gespaar bly.
2.      Die tweede manier waarop ‘hades’ gebruik word, is om te sê dat die mitologiese onderwêreld nie ‘n bedreiding vir die kerk en gelowiges inhou nie.
§  In Mat. 16: 18 sê Jesus: En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk (hades) sal dit nie oorweldig nie. Moenie bang wees vir ‘hades’ nie, Petrus. Dit hou geen bedreiging in vir gelowiges nie!
§  In Openbaring 1: 17-18 lees ons: Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood (thanatos = fisiese of geestelike dood) en die doderyk (hades).
§  Jesus sê: Ek het die ‘dood’ vir altyd oorwin met die ‘lewe’. En hy spesifiseer: die geestelike dood wat ‘n mens al in die lewe kan beleef, sowel as ‘hades’. Julle hoef vir geen prentjie of ervaring van ‘dood’ bang te wees nie! Dit hou vir gelowiges geen bedreiging in nie!

Tartaroo = om in Tartarus te werp

Kom net 1 keer in die Nuwe Testament voor en verwys na hemelse wesens, nie mense nie.
2 Petrus 2: 1-4
Maar daar was ook vals profete onder die volk, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het, verloën. So sal hulle hulleself baie gou in die verderf (apóleia = ruin, destruction) stort. Baie mense sal hulle losbandigheid navolg, en deur hulle toedoen sal mense kwaad praat van die Weg van die waarheid. In hulle hebsug sal hulle julle met allerhande stories uitbuit. Maar hulle vonnis is lankal gevel, en hulle ondergang (apóleia = ruin, destruction) is onafwendbaar. (Hoekom? Want God laat hulle eenvoudig nie toe om te seëvier nie! God wen áltyd!) God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel (tartaroo) gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel.

2.     Tot in ewigheid

Kom ons vat net vining saam voor ons by die laaste punt kom:
1.      Die eerste eienskap van ‘n tipiese, modern prentjie van die hel, is dat dit ‘n aaklige, droewige plek is waar die siele van ongeredde mense aan onophoudelike lyding onderwerp word… Ons het gesien dat hierdie prentjie ‘heidens’ (pagan) is en dat dit die Griekse mitologie onmiskenbaar reflekteer. Die Bybelse prentjie van die hel is ‘n toestand van Godsverlatenheid, wanhoop, vrees, angs, ontroosbare hartseer, donker, beklemming, kommer, benoudheid en moedeloosheid… Hel is die vullishoop waar jy hoort as jy ‘dood’ (al bogenoemde) met jou dade bevorder; as jy nie waarde toevoeg nie; nie opbou nie; nie ‘meer’ maak nie; nie nut het nie; nie God se koninkryk laat kom nie…
2.      Die tweede eienskap van ‘n tipiese, modern prentjie van die hel, is dat die arme, verdoemde siele tot in alle ewigheid in daardie droewige plek van lyding sal bly… Maar ook dít is ‘heidens’ en nie Bybels nie!

Mattheus 25:41-43

Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige (aiōnion) vuur (‘pur’, ‘n woord wat met ‘vuur’ of ‘trails’ vertaal kan word; lees die voetnota: dis die Griekse leksikon se beskrywing van die woord ‘pur’) wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.’ En hierdie mense sal die ewige straf (aionion kolasin) ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.
§  Die bokke ontvang aionion kolasin – vertaal as die ‘ewige straf’
§  Aonion = kom van die woord aiṓn wat beteken ‘n ‘periode van tyd’ (die engelse woord ‘aeon’ wat era; age; epoch; long, indefinite period beteken)
§  Kolasin (grondwoord is kolasis) kom van die woord wat ‘trimming’ of ‘pruning’ beteken; ‘kolasin beteken chastisement, discipline, rebuke, correct
§  “Aionion kolasin” is ‘n onbepaalde tyd van ‘snoei’, regstel, dissiplineer, korrigeer. Dit het beide ‘n einde en ‘n einddoel: korreksie.
§  Om “aionion kolasin” te vertaal as “ewige straf” is baie misleidend…
Maar DIT is die tems van ‘n volgende preek…

