Tuesday, March 24, 2015

Leer doen wat Jesus se - 22 Maart 2015

Tot dusver het ons tydens die 40dae kursus geleer dat ‘n dissipel iemand is wat leef vanuit ‘n nuwe werklikheid. Dis iemand wat saam met Jesus leef en by Hom leer. Iemand wat elke dag, veral in ons werk saam met Jesus leer leef.
Vandag praat ons daaroor dat ‘n dissipel iemand is wat leer om te doen wat Jesus sê.

Ek was al in baie gesprekke met mense wat sê hulle sukkel om te weet wat Jesus se wil vir hulle lewens is. Mense wat sukkel om te weet wat dit is wat Jesus vir hulle sê. Dalk is jy ook iemand wat al daarmee gesukkel het. Hoe weet ek wat Jesus se wil is in my werk of my huwelik of vir hierdie besluit wat ek moet neem? My antwoord is altyd dieselfde – Jesus se wil is straight forward - gaan kyk net in die Bybel. In die Bybel is dit baie duidelik wat Jesus vir ons sê. Kom ek wys vir julle…
  
Julle moet julle vyande liefhê (Matt 5: 44-47)
Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is. Moenie oordeel nie. Moenie veroordeel nie. Spreek vry. Gee. (Luk 6: 36-38)
As iemand agter my aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg…(Matt 16: 24-26)
Moet julle nie bekommer nie (Matt 6: 25)
Beywer julle allereers vir die Koninkryk en die wil van God (Matt 6: 33)
Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader verheerlik (Matt 5: 16)
Sorg dat julle ja altyd ja bly en julle nee altyd nee (Matt 5: 37)
As julle vergewe, sal julle Vader julle vergewe (Matt 6:14)
Doen vir ander wat julle wil hê hulle vir jou moet doen (Matt 7:12)
Jy moet die Here God en jou naaste liefhê (Matt 22)
Haal eers die balk uit jou eie oog (Luk 6: 41)
Seën die mense wat julle vervloek, bid vir die mense wat julle sleg behandel (Luk 6:28)

Hierdie goed geld ooral in ons lewens. Maak nie saak waar jy werk nie. Maak nie saak waarmee jy besig is nie. Maak nie saak met wie jy te doene kry elke dag nie. Of wat die groot besluit is wat jy moet neem nie. Hierdie is die goed wat Jesus sê. Dis sy wil. Dis wat Hy wil hê ons moet doen.

So – hoe ernstig moet ons dit opneem? Moet ons dit doen? Natuurlik moet ons. Hy self sê ons moet dit ernstig opneem…
“As julle in ‘n noue verbintenis aan My boodskap leef, is julle my dissipels, is julle my egte navolgers (Joh 8:31)
“As julle My liefhet sal julle my opdragte uitvoer (Joh 14:15)
“Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is Hy wat My liefhet” (Joh 14:15)
“As iemand My liefhet, sal hy My woorde ter harte neem” (Joh 14: 23)
As julle my opdragte uitvoer, sal julle in My liefde bly (Joh 15:10)
Aan die einde van die bergrede lees ons in Mat 7:24-28  “But if you just use my words in Bible studies and don’t work them into your life, you are like a stupid carpenter..” (The Message)

So, Jesus is baie ernstig daaroor dat ons moet doen wat Hy sê. Maar dis ook belangrik om op te let hoe Hy vir ons sê dat dit belangrik is. Ek onthou toe ek in die weermag was – het ons altyd ‘n Sammajoor gehad wat in beheer was. Was altyd ‘n kwaai, bombastiese ou wat op almal geskree het. En ons was bang vir hom. As hy gesê het doen 50 push ups, hardloop om die paradegrond dan het jy dit gedoen omdat jy bang is vir hom en wat hy gaan doen as jy dit nie doen nie.
Wanneer Jesus vir ons sê wat ons moet doen en hoekom ons dit moet doen, dan doen hy dit nie soos ‘n Sammajoor nie. Hy skree nie op ons nie en hy straf ons nie as ons sukkel om die goed te doen nie. Hy sê vir ons – doen die goed, want dit is goed vir jou om dit te doen. En as jy sukkel sal ek jou help en jou begelei. Want as jy dit begin doen gaan dit jou lewe makliker maak, dit gaan vir jou vrede gee, dit gaan jou vry maak en jou lewe ligter maak.

Kom ek noem gou 2 voorbeelde waarmee ons nogal sukkel.
Jesus sê ons moet vergewe. Dis vir baie van ons nogal ‘n moeilike ding, want hoe vergewe jy iemand wat jou vreeslik te na gekom het of jou dalk baie seer gemaak het. En hoe vergewe ek iemand wat nie bereid is om verskoning te vra nie?
Jesus sê ons moet vergewe, selfs al vra die ander persoon nie verskoning nie – nie omdat ons Jesus moet please nie. Nie omdat ons die ander persoon moet please nie. Maar omdat dit goed is vir onsself.  Want om te vergewe maak jou vry. Dit gee vrede. Dit maak jou lewe ligter.

Die ander ding waarmee ons sukkel, is wanneer Jesus sê “moet julle nie bekommer nie”. Ons eerste reaksie is mos – dis onrealisties. Dis gevaarlik om jou nie te bekommer nie. As ons ons nie bekommer nie, sal ons lui word. Bekommernis maak dat ons harder werk en beplan vir die toekoms. Bekommernis is goed vir ons.
Ek dink dis rasionalisering, want as dit waar was hoekom sukkel ons om te slaap? Hoekom lei ons aan depressie en vereensaming? Hoekom is ons so gevul met woede? Dit maak dat jy nie net kan fokus op vandag se goed nie, want jy is besig met more en volgende week se goed. Dit neem jou lewe oor en tap jou energie. Dis sleg vir jou. Soos Jesus sê immers – wie kan sy lewe met een uur verleng deur hom te bekommer.
Dit terwyl Jesus wil hê ons moet geniet waarmee ons nou besig is. Ons moet lig kan lewe en vrede kan hê. Ons moet vry kan wees. Ons moet vir Hom kan leef. Dis hoekom Jesus sê – moet julle nie bekommer nie. Want dis beter vir ons.

Hoe leer ons om te doen wat Jesus sê? Hoe leer ons om te vergewe, nie te bekommer nie of vyande lief te hê en so aan.

In Kolossense 1: 13 lees ons: “Ons is uit die mag van die duisternis bevry, gered en ons is oorgebring onder die koningsheerskappy van Jesus die Here.”
Dit beteken – ons is nie meer ons eie baas nie. Ons leef nou onder Jesus se heerskappy. Hy is ons baas. En sy juk is sag en lig. Dis waar ons moet begin as ons wil doen wat Jesus sê. Ons moet erken dat Hy die koning van ons lewens is en onsself oorgee aan Hom.

Kom ek gebruik “bekommernis” weer as ‘n voorbeeld. In Matteus 6 lees ons dat ons ons nie moet bekommer nie. Dan word daar 2 dinge or God gesê om ons hiermee te help. Hy is die een wat weet wat ons nodig het en Hy is die een wat vir ons sal sorg. Ons moet net leer om Hom te vertrou. Hy is die koning van ons lewens.
Dit beteken nie noodwendig dat my omstandighede ewe skielik net gaan beter gaan nie. Dat ek nou skielik niks gaan hê om my oor te bekommer nie. Maar ek gaan anders daarna kan kyk. Ek gaan ‘n rustigheid en vrede beleef. Dit gaan maak dat ek my situasie ook anders sal hanteer. Dit gaan maak dat ek minder bekommer. So dis die eerste vereiste om te doen wat Jesus sê – aanvaar dat Jesus die koning van jou lewe is.

