Wednesday, November 27, 2013

Preek 24 November 2013

Kolossense 1: 15-20
Christus die koning Sondag


Vandag is Christus die koning Sondag. Op hierdie Sondag vier vir Jesus wat die koning van ons lewens en van die heelal is.
James Allen Francis het in 1926 die volgende oor Jesus geskryf.
Hier was ʼn man, wat gebore is in ʼn klein dorpie, die seun van ʼn plattelandse boeremeisie. Hy word groot in ʼn ander agter-af dorpie. Hy werk as ʼn timmerman van die dorp totdat Hy 30 jaar oud is.  Daarna is Hy drie jaar lank ʼn rondreisende prediker. Hy het nooit ʼn boek geskryf nie. Hy het geen vername pos beklee nie. Hy het nooit ʼn huis besit nie. Hy het nooit verder as 250 km gereis van die plek waar Hy gebore is nie. Hy het slegs Homself as CV gehad het. Hy het niks in die wêreld besit nie.  Terwyl Hy nog baie jonk was en sommer vroeg in Sy loopbaan, het die openbare mening algaande teen Hom gedraai. Sy vriende het hom in die steek gelaat.  Hy het in die hande van Sy vyande geval.  Hulle het Hom vasgespyker aan ʼn kruis tussen 2 diewe!  Sy laksmanne het ʼn speletjie gespeel oor Sy enigste aardse besittings wat Hy gehad het – die klere aan Sy liggaam. Toe Hy dood was, is Sy liggaam in ʼn geleende graf gelê, die eiendom van ʼn vriend wat vir Hom jammer was.  20 lang eeue het gekom en gegaan en vandag is Hy die Middelpunt van die ganse mensdom en die Leier van vooruitgang en beskawing.  Hy is die begin- en vertrekpunt van die jaartelling van ons kalender.  Ek is volkome binne my reg, wanneer ek beweer dat al die skepe wat al gebou is, al die weermagte wat al gemarsjeer het, al die parlemente wat nog gesit het en al die konings\regerings wat al geregeer het, dat hulle nie die lewe van die mens op aarde so radikaal en volledig beïnvloed het soos hierdie een enkele lewe van Jesus Christus nie!

In die dertiende eeu het iemand 30 bokvelle aanmekaar vasgewerk en ‘n kaart van die wêreld daarop geverf. Dit was 12 voet by 12 voet. Die Latynse naam van hierdie kaart is Mappa mundi Christiana – dit beteken “‘n Christelike kaart van die wêreld”.
Hierdie kaart is in 1843 in ‘n klooster in Duitsland ontdek. Ons het egter nie meer hierdie oorspronkilik weergawe van die kaart nie – dis tydens die Tweede wêreld oorlog in ‘n bomaanval verwoes. Al wat ons daarvan het is foto’s en afdrukke.
Aan die bopunt van die kaart is die kop van Jesus. Aan die twee kante is Jesus se hande en onder is sy voete.  Jerusalem is in die middel van die kaart, waar Jesus se naeltjie sou wees.
Rondom die kaart is daar beskrywings van diere en die skepping van die wêreld. En die Bybelse stede en plekke is oral ingeteken.
Wat die skepper van hierdie kaart wou oordra, is dat Jesus is die een wat die wêreld bymekaar hou. Hy is agter alles. Hy is die middelpunt van alles. Hy raak alles en almal.

Dis waaroor vanoggend se teksgedeelte gaan.  Lees Kolossense 1: 15-20

Paulus skryf hierdie lied aan die gemeente in Kolosse. Daar was dwaalleraars wat die mense verwar het. Hulle het vertel dat Jesus nie regtig so belangrik is nie. Volgens hulle was Hy maar net nog ‘n manier om by God uit te kom. Hulle ontken dus die rol wat Jesus speel in die Christelike geloof en in mense se lewens. In reaksie hierop sê Paulus dan ‘n paar goed oor Jesus.

Jesus is die beeld van God (vers 15a). Paulus sê – as jy wil weet wie God is. As jy wil weet hoe God is. Kyk na Jesus. Jesus maak vir God sigbaar.

Jesus is die eerste (vers 15b-17). Jesus was nog altyd daar. Hy was betrokke by die skepping en Hy is steeds daarby betrokke. So daar is niks in hierdie skepping wat belangriker is as Jesus nie. Hy is belangriker as die heelal en alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie. Belangriker as enige konings en regerings.  

