Sunday, August 28, 2011

Preek 28 Aug 2011


Die Heilige Gees breek mure af; ons moet brûe bou

Handelinge 11: 19-24

 

Die Berlynse muur

Die Berlynse muur was ’n gruwelike grensmuur wat deur die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) opgerig is.  Op 13 April 1961 is oornag begin om Wes-Berlyn volledig af te skei van die omringende Oos-Berlyn en Oos-Duitsland.  Dit was alles deel van die koue oorlog tussen Oos en Wes.  Die lang grensmuur van beton het wagtorings ingesluit wat uitgekyk het oor ’n strook niemandsland (ook die doodstrook genoem) waaroor niemand mag beweeg nie.  Jy kon doodgeskiet word as jy dit doen.  Baie mense wat uit Oos-Duitsland wou vlug, het inderdaad hul lewens só verloor. 
Na verskeie weke van politieke onrus het die DDR-regering op 9 November 1989 aangekondig dat DDR-burgers Wes-Duitsland en Wes-Berlyn kon besoek.  Groot skares het op die beheerpunte toegesak en die verdwaasde Oos-Duitse wagte het geen ander keuse gehad as om hulle gewere te laat sak en die hekke oop te gooi nie.  Die skandmuur is oor die volgende weke en maande deur Duitsers, memento-jagters en die owerhede  afgebreek.  Die val van die muur het die weg geopen vir Duitse hereniging, wat op 3 Oktober 1990 plaasgevind het.

 

Mure val in Antiogië

Romeinse stede was gekenmerk deur mure.  Antiogië, waarvan ons in ons teks lees, was die derde grootste stad in die Romeinse Ryk en ’n belangrike militêre sentrum in die oorlog tussen die Romeinse Ryk in die Weste en die Persiese Ryk in die Ooste.
Wanneer die Romeine volke oorwin het, is hulle in stede soos Antiogië in klein ruimtes laat woon, maar hulle was onderling vyandig.  Daarom het die Romeine hul stede in sektore verdeel waar die verskillende bevolkingsgroepe kon bly.  Daar is mure tussen hierdie woonbuurte opgerig.  Daar was verskeie sulke ommuurde sektore in Antiogië.
Die evangelie sou hierdie mure in Antiogië platvee.  Dit steek die grens tussen Jood en Griek oor, en bring mense uit verskillende agtergronde in een nuwe mensheid in Christus saam.

 

Die getuienis van gewone mense laat die mure val

Let op dat dit gewone mense is wat die evangelie aan die mense van Antiogië verkondig.
Dit is die eerste keer dat die evangelie regtig die grens na nie-Jode oorsteek. Verandering kom baie keer van die rante af, van mense wat nie noodwendig in die hart van die beweging/instituut staan nie.
En die mense van Antiogië kom tot geloof in Jesus Christus, erken Hom as hulle Here, en bekeer hulle tot Hom.

 

Nuwe gelowiges is opgewonde en onseker

’n Mens kan jou voorstel wat hulle ervaring was.  Hulle is opgewonde oor die nuwe lewe en verwonderd oor die eenvoud van die evangelie, maar ook onseker. 
·         Wat presies sou hierdie nuwe lewe alles behels? Hoe gaan dit hulle daaglikse en beroepslewe beïnvloed?  Watter tipe lewenstyl moet hulle nou volg?
·         En dan: wat van die Joodse gebruike? Wat sou van hulle verwag word?  Watter rol moet die besnydenis speel?  Moet hulle nou die sabbat onderhou?

 

Barnabas word gestuur om te bemoedig

Hy is presies die regte persoon om die gemeente in Antiogië te bedien.

 

God het Barnabas voorberei

Vir dié enorme verantwoordelikheid was Barnabas op 'n besondere manier deur God voorberei.  Hy was 'n Griekssprekende Jood wat tussen heidene buite Palestina in Siprus grootgeword het en daarom tuis was in die teenwoordigheid van nie-Jode nie.  Maar, hy was ook ’n Leviet wat beteken dat hy volledig onderleg was in die ortodokse Joodse leer.  Hy kon dus die skeiding tussen Grieke en Hebreërs in sy persoon en afkoms oorbrug.  Op die koop toe was hy ook deeglik bekend met die eise van die Christelike geloof as lidmaat van die eerste gemeente in Jerusalem en kon gevolglik as leraar van hierdie nuwe leer optree.
Lukas beskryf Barnabas as 'n goeie man; met die Heilige Gees vervul. Daarbenewens het Barnabas ook 'n vaste geloof gehad.  Sy sekuriteit het hy in God gevind.
·         Barnabas het nie ‘n keuse gehad oor waar hy grootword en oor sy opvoeding nie – en God gebruik dit
·         Maar alles het nie blooot vanselfsprekend gekom nie. Barnabas moes kies om te glo; moes kies om ‘n karakter van integriteit te kweek. ‘n Mens moet kies om die lig van God in die donker hoekies van jou lewe te laat inskyn – en as jy kies om hierdie dinge te doen, word jy ‘n baie kragtige getuie in God se hand, because then you walk the talk; you practice what you preach.

 

Jerusalem stuur Barnabas as bemoediger

Barnabas is voorberei hiervoor.  Hy was bekend vir sy vrygewigheid.  En hy was bekend as ‘n gasvrye mens, wat vir Saulus onder sy vlerk geneem het toe almal nog skepties was oor hom.
Let op wat die gemeente in Jerusalem doen.  In plaas daarvan om te probeer om ’n voorskrif vir die gelowiges uit die heidene te skryf van hoe hulle as Christene moet lewe, en hulle het ’n hele paar mense gehad wat dit sou kon doen, stuur hulle iemand om met hulle in verhouding te tree, iemand wat na hulle kan luister, en saam met hulle kan lewe en op ’n daaglikse wyse kan blootstel aan ’n Christelike lewenstyl.

 

Om met hart en siel aan die Here getrou te bly

Let op wat gebeur toe Barnabas daar kom en waaraan hy aandag gee.  Lukas vertel ons dat hy hom instel om God se werk raak te sien, dat hy spesifiek fokus op hulle geloof in die Here en hulle daarom aanspoor om met hart en siel aan die Here getrou te bly. 
·         Hy praat nie oor die besnydenis nie. Hy praat nie oor die sabbat nie. Later, wanneer hierdie onderwerpe deur sy gehoor op die tafel gebring word, spreek hy dit aan.
·         Hy praat oor hulle getrouheid aan die Here, dié Here waarin hulle nou geglo het en tot wie hulle hul nou bekeer het.  Waarmee hy natuurlik ook bevestig dat dit die belangrikste van alles is – ’n verhouding met God waarin getrouheid aan Homself die spilpunt is waarom alles draai. 

