Sunday, August 14, 2011

Preek 14 Aug 2011


Barnabas die vrygewige
Handelinge 4: 32-37

Joodse spreekwoord wat sê: “Baie kerse kan van een vlam aangesteek word sonder dat die vlam ooit minder helder brand.
Dis iets hiervan waarvan ons lees oor die eerste gemeente in Handelinge. Op Pinksterdag, net na Jesus se hemelvaart is die Heilige Gees uitgestort. Dit het ‘n ongelooflike impak op die mense gehad. Dit was ‘n geestelike ervaring wat al meer uitgekring het en gemaak het dat daardie eerste gemeente met duidende mense gegroei het. Romeine, Jode, Perse en Arabiere het deel geraak van die gemeente. So het die kerk tot stand gekom. Niks was ooit weer dieselfde nie. Saam met hierdie ervaring kom daar ook ‘n opdrag: Hulle moes getuies wees - “in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand 1:8).
Dit moes nogal oorweldigend gewees het vir die mense, want onthou hierdie gemeente het ontstaan uit ‘n groepie Jode met ‘n  baie eksklusiewe en konserwatiewe godsdienstige agtergrond. En dan was hulle nog arm ook. Hulle wou waarskynlik weet – waar moet ons begin?

So wat doen hulle? Lukas vertel dat hulle 2 goed gedoen het. Eerstens het hulle hulle toegelê op die leer van die apostels en gebed – m.a.w. hulle het hulle toegwy aan God en aan geloofsgroei. Tweedens lees ons dat hulle het hulle toegelê aan hulle verbondenheid aan mekaar en hulle het gereeld saam geëet. Hulle het dus na mekaar omgesien en alles met mekaar gedeel.
Lees daarvan in Handelinge 4: 32-35.

Dan doen God ‘n wonderlike ding – Hy seën hulle deur Barnabas se vrygewigheid. Barnabas is vir hulle ‘n voorbeeld as dit kom by vrygewigheid.
Lees Handelinge 4: 36-37.
Die eerste ding wat Barnabas in die gemeente doen – hy verkoop ‘n stuk grond wat hy gehad het en gee die opbrengs daarvan vir die gemeente. Hy doen daarmee dus wat die ryk jongman in Lukas 18 nie wou doen nie. Barnabas doen afstand van sy besittings om vir Jesus te volg en daarmee word hy bekend as iemand met ‘n groot en warm hart.
Hy word byvoorbeeld deur Alexander Monachus (6de eeuse monnik van Siprus) beskryf - “his face was like that of an angel ... and he had sparkling eyes”.

Met sy vrygewigheid sit Barnabas ‘n hele proses aan die gang wat meer en meer uitkring – soos die klomp kerse wat by een kers aangesteek word. As gevolg van Barnabas se vrygewigheid word die kerk gevestig as ‘n vrygewige plek, waar daar na elkeen se behoeftes omgesien word en waar daar gesorg word vir almal. En dit maak ook dat hulle besef dat God vir hulle sal voorsien. En dit gee vir hulle krag vir hulle groot opdrag.

Wat leer ons uit hierdie verhaal van Barnabas?

God gebruik gewone mense met gewone goed om ‘n verskil te maak. Barnabas het ‘n stuk grond verkoop en daarmee het hy ‘n heeltemal nuwe lewenstyl in die gemeente en gemeenskap gevestig.

Ons leer dat jy vrygewig is omdat jy dankbaar is. Die mense in Handelinge is verander deur Jesus se dood, opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees. Hulle dankbaarheid dring hulle om vrygewig te wees. Daarmee saam gee hulle ook omdat hulle dankbaar is dat God in al hulle behoeftes voorsien.

Vrygewigheid gaan ook nie oor myself en die erkenning wat ek daaruit kry nie. Barnabas se vrygewigheid het nie by almal positiewe reaksie uitgelok nie. Ons lees van Ananias en Safira wat ook ‘n stuk grond verkoop het, maar tot hulle eie selfsugtige voordeel. En dinge het nie goed geeindig vir hulle nie. Vrygewigheid is nie iets vir iets nie.Dit gaan nie oor my nie. En ek moet gee sonder om iets terug te verwag.

Ons leer dat dit vir God belangriker is hoe jy gee as wat en hoeveel jy gee. Selfs al het jy nie baie nie, kan jy nogsteeds gee. Barnabas en die mense in die eerste gemeente was nie ryk mense nie, maar het nog steeds gegee wat hulle kon.
Dis iets wat ons ook leer by die verhaal van die arm weduwee in Markus 12. Baie ryk mense het baie geld ingegooi, maar die arm weduwee het 2 muntstukkies ingegooi, wat nie baie werd was nie. Jesus gebruik hierdie verhaal as ‘n les in vrygewigheid: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe” (Mark 12:43-44).
Vrygewigheid is ook moontlik in gebrek nie net in oorvloed nie. Gee wat jy kan.

Ek wil afsluit met ‘n ware verhaal om dit alles op te som.
In die begin van die vorige eeu het daar eendag ‘n dogtertjie, Hattie May Wyatt, naby ‘n klein kerkie gestaan en huil. Die predikant, dr Russel Conwell, kom toe by haar en vra hoekom sy huil. Sy antwoord dat sy nie Sondagskool toe kan gaan nie, want daar is nie plek vir haar nie.
Hy vat toe haar hand en neem haar na ‘n sondagskoolklassie toe. Hy sê toe ook vir haar dat eendag sal hulle nog ‘n plek bou wat groot genoeg is vir almal wat wil kom.
‘n Paar weke later het die dogtertjie ernstig siek geword en gesterf. Haar ouers het toe die predikant laat kom na hulle vervalle woonstelblok en hom gevra om die begrafnis waar te neem. By die begrafnis het die dogtertjie se pa vir die predikant vertel dat sy geld begin spaar vir ‘n boufonds sodat hulle die groter plek kan begin bou en hy gee toe vir hom 57sent wat sy gespaar het.
By ‘n kerkvergadering vertel Dr Conwell toe van die 57sent – die eerste bydrae tot die boufonds. Dit het hulle baie beïndruk en ‘n paar dae later kom een van die kerkraadslede en vertel van ‘n erf daar naby wat hulle kan koop. Dr Conwell gaan praat toe met die eienaar van die erf – wat nie ‘n kerkmens was nie. Hy vertel toe vir hom van die dogtertjie en 57sent waarna die eienaar toe sê hy sal vir hulle die erf verkoop vir 10 000 dollar. As ‘n deposito sal hy die 57 sent neem en die res kan hulle betaal teen ‘n baie lae rentekoers. Die gemeente het toe geld ingesamel en ‘n nuwe kerk  gebou – die Temple Baptist Church in Philidelphia. Vandag is daar ook die Temple Universiteit, die Good Samaritan Hospitaal en ‘n Sondagskool sentrum waar niemand ooit weggewys word nie. Binne die Sondagskool sentrum is daar ‘n skildery van die klein dogtertjie met haar 57 sent en van Dr Conwell.

Vir die gemeente in Phillidelphia het alles begin by 57sent en van daar het dit uitgekring. So die vraag vanoggend vir ons elkeen is: wat gaan jy doen met jou “57sent”?