Tweedens – ons gaan dit net regkry om te doen wat Jesus sê, as ons dit gaan begin oefen. Daar is ‘n groot verskil tussen “probeer” en “oefen”. “Probeer is om iets op jou eie te doen. Dit vat jou baie maklik in ‘n bose kringloop in. Soos om te vergewe. Jy probeer vergewe – jy misluk – dit lei tot skuldgevoelens – so jy probeer harder – wat lei tot groter skuld – en uiteindelik is jy moedeloos en gooi tou op.
Soos iemand gesê het: “Trying, is not wholly unlike trying to make an apple tree bear peaches by tying peaches to its branches”.

“Oefen” is iets heel anders – dis iets wat jy saam met Jesus doen. Hy is jou afrigter. Hy is geduldig met jou. Hy glo in jou. Hy moedig jou aan. Dis soos die keer toe Petrus op die water probeer loop het. Hy is eers huiwerig, maar dan vertrou hy vir Jesus en hy loop baie lekker op die water. Totdat hy bewus raak van die sterk wind en die golwe – dan raak hy bang en sink en roep na Jesus. Sonder om kwaad te wees vir hom, sonder om hom te veroordeel help Jesus hom op.
Om te doen wat Jesus sê is soos om op die water te loop – ons gaan dit nie maklik regkry nie, ons gaan sukkel, maar Jesus is daar om ons op te help en aan te moedig. Hy weet ons gaan dit nie sommer regkry nie, maar Hy leer ons om ons nie te bekommer nie, om nie ander mense af te skryf nie, om ander nie te veroordeel nie, om mense te vergewe, om ons vyande lief te hê. Ons moet aanhou om dit saam met Jesus te oefen.

Dan is daar ‘n derde ding wat dit vir ons moontlik maak om te doen wat Jesus sê. En dis die belangrikste ding – dis die fondasie waarop ons bou. Dis waar alles begin.
In Matteus 11 lees ons – “kom na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan my toe”.
In Matteus 28 lees ons – “Ek is by julle al die dae…”
Johannes 14 lees ons – “as julle my liefhet…”
Ons gaan net kan doen wat Jesus sê wanneer Hy ons met sy Gees help. Daarom moet ons in ‘n verhouding met Hom leef – by Hom, saam met Hom, in Sy liefde. Vanuit hierdie verhouding leer ons om sy woorde uit te leef. Ek moet tyd met Hom spandeer. Ek moet Hom vertrou. Ek moet tyd met sy Woord spandeer. Ek moet toelaat dat Hy my vorm en my leer. En dan sal ek  ontdek wat dit beteken om te doen wat Hy sê en om “freely en lightly” te leef. AMEN.

Friday, March 20, 2015

Leer leef met Jesus in jou werk - 15 Maart 2015

Ons is steeds besig met ons reeks waarin ons gesels oor hoe n lewe saam met Jesus lyk.  Vanoggend wil ons kyk na hoe n lewe saam met Jesus lyk op die plek waar ons meeste van ons tyd spandeer: die werk.  Berekening toon dat ons 65% van ons wakker tyd by die werk spandeer.  So meeste van ons tyd is ons by die werk – en dit beteken dat ons juis hier anders moet leef.

Ek besef hier is baie mense wat dalk nie werk of alleen werk vanaf die huis – maar die gedeelte bly steeds relevant. Hoe leef ons saam met Jesus op die plekke waar ons die meeste van ons tyd spandeer? Hoe leef ons saam met Jesus waar dit soms die moeilikste is om my Christelike waardes uit te leef? 

Vir te lank het ons gekyk na hoe n lewe saam met Jesus lyk buite die werk.  Ons voorbeelde is baie keer net van dinge wat na werk gebeur of by die kerk plaasvind.  Hoe kan ons betrokke raak by ‘die en die’ aktiwiteit wat die kerk reel. As ek die boodskap van Jesus reg verstaan, dan roep Hy ons egter om Hom 24/7 te volg: wat beteken dat ons Hom by die kerk en by die werk sal volg.  En dis meestal by die werk waar dit baie moeilik raak!

Ons almal sal saamstem dat ons nie net sekere tye n dissipel van Christus kan wees nie. Ons kan dit nie in kompartemente opdeel nie.  Ons moet orals waar ons gaan ‘n dissipel wees.

Ons gaan vanoggend saamlees uit Kol3. Die gedeelte gee vir ons ‘n mooi prentjie van hoe die nuwe lewe saam met Jesus lyk.  Die gedeelte sê alles baie mooi. DIs nie noodwendig nodig dat ek nog baie daaroor sê nie. Ek gaan die gedeelte opbreek en net sekere punte uitlig. Terwyl ons die gedeelte lees, hou jou werk in gedagte en dink oor hoe ons daar saam met Jesus hierdie nuwe lewe kan leef – die nuwe lewe saam met Jesus.

Kolosense leer ons van n nuwe werklikheid waaruit ons moet lewe.  N Werklikheid waar Jesus die Here is.  Dit het sekere implikasie vir hoe ons lewe: daar is n nuwe gedrag wat ons moet aantrek, maar ook dinge wat ons moet uittrek (gedrag wat ons moet doodmaak).

Kom ons begin by vers 1 -4
Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.
Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie,
want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.
Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.

Dis belangrik om in vers1 die woord SAAM raak te lees. Toe Jesus uit die dood opgewek is, is ons saam met hom opgestaan. Ons het gesterf aan ons ou lewe, maar weer opgestaan as nuwe mense saam met Christus.  Hierdie nuwe mense moet nou fokus op die dinge daarbo. Dit laat my dink aan die woorde in die Onse Vader Laat u koninkryk kom, soos in die die hemel so ook op die aarde.
Alhoewel ons op aarde woon, en nie daarbo nie, moet ons steeds ons oe gefokus hou op die dinge daarbo, sodat ons iets daarvan n werklikheid nou kan maak.

Wat is hierdie dinge daarbo? Wat is die wil van God?
Die teks gedeelte praat later hiervan – dan ons al meer gevorm word na die beeld van die Skepper. Hoe meer ons begin loop in die voetspore van ons Skepper, hoe meer sal ons sy wil begin leef.

En dan eindig vers5 met die belofte wat gemaak word: ons sal deel in die heerlikheid van God wanneer Hy weer verskyn!

As ons dan hierdie toepas op ons werksomgewing moet ons vra: is ons besig om te streef na die dinge wat vir God belangrik is.  Is ons besig met die dinge van die koninkryk van God? Ek besef dat die strewe na sukses en finansiele welvaart deel is van die besigheidswereld – maar dit bly dinge van die aarde. As hierdie ons fokus geraak het, moet ons dalk weer gaan dink oor ons roeping. Waarom werk ek in die eerste plek?  Strewe ek eerder om die koninkryk van God te laat kom as om net te jaag agter geld. 

Toe die Israeliete aangehou was as slawe in Egipte, was daar een vraag aan hulle gevra: Hoeveel stene het julle vandag gemaak?  Ongelukkig leef baie van ons vandag nog as slawe en al vraag wat ons hoor is: Hoeveel geld het jy vandag gemaak? Mag ons dit regkry om ons gedagtes te fokus op die dinge daarbo.

Vers 5 – 11
Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.
Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is.
Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het.
Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.
Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.

Nadat die teks vir ons gesê het om te strewe na die dinge daarbo, gee dit ons voorbeelde van dinge waarmee hierdie nuwe lewe saam met Christus nie moet besig wees nie.  Die woord wat gebruik word is “doodmaak”. Dit moet afsterf.  Die skrywer gebruik doelbewus n sterk woord soos dood. Maw, die ou lewe en ou dinge moet letterlik doodgaan. En gedrag wat doodgaan kan nie weer terugkom nie.  Wanneer ons saam met Jesus sterf en opstaan as nuwe mense, dan draai ons ons lewens om en weg van die dinge waarmee ons vroeer besig was.   