 

God is aan die werk

Soos regdeur die boek Handelinge die geval is, beklemtoon Lukas hier dat die uitbreiding van die evangelie van Jesus Christus onder beheer van God staan.  Dit is God wat met die sending, hierdie beweging oor grense heen, besig is, wat ons met die term Missio Dei uitdruk. 
·         Barnabas was bly om te sien hoe God in sy genade onder hulle gewerk het (11:23). 
·         Lukas sê spesifiek dat “Die Here het die gelowiges gehelp, sodat daar baie mense … hulle tot die Here bekeer het.” (11:21). 
·          Barnabas word beskryf as “vol van die Heilige Gees”.

 

God se gemeente is inklusief

Ons sien hier ook iets van die wyse waarop die gemeenskap van gelowiges altyd moet werk – inklusief, aanvaardend, insluitend.  Die evangelie kan nie agter mure en grense ingeperk word nie.

 

God se gemeente is bemoedigend

Ons sien in hierdie verhaal die effek van bemoediging en ondersteuning.
Wanneer ’n mens voortdurend aangemoedig word tot ’n sekere optrede of lewenstyl kan dit ’n grootrippel-effek hê.  Ons sien dit in die mooi verhaal van Trevor McKinney, wat die wêreld wou verander deur iets goeds te doen vir 3 ander mense - en hulle dan te vra “to Pay it Forward (Catherine Ryan Hyde Pay it Forward).  En dit het ’n beweging geword wat inderdaad ’n hele klomp mense se lewens verander het.
Die impak wat iemand maak kan positief of negatief wees – en dit is langdurig! Dit leef voort, selfs wanneer die persoon nie meer daar is nie. Ons moet versigtig wees hoe ons lewe en watter impak ons maak!
NEGATIEF: Mense het eenkeer ‘n eksperiment met ape gedoen. Hulle het ’n skoot koue water gekry as hulle ’n piesang probeer eet het.  As ’n nuwe aap bykom keer die ander hom om die piesang te probeer eet.  Selfs as al die aanvanklike ape een vir een verwyder word, en daar niemand oorbly wat ooit self die koue water ervaar het nie, keer die ape enige nuweling om die piesang te probeer eet.
POSITIEF: aan die ander kant was daar ’n eksperiment wat bewys het dat mense twee keer langer met hulle voete in yswater kan staan as iemand hulle aanmoedig.  Bemoediging versterk dus jou deursettingsvermoë. 

Wat moet ons vanoggend hoor?
1.    God is aan die werk in die wêreld om ons. Ons moet ontdek waar God werk -  en dan moet ons mense aan God self verbind.
2.    God het deur gewone mense gewerk. Moet dus nie te bekommerd wees daaroor dat jy dalk nie genoeg weet nie, nog baie foute het, nog ‘n jong gelowige is… God slaan ‘n reguit hou met ‘n krom stok!
3.    God gebruik ons verlede. Gee alles wat met jou gebeur het – goed en sleg – vir God. God kan en sal dit gebruik om die wêreld ‘n beter plek te maak.
4.    Ons moet kies om mense met integriteit te wees: goeie mense, wat vrygewig is, wat gasvry is en wat kan brûe bou na ander mense… Ons moet kies om ‘n positiewe impak op ander mense te hê. Ons hoef nie voorskriftelik te wees nie. God stap ‘n pad met mense! Ons moet ‘n goeie voorbeelds stel en hulle liefhê.
5.    Ons omgewing het die afgelope klompie jare baie meer divers geword. Daar is baie kleur, kultuur, taal en ouderdomsgrense om oor te steek! En God wil die mense van ons omgewing graag bereik met die goeie nuus van die evangelie! God wil dit deur ons doen…



Sunday, August 21, 2011

Preek 21 Aug 2011

Barnabas die gasvrye

Handelinge 9: 26-31

 

Ons loop vanoggend verder in die spore van Barnabas, wanneer ons by hom leer van die geloofsgewoonte van gasvryheid.
Geoloë het ontdek – in die Sahara woestyn - diep onder harde woestyn landskap is daar groot watermere wat in die steenformasies voorkom. Op sommige plekke borrel die water na die oppervlak om ‘n oase te vorm. Hierdie oases is waar reisgers deur die woestyn water en lafenis kry. Sonder hierdie oases sou dit nie moontlik wees om die woestyn te deurkruis nie. Dit maak die reis veilig. Die kamele kan weer water kry, mense kan ontspan en verkwik word. Sodat hulle reg is om hulle reis voort te sit. Oases is eintlik die woestyn se plekke van gasvryheid.  
Hierdie beeld het my dadelik aan my ma laat dink. My ma is een van daai gasvrye mense. Die huis waarin ek groot geword het was soos ‘n oase. Mens kry mos sulke mense – by wie jy net dadelik tuisvoel. Ek onthou iemand het eenkeer van my ma gesê - sy jou laat voel asof jy al lankal jou eie kamer in haar huis het. Dis gasvryheid.

Dis hierdie tipe gasvryheid wat ons by Barnabas ook kry – veral in die manier hoe hy vir Saulus hanteer het.
Lees Handelinge 9: 26-31

Ek wil net so ‘n stappie terug gee...In Handelinge 8 lees ons “Saulus het die kerk probeer uitroei. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit.” Saulus was die vervolger van Christene.
So word Saulus deur die hoëpriester Damaskus toe gestuur om Christene gevange te gaan neem. Op die pad na Damaskus het Saulus egter ‘n ontmoeting met God gehad wat sy hele lewe verander het en hy het begin om die evangelie te verkondig. Die probleem was toe dat toe Paulus in Jerusalem kom het die mense hom nie vertrou. Hulle wou niks met hom te doen gehad het nie, want hulle onthou hom nog die man wat die Christene vervolg het. Niemand wou na hom luister nie, niemand wou vir hom blyplek gee nie. Hy was soos iemand wat in die woestyn rondgedwaal het op soek na ‘n oase.

Totdat Barnabas op die toneel verskyn. Barnabas ontferm hom oor Saulus. Hy gee vir hom ‘n veilige ruimte. So maak hy sy voormalige vyand deel van sy lewe. Hy doen dit op twee maniere: Hy luister na sy storie en stel hom voor aan die apostels.
Dietrich Bonhoeffer: die duitse teoloog wat deur die Nazi’s tereggestel is – het gesê: “die belangrikste diens wat mens aan die gemeenskap kan lewer, is om te luister.”
‘n Groot deel van gasvryheid is om te luister na iemand se storie. Dit laat mense veilig en gemaklik voel. Dit sê vir die ander persoon – jy is vir my belangrik, ek stel stel in jou belang.

