Sunday, April 28, 2013

Preek 28 April 2013


Openbaring 21: 1-7

Van julle sal seker hierdie prent, van die Breede en Smalle weg, onthou. Ek vermoed dit het in baie van ons se oumas se huise gehang. Die Breede weg met al sy versoekings lei na die hel en die Smalle weg lei na die hemel. Aan die een kant het die prent my nog altyd bietjie bang gemaak, want sê nou ek is nie op die smalle weg nie? Aan die ander kant het dit my ook laat skuldig voel oor goed wat ek gedoen het. ‘n Vriend van my het eenkeer gesê, die grootste probleem wat hy met die prent het, is dat al die lekkerste goed op die Breede weg is, die Smalle weg lyk so vervelig. Die prent is natuurlik ook nie baie gereformeerd nie, want dit skep die idee dat jy op ‘n sekere manier moet leef om in die hemel te kom, terwyl ons mos weet dat dit nie jou lewenswyse is wat jou in die hemel bring nie, maar genade. Lewenswyse is iets wat jy doen uit dankbaarheid vir genade.

Mens kan baie oor die prent sê, maar die rede hoekom ek dit vir julle wys, is omdat dit ‘n storie vertel. Dit vertel ‘n storie van beweging. Beweging van een plek na ‘n ander plek. Van die aarde na die hemel of hel. Van dood na ewige lewe. Die mense in die prent kies om op ‘n sekere manier te leef , wat hulle uiteindelik by ‘n sekere bestemming, hemel of hel gaan uitbring.

Die idee wat die prent skep is dat die hemel iewers anders is. Ons is nou hier, die hemel is iewers anders. Dis ‘n plek waarheen jy gaan. Ons weet nie waar dit is nie. Ons weet ook nie eintlik hoe dit gaan wees nie. Maar die idee wat ons wel daaroor het, is dat dit iewers anders is.  

Ek weet nie lekker waar hierdie idee vandaan kom nie, want dis nie hoe die Bybel dit beskryf nie. Ons teksgedeelte praat van die eerste hemel en aarde wat gaan verdwyn en ‘n nuwe hemel en aarde wat gaan kom.
So, die hemel en die aarde word aanmekaar gekoppel. Dis verbind. Dis wat ons in die Bybel ook leer. Wanneer ons praat van die aarde en die hemel is dit belangrik om die sienings van die mense in die Bybelse tyd in ag te neem. Hulle het nie die hemel gesien as ‘n plek wat iewers anders is nie. Hulle sien uit na ‘n dag wanneer die wêreld/die aarde nuut gemaak en verlos gaan word, wanneer dit sal wees soos die hemel.
Johannes se visie van die nuwe hemel en aarde is ‘n vars begin vir albei, want op die oomblik is dit nie soos dit moet wees nie.

In die Ons Vader gebed hoor ons: “Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel”. Op die oomblik is God se wil nog nie die enigste wil wat op aarde geskied nie, My wil, ons wil geskied ook nog. Dis hoekom die mense vir wie Openbaring oorspronklik geskryf is, swaargekry het. Dis hoekom daar vandag nog slegte dinge in die wêreld is. Dis onder andere omdat mense hulle wil laat geld ten koste van ander mense. Daarom is hierdie visie van die nuwe aarde en hemel nodig. Sodat God se wil op aarde sal geskied soos in die hemel waar dit is soos dit moet wees.

In die oorspronklike Grieks beteken dit dat die wêreld nuut gemaak gaan word, maar dis nie ‘n ander wêreld wat gaan gebeur nie. Dis dieselfde wêreld wat ons ken, dis net nuut gemaak. Dis soos ‘n verwaarloosde, bouvallige huis wat gerestoureer word. Dis nog dieselfde huis en fondamente, maar dis heeltemal oorgedoen. Dis dieselfde ou aarde wat nuutgemaak word sodat dit is soos wat God dit oorspronklik bedoel het om te wees. 

Dis belangrik om te verstaan dat die aarde en hemel aan mekaar verbind is, want dit beïnvloed die manier hoe ek nou hier op aarde my lewe leef. Hoe ek my tyd en energie gaan gebruik en uitleef.
As ons hierdie nuwe hemel losmaak van die aarde en dit sien as ‘n plek daar iewers anders waar ek later heen gaan, dan kan die hemel baie maklik net ‘n “pie in the sky when you die” word. Met ander woorde, ek hoef nie nou enige verantwoordelikheid te neem vir hierdie wêreld nie, want eendag sal dit tog beter gemaak word. 
Soos Eugene Peterson skryf: “Heaven is not simply a dream to retreat to when things get messy and inhospitable on earth. We have access to heaven now.

Ons het nou-al toegang tot die hemel. Ons moet nou-al iets daarvan laat waar word.
Ons teks gee vir ons ‘n prentjie van hoe dit gaan wees in die hemel – daar sal nie meer trane wees nie. Dat daar nie meer pyn, lyding, swaarkry en dood wees nie. Daar sal ook nie meer honger en dors wees nie. Op die aarde gebeur al hierdie goed nog, maar in die hemel gaan dit nie meer gebeur nie. Ons kan daarna uitsien, maar ook iets daarvan nou-al begin waar maak.

