Sunday, February 19, 2012

Preek 19 Feb 2012

Belydenisaflegging 2012

 

2 Konings 2: die oorgee van verantwoordelikheid

Dis al weer interessante toeval dat die leesrooster-teks vir hierdie week die storie is van Elia wat sy mantel oorgee aan Elisa… Dis ‘n storie van gesag en verantwoordelikheid wat aan ‘n nuwe generasie oorhandig word; ‘n storie van ‘n opleidingspad wat tot ‘n einde kom. Tot hier toe het Elia vir Elisa geleer, maar nou moet Elisa op sy eie voortstap…
Hoe gepas vir die dag wanneer 6 jongmense aankondig dat hul formele opleidingstyd in die kerk tot ‘n einde gekom het en hulle self verantwoordelikheid neem vir hulle verhouding met God van hier af vorentoe…? Ons as ouers, Sondagskoolonderwysers en leraars gee vandag die mantel oor aan hulle. Van hier af stap hulle as volwaardige lidmate!
Kom ons lees saam:

1 Die tyd het gekom dat die Here vir Elia in 'n stormwind in die hemel sou opneem.
8 Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na links en na regs verdeel, sodat hulle twee op droë grond daar deur is. 9 Net toe hulle deur is, sê Elia vir Elisa: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen voordat ek van jou af weggevat word?” Elisa het geantwoord: “Mag daar tog 'n dubbele deel van u gees op my kom!10 Toe sê Elia: “Dis 'n moeilike ding wat jy vra”.

·         Dubbele deel “van u gees”: “bə·rū·ḥă·ḵā” kom van “ruach” (roo-akh)
·         Gen 1: die gees van God het oor die waters gesweef…
·         Beteken: verwys na iemand se essensie – hulle eienskappe van krag; dapperheid; beweegredes; manier van dink; hart…
·         Dubbele deel: Elisa vra hier vir sy erflating: nie wêreldse dinge, maar (soos Salomo) die vermoeë om te kan doen waarvoor hy geroep is. Hy vra om as Elia se ‘eersgeborene’ behandel te word (eerste seuns het ‘n dubbel porsie van hul pa se erflating gekry).
·         “Dis ‘n moeilike ding”: It’s not up to him. Hy weet nie of die Here sal ja sê nie.
·          
11 Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik 'n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in 'n stormwind op, die hemel in.
13 Hy het die mantel wat van Elia afgeval het, opgetel en weer op die wal van die Jordaan gaan staan. 14 Hy het met hierdie mantel wat van Elia afgeval het, op die water geslaan en gesê: Waar is die Here die God van Elia? Waar is Hy? Toe Elisa die water slaan, het dit na links en na regs verdeel sodat hy kon deurgaan.

Elia besef dat hy die krag van God – die Gees van God wat op Elia was – nodig het om te doen wat hy moet doen; om alleen vorentoe te gaan… Hy besef dat die krag nie in die MANTEL lê nie, maar in God. Sy woorde voor hy waag om soos Elia op die water te slaan, is ‘n gebed: “Wees by my ook, Here, God van Elia…”
Ons klompie het ‘n besondere Godservaring gehad toe ons saam die berg op is twee naweke terug! Ons het God beleef in die wind, op die berg, in die vuur en in die fluistering van die vroegoggend windstilte… Die Here sélf het julle voorberei vir hierdie oomblik! En ek wéét, as julle hier voor kom staan, deel julle Elisa se gebed: Wees by my ook, Here, God van my ouers en van Jalize en van Johannes en van al my ander mentors…”

Die pad het begin by julle doop

Hierdie oomblik, wanneer ons die “mantel aan julle oorgee”, is die einde van ‘n pad wat baie jare terug by die doopfont begin het. Dáár het julle ouers julle as babas vasgehou, terwyl God ‘n belofte van trou aan julle gemaak het… God het julle eerste gekies! Voor julle kon verstaan! Voor julle vir Hom kon liefwees! En julle ouers het vir God belowe dat hulle alles in hulle vermoeë sou doen om seker te maak julle leer ken hierdie God… Hulle het belowe om julle te leer en te laat leer – sodat julle kan verstaan.
Vandag verstaan julle. Vandag hou julle ouers se verantwoordelikheid op. Vandag neem julle self die verantwoordelikheid op júlle skouers!

Ouers vergesel kinders tot by doopfont

§  Ek gaan nou elke kind een vir een vorentoe roep.
§  Hulle ouers gaan saam met hulle na die doopfont toe stap.
§  Dáár gaan hulle met hul vingers aan die water raak en dan aan hul voorkop: ‘n herinnering aan hulle doop; aan God se belofte van liefde en trou…
§  Terwyl hulle vorentoe kom gaan elkeen se persoonlike geloofsbelydenis op die skerm verskyn: hulle antwoord op wat God by hulle doop vir hulle gesê het…
§  Daar by die doopfont gaan hul ouers die ‘mantel oorgee’. Hulle formele verantwoordelikheid eindig daar. Van daar af vorentoe gaan hulle kind self verantwoordelik wees…
§  En as hulle hier voor kom staan, sal Elisa se gebed in hulle hart uitroep: “Wees by my ook, Here, God van my mentors…”

Om belydenis van geloof af te lê beteken dat julle met die mond bely wat julle ook met die hart glo, naamlik dat Jesus die Here is. Dit is ‘n belofte wat julle maak om alleen op God te vertrou, om te lewe volgens Sy woord, getrou deel te neem aan die erediens en aan al die aktiwiteite van Sy kerk, om te volhard in die gebed en om God op alle terreine van die lewe deur woord en daad te verheerlik.
Beantwoord vrae.

Voel julle anders? Ek hoop so! Want julle IS anders… Julle het so pas ‘n gedaanteverwisseling ondergaan. Ek dink baie van julle het twee weke terug ‘n belewenis gehad van om op ‘n nuwe plek te kom in julle verhouding met God… Ek kon ‘n verdieping sien in elkeen van julle… So, julle IS anders…
En hierdie verandering / vernuwing / gedaanteverwisselings is nie die uitsondering nie. Dit is die reël. Ons is almal die heeltyd besig om te verander. Om te lewe is om gedurig gedaanteverwisselings te ondergaan.

