Sunday, January 20, 2013

Preek 20 Januarie 2012


Johannes 8: 1-11

Ek het gedink dit sal goed wees as ons hierdie jaar begin deur ‘n slag weer by ons gemeentevisie stil te staan.
“Table View gemeente wil 'n biddende, omhelsende liefdesgemeenskap vorm wat ruimte skep vir jonk en oud. 'n Plek waar almal tot hoopvolheid begelei en toegerus word, sodat elkeen 'n onselfsugtige, daadkragtige, diensbare getuie sal wees tot eer van God”.

Toe ek weer die week na die visie kyk toe kom daar ‘n baie mooi teks by my op. Ek het al voorheen oor die teks gepreek, maar elke keer ontdek mens mos weer nuwe goed in ‘n teks. Die teks is Johannes 8: 1-11.

Die skrifgeleerdes en fariseërs bring nie hierdie vrou na Jesus toe omdat hulle bekommerd was oor haar. Hulle bring haar met bymotiewe. Hulle wil haar gebruik om vir Jesus uit te vang. Hulle wou sien hoe streng Jesus by die wette van die OT gaan hou of nie. As hy streng by die wette hou, dan sou hy in hulle oë aanvaarbaar wees, maar as hy nie streng by die wette hou nie, dan kon hulle Hom brandmerk as iemand wat die wette oortree.

Kom ons kyk gou wat sê die Ou Testament wet oor owerspel:
Levitikus 20:10 - “Iemand wat egbreuk pleeg met die vrou van ‘n medeburger, moet doodgemaak word. Dit geld vir die man en ook vir die vrou wat egbreuk pleeg.”
Deuteronomium 22:22 - “Wanneer ‘n man betrap word terwyl hy gemeenskap het met ‘n ander man se vrou, moet die man en die vrou wat gemeenskap gehad het, altwee doodgemaak word.”

Die wet sê die man en die vrou moet gestenig word, maar let op dat die skirfgeleerdes en fariseërs vir Jesus net oor die vrou uitvra. So hulle probeer Hom uitvang – as Jesus saamstem dat net sy gestenig moet word, dan bewys dit dat Jesus nie die wet ken nie. die wet sê mos die man moet ook gestenig word.
As hy sê dat sy gespaar moet word en nie doodgemaak word nie – dan gaan Hy in teen die wet van Moses. En dan keur Hy sonde goed.Jesus is nogal in ‘n moeilike situasie.

Sy antwoord vermy al die slaggate en hy ontmasker hulle. Hy gebruik ‘n Joodse beginsel teen hulle. Die Jode het geleef met ‘n beginsel dat jy nie aan ander moet doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. So, die maatstawwe wat vir ander geld, geld vir my ook.
In hierdie sin beteken dit - ons almal is ewe sondig en verdien straf. As ek dus vinger wys na ander mense of klippe gooi na ander mense – dan wys ek ook vinger na myself en gooi klippe na myself. So, dis beter om nie te oordeel nie en om eerder te vergewe. Dis beter vir myself en vir die ander persoon.

Toe die Skrifgeleerdes en Fariseërs dit hoor, toe loop hulle weg, want hulle weet hulle het verloor teen Jesus. Hulle verkeerde motiewe is ontmasker en hulle is die mense wat verkeerd was.

Kom ons kyk gou na die verskillende maniere hoe die skrifgeleerdes en fariseers na die vrou kyk en hoe Jesus na die vrou kyk.
Die skrifgeleerdes en die fariseërs sien haar as ‘n sondige vrou wat gestraf moet word. Iemand wat hulle maar kan gebruik vir hulle eie motiewe. Hulle oordeel en veroordeel haar, hulle het geen respek en omgee vir haar nie.

Jesus kyk anders na haar. Hy sien iemand met ‘n gewonde en stukkende lewe. Hy sien iemand wat die gevolge dra van verkeerde keuses. Hy sien ‘n vrou wie se selfwaarde heeltemal afgebreek is deur sonde, vernedering en skuldgevoel.
Maar - Hy sien ook iemand met ongelooflike waarde en potensiaal en wie se toekoms heeltemal anders kan wees as haar verlede. Hy sien iemand wat deur God omhels wil word met sy onvoorwaardelike liefde. 
Omdat Hy so na haar kyk, kan Hy nie anders as om die verrassende woorde van genade en liefde oor haar uit te spreek nie. Soos iemand gesê het: “He speaks words of grace to the disgraced woman”.
Sy was skuldig, maar Hy laat haar nie skuldig laat voel nie. Hy veroordeel haar nie. Hy gee vir haar genade en vergifnis. “Ek veroordeel jou nie”, sê Hy vir haar. En daarmee spreek Hy haar vry.