Ons hoor hoe God dan sterk oordeel uitspreek oor hierdie tipe van gedrag.  Die Message vertaling gebruik die woord anger.
Baie keer het ons n prentjie van God wat nooit kan kwaad word nie – maar hier lees ons dat God wel kwaad kan raak, wel hartseer kan wees! En dit gebeur wanneer ons steeds vashou aan ons ou lewens.  Dit onstel God as ons terugkeer na die gedrag van vroeer!

Wanneer ons saam met Christus leef, dan kry ons die onderskeidingsvermoe om te kan weet van reg en verkeerd is.  En ek dink dit is veral wanneer ons weet waarmee ons besig is verkeerd is, maar steeds kies om voort te gaan daarmee, dat God kwaad raak…teleurgesteld is.  Die Message vertaling sê: But now you know better! Nou saam met Jesus, weet ons beter.

Die Message vertaling se dis soos om ou klere wat nie meer pas nie uit te trek en in die vuur te gooi. Hierdie klere/gedrag word verbrand en ons kan dit nie weer aantrek as ons gekies het om die baadjie van Christus aan te trek nie.

Kol 3 gee ook vir ons voorbeelde van hoe n gemeenskap lyk waar mense hierdie nuwe klere van Christus aangetrek het? Die skrywer gee vir ons n prentjie: Daar is nie meer skeiding of oordeel nie. Christus is nou alles en in almal.  Van die grootste skeidings in daardie tyd was bv. tussen Jood en Griek.  Maar nou sê die skrywer dat selfs daardie skeiding moet nie meer sigbaar wees nie. Al wat ons nou moet raaksien in Christus. Ons mag nie onderskeid tref tussen mense nie.  Hierdie is veral ook NB vir by ons werkplek.

Van nou af, sien ons almal as iemand in die beeld van God – en almal is ingesluit deur Christus.  Tussen watter groepe of klasse sien ons die meeste skeiding by die werk?  Wat wil Kol 3 ons kom leer oor hierdie skeidings.

Vers 12 – 17
Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.
Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.
Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.
En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar.
Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing.
En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Hoekom doen ons hierdie dinge? Hoekom leef ons hierdie nuwe lewe saam met Christus wat soms meer uitdagend is?

Die antwoord le vir my in vers 12. God het ons gekies (ons almal, sonder onderskeid)…nog selfs voordat ons Hom gekies het.  En Hy het ons baie lief! Wanneer ons hierdie lewe leef, dan doen ons dit uit die liefde van Christus.  Ons doen dit omdat ons weet Christus het ons gekies en is mal oor ons.  Vroeer het die teks gepraat oor dinge wat ons nie mag doen nie (ons is gewoonlik swak hiermee), maar nou vertel dit wat ons mag doen. Wat ons moet doen!

Maar die belangrikste van al hierdie dinge wat ons moet doen, sê vers 14 is dat ons mekaar sal liefhê.  Dit is die band wat ons as eenheid saambind. 

Kom ons dink aan ons werksplek: waar ons beter as groep/span saamwerk, is dit altyd beter.  Hierdie is amper waar vir enige situasie: sport, die kerk, huwelik ens.  Dit is bewys! EN al hoe ons beter as eenheid gaan kan saamwerk is as ons lief is vir mekaar. 

Verder vra dit dan ons in vrede sal leef/werk met mekaar en dat ons sal dankbaar wees.  Selfs by ons werk moet ons leer om in vrede met mekaar te wees. Ons moet dankbaar wees om te kan werk.  Selfs by ons werk moet ons alles tot eer van God doen. Alles!

Vrouens, wees aan julle mans onderdanig soos dit pas by mense wat in die Here glo.
Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie.
Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo.
Vaders, moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie.
Slawe, wees in alles gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde. Moenie net werk om deur hulle raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie, maar werk met 'n opregte hart uit eerbied vir die Here.
Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,
omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan.
Wie onreg doen, sal gestraf word oor die onreg wat hy gedoen het; die Here trek niemand voor nie.
Eienaars, behandel julle slawe reg en billik in die wete dat julle ook onder iemand staan, onder die Here in die hemel

Vanoggend se gedeelte sluit af moet voorbeelde van verskillende verhoudings en hoe hierdie verhoudings lyk nadt ons die nwue baadjie aangetrek het.  Ek wil graag net 3 punte hier uitlig.
1,  Wat ons okal doen – al is die soms moeilik en sleg – moet ons vir die Here doen. 
2.  Ons belonging is by God en nie by mense nie
3.  Ons moet ander – en in hierdie geval, ons werknemers – regverdig behandelik. 
Slot
Niks wat die teks vanoggend kom sê het is vreem of snaaks nie. Ons weet hierdie dinge. Ons as gelowiges weet wat die gedrag is wat van ons verwag word.  Maar tog sien ons so min hiervan in ons werkplekke. Ons hoor hoe mense op mekaar trap, ons hoor hoe besighede onderlangs konkel vir kontrakte, ons hoor van werkgewers wat sy/ haar werkers onmenslike ure laat werk, ons hoor van korrukpsie, belastingontduiking, ens ens. 

Dit is juis daarom dat ons nie genoeg hierdie woorde kan hoor nie! Dalk is dit nodig dat hierdie nie-so-vreemde gedagtes oorgaan in nie-so-vreemde gedrag.


Tuesday, March 10, 2015

Matteus 11:28-30 - Leer leef met Jesus

Ek wil net eers weer hersien waarmee ons tot dusver besig is tydens die 40 dae kursus. Week 1 het gegaan oor ons wat leer leef vanuit ‘n nuwe werklikheid. Dis om te leef met die wete dat Jesus die heerser van my lewe is – ek behoort aan Hom. En ook met die wete dat Jesus hier is. Hy is elke dag by ons teenwoordig.
Verlede week het ons geleer wat dit beteken om saam met Jesus te leef. Jesus nooi ons uit om saam met Hom te leef. In ‘n verhouding met Hom te leef. Dit beteken dat ons ons lewens anders moet inrig. Ons moet nou en dan stop, tot rus kom en spasie maak vir Hom in ons lewens. Ons moet oop en leerbaar wees vir dit wat Hy ons wil leer en ons moet moeite doen om na Hom te luister.

Hierdie week gee ons nog ‘n tree verder – om ‘n dissipel te wees is om by Jesus te leer hoe om hier en nou te leef.

Dink ‘n oomblik oor die vraag: Wie is besig om jou te leer? Wie is besig om jou te vorm? Wie se dissipel is jy? Ons almal is iemand of iets se dissipel.
As kind – my ouers, onderwysers, dominee, sporthelde, musieksterre
Soos mens ouer word is dit dosente, mentors, jou man of vrou, dalk ‘n spreker of bekende persoon.
Dalk ‘n baas, kollega, dokter of sielkundige.
Ons is almal iemand se dissipel.

Walter Breuggemann het ‘n boekie geskryf waarin hy sê dat ons na verskillende stemme luister, naamlik die stemme van ons ouers, ons vriende ons drome en die stem van tradisie. Maar dan gaan hy verder en sê dat ons ook nie die invloed van die media en TV-advertensies moet onderskat nie. “Advertensies kry ‘n greep op ons lewens en dit vorm ons lewe sonder dat ons dit agterkom. Dit is eers oor ‘n tydperk heen dat dit duidelik word watter groot mag dit op ons uitoefen. Dit vorm ons identiteit en ons lewe.” Advertensies kommunikeer 3 goed aan ons – alles gaan oor my en my behoeftes; my behoeftes moet bevredig word; en dit moet NOU bevredig word. Die punt is ons word gevorm deur ons kultuur. Ons is dissipels van ons kultuur.