Paulus verwoord dit mooi in 2 Kor 3:18 (Die Boodskap)
Almal wat glo, is nou vry. Ons kan die Here se heerlikheid weerkaats sonder dat daar sluiers oor ons gesigte hang. Hoe meer ons die Here se grootheid raaksien, hoe meer word ons lewe verander om sy ongelooflike heerlikheid te weerkaats. Dis natuurlik die Here self, Hy wat Gees is, wat ons verander om al hoe meer te lyk en te leef soos Hy dit wil hê.

Luister hoe klink dit in die Message vertaling:
Nothing between us and God, our faces shining with the brightness of His face. And so we are transfigured much like the Messiah, our lives gradually becoming brighter and more beautiful as God enters our lives and we become like him.

En The Word on the Street vertaling lig weer ‘n ander aspek uit:
But when we turn our lives back to the Boss, the mask is taken off. The Boss is the Spirit of God, and wherever God’s Spirit is there’s freedom. We’ve got our masks off and God’s brilliance is bouncing off our faces; it’s changing us - our features are evolving; we’re looking more and more attractive as God’s Spirit puts plastic surgeons out of work by the thousands. Only our Boss makes us truly beautiful.
Elisa het gevra vir soveel van die gees van Elia wat hy kón kry! Hy het baie goed geweet dis nie Elia se gees nie, maar God se gees – en hy het geweet hy het dit nodig! Die gees van God in ons VERANDER ons!
§  We are transfigured like the Messiah, our lives gradually becoming brighter and more beautiful as God enters our lives and we become like him…
§  God’s brilliance is bouncing off our faces; it’s changing us - our features are evolving; we’re looking more and more attractive as God’s Spirit puts plastic surgeons out of work by the thousands…

Ek kán vandag die heerlikheid van die Here in julle gesigte sien, my jong vriende! Dit ruk my hart…!
Gaan ek dit nog sien oor ‘n jaar van nou af? Of vyf jaar? Oor tien jaar?
Sien ons dit nog in mekaar se gesigte, gemeente? Sagte oë? Deernis? Vergifnis?
Leef ons nog met die besef dat ons die gees van God nodig het? Is Elisa se gebed nog ons gebed? Here, wees by my… Ek kan nie sonder U nie?

Nagmaal

Ons gaan nou nagmaal gebruik… Ons gaan almal voor ons eie Jordaan rivier staan – die uitdagings waarvoor óns te staan is – en ons gaan pleit: “Wees by my, Here! Laat U Gees in my wees!”

 

nuwe lidmate steek kers aan by christuskers

Die mantel is oorgegee, my vriende. Julle sal van hier af onafhanklik voortstap.
Weet dít: jy stap vorentoe met ‘n roeping! Die Here wil jou gebruik! God het ‘n verwagting as Hy noun a jou kyk, soos wat jy hier sit…
Maar wat ook al vir jou voorlê, watter pad jy en die Here ook al stap: die Gees van die Here is in jou… Letterlik! Die Here is by jou! Jy is gesalf vir jou roeping.
Gaan steek dus jou kers aan by die Christuskers – en neem daarmee jou plek in as volwaardige lidmaat van hierdie gemeente en van die liggaam van Christus.





Sunday, February 12, 2012

Preek 12 Feb 2012

1 Konings 5: 1-14

DIE STORIE
Naäman was die hoof van die leer van Aram gewees.  (interessant, dit beteken ‘regverdig’). Hy was ‘n baie gesiene man en het baie hoë aansien in die koning se oë gehad.  Hy was ook ‘n baie magte leier gewees.  Deur hom het die Here ‘n oorwinning aan die Arameers oor Assirië besorg. 
Hierdie oorloë was niks snaaks gewees nie.  Volkere het mekaar gereeld binne geval.  Dan baklei die een teen daardie een, en dan weer daardie een teen hierdie heen.  Wanneer die volke mekaar binne geval het, het hulle die stede en dorpe verwoes.  Maar hulle het nog meer as dit gedoen.  Hulle het die mans en seuns doodgemaak en die meisies terug gevat om vir hulle as bediendes te werk.

Op ‘n keer, tydens hierdie aanvalle, het Naäman so ’n Israelitiese dogtertjie teruggebring om vir sy vrou te werk. Sy was heel moontlik so tussen 12 en 14 jaar oud gewees. Die Bybel se nie vir ons wat haar naam was nie.  Wat erg was, was dat haar huismense waarskynlik deur die generaal se soldate doodgemaak is of dat sy nie eens geweet het wat van haar ma geword het nie. Sy was alleen in hierdie vreemde land.  SY moes bang gewees het vir hierdie mense wat haar kom ontvoer het. 

Elke dag as sy vir Naäman moes bedien het, kon sy sien hoe hy sieker en sieker raak.  Hy het ’n nare uitslag op sy vel gehad. Sy het gehoor sy vrou sê hy het die siekte melaatsheid. Niemand kon iets vir hom doen nie.  Hy sou uiteindelik sterf van hierdie siekte.

Die dogtertjie wou vir hom sê hoe hy genees kon word. Maar sy kon nie met die generaal gepraat het nie.  SY was nie toegelaat nie. Sy het buitendien gesukkel met die taal - en met haar gevoelens oor die man wat haar mense laat doodmaak het. Miskien, het sy gedink, is die siekte die Here se manier om die man te straf. Maar sy het saam met die Here grootgeword. Sy het geweet sy MOES iets doen om die arme man te help.

Eendag skraap sy al haar moed bymekaar en sê toe vir Naäman se vrou: “Ag, as meneer net by die profeet in Samaria wil uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid genees.”  Omdat Naäman radeloos was, gaan hy toe na die koning toe.

Naäman het by die koning gekom en hom vertel wat die dogtertjie uit Israel vir hom gesê het.  Die koning sê toe: “Gaan gerus, ek stuur jou met ‘n brief na die koning van Israel toe”.
Hy vertrek toe met 342 kg silwer, 68 goud en tien stelle klere. Daar gekom, wys Naäman die geskenke vir die koning en gee die brief vir hom: Daarin het die volgende gestaan: “ EK het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur.  Wanneer hy by jou uitkom moet jy hom van sy melaatsheid genees”.

Die koning van Israel het die brief gelees, sy klere geskeur en hom geantwoord: “ Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hule die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom gesond te maak?  Dit moet vir my duidelik wees hy soek net skoor met my”.