En dan stuur Jesus haar weg om op ‘n nuwe manier te gaan leef. Hy stuur haar terug na die wêreld waar sy vandaan kom. Dieselfde mense. Dieselfde omgewing. Dieselfde versoekings. Hy sê dus vir haar – jy is nou anders, so gaan leef nou anders in hierdie bekende wêreld.
Wat hier gebeur is - sy het nou God se genade, liefde en vergifnis beleef, daarom is sy nou God se instrument van genade, liefde en vergifnis in die wêreld. 

Kom ons gaan weer terug na ons gemeentevisie en kyk hoe hierdie teks onderliggend is daaraan. Ons gemeentevisie bestaan uit 3 goed wat ons ook in hierdie teks kry.
“Table View gemeente wil 'n biddende,
1)    omhelsende liefdesgemeenskap vorm wat ruimte skep vir jonk en oud.
2)    'n Plek waar almal tot hoopvolheid begelei en toegerus word,
3)    sodat elkeen 'n onselfsugtige, daadkragtige, diensbare getuie sal wees tot eer van God”.

Ons wil ‘n “omhelsende liefdesgemeenskap vorm wat ruimte skep vir jonk en oud.”
Die skrifgeleerdes en fariseërs veroordeel die vrou en wil haar uitsluit. Volgens hulle is sy ‘n sondaar en nie goed genoeg om deel van hulle geloofsgemeenskap te word nie.
Jesus aan die ander kant veroordeel haar nie. Hy keur nie haar sonde goed nie, maar hy oordeel en veroordeel haar ook nie. Hy sluit haar in. Hy maak haar deel. Hy sê vir haar – jy is goed genoeg. 
Dis die tipe gemeente wat ons wil wees. Niemand mag voel hulle is nie welkom hier nie. Hier mag niemand geoordeel en veroordeel word nie. En daarmee keur ons nie sonde goed nie. Ons sê ons gaan jou nie oordeel nie, want niemand van ons kan immers ‘n klip na jou gooi nie – ons is almal sondaars. Jy is welkom, en hier tussen God se mense kan jy kom heel word en kan God jou verander soos Hy wil.

“'n Plek waar almal tot hoopvolheid begelei en toegerus word”
Wanneer Jesus met die vrou begin besig raak, dan maak Hy haar vry. Hy verander haar. Hy empower haar. Hy gee vir haar ‘n nuwe toekoms. Hy gee vir haar hoop.
Dis wat ons ook in ons gemeente wil doen. Ons wil mense bekendstel aan die hoop wat God vir ons gee. Die hoop wat gesetel is in Jesus se sterwe aan ‘n kruis en opgevolg is deur sy opstanding. In ‘n wêreld waar daar soveel dinge is wat mense se hoop steel, is dit ons taak om weer vir mense te herinner aan die hoop van die opstanding.

Ons wil vir mense herinner aan die hoop waarvan ons lees in Romeine 8: 38-39
“Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. 

“sodat elkeen 'n onselfsugtige, daadkragtige, diensbare getuie sal wees tot eer van God”.
Wanneer Jesus die vrou vrygespreek en nuut gemaak het met Sy genade en liefde – stuur hy haar uit om as ‘n nuwe mens in die wêreld te gaan leef. Sy word nou die instrument, die kanaal van God se liefde, genade en vergfinis.
Wanneer mense tuisgekom het in ons gemeente, wanneer hulle die hoop van God beleef het dan wil ons mense toerus en uitstuur om in die alledaagse wêreld ‘n instrument van God se liefde, genade en vergifnis te wees. Ons is nie net hier vir mekaar nie. Ons is nie hier om mekaar warm te broei of net agteroor te sit en na ‘n preek te luister nie. Ons word gestuur om as nuwe mense in die wêreld te gaan leef.

Om op te som:
In die teks en in ons gemeente is daar dus 3 belangrike goed:
wees oop en verwelkomend teenoor alle mense;
wys vir mense die hoop wat in God opgesluit is;
en word uitgestuur as Sy dissipels in die wêreld.