gevolgtrekkings

Ek het gesê ek wil te minste 3 preke ná hierdie een preek.
§  Een is oor ‘n spesifieke teks: Lukas 16: 19 – 31 (die ryk man en Lasarus)
§  ‘n Tweede preek gaan in groot detail, met baie Skrifverwysing, aantoon hoe God ALTYD weer genade betoon en hoe die ‘lewe’ altyd wen. Soms ‘oordeel’ God (soos vir Sodom en Gomorra), maar sy ‘oordeel’ behels ‘n ‘onbepaalde tydperk van korreksie/snoei’. As God die nodige korreksie gedoen het (die vuur wat rein gemaak en getransformeer het), toon hy altyd weer genade! Selfs vir Sodom en Gomorra…! Julle hoef my nie vandag te glo nie… Ek sal dit uit die Skrif vir julle wys!
§  Die derde preek is om seker te maak julle my nie verkeerd verstaan en dink ek sê dat die hel nie bestaan nie! Want die hel bestaan! Die ‘hel’ is baie werklik en baie sigbaar. Jesus se waarskuwing dat dit beter is om jou oog uit te kap eerder as om as gevolg daarvan te sondig, is glad nie vergesog nie…!
Soos in baie ander gevalle (dink maar aan die paashaas, kersboom en kersvader) besef ons nie altyd hoe baie ons as Christene deur heidense bygelowe en gebruike beïnvloed word nie. Die prentjie van die hel as ‘n plek waar ongeredde siele tot in ewigheid boet, het meer wortels in die Griekse mitologie as in die Bybel.
In die Bybel leer ken ons ‘n God van onbeskryflike liefde en onuitputlike genade. Waar God toegelaat word, floreer mense. Die karaktereienskappe van mense wat met God in ‘n verhouding is, is lewe, vrede, dankbaarheid, heelheid, oorgawe, ‘wholesomeness’ en liefde. Dit is wat God wil bewerk – and God will do whatever it takes! Golgota is ‘whatever it takes’!
Die teenpool van ‘Lewe’ wat in God bestaan, is ‘Dood’ wat sonder God die gevolg is. Die eienskappe van hierdie toestand is wanhoop, beklemming, donker, vrees, uitsigloosheid, apatie, onvergenoegdheid, doodsbenoudheid en haat… Enige iemand wat ‘dood’ bevorder, is ‘n teenstander van God, ‘n dwaalleraar! God (en die ‘lewe’ wat in God is) sal altyd sulke mense tot ‘n val bring! Lewe oorwin altyd dood!
Vanoggend wil ek graag hê julle moet met twee gewaarwordings hier wegstap:
1.      Ons tipiese prentjie van die hel – die een wat ongekende vrees wek – kom van die Griekse mitologie en is nie Bybels nie. Die Bybel se hel is ‘n toestand sonder God – ‘n toestand van wanhoop, onvergenoegdheid, eensaamheid en beklemming, waarvan God mense wil verlos! Niemand hoef bang te wees vir die ‘hades’ van ouds nie! Let it go!
2.      Die Bybel se hel is ‘n toestand wat op aarde al beleef word. Evangelisasie moenie mense bang maak met ‘n hel wat vir hulle wag nie! Dis nie God se styl nie! God oorwin met liefde! Evangelisasie moet mense verlos van die hel; dit moet vir mense hoop gee, en vrede; geloof om die dood en hel te oorwin met LEWE.
God se lig, lewe, heling, vrede, vreugde, dankbaarbaarheid, vergenoegdheid en oorgawe moet in ons lewens sigbaar wees! Ons moet sout en lig wees! Ons moet meer maak en waarde toevoeg en opbou en aanmoedig en hoop gee…! Want as ons afbreek en minder maak en seer maak het ons geen nut vir God nie, werk ons teen God en is ons goed vir die vullishoop… Kom ons SPREEK lewe, BRING lewe en WYS lewe! Ons is immers kinders van God en agente van Lewe!


Sunday, September 9, 2012

Preek 09 September 2012


Die onvergeeflike sonde (Sonde teen die Heilige Gees)


Ons is nou in die tweede week van ons ‘Sticky Toffee’ reeks.  Johannes het laasweek, soos wat jul hopelik onthou, oor die Uitverkiesing gepraat.  Hierdie week het hy vir my die moeilikste tema gegee, naamlik die Onvergeeflike sonde.  So deur die week, terwyl ek probeer het om hierdie toffee te kou, moet ek erken dat ek party dae gedink het die toffee is besig om my te kou.  Wat sê mens oor die Onvergeeflike sonde?  Is daar werklik so iets?

