Sunday, October 16, 2011

Preek 16 Okt 2011


Matteus 22: 15-22

Klompie jare gelede was daar ‘n fliek met Tom Cruise in die hoofrol, Jerry McQuire. Tom Cruise speel ‘n agent vir sportsterre. Daar is ‘n toneel waar sy karakter vir een van sy sportsterre vra: Wat kan ek vir jou doen? Die sportster se antwoord: “Show me the money”

In ons teksgedeelte probeer die Fariseers en die Herodiane vir Jesus vasvra met ‘n vraag oor belasting en Jesus antwoord: “show me the money”.

Daar is 2 groepe wat saamspan om vir Jesus uit te vang: 2 totaal uiteenlopende groepe. Die Fariseers en die Herodiane. Die Herodiane was ‘n groep wat vir Herodus Antipas ondersteun het. Hulle het hulle beywer vir nouer bande met die Roemeinse owerheid en vir belastings aan die owerheid.
Die Fariseërs was weer ‘n Joodse godsdienstige groep wat gekant was teen enige belastings aan die Romeinse owerheid. Hulle het gevoel dis godslasterlik om dit te doen.  Hulle rede hiervoor was dat die muntstuk van daardie tyd – die Dinarius – het aan die eenkant ‘n afbeelding gehad van Keiser Tiberius met die inskripisie Divi Filius – “seun van God”. Dit was vir die Jode net te erg en te Godslasterlik. So hulle het hulle eie koper muntstukke gehad sonder enige afbeeldings en inskripsies.
Dis moeilik om te sien hoe hierdie 2 groepe kon saamwerk, maar hulle het, want albei wou vir Jesus uitvang en daarom werk hulle saam. So, hulle vra vir Jesus – “is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?”

Jesus het ‘n dilemma, hy is in ‘n catch 22 situasie. Amper soos die man wie se vrou vir hom vra “laat hierdie jeans my vet lyk?” as jy ja antwoord en as jy nee antwoord is jy in die moeilikheid.
As Jesus ja antwoord, dan gaan die Jode vir hom kwaad wees en hy het nogal ‘n groot groep volgelinge onder die Jode gehad. As hy nee antwoord, dan sou die Herodiane hom aangekla het by die owerhede omdat hy teen belastings praat.

Jesus is slimmer as dit – hy gee vir hulle ‘n dubbele antwoord.
“Gee die keiser wat hom toekom” – dis immers sy naam en afbeelding wat op die muntstuk voorkom. Hulle moet dit gee, want hulle gebruik immers die voordele wat die Romeinse regering bied. Dis hoekom ons ook belasting moet betaal. Al is ons soms ongelukkig oor dit wat die regering met ons belastinggeld doen, ons geniet ook die voordele wat dit bring. Dis die makliker deel van Jesus se antwoord.

Dis die tweede deel van Jesus se antwoord wat moeiliker is: “Gee aan God wat aan Hom behoort”. Die muntsuk dra die afbeelding van die keiser. Ons is geskep na die beeld van God. As gelowiges dra ons dus ‘n afbeelding van God in ons. Daarom behoort ons hele lewe aan God en daarom dat Jesus sê ons moet ons hele lewe, alles, aan God gee. Dit behoort eintlik al klaar aan Hom.

Hy antwoord dus: Belasting behoort aan die keiser of dan die regering, ons lewens behoort aan God.

Gee aan God wat aan Hom behoort. Hoe werk dit? Miskien sal die volgende storie dit verduidelik:
Luciano Pavarotti, die beroemde tenoor, vertel dat sy pa, ’n bakker, hom bekendgestel het aan die wonder van sang.  Hy het hom aangemoedig om sy stem te ontwikkel, later het Pavarotti ook by ’n onderwyskollege gaan leer. By sy gradeplegtigheid het hy vir sy pa gevra: “Moet ek sanger of onderwyser word?”
Sy pa se antwoord was: “Luciano, as jy op twee stoele probeer sit, sal jy tussendeur val. In die lewe, moet jy een stoel kies.”
Pavarotti het later geskryf: “Ek het een stoel gekies. Wat ook al ons kies, commitment bly die sleutel - kies een stoel!”

In die lewe werk dit ook so. Ek het ook ‘n keuse tussen 2 stoele. Die een gaan net oor myself. Die ander stoel gaan oor Jesus. Ek kan nie op albei stoele sit nie. Ek moet kies. As ek kies om op Jesus se stoel te sit, dan erken ek ook dat my hele lewe aan Hom behoort. Alles gee ek aan hom. Elke deeltjie van my lewe.
Daar is nou nie meer ‘n onderskeid tussen my geestelike lewe aan die eenkant en my huislike en werkslewe aan die ander kant nie. Alles behoort aan God en gebeur in Sy teenwoordigheid.

Ek wil ‘n ou lied gebruik om dit bietjie prakties te maak: “Neem my lewe, laat dit, Heer.”
Ek gaan dit as ‘n gebed doen.

Vers 1
“Neem my lewe, laat dit, Heer, u gewy wees meer en meer. Laat my hart gedurig juig en van dankbaarheid getuig. “
Here, vat my lewe, dit behoort aan U. Alles, elke deel van my lewe, behoort aan U. en ek is so dankbaar daaroor dat ek nie anders kan as om te juig en getuig daarvan nie.  

Vers 2
“Neem my hande, maak hul sterk – diensbaar in U goeie werk. Neem my voete, skoei hul, Heer, met bereidheid tot U eer.”
Here, my tyd, my gawes en talente, behoort aan u en ek wil dit in hierdie wêreld gebruik in u diens en tot U eer. Wys my waar, wanneer en hoe U my wil gebruik.

Vers 3
“Neem my stem en laat my sing – aan U, Here, hulde bring. Laat my mond die boodskap dra: Hul sal vind wat na U vra.” 
Here, my lewe, my liggaam, my stem behoort aan U en ek wil dit gebruik om U te loof en prys en van U te getuig sodat die mense wat elke dag oor my pad kom, iets van U sal ontdek.

Vers 4 
“Neem my goud en silwer, Heer – niks noem ek my eie meer. Al my kennis en verstand stel ek in U vaderhande.”
Here, al my besittings, al my geld, al my goed behoort aan U. Al die kennis wat ek deur die jare opgedoen het, alles wat ek geleer het behoort aan U. Dankie dat U dit vir my gun. Here dit is vir my moeilik om daarvan weg te gee. Help my om uit dankbaarheid vir U terug te gee.