Die bekende liedjieskrywer, sanger en kitaarspeler, Eric Clapton het ‘n lied geskryf, “Tears in heaven”. In 1993 was dit die liedjie van die jaar. Dis ‘n aangrypende, maar hartseer liedjie wat hy geskryf het nadat sy 4-jarige seuntjie dood is. Hy het in New York by hulle woonstel se balkon afgeval. 
Hy begin sing: "Would you know my name, if I saw you in heaven? Would it be the same, if I saw you in heaven?"
Hy sing dan hoe hy nie hoort in die hemel nie en dat hy sy hartseer nou self moet dra. Hy sing dat hy moet "find his own way through night and day."
Maar deur sy hartseer en trane sien kry hy dan hoop, want hy sien die hemel as ‘n plek waar daar nie meer hartseer en trane gaan wees nie. Daarom sluit hy die lied af met die woorde: “"There will be no more tears in heaven”.

Dis waarna ons kan uitsien – ‘n tyd sonder trane, maar nou lyk die wêreld nog nie so nie. Daarom moet ons die hemel hier laat deurbreek.
Theresa van Avila  sê: “Die betaling begin alreeds in hierdie lewe!” Ons moet nou daaruit lewe en ons moet nou al dit ’n stukkie hemel op aarde maak vir almal wat met ons te doen kry.”

As ons die hemel begin ernstig neem en dit nie net sien as ‘n plek iewers anders waar dit eendag gaan beter gaan nie, maar as ‘n plek wat deurbreek in ons wêreld in, dan gaan ons begin besef…
Ons moet begin om die trane van mense te begin afdroog.
Ons moet die seer en die hartseer van mense begin ernstig neem.
Ons moet mense se honger en dors begin aanspreek.
Ons moet vrede en geregtigheid en gasvryheid begin uitleef.
Ons moet meer positief wees en vir mense hoop gee in hierdie deurmekaar wêreld.
Ons moet met integriteit en eerlikheid begin leef.

Ons kan dit net doen as ons anders oor die hemel begin dink. As ons die hemel sien as ‘n plek daar iewers anders, waar alles eendag sal beter gaan – dan gaan ons waarskynlik ook niks nou begin doen nie.
Maar as ons besef dat die aarde en die hemel aanmekaar verbind is, dan kan ons nie anders as om nou-al iets van die hemel hier te begin waarmaak nie. Dan help ons om God se wil hier op aarde te laat geskied.
 
Paar oomblikke van stilte: dink oor jou lewe, die mense met wie jy elke dag te doen kry. Wat kan jy doen om iets van die hemel op aarde te laat deurbreek?

Gebed
Here ons God,
U wil geskied en u voornemens realiseer.
U teenwoordigheid verander ‘n woestynland in ‘n lushof.
U bring ons waar U ons wil hê.
Dankie dat ons in ons lewens kan sien hoe U besig is.
Dankie dat ons op ons verledes mag terugkyk, vandag mag lééf en oor ons moontlike môre’s mag droom.
Dankie dat u betrokkenheid by mense oor alle tye en alle grense heen strek.
Ek wíl my hierwees en alles wat ek het as u roeping en gawes beskou.
Ek wíl dit wat ek het en my opbrengste met húlle rondom my deel.
Ek sál U in gedagte hou in my besluite en my woorde, doen en late. Amen.


Sunday, April 21, 2013

Preek 21 April 2013


Openbaring 7: 9-17

Ons gaan die volgende 3 Sondae stilstaan by tekste uit Openbaring. Spesifiek tekste wat  gaan oor die hemel. Om dit te verstaan – eers net so ‘n bietjie agtergrond oor Openbaring. Kom ek gebruik ‘n beeld om die ontstaan van Openbaring te verduidelik.

Op die kus van Skotland en Ierland is daar plekke wat “Thin Places” genoem word. Dit word nie so genoem omdat die lugdruk hoër is of omdat die lug dun is nie. Dit word “Thin places” genoem as gevolg van legendes wat sê dat op hierdie plekke is die afstand tussen hemel en die aarde besonder klein. Die sluier tussen die 2 wêrelde is so dun dat ons iets van die hemel self kan waarneem.  Vir die ou Keltiese mense was dit heilige plekke waar hulle plekke van aanbidding opgerig het. Vandag nog is daar sulke klipsirkels en stapels wat daarvan oorgebly het. Later het die Christene ook kerke, kloosters en begraafplase daar opgerig. Vandag nog besoek mense hierdie plekke omdat hulle dit as heilige grond beskou. By hierdie “thin places”, sê hulle val die grense van tyd en ruimte weg. Daar is geen gister, vandag of more nie – net ewigheid wat aanhou.

Openbaring is geskryf deur Johannes op die Eiland Patmos. Daar op Patmos moes hy in kontak gewees het met een van hierdie ‘thin places”, want hy het iets van die hemel gesien en beleef. Hy het Openbaring geskryf vir die Christelike kerk wat deur die Romeinse owerhede vervolg is. Hulle wou nie vir Keiser Nero en al die Romeinse gode aanbid en vir hulle offers bring nie. Daarvoor is hulle wreed vervolg.
Openbaring is met ander woorde geskryf om hulle te troos en hoop te gee te midde van hierdie slegte omstandighede. Dis bedoel om vir mense te sê, daar wag iets beters waarna hulle kan uitsien. Dis ook bedoel om mense aan te moedig om nou al, te midde van hulle slegte omstandighede iets van die hemel te begin uitleef en waar te maak.
Openbaring is nie toekomsvoorspelling nie en ons kan dit nie net so letterlik op ons tyd van toepassing maak nie. Dit gaan oor die boodskap wat daardeur aan ons oorgedra word.