Jesus, hoof van die kerk (vers 18). Nou skuif die fokus van die heelal af na Jesus se verhouding met die kerk (ons). Paulus bevestig – Jesus is die hoof van die kerk en Hy hou dit in stand. Hy sorg vir sy kerk.

Jesus se werk is versoening (vers 19-20). Jesus het mense en die hele skepping en God bymekaar uitgebring.  Die kruis is soos ‘n brug tussen die wêreld en God. Die kruis het vrede gebring tussen God en die wêreld. 

Paulus doen wat die skepper van die Mappa mundi Christiana wou doen – hy bevestig dat Jesus die oorsprong, die middelpunt en die onderhouer van alles en almal is.

In verse 16-17skryf Paulus: “God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie… voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand”.

Dis wonderlik om dit te hoor, maar soms voel dit mos nie asof Hy alles in stand hou nie. As ons so kyk na die wêreld waarin ons leef, met al die wreedheid wat mense teenoor mekaar pleeg. As ons so kyk na al die hartseer wat mense beleef. As ons so kyk na die natuurrampe waarin 1000de mense sterf.
Mense beleef seer en hartseer en gaan deur worstelinge. Soms voel dit mos asof die lewe jou so platslaan dat jy net uitmekaar wil val. Dan lyk dit nie asof Jesus alles in stand hou nie.


As dit is hoe jy voel dan wil ek jou vertel van laminien. As jy al ‘n praatjie van Louie Giglio gekyk het, sal jy dalk weet wat laminien is, maar ek het nie geweet wat dit is nie. Eenvoudig gestel – laminien is ‘n extra sellulêre protein in ons liggame. Dit beteken dit lê buite die selle in ons liggame. Dit gee ondersteuning aan die selle en dit bind die selle aanmekaar. Dit sorg dat ons nie uitmekaar val nie. As dit nie reg funksioneer nie kan dit byvoorbeeld lei tot spier distrofie. So dis ‘n baie belangrike protein.
Nou wil ek ook vir julle ‘n foto wys van Laminien wat met ‘n baie sterk mikroskoop afgeneem is. Laminien is in die vorm van ‘n kruis.

Soos wat die laminien ons liggame in stand hou en bymekaar hou, so hou Jesus alles in stand. Ons liggame, ons wêreld, ons lewens. En ja, ons word siek en ons wêreld is deurmekaar en ons lewens is soms chaos en seer, maar Jesus is die een wat ons daardeur help en alles weer bymekaar laat kom. 
Soos Rob Bell in een van sy boeke skryf: “God is putting the world back together, and God is doing this through Jesus."

Wat beteken dit alles vir ons wat onsself Jesus-volgelinge noem?
Ons moet begin deur weer vir Jesus die middelpunt van ons lewens en ons wêreld te maak. Die beste manier om dit te doen is om ‘n slag weer te gaan kyk hoe lyk sy voorbeeld en dit na te volg. Dit beteken ‘n paar goed…
Ons moet leef met liefde teenoor alle mense. En onthou Christene kan nie kies wie hulle liefhet nie.  Soos Jesus moet ons alle mense liefhê.   
Ons moet barmhartigheid bewys aan alle mense.
Ons moet vredemakers wees in ‘n wêreld waar daar baie onvrede is.
Ons moet mense vergewe, soos wat Jesus ons vergewe het.
Ons moet genadig wees teenoor alle mense. Is altyd vir my interessant hoe ons geneig is om Jesus se genade vir onsself toe te eien, maar as dit kom by ander mense, dan is ons traag om genade te bewys.
Ons moet die kwaad in hierdie wêreld oorwin met die goeie.
Ons moet ophou om so pessimisties en negatief te wees. Wanneer dinge sleg lyk en voel moet ons leef soos mense wat glo dat Jesus ons sal heelmaak en dinge ten goede sal laat uitwerk. 

Die punt is – Ons moet Jesus as die koning van ons lewens erken. Maar dis die maklike deel. Die uitdaging is - ons moet dit begin leef ook. Op hierdie Christus die koning Sondag erken en vier ons dat Hy die koning van ons lewens is – veral deur te begin leef soos mense wat erken dat Hy ons koning is.