Teenoor dit is daar Jesus wat sê: Ek is die weg, die waarheid en die lewe. So alhoewel ons nie kan help om deur ons kultuur beïnvloed te word nie, moet ons as Christene vra – wat is dit wat Jesus ons wil leer. Hoe wil Jesus hê moet ek lewe?

So kom ons gaan kyk gou na die week se teks waarin Jesus ons wil leer hoe om te lewe.
Lees die teks. Uit die NAV, Die Boodskap en The Message

In Jesus se tyd was jy as ‘n goeie Jood gesien as jy streng volgens die Torah geleef het. Die Torah bestaan uit honderde wette – meer as 600 van hulle wat jy moes nakom. Die fariseërs en skrifgeleerdes moes toesien dat die mense hierdie wette nakom. So ons sou kon sê dat hulle gevorm is deur die wette. Hulle was dissipels van hierdie wette en erge godsdienstigheid.

Vir die gemiddelde Israeliet was die nakoming van hierdie wette nie iets wat vreugde gebring het nie. Alles behalwe – hulle het dit ervaar as ‘n las of ‘n juk wat op jou skouers gerus het. Die Fariseërs en skrifgeleerdes was hard op die mense en het hulle mag gebruik om die wette at te dwing. Dit was harde werk om dit na te kom en het vreeslike skuldgevoel veroorsaak. En ek vermoed baie daarvan is net gedoen om die Fariseers en skrifgeleerdes tevrede te stel.

Jesus kom hierteen in opstand. Hy bied vir die mense ‘n alternatief. Hy sê – kom saam met my – ek bied vir jou genade, liefde en barmhartigheid. Jesus se manier van doen is makliker, lig en bring rus, want Jesus is sagmoedig en vol liefde. Hy help jou “to live freely and lightly”. Die Fariseers en skrifgeleerdes wil van mense slawe van die wette maak, terwyl Jesus mense vry wil maak van hierdie tipe slawerny.

Kom ek verduidelik die verskil met ‘n beeld – wat ek by Oom Herklaas gekry het toe ons in die week oor die teks gesels het.
Dis soos die verskil om vir ‘n baas te boer en saam met jou pa te boer.
Die Fariseërs en Skrifgeleerdes is soos om vir ‘n baas te boer. Die baas het streng reëls waarvolgens jy moet werk. Hy gee vir jou opdragte. Hy hou vergaderings waar hy vir jou sê wat jy moet doen. En wanneer jy foute maak dan is hy hard op jou. Jy moet die baas probeer beïndruk en tevrede hou. En wat die toekoms betref – wel daar is niks vir jou daarin nie, want jy gaan nie die plaas erf nie.

Jesus se manier van doen is soos om saam met jou pa te boer. Julle werk saam. Julle beplan saam. Daar is vryheid om kreatief te wees. Dis ‘n oop verhouding waar julle oor dinge kan gesels.Jy hoef hom nie te beïndruk of tevrede te hou nie, want hy is reeds beïndruk en tevrede met jou. En as jy foute maak, dan is daar genade en ruimte om te leer uit jou foute. Jy het ‘n toekoms, want jy is jou pa se erfgenaam.

In die woorde van The Message vertaling – by Jesus leer jy die “unforced rhythms of grace” wat jou vry maak en jou lewe lig maak.
By die Fariseërs en skrifgeleerdes leer jy die teenoorgestelde – jy leer die “forced rhythms of power” – godsdiens wat op jou afgedwing word en wat jou lewe beperk en swaarder maak en jou vasgevang laat voel.  

Wat beteken dit vir ons vandag? Mens kan op twee maniere lewe. Jy kan ‘n dissipel wees van die dinge in jou lewe of jy kan ‘n dissipel wees van Jesus.

Ons het mos baie goed wat in ons lewens aangaan. Ons lewens lyk soos hierdie diagram.



In Die Boodskap vertaling lees ons: “Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd vir jouself te leef nie”. M.a.w. om vir myself te leef gaan my nie geluk bring nie. Dit gaan maak dat ek nie freely en lightly kan leef nie. As alles oor myself gaan, dan gaan ek ‘n dissipel word van die goed waaruit my lewe bestaan.
Dan gaan ek ‘n gevangene raak van daai goed. Ek gaan al hoe meer moet probeer om ‘n sukses te maak van daai goed. En hoe harder ek probeer, hoe moeiliker gaan dit raak en hoe meer vasgevang gaan ek wees. Soos die Fariseërs dissipels is van wette en godsdienstigheid, so raak ek ‘n dissipel van die dinge in my lewe.

Wees eerder ‘n dissipel van Jesus. Soos ons lees in Die Boodskap: “ Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê jy moet leef”.
As ons dit kan regkry dan lyk die diagram van ons lewe soos volg:


Jesus is in die middelpunt en Hy beïnvloed elke aspek van my lewe. Hy maak dit vir my moontlik om die dinge van my lewe te hanteer. Ek hoef nie so hard te probeer nie. Ek hoef niemand te beïndruk nie.
Dit beteken nie dat alles altyd sal goed gaan nie – die winde en die storms sal nog steeds daar wees, maar wanneer Jesus die middelpunt is gee dit rustigheid en dit maak dat jy anders na die goed kan kyk. Jou gesindheid is anders. Dit haal die angstigheid weg en maak dat jy ligter kan lewe.

Hoe doen ek dit? Hoe kry ek dit reg om vry en lig te lewe?

Hou vas aan jou vryheid in Christus.
Gal 5: 1 “Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie.”
Die Fariseër en skrifgeleerdes het probeer om die mense slawe van godsdiens te maak. Moenie toelaat dat enigiets van jou ‘n slaaf maak nie. Jesus het ons vrygemaak daarvan – so hou vas aan daai vryheid.  Onthou Jesus se juk is sag – dis gemaak van liefde, genade en barmhartigheid.

Walk with Me…Keep company with Me
Bly naby God. Koester jou verhouding met God. Soos ons verlede week gesê het – stop partykeer, raak stil, luister na God.


As a learning process, discipleship means living interactively with His resurrected presence (through His word, His personal presence, and through other people) as we progressively learn to lead our lives as He would if He were we”.

Tuesday, March 3, 2015

Markus 1: 16-20 Leer leef – saam met Jesus

Markus 1: 16-20
Leer leef – saam met Jesus

Ek het onlangs met iemand gesels wat ‘n tyd terug tydelik in die noorde van ons land gaan werk het. Hy vertel toe hoe geskok hy was om te ontdek dat jy niks daar kan doen sonder om ‘n bribe te betaal nie. As jy enigiets gedoen wil kry, moet jy betaal. Aan die een kant is dit moeilik as ‘n Christen wat die regte ding wil doen, maar daar is ook die ander kant van gelowiges wat daaraan deelneem sonder om te blik of te bloos. Miskien was jy ookal in so ‘n situasie.

Miskien het jy ook al te doene gehad met mense wat saam met jou werk – mense wat jy weet gelowiges is, maar hulle praat lelik, hulle behandel mense sleg en sonder respek.

Of dalk is dit mense wat gelowig is, maar oneties en oneerlik optree.

Dalk is jy iemand wat sukkel om te leef as gelowige – jy weet wat dit beteken om as gelowige te leef – jy ken die beginsels wat die Bybel van ons vra, maar jy sukkel om dit uit te leef. Jy sukkel om iemand te vergewe, om ander mense te help, met jou taalgebruik, eerlik te wees – wat dit ookal mag wees.