Ek het egter bietjie beter gevoel toe ek in een van die beste kommentare, The word biblical Commentary die volgende gelees het:  Without question, this is a difficult passage, that does not exactly encourage the optimism in the exegete (die persoon wat die teks probeer uitlê/verduidelik.  We remain stumped.

Dit is nou wat die hoogsgeleerde mense sê...nou wat sal ek daaroor sê. 

Ek gaan begin deur die twee gedeeltes te lees waar ons hoor van hierdie sonde.

Matt 12: 31-32
Heb 10: 26

Kom ek begin deur te noem:  as ons die uitdrukking ‘onvergeeflike sonde’ gebruik, soos wat ons in Heb lees en soos ons daaroor praat, dan beteken dit tog dat daar is sonde is wat erger is as ander sondes, dat dit eintlik in ‘n hele ander kategorie val.  Probeer dit vir ons sê dat daar ‘n verskil is tussen sondes? 

Ou Katolieke Tradisie
As ons kyk na die ou Katolieke tradisie, sien ons dat hulle onderskeid gemaak het tussen 1) vergeeflike sondes en 2) doodsondes.  Vergeeflike sondes is darem nou  nie so erg nie en ons kan vergifnis daarvoor kry deur te berou en ons sondes te bely.  Doodsondes aan die ander kant, was volgens hierdie ou Katolieke tradisie baie erger.  As jy dit gedoen het, het jy die genade van God verloor.  As jy dit dan wou terugkry, kon jy dit net doen deur die boetesakrement!  Jy moes betaal het!! 

Calvyn
Die bekende teoloog Calvyn het egter sterk standpunt ingeneem teen hierdie idee dat ons sondes kan gradeer, dat sekere sondes erger as ander is.  In ons gereformeerde teologie was daar maar nog altyd ‘n mate van gradering.  Daar was tye wat ons bv. onderskei het tussen ‘klein’ private sondes wat ons deur belydenis kon wegwas, maar daar was ook groter publieke sondes, wat ons net kon wegkry deur kerklike tug.  As jy jou vriend sou te nakom, sou die kerkraad daaroor moes besluit en hulle sou jou kon weier om nagmaal te gebruik vir ‘n sekere tydperk, of jy mag dalk nie kerk bygewoon het nie.  Ek het ‘n vriendin wat drie weke uit die kerk geskors was omdat sy ‘n tattoo gekry het...

Terug by Calvyn – waarom het hy hierdie reaksie gehad teen die ‘gradering’ van sondes?  Hy was nie so erg teen die gradering as wat hy was teen die term vergeeflike sondes nie.  Dit het die indruk gegee dat sekere sondes baie erg is  - die doodsondes, en ander glad nie so erg nie.  As ons so praat, dan misken ons die erns van sonde.  Dit is baie duidelik dat God enige sonde haat.  Klein of groot.  Alle sonde, nie net hierdie sogenaamde doodsondes nie.  Alle sondes was so erg dat hy uiteindelik sy Seun moes laat ly het, dat Hy sy seun aan ‘n kruis laat sterf het, sodat ons van al ons sondes vergewe kan word. 

As ons as gelowiges van een of ander vorm van gradering praat, kan ons nie onderskei tussen minder erge sondes, vergeeflike sondes of doodsondes nie.  As ons dan onderskeid moet tref kan ons dit doen tussen vreeslike erge sondes en sondes wat nog erger is.  Daar is geen sonde wat nie erg is nie.  Daar is geen sonde wat nie vreeslik is nie.  Dink maar net aan wat Jesus moes deurgaan vir ons sondes...dan besef ons weer hoe erg dit moes wees. 

Onvergeeflike sonde
Die moeilikste vraag kom egter in as ons Heb 10: 26 lees.  Hier kry ons te doen met ‘n onvergeeflike sonde.  Tot nou toe het ek gepraat van erge en vreeslike erge sondes, maar al hierdie sondes kon nog vergewe word, maar is daar dan nou een sonde wat nie vergewe kan word nie?  In Matt 12:31 lees ons wat hierdie sonde is:  hy praat van die sonde teen die Heilige Gees. 

Wat is die sonde teen die Heilige Gees?
Wat presies hierdie sonde teen die Heilige Gees is, is die vraag op almal se lippe?  Het ek dit dalk al gedoen?  Kan ek dit per ongeluk doen?  Kan ek regtig nie vergifnis daarvoor kry nie??