So wanneer Johannes in Openbaring 7: 9-17 skryf oor die hemel, is dit asof hy ons innooi om saam met hom by hierdie “thin place” in te loer en so ietsie te sien van die hemel, soda tons dit vandag al kan begin uitleef. Hierdie teks gaan nie oor hoe dit fisies lyk in die hemel nie, maar oor wie daar gaan wees en di twat daar gebeur.       

Verduidelikings van konsepte in die teks.
Ouderlinge verteenwoordig die kerk
4 lewende wesens(windrigtings) verteenwoordig die hele skepping
Wit klere – skoon, sonder sonde
Groot verdrukking - lyding wat mense beleef.
Skoongewas deur Jesus se bloed – wys na kruisiging.

So, wat leer ons uit hierdie teks oor hoe dit in die hemel gaan wees?

Ek het nog altyd gedink ons gaan verbaas wees oor wie ons in die hemel gaan ontmoet en hierdie woorde van Johannes bevestig dit vir my. Hy begin hierdie gedeelte deur te verwys na die groot, ontelbare menigte mense uit elke nasie, stam, volk en taal wat voor die troon bymekaar gaan kom en vir God gaan loof.

Om dit te verstaan moet ons teruggaan na vorige tekste in die Bybel.
Eerstens bevestig dit die belofte wat God aan Abraham gemaak het: Gen 17: 3-6.
Abram het op sy knieë geval, en toe sê God vir hom: “Dit is my verbond met jou: jy sal die vader wees van 'n menigte nasies; jy sal nie meer Abram genoem word nie, jou naam sal Abraham wees, want Ek maak jou die vader van baie nasies. Ek sal jou baie vrugbaar maak, Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom.

Paulus bevestig ook hierdie belofte in Galasiers 3: 28-29.
Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.
En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

Dit bevestig ook wat ons lees in die bekende Johannes 3:16-17.
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.

Dink ook aan Lukas 14 – Jesus vertel die storie van ‘n groot maaltyd. Die mense wat genooi word het almal een of ander verskoning hoekom hulle dit nie kan bywoon nie. Toe stuur die gasheer sy slaaf in die strate in om al die armes, kreupeles, blindes en verlamdes te gaan uitnooi na die ete toe.

In ander tekste soos Matteus 7 en Lukas 18 waarsku Jesus die godsdienstige mense, die fariseers en die skrifgeleerdes dat hulle nie by Jesus gaan wees nie, maar dat dit eerder die sondaars en die tollenaars gaan wees.

So as Johannes praat van die groot, ontelbare menigte wat in die hemel gaan wees – dan bedoel hy almal. Al die verskillende velkleure, tale en aksente. Al die mense met hulle verskille kosse, musiek, kulture, klere, gewoontes en tradisies. Ryk mense, die arm mense en die getremdes. Godsdienstige mense en sondaars. Dit gaan hierdie wonderlike diverse groep mense wees wat almal saam is in God se teenwoordigheid.

As jy dus ‘n rassis is. As jy iemand is wat neersien op ander mense. As jy iemand is wat graag ander mense oordeel en veroordeel. As jy mense uitsluit en verhoed dat hulle deel raak van God se kerk. Wel - dan gaan jy baie ongemaklik in die hemel wees. Ons gaan verbaas wees oor wie ons in die hemel gaan sien en ons moet nou al begin om anders na mense te kyk en teenoor hulle op te tree.

Ons gaan ook verbaas wees oor wat mense in die hemel doen. Die prentjie wat ons baie sien in romantiese kuns waarin die hemel uitgebeeld word, is een waar daar op harpe gespeel word en waar mense rondsweef op wit wolkies en die lekkerste kos eet– amper soos een lang vakansie.
By Johannes sien ons die teenoorgestelde – die hemel gaan ‘n baie bedrywige plek wees. ‘n Plek waar mense gaan sing en juig en vir God gaan aanbid.

Kom ek verduidelik dit met ‘n beeld:
Norman Rockwell was ‘n bekende Amerikaanse skilder wat baie realistiese skilderye geskilder het en mense daarmee uitgedaag en aan die dink gesit het. Een van sy skilderye is ‘n uitbeelding van die St. Thomas Church in New York. Die koster is besig om die tema van die priester se preek op ‘n bord by die voordeur op te sit. Die tema van die preek is: ‘Lift up Thine Eyes”. ‘n Klomp duiwe is terselfdertyd besig om opwaarts te vlieg. Op die sypaadjie voor die kerk is die mense besig om met hulle oë op die grond verby te stap.
Dis nie hoe dit in hemel is nie. In die hemel is die groot menigte, die heeltyd besig om op te kyk en God te loof.