Vers 5
“Maak my hart vir U tot troon deur U Gees wat in my woon. Rig my wil, gevoel en daad altyd na U wyse raad.”
Here, my wil, gevoelens en dade is soms so selfsugtig en net op my eie behoeftes en begeertes ingestel. Ek gee dit nou vir U om daarmee te maak soos U wil. Help my om minder op myself ingestel te wees en meer op U en op ander mense.


Sunday, October 2, 2011

Preek 02 Okt 2011

Matteus 20:1-16

 ‘n Groep geleerdes en teoloë van oor die hele wêreld het eendag in Engeland ‘n konferensie gehou waar hulle gepraat het oor verskillende gelowe en oor wat dit is wat uniek is aan die Christelike geloof. Hulle het toe verskillende moontlikhede gedebateer:
Jesus se menswording? Nee, daar is ander gelowe wat ook melding maak van gode wat as mense verskyn.
Opstanding? Nee, ander gelowe het ook verhale opstandings uit die dood.
En so het die debat aangegaan totdat CS Lewis by die konferensielokaal ingestap gekom het. “Waaroor is julle besig om te praat” – wou hy weet.
Hulle antwoord dat hulle besig is om oor die Christelike geloof se unieke bydrae tussen die wêreld gelowe te praat. 
“O, dis maklik” reageer CS Lewis toe. “Die ding wat die Christelike geloof uniek maak, is genade” 

Iemand het gesê: “Justice is when you get what you deserve.  Mercy is when you don't get what you deserve. Grace is when you get what you don't deserve.” (Anoniem)

Dis waaroor vanoggend se diens gaan. Genade. Dis die tema van vanoggend se preek en dis wat ons weer deur die doop gaan beleef. Mag julle weer opnuut onder die indruk van genade kom.

Lees Matteus 20:1-16

Iemand het eenkeer oor hierdie teks gepreek en na die preek toe kom een van die ouderlinge na hom toe en sê: “You know, preacher, there are parts of the Bible that are difficult to abide, and other parts that aren't. The story you preached on today is one that I find totally offensive!  It's just not fair to pay everyone the same wage when some have worked hard and some have hardly worked. Jesus was just wrong about that. I think you should have preached on something less offensive.”

Jesus gebruik die beeld van ‘n wingerd-eienaar wat tydens oestyd arbeiders op verskillende tye van die dag in diens neem. Aan die einde van die dag betaal hy hulle almal dieselfde – of hulle nou die hele dag gewerk het of net ‘n gedeelte van die dag. Dis mos onregverdig, ek kan heeltemal verstaan dat die wat die hele dag gewerk het ongelukkig is. Almal kan mos nie dieselfde betaal word nie.
Dan sluit Jesus die storie af met die woorde: “so sal die laastes eerste wees en die eerstes laaste”. Dis nogal belangrik dat ons hierdie woorde verstaan, want dis die kern van die evangelie. Dis hoe God werk.

Kom ek vertel ‘n storie om dit te verduidelik:
Die storie gaan oor Fiorello LaGuardia – hy was die burgemeester van New York in die tyd van die Groot Depressie en die Tweede Wêreldoorlog. Sy bynaam was “The little flower” want hy was ‘n kort mannetjie en Fiorello beteken “little flower” in Italiaans. Hy was ‘n baie gewilde en baie goeie burgemeester.  Hy was nogal ‘n kleurvolle en eksentrieke karakter wat daarvan gehou het om op die stad se brandweer waens te ry, hy het gereeld hele weeshuise gevat om bofbal te gaan kyk en toe die stad se joernaliste en radio omroepers  gestaak het, het hy self die kinderstories op die radio gaan lees. Hy was ook ‘n advokaat wat dikwels in die munisipale hof as landdros opgetree het in kleiner oortredings soos winkeldiefstal, verkeersoortredings.
So gebeur dit dat hy eendag optree as landdros in een van die armste dele van die stad. Die eerste saak wat toe voor hom dien, was ‘n verwaarloosde vrou wat aangekla is omdat sy ‘n brood by ‘n winkel gesteel het.  
Sy vertel toe vir LaGuardia dat sy dit gedoen het omdat haar dogter ernstig siek is en haar 2 kleinkinders het niks om te eet nie. Maar die winkelier, van wie sy die brood gesteel het, het geweier om die klagtes te laat vaar, want hy wou gehad het dat hulle van haar ‘n voorbeeld moes maak. In hulle buurt is daar baie sulke diefstal en as sy gestraf word, sal dit vir die ander mense ook ‘n les wees.
LaGuardia sê toe vir die vrou dat hy haar moet straf, want dis die wet. Haar straf was toe ‘n boete van 10 Dollar of 10 dae in die tronk.
Nadat hy die straf uitgespreek het – steek hy sy hand in sy sak , haal 10 dollar uit en gooi dit in sy hoed en hy sê: “Hier is die geld vir haar boete en ek beboet almal in hierdie hofsaal met 50c omdat julle in ‘n stad woon waar iemand nodig het om brood te steel sodat haar kleinkinders iets het om te eet.”
En hy beveel die klerk van die hof om die boete op te neem en die geld vir die vrou te gee.
Die volgende dag het die koerante berig hoe almal in die hof van die misdadigers wat gewag het dat hulle sake voorkom, die polisie en die winkeleienaar 50c gegee het vir die vrou en hoe almal vir LaGuardia hande geklap het.

Vraag is: het die vrou gekry wat sy verdien het? Natuurlik nie, sy het gesteel en maak nie saak wat haar redes was nie, sy moes gestraf word daarvoor.

Maar LaGuardia gee vir haar wat sy nie verdien nie. Dit is genade. Dis wat die wingerd eienaar gedoen het en dis wat God met ons elkeen doen. Ons verdien straf vir dit wat ons al gedoen het – maar hy gee vir ons wat ons nie verdien nie.

Genade is ‘n geskenk – ons kan niks doen om dit te verdien nie. Ons kan dit maar net ontvang. Maak nie saak wie ons is nie, wat ons titel is nie, hoeveel ons besit of wat ons al in ons lewe gedoen het of nie gedoen het nie. Genade word vir ons almal gegee.

Genade gaan nie oor regverdigheid nie. Genade is eintlik baie onregverdig. Regverdig is dat die werkers wat korter gewerk het, minder betaal word. Regverdig is dat die vrou wat die brood gesteel het gestraf word. Regverdig is dat jy kry wat jy verdien. Maar genade is nie regverdig nie – jy kry wat jy nie verdien nie.