Hier is natuurlik ook ‘n sekere risiko aan verbonde. Om regtig te luister na iemand moet jy bereid wees om tyd af te staan en jouself oop te stel. Niemand sou snaaks gedink het as Barnabas ook bang was vir Saulus en nie na hom wou luister nie. Maar hy was bereid om die risiko te neem, homself oop te stel en te luister. In ons wêreld is dit nie altyd maklik nie. Ons is van nature geneig om onsself te beskerm, ons skram weg van mense, ons vertrou moeilik, ons is verdedigend en skepties. Soms is dit net ongerieflik. Ons is bang om risikos te neem.  Maar ons kan ook nie wegkom daarvan dat dit deel is van ons roeping as gelowiges nie. Barnabas wys dit vir ons.

Nadat Barnbas na Saulus geluister het gee dit vir hom die vrymoedigheid om vir Saulus na die apostes toe te bring en vir hulle te sê dat hy oraait is. Hulle kan hom vertrou. Hy is nie meer die Saulus van vroeër nie. Barnabas word dan eintlik Saulus se borg. Dit maak dat hulle vir Saulus en sy bediening erken. En ja daar was nog mense wat skepties was teenoor Saulus en daarom is hy weg na Tarsus, maar daar is Tarsus het hy voorberei vir sy lewe as apostel. Die punt is: Barnabas se gasvryheid het vir Saulus vrygemaak en selfvertroue gegee om sy roeping te gaan uitleef.  


Gasvryheid is ‘n belangrike tema in die Nuwe Testament. Ons lees byvoorbeeld in Hebreërs 13:2: ““Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.”
Dit verwys waarskynlik terug na Genesis 18 waar Abraham 3 besoekers ontvang het wat toe engele was wat vir hom die belofte oorgedra het dat hy ‘n kind sou kry.
Daar is ook die verhaal van die Emmausgangers in Lukas 24 – hulle was gasvry teenoor die vreemdeling wat op die pad by hulle aangesluit het en uiteindelik toe hulle saam eet en die vreemdeling breek die brood – toe besef hulle dat dit Jesus is.
Ons lees in Romeine 12: 13 - “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.”
In 1 Timoteus 3:23 & Titus 1:8 lees ons dat gasvryheid een van die kenmerke moet wees van die leiers van die kerk.

Gasvryheid is ‘n belangrike tema in die Nuwe Testament. Maar daar is ‘n belangrike kwalifikasie in hoe die Nuwe Testament gasvryheid beskryf. Die Griekse woord wat in die Nuwe testament met gasvryheid vertaal word is philoxenia en dit beteken letterlik ‘liefde of vriendelikheid vir die vreemdeling”.
 Alhoewel gasvryheid natuurlik ook te doen het met lekker kuier saam met vriende en familie, gaan Bybelse gasvryheid meer oor hoe jy vreemdelinge ontvang. Mense wat jy nie ken nie, mense wat anders is as jy. En dis uiteindelik ons grootste uitdaging.
Ek het ‘n Chinese spreekwoord raakgeloop wat my nogal hieroor laat dink het: “Betoon gasvryheid teenoor vriend en vyand wat by jou huis(by jou werk) aanklop. Die boom weerhou sy skadu van niemand nie – nie eens van die houtkapper nie.” 

Ek lees onlangs van ‘n akteur wat vertel van die professionele wêreld van akteurs. En ek het nogal gedink dit is van toepassing as ons praat oor gasvryheid. Hy vertel dat akteurs oefen vir tonele waar hulle liefde, sagtheid en intimiteit teenoor mekaar moet wys maar terselfdertyd is hulle jaloers op mekaar en is hulle so bang hulle maak dit nie dat daar back-stage baie haat, hardheid en skeptisisme teenoor mekaar is. Op die verhoog soen hulle mekaar, maar agter die verhoog wil hulle mekaar slaan. Op die verhoog speel hulle die diepste menslike emosies, maar wanneer die ligte af is net vyandigheid en kompetiese tussen hulle.

Die wêreld waarin ons leef kan ook maklik wees soos akteurs op ‘n verhoog. Teenoor mekaar is daar vriendelikheid en gasvryheid, maar agteraf is dit net vyandigheid, skeptisisme en selfs haat. Dink maar hoe dit dikwels by jou werk gaan. Selfs in die kerk en in families sien mens dit. Dis so anders as Bybelse gasvryheid – bybelse gasvryheid is eerlik, dis eg, dit stel ander mense eerste, dit soek sy eie belang nie, maar is regtig ingestel op ander se belange, dit skep veilige ruimtes vir mense en dit vra: wat wil die Here vir my leer deur hierdie ander mens?

Ons moet onsself afvra:
Waar kan ek ‘n Barnabas wees vir iemand anders?
Wie in my omgewing het dalk ‘n skuilplek, ‘n oase nodig?
Wat gaan ek doen wanneer die Saulusse van hierdie wêreld oor my pad kom? Gaan ek na hulle luister?
Hoe lyk gasvryheid in my werksplek? Veral met moeilike kollegas en mense wat agteraf is?
Ouers met kinders – kinders is ook mos maar net gaste in ons huise. Wat beteken gasvryheid vir my as ouer terwyl die kind in my huis is? Is my huis vir my kinders ‘n veilige ruimte waar hulle veilig voel en kan groei en ontwikkel en uiteindelik vry kan wees.
Hoe lyk gasvryheid teenoor mense wat anders lyk en dink as ek? Mense wat van my verskil? Ons sê maklik – jy kan my gas wees as jy net meer lyk en dink en glo soos ek. Dis menslik want ons is gemaklik met mense wat soos ons is. Maar dis nie Bybelse se gasvryheid nie. Bybelse gasvryheid sê – ek stem nie noodwendig met jou saam nie, maar jy is steeds welkom in my lewe.

Wat beteken gasvryheid vir ons as gemeente? Gasvryheid is deel van ‘n gemeente se DNA. Dit moet deel wees van alles wat ons doen in die gemeente – eredienste, vergaderings, basaar, kleinrgoepe - alles wat ons doen moet dit weerspieël. Almal moet welkom voel hier by ons.