Sunday, November 17, 2013

Preek 17 November 2013

2 Tessalonisense 3: 6-13


Verlede week het Jalize vertel van die wederkoms en die einde van die wêreld. Sy het vertel hoe baie voorspelling daar al was oor wanneer dit gaan gebeur en vir wanneer dit nog gaan gebeur. Ek wil begin deur vir julle te vertel van een van hierdie voorspellings en mense se reaksie daarop.
Harold Camping – hy was die president van Family Radio in California. Hy was self ook ‘n omroeper by die radio stasie. Hy is waarskynlik meer bekend daarvoor dat hy op grond van allerhande berekeninge die wederkoms en einde van die wêreld voorspel het vir 21 Mei 2011. Toe dit nie gebeur het nie, het hy die datum aangeskuif na 21 Oktober 2011, waarna hy maar eerder afgetree het.
Sy voorspelling het ‘n klomp mense op hol gehad en hulle het ekstreme goed gedoen. Ek wil gou vir julle ‘n artikel lees wat gaan oor die goed wat mense gedoen het. Dit het op 23 Mei 2011 verskyn in The Examiner. Twee dae nadat die wederkoms moes gebeur het.

The Examiner: May 23, 2011
May 21st has come and gone, and the biblical Rapture event did not come. For tens of thousands, if not millions of followers of Harold Campings timeline for the coming of Jesus to get his bride, the aftermath of economic choices made leading up to the prophetic date now stands squarely in front of them.
For many people who accepted and chose to be a part of Harold Camping and Family Radio's call to warn the world of impending doomsday, their actions stemmed from simple spoken warnings to friends, colleagues, and work associates, to others selling all they had, including retirement funds, and using the money to purchase such things as billboards and radio spots.
Because Camping was certain “without any shadow of a doubt it (Doomsday) is going to happen,” many of his followers sold their possessions and quit their jobs.
Adrienne Martinez, a follower of Camping, and her husband have reportedly quit their jobs and spent the last penny in their bank account towards a rented house in Orlando. “We budgeted everything so that, on May 21, we won’t have anything left,” said Adrienne.
But the false prediction might not be so easily effaced from the lives of Camping's followers. The L.A. Times writes that Keith Bauer, a 38-year-old tractor trailer driver, took a road trip with his family to see the Grand Canyon before the world ended.
"With maxed-out credit cards and a growing mountain of bills, he said, the rapture would have been a relief," the paper writes.
But Bauer is not angry at Camping for his false prediction. "Worst-case scenario for me, I got to see the country," he told the paper. "If I should be angry at anybody, it should be me."
Robert Fitzpatrick, who spent $140,000 of his life savings to advertise the rapture in New York, said he was dumbfounded when life went on as usual Saturday.
What is very poignant are the reactions throughout history by people who have been deceived into believing a Rapture event was ready to take place. In the 19th century, followers of a church minister named William Miller sold all their goods and land, and followed the preacher up to a mountain where they truly believed Jesus was returning for them. Over 50,000 Christians succumbed to Miller's doctrine and prophetic interpretations, and this was during a time when mass communications weren't what they are today.
For many followers of Harold Camping's belief in May 21st, having to start over in a working career will be very difficult, since those who quit their jobs did so of their own accord. Subsequently, they and their familes will not be eligible for unemployment insurance, and only time will tell if their previous employers will find compassion in re-hiring them to prior positions.
Harold Camping responded on Sunday in a brief statement that he has no answers, and doesn't understand why the rapture did not occur on May 21st. There was no contrition for the tens, if not hundreds of thousands of believers who followed the man, and his interpretations blindly, and chose to make economic choices that wouldn't even stand up to scriptural confirmation.
It is now two days after the missed Rapture date of May 21st, and in the aftermath for the followers of Harold Camping they must now deal with the realization of their economic choices, and overcome the disappointment to begin again building their financial futures, and employment careers.

Dit is wat gebeur het in die tyd van 2 Tessalonisense. Die mense het gedink die wederkoms gaan enige tyd gebeur, so daar was van die gelowiges wat verkondig het dat alle gelowiges hulle werk en daaglikse verantwoordelikhede moet los. Hulle hoef ook nie enige beplanning vir die toekoms te doen nie. Hulle moet net passief wag vir die dag wanneer Jesus weer kom.
Dis hoekom Paulus in vers 10 skryf: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie”.
Dis ‘n waarskuwing aan die mense wat net wil sit en wag op die wederkoms.

