Sunday, February 24, 2013

Preek 24 Februarie 2013


 PREEK :: SONDAG 24 FEB 2013
OPPAD NA EMMAUS  ( Luk 24 : 13-35 )   
1.   Twee van Jesus se volgelinge stap die Sondagmore vroeg, na Sy dood, na sy kruisiging,  na Emmaus :: En hulle gesels juis oor hierdie wonderlikste van wonderlike dinge in die lewe waaroor ’n mens kan gesels :: HOOP!!:     Maar ironies – en vreeslik hartseer! – sê hulle die verskriklikste ding daaroor :: Praat met SWAAR harte daaroor Hulle sê :  ONS HOOP is DOOD! ::  Ons HOOP. JESUS, is dood!!!!! 

2.   Intussen sluit die einste Jesus waaroor hulle hier praat, hom @ hulle aan : Hulle is so morbied en moedeloos dat hulle Hom nie eers herken nie!!   **  Met somber en strak gesigte, vra hulle moedeloos : Maar weet U dan nie van die allervreeslkste dinge wat die afgelope tyd hier @ ons gebeur het nie??  (v18)    **  Ons het so GEHOOP dat dit Hy is wat Israel sou verlos!  (v21)  [Maar nou het lede van die Joodse Raad hom oorgelewer om ter dood veroordeel te word!!  Hoe KON hulle??  Ons ENIGSTE hoop :: Is nou dood!!]   **  Die twee sien GEEN uitkoms nie :: Moedeloos :: Ons HOOP is DOOD!!

3. Hy begin doodluiters met hulle oor die Bybel praat.  Wat ’n gebrek aan begrip : Wat ’n TRAAGHEID van Gees!  Glo julle dan nie die dinge wat die Profete gesê het nie?   (v29)

4. Toe die drie uiteindelik @ Emmaus aankom, was dit al aand. Hulle dring by Hom aan om by hulle oor te bly.   Die aand aan tafel breek Jesus self die BROOD :: ’n Liefdesgebaar!  Maar juis toe Hy die brood breek, gebeur daar ’n wonderwerk ::  Hulle oë gaan oop ::  En hulle HERKEN Hom!    **   En hulle besef  :: Maar ons moes geweet het dis Hy!!  Hoe dom kan ons wees!!  Maar het ons harte darem nie warm geword toe Hy die skrifte vir ons uitlê nie??  Dit gee ons sommer weer MOED :: Gee ons sommer weer HOOP!!   

5.   En hulle het haastig terug geloop JERUSALEM toe : Met groot vreugde :: En ’n splinternuwe boodskap ::   **  Ons Jesus LEEF!!  Ons HOOP is toe NIE dood nie!!  Die Here het OPGESTAAN!! Ons HOOP leef weer!

6.   En dis dieselfde ervaring wat die dissipels daai aand op die see van Tiberias beleef het : Toe hulle al moedeloos, GEEN vis gevang het nie :  Toe hulle hoop ook dood was ::  Toe hulle die man op die strand hoor sê :  Haa manne :  Gooi die nette daar regs van die skuit in!  Probeer biki daai net aan die regtekant van die skuit uitgooi!!   Daar is vis!    Met die booskap daarmee saam ::  Jy hoef die lewe nie alleen aan te durf nie!!  Ek begin dan juis elke more NUUT met jou!! Ek weet PRESIES wat jy NOU nodig het!  Ek HET die raad en leiding reeds vir jou gereel!  Jy hoef nie langer te soek nie!!  Probeer ’n slag iets NUUT’s!!        En dan HERKEN hulle hom – Dis Jesus!!!!!  En die dissipels  besef ::    Ons HOOP is toe nooit DOOD nie Ons kan nou weer NUUT begin!!!  Ons kan maar weer begin!! Kom ons gooi die nette aan die anderkant in!!