Ek wil afsluit met ‘n laaste gedagte: Gasvryheid gaan oor ‘n verhouding – ‘n mens kan tog nie op jou eie, sonder gaste, gasvry wees nie. So is dit ook met God. Hy tree met ons in verskillende verhoudings en een daarvan is dié van volmaakte Gasheer. Maar meer as dit: Hy word vir ons die feesmaal. En Hy word ook ons Gas – in elke vriend of vreemdeling wat ons drumpel oorsteek. (Matthew Fox)


Sunday, August 14, 2011

Preek 14 Aug 2011


Barnabas die vrygewige
Handelinge 4: 32-37

Joodse spreekwoord wat sê: “Baie kerse kan van een vlam aangesteek word sonder dat die vlam ooit minder helder brand.
Dis iets hiervan waarvan ons lees oor die eerste gemeente in Handelinge. Op Pinksterdag, net na Jesus se hemelvaart is die Heilige Gees uitgestort. Dit het ‘n ongelooflike impak op die mense gehad. Dit was ‘n geestelike ervaring wat al meer uitgekring het en gemaak het dat daardie eerste gemeente met duidende mense gegroei het. Romeine, Jode, Perse en Arabiere het deel geraak van die gemeente. So het die kerk tot stand gekom. Niks was ooit weer dieselfde nie. Saam met hierdie ervaring kom daar ook ‘n opdrag: Hulle moes getuies wees - “in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand 1:8).
Dit moes nogal oorweldigend gewees het vir die mense, want onthou hierdie gemeente het ontstaan uit ‘n groepie Jode met ‘n  baie eksklusiewe en konserwatiewe godsdienstige agtergrond. En dan was hulle nog arm ook. Hulle wou waarskynlik weet – waar moet ons begin?

So wat doen hulle? Lukas vertel dat hulle 2 goed gedoen het. Eerstens het hulle hulle toegelê op die leer van die apostels en gebed – m.a.w. hulle het hulle toegwy aan God en aan geloofsgroei. Tweedens lees ons dat hulle het hulle toegelê aan hulle verbondenheid aan mekaar en hulle het gereeld saam geëet. Hulle het dus na mekaar omgesien en alles met mekaar gedeel.
Lees daarvan in Handelinge 4: 32-35.

Dan doen God ‘n wonderlike ding – Hy seën hulle deur Barnabas se vrygewigheid. Barnabas is vir hulle ‘n voorbeeld as dit kom by vrygewigheid.
Lees Handelinge 4: 36-37.
Die eerste ding wat Barnabas in die gemeente doen – hy verkoop ‘n stuk grond wat hy gehad het en gee die opbrengs daarvan vir die gemeente. Hy doen daarmee dus wat die ryk jongman in Lukas 18 nie wou doen nie. Barnabas doen afstand van sy besittings om vir Jesus te volg en daarmee word hy bekend as iemand met ‘n groot en warm hart.
Hy word byvoorbeeld deur Alexander Monachus (6de eeuse monnik van Siprus) beskryf - “his face was like that of an angel ... and he had sparkling eyes”.

Met sy vrygewigheid sit Barnabas ‘n hele proses aan die gang wat meer en meer uitkring – soos die klomp kerse wat by een kers aangesteek word. As gevolg van Barnabas se vrygewigheid word die kerk gevestig as ‘n vrygewige plek, waar daar na elkeen se behoeftes omgesien word en waar daar gesorg word vir almal. En dit maak ook dat hulle besef dat God vir hulle sal voorsien. En dit gee vir hulle krag vir hulle groot opdrag.

Wat leer ons uit hierdie verhaal van Barnabas?

God gebruik gewone mense met gewone goed om ‘n verskil te maak. Barnabas het ‘n stuk grond verkoop en daarmee het hy ‘n heeltemal nuwe lewenstyl in die gemeente en gemeenskap gevestig.

Ons leer dat jy vrygewig is omdat jy dankbaar is. Die mense in Handelinge is verander deur Jesus se dood, opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees. Hulle dankbaarheid dring hulle om vrygewig te wees. Daarmee saam gee hulle ook omdat hulle dankbaar is dat God in al hulle behoeftes voorsien.

Vrygewigheid gaan ook nie oor myself en die erkenning wat ek daaruit kry nie. Barnabas se vrygewigheid het nie by almal positiewe reaksie uitgelok nie. Ons lees van Ananias en Safira wat ook ‘n stuk grond verkoop het, maar tot hulle eie selfsugtige voordeel. En dinge het nie goed geeindig vir hulle nie. Vrygewigheid is nie iets vir iets nie.Dit gaan nie oor my nie. En ek moet gee sonder om iets terug te verwag.

Ons leer dat dit vir God belangriker is hoe jy gee as wat en hoeveel jy gee. Selfs al het jy nie baie nie, kan jy nogsteeds gee. Barnabas en die mense in die eerste gemeente was nie ryk mense nie, maar het nog steeds gegee wat hulle kon.
Dis iets wat ons ook leer by die verhaal van die arm weduwee in Markus 12. Baie ryk mense het baie geld ingegooi, maar die arm weduwee het 2 muntstukkies ingegooi, wat nie baie werd was nie. Jesus gebruik hierdie verhaal as ‘n les in vrygewigheid: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe” (Mark 12:43-44).
Vrygewigheid is ook moontlik in gebrek nie net in oorvloed nie. Gee wat jy kan.

Ek wil afsluit met ‘n ware verhaal om dit alles op te som.
In die begin van die vorige eeu het daar eendag ‘n dogtertjie, Hattie May Wyatt, naby ‘n klein kerkie gestaan en huil. Die predikant, dr Russel Conwell, kom toe by haar en vra hoekom sy huil. Sy antwoord dat sy nie Sondagskool toe kan gaan nie, want daar is nie plek vir haar nie.
Hy vat toe haar hand en neem haar na ‘n sondagskoolklassie toe. Hy sê toe ook vir haar dat eendag sal hulle nog ‘n plek bou wat groot genoeg is vir almal wat wil kom.
‘n Paar weke later het die dogtertjie ernstig siek geword en gesterf. Haar ouers het toe die predikant laat kom na hulle vervalle woonstelblok en hom gevra om die begrafnis waar te neem. By die begrafnis het die dogtertjie se pa vir die predikant vertel dat sy geld begin spaar vir ‘n boufonds sodat hulle die groter plek kan begin bou en hy gee toe vir hom 57sent wat sy gespaar het.
By ‘n kerkvergadering vertel Dr Conwell toe van die 57sent – die eerste bydrae tot die boufonds. Dit het hulle baie beïndruk en ‘n paar dae later kom een van die kerkraadslede en vertel van ‘n erf daar naby wat hulle kan koop. Dr Conwell gaan praat toe met die eienaar van die erf – wat nie ‘n kerkmens was nie. Hy vertel toe vir hom van die dogtertjie en 57sent waarna die eienaar toe sê hy sal vir hulle die erf verkoop vir 10 000 dollar. As ‘n deposito sal hy die 57 sent neem en die res kan hulle betaal teen ‘n baie lae rentekoers. Die gemeente het toe geld ingesamel en ‘n nuwe kerk  gebou – die Temple Baptist Church in Philidelphia. Vandag is daar ook die Temple Universiteit, die Good Samaritan Hospitaal en ‘n Sondagskool sentrum waar niemand ooit weggewys word nie. Binne die Sondagskool sentrum is daar ‘n skildery van die klein dogtertjie met haar 57 sent en van Dr Conwell.