Kom ons gaan kyk na die gedeelte net voor Mat 12:31.  In die gedeelte vanaf vers 22 – 30, lees ons waar ‘n man na Jesus toe gebring word.  Volgens hulle het die man ‘n bose gees gehad; hy was blind en stom.  Jesus het onmiddellik sy gebrek genees.  Daar word nie genoem dat Jesus die gees uit hom dryf nie.  Jesus genees hom net van blind en stom wees.  Dit was ongelukkig so dat mense hierdie tipe gebreke aan die bose toegeskryf het.  Toe die Fariseërs daarvan hoor (vers 24) het hulle hom beskuldig daarvan dat Hy besig is met bose dinge en dat hy dit gedoen het in die naam van Satan.   Hoe belaglik hierdie aanklag ook al mag klink, Jesus antwoord hulle.  Hy deel sy antwoord in twee dele op.  Eers volg die logiese antwoord:

 As Satan dan vir Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe kan sy ryk dan bly staan?  En as Ek met Beëlsebul se hulp die bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle volgeling dit dan...

Maar dan volg Jesus se eintlik antwoord, want maak nie saak hoe logies sy antwoord was nie, die Fariseërs sou nie daardeur sy volgelinge geword het nie.  Dit vra meer!  Jy moet kan raaksien dat dit die Gees is wat werk tydens die geesuitdrywing.  Jesus kom wys dat Hy sterker is, dat Hy groter is.
Jesus antwoord in vers 30:  Wie nie aan my kant is nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.  Daarom sê ek vir julle:  Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie.  As iemand iets teen die Seun van die mense sê, kan dit hom vergewe word, maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie die toekomstige bedeling nie”

Hierdie uitspraak van die Fariseërs, dat Jesus die wondere verrig deur Satan, het daartoe gelei dat Jesus die uitspraak in vers 30 gemaak het.  Die saak waaroor dit gaan is nou duidelik.  Dit gaan oor teenstanders van God, in hierdie geval die Fariseërs, wat sy werk aan die bose toeskryf.

 Jesus kom sê m.a.w. vir hulle, as julle die werk wat ek doen, die werk deur die Heilige Gees, toeskryf aan Satan, dan is julle besig om teen die Heilige Gees te sondig.  As julle dit doen ontken julle die werking van die Heilige Gees.  In kort sou ons kon sê dat om teen die Heilige Gees te sondig, is om die werking van die Heilige Gees totaal en al te weier en te weerstaan.  Dis so goed soos om die werking van die Gees toe te skryf aan Satan.

Vandag?
So hoe pleeg ons vandag hierdie onvergeeflike sonde en kan ons daarvoor vergewe word?  Dalk moet ek dit duidelik maak dat dit nie iets is wat eenmalig kan gebeur en dan is dit nou verby nie.  Nee, dit kan ek met oortuiging sê

Hoekom sê ek so: elke dag, dan wil die Heilige Gees binne elkeen van ons werk en wil die Gees in ons kom woon, maar as ons die Gees weier, dan sondig ons teen die Gees.  Dit beteken nie dat Jesus nou sy rug op ons draai nie.  Hy saai nie net een saadjie nie.  Nee, Hy staan steeds gereed om deur ons te werk.  Hy staan gereed, as die saaier, om weer en weer te kom saai.  Elke dag, elke oomblik, maar dit bly ons keuse om hom in te laat en toe te laat om deur ons te werk.  Wanneer dit gebeur maak nie saak nie.  Ons lees dat die moordenaar wat langs Jesus gehang het net voor sy dood erken het dat die Gees deur hom wil werk, en Hy is vergewe en het die koninkryk van God binne gegaan.  Die verlore seun is nog ‘n voorbeeld hiervan.

As ons kyk na Heb 10: 26, dan is die persoon besig om die enigste offer wat daar vir sonde is, te verwerp.  So ‘n persoon verwerp die redding wat Jesus aanbied.  Die persoon wat die offer wat Jesus bring, minag en wegwys, kan nie gered word nie.  Dit beteken nie dat God se genade nie groot genoeg is nie.  Dit is omdat daar geen ander manier is om gered te word as iemand die genade verwerp nie. 