Sunday, January 13, 2013

Preek 13 Januarie 2013


Jesaja 62 : 1-5

In die laaste dae van die 2de Wêreldoorlog het ‘n lid van die Italiaanse weerstandsbeweging alleen in die tronk gesit. Hy was moeg, honger en seer, want hy was erg gemartel. Dit het vir hom gevoel asof almal van hom vergeet het. Hy het nie alle hoop verloor.
Skielik een nag, maak die wag sy sel se deur oop. Met ‘n paar vloek en skelwoorde daarmee saam, gooi die wag ‘n hele brood na die man se kant toe. Teen die tyd was die man al doodhonger, so hy gryp die brood en skeur dit oop. Binne-in die brood ontdek hy toe ‘n boksie vuurhoutjies en ‘n stukkie papier. Hy steek toe een van die vuurhoutjies aan die brand en in die lig lees hy ‘n enkele woord op die stukkie papier: “coraggio”.
Coraggio beteken “hou moed”.
Hierdie een woord op ‘n stukkie papier het hom laat besef: “moenie opgee nie, moenie ingee nie. Ons het nie van jou vergeet nie. Ons probeer jou help.

Dis presies wat Jesaja 62: 1-5 ook wil doen. Dit gee hoop en moed.

Aan die begin van die jaar is ons uitgerus en weer lus vir alles. Alhoewel ons so ‘n bietjie onseker is oor die jaar wat voorlê is ons ook vol afwagting vir alles wat voorlê. Dalk begin jy met ‘n nuwe werk, nuwe vooruitsigte, dinge wat jy beplan vir die jaar. Goed wat jou opgewonde maak. Ons is vol moed en hoop vir die jaar wat voorlê. Ek hoop dat Jesaja 62 vir ons sal help om vol te hou met hierdie moed en hoop. Want dis maklik om hoop en moed te verloor.

In Jesaja se tyd het die mense van Jerusalem verstote en verlate gevoel. Hulle was platgeslaan en het hoop verloor. Hierdie woorde is dus bedoel as goeie nuus, om vir hulle weer hoop te gee. 

Om hierdie hoop te bevestig gebruik hy ‘n metafoor van lig om te wys hoe die heerlikheid van die Here sal inbreek in die donkerte van hulle moedeloosheid. Dis soos die dag wat breek na die lang donker nag of soos wanneer ‘n mense ‘n fakkel aansteek of ‘n lig aansit in die donkerte. God se lig sal hulle moedelose lewens weer verlig.

‘n Storie om dit te verduidelik. Dis ‘n ware verhaal van Johnny, ‘n 19-jarige downsindroom jongman wat as ‘n pakker in ‘n groot kruidenierswinkel gewerk het. Die mense van die winkel het eendag ‘n vrou, Barbara Glanz genooi om met die werkers te kom praat. Sy praat toe oor die invloed wat mens het op ander mense en hoe ‘n mens ‘n verskil kan maak. Omtrent ‘n maand later het Johnny vir Barbara gebel om te sê dat hy van haar praatjie gehou het. Hy het baie gaan dink oor wat hy kan doen om iets spesiaals vir die kliënte van die winkel te doen. Toe kry hy die idee om elke aand ‘n gedagte vir die dag te vind wat hy die volgende dag vir die mense kan gee. Iets positiefs wat mense se dag sal ophelder of hulle sal laat beter voel.
Elke aand het sy pa hom toe gehelp om die gedagte vir die dag 6 keer op ‘n bladsy te tik en dan het hulle 50 bladsye gedruk. Hy het dan met ‘n skêr 300 kopieë uitgeknip en sy naam op elkeen geskryf.
Elke keer as hy iemand kruideniersware in die sakke gepak het, dan het hy die gedagte vir die dag binne-in die laaste sak gesit. Dan het hy die persoon in die oë gekyk en vir hulle gesê: “Ek het ʼn “gedagte vir die dag” in jou sak gesit. Ek hoop dit help jou om ʼn goeie dag te hê. Dankie dat jy hierheen gekom het.”
‘n Maand later het die winkelbestuurder vir Barbara gebel en vir haar gesê: “Barbara, jy sal nie glo wat gebeur het nie. Ek het my rondtes gedoen en toe by die kassierpunte kom, was die ry waar Johnny gewerk het 3x langer as enigiemand sin. Dit het gestrek tot by die gevriesde kosafdeling!”
Die bestuurder het toe begin reël dat daar nog meer kasregisters oopgemaak word, maar die mense wou nie uit Johnny se ry skuif nie. Hulle wou in Johnny se ry wees. Een vrou het selfs gesê dat sy vroeër net eenkeer ‘n week na die winkel toe gekom het, maar nou kom sy elke dag om Johnny se gedagte vir die dag te kry. 
Johnny het nie net sakke gepak nie – hy was ‘n pakker van hoop. Hy het vir mense hoop gegee.