Vir die gemeente in Phillidelphia het alles begin by 57sent en van daar het dit uitgekring. So die vraag vanoggend vir ons elkeen is: wat gaan jy doen met jou “57sent”?



Sunday, July 31, 2011

Preek 31 Julie 2011


Genesis 32: 22-32

Ons gaan vanoggend aan met die verhaal van Jakob. Verlede week het geeindig waar Jakob en sy familie begin terugtrek het na sy vaderland toe. Terug na sy pa toe, waar sy broer Esau ook vir hom gewag het. Vanoggend se gedeelte gebeur terwyl hulle op pad terug is. Maar voordat ons daarby kom, wil ek net eers vir julle ‘n interessante verhaal vertel.  

Fred Craddock, 'n Amerikaanse professor in homiletiek (preekkunde), vertel iewers van 'n insident wat 'n groot indruk op hom gemaak het. Hy en sy vrou was met vakansie in ‘n dorpie in die staat Tennessee. Hulle het in ‘n restaurant gesit besig met middagete. Terwyl hulle eet kom daar ‘n ou man na hulle toe en vra of hulle met vakansie is. Hy vra toe wat hulle doen. Fred was nie vreeslik lus vir gesels nie – hy wil rustig saam met sy vrou kuier. Hy sê toe vir die man: “Ek is 'n professor in homiletiek”. Hy het gemeen dat dit die man sou afskud.
"O, so jy is 'n man wat weet van preek", kom dit toe onverwags. "Laat ek vir jou 'n preekstorie vertel". En voordat hulle nog iets kan sê trek die man ‘n stoel nader en begin vertel. Hy vertel dat hy ‘n buite-egtelike kind was, en het nooit geweet wie sy pa is nie. En dit was vir hom baie swaar, want hy is half eenkant geskuif en mense het opmerkings gemaak oor die kind wat nie weet wie sy pa is nie. Hy het baie tyd alleen spandeer en het nie veel vriende gehad nie.
Een dag het daar ‘n bekende prediker na hulle dorpie gekom. Die man vertel dat hy nie eintlik kerk toe gegaan het, maar hy was nuuskierig en het toe tog gegaan om na die predikant te luister. Hy was nogal beïndruk en hy het toe weer gegaan. Maar hy het altyd gesorg dat hy bietjie laat inkom en het weer vroeg geloop, sodat hy nie met enigiemand hoef te praat nie. Een Sondag kon hy egter nie betyds wegkom nie en hy raak toe vasgevang tussen die mense.
En terwyl hy so probeer wegkom, toe voel hy so ‘n groot hand op sy skouer. Toe hy omkyk toe sien hy dis die nuwe predikant, wat toe vir hom vra: Wat is jou naam, seun? Wie se kind is jy?
Die vraag wat hy die meeste gehaat het. Maar voor hy kon antwoord, toe sê die prediker: “Ek weet wie jy is. Jy is ‘n seun van God”.
Nadat die ou man dit vertel het, sê hy: "U weet, professor, daardie woorde het my lewe verander".
Toe die ou man weg is kom die kelnerin toe by Fred en sy vrou en vra of hulle weet die die ou man is. Toe hulle nee antwoord toe sê sy – hy het 2 termyne gedien as goewerneur van Tennessee.

Die predikant het met dit wat hy gesê het – die seun se siening oor homself verander. Dis ‘n identiteitsverandering wat hier gebeur. En die teks waarna ons vanoggend kyk gaan ook oor ‘n identiteitsverandering.

Lees Genesis 32: 22-32

Toe ek weer die teksgedeelte lees, het ek weer begin dink oor die woord, “stoei”. Wanneer ek dink aan die woord stoei, dan dink ek aan hoe ons in die laerskool op die speelgrond gestoei het. Ons het gewoonlik een ou gejaag en platgeduik en almal bo-op hom ‘n hoop gemaak. Jy wou beslis nie onder daai hoop wees nie.
As ek aan stoei dink, dan dink ek ook aan die stoei wat ons op TV gekyk het. Onthou julle vir Jan Wilkens, met sy klein broekie, wat in die 70’s en 80’s hier in die Goeie Hoop sentrum geveg het teen ouens soos Apollo, Big John Studd en Igor Volkoff. Ons was vasgenael voor die TV. Dit was nog regte stoei.
Vandag is dit mos WWE Raw en Smackdown met ouens soos Hulk Hogan, Golddust, Triple H en die Undertaker. Baie daarvan is mos maar gechoreografeer.
Ek onthou ook hoe ek en my broers met mekaar gestoei het, gewoonlik na ons Jan Wilkens op die TV gesien het – tot dit op ‘n stadium wat dit gewoonlik te ernstig geraak het en dan was daar ‘n bakleiery.
Ek dink ook aan die kere wat ek met my eie kinders gestoei het. En wat jy maar toelaat dat hulle jou onderkry en bo-op jou spring.

In hierdie teksgedeelte lees ons van die enigste stoeigeveg in die Bybel. Die Hebreeuse woord wat hier met stoei vertaal word, word net op hierdie een plek in die hele Bybel gebruik. Hier waar Jakob met hierdie vreemde man stoei. Ons weet nie wie die man was met wie Jakob gestoei het nie. Ons weet nie of dit God was, of dalk ‘n engel, of ‘n visioen of ‘n droom, of dalk net sy gewete waarmee hy gestoei het nie. Wat ons wel weet is dat in hierdie stoeigeveg is Jakob verander en het God vir hom ‘n nuwe identiteit gegee.