Skuldgevoel of bevryding
Ek sluit af: Daar is verskeie manier hoe ons hierdie gedeelte kan lees.  Ek weet daar is mense wat dit sal lees en wat sal wakker lê in die nag, wat sal bang wees, wat skuld gevoelens sal hê.  Maar ek wil vanoggend vir julle kom sê dat dit nie die doel van hierdie gedeelte is nie.  Dit is nie ‘n gedeelte wat ons wil bang maak of wat ons wil laat skuldig voel nie (dit is nie doel van hierdie verse nie, ook nie van enige vers in die Bybel nie).  Hy vers mag dalk ‘n waarskuwing wees, maar dis beslis nie ‘n beskuldiging nie.

Ons kan ook nooit hierdie gedeelte gebruik om vinger te wys na ander toe nie.  Ons kan bv. nie die Jode tot ewige verdoemenis veroordeel nie.  Hy gedeelte is nie daaroor om mense uit te sluit nie.  Hierdie gedeelte kom kanselleer nie God se groot liefde en genade en geduld nie.

Hierdie vers wil ons kom vry maak.  Dit mag vreemd klink.  Maar dit kom herinner ons tog dat daar net een manier is om gered te word, is dit is deur die die genade van Jesus.  Al wat ons hoef te doen is om hierdie genade te erken en te ervaar.  Ons doen dit deur vir Jesus te erken as ons verlosser, die een wat gesterf het aan die kruis.  En selfs as daar mense is wat nog die werking van die Heilige Gees wil erken nie, wat dit dalk nog aan Satan toeskryf, is dit nie verby vir hulle nie.  Jesus staan gereed om hulle ook in sy koninkryk te verwelkom.  

Sunday, September 2, 2012

Preek 02 Sept 2012


Uitverkiesing

Ons begin vandag met ‘n preekreeks met die tema: Sticky-toffee temas. Vandag se tema is Die uitverkiesing, volgende week is “die sonde teen die Heilige Gees” en die week daarna gaan oor “die hel”. Net so ‘n bietjie agtergrond: die rede hoekom ons hierdie reeks doen is a.g.v. ‘n interessante gesprek wat op ons gemeente se facebook bladsy gebeur het. Dit was na aanleiding van preke wat ons vroeër die jaar gehad het. So ons het die uitdaging aanvaar en gaan probeer om oor hierdie sticky-toffee-temas te praat. Beginnende dan nou by die leerstelling oor die uitverkiesing.

Gebed

Ek onthou toe ek ‘n kind was het die onderwyser baie keer in die skool tydens die LO periode vir ons gesê dat ons in 2 spanne moet verdeel vir een of ander game. Dan het hy 2 leiers aangewys wat elkeen vir hulle ‘n span moes kies. Almal staan dan in ‘n bondel en die 2 leiers roep dan die mense uit wat hulle in hulle spanne wil hê. Noodwendig was daar altyd ‘n paar kinders wat oorgebly het, wat nie gekies is nie en wat dan eenkant moes sit terwyl die ander speel.

Dis hoe baie mense mos oor die uitverkiesing ook dink. Dat God baie lank terug al besluit het, gekies het, wie gered gaan word en wie nie. So die benoude vraag is dan – is ek uitverkies of nie? Want as ek is, dan gaan ek hemel toe en as ek nie is nie, is ek verlore. Hoe kan ek uitvind of ek uitverkies is? Maar miskien is dit beter om nie te weet nie, want sê nou ek kan uitvind en ek hoor ek is nie uitverkies nie.

Daar is ‘n paar teksgedeeltes (wat buite verband) gebruik word om hierdie siening te regverdig.
Matteus 22:14 ““Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.”
Romeine 8: 29 “Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.”
Romeine 9: 18 “Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.”
Efesiers 1: 4 “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.”
Efesiers 1: 11 “Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.”

Hierdie siening van die uitverkiesing beteken met ander woorde:
God het al by die skepping van die wêreld bepaal wie gered word en wie verlore gaan. Dis vooraf so bestem.
Niks kan dit verander nie – die wat gekies is sal gered word en die wat nie gekies is nie, sal verlore gaan. Omdat dit so bestem is, kan ons niks daaraan doen nie en niks daaraan verander nie.