Dit herinner ons ook dat ons nou-al hier op aarde, elke oomblik moet opkyk – weg van onsself en ons eie selfsugtige behoeftes af en vir God eer vir dit wat Hy vir ons gedoen het en steeds besig is om te doen. 

Laastens gaan ons ook verbaas wees oor die vlak van heling/genesing wat daar plaasvind. Johannes sê hier dat daar nie meer hongersnood en dors sal wees nie. Dis met ander woorde nie net persoonlike heling wat gaan gebeur nie, maar heling vir die wêreld.

Ek het na statistieke gaan kyk:
925 miljoen mense in die wêreld het nie genoeg om te eet nie. Meer mense sterf elke jaar van hongersnood as van VIGS, malaria en tuberkuloses gesamentlik.
783 miljoen mense (11% van wêreldbevoling) het nie toegang tot skoon water nie.

Hierdie statistieke is ‘n taamlike aanklag teen die van ons wat genoeg het. Die heling wat in die hemel gebeur gaan nie net oor die heling van ons liggame en gees nie, dit gaan ook oor die heling van alles wat in die wêreld verkeerd gaan. Ons word geroep om nou al iets hieraan te begin doen.

Om op te som:
Johannes lig die sluier so ‘n bietjie en gee vir ons net vinnige kykie na hoe dit in die hemel gaan wees. En Hy doen dit omdat Hy wil hê dat ons nou-al iets van die hemel in ons wêreld moet begin waar maak.
As Christene is ons mense wat die hemel ernstig neem en daarom moet ons dit wat Johannes skryf ook ernstig neem.
Ons moet alle mense insluit en deelmaak van God se kerk en ontslae raak van ons vooroordele oor mense.
Ons moet wegkyk van onsself af en opkyk na God toe en Hom eer.
Ons moet daadwerklik iets doen aan die nood in hierdie wêreld.

Gebed
Here God, Aan U behoort die lof en die heerlikheid,
die wysheid, die dank en die eer, die mag en die sterkte – tot in alle ewigheid.
Voor U kom ek staan en bely ek graag saam met al my medegelowiges:
“Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”
U is bý ons en blý by ons.
U maak ons deel van U geloofsgemeenskap en roep ons om ander ook deel te maak.
U les ons honger en dors en roep ons om dieselfde vir ander te doen.
U beskerm ons en gee vir ons wat vir die lewe nodig is.
U sal al die trane van ons oë afdroog en roep ons om dit ook vir ander te gaan doen.
Dankie dat U ons in die regte verhouding met U bring en ons laat léwe.
Dankie vir verlossing.
Dankie vir u leiding.
U wil ek dag en nag dien.  Amen.

Sunday, April 14, 2013

Preek 14 April 2013


Lesse van ‘n wynplaas

Ek gaan nie vanoggend ‘n vreeslike preek doen nie. Ek wil net vir julle vertel wat ek beleef en geleer het tydens my Sabbatsverlof. So, kom ons noem vanoggend eerder ‘n getuienis. Ek hoop dat dit dalk vir julle ook iets sal beteken.

Omdat al hoe meer predikante lei aan depressie en uitbranding en omdat hulle deesdae baie langer in gemeentes werk as vroeër, het die sinode verlede jaar besluit dat ons elke 3 jaar moet Sabbatsverlof neem of jy verloor die verlof. Sabbatsverlof is anders as vakansie – dis ‘n tyd van refleksie, herfokus, werk aan jou verhouding met God. Aan die ander kant het ek ook op ‘n punt gekom waar ek nodig gehad het om ‘n ordentlike breek van die bediening te neem en my kop skoon te kry.
Toe is die vraag natuurlik – wat doen ek met my langverlof, want ek kan nie net heeltyd by die huis sit nie. Ek het toe besluit die beste manier om my kop skoon te kry was om iets te gaan doen wat heeltemal buite my comfortzone is. Iets wat my heeltemal gaan wegvat uit my bekende omgewing en roetines. Daarom het ek vir ‘n maand in parstyd op ‘n wynplaas gaan werk. Daarom is vanoggend se tema “lesse van ‘n wynplaas”.

Ek wou nie na een van die groot kommersiele plase toe gaan nie. Ek wou na ‘n kleiner plaas toe gaan waar ek meer “hands-on” betrokke kon wees. Daarom het ek vir Albertus van Rensburg van Avondrood gebel. Dis ‘n kleiner familieplaas en kelder in die Breedekloof vallei buite Rawsonville. 

So wat het ek daar gedoen? Ek het basies as ‘n arbeider binne die kelder gewerk.
Ek het die temperatuur en suiker van die wyne dopgehou, chemikalieë gemeng en by die wyn gegooi, ek het kratte rondgedra, tenks gewas, pype geskuif en wyn gepomp, vloere gewas, ek was ‘n bode wat samples na die wynlaboratorium moes neem, Ek was dus betrokke by die hele parsproses. Ek was letterlik met my hande in die wyn en moes natuurlik proe ook. Dit was fisiese werk saam met die plaaswerkers en in die aande was ek fisies moeg.

In die kelder het ek saam met 2 plaaswerkser, Lucky en Alex, gewerk.  Hulle het vir my geleer hoe die dinge in die kelder werk.