Die sleutel van hierdie storie is die naam Jakob. Soos ons 2 weke gelede gesien het – die naam Jakob beteken “bedrieër”. En ons het mos gesien dat Jakob sy naam gestand gedoen het. Maar hier langs die Jabbokrivier kry hy ‘n nuwe naam: Israel wat dui op God se betrokkenheid in sy lewe. Op ander plekke in die Bybel sien ons soortgelyke veranderinge – Saulus wat die Christene vervolg wat Paulus die apostel word, Petrus wat Jesus verloën wat die rots word waarop die kerk gebou is.  Jakob se nuwe naam en die heupbesering wat hy opgedoen het word dan tekens van verandering, vernuwing en nuwe moontlikhede.
Belangrik om op te let – Jakob se omstandighede verander nie, dis sy karakter, sy identiteit wat verander. En dit maak dat hy anders reageer op sy omstandighede.

Die digter, James Thurber, het iewers gesê:  “All men must learn before they die, what they are running from and to and why.”
Jakob was besig om van Esau, van sy eie swakhede en die slegte dinge in sy lewe weg te hardloop. Maar hy het in God vasgehardloop, en dit het hom gehelp om met die dinge in sy lewe te deal. Wat ons hier moet hoor : As jy ten volle mens wil wees – ‘n gelukkige en tevrede mens - dan moet jy deal met dinge in jou lewe waarvan jy probeer weghardloop. Jy moet vrede maak met dinge in jou lewe. Daarmee saam moet ons ook vir onsself afvra wat dit is wat maak dat ons lewens so gejaagd is en hoekom dit vir ons nodig is om so te jaag.
Ek dink dis nodig vir ons om so bietjie stil te staan en te dink oor die woorde van James Thurber.(kyk weer na die aanhaling en dink daaroor in terme van jou eie lewe.)
  
Dan sien ons ook dat die manier hoe Jakob na sy broer kyk, verander. God moes hom eers verander voordat hy weer sy broer in die oë kon kyk.
In Genesis 33 sien ons hoe Jakob en Esau mekaar na al die jare weer ontmoet. Jakob is bang vir Esau omdat hy sy eersgeboortereg en seën gesteel het. Hy verwag dat Esau hom iets gaan aandoen. Hy stuur selfs mense vooruit om Esau sag te maak.  
Lees gou wat gebeur: Genesis 33:4 “Esau het hom tegemoed gehardloop en hom omhels. Esau het sy arms om Jakob se nek gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil.”

Wanneer Jakob vir Esau ontmoet is hy geskok deur sy broer se vergewende omhelsing.
Die Message vertaling sê dit baie mooi – Genesis 33: 10 “Please. If you can find it in your heart to welcome me, accept these gifts. When I saw your face, it was as the face of God smiling on me.”

Julle het seker al gehoor van Corrie ten Boom. Sy was ‘n jong vrou in die Tweede Wêreldoorlog. Sy en haar gesin het gevoel dis hulle Christelike plig om die Jode te help. Hulle het Jode in hulle huis weggesteek. Uiteindelik het die Nazi’s hulle uitgevang en hulle is konsentrasiekamp toe gestuur. Corrie was die enigste een van haar familie wat die kampe oorleef het. Na die oorlog het sy boeke geskryf en praatjies gehou oor haar ervaringe en oor vergifnis. In haar boek “Tramp for the Lord” vertel sy hoe sy na die oorlog in Duitsland opgetree het. Na een van die optredes het een van die wreedste soldate wat by die konsentrasiekamp gewerk het na haar toe gekom. Sy wou hom nie groet nie, sy wou hom nie vergewe nie, maar het vir die Here gevra om haar te help. En dan skryf sy die volgende: 
 “For a long moment we grasped each other's hands, the former guard and the former prisoner. I had never known God's love so intensely as I did then.  I also know that in my post-war experience with other victims of Nazi brutality, it was those who were able to forgive, who were best able to rebuild their lives.”

By Corrie ten Boom en by Jakob en Esau leer ons ‘n belangrike les – versoening met God, met onsself en met ander mense is die sleutel tot ‘n betekenisvolle, sterk, gesonde en heel lewe.

Om saam te vat:
Mag jy gereelde lewensveranderende ontmoetings met God hê.
Mag jy deal met die dinge wat jou jaag – uit jou verlede en op die oomblik.
Mag jy versoening met God, jouself en ander mense beleef.
Sodat jy ‘n heel en gesonde mens kan wees.

Sunday, July 24, 2011

Preek 24 Julie 2011


Genesis 29-31
Die eerste desperate housewives

Ons gaan aan met die verhaal van Jakob en vandag se tema is: “die eerste desperate housewives”. Ons gaan die verhaal volg in Genesis 29-31. Hieronder volg ‘n opsomming van die verhaal, met ‘n paar gevolgtrekkings aan die einde.
 
Genesis 29: 1-30
Nadat Jakob die droom gehad het en besef het dat God vir hom iets in gedagte het, trek hy verder totdat hy uiteindelik in Haran by Laban uitkom. Hy was by trou ouderdom en het dus onmiddelik raakgesien dat Laban 2 dogters het. Die beskrywing daarvan is wonderlik: Genesis 29:16-17. “Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel. Lea het sagte oë gehad, maar Ragel was mooi gebou. Sy was beeldskoon.”

Dan volg een van die mooiste liefdesverhale, met ‘n minder goeie einde. Laban sê as Jakob vir 7 jaar vir hom werk, dan kan hy met Ragel trou. Ons weet nie veel van daardie 7 jaar nie, maar Jakob was so verlief dat dit vir hom gevoel het soos 7 dae.
Dit het my laat dink aan Richard Buckminster Fuller, Amerikaanse argitek. Hy het altyd vir sy vrou gesê dat hy voor haar gaan doodgaan, sodat hy haar kan verwelkom as sy by die hemel aankom. Toe hulle al oud was, toe raak sy baie siek en die dokters het nie vir haar ‘n kans gegee nie. Toe haar einde naderkom het Richard langs haar bed gesit, haar hand vasgehou, sy oë toegemaak en gesterf. ‘n Paar uur later is Annie ook oorlede. Sy wens is vervul. Dis die tipe liefde wat Jakob ook vir Ragel gehad het.  

So werk Jakob toe die 7 jaar en uiteindelik is dit die groot troudag en Laban trek vir Jakob ‘n vuil streep, want onder die sluier is dit toe Lea wat vir Jakob wag en nie Ragel nie. En Laban sê toe dat Jakob nog 7 jaar moet werk om vir Ragel te kry. Wat hy natuurlik toe doen, omdat hy graag vir Ragel wou hê.
Hierdie hele gebeure, het my laat dink aan die spreekwoord van die Kamba volk in Kenia het ‘n gesegde: “no bull rules the same valley for two seasons”. Beteken: jy kan nie aaneem dat jy altyd die ‘upper hand’ gaan hê nie. Jakob die bedrieër word self bedrieg.