Intussen het die profeet Elisa van die storie te hore gekom. Hy laat weet toe die koning dat hy die man van Damaskus na hom toe moet stuur. En die generaal gaan toe na hom toe. Toe Naäman nog met sy wa en perde op pad is, het die profeet dit al geweet.

Elisa se toe vir een van sy boodskappers: “Ek hoef nie vir Naäman persoonlik te sien nie,”. Gaan gee net vir hom die boodskap dat hy hom sewe maal in die Jordaanrivier moet gaan bad.”

Naäman het hom vererg en gese: “  EK het gedink hy sal uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem.  Is die riviere van Damaskus nie beter as al die water van Israel nie.  Kan ek my nie daarin was om rein te word nie”.  Naaman was woedend het wou daarvandaan net terugry huis toe. 

Maar die generaal se amptenare probeer hom toe keer en se: “Moenie so hardkoppig wees nie, Generaal. As die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gese he: was jou en jy sal rein wees?”

Toe stop Naäman by die Jordaanrivier. Liggelowig bad hy homself sewe keer in die water. Toe hy die sewende keer opkom uit die water, kyk hy stomgeslaan na sy vel: so glad en sag, en heeltemal gesond!

Hy draai net daar om en gaan toe haastig terug na Elisa se huis toe en daar het hy uitgeroep: “Ek weer nou; daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel nie.  Aanvaar asb hierdie geskenke van my”.

Elisa wou egter nie die geskenke geneem het nie.  Naaman vra toe of hy maar van die grond kan terugneem huis toer. Terug by die huis het Naaman die grond afgelaai en ‘n altaar gebou waarop hy offers vir die Here gebring het.

Wat hoor ons in hierdie verhaal?
Hierdie is ‘n verhaal waaruit ons baie kan leer.  Dis ‘n verhaal wat baie oor God vertel.  Dis ‘n verhaal waaroor meer as een preek gemaak kan word, maar daar is een of twee spesifieke goed wat vir my baie duidelik geword het in die tyd wat ek met die teks geworstel het.

Toe ek die verhaal die eerste keer gehoor het, kon ek nie anders as om dadelik te dink aan die verskillende mense wat God in hierdie verhaal gebruik om vir Naaman te genees nie.  Ons lees eers hoe God die dogtertjie gebruik om die boodskap van die profeet aan hom te gaan oordra, dan hoor ons later weer, nadat Naaman woedend is vir Elisa en net wil terugkeer huis toe, hoe sy slawe/amptenare hom keer en oortuig dat hy hom moet gaan was in die Jordaanrivier. 

Eers gebruik God ‘n dogtertjie wat eintlik geen stem gehad het nie.  Hierdie dogtertjie is uit Israel uit ontvoer en het as kinderslaaf vir Naaman gewerk. Daar is van die begin af geen rede hoekom hy vir haar sou luister nie, sy was ‘n nikswerd Israeliet maar dan is sy nog ‘n kind ook. Kinders het geen se gehad enigsins binne enige geselskap nie. Hulle was letterlik daar om gesien en nie gehoor te word nie en meeste van die tyd mag hulle ook nie gesein geword het nie. En in die derde plek was sy nog ‘n vrou ook. En vrouens se rol binne die samelewing was basies soos die van die kinders – hulle het geen regte gehad nie. Dit was slegs in baie uitsonderlike gevalle wat vrouens enigsins ‘n rol binne die samelewing gespeel het.  Tog, t.s.v. al hierdie onwaarskynlikhede , kies God juis om haar te gebruik.  God kies die heel onwaarskynlikste persoon moontlik en hy gebruik haar!  Hy kon dit mos self vir Naaman gesê het, of vir sy vrou, of een van die belangrike mense, maar nee, God kies om deur hierdie vreemde dogtertjie te praat.  Die dogtertjie wat hy ‘gesteel’ of ‘ontvoer’ het uit haar eie land.

God stop egter nie daar nie. God gaan verder en gebruik Naaman se slawe om te keer dat hy teruggaan Damaskus toe voordat hy nie in die Jordaan gewas het nie.  Hierdie klink dalk nie so vreemd nie, maar ons moet onthou dat hierdie mans almal vir hom gewerk het, dat hulle soos sy slawe was en dat hulle eintlik nie kon waag om hulle monde oop te maak nie. Slawe se regte was in baie gevalle gelyk met die van vroue soos wat ek hier bo gesê het. Daarom was dit waarskynlik nie eers in hulle gewoonte dat die slawe eerste met hom gepraat het nie. Tog moes God so sterk met hulle gepraat het, dat hulle nie anders kon as om iets te se nie. En dalk was hulle ook so bietjie nuuskierig om te sien of hierdie besigheid gaan werk. Wat ookal hulle rede was, God gebruik hulle ten spyte van hulle posisie in die samelewing. Nes vir die dogtertjie. 

Twee keer in hierdie verhaal sien ons hoe God die onwaarskynlikste persone gebruik.  Of ek moet dalk eerder sê: onwaarskynlik vanuit ons menslike perspektief. Want hierdie mense was heel duidelik vir die God die heel obviouste keuse. Twee keer verskil die mense wat ons obvious keuse sou gewees het, met die wat God kies.Hoekom doen Hy dit? Of hoe dink God anders as ons. Wat moet ons hoor uit die besluite wat Hy neem?

Dalk moet ek begin deur te vra: Met wie assosieer jy jouself vanoggend?  Voel jy dalk soos Naaman, of dalk die dogtertjie, of dalk sy amptenare?

As jy soos Naaman voel: asof daar nie meer hoop is nie en al die obvious antwoorde en stemme nie gewerk het nie: Dalk wil God dan vanoggend vir jou kom herinner aan die verskillende stemme in ons lewe.  Dalk wil Hy jou kom vra: wie is die stemme na wie ek en jy luister?  Luister ons makliker na stemmer van mense uit blink motors met netjiese klere – die mense wat dit ‘gemaak’ het in die samelewing, of wil God dalk vir ons kom bewus maak van die stemme van mense op die rand van die samelewing wat dalk meer het om te se as wat ons sal verwag.  Luister ons eerder na mense met lewenservaring, of wil God ons kom herinner aan die stemme van ons kinders wie se waarnemings vermoe so fyn is dat ons sukkel om enige iets meer van hulle weg te steek en wie dalk in die naiwiteit van hulle oplossings meer te sê het as die bekommernisse wat baie grootmense se antwoorde vul.Luister ons eerder net na dominees en geleerde mense op preekstoele, of wil God weer vir ons kom bewus maak van soveel ander mense by wie ons kan leer en deur wie Hy ook werk?  Wil God ons nie vanoggend kom bewus maak van hierdie onwaarskynlike stemme rondom ons deur wie Hy wil  deurdring tot ons nie?