7.   Dis dieselfde ervaring wat die vrou in Luk 7 :: 38 – 50 gehad het : Toe sy in die harde mans wêreld instorm en aan Jesus se voete neerval :  Haar sondige en sedelose lewe voor Hom bely ::  Sy voete met duur Nardus-olie salf en sy Sy voete met haar hare afdroog ::   **  Toe GENADE haar teen die spoed van wit lig tref!!    ** Toe die sluise van die hemel oor haar oopgetrek word!   **  Toe sy hierdie HEMELSE musiek in haar ore hoor as Jesus haar huis toe stuur met die boodskap Jy is VRYGESPREEK!!   Gaan  leef in vrede met jou God!!    En sy besef :  My HOOP is toe nooit dood nie!  Hy lewe!  En Hy bied my ’n NUWE begin :: ’n WEER begin!   ‘n SPLINTERNUWE LEWE vir sondaars wat stukkend en vermink by Hom aankom!   >>  Verander hulle in NUWE MENSE!!  

8.  En dis dieselfde ervaring wat die verlore seun gehad het :: Toe hy by die huis terugkom en sy pa se OOP-WELKOM ARMS om hom kon voel : Toe hy besef :: NUWE HOOP!  NUWE LEWE!! NUWE KANSE!!

9.  En dis dieselfde ervaring van die ou man wat vir 30 jaar, Sonda-vir-Sondag, voor die kerkdeur gelê het : Moedeloos dronk en gedrink :: Elke Sondag dieselfde : Totdat hy een Sondag in die spieël gekyk het : Vir homself gesê : Dis nou genoeg : En besluit om sy lewe vir die Here te gee ::  En soos in onmiddellik VRY gekom het van Sy ou lewe!  En deesdae sien ’n mens die ou man elke Sondag agter in die kerk : Netjies aangetrek : Vol Lof en Aanbidding in sy NUWE lewe   Ek vra hom nou die dag : Oom lyk SO gelukkig!  En hy antwoord : Ek is!!  Life is like a maze : But I found the way out : Through Jesus Christ!!

10..   DIE HART VAN ’N NUWE BEGIN!    En dis  JUIS die HART van die Christelike geloof Dis die begin van GELOOF :: Dis die wegspring plek van NUWE HOOP :: DIE HERE HET OPGESTAAN!!!       **  Want ons HOOR  mos Sy liggaam was nie meer in die graf nie!!      **  Eers is dit verwarrend vir die mense  ::  Die graf dan leeg?   Sy liggaam is weg!   Waar is Hy dan heen?? Is ons HOOP dan nou dood??     **  Maar dan vertel meer en meer mense :: Al meer BEVESTIG ::  Maar ons het Hom gesien!  ::  Jesus is opgewek uit die dood!!  Hy leef!  Ons HOOP is toe nie dood nie!!!

11.  En skielik gee dit ’n NUWE BETEKENIS aan Jesus se persoon :: Sy lewe op aarde :: Sy prediking :: Sy Lyding Sy dood!   Alles waarvoor Jesus geleef het, kry skielike SIN!!   Alles wat Hy gepraat en verkondig het :: Alles wat Hy beloof het :: Sy OMGEE vir mense, is skielik WAAR!!   **  Skielik gee dit vir Sy dissipels / Sy volgelinge / ONS ... Nuwe MOED :: Nuwe HOOP!!     **  Skielik gee dit vir hulle ’n Nuwe DOEL op aarde :: Nuwe SIN :: Nuwe BETEKENIS :: Weer iets om voor te leef!!   Want ::  Jesus LEEF!!

12.  En dan besef ek :: Hoe dom kan ons wees!!  Ons moes mos geweet het dis Hy!!    Maar ons harte het darem warm geword toe Hy die skrifte vir ons uitlê!!  Dit gee ons sommer weer MOED :: Gee ons sommer weer HOOP!!  Ons Jesus LEEF!!  Ons HOOP is toe NIE dood nie!!  Daar is inderdaad geen situasie wat so sleg is dat God se seun dit nie kan VERANDER nie!!   Want die opgestane Here is VANDAG nog by ons!!  En Hy is ook bereid om vandag SAAM met jou brood te eet!  En jou splinternuut weg te stuur!!!

13.  En dan BID ek ::  HERE!!  Kom bly vannag by ons oor!!  Kom eet vandag BY ons :: SAAM met ons!!  Kom breek Uself die brood :: Kom deel Uself die seën uit!!  Sodat ons oë kan oopgaan!!!

Sunday, February 17, 2013

Preek 17 Februarie 2013


Sondag 17 Februarie 2013
Trots om 'n Christen genoem te word!