Sunday, July 31, 2011

Preek 31 Julie 2011


Genesis 32: 22-32

Ons gaan vanoggend aan met die verhaal van Jakob. Verlede week het geeindig waar Jakob en sy familie begin terugtrek het na sy vaderland toe. Terug na sy pa toe, waar sy broer Esau ook vir hom gewag het. Vanoggend se gedeelte gebeur terwyl hulle op pad terug is. Maar voordat ons daarby kom, wil ek net eers vir julle ‘n interessante verhaal vertel.  

Fred Craddock, 'n Amerikaanse professor in homiletiek (preekkunde), vertel iewers van 'n insident wat 'n groot indruk op hom gemaak het. Hy en sy vrou was met vakansie in ‘n dorpie in die staat Tennessee. Hulle het in ‘n restaurant gesit besig met middagete. Terwyl hulle eet kom daar ‘n ou man na hulle toe en vra of hulle met vakansie is. Hy vra toe wat hulle doen. Fred was nie vreeslik lus vir gesels nie – hy wil rustig saam met sy vrou kuier. Hy sê toe vir die man: “Ek is 'n professor in homiletiek”. Hy het gemeen dat dit die man sou afskud.
"O, so jy is 'n man wat weet van preek", kom dit toe onverwags. "Laat ek vir jou 'n preekstorie vertel". En voordat hulle nog iets kan sê trek die man ‘n stoel nader en begin vertel. Hy vertel dat hy ‘n buite-egtelike kind was, en het nooit geweet wie sy pa is nie. En dit was vir hom baie swaar, want hy is half eenkant geskuif en mense het opmerkings gemaak oor die kind wat nie weet wie sy pa is nie. Hy het baie tyd alleen spandeer en het nie veel vriende gehad nie.
Een dag het daar ‘n bekende prediker na hulle dorpie gekom. Die man vertel dat hy nie eintlik kerk toe gegaan het, maar hy was nuuskierig en het toe tog gegaan om na die predikant te luister. Hy was nogal beïndruk en hy het toe weer gegaan. Maar hy het altyd gesorg dat hy bietjie laat inkom en het weer vroeg geloop, sodat hy nie met enigiemand hoef te praat nie. Een Sondag kon hy egter nie betyds wegkom nie en hy raak toe vasgevang tussen die mense.
En terwyl hy so probeer wegkom, toe voel hy so ‘n groot hand op sy skouer. Toe hy omkyk toe sien hy dis die nuwe predikant, wat toe vir hom vra: Wat is jou naam, seun? Wie se kind is jy?
Die vraag wat hy die meeste gehaat het. Maar voor hy kon antwoord, toe sê die prediker: “Ek weet wie jy is. Jy is ‘n seun van God”.
Nadat die ou man dit vertel het, sê hy: "U weet, professor, daardie woorde het my lewe verander".
Toe die ou man weg is kom die kelnerin toe by Fred en sy vrou en vra of hulle weet die die ou man is. Toe hulle nee antwoord toe sê sy – hy het 2 termyne gedien as goewerneur van Tennessee.

Die predikant het met dit wat hy gesê het – die seun se siening oor homself verander. Dis ‘n identiteitsverandering wat hier gebeur. En die teks waarna ons vanoggend kyk gaan ook oor ‘n identiteitsverandering.

Lees Genesis 32: 22-32

Toe ek weer die teksgedeelte lees, het ek weer begin dink oor die woord, “stoei”. Wanneer ek dink aan die woord stoei, dan dink ek aan hoe ons in die laerskool op die speelgrond gestoei het. Ons het gewoonlik een ou gejaag en platgeduik en almal bo-op hom ‘n hoop gemaak. Jy wou beslis nie onder daai hoop wees nie.
As ek aan stoei dink, dan dink ek ook aan die stoei wat ons op TV gekyk het. Onthou julle vir Jan Wilkens, met sy klein broekie, wat in die 70’s en 80’s hier in die Goeie Hoop sentrum geveg het teen ouens soos Apollo, Big John Studd en Igor Volkoff. Ons was vasgenael voor die TV. Dit was nog regte stoei.
Vandag is dit mos WWE Raw en Smackdown met ouens soos Hulk Hogan, Golddust, Triple H en die Undertaker. Baie daarvan is mos maar gechoreografeer.
Ek onthou ook hoe ek en my broers met mekaar gestoei het, gewoonlik na ons Jan Wilkens op die TV gesien het – tot dit op ‘n stadium wat dit gewoonlik te ernstig geraak het en dan was daar ‘n bakleiery.
Ek dink ook aan die kere wat ek met my eie kinders gestoei het. En wat jy maar toelaat dat hulle jou onderkry en bo-op jou spring.

In hierdie teksgedeelte lees ons van die enigste stoeigeveg in die Bybel. Die Hebreeuse woord wat hier met stoei vertaal word, word net op hierdie een plek in die hele Bybel gebruik. Hier waar Jakob met hierdie vreemde man stoei. Ons weet nie wie die man was met wie Jakob gestoei het nie. Ons weet nie of dit God was, of dalk ‘n engel, of ‘n visioen of ‘n droom, of dalk net sy gewete waarmee hy gestoei het nie. Wat ons wel weet is dat in hierdie stoeigeveg is Jakob verander en het God vir hom ‘n nuwe identiteit gegee.

Die sleutel van hierdie storie is die naam Jakob. Soos ons 2 weke gelede gesien het – die naam Jakob beteken “bedrieër”. En ons het mos gesien dat Jakob sy naam gestand gedoen het. Maar hier langs die Jabbokrivier kry hy ‘n nuwe naam: Israel wat dui op God se betrokkenheid in sy lewe. Op ander plekke in die Bybel sien ons soortgelyke veranderinge – Saulus wat die Christene vervolg wat Paulus die apostel word, Petrus wat Jesus verloën wat die rots word waarop die kerk gebou is.  Jakob se nuwe naam en die heupbesering wat hy opgedoen het word dan tekens van verandering, vernuwing en nuwe moontlikhede.
Belangrik om op te let – Jakob se omstandighede verander nie, dis sy karakter, sy identiteit wat verander. En dit maak dat hy anders reageer op sy omstandighede.

Die digter, James Thurber, het iewers gesê:  “All men must learn before they die, what they are running from and to and why.”
Jakob was besig om van Esau, van sy eie swakhede en die slegte dinge in sy lewe weg te hardloop. Maar hy het in God vasgehardloop, en dit het hom gehelp om met die dinge in sy lewe te deal. Wat ons hier moet hoor : As jy ten volle mens wil wees – ‘n gelukkige en tevrede mens - dan moet jy deal met dinge in jou lewe waarvan jy probeer weghardloop. Jy moet vrede maak met dinge in jou lewe. Daarmee saam moet ons ook vir onsself afvra wat dit is wat maak dat ons lewens so gejaagd is en hoekom dit vir ons nodig is om so te jaag.
Ek dink dis nodig vir ons om so bietjie stil te staan en te dink oor die woorde van James Thurber.(kyk weer na die aanhaling en dink daaroor in terme van jou eie lewe.)
  
Dan sien ons ook dat die manier hoe Jakob na sy broer kyk, verander. God moes hom eers verander voordat hy weer sy broer in die oë kon kyk.
In Genesis 33 sien ons hoe Jakob en Esau mekaar na al die jare weer ontmoet. Jakob is bang vir Esau omdat hy sy eersgeboortereg en seën gesteel het. Hy verwag dat Esau hom iets gaan aandoen. Hy stuur selfs mense vooruit om Esau sag te maak.  
Lees gou wat gebeur: Genesis 33:4 “Esau het hom tegemoed gehardloop en hom omhels. Esau het sy arms om Jakob se nek gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil.”