Dalk is jy aan die ander kant van die spektrum: dalk voel jy vanoggend soos die dogtertjie of soos Naaman se amptenare.  Dalk is jy te skaam om te praat en voel jy bang, want wat as.  Dalk voel jy jy is nog te jonk, te onbelangrik.  Dalk voel jy jy is nie slim genoeg nie, of nie geleerd genoeg nie.  Dalk voel jy minderwaardig...Dalk wil God vanoggend vir jou kom sê: praat my kind, moenie skaam wees nie.  Praat my kind, staan op vir wat reg is.  Praat, in my oë is jy belangrik.  Praat, ek wil jou gebruik. Praat my kind..

Die teksgedeelte sluit af met ‘n vreemde gebaar:  Naaman neem ‘n vrag vol grond terug na sy land toe.  Van als wat Hy kon saamneem kies hy grond.  Waarom sal Hy dit doen??  Dit sluit aan by wat God nog die heeltyd in hierdie verhaal doen.  God kom gebruik die onwaarskynlike stemme om ‘n boodskap oor te dra.  Naaman neem die grond terug na sy land toe en bou ‘n altaar.  God gebruik dus vir Naaman om te getuig van Hom in n land waar mense afgode aanbid.  Ja, vir ‘n derde keer kies God iemand onwaarskynlik, Nie die profete nie, nee, vir Naaman, die hoof van die weermag.

Die idee van God wat vreemde stemme gebruik is beslis nie n vreemde idee nie.  Ons kry dit keer op keer in die Bybel.  Dink aan Moses se verhaal.  Die hakkelende man wat God kies om te gaan praat...  Dink aan Dawid, die kleinste man van almal is die een wat God kies om die fillestyne te gaan verslaan. Paulus ... die Jood wat die Christene vervolg en vermoor het en op die ou einde ‘n bediening juis aan die nie-Jode gehad het. Jesus ... die nederige timmerman uit die klein onbelangrik dorpie van Nasaret. Dink aan jouself vanoggend, dink aan die keer wat jy voel dat God jou nie hier kan of sal gebruik nie.  Dink aan hoe ons altyd dink God net sekere mense gebruik.  Die verhaal kom keer daardie beeld heeltemal om.  Hierdie verhaal maak dit duidelik dat ons ‘n God dien wat hou daarvan om die mense te kies op die rand van die samelewing, mense wat ander nie hoog ag nie.  God kies onwaarskynlike mense, ja, soos ek en jy.

Die wonderwerk in die verhaal is dat Naaman uiteindelik genees word.  Maar hy word nie net fisies genees van ‘n dodelike siekte nie, nee, Naaman word ook geestelik genees.  Dit was nodig vir Naaman om hierdie pad te stap waarin hy geleer het om na die onwaarskynlike stemme te luister sodat hierdie genesing kon plaasvind.  Naaman het na ‘n ‘quick fix’ gesoek, maar God wys vir hom ander planne.  God leer hom om gehoorsaam te wees, om na ander se stemme te lusiter.  God kom wys hom dat Hy soms eers ander paaie met mense wil stap. Maar wanneer ons bereid is om daardie paaie te stap en na daardie mense te luister, dan vind wonderwerke plaas.

Mag ek en jy vandag bewus word van die verskillende stemme om ons.  Mag ons bewus word van ons eie stem en dat God ons ook wil gebruik.  SO klein en nietig soos wat ons ookal is.  Mag ons besef dat die paaie wat God met ons stap, nie altyd die maklike pad is nie, maar dat God getrou bly aan sy belofte en sy woord. 

Sunday, February 5, 2012

Preek 05 Feb 2012

DIE 7-WONDERS VAN DIE WêRELD!

1.  In die Omgewingstudie klas vra die onderwyser ::  Maak gou-gou ’n lysie van die 7 wonders van die wêreld ::  **  Taj Mahal  ** Christ the Redeemer   **  Collosseum in Rome  **  Great Chinese Wall  **  Chichen Itza  **  Stad Petra  **  Stad Inca   **  Sommige leerders voeg TAFELBERG by!!

2.    Een student sukkel :: Kry net nie klaar nie ::  Lysie word al langer :: Maar daar is so baie .... En dan UITEINDELIK ....!!

3.   Om te kan SIEN // HOOR // AANRAAK // PROE // VOEL // LAG //  Om net te kan hê ...!!!    **   Die hele klas raak stil :: Staan skaam en verbaas op :: Klap hande

4.    Ons aanvaar so maklik so baie dinge as VANSELFSPREKEND :: So asof dit maar so moet wees :: Asof dit alles maar daar MOET wees!  Dink dat wonders met GELD gekoop of gebou moet word ::  (>>   En VERGEET dan so maklik dat hierdie wonders eintlik God-gegewe Genade en Goedheid is :; Skeppinge van God Almagtig :: Skeppinge uit die Groot Gewer se hand!   >>  SO besig met die dinge van God :: Jaag @ ’n tempo deur elke dag // Jaag eintlik @ ons harte en @ God verby! ::  Dat ons die God van die dinge vergeet :: Die Een wat alles gemaak het :: Sy Genade en Voorsiening vir ons,  Miskyk!!    (>>  Partykeer moet ons eers van die KOSBARE VOORREGTE / WONDERS  verloor ::  Om te besef WAT dit werklik werd is!!

1. By geleentheid :: ’n Jeugdiens oor DANKBAARHEID ::  ’n Optrede deur die Trans-Oranje Skool vir Dowes :: Twaalf pragtige jongmense wat mimiek doen op maat van die musiek ::  Hulle mimieke is professioneel : 100% gelyk en in pas met mekaar ..Die enigste probleem ::  Nie een kan die NOOT of TROMSLAG hoor nie!!   Dit ruk die ander jongmense aan die hart :: Laat menige jongmens-hart besef :: DANKBAAR vir wat ek het!!  Menige staan op en getuig met trane ::  Dankie, Here Jesus!!