Willie Steyn se storie

Ek het verlede naweek huweliksvoorbereiding gedoen met ‘n paartjie wat in April trou. Die man, Peter, se ma het dit gereël. Haar naam is Petrovna. Ek was nuuskierig oor haar naam, want sy is so Afrikaans soos wat jy kan kry en wou weet waar haar Russiese naam vandaan kom. Toe vertel Peter vir my die volgende fantastiese storie…
Sy oupa grootjie was Willie Steyn, een van die boere se bevaamde kommando-leiers. Willie Steyn se vrou en kinders wat in Seepunt se konsentrasiekamp toe hy gevange geneem is. Hy is saam met ‘n klomp ander boere-gevangenes op ‘n skip gesit wat onderweg was Ceylon toe (in Indië).
Vyf gevangenes (Lourens Steytler, George Steytler, Willie Steyn, Piet Botha en ‘n Duitser) het op weg Ceylon toe ontsnap deur oorboort te spring. Hulle moes meer as 8km swem om by ‘n Russiese skip uit te kom, wat hulle genadig was en uit die water gehaal het. Die kaptein se naam was Vladimir Petrov.
As ‘n kaptein jou red, was jy lewenslank aan hom verbind omdat hy jou lewe gered het – en soms moes mense vir die res van hull ewe vir daardie kaptein werk. Maar nie alle kapteine het hierdie gebruik afgedwing nie. Vladimir Petrov het hulle laat teruggaan huis toe…
Na ‘n lang terugreis en vele ander draaie is Willie Steyn weer met sy gesin herenig. Hy en sy vrou het nog een kind gehad – en hulle het hom Vladimir Petrov genoem, ter nagedagtenis en uit dankbaarheid vir die kaptein wat sy lewe gered het.
Vladinir Petrov Steyn het met trots sy naam gedra en, toe sy oudste kind gebore is, haar die vroulike vorm van Petrov genoem: Petrovana… Ook sý dra haar naam met groot trots! En raai wat het sy háár oudste seun genoem? Darem nie die Russies weergawe nie, maar die Engelse weergawe: Peter. Petrov – Petrus – Peter. En ook hy dra sy naam met groot trots!

Ons stories

Wat ‘n wonderlike storie? Maar toe ek later verder daaroor nadink, besef ek: dit is ons almal se storie! Ons is gered deur ‘n ‘kaptein’ met die naam Jesus Christus; ons is ons lewe aan Hom te danke – en ons dra Sy naam. Ons word Christene genoem! En, net soos Peter en sy ma en sy ouma, behoort ons ons naam met groot trots te dra!

Ons fokustekste

Om Christen te wees – en met trots – het implikasies vir ons lewe… Ons fokustekste van vanoggend spel dit baie duidelik uit:
1.      Matteus 5: 14 – 16 Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
2.      Filippense 2: 15 Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra.”
Christene, soos Christus, moet uitstaan! Christene is mense wat met ander tipe waardes lewe as al die ander mense in ons samelewing. Christene het die lig gesien en die bron van die lewe ontdek. Christene het ‘n roeping om hulle lig te laat skyn en die lewe in hulle te laat oorvloei na ander…

Maar wat beteken dit prakties?

Ek wil twee voorbeelde gee van mense wat sigbaar hulle ‘naam’ met trots dra.
Eerstens: Hashim Amla
§   Hy is ‘n Moslem, maar word deur almal gerespekteer, wat ook al hul geloofsoortuigings
§   In 2006 het Dean Jones, ‘n Australiese kommentator, gesê: “The terrorist has got another wicket.”  Hy’t nie besef die microfoon was aan nie. Amla was bitter ontsteld, maar die manier waarop hy dit hanteer het, het wêreldwyd groot respek afgedwing
§   Vanwee sy geloofsoortuigings weier Amla om die Castle logo op sy hemp te dra en weier hy ook om die geld te aanvaar wanneer Castle ‘n toets / wedstryd borg – dit word aan welsyn geskenk. Daar is ander Moslems in sy span en hulle deel nie sy oortuiging nie, maar almal respekteer sy besluit en hy probeer dit nie op sy mede-spelers afdwing nie. Hy laat hulle nie voel dat hy beter is as hulle nie…
§   Ons kan twee dinge by hom leer: 1) hoedat hy rustig, dog onwrikbaar, opstaan vir wat hy glo – al staan hy alleen en al moet hy ‘n prys betaal; en 2) dat hy dit op so manier doen dat mense vir hom respek het en dat hy nie neersien op mense wat ander oortuigings het nie.