Wanneer Jakob vir Esau ontmoet is hy geskok deur sy broer se vergewende omhelsing.
Die Message vertaling sê dit baie mooi – Genesis 33: 10 “Please. If you can find it in your heart to welcome me, accept these gifts. When I saw your face, it was as the face of God smiling on me.”

Julle het seker al gehoor van Corrie ten Boom. Sy was ‘n jong vrou in die Tweede Wêreldoorlog. Sy en haar gesin het gevoel dis hulle Christelike plig om die Jode te help. Hulle het Jode in hulle huis weggesteek. Uiteindelik het die Nazi’s hulle uitgevang en hulle is konsentrasiekamp toe gestuur. Corrie was die enigste een van haar familie wat die kampe oorleef het. Na die oorlog het sy boeke geskryf en praatjies gehou oor haar ervaringe en oor vergifnis. In haar boek “Tramp for the Lord” vertel sy hoe sy na die oorlog in Duitsland opgetree het. Na een van die optredes het een van die wreedste soldate wat by die konsentrasiekamp gewerk het na haar toe gekom. Sy wou hom nie groet nie, sy wou hom nie vergewe nie, maar het vir die Here gevra om haar te help. En dan skryf sy die volgende: 
 “For a long moment we grasped each other's hands, the former guard and the former prisoner. I had never known God's love so intensely as I did then.  I also know that in my post-war experience with other victims of Nazi brutality, it was those who were able to forgive, who were best able to rebuild their lives.”

By Corrie ten Boom en by Jakob en Esau leer ons ‘n belangrike les – versoening met God, met onsself en met ander mense is die sleutel tot ‘n betekenisvolle, sterk, gesonde en heel lewe.

Om saam te vat:
Mag jy gereelde lewensveranderende ontmoetings met God hê.
Mag jy deal met die dinge wat jou jaag – uit jou verlede en op die oomblik.
Mag jy versoening met God, jouself en ander mense beleef.
Sodat jy ‘n heel en gesonde mens kan wees.

Sunday, July 24, 2011

Preek 24 Julie 2011


Genesis 29-31
Die eerste desperate housewives

Ons gaan aan met die verhaal van Jakob en vandag se tema is: “die eerste desperate housewives”. Ons gaan die verhaal volg in Genesis 29-31. Hieronder volg ‘n opsomming van die verhaal, met ‘n paar gevolgtrekkings aan die einde.
 
Genesis 29: 1-30
Nadat Jakob die droom gehad het en besef het dat God vir hom iets in gedagte het, trek hy verder totdat hy uiteindelik in Haran by Laban uitkom. Hy was by trou ouderdom en het dus onmiddelik raakgesien dat Laban 2 dogters het. Die beskrywing daarvan is wonderlik: Genesis 29:16-17. “Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel. Lea het sagte oë gehad, maar Ragel was mooi gebou. Sy was beeldskoon.”

Dan volg een van die mooiste liefdesverhale, met ‘n minder goeie einde. Laban sê as Jakob vir 7 jaar vir hom werk, dan kan hy met Ragel trou. Ons weet nie veel van daardie 7 jaar nie, maar Jakob was so verlief dat dit vir hom gevoel het soos 7 dae.
Dit het my laat dink aan Richard Buckminster Fuller, Amerikaanse argitek. Hy het altyd vir sy vrou gesê dat hy voor haar gaan doodgaan, sodat hy haar kan verwelkom as sy by die hemel aankom. Toe hulle al oud was, toe raak sy baie siek en die dokters het nie vir haar ‘n kans gegee nie. Toe haar einde naderkom het Richard langs haar bed gesit, haar hand vasgehou, sy oë toegemaak en gesterf. ‘n Paar uur later is Annie ook oorlede. Sy wens is vervul. Dis die tipe liefde wat Jakob ook vir Ragel gehad het.  

So werk Jakob toe die 7 jaar en uiteindelik is dit die groot troudag en Laban trek vir Jakob ‘n vuil streep, want onder die sluier is dit toe Lea wat vir Jakob wag en nie Ragel nie. En Laban sê toe dat Jakob nog 7 jaar moet werk om vir Ragel te kry. Wat hy natuurlik toe doen, omdat hy graag vir Ragel wou hê.
Hierdie hele gebeure, het my laat dink aan die spreekwoord van die Kamba volk in Kenia het ‘n gesegde: “no bull rules the same valley for two seasons”. Beteken: jy kan nie aaneem dat jy altyd die ‘upper hand’ gaan hê nie. Jakob die bedrieër word self bedrieg.

Genesis 29:31 - 30:24
Hierdie gedeelte is die Desperate Housewives van die Bybel – so baie intriges is daar. Dis ‘n verhaal van jaloesie en pyn en verwerping. Interessant – die Hebreeuse woord vir “tweede vrou” beteken letterlik – ‘teenstander’. Ons lees van Lea wat moes leef met die pyn dat sy eintlik nie die vrou is wat haar man wou gehad het nie, maar dat sy goed genoeg is om sy kinders te hê. Ragel weer moes leef met die pyn dat sy vir baie lank kinderloos was, terwyl Lea kinders gehad het. Hulle moes almal met seer en pyn saamleef.

Genesis 30:25-43
Jakob se lewe saam met Laban was nie maklik nie. Hy word deur Laban misbruik en in die proses word hy skatryk en Jakob sukkel. Dit klink bietjie soos van die politici in ons land – hulle word net ryker ten koste van die armes. Maar Jakob het toe ‘n plan gemaak om uit Laban se wurggreep uit te kom. 

Genesis 31: 1-21
Die Here het vir Jakob geestelik sterk gemaak en Jakob het genoeg materiele dinge bymekaar gemaak, sodat hy op sy eie bene kon staan. Dit het hom laat besluit om terug te keer na sy pa toe. Hy het toe sy vroue en kinders bymekaar gekry, al sy goed gepak en weggetrek van Laban af, terug na sy pa toe. Dit bevestig natuurlik ook God se vorige belofte aan Jakob dat hy uiteindelik weer sal terugkeer na sy vaderland toe.

So wat leer ons uit hierdie verhaal van Jakob?
Miskien sal die volgende storietjie dit die beste opsom:
’n Dogtertjie begin huil toe sy luister na die storie van Abraham wat Isak wil offer: “Stop die storie! Dis te aaklik!”  ’n Ander kindjie hak laggend af:  “Moenie stupid wees nie. Dis een van God se stories - hulle eindig altyd reg!”    

Hierdie verhaal van Jakob klink soos ‘n soapie – mense wat mekaar inloop, intriges, jaloesie en hartseer. Maar dit eindig reg. Op die oog af is dit nie ‘n vreeslike diep geestelike storie nie. God word nie eers so baie genoem in die verhaal nie. Maar stadig maar seker sien ‘n mens hoe God tog op die agtergrond besig is om vir Jakob voor te berei vir sy taak as een van ons groot geloofsvaders. Soos met enige soapie is daar mos ‘n oomblik wanneer alles tot ‘n punt kom en bekend gemaak word – ons sien dit in Genesis 31:13 “Ek is die God van Bet-El waar jy olie op ‘n klippilaar uitgegiet en ‘n gelofte teenoor My afgelê het. Maak klaar en trek weg uit hierdie land. Gaan terug na jou geboorteland toe.”
Genesis 31:42 “As die God van my voorvaders, die God van Abraham, die beskermer van Isak, nie by my was nie, sou u my met leë hande weggestuur het. Maar God het gesien hoe swaar ek gekry het en hoe hard ek gewerk het en Hy het verlede nag in my guns uitspraak gelewer.” 
Daar kom ‘n punt wat alles in plek van en Jakob besef dat God besig is. Kom ek wys gou vir julle hoe God dit doen.