Genesis 29:31 - 30:24
Hierdie gedeelte is die Desperate Housewives van die Bybel – so baie intriges is daar. Dis ‘n verhaal van jaloesie en pyn en verwerping. Interessant – die Hebreeuse woord vir “tweede vrou” beteken letterlik – ‘teenstander’. Ons lees van Lea wat moes leef met die pyn dat sy eintlik nie die vrou is wat haar man wou gehad het nie, maar dat sy goed genoeg is om sy kinders te hê. Ragel weer moes leef met die pyn dat sy vir baie lank kinderloos was, terwyl Lea kinders gehad het. Hulle moes almal met seer en pyn saamleef.

Genesis 30:25-43
Jakob se lewe saam met Laban was nie maklik nie. Hy word deur Laban misbruik en in die proses word hy skatryk en Jakob sukkel. Dit klink bietjie soos van die politici in ons land – hulle word net ryker ten koste van die armes. Maar Jakob het toe ‘n plan gemaak om uit Laban se wurggreep uit te kom. 

Genesis 31: 1-21
Die Here het vir Jakob geestelik sterk gemaak en Jakob het genoeg materiele dinge bymekaar gemaak, sodat hy op sy eie bene kon staan. Dit het hom laat besluit om terug te keer na sy pa toe. Hy het toe sy vroue en kinders bymekaar gekry, al sy goed gepak en weggetrek van Laban af, terug na sy pa toe. Dit bevestig natuurlik ook God se vorige belofte aan Jakob dat hy uiteindelik weer sal terugkeer na sy vaderland toe.

So wat leer ons uit hierdie verhaal van Jakob?
Miskien sal die volgende storietjie dit die beste opsom:
’n Dogtertjie begin huil toe sy luister na die storie van Abraham wat Isak wil offer: “Stop die storie! Dis te aaklik!”  ’n Ander kindjie hak laggend af:  “Moenie stupid wees nie. Dis een van God se stories - hulle eindig altyd reg!”    

Hierdie verhaal van Jakob klink soos ‘n soapie – mense wat mekaar inloop, intriges, jaloesie en hartseer. Maar dit eindig reg. Op die oog af is dit nie ‘n vreeslike diep geestelike storie nie. God word nie eers so baie genoem in die verhaal nie. Maar stadig maar seker sien ‘n mens hoe God tog op die agtergrond besig is om vir Jakob voor te berei vir sy taak as een van ons groot geloofsvaders. Soos met enige soapie is daar mos ‘n oomblik wanneer alles tot ‘n punt kom en bekend gemaak word – ons sien dit in Genesis 31:13 “Ek is die God van Bet-El waar jy olie op ‘n klippilaar uitgegiet en ‘n gelofte teenoor My afgelê het. Maak klaar en trek weg uit hierdie land. Gaan terug na jou geboorteland toe.”
Genesis 31:42 “As die God van my voorvaders, die God van Abraham, die beskermer van Isak, nie by my was nie, sou u my met leë hande weggestuur het. Maar God het gesien hoe swaar ek gekry het en hoe hard ek gewerk het en Hy het verlede nag in my guns uitspraak gelewer.” 
Daar kom ‘n punt wat alles in plek van en Jakob besef dat God besig is. Kom ek wys gou vir julle hoe God dit doen.

Lea was nie die gunsteling vrou nie en sy beleef baie verwerping en pyn. Ons sien dit in die name wat sy vir haar kinders gee. Name in daardie tyd het dikwels iets gewys van die belewenis van die ma.
Ruben beteken – “my smart raakgesien”, want God het haar smart gesien.
Simeon beteken – “gehoor”, want God het gehoor dat sy nie liefde ontvang nie
Levi beteken – “gebind wees”, want sy het gehoop dat die kind haar man aan haar sal bind.
Mens hoor dus die pyn en verwerping wat sy beleef het. Maar sy gaan ook met haar seer na God toe. Daar kom ‘n verandering. En dit word weerspieel in haar volgende kind se naam. Juda, wat beteken – “prys”, want hierdie keer wil sy die Here prys. Sy beleef God se onvoorwaardelike liefde.
Miskien sal die storie dit mooi verduidelik.  ‘n Ma vertel van haar seun, Alec, wat verlief is en selfs praat van trou. Alec en sy geliefde is egter 3 jaar oud. Hulle het by hulle skooltjie ontmoet. Hulle sit langs mekaar, speel saam op die speelgrond en deel hulle eetgoedjies met mekaar. Sy was toe nuuskierig om te sien hoe lyk Alec se liefde en een middag toe sy vir Alec gaan oplaai toe sien sy haar – sy is erg skeel en dra so ‘n dik bril. En toe Alec in die kar klim toe vra hy: “mamma het jy haar gesien – sy is darem mooi”.Die ma vertel hoe sy gedink het: dis darem nes God. God se liefde is ook blind. God sien ook al ons onvolmaakthede, maar hy kyk na ons met baie liefde en sê: jy is darem mooi.
Dis hoe God na Lea gekyk het, dis hoe hy na elkeen van ons kyk en dis ons roeping om ook uit te gaan en so na mense te kyk.
Dit was dan uiteindelik ook Lea se seun, Juda uit wie se familielyn Jesus gebore is. En aan die einde van sy lewe het Jakob gevra dat hy by Lea begrawe moes word. 

En dan Jakob – hy moes seker ook gevoel het dat niks vir hom regloop en uitwerk nie. Dat die lewe maar taamlik onregverdig is. Maar ons sien dat God heeltyd met hom besig is en dat Hy al die goed wat met Jakob gebeur, gebruik om Jakob se geloof en sy menswees te vorm. Want God sien die groter prentjie. Ons kyk mos net in die slegte goed vas.
Margaret Mead sê: “Blackberry winter, the time when the frost lies on the blackberry blossoms, without this frost the berries will not set… it is the forerunner of a rich harvest”. 
God het die vermoë om uit die slegte van die lewe goeie goed te laat gebeur.