Tweedens: Euan Murray
§   Hy is ‘n Christen rugbyspeler van Engeland wat weier om op Sondag rugby te speel. Hy het as jong kind besluit dat dit nie reg is nie, en hy hou vandag nog by sy besluit.
§   Het verlede Sondag uitgesit toe Skotland teen Frankryk gespeel het in die 6-nasies toernooi.
§   Rugby en Christus is sy twee groot liefdes en dis vir hom baie moeilik wanneer die twee in stryd is. In ‘n onderhoud met hom kon ‘n mens duidelik die hartseer in sy stem hoor toe hy praat oor die wedstryd wat hy gemis het: "‘I missed being part of it,’ he says quietly. ‘Someone actually told me the score the last time and I was really, really happy that we'd won’.”
§   Die joernalis het vir hom gevra of hy seker is dat hy die regte besluit geneem het. Na ‘n lang stilte het hy gesê: “Volgens wat ek glo was dit die regte besluit”. Toe vra die joernalis: “Was dit emosioneel die regte besluit?” Hy het sy asem stadig uitgeblaas en geantwoord: "Well, when you really become a Christian, life's a battle. You're going against the tide. The crowd are going one way and you're going another. It's always going to be a battle to be different. The easy thing is to go along with the crowd, everybody's doing it. You know? Try going the opposite direction to a crowd. It's hard..."

Wat beteken dit om trots te wees om ‘n Christen genoem te word? Wat doen ‘n mens om jou lig te laat skyn en lewe uit te dra? Die antwoord sal vir elkeen van ons anders wees, maar dit sal van dieselfde plek af kom: ons persoonlike verhouding met God. Ons moet elkeen saam met God duidelikheid kry oor wat ons glo – en dan onverskrokke daarby hou!

Maar hiervan kan ons seker wees: ons almal sal by tye uitstaan…! Daar salt ye wees wanneer ons nie sal meedoen met die mense om ons nie. Daar sal tye wees wanneer ons uitsit, agterbly, wegstap, omdraai en standpunt inneem.
Waarin ons ook al glo, ons moet rustig, dog onverskrokke daarby hou en daarvoor opstaan! Want dit is wat Jesus gedoen het…!

Gedagte vir die week: Those who stand for nothing fall for anything (Alexander Hamilton) 

Sunday, February 10, 2013

Preek 10 Februarie 2012


Eksodus 34: 29-35

Greg Boyle is die stigter en direkteur van Homeboy industries. Dis ‘n nie winsgewende besigheid wat bestaan uit ‘n groep plastiese chirurge wat  tatoeermerke van oud-bendelede se lywe verwyder. Dis baie belangrik vir hulle om dit te laat doen sodat hulle kan aanpas in die samelewing as hulle wegbreek uit die bendes uit.
Hierdie tatoeermerke is gewoonlik die merktekens van die bendes waaraan die mense behoort. Dit sê aan watter bende jy behoort. Dit bevestig dat jy die eiendom van die bende is. Dis ‘n ewige herinnering dat jy vir altyd deel is van die bende en nie sonder hulle kan klaarkom nie. 
Wanneer hulle wegbreek uit die bendes uit het hierdie tatoeermerke negatiewe en gevaarlike gevolge vir hierdie oud-bendelede. As mense dit sien – is hulle bang vir die ouens. Werkgewers is ook traag om vir hulle werk te gee as gevolg van die tatoeermerke. Hulle lewens is ook in gevaar want as ander bendelede hulle sien, dan kan hulle doodgemaak word as verraaiers of drosters.
Homeboy Industries help hierdie oud bendelede om van hierdie tatoeermerke ontslae te raak, sodat hulle nuut kan begin.
Om so ‘n tattoo te verwyder is te verwyder is ‘n baie pynlike proses. Tog groei die waglys by Homeboy Industries.
Wat hierdie storie vir ons bevestig, is dat alhoewel voorkoms nie alles is nie, is daar tog tye en plekke waar dit belangrik is. Vra maar enige bendelid wat uit die bendelewe wil ontsnap.