Lea was nie die gunsteling vrou nie en sy beleef baie verwerping en pyn. Ons sien dit in die name wat sy vir haar kinders gee. Name in daardie tyd het dikwels iets gewys van die belewenis van die ma.
Ruben beteken – “my smart raakgesien”, want God het haar smart gesien.
Simeon beteken – “gehoor”, want God het gehoor dat sy nie liefde ontvang nie
Levi beteken – “gebind wees”, want sy het gehoop dat die kind haar man aan haar sal bind.
Mens hoor dus die pyn en verwerping wat sy beleef het. Maar sy gaan ook met haar seer na God toe. Daar kom ‘n verandering. En dit word weerspieel in haar volgende kind se naam. Juda, wat beteken – “prys”, want hierdie keer wil sy die Here prys. Sy beleef God se onvoorwaardelike liefde.
Miskien sal die storie dit mooi verduidelik.  ‘n Ma vertel van haar seun, Alec, wat verlief is en selfs praat van trou. Alec en sy geliefde is egter 3 jaar oud. Hulle het by hulle skooltjie ontmoet. Hulle sit langs mekaar, speel saam op die speelgrond en deel hulle eetgoedjies met mekaar. Sy was toe nuuskierig om te sien hoe lyk Alec se liefde en een middag toe sy vir Alec gaan oplaai toe sien sy haar – sy is erg skeel en dra so ‘n dik bril. En toe Alec in die kar klim toe vra hy: “mamma het jy haar gesien – sy is darem mooi”.Die ma vertel hoe sy gedink het: dis darem nes God. God se liefde is ook blind. God sien ook al ons onvolmaakthede, maar hy kyk na ons met baie liefde en sê: jy is darem mooi.
Dis hoe God na Lea gekyk het, dis hoe hy na elkeen van ons kyk en dis ons roeping om ook uit te gaan en so na mense te kyk.
Dit was dan uiteindelik ook Lea se seun, Juda uit wie se familielyn Jesus gebore is. En aan die einde van sy lewe het Jakob gevra dat hy by Lea begrawe moes word. 

En dan Jakob – hy moes seker ook gevoel het dat niks vir hom regloop en uitwerk nie. Dat die lewe maar taamlik onregverdig is. Maar ons sien dat God heeltyd met hom besig is en dat Hy al die goed wat met Jakob gebeur, gebruik om Jakob se geloof en sy menswees te vorm. Want God sien die groter prentjie. Ons kyk mos net in die slegte goed vas.
Margaret Mead sê: “Blackberry winter, the time when the frost lies on the blackberry blossoms, without this frost the berries will not set… it is the forerunner of a rich harvest”. 
God het die vermoë om uit die slegte van die lewe goeie goed te laat gebeur.

En in die proses leer Jakob om net aan God vas te hou. Soos die spreekwoord sê: “let go and let God” Jakob ontdek dit wat in Psalm 37: 5 staan. “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”

Ons kan die hele verhaal met die volgende aanhaling saamvat:
“If God is able to place the stars in their sockets and suspend the sky like a curtain, do you think it remotely possible that God is able to guide your life? If your God is mighty enough to ignite the sun, could it be that he is mighty enough to light your path?” (Max Lucado )

Sunday, July 17, 2011

Preek 17 Julie 2011

Genesis 28:10-22

Ek wil begin deur julle voor te stel aan Ted Williams. Hy kom uit ‘n goeie huis, het na skool weermag toe gegaan en daarna gaan werk. Maar op ‘n stadium het sy lewe uitmekaar geval en hy het aan drank en dwelms verslaaf geraak, was in die moeilikheid by die Polisie, het vervreem geraak van sy familie en het uiteindelik op die strate gewoon. Maar Ted Williams was geseën met ‘n wonderlike stem. Op ‘n dag het ‘n joernalis dit gehoor, opgeneem en op You Tube gesit. Dit het ‘n Januarie vanjaar gebeur. Mense het dit gesien en Ted is genooi na ‘n radio program waar mense hom gehoor en en werk aangebied het.  Vandag is hy ‘n gesogte omroeper en aankondiger vir  advertensiefirmas, sportstasies en nuuskanale. Hy het weer ‘n plek om te bly en hy is met sy familie verenig. (Gaan na die volgende link as julle ‘n clip van Ted wil sien: http://www.youtube.com/watch?v=ExdVwfNbuVo&NR=1.)

Een mens het gekies om iets meer in Ted raak te sien en dit het sy lewe heeltemal verander.Vandag se teks is ‘n verhaal van hoe God gekom het en ‘n “loser” se lewe verander het, sodat hy anders na homself en die lewe gekyk het.

Dis die verhaal van Jakob. Jakob was een van ‘n tweeling. Sy broer was Esau. Maar Jakob is tweede gebore. So Esau was oudste en volgens die gebruike van daai tyd, het hy al die voordele gehad wat daarmee saamgaan. Alles wat sy pa s’n was, was ook syne. Al die rykdom en al die gerief wat daarmee saamgaan. Hy was die alleen erfgenaam omdat hy die oudste was.
Jakob het altyd aan die korste end getrek. Hy het altyd tweede gekom. Hy weier egter om dit te aanvaar en hy probeer alles om sy situasie om te keer. Hy wil ook darem bietjie deel in die voorspoed en sekuriteit wat Esau beleef. Uiteindelik kry hy dit op ‘n oneerlike manier. Toe dit tyd word dat Esau as die oudste geseën word, bedrieg Jakob vir Esau en vir sy pa en hy steel Esau se eersgeboortereg en seën.
Lees Genesis 27: 35-36.
En dan sien ons Esau se reaksie: Genesis 27: 41

So, Jakob was nie baie gewild nie. Hy is ‘n bedrieer en ‘n skelm. Dit word selfs in sy naam weerspieël – die naam Jakob en die Hebreeuse naam vir ‘bedrieg’ is amper dieselfde. Hy verdien alles wat na hom toe kom. Omdat hy bang was vir Esau, het hy toe gevlug. Hy is nou ‘n voortvlugtende – sonder ‘n huis en familie, sonder ‘n plek om te slaap en kos om te eet. Soos ons lees in Genesis 28: 10-11

En dan gryp God in. Een aand toe Jakob met sy kop op ‘n klip lê en slaap, gee God vir Hom ‘n droom. Lees Genesis 28: 12-15.

Hierdie droom bevestig vir Jakob en weer vir ons dat God los ‘n mens nie. God het ‘n droom vir jou lewe en mens kan weghardloop daarvan of afdwaal, maar God hou aan om jou te agtervolg en wanneer jy later moeg gehardloop is, dan is God daar om jou te omhels en op te tel. Sy genade kan deur niks gekeer word nie. Dis nogal ‘n troos om te weet – as ek op die laagste punt van my lewe is (maak nie saak wat dit veroorsaak het nie), dan is God ook die naaste aan my.
Stanley Jones gesê het “Christ is always closest when the cross is heaviest.”