Vir die maand het ek op die plaas gebly. Twee van die naweke het ek huistoe gekom en die een naweek het Jalize, die kinders en die hond vir my kom kuier. Albertus-hulle het net gesê, hulle sal vir my slaapplek en middagete gee. Ek het nie geweet waar ek gaan bly nie, maar toe ek daar kom, toe sê hulle dat hulle hierdie huis bo in die berg het wat hulle verhuur oor naweke en dis waar ek gaan bly. Ek het nie besef watter wonderlike plek dit was nie.

Hoop dit gee vir julle ‘n idee van waar ek was en wat ek gedoen het.
Die tyd was ‘n vir my ‘n geestelike ervaring. Ek het ordentlik gerus, ek het perspektief gekry oor ‘n klomp goed en ek het my kop skoongekry. Ek kan julle lank besig hou met dit wat ek beleef het, so ek wil vanoggend net 3 goed met julle deel.

Ek het alleen daar bo in die berghuis gebly. Net ek met die berge, die uitsig en die stilte. Die eerste aand toe ek daar bo in die Berghuis kom, toe bel Albertus my net om seker te maak dat alles reg is en dat ek alles het wat ek nodig het. Hy vra toe of ek tevrede is met die huis. Ek was meer as tevrede. Hy maak toe die opmerking – “daar bo in die berg, met die uitsig en die stilte voel dit asof God baie naby is”. En dis presies wat ek daar beleef het. Aan die een kant dat God baie groot is, maar terselfdertyd ook dat Hy baie naby is.

Ek het ‘n paar boeke ook in die tyd gelees. Een daarvan was ‘n lekker Western waaroor jy nie veel hoef te dink nie. Dis een van daai Westerns met die held wat almal uitsorteer en op die einde die meisie kry. Hy het verkies om op die vlaktes en tussen die berge te wees. Een dag toe kom hy in die stad met al die gewoel en hy dink by homself:
“I’m just a part of something much, much bigger than any single part of the whole. This is something lost to all but a few, who live in cities and towns. They get so busy with their personal problems that their sense of the Creator’s universe is lost to them.” 

Dis iets hiervan wat ek weer daar bo in die berg geleer het – ek is elke dag hier in die stad besig met al die gewone roetines en dinge. Ek is elke dag besig met die dinge van die Here en met God se mense en in die proses het ek begin vergeet het hoe groot God is, maar terselfdertyd ook hoe naby Hy aan my is.

In daai huis teen die berg het God my weer herinner aan Psalm 8: 4-6.
“As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U 'n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?
U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon.”

Die tweede ding wat ek weer moes besef het gebeur daar waar ek in die kelder gewerk het saam met Lucky en Alex.
Hulle is nie geleerde mense nie. Hulle is gewone plaaswerkers, maar hulle weet alles van die wynmaakproses en wat daar in die kelder moet gebeur. Ek het ‘n meestersgraad in Teologie, maar in daai kelder het ek minder geweet as hulle twee. Hulle het baie geduldig vir my gewys wat daar aangaan. In daai kelder was ons mekaar se gelykes.

Die enigste verskil tussen my en Lucky en Alex was ek meer en beter geleenthede in die lewe gekry as hulle. Ek het weer besef dat ek ongelooflik dankbaar moet wees vir die geleenthede wat ek gekry het en vir die geleenthede wat ek vir my kinders kan gee. Ons neem die goed so vanselfsprekend en ons kla so maklik– ons moet weer besef hoe gelukkig ons is en ons moet dankbaar wees.

Daarmee saam het ek ook weer besef dat ons almal God se mense is. In God se oë is daar geen verskil tussen my met my meestersgraad en die ongeletterde plaaswerkers nie. Ons is almal God se mense en hy het dieselfde liefde en drome vir ons elkeen. Ons almal behoort aan hom en ons moet elke mens wat ons pad kruis hanteer soos iemand wat aan God behoort.
God het daar in die kelder saam met die plaaswerkers, my weer herinner aan dit wat Paulus in Galasiers 3: 28 skryf:
Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”  

Laastens het ek weer onder die indruk gekom van die hoeveelheid welwillendheid, gasvryheid en vrygewigheid daar in hierdie wêreld is.
Ek en Albertus het geweet van mekaar, maar ons het mekaar nie eintlik geken nie. Ek dink ek en hy was ewe onseker oor wat om te verwag van my tyd op die plaas. Maar die eerste keer toe ek hom gebel het om te vra of ek op sy plaas kan kom werk, het hy sonder huiwering ja gesê. Hy en sy gesin het my met ope arms op die plaas verwelkom. Ek het saam met hulle geëet, ek het verniet in die Berghuis gebly. Hy het geduldig al my vrae beantwoord. Toe Jalize en Christiaan verjaar het, het Hy selfs vir my wyn present gegee vir hulle verjaarsdagete.
Aan die einde van my tyd op die plaas toe ek gaan dankie sê en vir hulle ietsie gee om dankie te sê, was hy baie verleë en het vir my dankie gesê omdat ek op die plaas was. So asof ek hom ‘n guns gedoen het.
Dieselfde met die plaaswerkers – hulle was geduldig met my, het al my vrae beantwoord, het my nooit laat voel soos ‘n buitestaander nie. Hulle het hulle lewens met my gedeel. Ek het by hulle geleer.

