Tuesday, August 12, 2014

Preek - Sondag 10 Augustus 2014

Romeine 10: 5-15


Deesdae gebruik ons GPS om te weet waarheen om te ry of wanneer ons verdwaal. Ek onthou nog die tyd van kaarte en kaartboeke. Ons wat met vakansie gaan – my pa wat bestuur en my ma wat met die kaartboek sit en probeer om vir hom die pad te verduidelik.

Of jy nou GPS gebruik of ‘n kaartboek – jy moet net altyd besef dat dit nie volmaak is nie. Mens moet altyd in ag neem dat paaie verander, brûe word gebou, geboue word verwyder of gebou. So, jou GPS moet ook maar soms ge-reset word om die veranderinge in ag te neem. Of jy moet sorg dat jy ‘n opgedateerde kaartboek kry, waarin die veranderinge opgeteken is. Anders gaan jy jouself vasloop. Jy kan nie vandag ry met ‘n kaartboek wat in 1990 gedruk is nie.

Dis ‘n goeie beeld om ons teks te verduidelik. Paulus pleit dat ‘n mens jou GPS moet reset of dat jy jou kaartboek moet opgradeer.

Die ou kaart wat jou nie meer gaan help nie, is Moses se kaart. Ons lees daarvan in vers 5: “Moses skryf naamlik van die vryspraak op grond van wetsonderhouding dat die mens wat doen wat die wet beveel, daardeur sal lewe.”
Met ander woorde Moses se ou kaart sê – jy word vrygemaak/verlos/gered deur die wette en reëls te gehoorsaam. Jy word vrygemaak deur die regte dinge te doen en goed genoeg te probeer wees.
Paulus sê dit is soos om na die hemel toe te probeer opklim om Jesus te gaan haal of om onder die grond in te grawe om Jesus uit die dood uit te gaan haal. Dis harde werk.
Dis die kaart wat verouder is en nie meer geldig is nie.

Die nuwe kaart, sê Paulus – is Jesus se kaart. Ons kry dit in verse 9-10. “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons en ons word gered.
Die nuwe opgedateerde kaart sê dus: dis nie die nakom van  wette en reels wat jou vryspreek nie. Dis Jesus wat dit doen en ons hoef dit net te glo.

Kom ek verduidelik die verskil tussen die 2 kaarte met nog ‘n beeld.
Wanneer iemand besig is om te verdrink en die lewensredder moet uitswem om die persoon te red, is dit soms vir die lewensredder nodig om die drenkeling met ‘n vuishou uit te slaan. Want as die drenkeling paniekerig raak en te veel spartel kan die lewensredder hom nie red nie.
Die boodskap van die lewensredder is met ander woorde: “Hou op spartel, moenie jouself probeer red nie, laat my toe om jou te red.”
Dis wat Paulus hier sê: Jesus is die lewensredder wat ons wil red. Ons moet ophou spartel en Hom toelaat om ons te red. Ware redding is nie iets wat jy doen nie, dis iets wat met jou gebeur.  Al wat jy moet doen is om Hom te erken as Here van jou lewe.

Paulus sê…
As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is wat uit die dood opgestaan het, sal jy gered wees.
En hierdie redding beteken dat jou verlede verby en vergewe is en dat jy ‘n nuwe toekoms kry.

Daar is die mooi verhaal van die ou wat tydens die Eerste wêreldoorlog ‘n interessante gesprek in een van die loopgrawe gehoor het. Een van die soldate was besig om te sterf en sy medesoldaat het hom vasgehou. Die sterwende sê toe vir sy vriend – jy het ‘n slegte lewe gelei. Die polisie soek jou. Maar daar is niks teen my nie. My naam is skoon. So, neem my beursie, my papiere, my identiteit en my goeie naam. Gee dan vir my jou papiere sodat jou misdade saam met my kan sterf.

Dis wat met ons gebeur by ons redding – ons verlede sterf. Dit word uitgewis en ons kry ‘n nuwe toekoms. Dis genade. Ons kry wat ons nie verdien nie.

Kom ons sing van hierdie genade: Amazing grace.

Daar is nog ‘n laaste gedagte – dis eintlik ‘n oproep wat Paulus aan ons almal rig. En ek wil dit met ‘n storie verduidelik.

Edward Kimball het in ‘n skoenwinkel in Chigago gewerk. By sy gemeente was hy ‘n sondagskoolonderwyser. In sy vrye tyd het hy ure spandeer met die straatkinders in Chigago se middestad en hulle van hulle van Jesus geleer. Een van die straatkinders wat so tot bekering gekom het, was D.L. Moody. Moody het ‘n bekende evangelis en prediker geword.
F.B. Meyer het deur Moody se getuienis tot bekering gekom en hy word ‘n prediker wat weer vir J.W Chapman na die Here toe lei. Chapman word ‘n prediker wat vir ‘n bekende basketspeler, Billy Sunday van Jesus vertel.
Billy Sunday begin toe met herlewingsdienste in Charlotte, Noord-Carolina. Die evangelis, Mordagai Ham word toe genooi om by hierdie herlewingsdienste op te tree. Tydens een van hierdie dienste kom ‘n tienerseun tot bekering. Sy naam was Billy Graham en ons almal weet wat ‘n wonderlike prediker hy sou word. 

Dis wat Paulus bedoel met sy woorde in verse 14-15. 
Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: "Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring."

Geloof kom wanneer mense van Jesus hoor. En mense hoor daarvan deur mense wat getuig. God self stuur mense om te verkondig. God stuur gelowiges soos ek en jy om te verkondig. In ons huise, in ons werksplekke, in ons vriendekringe, op straat. Die voetstappe van gelowiges moet oral weerklink, sê Paulus.

Die vraag is: hoe klink my voetstappe? Is dit voetstappe wat getuig? Is dit voetstappe van liefde, omgee en besorgdheid teenoor ander?
Edward Kimbell, wat in ‘n skoenwinkel gewerk het, se voetstappe na ‘n klompie straatkinders het ‘n groot impak in die wêreld gemaak. Sonder dat hy eers daarvan geweet het. Hoe lyk my voetstappe?

Wie van julle ken iemand wat ongelowig is? Of iemand wat kerklos is? My uitdaging is dat jy na hulle sal stap en hulle saam met jou kerk toe nooi. As elkeen van ons 1 mens saambring kerk toe, dink net die impak wat ons sal hê in hierdie omgewing.