Dit word bevestig deur die leer tussen die aarde en die hemel wat Jakob in sy droom sien. Die hemel is nie meer ‘n plek wat daar ver is waar God woon nie. Die leer in die droom bevestig vir ons dat God hier is, dat Hy betrokke is by die aarde en by mense en dat Hy nuwe dinge wil doen.
God is presies soos hierdie spreekwoord: “A friend is the one who comes in when the whole world has gone out.”

Gevolg van die droom is dat Jakob heeltemal anders begin dink oor homself, oor God en oor die toekoms. Lees Genesis 28: 16-22.

Soos met Ted Williams se verhaal open daar nuwe moontlikhede vir Jakob.
Wanneer God opdaag is Jakob nie meer net die tweede seun wat geen vooruitsigte het nie. Hy is nie meer die loser, die bedrieer die skelm nie wat vlug vir sy lewe nie..
Wanneer God opdaag word Jakob ‘n nuwe mens met ‘n nuwe roeping. Iemand wat nou God se beloftes verder gaan uitdra.
Wanneer God opdaag word Jakob ‘n belangrike rolspeler in die geloofsgeskiedenis het.
En dis nie asof Jakob dit verdien het nie, asof hy daarvoor gekwalifiseer het of selfs daarvoor gevra het nie. Dis iets wat God doen! En dis iets wat Hy vandag nog in mense se lewens doen en wil aanhou doen!

So wat leer Jakob (…en ons!) in die proses?
Hy leer dat God altyd teenwoordig is.
Hy leer dat God hom sal beskerm.
Hy leer dat God hom nooit in die steek sal laat of sal los nie.
Hy leer dat God altyd Sy beloftes sal nakom.
Hy leer dat God ‘n inspraak in sy lewe wil hê en vir hom groot dinge in gedagte het.
Hy leer dat dit nie vir hom nodig is om na God toe te probeer opklim nie, want God het na ons toe afgeklim. Hy is hier, by ons, langs ons.
Hy leer dat die dinge wat hy gedink het belangrik is, soos die status en gemak en rykdom wat Esau gehad, nie so belangrik is nie.
Maar die belangrikste – hy leer van God se genade en liefde, wat nie deur sonde gekeer kan word nie. En wat nie afgeskrik word deur enigiets of enige iemand nie.

Soos Ted Williams key Jakob ‘n tweede kans in die lewe. Nie omdat hy so goed is nie, maar omdat God goed is. Mag ons vanoggend weer dankbaar wees dat God by ons is en aanhou om vir ons tweede kanse te gee. Mag ons dankbaar wees vir genade waardeur God ons ‘iemand’ maak.  

Sunday, June 19, 2011

Preek 19 Junie 2011

R12 afsluiting en viering

So kom ons nou aan die einde van die R12 kursus. Vanoggend gaan ‘n afsluiting en viering van die kursus wees. Viering van die wat ons geleer het, maar ook van dit wat nou voorlê. Want die uitdaging is om nou dit wat ons geleer te gaan uitleef. Heel aan die begin het ek mos gepraat daaroor dat Christene dikwels in kompartemente leef – jy het jou geloofslewe en werkslewe en dies meer. En die uitdaging is om ons geloof geintegreerd uit te leef. So dis nou maklik om die kursus ook in ‘n kompartement te plaas, sonder dat dit teveel invloed het in my lewe.
Ek wil vanoggend se diens in 3 dele opdeel. Eerstens gaan ons teugdink en onthou wat God gedoen het, dan gaan ons vir God eer vir wat Hy gedoen het en laastens gaan ons vorentoe kyk.

Om te onthou en terug te dink is belangrik. Daar is mos ‘n spreekwoord wat sê, as jy wil weet hoe om vorentoe te gaan, is dit belangrik om te onthou waar jy vandaan kom. In die Bybel sien mens dit ook baie keer, veral in die Ou Testament waar God gereeld vir die volk herinner waar hulle vandaan kom. Trouens daar is ‘n hele boek wat daaraan gewy word – Deuteronomium.
Dis eintlik een lang preek deur Moses op die Woestynvlaktes, oos van die Jordaan, voordat hulle in die beloofte land ingaan en voordat Moses sou sterf. Moses is eintlik maar net besig om die volk te herinner aan alles wat hulle oor die afgelope jare beleef het – verlossing, rebelering, oorloë, versorging, gebooie, leiding van God. Hulle moet dit onthou sodat hulle voorbereid is vir die trek en die lewe in die beloofde land.

En die rede vir onthou: As mens vergeet wat God in die verlede gedoen het, dan begin jy teveel fokus op dit wat jy nie het nie, in plaas daarvan om te fokus op dit wat jy wel het en dankbaar daarvoor te wees. As jy onthou wat God gedoen het, dan bemagtig dit jou vir dit wat voorlê.

So as ek terugkyk oor die afgelope 6 weke – dan onthou ek dat God vir ons geleer het, dat Hy die beste met ons werk, as ek myself volledig aan Hom oorgee. Met oorgawe ontvang mens nuwe lewe, vrede, hoop, liefde, vryheid, lewe in oorvloed. Jy kry perspektief oor die lewe en oor wat regtig belangrik en wat nie.
Ek het ook geleer dat God ons denke wil vernuwe sodat ons volgens Sy wil kan leef. Want sy wil is die beste vir ons lewe.
Ek het geleer dat ons moet vrede maak met wie ons is, dat ons onsself moet sien soos God ons sien. Dat ons ontslae moet raak van dit wat ons minder maak en ons terughou.  
Ek het geleer wat dit beteken om egte fellowship te beleef. Dat ons mekaar nodig het, en moet opbou en bemagtig.
En verlede week het ek geleer dat ons die kwaad en onreg wat ons in die lewe beleef kan oorkom deur die proses van vergifnis, gebed en deur goed te doen.
Ek onthou ook elke email wat ek gekry het van gemeentelede oor hulle belewenis van die kursus; al die gesprekke wat daar op die gemeente se facebook blad was; die ervarings wat ons hier beleef het met die papiertjies wat verbrand is en die klippe wat gepak is; al die gesprekke in die kleingroep. So, ek kan terugkyk en sien hoe God met ons was en hoe Hy ons geleer en gevormhet, die afgelope 6 weke.

En dit bring my dan by die tweede gedeelte van vanoggend se diens. Ons kan maar net vir God die eer gee. In Psalm 115:1 lees ons: “Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys.”
Ons bring eer aan God deur ons sang, deur aanbidding, deur ons Godstories vir mekaar te vertel, maar veral ook deur die manier waarop ons ons lewe leef.

Om eer aan God te bring wil ek nou gou kans gee vir ‘n paar Godstories. Is daar dalk van julle wat gou in ‘n sin of twee wil vertel wat julle die afgelope 6 weke geleer het? Daarna gaan ons vir God eer gee deur ‘n lied te sing.

Dit bring my dan by die derde deel van vanoggend se diens. Ons gaan nou vorentoe kyk. Dit gaan oor die vraag: Hoe behou ek dit wat ek geleer het en gaan leef daarmee?
Lees gou Spreuke 3: 1-6

Belangrikste ding is: vertrou God. Dit gaan nie oor reëls wat nagekom moet word nie, dit gaan daaroor om meer en meer godsdienstig te raak nie of harder te probeer nie. Dit gaan wel oor: Wees oop, wees eerlik, moenie so hard wees op jouself nie, aanvaar dat jy gaan foute maak. Dis ‘n journey waar dit vir jou gaan voel of jy soms 1 tree vorentoe en 2 treë terug gaan gee. En dis OK, solank jy net vashou aan dit wat God jou geleer het, en solank jy net op God vertrou.