Genade is vir die wat eerste is en vir die wat laaste is.
Kom ek verduidelik dit met ‘n beeld. Ek het ‘n paar van julle nodig om my te help. Staan in ‘n ry, asof jy in die bank is. Die wêreld waarin ons leef werk mos met rye. Daar is ‘n volgorde – die wat eerste is en die wat laaste is – survival of the fittest. Nou lyk dit asof Jesus dit alles omkeer as hy sê – die wat eerste is sal laaste wees. Die ry word net omgekeer. Dit bly nog steeds ‘n ry. Maar dis nie wat Jesus bedoel nie.
Staan gou in ‘n sirkel. Dis wat Jesus bedoel – by God is daar nie rye nie. God laat ons almal in ‘n kring staan. Daar is nie meer ‘n eerste en laaste nie. By Hom is almal ewe belangrik.

Genade sê: Almal is ewe spesiaal en belangrik. In die wêreld se terme is dit onregverdig, maar dis genade. Dis daar vir ons almal. Dit gaan alles oor genade!

Een van die oomblikke waar ons genade die beste beleef is die doop. Ouers en babas kom vorentoe.
Een van die kragtigste tekens van genade is die doop. God verbind Hom aan hierdie kinders, nie omdat hulle so oulik is nie, nie omdat hulle dit verdien nie, nie oor wie hulle ouers is nie, maar oor wie God is. Omdat God liefdevol en genadig is. En Hy belowe dat Hy by hulle sal bly deur hulle hele lewe. En Hy sal aanhou om vir hulle genade te bewys maak nie saak wat met hulle gebeur nie.

Sunday, September 25, 2011

Preek 25 Sept 2011

Matteus 21: 23-32

Dink vining hieroor:
Dink terug aan jou kinderdae – wie was die mense in jou dorp/voorstad wat die meeste gesag gehad het?
Wat bepaal of iemand gesag het of nie?

Ons teksgedeelte sluit ook nogal aan by die hele ding van gesag. Lees Matteus 21:23-27

Wat my nogal opgeval het in hierdie gedeelte is: hoekom antwoord Jesus nie die Priesters nie?  Dit kan tog nie wees omdat hy bang is vir hulle nie. Of omdat hy nie weet wat om te antwoord nie.
Daar is ‘n spreekwoord wat sê: “stilbly is ook ‘n antwoord”. Ek dink Jesus het doelbewus niks geantwoord nie. Deur niks te sê nie het Hy hulle tog geantwoord.

Miskien sal die volgende storie help om dit te verstaan.
George Washington Goethals was die ingenieur wat die Panama kanaal gebou het. Terwyl hulle besig was om die kanaal te bou was hy gekonfronteer met uitdagende geografiese en klimaatsprobleme. Hy het ook baie kritiek verduur van mense wat skepties was en gesê het dat hy dit nooit sou regkry en klaarmaak nie. Maar hy het maar net aangehou met sy werk en niks gesê nie. So het een van sy vriende toe op ‘n stadium vir hom gevra: “gaan jy nie ten minste jou kritici antwoord nie?” Goethals se antwoord: “op die regte tyd sal ek hulle antwoord”. “Maar hoe?” wou die vriend toe weet. Goethals se antwoord: “Met die kanaal”
Vandag staan die kanaal as ‘n bewys dat Goethals reg was. Dit word beskou as een van die grootste ingenieurs wonders.

Jesus het nie nodig gehad om die priesters te antwoord nie, want Hy het met sy lewe gewys dat Hy die seun van God is en dat hy met die gesag van God opgetree het. Soms is die manier hoe jy jou lewe leef die beste antwoord vir mense – dit wys vir hulle dat hulle verkeerd is. As mense jou onregverdig kritiseer of beskuldig help dit nie om daaroor te baklei nie – bewys hulle verkeerd met die manier hoe jy lewe. As mense net heeltyd negatief is – bewys hulle verkeerd deur die manier hoe jy lewe.

Dis wat Jesus gedoen het - Hy bevestig die goed wat hy sê deur die manier hoe hy lewe. Die priesters het net mooi die teenoorgestelde gedoen. Hulle sê hulle glo in God, maar hulle lewens wys dit nie.

Dan vertel Jesus ‘n gelykenis om die gedagte te verduidelik. Lees Matteus 21:28-32

Hierdie gelykenis gaan oor die verskil tussen doeners en praters. Die Joodse leiers is die praters – hulle is die mense wat sê hulle sal gehoorsaam wees aan God, maar hulle doen dit nie. Die tollenaars en die prostitute is die doeners – hulle is die mense wat gesê het hulle gaan hulle eie ding doen, maar uiteindelik doen hulle tog wat God vra.
Ons het met ander woorde hier te doen met 2 groepe onvolmaakte mense, alhoewel dit beter is om in die groep te wees wat wel die werk gedoen het.
Die ideal waarna ons almal moet streef is om mense te wees wat praters en doeners is – of soos die spreekwoord sê: mense wat ‘practice what they preach’. Dis mense wat gehoorsaam is. 

Daar is ‘n oulike storie van iemand wat ‘n toer deur die hemel kry. Alles lyk wonderlik en perfek. Dan neem die toergids die persoon na ‘n kamer met rakke en rakke vol ore. Die toeris vra toe vir die toergids: “en dit? Hoekom is hier so baie ore?”, “O”, sê die toergids, ‘hierdie ore behoort aan al die mense op aarde wat elke week na die Woord van God geluister het, maar dit gaan doen het nie. Toe hulle doodgaan, het net hulle ore hemel toe gegaan.”   

Ons moet hoorders/praaters en doeners wees. Mense wat luister na God en dit dan gaan doen. Ons moet gehoorsaam wees. Hoe meer ‘n mens gehoorsaam is, hoe meer raak God vir jou ‘n werklikheid en hoe meer groei ‘n mens in jou geloof.
En dis nie moeilik om te weet wat God vir ons vra om te gaan doen nie. Ons hoef net na die Bybel te kyk. Kom ek noem net ‘n paar goed – ons moet vir God en ons naaste lief wees, ons moet lief wees vir ons vyande, ons moet vergewe, getuies wees, uitreik na mense in nood, vredemakers wees en dies meer. 

Ek wil afsluit met ‘n storie wat dit saamvat:
Dis van Thomas Jefferson wat baie jare terug die Amerikaanse president was. Hy en groep mense het te perd gereis en hulle moes toe ‘n vol rivier oorsteek. Op die wal van die rivier was daar mense wat gestaan en kyk het hoe die groep een-een die rivier oorsteek. Toe Jefferson verbykom vra een van die mans op die wal, of hy saam met hom, op sy perd oor die rivier kan gaan. Jefferson het sonder huiwering ja gesê en die man saam met hom oor gevat. Iemand in Jefferson se groep vra toe vir die vreemdeling: “Hoekom het jy die president bo ons gekies om jou oor te neem?
Baie verbaas sê die man toe – “ek het nie geweet dis die president nie. Al wat ek weet is dat sekere gesigte sê nee en ander gesigte sê ja. Hy het ‘n ja-gesig gehad.”