Ons hoor so baie van al die negatiewe goed wat mense doen. Ons raak afgestomp en sinies en ons is heeltyd skepties oor mense en hulle bedoelings. Ons vertrou mense nie meer nie. Hier in die stad jaag ons bymekaar verby en ons kruip in ons huise weg.
Ek moes weer besef, daar is soveel welwillenheid as ons vir mense ‘n kans gee en onsself oopstel daarvoor. Aan die ander kant het dit my ook weer geleer om te kan ontvang en oop te wees vir mense se welwillendheid, sonder om skuldig te voel daaroor of iets te wil teruggee.

God het my weer herinner aan:
Hebreërs 13:2: ““Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.”
Romeine 12: 13 - “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.”

As ek alles kan opsom.
Hierdie 2 maande wat ek weg was het vir my perspektief gegee oor goed in my lewe, my bediening en oor goed wat die afgelope jaar of wat gebeur het.
Die het vir my weer vrede en rustigheid gegee oor wie ek is en my verhouding met God.
Dit het weer vir my nuwe fokus en energie gegee vir die lewe en vir my bediening hier saam met julle.
Ek wil afsluit met ‘n aanhaling wat ek gekry het wat iets sê van dit wat ek beleef en geleer het.
God is ewig en oral, Hy is nie vasgevang in die grense van ons tyd nie. God het ‘n groter prentjie van dinge as ons, een wat ons nie verstaan nie, maar waarvan ons tog ‘n “besef” het. Dis soos iemand wat een stukkie van ‘n legkaart optel. Hy besef hierdie stukkie is deel van die groter legkaartprentjie. Hy weet nie hoe die groter prentjie lyk of waar sy stukkie in pas nie. Daarom verstaan hy heel moontlik ook nie mooi wat op sy stukkie aangaan nie, maar hy weet dit beteken iets. Hy weet, sodra ek die volle prentjie sien, sal ek verstaan wat op my stukkie aangaan. Die sin van my bestaan is die besef dat my hele lewe deel is van ‘n groter geheel – wat nie in my hande is nie, maar in God se hand.

Sunday, April 7, 2013

Preek 07 April 2013


PREEKSKETS : GOS SE GAMEPLAN
7 APRIL 2013
_______________________________________________________
1.   IN DIE VOETSPORE VAN JESUS ::  Die FedEx Ad, waarin die koerier met ’n pakkie @ ’n huis opdaag : Wanneer die vrou die deur oopmaak, verduidelik hy dat hy vir vyf jaar op ’n verlate eiland gestrand was, maar dat hy die pakkie @ hom gehou het SODAT hy dit vir haar kon aflewer sodra hy gevind word.  Die leuse van FedEx is immers ::  We deliver : Whatever!     Maar hy is nuuskierig om te weet WAT in die pakkie is wat hy vir vyf jaar op die verlate eilland bewaar het! Wat is daarin?   Ag! Niks waardevols nie : Net maar ’n satelliet-telefoon, ’n GPS, ’n kompas, water-reiniger en saadjies ::  Alles wat hy nodig gehad het om te oorleef en vinnig opgespoor te kon word, was in die pakkie!!   >>   Alles wat nodig is vir persoonlike groei en krag :: Om te weet WAT God wil vir my is, in Ps 25 vryelik beskikbaar by God!   Maak net die pakkie oop en gebruik dit!!

2.   Weet ek is nou op gevaarlike terrein ......!  Ek hoor so baie van die Bulle se ... game plan :: Of is dit nou die coach se game plan?  Verstaan dit nie altyd nie : Kan iemaddalk virmy verduidelik?    Want dit lyk asof die game plan die meeste kere nooit werk nie ::  Want na elke wedstryd moet hulle ... back to the drawing board : Moet die game plan biki aangepas word!!

3.   Ek het gewonder ::  Het God ook ‘n gameplan vir my?   Werk die plan?  Hoe werk die plan? Wat is MY aandeel aan die game plan?  Wat IS Sy plan vir my ... regtig?  Wat VERWAG Hy van My?? WAARHEEN wil Hy met my?  Wil Hy hê ek moet ’n liggie gaan wees in Perth ... Of dalk hier!!!  Ek weet nie ... Ek wonder soms .... Werk die game plan?   Ek luister tog so fyn na die STEM van God :: Stel my ore / my verstand / my hele wese so INTENS in op Sy stem   >>  En tog antwoord Hy nie al my vrae en onduidelikhede nie :  Ek is soms in die grootste twyfel!!    >>  Ja!!  Ek sukkel werklik om te weet WAT Sy wil vir my lewe is!!

4. Ek meen ::  **  Ek is 19 jaar oud ::  In die fleur van my lewe : >>>>> En sit in ’n rolstoel – My lewe aan’t skerwe!!   **  Ek’s hierdie dinamiese en susesvolle jong boer van die jaar : Ry op die kruin van sukses  >>>>>>  En ek het kanker – Ekmis nou hierdie OORLAS!    **  Ek’s hierdie steunpilaar in die gemeenskap :: Almal steun op my  >>>>> En my kind is dood – Wat bly vir my oor??    Ag komaan :: Waar’s die logika?? Waar is die SIN?  Wat se grappie is dit??  Waar pas ek nou @ God se plan in?