Daarmee saam – leef jou lewe in gemeenskap met ander gelowiges. Ek het in die week ‘n oulike email gekry. Die storie van die ystervarkies. Dit was ‘n koue wintersnag en die ystervarkies het besef, die enigste manier om warm te word is as hulle styf teen mekaar lê. Maar die problem was, as hulle te styf teen mekaar is, dan steek hulle penne mekaar. En hulle het toe weer wegbeweeg van mekaar af en dan weer koud gekry. Hulle het toe ‘n keuse, hulle kan wegbeweeg en doodgaan van die koue of maar saamleef met die steke van hulle penne. Die moral van die storie – die beste verhoudings waaruit ons die meeste groei en leer, is nie die wat perfekte mense bymekaar bring nie – die beste verhoudings is wanneer ons leer om met die foute van ander mense saam te leef, sodat ons saam kan groei. Ons het mekaar nodig – om bymekaar te leer, om mekaar op te help, te troos en mekaar te ondersteun om die dinge wat ons van God leer te kan uitleef. En soms gaan dit dalk ongemaklik en stekelrig wees, maar dis ook die beste manier om bymekaar te leer. Dis hoekom kleingroepe ook so goed is vir ‘n mens.

En laastens – ons het ‘n roeping om God se ambassadeurs in hierdie wêreld te wees. Ons verteenwoordig God in die wêreld. In die manier hoe ons ons werk doen, hoe ons mense hanteer, hoe ons verhoudings bou, hoe ons brûe bou. En ons hoef nie perfek te wees nie, ons gaan foute maak, maar die manier hoe ons ons foute regmaak is ook ‘n getuienis. Ons het ‘n roeping om Romeine 12 uit te leef. 

Om op te som:
Mag ons onthou dit wat ons die afgelope 6 weke geleer het.
Mag ons elke dag vir God die eer gee vir dit wat Hy gedoen het en steeds elke dag besig is om te doen.
Mag ons vorentoe kyk en gaan leef met dit wat ons geleer het.
Mag ons God se leiding vetrou, mag ons mekaar vertrou en opbou en mag ons egte ambassadeurs in hierdie wêreld wees.

Sunday, June 12, 2011

Preek 12 Junie 2007

Oorkom die kwaad wat jou aangedoen is

Verlede jaar in November het ek op Melkbosstrand ‘n couple getrou. Hulle was albei in hulle laat veertigs en albei se tweede huwelikke. Hulle het dit beleef as ‘n tweede kans wat hulle gekry het en het baie uitgesien na ‘n nuwe lewe saam. Twee weke gelede toe loop ek die vrou raak in Canal Walk winkelsentrum. Toe ons begin praat toe sien ek dadelik sy is half verwilderd, maar ook dankbaar om my te sien, want sy wou my bel en het my nommer verloor. Want haar man is 2 weke vantevore oorlede aan ‘n massiewe hartaanval. En wat dit toe nog erger maak, is dat hulle huwelik na 6 maande nog nie by Binnelandse sake geregistreer is nie, en nou moet sy ‘n verklaring gaan aflê om te bevestig dat hulle wel getroud is. Soos julle kan dink, sy is kwaad en bitter en sukkel om hierdie onreg wat haar aangedoen is te verwerk.
Dit bevestig net weer vir my, daar is nie enige waarborge in hierdie lewe nie. Soms gebeur daar iets onverwags soos ‘n hartaanval, kanker of motorongeluk.
Soms is dit egter iets wat jou aangedoen word. Soos ons sien met die hofsaak wat nou so in die nuus is – die ouens wat ‘n gesin op ‘n plaas in die Vrystaat vermoor het.
Ander kere is dit weer iemand wat jou seergemaak, ontnugter, teleurgestel, dalk mishandel het. Dalk is dit iemand wat jou ingeloop het met geld of besigheid. Neem gou ‘n oomblik en dink oor jou lewe, aan die kwaad wat jou al aangedoen is, aan kere wat iemand jou seergemaak, ontnugter of teleurgestel het. Jy gaan dit nie vir iemand vertel nie, dink net daaroor. Wie se prentjie kom by jou op? Dalk is dit nie iets wat iemand aan jou gedoen het, of dalk aan iemand wat naby aan jou is.

Die vraag is nou: hoe moet ons as gelowiges reageer op hierdie kwaad/onreg in die wêreld? Hoe moet ons reageer op die kwaad wat aan ons gedoen is? Ons almal word een of ander tyd daardeur geraak. Niemand is gevrywaar nie. Slegte goed gebeur met die beste mense. Hoe moet ons daarop reageer?
Wat ons baie keer geneig is om te doen, is om dit te onderdruk of te ignoreer, of jy wil dalk wraak neem. En dan loop jy met die ding in jou rond. Vat gou die klip, wat julle by die deur gekry het, in jou hand . Die kwaad word soos ‘n klip wat jy met jou saamdra en dit beïnvloed jou verhouding met God, met ander mense en dit veroorsaak kwaad en bitterheid. Hoe moet ons dan daarmee maak?

Kom ons gaan kyk na iemand in die Bybel wat moes deal met ‘n klomp kwaad wat hom aangedoen is. Dis die verhaal van Josef. Kom ons lees in Genesis 37-50. Ek gaan dit nie lees, ek gaan julle net in breë trekke die storie vertel.
Josef kom uit ‘n disfunksionele gesin. Hy is sy pa se witbroodjie wat natuurlik nie goed afgaan by sy broers nie. Josef is die gunsteling. Sy pa maak selfs vir hom ‘n spesiale jas wat hom nog meer laat uitstaan en maak dat hy bietjie arrogant ook raak. Wat dit nog erger maak is dat hy slegte stories oor sy broers ook aandra.
Dan gee God vir hom sekere drome en in plaas daarvan dat hy die drome koester, blaker hy dit uit en vertel vir sy familie dat die drome sê dat hulle nog eendag voor hom gaan buig. So asof hy belangriker as hulle is. Dit alles maak dat sy broers jaloers is op hom en van hom wil ontslae raak.
So besluit hulle eers om hom dood te maak, maar uiteindelik gooi hulle hom in ‘n put. Maar toe daar ‘n klomp Medianitiese handelaars verbykom, verkoop hulle hom as ‘n slaaf. En so beland Josef toe as ‘n slaaf in Egipte in die huis van Potifar.
Daar in die huis sien Potifar se vrou eendag vir Josef raak en hy lyk vir haar na ‘n nice ou en sy probeer hom verlei. Toe hy nie wil toegee nie, beskuldig sy hom dat hy haar wou verkrag en so beland Josef toe onskuldig in die tronk.
Terwyl hy in die tronk is word 2 van die koning se amptenare saam met hom opgesluit en leer vir Josef ken. Een nag toe droom hulle en Josef lê hulle drome uit en dit word waar. En Josef vra vir hulle om tog vir hom ‘n goeie woordjie te doen wanneer hulle vrygelaat word, maar natuurlik vergeet hulle van hom.
Twee jaar later het die koning ‘n droom, wat niemand kan uitlê nie. En skielik onthou een van die amptenare vir Josef en die koning laat hom kom en hy lê die koning se droom uit en hy gee vir God die eer daarvoor. As gevolg van die droom se uitleg word Egipte toe gered van hongersnood en die koning is so beindruk dat hy vir Josef as sy tweede in bevel aanstel.