In ons teks sien ons ook dat voorkoms ‘n geweldige impak gehad het. Nadat Moses daar op die berg ‘n ontmoeting met God gehad het, verander sy voorkoms - sy gesig het geblink. Dit het ‘n geweldige impak op die Israeliete gehad. Waar hulle voorheen nie vir Moses geken en vertrou het nie – het dit gemaak dat hulle met meer respek na Moses en die wet gekyk het. 

Kom ons kyk net gou na die groter prentjie sodat ons hierdie teks beter kan verstaan.

In Eksodus 24 word Moses en die ander leiers beveel om teen Sinaiberg op te klim om die Here te gaan ontmoet. Maar net Moses mag tot heel bo klim. Terwyl hy daar bo is ontvang hy die 2 klippe met die 10 gebooie daarop. Hierdie gebooie is amper soos ‘n tattoo in ‘n bende – dit bevestig dat die volk aan God behoort.  
Moses bly lank weg en die volk begin dink dat hy nie weer terugkom nie. Daarom lees ons in Hoofstuk 32 dat hulle toe ‘n goue kalf maak om te aanbid. En kort voor lank aanbid en dans hulle voor hierdie goue kalf.
Toe Moses uiteindelik van die berg afkom en sien wat die volk besig is om te doen is hy so kwaad en ontsteld dat hy die 2 klippe met die wet daarop stukkend gooi.
Maar ten spyte van sy woede en teleurstelling hou Moses aan om vir die volk by God in te tree. Hy smeek eintlik by God om hulle nie te los nie.
God hoor hom en bevel hom om weer teen die berg op te gaan. En daar ontvang hy dan 2 nuwe klippe met die wet daarop. So, ten spyte van hulle ongehoorsaamheid en afgodery gee God vir die volk ‘n tweede kans.

Dis tydens hierdie tweede keer wat Moses se gesig anders lyk. Letterlik staan daar “die vel van sy gesig het geblink”. Dit het gebeur omdat hy in God se teenwoordigheid was. Hy weerkaats die teenwoordigheid van God. En dit het gemaak dat die volk anders na hom gekyk het. Waar hulle voorheen nie veel respek vir hom gehad het nie en hom afgeskryf het, ontvang hulle hom nou met respek. Skielik het hy nou gesag by die volk.
Die boodskap daarvan is dat God in ‘n spesiale verhouding met Moses staan. Hy is God se verteenwoordiger en die volk moet sy boodskap ernstig neem.

In die Nuwe testament sê Paulus dat hierdie weerkaatsing van God se teenwoordigheid wat Moses se gesig laat blink het, is op ons almal van toepassing.
1 Korintiërs 3:18 – “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is”

Hoe nader ons aan Christus kom, hoe meer weerspieël ons gesigte ons geloof. Ons gesigte gaan nie noodwendig blink soos Moses se gesig nie, maar elke keer wat ons ‘n ontmoeting met God het behoort ons anders te wees en anders op te tree. 

Die boek Pelgrim se reis, gaan oor die geloofsreis van elke Christen. In een toneel voel die Pelgrim/christen dat die reis teveel en te moeilik word. Dan vra die Evangelis vir hom:  “Sien jy daar anderkant ʼn hek?” Hy antwoord: 'Nee.' Toe sê die Evangelis vir hom: “Sien jy daar anderkant ʼn lig wat skyn?” Pelgrim antwoord:” Ja, ek sien dit!” Toe het Evangelis gesê “Hou daardie lig altyd in jou oog en stap in die rigting van die lig en dan sal jy die hek sien!”