Dalk is jy iemand wat graag saam met Jesus wil leef, maar jy sukkel, want jou lewe is net te besig, jy sukkel om kop bo water te hou met werk en kinders en om elke dag te oorleef.

As mens hierdie goed beleef dan is dit baie maklik om ontnugter te raak met geloof en Jesus en die Bybel en kerk.

Dis soos wanneer jou buurman ‘n nuwe kar koop, maar die kar gee net probleme. Dan is dit maklik om te dink da thy ‘n swak kar gekoop het – ‘n kat in die sak. Maar dank om jy agter dat hy soms water in die petroltenk gooi om petrol te spaar. Dan besef jy die probleem lê nie by die motor nie, dit lê op ‘n ander plek.  

As ons teleurstellings met die Christelike lewe, en met ander Christene en met onsself beleef, dan moet ons nie die fout gaan soek by Jesus en die Christelike geloof nie. Daar is immers genoeg voorbeelde waar die Christelike geloof baie goed gewerk het.
Ons moet eerder die fout by onsself gaan soek. Sien, ons kan mense wees wat glo, sonder om dissipels te wees. Dis hoekom jy mense kry wat sê hulle is christene en dit bely, maar lewe wys iets anders. Dis hoekom ons sukkel om die christelike lewe te leef. Want, ons kan vir ewig Christene wees, sonder om ooit ‘n dissipel te word.
“we lost what discipleship means. We have a Christianity without discipleship.” (Dallas Willard)
En dan is dit ook nie lank voordat ons vir Christus ook verloor nie.

Wat is ‘n dissipel?
Markus 1: 17 help ons hiermee – dit gee vir ons 5 elemente van dissipelskap. Ek wil vanoggend net om 1 fokus, maar kom ek noem net gou eers die 5.
•             “Kom hier” – Alles begin met ‘n uitnodiging van Jesus se kant af. Hy nooi ons uit om saam met Hom te kom. Ons is mos geneig om dit anders om te doen. Ons wil aangaan met ons lewe en verwag van Jesus om saam met ons te kom. Ons noem dit ‘n verbruikersgodsdiens – dit gaan oor wat ek daaruit kan kry.
•             “Kom saam” – dissipelskap is ‘n reis. Dis nie ‘n blitskursus en quickfixes nie. Moeilike tye is deel daarvan.
•             “Saam met my” – dissipelskap is ‘n verhouding. Dis ‘n pad wat ons loop saam met Jesus.
•             “Ek sal julle maak” – dissipels is mense wat deur Jesus verander word.
•             “Vissers van mense” – diens aan ander mense. Dissipels lewer diens aan ander mense.

Dus: ‘n dissipel is iemand wat besluit het om saam met Jesus te lewe, wat by Hom leer, deur Hom verander word en diens lewer aan hulle naaste.

Ek wil vanoggend net op een aspek fokus – “saam met My” – om te leer leef saam met Jesus.
Dis waaroor dit gaan in dissipelskap. Dis om op ‘n lewensreis saam met Jesus te gaan. Om te leer om my hele lewe saam met Hom te leef. Dit beteken ons leef in ‘n verhouding met Jesus en daar moet kommunikasie met Hom wees.
Dis moeiliker vir ons vandag, want Jesus is mos nie meer hier by ons dat sodat ons kan kyk na wat Hy doen en luister na wat Hy sê nie. Dis waar daai eerste dissipels die voorsprong gehad het. Hulle kon eerstehands by Hom leer. Ons is nie so bevoorreg nie. Tog is Hy nie net weg nie, Hy is op ‘n nuwe manier by ons teenwoordig – met Sy Gees en hy wil nog steeds vir ons leer wat dit beteken om saam met Hom te lewe.

Wat beteken dit prakties vir ons vandag?

Om saam met Jesus te leef beteken dat ons ons lewens anders moet inrig.
Dis soos my en Jalize se verhouding. Die dag toe ons getroud is, moes ek my hele lewe anders inrig. Ek kon nie meer met my plek en tyd maak wat ek nou nie. Daar was nou iemand anders wat e kook in ag moes neem. Ek moes my lewe anders inrig. Om met Jesus te leef, beteken dieselfde.
JP Versteeg praat van die verskil tussen loop en wandel. Loop is om so vinnig as moontlik van punt A na B te gaan. Dis gefokus. Dis mos hoe ons kultuur is. Ons is hardlopende en jaagende mense. Om moet weer leer wat dit beteken om te wandel. Om nou en dan te stop en te rus saam met God. Dis iets wat Jesus gereeld gedoen het.
Henri Nouwen het gesê: Ons rig ons lewens anders in “to create space for God”…To become attentive to the small voice and willing to respond when we hear it”.
Rig jou lewe so in dat daar ook plek is vir God. Stop en rus so nou en dan.

Om by Jesus te leer moet ons oop en leerbaar wees.
Die eerste dissipels is vir ons ‘n voorbeeld. Hulle is bereid om Jesus te volg sonder dat hulle weet wat voorlê. Hulle was oop vir Jesus en vir dit wat voorlê. Jesus wil ons beter maak, hy wil ons leer en empower. Maar ons moet oop wees daarvoor – ons moet Hom ‘n kans gee om in ons lewens te werk.

Om by Jesus te leer moet ons na Hom luister.
Teresa van Avila het gesê: “God is alive all day, living both around me and inside me, speaking in a still small voice and in other ways I may not even recognize. God is not really silent, we are deaf”
Vir ons verhouding met God is dit ontsettend belangrik om na Hom te leer luister. Om sensitief te wees vir sy stem. Ons gaan dit net regkry as ons ons lewe anders inrig, as ons leer om te wandel en te stop en as ons oop en leerbaar is.

Hoe luister ons na God?

Ons hoor vir God in die Bybel:
Ons lees mos die Bybel haastig, met ons verstand om kennis en informasie te kry. Ons moet ‘n slag weer die Bybel met ons harte lees. Rustig en wagtend en in nederigheid, sodat ons regtig kan hoor wat God vir ons wil sê. Daarom is hierdie manier waarop ons die Bybel lees tydens hierdie 40 dae kursus so belangrik – dit wil vir ons leer om weer die Bybel te lees op ‘n manier waarop ons vir God hoor.

Ons hoor vir God in ons lewe.
“God is in everything that happens to you, therefore, react to everything that happens to you as if God is in there.” (H Richard Niebuhr)
God is heeltyd aan die werk in ons lewe. Ons moet lewe asof ons dit glo.

Ons hoor vir God in die lewe van die gemeente, in die erediens
Hier waar ons saamkom om te sing, te bid en te luister – hier hoor ons vir God.

Ons hoor vir God in die lewe en woorde van medegelowiges.
In vanoggend se teks sien ons dat Jesus roep sy dissipels in groepe van twee. Dis heeltyd so in sy bediening – hy roep altyd mense en hy stuur hulle altyd uit in groepe van twee of meer. Mens kan nie gelowig wees op jou eie nie. Ons het mekaat nodig.

Ons hoor vir God in ons gemeenskap
As daar mooi goed gebeur in ons gemeenskap – dan vier ons dit saam met God. As daar nood in ons gemeenskap is – dan roep God ons om daarby betrokke te raak. As daar verskillende mense in ons gemeenskap is – dan roep hy ons dalk om grense oor te steek.

Ons hoor God in die vreemdeling wat ons pad kruis
God stuur mense oor ons pad. En Hy werk dikwels deur mense van wie ons dit die minste verwag. Ons moet oop wees daarvoor – ons moenie ons afsluit daarvoor nie.