Josef het dus ‘n groot klomp onreg in sy lewe beleef. Sommige daarvan was sy eie skuld omdat hy arrogant was, maar klomp kwaad en onreg is hom aangedoen deur sy broers, deur Potifar en sy vrou, deur die amptenare wat hom in die tronk vergeet het. Hy het dus goeie reg gehad om kwaad te wees, om bitter te wees, om te wil wraak neem. Maar hy doen dit nie.

Hy styg uit bo sy omstandighede. Hy word nie ‘n slagoffer van sy omstandighede nie. Hy kry nie homself jammer en voel dat die wêreld hom skuld hom nie. Hy is nie ‘n victim nie.
Hy gebruik die gawes wat God vir hom gegee het om uit sy slegte situasie te kom. Hy het die gawe gekry om drome uit te lê, en hy was ‘n goeie administrateur en bestuurder. Hy gebruik dit om uit sy omstandighede uit te kom.   
Deur sy gawes te gebruik vorder hy van ‘n slaaf tot die hoof van Potifar se huishouding. In die tronk word hy in beheer geplaas van al die gevangenes. Hy lê die amptenare en die koning se drome uit en word dan aangestel as die tweede in bevel in Egipte. Hy laat nie toe dat sy omstandighede hom onderkry nie, met God se hulp styg hy bo sy omstandighede uit. Hy is met ander woorde nie ‘n victim van die onreg wat hom aangedoen is nie.

Hy hou aan om op God te vertrou. In sy omstandighede sou dit maklik gewees het om kwaad te word vir God oor al die dinge wat hom aangedoen is. Dit sou maklik gewees het om vir God af te skryf. Maar hy doen dit nie. Hy hou aan om op God te vertrou. En deur die hele storie sien mens hoe God betrokke bly en vir hom krag en insig en leiding gee.
Dit word bevestig deur die naam van Josef se tweede seun. Sy tweede seun se naam is Efraim, dit beteken “vrugbaar” – want, sê Josef, “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is.” Hy hou vas aan God temidde van sy slegte omstandighede.
Dit bevestig maar net weer wat Paulus in Romeine 8:28 skryf:  “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet.”
En in vers 38: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enige iets anders in die skepping kan ons ooit van die liefde van God skei nie.”
 
En dan die laaste, baie belangrike ding: Josef vergewe die wat die onreg aan hom gedoen het en hy seën hulle. Terwyl Josef daar in Egipte in beheer was, ontstaan daar ‘n hongersnood en Josef se pa en broers trek Egipte toe om koring te gaan koop. So dis mos nou die ideale geleentheid vir hom om wraak te neem vir dit wat hulle hom aangedoen het. Hy is mos in die magsposisie. Maar hy doen dit nie, hy vergewe hulle. En hy gaan nog verder, hy seën hulle en versorg hulle.
Ons sien dit ook in die naam van Josef se oudste seun. Sy oudste seun se naam was Manasse. Dit beteken “vergeet”. Want, sê Josef, “God het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.”
In Romeine 12: 14 skryf Paulus: “Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.
En in vers 21: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”
Wanneer jy die kwaad en onreg wat jou aangedoen is wil hanteer deur wraak te neem, dan is dit soos om ‘n vuur te blus, deur petrol daarop te gooi. Of soos iemand gesê het, dis soos om gif te drink en te wag vir die ander persoon om dood te gaan.
Die beste manier om kwaad te oorkom, is om te vergewe en om goed te doen. 

En die rede hoekom ons dit kan doen, is omdat Christus dit vir ons gedoen het. Ek kan kies om te vergewe en vry te spreek omdat Christus aan ‘n kruis my vergewe en vrygespreek het. Christus het vir my gegee wat ek nie verdien nie. En daarom maak hy dit ook moontlik om vir mense te gee wat hulle nie verdien. Vergifnis is om vir mense te gee wat hulle nie verdien nie.
En om ons dan nou weer te herinner aan dit wat Jesus vir ons gedoen het, gaan ons nou die nagmaal gebruik. Vanoggend se nagmaal is ‘n viering van vergifnis. God wat deur Christus ons vergewe het en dit daardeur vir ons moontlik maak om ander te vergewe.

Nagmaal uitdeel en instel

Noudat ons weer, met die nagmaal, onder die indruk gekom het daarvan dat ons deur Christus vergewe en vrygespreek is, is dit tyd om te deal met die kwaad wat ons aangedoen is. Aan die begin van die diens het ek gesê dat julle daai klip moet vashou as ‘n herinnering aan die kwaad wat jou aangedoen is. Nou wil ek julle die geleentheid gee om dit vir God te gee deur die klip hier voor by die kruis te kom neersit.
Maar daar is 2 dinge wat jy dan daarmee saam moet doen:
  • Jy moet kies om pad vanvergifnis te stap en jy moet vir daardie persoon gaan bid en goed doen..
  • As jy dalk kwaad is vir God, dan moet jy dit vir Hom gaan sê.
As jy gelukkig genoeg is om nog nie sulke kwaad of onreg in jou lewe te gehad het nie, neem dan die klip saam huistoe as ‘n teken van dankbaarheid.



Sunday, June 5, 2011

Preek 05 Junie 2011

Beleef egte fellowship

Vanoggend gaan ons praat oor wat dit beteken om egte fellowship te beleef. Aan die begin van ons kursus het ons gesien dat een van die beginsels van egte spiritualiteit gaan oor my verhouding met God en met my naaste. Afgelope 3 temas het gegaan het meer gegaan oor myself en my verhouding met God. Vandag gaan dit meer gaan oor my verhouding met ander mense. 
Die fokusteks hieroor is Romeine 12: 4-8
In hierdie teks gaan dit oor fellowship of gemeenskap tussen gelowiges. Paulus noem ons die liggaam van Christus wat aan mekaar verbind is en mekaar nodig het. 

Hoekom praat ons hieroor? Navorsers sê dat eensaamheid een van die grootste problem is in die wêreld van vandag. Dis byvoorbeeld hoekom ‘n land soos Swede so ‘n hoë selfmoordsyfer het. Dis een van die mees ontwikkelde, modern en veiligste lande om in te woon, maar dit het terselfdertyd ook een van die hoogste selfmoordsyfers. Eensaamheid is nogal ironies in ons wêreld, want nog nooit in die geskiedenis van die wêreld was mense in staat om so vining en maklik te kommunikeer soos nou nie, maar is terselfdertyd ook so eensaam. Ons het email, voicemail, Blackberry, What’s app, iphone, fax, videokonferensies, facebook, twitter om met mekaar te kommunikeer. As jy wil kommunikeer kan jy, en tog is mense eensaamer as wat hulle nog ooit voorheen was.
Ons sien dit selfs in die kerk, wat mos nou die plek is waar mense bymekaarkom as ‘n geloofsgemeenskap, dat mense nie connect nie. Mense stap in die kerkgebou in, sing ‘n paar liedere, sit en luister, staan op en stap weer alleen uit. Sonder dat hulle eers een woord met iemand gepraat het. Eensaamheid is een van die groot probleme van ons tyd en daarom is dit nodig om daaroor te praat as ons praat oor egte spiritualiteit.