By dieselfde geleentheid : ’n Matriekmeisie met ’n oog-gebrek :: Heentemal BLIND in een oog : Slegs 4% sig in die ander oog :: Maar ’n jongmense wat elke geleentheid om vir die Here te getuig, aangryp en met oorgawe getuig van Sy liefde en Voorsiening in haar lewe!!
&&  By geleentheid : Die koortjie van E.S le Grange Skool :: Met elke denkbare gebrek wat jy maar kan opnoem :: Party in rolstoele : Ander met dik brille : Ander staan skeef en krom : Vals en van noot af :  Maar sing met OORGAWE >> O, Heer my God – As ek in eerbied wonder //  Jesus het my mooi gemaak ....  En ons raak stil ..................!!!!

Onthou julle nog die gemeentetjie, Tsilapfene, hoog bo in die Soutpansberge : Het niks : Sit op houtbankies : In wind en weer In die bloedige son : maar ELKE Sondag is die hele gemeente daar :: En bedien hulle nagmaal : Gewonde witbrood en warm Fanta Orange ::  Dis AL wat beskikbaar is en wat hulle kan bekostig!  Maar ELKE Sondag ....   En as hulle klaar is, sing hulle met oorgawe en DANKBAARHEID :: God is so goed... God is so goed ... God is so goed, Hy is so goed vir ons!!

5.   Iemand het eendag gevra ::  Are you aware that someone has it WORSE than you?
6.   En ONS??   Ons vergeet gou-gou van al ons seëninge en voorregte as dit met ons self GOED gaan :: Word gou-gou kwaad en dikmond en boos as ons so moet sukkel :     (**  TERWYL :: Ons harte eintlik moet OORLOOP van DANKBAARHEID ::   (** TERWYL :: Ons eintlik met OORGAWE moet sing ::  Ek loof U vir al U handewerke : Ek loof U vir son en maan en sterre : Ek loof U vir see en kontinente : Ek loof U .. Want U is wonderbaar!  En ek PRYS die God wat alles so wonderlik onderhou!  Ek prys Hom vir Sy liefde en Sy trou!    (** TERWYL  : Ons eintlik moet JUIG en JUBEL!!

7.  SKRIFLESING  ::  Hand 16 :: 31   In die tronk in Filippi     Paulus sê ::  DANKBAARHEID = ’n GESINDHEID ::  Wat jy ELKE dag moet LEEF!!    En as daar iemand was wat oor DANKBAARHEID kon getuig, was dit juis Paulus ::  **  Swaar en moeilike lewe ervaar   ** In Fillipi :: Onskuldig in die tronk :: In die binneste selle toegesluit : Voete in houtblokke  : Sonder kos : In die koue : Amper met klippe doodgegooi : Geteister met pynlike lyfstraf : Gekasty en op gespoeg :: Praat van sweet en swaarky :: Hy HET gesuffer!!

8.   EN TOG ::  Desondanks ::  Ten spyte van :: In GEBED ::  Op sy knieë voor die Here :: LOFLIEDERE in die tronk :  Prys en Jubel te midde van swaar en seer :   Teenoor Christus ALTYD Dankbaar :: Vir Krag : Vertroue om in Sy diens te mag staan !!!   n HART VOL DANKBAARHEID!!

9.    Soos Dawid in Ps 147 :: Sing vir die Here ’n Danklied : Sing tot eer van God : Hy oordek die hemel en die aarde Hy voorsien in elke nood : Hy laat gras op die berge uitspruit : Hy gee weiding aan elke dier en versorg die jong koeie wat skree vir kos : Hy laat die wolke opsteek : Hy bring die reën :  Kom sing ’n lied om vir die Here DANKIE te sê!!

10.  VRAAG  ::  **  Hoe lyk jou 7 wonders vir 2012?  **  Wat is vir jou BELANGRIK in 2012 **  Waarvan GETUIG jou lewe in 2012?     **  Waarop FOKUS jy in 2012?    **  Fokus jy op die WOW!-goete :: Die WOW!-wonders in jou lewe   >>  Die Piramides >> Die Taj Mahals >> Die Grand Canyons  .>>  Die Panamas >>  Die Empire States >> Die Chinese mure   **  Mense-wonders ::  Mense-geld  ::  Mense-talente .::  Wat hulle in elk geval WAAR / By WIE gekry het ...!!     of     **  Fokus jy op die wonders van God in jou lewe ....>>  Sy ALTYD DAAR wees vir jou!! >>  Sy Voorsien en Sorg vir jou!!   >>  Sy KRUIS vir jou!!  >>  Sy BLOED vir jou!!  >>  Sy OMGEE vir jou!! >> Dat jy kan Sien // Hoor // Ruik //Voel // Raak // Lag // Huil!!


Sunday, January 29, 2012

Preek 29 Jan 2012

1 Korintiërs 9: 16-23


Ek het op hierdie foto van die rooi skoen afgekom. Dit het onmiddelik my aandag getrek en my laat wonder oor die vrou wat die skoen verloor het. Hoekom het sy dit agtergelaat. Wat was die omstandighede waaronder sy die skoen verloor het? Is sy oraait?
Dit het my ook aan die storie van Cinderella laat dink. Dis ook ‘n storie met ‘n skoen wat agter gelaat word – glas skoen. Dis die storie van ‘n meisie wat dit regkry om te ontsnap van die mishandeling en wreedheid van haar wrede stiefma en stiefsusters en uiteindelik haar selfwaarde en waardigheid ontdek. Dis ‘n storie wat die donker en die goeie kant van mense en van die lewe uitbeeld.  Wanneer sy haar glasskoen verloor lei dit tot iets positiefs en ‘n nuwe lewe vir haar. Daar is closure, ‘n positiewe einde aan die storie. Happily ever after.
Dis anders as die rooi skoen – die storie van die rooi skoen is onvoltooid. Dis ‘n storie wat onopgelos is en wat ‘n mens ongemaklik maak. Ons weet nie wat van die vrou geword het nie. 
Gee die glas skoen van die Cinderella storie nie dalk vir ons vals hoop nie – ons weet mos hoe deurmekaar die wêreld is? Is die lewe nie meer soos die rooi skoen nie – onvoorspelbaar, onvoltooid en ongemaklik.