Paar beginsels om God te hoor.  Ek gaan net ‘n paar quotes vir julle lees.

“One of the great barriers to authentic listening to the “still, small voice” is our Western mindset that prayer must have some immediate, tangible result, as if God were “the God of the machine.”

“If you do not have clear instructions from God in a matter, pray and wait.  Learn patience.

“Depend on God’s timing. Don’t get in a hurry. He may be withholding directions to cause you to seek Him more intently.”

“Don’t skip over the relationship to get on with the doing.”

“God is more interested in a love relationship with you than He is in what you can do for Him.”

“We have the tendency to leave the relationship and take things into our own hands.”

Hoe leer ons luister na Jesus?
Deur dit te oefen. Net 40% mense wat by ‘n gym aansluit gaan oefen gereeld. Jy gaan net resultate sien as jy oefen. Dieselfde met luister na Jesus – jy moet dit oefen totdat dit ‘n gewoonte word.


Soos Henri Nouwen gesê het: “The more we train ourselves to spend time with God and Him alone, the more we will discover that God is with us at all times and in all places”

Sunday, March 1, 2015

Markus 1: 21-28 Die gesag van die Liefde

Markus 1: 21-28
Die gesag van die Liefde

Alhoewel dit nie die fokus of die tema van hierdie teks is nie, kan ons ook nie die bose gees miskyk nie. So, ek wil net so vinnig iets daaroor sê voordat ek by die punt van die teks uitkom.
Bose geeste het ‘n groot rol gespeel in die Bybelse wêreld. Omdat hulle nie die wetenskaplike en mediese kennis gehad het wat ons vandag het nie, het hulle baie van die goed wat ons vandag kan verklaar aan bose geeste toegeskryf. Hulle het byvoorbeeld goed soos epilepsie, angsaanvalle, depressie, bipolêre gemoedsteuring, alsheimers en ook fisiese siektes aan bose geeste toegeskryf. Terwyl die mediese wetenskap mos verklaar het dat dit te wyte is aan chemiese wanbalanse in die brein en goed wat in die liggaam verkeerd loop. En daar is vandag maniere om dit te behandel en reg te stel en verligting te bring. Dit sou dus baie gevaarlik wees om enige siektes vandag nog as die resultaat van bose geeste te beskou. Ons moet altyd onthou - die manier hoe die Bybelse mense na die wêreld gekyk het is anders as ons s’n. 

Dit gesê – ons kan ook nie ontken dat daar evil, boosheid in ons wêreld is nie. Die afgelope week was die 70ste herdenking van die bevryding van Auschwitz konsentrasiekamp deur die Russiese weermag. Ongeveer 1.1 miljoen gevangenes het hier gesterf, 90% Jode. Meeste van hulle in die gaskamers. Dis moeilik om te dink hoe dit kon gebeur dat ‘n opgevoede volk soos die Duitsers so iets kon doen. En vandag het ons te doen met groepe soos Boko Haram in Nigerië en Al Kaïda in die midde ooste wat hulle eie mense net voor die voet uitroei. En die mense wat die joernaliste in Parys afgemaai het.
Ook op ‘n persoonlike vlak, hier tussen ons ,as ons sien wat mense aanmekaar doen in gesinne en in huwelikke. En die goed waaraan mense verslaaf raak. Hierdie goed wys vir my dat daar nog steeds boosheid in ons wêreld is.
Ek het in die week ‘n definisie van boosheid gelees wat vir my nogal sin gemaak het. Boosheid is enigiets wat nie van God af kom nie en wat mag of ‘n houvas op mense het.

Dit gebeur te maklik, ook in die kerk dat ons die bose as iets daar buite sien. Die Russiese skrywer en Ortodokse Christen Alexander Solzhenitzen het gesê: “the line between good and evil does not go between countries or empires or religions or political systems. The line between good and evil goes right down the middle of every human heart.”
Miskien is dit goed om elke nou en dan te vra – wat is die goed wat nie van God af kom nie en wat ‘n houvas op my lewe het?

Dit bring my dan nou by die punt van hierdie teks. Hierdie teks gaan oor Jesus se gesag.

In die sinagoge in Kapernaum leer Jesus die mense met gesag. En dan demonstreer hy ook Sy gesag deur die uitdryf van die bose gees. Selfs die bose gees erken Jesus se gesag. Jesus maak die gees stil en bevel hom om die man te verlaat. En ons sien dat al die mense in die sinagoge was verbaas en verstom oor dit wat Jesus gedoen het.
Hierdie uitdrywing van die bose bevestig dat Jesus die seun van God is en gesag het oor die bose. Jesus behaal ‘n oorwinning oor die bose.

Dit bevestig vir ons dat Jesus se gesag strek oor elke deeltjie van hierdie wêreld van ons. Sy gesag strek oor elke aspek van my mensewees, oor elke aspek van die skepping en die geestelike wêreld. Sy gesag sterk oor enigiets wat ‘n houvas oor ons het en wat negatief vir ons is. Enige iets wat nie van God is nie.
Daarom kan ons ook enigiets oorwin. Daarom hoef ons ook nie bang te wees vir al die bose, slegte en hartseer dinge in hierdie wêreld nie. Want Jesus het die bose oorwin.

Dit beteken natuurlik ook dat onsself moet oorgee aan Jesus se gesag in ons lewens. Ons dink baie graag dat ons gesag lê in ons opvoeding, ons geletterdheid, ons logika en ons vermoë om dinge self uit te sorteer. Dis mos die ander kant van die wetenskap, tegnologie en al die wonderlike uitvindings en verklarings wat daar al was.

Aan die een kant het dit ‘n klomp goed vir ons verklaar en ons lewe en die wêreld beter gemaak, maar die nadeel is dat dit ons onafhanklik en arrogant gemaak het. Dit maak dat ons dink ons het nie meer die gesag van Jesus in ons lewens nodig nie. Die gesag lê nou in onsself en in die wetenskap en die tegnologie.

Hierdie teks herinner ons weer daaraan – alles in hierdie wêreld – selfs die wetenskap en tegnologie  - lê onder die gesag van Jesus en Sy woord. Soos ons lees in Filippense 2: 9-11:
Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.   

Dan is daar ‘n laaste ding wat ek in die teks wil uitlig. In vers 27 lees ons dat almal verbaas was oor wat Jesus gedoen het.
Dis wonderlik dat die mense verbaas was oor Jesus, maar verbasing is heeltemal anders as toewyding. Daar is ‘n groot verskil tussen verbaas wees en ‘n toegewyde volgeling of dissipel van Jesus wees. Dis soos die verskil om rugby te gaan kyk en rugby te speel. Om rugby te kyk vra niks van jou nie, maar om rugby te speel vra toewyding en harde werk. Dis maklik om verbaas te wees, dis iets heeltemal anders om ‘n volgeling te wees.

Dit het my weer laat dink aan die 3 soorte volgelinge van Jesus wat ons kry. Bewonderaars, leerlinge en dissipels. 
Bewonderaars is mense wat Jesus en die goed wat Hy gedoen en geleer het respekteer. Hulle ag Hom hoog en luister graag na Hom. Hulle kom selfs kerk toe om te luister na wat Jesus gedoen het.
Leerlinge is mense wat Jesus se leringe bestudeer, dit goed ken en daaroor kan praat.
Dissipels is mense wat in ‘n noue verhouding met Jesus leef. Dit is mense wie se lewens verander is deur Jesus. Dis mense wat Jesus se gesag in hulle lewe erken en nie net vir hulle-self leef nie, maar vir Jesus en vir ander mense.