As ons Jesus se lig dophou, dan bly ons op die regte pad. Dan gebeur met ons wat met Moses gebeur het. Hy verlig ons lewe. Hy verander ons. Net soos Hy met ‘n klomp mense in die Bybel gedoen het. Kom ek noem ‘n paar voorbeelde.
Op sy eie het Moses skape in die woestyn opgepas – saam met God het hy die Jode uit Egipte gely.
Op sy eie was Dawid ‘n skaapwagter van sy pa se skape – saam met God het hy die beste koning van Israel geword.
Op sy eie was Johannes die doper ‘n mislukking – saam met God was hy ‘n profeet wat die pad vir Jesus voorberei het.
Op haar eie was Maria ‘n onbelangrike tiener dogter – saam met God was sy Jesus se ma.
Op sy eie het Petrus vir Jesus verloën – saam met God het hy voor duisende mense gepreek.
Op sy eie was Paulus hoogmoedig en ‘n vervolger van Christene – saam met God het hy die grootste sendeling geword. 
Uit hierdie voorbeelde sien ons: God verlig ons. Verander ons. Maak ons meer. Hou ons op die regte pad.

Hierdie ontmoeting met God bring ons ook in beweging. Moses kom van die berg af met die 10 gebooie in sy hand. Die 10 gebooie was bedoel as riglyne vir die lewe. In die Nuwe Testament word dit opgesom as liefde vir God en liefde vir jou naaste.
Paulus bevestig dit ook as hy skryf in 1 Korintiers 3: 18 – “ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here”. Dit beteken – gelowiges wys iets van God in die wêreld. Gelowiges maak dit makliker vir mense om vir God raak te sien.

Hoe doen ons dit? Ek wil vir julle ‘n lied speel wat dit verduidelik. Dis ‘n lied deur Jewel en die lied se naam is “Hands”.
 
Dis waartoe hierdie verhaal van Moses ons oproep.
Mag ons gereeld sulke veranderende ontmoetings met God hê.
Mag ons lewens weerkaatsings wees van hierdie ontmoetings.
Mag mense God se oë en hande van liefde deur ons beleef.

Sunday, February 3, 2013

Preek 03 Februarie 2013


Jeremia 1: 4-10

Fred Craddock, Amerikaanse professor in Teologie vertel van ‘n keer toe hy as 20-jarige student vir Albert Schweitzer, die mediese doktor, teoloog, skrywer, musiekkant en sendeling in Afrika,  ontmoet het.  Hy vertel dat hy een van Albert Schweitzer se boeke gelees het en gedink het dat sy verstaan van Jesus gebrekkig was. Kort daarna toe sien hy ‘n advertensie dat Albert Schweitzer in ‘n ander stad ‘n orreluitvoering gaan lewer. Hy besluit toe om te gaan luister en ook sommer vir hom ‘n paar vrae te vra oor sy verstaan van Jesus.
Hy het toe ‘n lysie gemaak met vrae wat hy wil vra, ‘n buskaartjie gekoop en die orreluitvoering gaan bywoon. Dit was ‘n wonderlike uitvoering en na die tyd by die tee en verversings was hy gereed met sy vrae. 
Albert Schweitzer het almal toe bedank en toe sê hy die volgende: ‘
You’ve been very warm, hospitable to me. I thank you for it, and I wish I could stay longer among you, but I must go back to Africa. I must go back to Africa because my people are poor and diseased and hungry and dying, and I have to go. We have a medical station at Lambarene. If there’s anyone here in this room that has the love of Jesus, would you be prompted by that love to go with me and help me?’
Fred Craddock vertel dat hy toe sy vrae so bekyk het en opgefrommel het, want hy het weer geleer wat dit beteken om ‘n Christen te wees en hoe hy graag wil wees.

Albert Schweitzer het geweet wat sy doel in die lewe is – om Jesus en ander mense te dien.
Dis nogal belangrik om te weet wat ons doel in die lewe is. Hopelik sal Jeremia 1: 4-10 ons hiermee help.

Jeremia skryf “Die woord van die Here het tot my gekom”. In Hebreeuse is dit “Dabar Adonia”. Dit kom meer as 50 keer in Jeremia voor – so dis nogal belangrik.  Die “woord van die Here” is ‘n kragtige, aktiewe, dinamiese krag wat ons uitdaag, aan die beweeg kry en ondersteun.

Die ‘woord van die Here” roep vir Jeremia om as profeet te gaan optree. Saam met hierdie “woord van die Here” kom daar 3 gerusstellings na Jeremia (en ons). Ons kry dit in vers 5.