Mense wat praters en doeners is, is mense met ja-gesigte. Jesus het ‘n ja-gesig gehad. Nou verwag hy van ons ook om ja-gesigte te hê.

Sunday, September 18, 2011

Preek 18 Sept 2011

Nagmaal
Matteus 9: 9-13

My Pa se suster was getroud met ‘n Kalahari boer van Olifantshoek. Ek onthou hoe ons as kinders menige vakansie op die plaas in die Kalahari gaan kuier het. Ek het die wonderlikste herinneringe aan die plaas. Dit was vakansies van perdry en swem in die plaasdam, heeldag in die veld wees en baie vleis eet. Hulle het in ‘n ou plaashuis gebly, sonder krag met ‘n donkie vir warm water. Ek onthou ook die groot kombuis met die doverstoof en ‘n etenstafel waar 8 mense kon sit. Om daardie etenstafel het ons geeet, kaart gespeel en tot laat nag gekuier.
Etenstafels is plekke waar mense bymekaarkom en community geskep word. Waar fellowship gebeur. Die ander kant is ongelukkig ook waar - etenstafels kan ook ‘n plek wees waar community afgebreek word. Menige familiekonflik het ook mos al om die tafel ontstaan. Dis iets hiervan wat ons ook sien in hierdie teksgedeelte.

Matteus vier sy nuutgevonde geloof deur ‘n ete te reël waarheen Jesus ook genooi word. Hy nooi ook al sy vriende wat nou nie beskou sal word as die goeie mense in die samelewing nie – die tollenaars en die sondaars. Toe die Fariseërs dit sien, begin hulle kla oor wie almal saam met Jesus aan die tafel sit. Vir die Fariseërs was die tafel ‘n plek waar alles kosher moes wees. Waar jy rein en perfek moes wees. Die Fariseërs se tafel was net vir mense wat die wet nagekom het en goeie gelowiges was.
Maar vir Jesus was die tafel ‘n plek van fellowship en gemeenskap. By Jesus se tafel word almal ingesluit en aanvaar. Jy hoef nie rein en perfek te wees om by Jesus aan tafel te kom sit nie.

Op grond hiervan word Jesus dan uitgeskel vir ‘n vraat en ‘n wynsuiper omdat hy saam met die verkeerde mense aan tafel eet en drink. Dis nie ‘n ligtelike beskuldiging nie, want volgens die wette van die Ou Testament, as jou kind rebels is en beskuldig word dat hy ‘n vraat en wynsuiper is, het dit beteken dat hy gestenig kon word. So, hierdie etiket word om Jesus se nek gehang net oor dit wat Jesus aan sy tafel gedoen het, en wie hy daar toegelaat het.
        
By Jesus se tafel is plek vir almal, by die Fariseërs se tafel is daar net plek vir sommiges. By die Fariseërs se tafel moet jy rein wees voordat jy kan aansit, by Jesus se tafel word jy rein gemaak omdat jy gaan aansit. Jesus se tafel is ‘n plek van genade.

By Jesus se tafel gebeur daar genesing: Jesus nooi almal wat genesing nodig het na sy tafel toe. In die teksgedeelte is dit mense wat geestelike en sosiale genesing nodig gehad het. Wanneer die Fariseërs vir Jesus aanvat omdat hy by Matteus se tafel aansit sê Hy vir hulle: “Die wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar die wat siek is”.
Ons almal is dus welkom by Jesus se tafel – maak nie saak wat jou bagasie en jou worstelinge is nie. Jesus genees deur mense na sy tafel te nooi en genade uit te deel. Om die tafel in Jesus se  teenwoordigheid ontdek mense sy liefde en word hulle genees.

By Jesus se tafel ontdek mense ook nuwe vooruitsigte: wanneer mens by Jesus se tafel genade en liefde en genesing beleef skep dit vir jou ’n nuwe realiteit met nuwe vooruitsigte. Wanneer mens by Jesus se tafel aansit word jy deel van ‘n nuwe gemeenskap.
Jesus se tafel is ‘n oop deur waar enigiemand kan inkom en deel raak van God se gemeenskap. Daar word jy deel van God se mense. Mense wie se lewe verander is. Mense tussen wie daar nie meer grense en mure is nie. Mense wat verander is en bymekaar gebring is deur Jesus se liefde. Mense met nuwe vooruitsigte.

By Jesus se tafel is daar hoop: By Jesus se tafel kan ons uitsien na ‘n tyd wat nog gaan kom. Jesus beklemtoon baie sterk sy tafel wys na die ewigheid. Na die tyd waar ons saam met God gaan wees.
Wanneer Jesus die laaste keer saam met sy dissipels om ‘n tafel sit en die nagmaal instel sê Hy vir hulle: “Van nou af sal ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.”
Om saam met Jesus aan ‘n tafel te sit wys vir ons dat die koninkryk van God vir ons elkeen wag. By Jesus se tafel kan ons so ietsie proe van die paradys.

By Jesus se tafel is daar liefde en genade. Jesus wil dit met ons deel. Maar dit beteken ook dat ons dit moet deel met ander mense. Ons moet mense nooi na ons tafels toe, na ons kerk toe, na ons huise toe. Sodat hulle ook genesing, nuwe vooruitsigte en hoop kan beleef.   

Elkeen van julle is vanoggend uitgenooi om by Jesus se tafel te kom aansit. Jy hoef nie eers goed genoeg of “skoon” genoeg te wees om aan te sit nie – kom nes jy is, met al jou worstelinge, bagasie, bekommernisse en kom vind genesing, nuwe vooruitsigte en hoop by Jesus se tafel.

  



Sunday, September 11, 2011

Preek 11 Sept 2011

Barnabas die nederige
Handelinge 14: 1-20

Ons het ‘n dosent gehad op kweekskool, Prof Willie Jonker. Hy was ‘n wonderlike man, intelligent, wys en baie nederig. Iemand het eenkeer met hom gespot en gesê: Prof Jonker is eintlik windgat van nederigheid.

Nederigheid is nie iets wat maklik vir enigeen van ons is nie. Niemand van ons wil tog aan die onderpunt van die leer wees nie. Niemand van ons hou daarvan om die minste te wees nie. In die wêreld waarin ons leef is mag en selfbemagtiging mos baie belangrik. Mens hoef net na al die selfhelpboeke in die boekwinkels te kyk om dit te besef. Die mense na wie ons opkyk is mos die mense wat goed doen vir hulleself, die wat bo uitkom en suksesvol en bekend is. Dalk hoekom Idols so gewild is.