Die Bybel help vir ons hiermee. Soos in die storie van Cindarella kry ons ook verhale wat die donker en die ligte kant van mense en die lewe uitbeeld. En soos met die foto van die rooi skoen kry ons ook verhale in die Bybel wat vir ons wys dat die lewe soms maar lekker morsig, hard, pynlik en onregverdig is. Voorbeelde dat die lewe nie altyd perfek is en ontvou soos wat ons dit graag wil hê nie.

Maar deur dit alles ontmoet ons ook ‘n God wat ons wil heelmaak. Wat ons wil vrymaak. Wat verhoudinge wil herstel. ‘n God wat die “happily ever after” vir mense wil gee. Hierdie verlossing en versoening wat God vir ons gee is heeltyd aan die gang in ons lewens. En dit gebeur omdat elkeen van ons saak maak vir God. Elke mens is vir God belangrik – ook die vrou wat die rooi skoen verloor het.

Dis hierdie wete wat vir Paulus ook dryf en hom so passievol oor die evangelie maak. Want hy weet watter verskil die evangelie in mense se lewens maak.
Kom ek lees gou vers 19: “Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.”
Hy is so passievol oor die evangelie en die verkondigings daarvan. Hy is op ‘n missie om mense vir Christus se wen. En hy sal doen wat nodig is.

’n Motiveringspreker het op ’n keer gesê: “There are two kinds of people in this world: those who say “whatever” and those who say, “whatever it takes.”
En hy is reg. Paulus is ‘n “whatever it takes” tipe mens en hy wil ons as MEDE volgelinge van Jesus motiveer om ook so te wees. “Whatever it takes” beteken vir Paulus – hy verkondig die evangelie kosteloos, hy gebruik al sy talente en bronne daarvoor en vir die Jode word ek ‘n Jood, vir die swakkes word ek swak. Vir almal het ek alles geword. Hy doen wat nodig is.

Wat bedoel Paulus met ‘alles vir almal”? Gandhi was ‘n Hindoe. Hy het te doen gehad met Hindoes wat oorlog wou maak teen die Moslems. Toe sê hy vir hulle: “Ek is ’n Moslem, ek is ’n Hindoe, ek is ’n Christen en ek is ’n Jood.”
Net soos Paulus bedoel hy nie hiermee dat hy nou sy geloof gaan prysgee of compromise nie.
Dit gaan daaroor om in iemand anders se skoene te gaan staan. Om langs iemand te gaan staan en hulle te probeer verstaan.

Message vertaling sê dit mooi: “Even though I am free of the demands and expectations of everyone, I have voluntarily become a servant to any and all in order to reach a wide range of people: religious, nonreligious, meticulous moralists, loose-living immoralists, the defeated, the demoralized—whoever. I didn't take on their way of life. I kept my bearings in Christ—but I entered their world and tried to experience things from their point of view. I've become just about every sort of servant there is in my attempts to lead those I meet into a God-saved life.”

Soos iemand gesê het: “One of our great necessities is to learn the art of getting alongside people; and the trouble so often is that we do not even try.”

‘n Ander manier om dit te sê is: Paulus ontmoet mense waar hulle is. Nie waar hy is nie, of waar hy dink hulle moet wees nie. Hy ontmoet hulle waar hulle is.
Daar het ‘n skuif by Paulus gebeur: hy vra nie meer “wat doen jy vir my?” nie. Hy vra nou “wat kan ek vir jou doen?” Dit gaan nou vir hom oor hoe kan hy ander mense bedien?

Ek dink dis belangrik lesse wat ons almal moet leer by Paulus:
  • Hoe passievol is ek oor die evangelie en die vryheid en verlossing wat dit bring vir alle mense. Is dit vir my belangrik dat ander mense di took moet beleef?
  • Hoe kan ek my talente en gawes gebruik ter wille van die evangelie?
  • Watter vooropgestelde idees en vooroordele moet ek laat gaan, sodat ek mense kan ontmoet waar hulle is?
  • Is ek bereid om weg te beweeg van ‘n “bedien my” houding na ‘n “hoe kan ek jou bedien?” houding.
  • Hoe kan ek daar waar ek elke dag my lewe leef mense ontmoet waar hulle is en hulle dien?

Dink gou aan die 5 gawes/talente/bronne wat jy het en wat jy kan gebruik om ‘n verskil in ander mense se lewens te maak en waarmee jy die gemeente en mense kan dien.

Ons leef in ‘n rooi skoen wêreld wat nodig het om die goeie nuus te hoor. God het ‘n “happily ever after” visie vir hierdie wêreld. Hy wil ons gebruik om dit waar te maak. God se skoen van genade pas aan almal se voete.

Gebed
Here, ek loof U dat ek ’n lid van U liggaam is, maar gee ons asseblief die wysheid om kerk te wees soos U dit wil hê.
Gee ons die genade om genadig teenoor almal te wees.
Ja, gee aan ons die visie van die breedte, lengte, hoogte en diepte van u genade wat ons klein harte sal uitdaag om ander te dien.
Vergroot ons omgee sodat ons die behoeftes van die wêreld sal kan raaksien en hulle kan innooi, sodat daar in die wêreld partytjie gehou sal word oor hoe groot en goed U is.
Kom, o Gees van God, hernu ons lewe.
Amen.

Sunday, January 22, 2012

Preek 22 Jan 2012

Waarde van eenvoud
Matteus 6: 25-33

Ons het 4 waardes identifiseer wat hierdie jaar ons fokus gaan wees: eenvoud, betekenisvolle verhoudings, gestuurdheid en egtheid. Hierdie is waardes wat belangrik is vir ons as individue en as gemeente. Elke kwartaal gaan ons op een van die waardes fokus. Die waarde vir die eerste kwartaal is Eenvoud.

Ek het in die opbou tot kersfees ‘n pamflet van ‘n avontuur en sport winkel gesien. Om jou aan te moedig om hulle produkte as kersgeskenk te koop. Dit het die volgende gesê:
“The time of immaculate consumption is upon us. From a flaming kayak paddle to an indestructible laptop that can pinpoint your exact location on earth, we’ve gathered the hardest, softest, smoothest, and sleekest gear of the year in our annual holiday-swag blowout. PLUS: More gift ideas for everyone on your list, from books and CDs to travel gear.”
Saam met dit was daar ‘n artikel vol resensies van die nuutste gadgets en toerusting vir advontuursporte.
Ek het nogal gehou van die frase “immaculate consumption” want dit beskryf wat van kersfees geword het. Gaan meer oor die beste geskenke en materialisme as oor die boodskap.