Verlede week het Jalize gepreek daaroor dat ons moet leer om vrede te kry met wie ons regtig is. Dat ons nie moet toelaat dat ander mense se opinies, bagasie uit die verlede of my omstandighede moet bepaal wie ek is nie. Maar dat ons met God se hulp moet wegstap van alles wat my minder maak en afbreek. By God kry ons rus en vrede met ons omstandighede en met wie ons is. Ons moet saam met God vorentoe stap.

Maar as ons kies om so saam met God vorentoe te stap, dan stap ons ook in ‘n community in. Dan raak ons deel van ‘n geloofsgemeenskap. Dis nie God se wil dat ons op ons eie gelowig moet wees nie. dis nie in Sy karakter nie. God is nie ‘n individualistiese God nie – Hy openbaar Homself tog immers as Vader, Seun en Heilige Gees. En daar is ‘n baie intieme en diep verhouding tussen hulle drie.
Dit word ook bevestig deur die werking van die Gees in mense se lewens. Donderdagaand by die hemelvaartdiens het Jalize ons weer gewys dat die Gees in die OT op individele gelowiges gekom het, veral wanneer hulle ‘n spesifieke taak gehad het om te verrig. In die NT is die Gees vir alle gelowiges gegee. So, elkeen van ons het nie ons eie heilige gees wat in ons woon nie – dis die een Heilige Gees wat in ons woon en ons aanmekaar bind.

Jesus bevestig dit ook in Matteus 12: 46-50.
Jesus sê dus dat sy familie bestaan nou nie net meer uit sy bloedfamilie nie, dit bestaan uit almal wat in Hom glo en sy wil doen.
In Paulus se woorde – omdat ons glo is ons almal deel van Christus se liggaam. Ja, ons is verskillend en ons bring elkeen ‘n ander talent en gawe na hierdie liggaam toe, maar ons is een. En binne die liggaam word ons deur die liefde opgebou en empower om onsself uit te leef.

‘n Liggaam het mos ‘n geraamte wat alles bymekaar hou. Sonder ‘n geraamte sal ons nie kan regop bly en funksioneer nie. Hierdie liggaam van Christus word ook deur ‘n geraamte bymekaar gehou – ons noem dit “die liefde”.
En Jesus is baie ernstig hieroor. Trouens dis vir hom so belangrik dat hy dit kort voor sy dood beklemtoon. Wanneer mense weet jy is besig om dood te gaan, dan is jy mos geneig om die belangrike goed met mense te deel. Dis wat Jesus ook doen. Nadat Hy sy dissipels se voete gewas het en vir Judas as sy verraaier aangewys het, gee hy vir hulle ‘n laaste opdrag:
Johannes 13: 34-35
Dis vir hom so belangrik dat hy dit net ‘n bietjie later in hoofstuk 15 nog 2 keer herhaal, elke keer bietjie ernstiger: Johannes 15: 12 en weer in vers 17.

Dis ‘n opdrag wat Jesus vir sy volgelinge gee en Hy gebruik homself as ‘n voorbeeld. Hy beveel hulle om mekaar lief te hê, soos wat Hy hulle liefhet. So Hy sê – as julle wil weet hoe om mekaar lief te hê, kyk na my, kyk hoe ek julle liefhet en gaan doen dan dieselfde. Hy het hulle onvoorwaardelik lief, hy is bereid om opofferings te maak en homself te gee vir hulle (sy lewe af te lê), hy is bereid om hulle te dien (Ek het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien), hy is lief vir hulle selfs al was dit nie gemaklik of maklik nie. Hy ontmoet hulle waar hulle is en is lief vir hulle net soos hulle is. Hy glo in hulle, selfs wanneer hulle nie in hulleself glo nie.
Dis so anders as die liefde wat ons in die wêreld beleef. Liefde wat voorwaardes stel, liefde wat sê jy moet eers goed genoeg wees en die regte dinge doen en sê. Liefde wat nie bereid is om opofferings te maak nie. Liefde wat tog net nie buite my gemaksone mag gebeur nie. Jesus sê ons moet liefhê, soos wat Hy liefhet.

En die rede daarvoor sê Jesus: sodat die wêreld kan sien julle is my dissipels.
Ek was in die week in ‘n gesprek waar iemand vertel het van ‘n studietoer wat hulle na Zimbabwe en Namibië onderneem het. Hulle het gemeentes en teologiese skole besoek. Hy vertel hoe hulle by dorpie in Zimbabwe beland het en ‘n familie daar ontmoet het wat betrokke was by voorvader aanbidding. Hoe dit werk, die pa is die een wat met die voorvaders kommunikeer namens die huisgesin. En as hy sterf, dan neem die oudste seun oor. Een van die dogters het toe in Harare gaan studeer en daar tot bekering gekom. Toe sy by die huis kom en dit vir haar familie vertel toe word sy deur die pa weggejaag. En sy het toe op ander plek gaan woon. Maar sy het gereeld teruggegaan en haar mense besoek en net liefde bewys. Elke keer het haar pa haar weggejaag. Sy het aangehou terugkom, Sy het hulle nie geoordeel of afgeskryf nie, sy het net liefde gewys. Na 3 jaar kon haar pa dit nie meer hou nie en hy het haar terug verwelkom in sy huis. Hy kon nie meer nee sê vir liefde nie. Liefde is die sterkste getuienis wat ons het, sterker as enige argument of boek. Daarom is Jesus so ernstig daaroor.

In Johannes 17 kry ons die geleentheid om in te luister op ‘n intieme gesprek tussen Jesus en Sy pa. Dit gebeur op die laaste nag van Jesus se lewe. Luister net wat bid Hy: Johannes 17: 20-23.
Op die laaste nag van sy lewe bid hy dat sy dissipels mekaar sal liefhê en een sal wees soos wat Hy en sy pa is. Sodat hulle egte eenheid en fellowship met mekaar sal beleef. Sodat die wêreld kan sien wie Jesus is en kan glo wie Hy is.

Egte fellowship is kragtig. Egte fellowship is iets waarna alle mense streef. Dit gaan oor baie meer as bloot net deel wees van ‘n span of ‘n klub of van ‘n kerk – dit gaan daaroor dat ons ons lewens met mekaar deel. Dis wanneer die liefde van Christus met mekaar gedeel word. Dis ‘n plek waar jy jouself kan wees en waar jy liefgehê word ten spyte van al jou worstelinge, hang-ups en snaaksighede. Dis ‘n plek waar jy empower word om te dien volgens jou talente en gawes. Dis ‘n plek waar jy ondersteun word om die mens te wees wat God jou bedoel het om te wees. En ja, dit gaan nie altyd perfek wees in hierdie gemeenskap nie, want ons ook maar net mense, maar solank daar liefde is, is dit OK.

Ek wil afsluit deur te lees hoe die Message vertaling Romeine 12: 4-6 weergee. Want dit vat eintlik alles saam.
“In this way we are like the various parts of a human body. Each part gets its meaning from the body as a whole, not the other way around. The body we're talking about is Christ's body of chosen people. Each of us finds our meaning and function as a part of his body. But as a chopped-off finger or cut-off toe we wouldn't amount to much, would we? So since we find ourselves fashioned into all these excellently formed and marvelously functioning parts in Christ's body, let's just go ahead and be what we were made to be, without enviously or pridefully comparing ourselves with each other, or trying to be something we aren't.”