Voor Jeremia vir God geken het, het God hom reeds geken
Alles begin by God. God neem altyd eerste die inisiatief. In die Nuwe Testament lees ons dat Hy ons eerste liefgehad het en dat Jesus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Alles begin by God. Dis wat die doop ook weer vanoggend vir ons bevestig het.
Ons identiteit begin by God. Dit hang nie af van hoe ons is of wie ons is nie. Hy maak ons wie ons is. En dit beïnvloed alle aspekte van my lewe.

Voor jy gebore is, het Ek jou aan My gewy
Ons moet hoor dat God ons al vir Hom gekies het, voordat ons gebore is.
Eugene Peterson vertel dat hy die kleinste kind in hulle buurt was. So, as daar spanne gekies is, dan is hy altyd laaste gekies. Eendag toe stry die 2 kapteins weer oor wie hom gaan kies – niemand wou hom in hulle span hê nie. Hy vertel: “In one moment I changed from a zero to a minus!”
By God sal ons nooit ‘n zero of ‘n minus wees nie. God het reeds besluit dat elkeen van ons goed genoeg is.  Hy het ons aan Hom gewy. Ons is verbind aan ons. Niemand kan ooit jou plek vul nie. 

Ek het jou as profeet aangestel.
Die woord aangestel beteken eintlik “gee”. Soos in – ek het jou as profeet vir die nasies gegee. Dis mos hoe God dinge doen in die Bybel.
Joh 3: 16 – God gee sy seun…
Rom 12 – gee jouself as heilige offer
Hand 20 – om te gee maak ons gelukkiger as om te ontvang.
God gee wat nodig is. God gee Jeremia as profeet vir die nasies.

Profete was God se verteenwoordigers by die volk. Hulle lewens wys wie God is. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat alle gelowiges profete is. Ons almal is verteenwoordigers van God. So ons moet leef soos verteenwoordigers. Soos die bekende spreekwoord moes sê: “ons is dalk die enigste Bybel wat iemand ooit gaan lees”.

So, God roep vir Jeremia en saam met die roeping stel hy hom gerus. Maar dan kom die verskonings.  
“Ek kan nie goed praat nie”
“Ek is nog te jonk”
Jeremia is eintlik besig om vir God “nee” te sê.
Iets wat ek nog nooit verstaan het nie. Dis vir ons moeilik om ‘nee’ te sê vir mense – ons doen goed wat ons nie wil doen of waarvan ons nie hou nie, want ons sukkel om nee te sê vir mense – maar dis baie maklik vir ons om nee te sê vir die goed wat God van ons vra. Ons is tog so vol verskonings as dit kom by die goed wat God van ons vra.
En dis nie moeilik om te weet wat God vra – alles wat Hy vra kan eintlik in 3 sinne saamgevat word:
Hy vra dat ons in ‘n verhouding met Hom moet leef;
Hy vra dat ons lief moet wees vir ons naaste;
Hy vra dat ons ons geloof prakties moet uitleef.
Maar ons is vol verskoning en sê maklik nee as God hierdie goed vir ons vra. Ons sal nog ja sê vir die verhouding met Hom, want dit vra nie so baie, maar as dit kom by liefde vir my naaste en praktiese uitleef van my geloof….dan is ons vol verskonings.

Daar is die mooi storie van die juffrou wat vir haar klas elkeen ‘n papiertjie gegee het en gesê het dat hulle “ek kan nie” daarop moet skryf. Toe het hulle uitgegaan en ‘n “ek kan nie” begrafnis gaan hou. Die begrafnisrede was soos volg:
"Vriende, ons is hier bymekaar ter herinnering aan “Ek kan nie.” Terwyl hy hier op aarde was, het hy baie van ons lewens aangeraak. Ons het vir “Ek kan nie” ’n finale rusplek gegee. Hy word oorleef deur sy familielede, “Ek kan”, “Ek wil”, “Ek gaan dadelik”. Mag “Ek kan nie” in vrede rus en mag ons saam met “Ek kan” vorentoe beweeg.” 

God kies ons elkeen reeds voor ons geboortes. Hy wy ons aan Hom. Hy verbind ons aan Hom. Hy wil elkeen van ons gebruik. Maar Hy het ook nodig dat ons sal ophou verskonings maak en sê ons “kan nie”. Kom ons sê ‘n slag ja met die wete dat Hy ons nie sal los nie.