Ek dink dit beeld die probleem van ons samelewing nogal goed uit. Ons samelewing is gekompliseerd en skeefgetrek. Ons samelewing maak…
  • Dat ons smag na goed wat ons nie regtig nodig het of regtig geniet nie
  • Dat ons goed koop wat ons nie nodig het nie om mense te beïndruk wat ons nie eers van hou nie.
  • Dat ons te skaam voel om met ‘n ouer kar te ry
  • Dat ons tog net uit die mode moet wees nie
  • Dat ons hebsug en gierigheid sien as ambisie
  • Dat ons mense se belangrikheid meet aan hoeveel hulle produseer en hoeveel hulle verdien en in watter huis hulle bly.

Hierdie gesindheid sluip selfs in die kerk in. Hoe baie keer hoor ons nie dat ‘n suksesvolle kerk is een met 1000de lidmate, ‘n bekende predikant, ‘n indrukwekkende gebou en baie geld, en verskillende programme wat in alle mense se behoeftes vervul. En as daar ‘n indrukwekkende band is en eredienste wat op die TV uitgesaai word – dan is dit ‘n suksesvolle gemeente.    

As Christene word ons geroep om anders te leef, met ander waardes. Daarom is dit goed om so aan die begin van die jaar ‘n slag hieroor na te dink. Wanneer ons almal so beplan en droom oor die jaar. Een van die waardes om oor te dink is die waarde van eenvoud. Waarna verwys dit? Kom ons kyk eers wat dit nie is nie.
‘n Lewe van eenvoud beteken nie ‘n mens moet al jou besittings verkoop nie of dat jy niks moet besit. Dit beteken nie ons moet geld en rykdom afskryf nie. Eenvoud verwys ook nie na ‘n behoefte om arm te wees nie.

“Simplicity does not mean getting rid of all your possessions, but rather integrating them into your life’s purpose” (Mary Gregory).
Eenvoud gaan met ander woorde oor dit wat regtig belangrik is en dit wat jy regtig nodig het. Dis die doelbewuste keuse om nie deur die dinge van hierdie wêreld ingesluk te word nie

Richard Foster beskryf eenvoud as…“an inward reality that results in an outward life-style”. Eenvoud is dus iets wat binne ons begin en dan ‘n effek het op die manier waarop ons lewe.
Dis soos die verskil tussen ‘n termometer en ‘n termostaat.
‘n Termometer meet die temperatuur. Dit het dus nie ‘n invloed op die temperatuur nie – meet dit net. Die temperatuur het ‘n invloed daarop.
‘n Termostaat reguleer die temperatuur. Dit bepaal warm of koud. Dit het ‘n invloed op die temperatuur.
As jy toelaat dat die samelewing jou beinvloed, dan is jy soos ‘n termometer. Jy gaan beinvloed word deur die waardes van die samelewing.  Terwyl die waarde van eenvoud eerder soos ‘n termostaat moet wees – eenvoud wat hier binne jou begin en bepaal hoe jy jou lewe leef.

Dis waarvan ons ook lees in Matteus 6: 25-33

Eenvoud begin hier binne ons – in ons harte en gedagtes. Jesus sê dat ons nie moet worry oor die materiele dinge van die lewe nie – begin eerder deur God se koninkryk te soek. Eenvoud begin wanneer ons die belangrikste dinge eerste stel. En God is die belangrikste. En wanneer ons die belangrikste eerste stel, sal die ander goed ook gebeur, maar dit sal nie die houvas op ons hê wat dit sou gehad het as ons dit eerste gesoek het nie.  God is met ander woorde die termostaat wat binne ons werk en wat bepaal hoe ons ons lewe leef.
Eenvoud gaan nie oor wat ons besit nie, maar deur wie en wat ons besit word. As ons baie besittings nodig het om goed te voel oor onsself en goed te lyk vir ons bure, dan word ons nie deur God bepaal nie, maar deur ons besittings en ons bure. Eenvoud begin wanneer ons die koninkryk van God eerste soek, wanneer ons deur God bepaal word en die res van die goed sal op sy tyd kom. Alles begin by God.

Kom ek verduidelik dit met ‘n beeld: Toe my kinders baie kleiner was was dit altyd ‘n nagmerrie om winkels toe te gaan. Het julle al gesien kinders in ‘n winkel – met hulle een hand hou hulle pa of ma se hand vas, met hulle ander hand gryp hulle goed van die rakke af. Net so werk dit met eenvoud. Terwyl ons elke dag nmet die invloed en die waardes van die samelewing gebombardeer word, moet ons altyd ons ander hand in God se hand hou. En ons moet elke nou en dan opkyk na Hom toe om seker te maak dat ons nog optree volgens Sy wil en waardes vir ons lewe. 

Wat is die effek van eenvoud in ons lewens? As ek dit in een frase moet opsom – dit bring Vryheid.
  • Dit maak dat ek meer op God gefokus is eerder as op dit wat God vir my kan doen.
  • Die maak dat ons optrede en dit wat ons sê meer eerlik is.
  • Die smagting na status en posisie is weg, want jy word nie meer gedefinieer deur jou status en posisie nie.
  • Dit gaan nie meer oor wat jy kan koop, waarmee jy ry, hoe jy lyk en watter selfoon jy het nie – nie omdat jy nie kan bekostig nie, net omdat dit nie meer soveel saak maak nie.
  • Besittings is nie meer iets waaraan jy vasklou nie – dis iets wat jy bereid is om te deel.
  • Die issues van hierdie wêreld soos die ekologie, klimaatsveranderinge en armoede begin ‘n invloed hê op die manier waarop jy jou lewe leef en die keuses wat jy maak.
  • Jy gaan meer vrede, vergenoegheid, tevredenheid en geluk en vryheid beleef.
  • Jy gaan weer leer om die eenvoudige goed van die lewe te geniet, soos tyd met jou gesin en die natuur. 
  • Dit maak dat jy meer tyd het en minder gejaagd en angstig is.