Dit bring my onmiddelik by ‘n klomp vrae:
  • As alles so vooruit beplan is – hoekom het Jesus dan gesterf?
  • Hoekom sal ‘n God wat alles weet en alles vooraf bepaal het, toelaat dat mense gebore word wat klaar gekies is om verlore te gaan?
  • In die Bybel leer ons dat ons moet kies of ons vir God wil volg of nie. Hoekom sal God dan vir ons ‘n keuse gee as Hy reeds besluit het wie gekies is en wie nie?
  • Hoekom moet ons sendingwerk doen as God reeds bepaal het dat sekere mense gered word en ander nie?

Hierdie siening van die uitverkiesing pas nie in by die breër boodskap van die Bybel nie. Kom ek wys dit gou vir julle.

Ons begin by God se wil vir mense. Sy wil is dat alle mense moet wegdraai van die sonde af. Dat alle mense Hom sal ken en dat niemand verlore sal gaan nie. Kom ons kyk gou na tekste wat dit bevestig.

Esegiel 33: 11 ““Sê vir hulle: So seker as Ek leef, sê die Here my God, Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van julle bose optrede! Waarom wil julle sterf, Israel?
God wil nie hê dat enige iemand moet sterf sonder om Hom te ken nie.
1 Timoteus 2: 3,4 “So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”
Alle mense moet gered word.
2 Petrus 3: 9 “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.”
Hy is geduldig, want Hy wil alle mense by Hom hê.
Johannes 3:16,17 ““God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.
God wil nie mense veroordeel nie, Hy wil hê hulle moet gered word.

Dus: die wil van God is dat niemand verlore sal gaan nie, maar dat almal gered sal word. Hy nooi alle mense na Hom toe. Dis hoekom ons getuies moet wees en sendingwerk moet doen. Hoe anders gaan mense weet van God se liefde vir hulle.

Tog is daar ook mense wat nie in Jesus glo nie. Mense wat hulle teen sy uitnodiging verhard.
Johannes 5: 40 “Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.”
Handelinge 7: 51 ““Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Soos julle voorvaders gemaak het, maak julle ook.”

Die implikasie hiervan is dat God wil alle mense by Hom hê, maar daar is tog ook mense wat kies om dit nie te doen nie. Mense wat vir God wegstoot. Dis hulle eie keuse, dis nie soos God dit wil hê nie. Daai mense kan nie vir God blameer nie - hulle kan net hulleself blameer. 

In die lig hiervan – hoe moet ons die uitverkiesing verstaan? Die eintlike vraag is: Glo jy in Jesus? Want as jy in Jesus glo, is jy uitverkies.
Kom ek verduidelik dit met ‘n beeld: As iemand van ‘n boot afval en is besig om te verdrink. Dan gooi jy vir die persoon ‘n reddingsboei. As hulle die reddingsboei gryp, dan word hulle gered. As hulle dit nie doen nie, dan gaan hulle verlore.
Dis hoe die uitverkiesing ook werk: God neem die inisiatief, Hy  is genadig en vol liefde en Hy wil hê alle mense moet gered word, so Hy gooi die reddingsboei (sy seun Jesus) na alle mense toe uit, maar jy het ‘n keuse om dit te gryp of nie. As jy dit gryp is jy uitverkies, jy is gered. As jy kies om dit weg te stamp, dan gaan jy verdrink, dan is jy verlore.

Die feit dat julle almal hier sit in die erediens, wys vir my dat julle in Jesus glo. En as julle in Hom glo dan is julle uitverkies. Julle hoef nie daaroor te worry nie.
Maar nou kan ons ook nie net hier sit en verlig voel daaroor nie. Ons is nie gekies om net verlig te wees nie, ons word gekies om iets te gaan doen. Hy wil deur ons werk. Hy wil ons gebruik. Deur die hele Bybel sien ons hoe God mense kies om iets te gaan doen: Noag, Abraham, Jakob, Die volk Israel wat gekies is om ‘n lig vir die nasies te gaan wees, Dawid, Josef en Maria, die dissipels, Paulus en so kan ek aangaan.

Om op te som: God ryk sy hand na alle mense uit. Hy kies alle mense. Dis genade. As ek dit aangryp dan word ek uitverkies. Dan is ek deel van sy uitverkore volk. En daarvoor moet ons Hom loof en prys.
Maar ek kan dit nie maar net vir myself hou nie, ek moet dit ook gaan uitleef sodat nog mense nader getrek kan word en deel van God se uitverkore groep kan word.