Ons weet mos almal wie Albert Einstein is. Hy het van die grootste wetenskaplike ontdekkings gemaak. Sy ontdekkings beinvloed elke dag ons lewe. Hy het die grootste deel van sy lewe by Princeton universiteit klas gegee. Hy het onder andere sy bekende relatiwiteitsteorie daar ontwikkel. Die vreemde ding is dat daar geen museum of standbeeld of gedenkteken by Princeton is ter ere van Albert Einstein nie. Blykbaar was dit Einstein self wat gekant was teen sulke heldeverering. Hy wou nie die kollig op hom gevestig hê nie. Dit kommunikeer aan die eenkant iets van sy nederigheid, en aan die ander kant kommunikeer dit iets van die respek wat die gemeenskap vir hom gehad het. Einstein se werk en nalatenskap is sy monument. Hy het nie nog iets nodig nie. Dis nie nodig om die middelpunt te wees nie. 
Jesus is natuurlik die beste voorbeeld hiervan. Hy het waarskynlik die grootste invloed in die geskiedenis van die wêreld gehad, maar dit het nooit oor Hom gegaan nie. Soos hyself gesê het: “ek het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien”

Maar ons is anders. Ons het ‘n behoefte aan erkenning. Ons wil goed voel, ons wil beloon word. Daar is niks daarmee fout om te voel jy word waardeer nie, dis goed vir ‘n mens. Die probleem is egter wanneer ‘n mens erkenning en mag en selfverheerliking begin najaag. Wanneer dit te belangrik vir jou raak.

Dit was ‘n versoeking waarmee Paulus en Barnabas ook gekonfronteer is. Hulle vlug uit Ikonium en beland in die omgewing van Listra en Derbe. In Listra word die verlamde man toe genees. As gevolg daarvan dink die mense dat Paulus en Barnabas gode is wat hulle kom besoek het. Die priester van die Zeus tempel bring bulle en blomme en wil offers aan hulle bring. So waar Paulus en Barnabas vroeër weggejaag is, kry hulle nou erkenning. Die versoeking moes nogal groot gewees het om baie belangrik en suksesvol te voel. Hulle het immers nou gode-status gehad.

Maar Paulus en Barnabas val nie vir die versoeking nie. Hulle verloor nie hulle fokus nie. Op ‘n amper aggresiewe manier kom hulle in opstand teen die heldeverering wat die mense vir hulle gehad het. Hulle beklemtoon dat hulle maar net gewone mense is wat deur God gebruik word om die evangelie te verkondig. Dit gaan nie oor hulle nie, dit gaan oor God. Dis nie hulle wat die wonderwerk gedoen het nie – dis God wat dit gedoen het. So, hulle skuif die aandag weg van hulleself af na God toe. Daarmee wys hulle vir ons hoe ‘n nederige lewenstyl werk.

Daar is ‘n wonderlike storie van ‘n musiekliefhebber wat eenmaal die komponis Johannes Brahms onverwags ontmoet het. Toe hy vir Brahms herken toe vra hy vir hom om ‘n kort stukkie van een van sy bekende musiekstukke neer te skryf en dan onderaan te teken, sodat hy ‘n aandenking het van sy ontmoeting met Brahms. Brahms het toe die pen gevat en op die stukkie papier die eerste lyn neergeskryf van Die Blou Danou – een van die komponis Johan Strauss se bekendste werke. Onderaan teken hy toe: “Ongelukkig nie deur my nie, Johannes Brahms”.
Johannes Brahms het ‘n groot bydrae gelewer tot die musiekwêreld, maar hy kies doelbewus om nie die fokus op hom te laat val nie.
Vir ‘n Christen beteken nederigheid dat ons die fokus op God sal laat val. Maak nie saak wat ons in die lewe bereik nie. Dit gaan nie oor ons nie. Dit gaan oor God. Ons moet wegkyk van onsself af en vir God die eer gee.

Nederigheid gaan ook daaroor dat mens wegkyk van jouself af en ander mense begin raaksien.
1 Korintiers 13: 5 – “die liefde soek nie sy eie belang nie”
Filippense 2:3 – “Moet niks uit selfsug en eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself”.
Ons hou mos maar daarvan om dinge op ons manier te doen en om ons sin te kry. Dink nou maar konfliksituasies – dit meeste daarvan kan waarskynlik verhoed word as ons nie so trots is en net ons sin wil kry nie. As ons net bereid is om bietjie nederiger te wees en soms beter te luister, in te gee en kompromieë aan te gaan, sal daar dalk minder konflik wees.

Mens kan ook net diensbaar wees as jy nederig is en wegkyk van jouself en jou eie comfortzone. Nederigheid help ons om minder selfsugtig te wees en ons lewens met ander te deel.

Nederigheid beteken egter nie dat ons vloerlappe moet wees en altyd moet ingee nie en onsself moet haat nie. Jesus sê tog vir ons “jy moet jou naaste liefhê, soos jouself”. Om lief te wees vir jouself en nederigheid is nie in konflik met mekaar nie. Nederigheid gebeur net wanneer ‘n mens gemaklik is met jouself, wanneer lief is vir jouself en wanneer jy jouself nie vergelyk met ander mense nie. Wanneer jy nie bedreig is nie. Miskien sal hierdie aanhaling dit die beste opsom: “Nederige mense dink nie minder van hulleself nie; hulle dink net minder aan hulleself”. (Ken Blanchard)

Om op te som: By Paulus en Barnabas leer ons dat nederigheid beteken…
  • dat ons die fokus meer op God moet plaas as op onsself.
  • dat ons nie so moet roem op ons eie prestasies en suksesse nie, dit kan immers vining weer wegval. Ons moet net dankbaar wees.
  • dat ons nie altyd net moet veg om ons sin te kry nie, maar dat ons ook na ander moet luister en hulle belange eerste moet stel
  • dat ons diensbaar moet wees en nie net in ons comfortzones vasgevang moet wees nie.
  • dat ons minder aan onsself sal dink. 


Sunday, September 4, 2011

Preek 04 Sept 2011

Barnabas die getuie
Handelinge 13: 13-52

Baie jare gelede het die volgende advertensie in ‘n Londonse koerant verskyn: "Men wanted for hazardous journey. Small wages, bitter cold, long months of complete darkness, constant danger, safe return doubtful." Die advertensie was geplaas deur Sir Ernest Shackleton, die bekende Arktiese ontdekkingsreisiger. Hy het 1000de reaksies gekry. Mense wat lus was vir so ‘n avontuur. Barnabas en Paulus het ook gesê hulle is bereid om op so ‘n onsekere avontuur gaan.
Lees Handelinge 13: 1-3.