Ons kan dus nie hierdie teks gebruik as ‘n rede om nie mense te help nie. In ons land met die 25% werkloosheidsyfer sal dit darem ‘n baie ongevoelige en onredelike ding wees om te doen. Dit gaan nie oor mense wat nie werk kan kry nie, of wat graag wil werk maar hulle werk het nie.
Dit gaan hier oor mense wat spesifiek kies om nie te werk nie oor die wederkoms en daarom ‘n las is vir die gemeente. Hulle is ledig en bemoei hulle daarom net met ander mense en maak ‘n oorlas van hulleself.
Soos die spreekwoord sê: “ledigheid is die duiwel se oorkussing”.
Wat Paulus dus sê is dat – maak nie saak wanneer die wederkoms is nie – ons moet aangaan met ons lewe, ons werk en ons verantwoordelikhede.

Teen hierdie agtergrond moet ons verstaan dat werk vir ‘n Christen veel meer is as net ‘n manier om luiheid te verhoed of om geld te maak. Vir ‘n Christen is werk ‘n roeping. Die Bybel help ons om perspektief te kry oor werk.

Werk is ‘n geskenk van God. Hy gee vir ons gawes en talente om te kan werk. So, werk is ‘n manier om Hom te verheerlik. Dis ‘n teken van dankbaarheid teenoor God.

Werk as ‘n geskenk van God help ons om vervullende en betekenisvolle lewens te kan lei. Daarom moet ons ook nie toelaat dat werk ons hele lewe oorneem nie.
Marguret Fuller het gesê: “Ons sê ons moet werk om ‘n lewe te maak, maar dan raak ons so vasgevang in ons werk dat ons nie tyd het om te lewe nie”.
Werk is nie die doel van die lewe nie. Om ‘n vervulde, betekenisvolle en gelukkige lewe te lei – dis die doel. Werk is ‘n manier om daarby uit te kom. So wees gebalanseerd.

Werk weerhou ons van ledigheid. Ledigheid lei tot allerhande verkeerde goed. Soos Paulus skryf dit maak dat jy jou onnodig bemoei met ander mense.
Voltaire het gesê: “Werk hou drie wolwe van die deur weg: armoede, kwaaddoen en verveling”.
Dis een van die redes hoekom ons in ons land iets moet doen aan die hoë werkloosheidsyfer. Want dit veroorsaak armoede, kwaaddoen en verveling.

Werk help jou om in jou behoeftes te voorsien. Wanneer jy in jou behoeftes kan voorsien, dan gee dit vir jou menswaardigheid. Let wel – dit gaan hier daaroor om in jou behoeftes te voorsien. Behoeftes gaan oor dit wat jy nodig het. Ons het nie die duurste karre, die grootste huise, duurste vakansies en baie bling nie nodig nie. As dit jou motivering is om te werk, gaan jy nooit tevrede wees nie en jy gaan nooit genoeg hê nie.   

Werk gee ook vir ons die geleentheid om goed te doen aan ander – soos Paulus skryf in vers 13. Werk maak dat ons ‘n positiewe bydrae kan maak in die samelewing en aan die lewens van mense. As mens jou werk sien as ‘n geskenk van God. As jy dankbaar is vir jou werk, dan is dit ook baie makliker om ‘n positiewe bydrae te lewer en van jou geld en goed weg te gee om die wêreld ‘n beter plek te maak.

In 2 Tessalonisense 3 spreek Paulus ‘n negatiewe situasie aan, maar terselfdertyd gooi hy ‘n positiewe lig op werk.
Hy spreek die negatiewe situasie rondom die wederkoms aan. Hy beklemtoon dat die wederkoms ons nie moet laat onttrek en alles verkoop om te sit en wag nie dat dit gebeur nie. Dit moet ons juis aanspoor om te werk en hard te werk en ‘n verskil te maak totdat Jesus eendag weer kom.
Daarmee saam bevestig hy dat werk nie bedoel is as ‘n straf nie. Dis ‘n geskenk van God af. Hy weet dit gee vir ons menswaardigheid, dit maak dat ons in ons behoeftes kan voorsien. Dit gee vir ons ‘n geleentheid om ‘n positiewe bydrae tot die samelewing en in mense se lewens te maak. Dit skep vir ons ‘n geleentheid om in ons werksplekke ‘n getuie vir Hom te wees.   

Gebed.