5.  Hoe troos jy? Wat antwoord jy? Hoe gee jy raad? Hoe bemoedig jy?    >>  Ek wil graag probeer ::  Net een sinnetjie ::  BLY NABY AAN DIE HERE!!  Jes 55 : 3 >>   WANT As jy NABY aan Hom bly, praat Hy deur Sy Gees in jou hart :: En HOOR jy Sy stem vir ons gewone mense : En praat Hy so duidelik dat jy besef ::   **  Maar God is nooit DOOF vir Sy kinders nie!!   **  Hy luister met groot belangstelling en deernis na jou :: Selfs wanneer dit nie so VOEL nie!   **  God is altyd net BETYDS ::  Juis wanneer jy begi twyfel!!  **  Wanneer Hy jou nie antwoord nie, sê Hy waarskynlik ::   Wag!!  Jy SAL die antwoord kry, my kind ... wanneer die tyd reg is!!   **  God se antwoord is altyd PERFEK :  Juis wanneer Sy antwoord nie is soos EK dit sou wou hê nie : Of soos dit MY nou sou pas nie : Of soos dit nou binne MY PLAN sou inpas nie!!  

6.  En Ja!!  Sy planne en antwoorde is soms VERRASSEND anders as wat ek sou dink of verwag!   Ek meen : ’n Rolstoel!  Kanker!!  My kind is dood!   Maar ::  Jakobus 4 : 8 >>  Draw near to God : And He will draw near to you!  Gee vir God plek in jou lewe!
Want dan is jy tot oorlopens toe VOL van God se genade!  Dan pas jy IN by God se plan!
 
7.   Want sien :: God is God!!  Hy weet soveel meer //  Sien soveel beter die groter en ander prentjie //  Weet soveel beter wat die uiteindelik DIE BESTE vir jou sal wees!!

8.   Soos die man wat met ’n klein vliegtuigie oor ’n hoë bergpas vlieg!   Hy kyk af, en sien hoe ’n motor sukkel om by ’n groot lorrie verby te kom.  Die bestuurder kan nie verby die groot vragmotor en al die draaie sien nie, maar waar hy  in die vliegtuigie sit, kan al die aankomende verkeer sien aankom!  Hy sien die groter prentjie!!  Hy wil die man waarsku, maar is magteloos!!!

9.  Maar met God is dit anders ::  Want God sien ook die GROTER prentjie sien ::  Die VERSKIL >> Hy kan WAARSKU // Hy beplan lankal VOORUIT //  Hy gee antwoorde soos nodig!!   Daarom kan ons Hom 24/7 vertrou!!   ’n Uitnodiging wat oorloop van God se genade!!

10.   Wat ’n heerlike vertroue ::  Om te weet :: God loop met GOEIE REDE nie  ’n kilometer voor ons uit sodat ons kan sien waarheen Hy ons more neem nie.  Nee!  Hy loop NABY aan ons omdat Hy JUIS wil hê dat ons dag vir dag – soms sommer blindelings - maar net agter Hom sal aanloop ::  Hom sommer net in VERTROUE tree vir tree sal volg :: En sal weet >> Hy SAL ons lei > Een dag op ’n slag!!  **   Hy beloof immers in Jes 55 : 12 >  Hou dan maar net aan vra na My wil :: In die wete dat My gedagtes totaal anders is as joune!   Maar DIT belowe Ek :;  Julle sal uit Babel wegtrek en in VREDE gelei word!

11.   MOED VIR MORE!   En dan kry ’n mens mos sommer MOED vir more en oormore ::  Want jy weet ::   **  Jy kan OPNUUT jou lewe vir Hom gee :: Omdat Hy vir elke faset van jou lewe SAL sorg!  Dis immers Sy  UITNODIGING  >>  Jes 55:1 >> Kom. Laat almal wat DORS het, hier na die water toe kom!  Julle hoef nie eers geld saam te bring nie! Kom kry die wyn en melk verniet!   ** `Jy kan jou instem en regtig die STEM van die Gees in jou hoor ::  Hy nooi jou immers uit :  Jes 55:3,6 >> Gee aandag en kom na my! Spits julle ore! Luister mooi dat julle kan lewe! Vra na My wil terwyl Ek nog naby julle is!   **  Jy kan Hom loof vir Sy grootheid en getrouheid :: Want Hy sal mos alles vir jou GOED laat uitwerk!  Dis immers wat Hy bedoel wanneer hy sê ::  Jes 55:8 >>  Ek dink en doen heentemal anders as julle! ....! Vertrou my net!   **  Jy kan leef met die wete dat God op verrassende wyses werk : Jy sal weet wanneer jy wat jy MOET doen :: God SAL jou antwoord!   Jes 55:11  >>  So sal die Woord wat uit my mond kom, ook wees :: Dit sal nie onverrigter sake na MY toe terugkom nie!  Maar dit sal doen wat EK gedoen wil hê!!

12.   Sien :: Wanneer jy vir God van voor af weer VERTROU,  en jy begeer om jou pad agter Hom aan te loop, kan jy mos weet :  **  Hy is hier reg VOOR jou!!  ’n Millimeter van jou af!!   **  En dan hoor jy Hom sê ::  Volg My!! Al weet jy nie WAARHEEN Ek jou neem nie :: Bly net NABY aan My!!  Ek sal jou die pad wys!!