So vertrek hulle toe op hierdie “sending” avontuur - hulle eerste sendingreis en beland in Antiogië in die Romeinse provinsie Pisidië waar hulle een van die sinagoges besoek. Nadat hulle al die formaliteite afgehandel het, nooi die leiers van die sinagoge vir Barnabas en Paulus om iets te sê. En dan volg Paulus se eerste toespraak.
Die toespraak bestaan uit 4 dele:
Hy begin met ‘n oorsig oor Israel se geskiedenis(13: 16-25): Hy vertel van hulle tyd in Egipte, hoe hulle deur die woestyn getrek het, hoe hulle in Kanaan aangekom het. Hy vertel hoe Rigters aangestel is as leiers van die volk. Saul wat die eerste koning was en sy opvolger Dawid uit wie se nageslag Jesus uiteindelik gebore sou word.
Jesus se sterwe en opstanding (13:26-31): Hy vertel hoe Jesus deur Pilatus ter dood veroordeel is, hoe hy gesterf het, begrawe is, maar ook weer opgestaan en aan verskillende mense verskyn het. En hierdie mense is nou God se getuies.
Gebruik tekste uit die Ou Testament om te bevestig dat Jesus uit die dood opgewek is(13:32-37): Hy gebruik Ps 2:7, Ps 16:10 en Jes 55:3 om te beklemtoon dat Jesus wel die Messias was waaroor die mense reeds in die OT gedroom het.
Eindig met ‘n praktiese toepassing(13:38-41): Hy beklemtoon dat verlossing nie moontlik is deur die nakoming van die wette en reels nie. Genade en geloof wat deur Jesus moontlik gemaak is, is die enigste manier om verlossing te beleef.

Die mense was so beïndruk met die toespraak dat hulle dadelik vir Barnabas en Paulus uitnooi om die volgende week weer terug te kom om verder met hulle te gesels. Deur die loop van die week gesels Paulus en Barnabas heeltyd met die mense en vertel vir hulle van God se genade. Dit maak natuurlik toe dat daar by die volgende byeenkoms in die sinagoge heelwat meer mense opdaag om te kom luister – ook nie-Jode. En daarvan het die Jode niks gehou nie en hulle begin vir Paulus en Barnabas in die openbaar verneder en beledig. Maar hulle het hulle nie daardeur laat afsit nie, trouens dit het hulle net nog meer gemotiveer om uit te gaan en getuies te wees van God se genade.
Die interessante ding is dat die nie-Jode, die heidene meer ontvanklik en oop is vir die evangelie as die Jode. Mense wat dus vroeër uitgesluit was, word nou deur Barnabas en Paulus ingesluit en deelgemaak van die gelowiges. So word kulturele grense, taalgrense en geografiese grense deur die evangelie oorgesteek. Mense wat vroeër niks met mekaar te doene wou hê nie, word nou deur hulle geloof met mekaar verbind.

Vandag se tema gaan oor getuienis, en wat ons kan leer by Barnabas en ook by Paulus as dit kom by getuienis. En daar is ‘n paar goed wat ons kan leer.

Getuienis gaan oor God, dit gaan nie oor my en my geloof nie. Een van die goed wat my vreeslik irriteer wanneer mense oor hulle geloof praat is wanneer hulle hulle geloofstorie vertel asof hulleself betrokke was by die verandering wat in hulle lewe gebeur het.  Mense weet later nie meer of hulle oor hulleself of oor God praat nie. Hier stel Paulus en Barnabas vir ons ‘n voorbeeld. In sy toespraak vertel Paulus die volk se geskiedenis, nie omdat die volk so wonderlik is nie, maar om God se betrokkenheid in hulle lewe te bevestig. En uiteindelik eindig hy by dit wat Jesus gedoen het vir hulle. Getuienis moet altyd na God toe wys, nie na myself nie.

In die teks sien ons ook 2 reaksies op Paulus en Barnabas se getuienis. Die Jode raak jaloers toe hulle sien hoe baie mense deur die getuienis aangespreek word. Mens sou dink hulle sal bly wees. Teenoor hulle is daar die heidene wat opgewonde reageer op die getuienis. Met alle getuienis werk dit so – sommige mense reageer daarop en ander nie. Maar dis uiteindelik nie ons probleem nie en dit moet ons nie verhoed om getuies te wees nie.

Ons moet weer hoor dat alle Christene geroep is om getuies te wees. Dis nie net die werk van predikante en jeugwerkers en sendelinge nie – ons almal moet in alle omstandighede getuies van Jesus Christus wees. Soos iemand gesê het:
“A missionary is not someone who crosses the sea, but someone who sees the cross.”
Word ook vir ons bevestig in Matteus 5:13-16
"Let me tell you why you are here. You're here to be salt-seasoning that brings out the God-flavors of this earth. If you lose your saltiness, how will people taste godliness? You've lost your usefulness and will end up in the garbage.
 "Here's another way to put it: You're here to be light, bringing out the God-colors in the world. God is not a secret to be kept. We're going public with this, as public as a city on a hill. If I make you light-bearers, you don't think I'm going to hide you under a bucket, do you? I'm putting you on a light stand. Now that I've put you there on a hilltop, on a light stand—shine! Keep open house; be generous with your lives. By opening up to others, you'll prompt people to open up with God, this generous Father in heaven.” (The Message)

As jy ;n gelowige is, dan is jy geroep om die goeie nuus met mense te deel. Ons werk as gelowiges is om Jesus vir die wêreld te wys – om sout en lig vir die wêreld te wees. Dis iets wat moet gebeur in elke deel van my lewe.
Trouens ek dink dat elke situasie, positief of negatief, wat oor ons pad kom is ‘n geleentheid om ‘n getuie te wees .As ons na Paulus en Barnabas se voorbeeld kyk – toe hulle in daai sinagoge die geleentheid kry om te praat oor hulle geloof, het hulle dit dadelik aangegryp.
In 1 Petrus 3:15 lees ons: “Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die Hoop wat in julle lewe.”

Hoe werk getuienis? In ons teksgedeelte getuig Paulus deur middel van ‘n toespraak wat hy in die sinagoge gelewer het. Daar is ook baie ander maniere van getuienis. Die afgelope paar weke het Barnabas vir ons gewys dat ‘n mens ook getuig deur ‘n lewe van vrygewigheid, gasvryheid en deur brûe te bou waar daar voorheen mure was wat skeiding gebring het tussen mense. Getuienis gaan met ander woorde nie net daaroor om te praat en te vertel nie, dit gaan ook oor hoe ons ons lewens leef. Trouens ek reken dis belangriker.