En in die proses leer Jakob om net aan God vas te hou. Soos die spreekwoord sê: “let go and let God” Jakob ontdek dit wat in Psalm 37: 5 staan. “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”

Ons kan die hele verhaal met die volgende aanhaling saamvat:
“If God is able to place the stars in their sockets and suspend the sky like a curtain, do you think it remotely possible that God is able to guide your life? If your God is mighty enough to ignite the sun, could it be that he is mighty enough to light your path?” (Max Lucado )

Sunday, July 17, 2011

Preek 17 Julie 2011

Genesis 28:10-22

Ek wil begin deur julle voor te stel aan Ted Williams. Hy kom uit ‘n goeie huis, het na skool weermag toe gegaan en daarna gaan werk. Maar op ‘n stadium het sy lewe uitmekaar geval en hy het aan drank en dwelms verslaaf geraak, was in die moeilikheid by die Polisie, het vervreem geraak van sy familie en het uiteindelik op die strate gewoon. Maar Ted Williams was geseën met ‘n wonderlike stem. Op ‘n dag het ‘n joernalis dit gehoor, opgeneem en op You Tube gesit. Dit het ‘n Januarie vanjaar gebeur. Mense het dit gesien en Ted is genooi na ‘n radio program waar mense hom gehoor en en werk aangebied het.  Vandag is hy ‘n gesogte omroeper en aankondiger vir  advertensiefirmas, sportstasies en nuuskanale. Hy het weer ‘n plek om te bly en hy is met sy familie verenig. (Gaan na die volgende link as julle ‘n clip van Ted wil sien: http://www.youtube.com/watch?v=ExdVwfNbuVo&NR=1.)

Een mens het gekies om iets meer in Ted raak te sien en dit het sy lewe heeltemal verander.Vandag se teks is ‘n verhaal van hoe God gekom het en ‘n “loser” se lewe verander het, sodat hy anders na homself en die lewe gekyk het.

Dis die verhaal van Jakob. Jakob was een van ‘n tweeling. Sy broer was Esau. Maar Jakob is tweede gebore. So Esau was oudste en volgens die gebruike van daai tyd, het hy al die voordele gehad wat daarmee saamgaan. Alles wat sy pa s’n was, was ook syne. Al die rykdom en al die gerief wat daarmee saamgaan. Hy was die alleen erfgenaam omdat hy die oudste was.
Jakob het altyd aan die korste end getrek. Hy het altyd tweede gekom. Hy weier egter om dit te aanvaar en hy probeer alles om sy situasie om te keer. Hy wil ook darem bietjie deel in die voorspoed en sekuriteit wat Esau beleef. Uiteindelik kry hy dit op ‘n oneerlike manier. Toe dit tyd word dat Esau as die oudste geseën word, bedrieg Jakob vir Esau en vir sy pa en hy steel Esau se eersgeboortereg en seën.
Lees Genesis 27: 35-36.
En dan sien ons Esau se reaksie: Genesis 27: 41

So, Jakob was nie baie gewild nie. Hy is ‘n bedrieer en ‘n skelm. Dit word selfs in sy naam weerspieël – die naam Jakob en die Hebreeuse naam vir ‘bedrieg’ is amper dieselfde. Hy verdien alles wat na hom toe kom. Omdat hy bang was vir Esau, het hy toe gevlug. Hy is nou ‘n voortvlugtende – sonder ‘n huis en familie, sonder ‘n plek om te slaap en kos om te eet. Soos ons lees in Genesis 28: 10-11

En dan gryp God in. Een aand toe Jakob met sy kop op ‘n klip lê en slaap, gee God vir Hom ‘n droom. Lees Genesis 28: 12-15.

Hierdie droom bevestig vir Jakob en weer vir ons dat God los ‘n mens nie. God het ‘n droom vir jou lewe en mens kan weghardloop daarvan of afdwaal, maar God hou aan om jou te agtervolg en wanneer jy later moeg gehardloop is, dan is God daar om jou te omhels en op te tel. Sy genade kan deur niks gekeer word nie. Dis nogal ‘n troos om te weet – as ek op die laagste punt van my lewe is (maak nie saak wat dit veroorsaak het nie), dan is God ook die naaste aan my.
Stanley Jones gesê het “Christ is always closest when the cross is heaviest.”

Dit word bevestig deur die leer tussen die aarde en die hemel wat Jakob in sy droom sien. Die hemel is nie meer ‘n plek wat daar ver is waar God woon nie. Die leer in die droom bevestig vir ons dat God hier is, dat Hy betrokke is by die aarde en by mense en dat Hy nuwe dinge wil doen.
God is presies soos hierdie spreekwoord: “A friend is the one who comes in when the whole world has gone out.”

Gevolg van die droom is dat Jakob heeltemal anders begin dink oor homself, oor God en oor die toekoms. Lees Genesis 28: 16-22.

Soos met Ted Williams se verhaal open daar nuwe moontlikhede vir Jakob.
Wanneer God opdaag is Jakob nie meer net die tweede seun wat geen vooruitsigte het nie. Hy is nie meer die loser, die bedrieer die skelm nie wat vlug vir sy lewe nie..
Wanneer God opdaag word Jakob ‘n nuwe mens met ‘n nuwe roeping. Iemand wat nou God se beloftes verder gaan uitdra.
Wanneer God opdaag word Jakob ‘n belangrike rolspeler in die geloofsgeskiedenis het.
En dis nie asof Jakob dit verdien het nie, asof hy daarvoor gekwalifiseer het of selfs daarvoor gevra het nie. Dis iets wat God doen! En dis iets wat Hy vandag nog in mense se lewens doen en wil aanhou doen!

So wat leer Jakob (…en ons!) in die proses?
Hy leer dat God altyd teenwoordig is.
Hy leer dat God hom sal beskerm.
Hy leer dat God hom nooit in die steek sal laat of sal los nie.
Hy leer dat God altyd Sy beloftes sal nakom.
Hy leer dat God ‘n inspraak in sy lewe wil hê en vir hom groot dinge in gedagte het.
Hy leer dat dit nie vir hom nodig is om na God toe te probeer opklim nie, want God het na ons toe afgeklim. Hy is hier, by ons, langs ons.
Hy leer dat die dinge wat hy gedink het belangrik is, soos die status en gemak en rykdom wat Esau gehad, nie so belangrik is nie.
Maar die belangrikste – hy leer van God se genade en liefde, wat nie deur sonde gekeer kan word nie. En wat nie afgeskrik word deur enigiets of enige iemand nie.

Soos Ted Williams key Jakob ‘n tweede kans in die lewe. Nie omdat hy so goed is nie, maar omdat God goed is. Mag ons vanoggend weer dankbaar wees dat God by ons is en aanhou om vir ons tweede kanse te gee. Mag ons dankbaar wees vir genade waardeur God ons ‘iemand’ maak.