Jesus soek dissipels – Hy soek nie net mense wat verbaas is nie. Hy soek nie net bewonderaars en leerlinge nie. Hy soek dissipels. Mense wat bereid is om hulle hande vuil te maak vir die evangelie.

Om op te som…
Jesus is die gesag oor alles en almal in hierdie wêreld.
Dit beteken ek kan enigiets oorwin en ek hoef vir niks bang te wees nie.
Daarom moet ek ook vra: wat het die meeste gesag oor my lewe? Is dit Jesus of dalk dinge wat nie van Hom af kom nie? Wat is daar wat ‘n houvas oor my lewe het? Wat is die goed wat Jesus se gesag in my lewe verhoed?

En laastens moet ek selfondersoek gaan doen oor of ek ‘n bewonderaar, leerling of dissipels is. Want Jesus soek dissipels.

Markus 1: 14-20 Follow the Leader

Markus 1: 14-20
Follow the Leader

Ons jongste kind is hierdie week hoërskool toe. Toe dit tot my deurdring dat my jongste hoërskool toe is – toe kry ek so beklemming in my – want, hoe het dit gebeur? Hoe het dit gebeur dat ek nou al die pa is van 2 hoërskoolkinders? Hoe het die jare so vinnig verby gegaan?
Ek onthou nog soos gister toe hy 18 maande oud was. Ons het by my skoonma gekuier en hulle het kort tevore ‘n nuwe geaser gekry, wat op daardie stadium nog op sy warmste gestel was. My skoonma was besig om ‘n bad te tap, sonder om die koue water oop te draai. Hy was by haar in die badkamer toe sy ouer broer inkom om vir sy ouma iets te wys. In daai oomblik toe sy omkyk, toe klim Migael in daai warm bad in en verbrand sy voete dat die velle so hang. Onmiddelik verander ons hele lewe. Daarna was dit vir ‘n lang tyd hospitaal en operasies en veloorplantings en fisio. Niemand kan jou voorberei vir so iets wat in so ‘n oomblik kan gebeur nie. Dis verrassend, onmiddelik en ingrypend.

Toe ek die week met vanoggend se teks besig was, het ek weer daaraan gedink. Toe Jesus vir hierdie eerste dissipels gesê het: kom saam met my, het hulle onmiddelik alles gelos en Hom gevolg. Hulle het dadelik gereageer en hulle lewe het onmiddelik verander. Hulle het iets in Jesus gesien wat gemaak het dat hulle Hom onmiddelik gevolg het. Dit was vir hulle verrassend, onmiddelik en ingrypend.

Hierdie onmiddelikheid is ‘n tema in Markus – hy gebruik graag die woord onmiddelik, want hy probeer dringendheid skep. Onmiddelik impliseer ook ‘n aksie. Dit impliseer dat iets gedoen moet word. Toe Migael se voete gebrand het – kon ons nie sê – wel, dis nou interessant, ons sal hom later hospitaal toe moet vat. Nee, ons moes dadelik iets daaraan doen. Ons moes onmiddelik reageer.

Dieselfde het gebeur toe Jesus die eerste dissipels geroep het. Daar langs die see van Galilea. Daar was geen tyd om te dink nie. Hulle gaan net. Hulle lewens verander onmiddelik.  Dis hoe Jesus werk – onvoorspelbaar, onverwags, onmiddelik.

Ons leer ook ‘n paar ander belangrike goed oor Jesus en oor ons as sy volgelinge.

Jesus neem die inisiatief.
Dit is Hy wat mense roep, dis nie mense wat na Hom toe gaan nie. In Jesus se tyd was daar baie leermeesters en rabbi’s wat volgelinge gehad het. In hulle geval het die volgelinge na die leermeesters toe gegaan en gevra om ‘n volgeling te word en dan is hulle goedgekeur of afgekeur. Maar Jesus werk andersom. Hy roep sy volgelinge. Dis nie ons wat vir Jesus kies nie, dis Hy wat ons kies. Dis genade.
En Hy stel nie voorwaardes nie – hy ontmoet sy volgelinge (ons) soos hulle is en waar hulle is.
En ja, ons moet natuurlik ja sê wanneer hy ons roep. Dis ‘n geloofstap, want ons moet vir Jesus vertrou vir die pad waarop hy ons gaan vat. Dis moeilik vir ons, want ons hou daarvan om in beheer te wees. Soms moet ons maar net vir Jesus vertrou. Soos iemand gesê het: “Faith is taking the first step even when you don't see the whole staircase.

Wanneer Jesus mense roep verander hulle.
Wanneer die dissipels ja sê wanneer Jesus hulle roep – verander hulle van vissers van visse na vissers van mense.
Dit is ‘n taak waarvoor hulle geroep word – om ander te gaan vertel van Jesus. Maar dis ook baie meer as dit. Dit gaan oor hulle identiteit wat verander word. Jesus gee nie net vir jou ‘n ander taak nie, hy verander jou. In die Grieks is vissers van mense nie ‘n werkwoord nie, dis ‘n beskrywende naamwoord. Met ander woorde – Hy sê – ek maak jou ‘n visser van mense. Ek verander jou in ‘n visser van mense. Dit word jou identiteit, jy kan nie anders nie.

Thomas Long verduidelik dit as volg: “Follow me”...That same summons comes to all of us. For some of us it will come as a call to leave our nets, our books, our desks, our homes. For others it will come as a call to mend our nets more carefully, read our books more thoroughly, mind our desks more faithfully, live in our homes more lovingly. But in whatever form the summons is, it still means to forsake being our “own person” and to become Christ's. (Thomas Long)

Dit verander my menswees. Dit verander my in iemand wat leerbaar is. Iemand met integriteit. Iemand wat bereid is om Jesus te verteenwoordig  -  by hulle gesinne, bure, omgewing en gemeenskap.

Dit gesê – dit beteken nou nie dat ons nou gearriveer het en perfekte dissipels gaan wees nie. Dit beteken net dat ek bereid is om die eerste tree te gee en om deur Jesus verander en gebruik te word. Dissipels gaan nie altyd alles reg doen nie. Hulle gaan teleurstel en verkeerd verstaan. Maar, hulle bly op die journey saam met Jesus.

Neem nou maar net vir Petrus (Simon) as voorbeeld. Hy volg onmiddelik vir Jesus. Maar in Markus 8 verwerp hy Jesus se lyding.
In Markus 9 by die verheerliking op die berg, luister hy nie na Jesus nie.
In Markus 14 verloën hy vir Jesus.
In Markus 15 is hy nêrens te siene by Jesus se dood en opstanding nie.
Hy doen ‘n klomp goed verkeerd, maar uiteindelik is hy ook die rots waarop God sy kerk sal bou.

Ek weet nie van julle nie maar vir my is dit ‘n groot gerusstelling hierdie. Dit beteken – ek hoef nie perfek te wees nie en ek hoef nie vir God te probeer beïndruk nie. Hy bly lief vir my en ek moet net aanhou om die pad saam met Hom te stap.
Soos ons lees in Romeine 8: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Om op te som:
Miskien is dit nou – so aan die begin van die jaar ‘n goeie tyd om weer te hoor…
Jesus roep ons elkeen om sy dissipels te wees.. Hy kies ons – sonder voorwaardes -maak nie saak wie ons is of waar ons is nie. Hy wil ons gebruik. Hy wil hê ons moet elke dag vir Hom te leef

En wanneer Hy ons roep gee Hy nie net vir ons ‘n taak nie – hy gee ons ‘n nuwe identiteit. Hy verander ons in mense wat vir Hom leef en bereid is om Hom in die wêreld te verteenwoordig.