Ek het onlangs met ‘n predikant gesels wat vir hom ‘n motorfiets gekoop het. Maar daarmee saam vertel hy toe ook dat hy nog nie ‘n lisensie of learners het om die fiets te ry nie, maar hy ry al met hom. Ek het hom toe aangevat daaroor, want nevermind dat hy ‘n predikant is, as christen moet ons die voorbeeld stel. Veral in ‘n land waar mense maklik misdaad pleeg.
1 Petrus 3: 16: “Keep a clear conscience before God so that when people throw mud at you, none of it will stick.”
Deel van ons getuienis, is dat ons die regte dinge sal doen. Anders doen ons die boodskap skade aan.

Hoe ons reageer op negatiewe en slegte goed is ook deel van ons getuienis.Op ‘n persoonlike vlak – hoe ons die krisisse van die lewe hanteer. Maar ook in ons land. Op die oomblik is dinge maar deurmekaar in ons land, veral op politieke vlak en dis maklik om baie negatief en pessimisties te wees, maar as christene moet ons positief en hoopvol bly. Dis deel van ons getuienis, want ons glo tog dat alles sal ten goede uitwerk.

Dis ook deel van ons getuienis om op praktiese en tasbare maniere by mense  en nood betrokke te wees. Om compassion te wys aan mense. Ek het weer die afgelope week hiervan bewus geraak. Baie mense is mos negatief oor die NG kerk. Sommige media is mos baie vining krities en negatief te wees. Die kerk is nie perfek nie en maak foute en moet na kritiek luister, maar daar is ook ‘n ander kant waarvan mens nooit in die Rapport lees nie. Ek het hierdie week weer gehoor dat Badisa, dis die NG Kerk se welsynsdiens spandeer elke jaar R400 milj aan welsynswerk in ons land. Dis nou aan goed soos ouetehuise, rehabilitasiesentrums, maatskaplike werkers, vigs programme en nog ‘n klomp ander goed. Naas die regering is die NG Kerk die grootste verskaffer van welsynsdienste. Dis mos die beste getuienis wat daar is.  Ook op ‘n persoonlike vlak is dit deel van ons getuienis om compassion aan mense te bewys.

Getuienis gaan nie net daaroor om soos Paulus te praat oor my geloof nie. Dit is ook om soos Barnabas vrygewigheid en gasvryheid te bewys en brûe te bou na mense. Dit gaan ook daaroor om die regte dinge te doen en ‘n voorbeeld te stel, om positief en hoopvol te wees, om met compassion en liefde te leef en goeie dade te doen. Dit gaan daaroor om te bid vir mense en mense saam te nooi kerk toe. Getuienis het verskillende gestaltes.

Joseph Bayly het gesê: “Jesus Christus het nie die verkondiging van sy Goeie Nuus aan ‘n reklamemaatskappy toevertrou nie. Hy het net sy dissipels uitgestuur. Hy het hulle nie opdrag gegee om advertensieborde op te sit en pamflette uit te deel nie. Hy het gesê hulle moet net in hulle gewone lewe wys wat hulle glo.”

Sunday, August 28, 2011

Preek 28 Aug 2011


Die Heilige Gees breek mure af; ons moet brûe bou

Handelinge 11: 19-24

 

Die Berlynse muur

Die Berlynse muur was ’n gruwelike grensmuur wat deur die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) opgerig is.  Op 13 April 1961 is oornag begin om Wes-Berlyn volledig af te skei van die omringende Oos-Berlyn en Oos-Duitsland.  Dit was alles deel van die koue oorlog tussen Oos en Wes.  Die lang grensmuur van beton het wagtorings ingesluit wat uitgekyk het oor ’n strook niemandsland (ook die doodstrook genoem) waaroor niemand mag beweeg nie.  Jy kon doodgeskiet word as jy dit doen.  Baie mense wat uit Oos-Duitsland wou vlug, het inderdaad hul lewens só verloor. 
Na verskeie weke van politieke onrus het die DDR-regering op 9 November 1989 aangekondig dat DDR-burgers Wes-Duitsland en Wes-Berlyn kon besoek.  Groot skares het op die beheerpunte toegesak en die verdwaasde Oos-Duitse wagte het geen ander keuse gehad as om hulle gewere te laat sak en die hekke oop te gooi nie.  Die skandmuur is oor die volgende weke en maande deur Duitsers, memento-jagters en die owerhede  afgebreek.  Die val van die muur het die weg geopen vir Duitse hereniging, wat op 3 Oktober 1990 plaasgevind het.

 

Mure val in Antiogië

Romeinse stede was gekenmerk deur mure.  Antiogië, waarvan ons in ons teks lees, was die derde grootste stad in die Romeinse Ryk en ’n belangrike militêre sentrum in die oorlog tussen die Romeinse Ryk in die Weste en die Persiese Ryk in die Ooste.
Wanneer die Romeine volke oorwin het, is hulle in stede soos Antiogië in klein ruimtes laat woon, maar hulle was onderling vyandig.  Daarom het die Romeine hul stede in sektore verdeel waar die verskillende bevolkingsgroepe kon bly.  Daar is mure tussen hierdie woonbuurte opgerig.  Daar was verskeie sulke ommuurde sektore in Antiogië.
Die evangelie sou hierdie mure in Antiogië platvee.  Dit steek die grens tussen Jood en Griek oor, en bring mense uit verskillende agtergronde in een nuwe mensheid in Christus saam.

 

Die getuienis van gewone mense laat die mure val

Let op dat dit gewone mense is wat die evangelie aan die mense van Antiogië verkondig.
Dit is die eerste keer dat die evangelie regtig die grens na nie-Jode oorsteek. Verandering kom baie keer van die rante af, van mense wat nie noodwendig in die hart van die beweging/instituut staan nie.
En die mense van Antiogië kom tot geloof in Jesus Christus, erken Hom as hulle Here, en bekeer hulle tot Hom.

 

Nuwe gelowiges is opgewonde en onseker

’n Mens kan jou voorstel wat hulle ervaring was.  Hulle is opgewonde oor die nuwe lewe en verwonderd oor die eenvoud van die evangelie, maar ook onseker. 
·         Wat presies sou hierdie nuwe lewe alles behels? Hoe gaan dit hulle daaglikse en beroepslewe beïnvloed?  Watter tipe lewenstyl moet hulle nou volg?
·         En dan: wat van die Joodse gebruike? Wat sou van hulle verwag word?  Watter rol moet die besnydenis speel?  Moet hulle nou die sabbat onderhou?

 

Barnabas word gestuur om te bemoedig

Hy is presies die regte persoon om die gemeente in Antiogië te bedien.