13.  Ek meen :: 
>>   Ek is 19 jaar oud ::  In die fleur van my lewe : >>>>> En sit in ’n rolstoel – My lewe aan’t skerwe!!     >>   Dis nou 8 jaar later ::  En JP  sê  >>  Ek was te jonk om NIKS te doen nie. Het nie kans gesien om heeldag te krepeer oor wat gebeur het nie. Dis soos die verhaal van Job maar op ’n baie ligter skaal en in ons tyd nou.   Voor my pa oorlede is, het het hy gesêosn moet JOB lees – Gesê ons sal baie antwoorde daaruit kry – Het nooit gedink dit sal soorgelyk op my afspeel nie – 8 jaar later! Ek wil ook eendag trou, ’n gesin hê, kinders hê, huiskoop ens ... Maar om dit reg te kry moet ek seker beheer vat oor my lewe. Ek het dit gelaaik om te weld, want dan kon ek altyd die eindproduk sien, Maar dit is nou van my weg geneem.  Toe kry ek die pos by ’n road fright maatskappy, en het ’n passie in dit gevind. Kan wel nie die die eindproduk sien nie, maar ons is tog die hart van die ekonomie as ek dit so kan stel.     Met verhouding met die Here .. Om eerlik te wees- Ek was woedend vir Hom gewees aan die begin.  Maar tog hulp by Hom gesoek.  Want Hy het een deur toe gemaak, Maar tog moes daar ’n ander een oop gaan?  Ek het net nooit geweet wat nie – Totdat ek weer op die regte pad gekom het : dis daardie dag wat ek besef het ek WAS op die pad gewees wat my ondergang sou beteken het.   Hy sou dit nooit aan my gedoen het as Hy nie geweet het ek kan dit handle nie ....!   Ek het nou aansoek gedoen vir ’n hoër pos : Junior Fleet Controler : En ek’s op die kortlys :: Ek het nou alles gedoen wat moontlik is. Van hier af is dit in U hande, Vader ::  Laat dit U wil wees!

>>  Ek’s hierdie dinamiese en suksesvolle jong boer van die jaar : Ry op die kruin van sukses  >>>>>>  En ek het kanker – Ek is nou hierdie OORLAS – Seker nie meer lank oor om te leef nie!      >>  Maar Louis sê >>  Die Here is GOED vir my : Daar’s ’n wonderlike oes op my lande : Die beste nog ....! Die Here is GOED vir my!

>>   Ek’s hierdie steunpilaar in die gemeenskap :: Almal steun op my  >>>>> En my kind is dood –   >>  Wilna onthou 23 Sep 2002 so  >> Dit was in die middel van die dag ; Ons het in die woonkamer gesit, gesels en lag!  Hy het sy toekomsdrome met my gedeel – Om sy lippe het daar ’n glimlag gespeel!  Wonderlik om nog so jonk te wees! Vol ideale en sonder enige vrees. Peinsend het my oë oor hom gestreel – Sy oë het vonkelend sy begeertes met my gedeel! Dit was in die middel van die nag – Die nag van daardie selfde dag!  Ons het geslaap – Maar eintlik vir hom gewag!  Nooit sou hy weer sy voete oor my drumpel sit, En sonder woorde het ek tot God gebid!   My kind is dood! Begeerte ... Verlange ...Net ’n woord : Maar hy is dood!  Beperkte ruimte binne my – Gevoelens wat wil oopbreek, Die liefde in my hart ........ is weggesteek!
>>  Vandag – 11 jaar later – getuig Wilna >>  Jong! Jy het my nou diep laat krap :: Hoe cope ‘n mens?  Ek het al baie self gedink: hoe het ons “gecope”?  Ek kom nou agter ek wil nie te diep krap nie.  Dis asof ‘n mens iets sag, een of ander “comfort” oor die seer getrek het, en terwyl  die sagtheid jou omvou, kan jy ligtelik al die “onthou” oproep en oor hom praat en lag oor sy goeie en slegte eienskappe.  Maar as ek wil sit en dinge wil analiseer en intelektuele verklarings wil gee  -   kan ek nie. Daar is nie ’n resep nie!  Dis net genade, ONBESKRYFLIK GROOT ::  Net deur die genade en liefde van die Here.  Deur jou vriende wat die Here se hande en voete op aarde is en wat Hy oor jou pad stuur!  Dis al!   My vehouding met die Here  het my daardeur gedra. Dis verkeerd gesê: dis die Here se verhouding met my wat my daar deur gedra het. Sy begrip en Sy liefde. Hy hou jou vas wanneer jy Hom sou los

15.  GEBED ::  Vader! Soms roep EK na U!  Soms voel dit asof U nie wil hoor nie!! Ander kere soek ek na U wil! Maar dan vind
en dit nie .... Is dit omdat U God is .... En ek mens is??   Help my om in tye van onsekerheid net nog NADER aan U te loop ::
Net nog MEER na U stem te soek!!  Help my om U duidelik te hoor, Here!  Leer my om soms maar net bietjie te wag!  En wys my veral hoe om U onvoorwaardelik te vertrou!!