Maar Hy verseker ons ook dat ons nie perfek hoef te wees nie. Ons gaan foute maak en teleurstel, maar dis OK – want Hy sal nooit op ons opgee nie en nooit ophou lief wees vir ons nie.

En dis ook ‘n goeie tyd om ‘n slag weer na my lewe te kyk en te vra - wat is dit wat ek nou moet los om vir Jesus te volg? Wat is dit wat ek dalk moet opgee om vir Jesus te volg?
Wat ons mos wil doen is om vir Jesus te wil inpas by ons lewens – Hy moet tog net nie teveel van my vra nie.

Miskien word ons geroep om die onmiddelikheid van Markus ernstig te neem? Om nie verskonings te maak nie of eers dinge te wil uitsorteer nie, maar om Jesus te volg, Hom te vertrou en te doen wat Hy vra. Soos hulle mos sê: Just go with it – en sien wat gebeur.

Johannes 1: 43-51 Kom kyk! You ain’t seen nothing yet!

Johannes 1: 43-51
Kom kyk! You ain’t seen nothing yet!

Die kerstyd is agter die rug. Jesus se geboorte is gevier. Dit was wonderlik. Maar uiteindelik is dit nie die geboorte wat so belangrik is nie. Sien, mens kan vashaak by die geboorte, terwyl die betekenis daarvan eintlik die belangrikste is. Of daar nou baie engele was of minder engele, of daar nou 3 wyse manne of baie wyse manne was en hoe dit in die stal gelyk en geruik het, is minder belangrik as die feit dat Jesus se geboorte die gang van die geskiedenis verander het.
Kuns, musiek, literatuur, kultuur, politiek – ons hele verstaan van onsself en van die wêreld is verander deur die geboorte van Jesus. Die geskiedenis van die wêreld word verdeel in die tyd voor Jesus se geboorte en na Jesus se geboorte. En wat geloof betref – Jesus se geboorte gee nie net ‘n nuwe verstaan van die lewe nie, maar skep ‘n nuwe manier van lewe. So, ons moenie vashaak by die geboorte nie, die betekenis daarvan is baie belangriker.  

Kom ons lees die teks – dit vertel van die verskil wat Jesus se geboorte gemaak het.

Deur die jare het baie mense soos Philippus gereageer toe Jesus vir hulle gesê het: “Volg my”. En hierdie mense is aangegryp deur Jesus en sy lewe. Hulle het beleef hoe hulle heelgemaak en deur Jesus verander is.  Soveel so dat hulle saam met Philippus kon sê: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.”

En deur die eeue het baie mense op verskillende maniere uitdrukking aan Philippus se woorde gegee. Alles in ‘n poging om te bevestig – in die baba en man wat hy geword het is daar die goddelik krag om die donker in lig te verander, om ons heel te maak, om nuwe lewe te gee aan enigiemand wat in Hom glo. Daarom kan Philippus ook nie anders as om vir Nataniël uit te nooi om ook vir Jesus te volg nie. Hy wil hê Nataniël moet dit ook beleef.

Net soos baie ander mense ook, is Nataniël skepties oor Jesus. Daarom vra hy: “kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”
Nasaret as dorp was nie baie belangrik nie. In geen van die Joodse geskrifte voor of tydens Jesus se lewe word Nasaret genoem nie. Dit was nie naby enige hoofpad geleë nie, so die mense het nie baie daar gekom nie. Boonop was die konserwatiewe Jode in Jerusalem nie baie beïndruk met die manier waarop die Jode in Nasaret gelewe het nie. Volgens hulle het die Jode van Nasaret nie presies gelewe volgens die wet soos hulle moes nie. So Nataniël se reaksie weerspieël die snobisme wat daar was teenoor die mense van Nasaret. Hy is skepties oor Jesus as gevolg daarvan.

En al wat Philippus dan antwoord – “kom kyk”. Hy raak nie in ‘n argument betrokke nie. Hy raak nie aan die stry oor die dorpies nie. Hy sê net – kom kyk. Dit bly maar ‘n feit dat mense nie in die Christendom in geargumenteer word nie. Trouens, dit doen meer kwaad as goed. Mense word eerder daardeur afgesit as nader getrek. Dis beter om net mense uit te nooi en te sê, kom kyk vir jouself.

En dis ons almal se roeping om dit te doen. Ons moenie met mense argumenteer nie, ons moet net vir hulle sê - kom kyk. Kom saam met my kerk toe en kom kyk. Kom saam met my kleingroep toe en kom kyk. Kom saam met my huis toe en kom kyk. Kom kyk wat dit beteken om liggaam van Christus te wees. Kom kyk wat ons doen. Kom kyk en beleef wat ek beleef. Dis vriende wat vriende nooi. Dit beteken natuurlik ook dat my lewe ook vir Jesus moet weerspieel. Ek kan nie een ding sê en ‘n ander ding doen nie. Dit moet ‘n geloofwaardige uitnodiging wees.

En wanneer Nataniël dan naderstaan om te kom kyk, dan verras Jesus hom. Jesus neem die wind uit sy seile, wanneer hy vir hom sê – ek ken jou al lankal, toe jy daar onder die vyeboom gesit het, het ek al geweet van jou. Dit het my laat dink aan die woorde van Psalm 139.
Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.
Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.
Daar is nog nie 'n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.
U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.
Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.

Dis hierdie verwondering oor God. Hierdie besef dat Jesus hom reeds ken wat maak dat Nataniël nie anders kan as om homself oor te gee vir Jesus nie. In daai oomblik besef hy wie Jesus is en hy gee homself oor.  
Ek dink dis iets wat ons almal weer moet hoor – Jesus sien ons raak. Hy lees ons soos ‘n oop boek – en die wonderlikste van alles – Hy is nog steeds lief vir ons. Agter so iemand wil mens mos aanloop.

En wanneer Nataniël vir Jesus begin volg, dan sê Jesus vir hom: “jy sal nog groter dinge as dit sien”. Die engelse het ‘n spreuk wat dit mooi verwoord – “you ain’t seen nothing yet”.
Wat is hierdie groot dinge?
Vir Fillipus, Nataniël en die ander dissipels was dit ‘n ontmoeting met God, ‘n heel nuwe lewe en al die wonderlike goed wat Jesus gedoen het.
Die skrywer James Baldwin skryf in een van sy boeke: “There was a man in the world once who loved me, and because that was the case, I can dare now to continue the struggle to become a man myself.”
Vir ons beteken dit ‘n ontmoeting met God, om Hom beter en dieper te leer ken, om te groei as mens, om op ‘n lewensreis saam met Hom te gaan, om deur Hom gebruik te word om die wêreld ‘n beter plek te maak. Om uiteindelik die mens te wees
wat Hy vir ons in gedagte het.

So as ek dit alles kan saamvat:
Jesus nooi ons almal uit om Hom te volg. Hy ken ons. Hy weet van ons. En nog steeds nooi Hy ons uit om Hom te volg. Gaan ons dit aanvaar?
Daarmee saam word ons ook geroep om ander mense uit te nooi om Jesus te volg. Sonder om te argumenteer, hulle te laat skuldig voel – al wat ons moet doen is om hulle uit te nooi. Te sê – kom kyk.
Dit gesê moet ons natuurlik ook seker maak dat ons eie lewe reg is. Dit help nie ons nooi mense uit om te kom kyk, maar dan getuig my lewe nie ook daarvan nie.

En dan moet ons oop wees vir die lewensreis waarop God ons gaan vat. Ons gaan nuwe dinge leer. Ons gaan ons self en vir God beter leer ken. Ons weet nie altyd hoe hierdie reis gaan wees nie, maar ons weet dat ons groter dinge sal sien. En uiteindelik sal ons die mense wee swat God vir ons in gedagte het.