 

God het Barnabas voorberei

Vir dié enorme verantwoordelikheid was Barnabas op 'n besondere manier deur God voorberei.  Hy was 'n Griekssprekende Jood wat tussen heidene buite Palestina in Siprus grootgeword het en daarom tuis was in die teenwoordigheid van nie-Jode nie.  Maar, hy was ook ’n Leviet wat beteken dat hy volledig onderleg was in die ortodokse Joodse leer.  Hy kon dus die skeiding tussen Grieke en Hebreërs in sy persoon en afkoms oorbrug.  Op die koop toe was hy ook deeglik bekend met die eise van die Christelike geloof as lidmaat van die eerste gemeente in Jerusalem en kon gevolglik as leraar van hierdie nuwe leer optree.
Lukas beskryf Barnabas as 'n goeie man; met die Heilige Gees vervul. Daarbenewens het Barnabas ook 'n vaste geloof gehad.  Sy sekuriteit het hy in God gevind.
·         Barnabas het nie ‘n keuse gehad oor waar hy grootword en oor sy opvoeding nie – en God gebruik dit
·         Maar alles het nie blooot vanselfsprekend gekom nie. Barnabas moes kies om te glo; moes kies om ‘n karakter van integriteit te kweek. ‘n Mens moet kies om die lig van God in die donker hoekies van jou lewe te laat inskyn – en as jy kies om hierdie dinge te doen, word jy ‘n baie kragtige getuie in God se hand, because then you walk the talk; you practice what you preach.

 

Jerusalem stuur Barnabas as bemoediger

Barnabas is voorberei hiervoor.  Hy was bekend vir sy vrygewigheid.  En hy was bekend as ‘n gasvrye mens, wat vir Saulus onder sy vlerk geneem het toe almal nog skepties was oor hom.
Let op wat die gemeente in Jerusalem doen.  In plaas daarvan om te probeer om ’n voorskrif vir die gelowiges uit die heidene te skryf van hoe hulle as Christene moet lewe, en hulle het ’n hele paar mense gehad wat dit sou kon doen, stuur hulle iemand om met hulle in verhouding te tree, iemand wat na hulle kan luister, en saam met hulle kan lewe en op ’n daaglikse wyse kan blootstel aan ’n Christelike lewenstyl.

 

Om met hart en siel aan die Here getrou te bly

Let op wat gebeur toe Barnabas daar kom en waaraan hy aandag gee.  Lukas vertel ons dat hy hom instel om God se werk raak te sien, dat hy spesifiek fokus op hulle geloof in die Here en hulle daarom aanspoor om met hart en siel aan die Here getrou te bly. 
·         Hy praat nie oor die besnydenis nie. Hy praat nie oor die sabbat nie. Later, wanneer hierdie onderwerpe deur sy gehoor op die tafel gebring word, spreek hy dit aan.
·         Hy praat oor hulle getrouheid aan die Here, dié Here waarin hulle nou geglo het en tot wie hulle hul nou bekeer het.  Waarmee hy natuurlik ook bevestig dat dit die belangrikste van alles is – ’n verhouding met God waarin getrouheid aan Homself die spilpunt is waarom alles draai. 

 

God is aan die werk

Soos regdeur die boek Handelinge die geval is, beklemtoon Lukas hier dat die uitbreiding van die evangelie van Jesus Christus onder beheer van God staan.  Dit is God wat met die sending, hierdie beweging oor grense heen, besig is, wat ons met die term Missio Dei uitdruk. 
·         Barnabas was bly om te sien hoe God in sy genade onder hulle gewerk het (11:23). 
·         Lukas sê spesifiek dat “Die Here het die gelowiges gehelp, sodat daar baie mense … hulle tot die Here bekeer het.” (11:21). 
·          Barnabas word beskryf as “vol van die Heilige Gees”.

 

God se gemeente is inklusief

Ons sien hier ook iets van die wyse waarop die gemeenskap van gelowiges altyd moet werk – inklusief, aanvaardend, insluitend.  Die evangelie kan nie agter mure en grense ingeperk word nie.

 

God se gemeente is bemoedigend

Ons sien in hierdie verhaal die effek van bemoediging en ondersteuning.
Wanneer ’n mens voortdurend aangemoedig word tot ’n sekere optrede of lewenstyl kan dit ’n grootrippel-effek hê.  Ons sien dit in die mooi verhaal van Trevor McKinney, wat die wêreld wou verander deur iets goeds te doen vir 3 ander mense - en hulle dan te vra “to Pay it Forward (Catherine Ryan Hyde Pay it Forward).  En dit het ’n beweging geword wat inderdaad ’n hele klomp mense se lewens verander het.
Die impak wat iemand maak kan positief of negatief wees – en dit is langdurig! Dit leef voort, selfs wanneer die persoon nie meer daar is nie. Ons moet versigtig wees hoe ons lewe en watter impak ons maak!
NEGATIEF: Mense het eenkeer ‘n eksperiment met ape gedoen. Hulle het ’n skoot koue water gekry as hulle ’n piesang probeer eet het.  As ’n nuwe aap bykom keer die ander hom om die piesang te probeer eet.  Selfs as al die aanvanklike ape een vir een verwyder word, en daar niemand oorbly wat ooit self die koue water ervaar het nie, keer die ape enige nuweling om die piesang te probeer eet.
POSITIEF: aan die ander kant was daar ’n eksperiment wat bewys het dat mense twee keer langer met hulle voete in yswater kan staan as iemand hulle aanmoedig.  Bemoediging versterk dus jou deursettingsvermoë. 

Wat moet ons vanoggend hoor?
1.    God is aan die werk in die wêreld om ons. Ons moet ontdek waar God werk -  en dan moet ons mense aan God self verbind.
2.    God het deur gewone mense gewerk. Moet dus nie te bekommerd wees daaroor dat jy dalk nie genoeg weet nie, nog baie foute het, nog ‘n jong gelowige is… God slaan ‘n reguit hou met ‘n krom stok!
3.    God gebruik ons verlede. Gee alles wat met jou gebeur het – goed en sleg – vir God. God kan en sal dit gebruik om die wêreld ‘n beter plek te maak.
4.    Ons moet kies om mense met integriteit te wees: goeie mense, wat vrygewig is, wat gasvry is en wat kan brûe bou na ander mense… Ons moet kies om ‘n positiewe impak op ander mense te hê. Ons hoef nie voorskriftelik te wees nie. God stap ‘n pad met mense! Ons moet ‘n goeie voorbeelds stel en hulle liefhê.
5.    Ons omgewing het die afgelope klompie jare baie meer divers geword. Daar is baie kleur, kultuur, taal en ouderdomsgrense om oor te steek! En God wil die mense van ons omgewing graag bereik met die goeie nuus van die evangelie! God wil dit deur ons doen…