Ook wat die gemeente betref: dit bring meer fokus.
  • Dit gaan nie meer gaan oor die blote najaag van getalle nie, maar oor die invloed en die rol wat ons as gemeente in mense se lewens speel.
  • Dit gaan nie meer oor die bymekaarmaak van geld nie, maar oor wat met die geld gedoen word.
  • Dit gaan nie meer oor ons status in die gemeenskap nie, maar oor diens aan ons gemeenskap.
  • Dit gaan nie meer oor hoe goed die musiek en die prediking is nie en oor hoe fancy die geboue is nie – dit gaan nou meer oor hoe ons vir God en ons gemeenskap met al hierdie goed dien.
  • Dit gaan nie meer oor die hoeveelheid programme ons aanbied nie, maar eerder oor die diepte en die kwaliteit van dit wat ons doen.

Sluit af met ‘n DVD clip wat die beginsel van eenvoud mooi beskryf. Gaan kyk dit gerus by http://www.youtube.com/watch?v=JT49cveoEm4

Sunday, January 15, 2012

Preek 15 Jan 2012

Matteus 14: 22-33

Ons het die vakansie by Porterville gaan kamp. Die kampterrein se naam is Waterval omdat daar ‘n kloof met 22 watervalle op die plaas is. Eintlik 14 watervalle en ‘n paar stroomversnellings. Dis baie mooi daar in die kloof met die watervalle en daar is ‘n staproete wat verby al die watervalle gaan. So het ek en my 2 seuns die een dag die roete gaan stap.  Dis ‘n heel gemaklike stap en die paadjie word duidelik aangedui met geel verfstrepe en pyle. Op ‘n stadium kom ons by ‘n rots waarop 2 geel pyle geteken is – in verskillende rigtings. Die een pyl wys boontoe vir mense wat op stap en die ander wys ondertoe vir mense wat terugkom op die paadjie. Die 2 pyle was nogal vir ons amusant en ons het gewonder of hulle ons wil deurmekaar maak – moet ons op, moet ons af, moet ons op, moet ons af. 
Christiaan sê toe dit laat hom dink aan die blonde grappie – hoe hou jy ‘n blonde vir ‘n paar uur besig? Jy gee vir haar ‘n vel papier waarop jy op albei kante “draai om” geskryf het.

Hierdie hele ervaring het my laat dink – is dit nie hoe ons ook voel so aan die begin van ‘n jaar nie. Aan die een kant is daar mos ‘n klomp goed wat verby is, wat afgehandel is, goed wat ons agter ons moet sit en moet los. Aan die ander is daar ‘n nuwe jaar met nuwe vooruitsigte, en planne en geleenthede wat vir ons wag. Die goed wat ek moet los en die nuwe goed wat voorlê.En dikwels is ons vasgevang tussen die goed – ek huiwer tussen die goed wat ek moet los en my vrese vir die nuwe die goed wat voorlê – en op die ou end kom ek nêrens nie.

Dit het my aan ‘n bekende teksgedeelte laat dink. Matteus 14:22-32
Jesus sê vir sy dissipels hulle moet solank ‘n boot kry en oor die see van Gallilea vaar terwyl hy berg toe gaan om te bid. Terwyl hulle daar op die bootjie is beland hulle in ‘n storm, maar die volgende dag, uit die bloute uit, sien hulle vir Jesus wat na hulle toe aangeloop kom. In vers 26 lees ons dan:
Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis 'n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu. Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”     

Nadat hulle van die skok herstel het en weer tot hulle sinne gekom het, doen Petrus nogal ‘n waagmoedige ding. Vers 28:
“Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”

Jesus antwoord hom en sê hy moet kom. Vol bravade klim Petrus uit die skuit uit en en begin op die water na Jesus toe loop. Maar op ‘n stadium begin sy moed hom begewe. Hy raak bewus van die sterk wind en die golwe en dit maak hom bang en daar begin hy sink en hy roep uit dat Jesus hom moet red.

Jesus steek toe sy hand uit en gryp vir Petrus en sê vir hom: “kleingelowige, hoekom het jy begin twyfel?
In ander woorde: Hoekom is jou vrese sterker as jou geloof?

Petrus was soos ek en die seuns daar op die berg met die 2 pyle – moet ek vorentoe gaan of moet ek teruggaan, vorentoe of terug, vorentoe of terug – boot of Jesus, boot of Jesus. En toe sink hy.

Wat ons hier sien, is die verskil tussen vrees en geloof. Vrees hou jou terug, vrees maak dat jy nie kan groei nie, vrees maak dat jy stagneer, vrees maak dat jy sink.
Geloof laat jou vorentoe kyk. Geloof maak dat jy geleenthede gebruik. Geloof maak dat jy leer en groei. Geloof maak dat jy vorentoe gaan selfs al lyk dinge onseker en soms moeilik.
Kom ek verduidelik dit met ‘n beeld – balanseer besemstok op my hand. Om die besemstok te balanseer moet ek boontoe kyk, sodat ek kan sien wanneer dit val en daarvoor kan kompenseer. As ek op my hand kyk, gaan die besem val, want ek gaan nie kan sien wanneer dit val nie.
Vrees is om na jou hand te kyk, vrees is om na jouself te kyk, om vasgevang te wees in die dinge wat was en die dinge wat moontlik kan gebeur. Vrees is om die bobbejaan agter die bult te gaan haal.
Geloof is om weg te kyk van jouself af. Geloof is om na Jesus toe op te kyk. Geloof is om Hom te vertrou en spreekwoordelik op die water te loop.

So, hier aan die begin van die jaar wil ek jou uitnooi om oor ‘n paar goed te dink en te bid. Vra die Here om jou met die volgende te help:
  • Sit die goed van die afgelope jaar agter jou. Los dit waar dit hoort – in die verlede.
  • En in 2012 – los nou al jou vrese. Moenie bang wees vir die lewe nie. Moenie bang wees vir trauma nie; krisisse by die werk; konflik; finansiële onsekerheid; mislukking; moenie bang wees vir foute maak nie; moet vir niks bang wees nie.
  • Bevestig jou geloof en vertroue in Jesus. Stel jou lewe in sy hande.

Ek wil afsluit met ‘n laaste stukkie goeie nuus. As jy hierdie jaar met geloof instap en langs die pad raak dit dalk moeilik. Of jy voel onseker. Of slegte dinge gebeur. Of jy begin twyfel. Jy voel of jy begin sink. Dan is die goeie nuus dat jy soos Petrus kan uitroep: “Here, red my!” En dan sal Jesus sy hand uitsteek en jou weer oplig. Soos Hy vir die dissipels gesê het – “wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”