Jesaja herinner alle gelowiges daaraan dat ons pakkers van hoop moet wees. Dis maklik om te fokus op die negatiewe en om heeltyd krities te wees. Kom ons wees eerder mense wat in 2013 positiwiteit en hoop sal gaan uitdeel.

Kom ons kyk gou watter gedagtes vir die jaar kan ons nog uit hierdie teks saamneem.

Die eerste gedagte kry ons in vers 3:
“Die Here sal jou soos ʼn sierlike kroon in Sy hand hou, jou God sal jou soos ʼn koninklike tulband vashou.” (vs 3)

Die beelde van krone en tulbande wat hier gebruik word is beelde wat hoort by ‘n koninklike troue. ‘n Troue waar net die beste voorgehou word. Jerusalem word God se kroon en tulband egnoem. Hy hou haar in sy hand. Hy versorg en beskerm haar. Sy is nie meer die verstote vrou nie.

Die eerste gedagte van die jaar is dat God op dieselfde manier na my en jou kyk. Ons is vir Hom soos ‘n kroon en ‘n tulband. Hy hou ons in Sy hand, hy versorg en beskerm ons. Ons is vir hom kosbaar.

Dink gou ‘n oomblik. Wat doen die woorde aan jou? Hoe laat dit jou voel oor jouself? Onthou dis God wat dit vir jou sê!

Die tweede gedagte vir die jaar kry ons in vers 2, 4:
“Jy sal ‘n nuwe naam kry, ‘n naam wat die Here self vir jou gekies het.”
“Jy sal genoem word: “Die een vir wie die Here liefhet…die een wat aan die Here behoort ”

In die Bybel sien ons baie keer, wanneer God mense se lewens verander of as hy vir hulle ‘n spesifieke roeping het, dan word hulle name ook verander. Abram wat Abraham word, Jakob wat Israel word, Saulus wat Paulus word. Dit was ‘n gebruik van daardie tyd.

Jesaja praat hier van Jerusalem wat ‘n nuwe naam gaan kry. Hulle is nou nie meer die mense wat verstoot is nie, wat sonder hoop is nie. Hulle is die mense vir wie die Here lief is en wat aan Hom behoort.
Dis soos ons ook lees in Sefanja 3: 17 “Die Here jou God is by jou. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou”

Julle het seker al gehoor van Norman Vincent Peale. Daar word vertel dat hy eenkeer in ‘n preek gesê het dat daar nêrens in die Bybel ‘n plek is waar God iemand label as ‘n sondaar nie. Hy het ook gesê dat Jesus nooit enigiemand ‘n sondaar genoem het nie. Robert Schuller, bekende TV prediker en skrywer wat die Crystal Cathedral in Californië begin het, het dit gehoor en gedink dat dit mos nie waar kan wees nie. Hy het toe sy Bybel gevat en dit gaan navors en ontdek dat Norman Vincent Peale reg was. Nêrens  label Jesus ooit iemand as ‘n sondaar en ‘n mislukking nie.
Ek kan ook nie aan een plek dink waar Jesus dit doen nie. Hy sou wel vir iemand bv sê om nie meer te gaan sondig nie, maar hy het nooit mense as sondaars gelabel nie. Hy het altyd positief gepraat en mense opgebou. Hy het mense gelabel as vergeefde mense, as nuwe mense.  

Dis die 2de gedagte vir die jaar. Jy behoort aan die Here. Hy is lief vir jou. Hy is vol vreugde oor jou. Hy is stil-tevrede met jou. Hy jubel en juig oor jou. Hy label jou as iemand wat vergewe is en as ‘n nuwe mens.

So gaan 2013 in as iemand wat weet dat jy vir God kosbaar is.
As iemand wat weet dat Hy vol vreugde is oor jou. Ge-label as ‘n nuwe mens.
En leef in hierdie jaar as ‘n pakker van hoop. Iemand wat vir ander mense hoop gee.