Sunday, November 4, 2012

Preek 04 November 2012 (Johannes)


Egte geloofsgemeenskap

Vandag is die eerste tema van ‘n kort preekreeks oor die waarde van Egtheid. In die eerste kwartaal het ons gepraat oor die waarde van Eenvoud; 2de kwartaal oor Betekenisvolle verhoudings; 3de kwartaal oor Gestuurdheid. Vandag praat ons oor Egte geloofsgemeenskap, volgende week se tema is – Wees eg! Selfs as niemand kyk nie. Die week daarna is dit – Hou dit eg! Omarm jou uniekheid.

Ek kom baie by Binnelandse sake. Wanneer ons troues doen dan is dit ons verantwoordelikheid om die huwelik by Binnelandse sake te registreer. Oor die algemeen is dit ‘n redelik vinnige en maklike proses, maar elke nou en dan is daar ‘n probleem. Veral as ons oorsese mense se huwelikke moet registreer. Dan moet ek die probleem probeer uitsorteer met die mense wat agter die toonbank werk. Dis nie so ‘n maklike taak nie. Op ‘n stadium ontdek ek toe dat die vrou wat in beheer is van die kantoor, was saam met my op skool. Toe is dit sommer baie maklik om enige probleme uit te sorteer. Die ander klerke was toe ook sommer baie vriendeliker en meer behulpsaam. Omdat ek ook gereeld daar kom, het hulle my ook begin ken. Tot op ‘n dag, vroeër vanjaar, toe ek weer daar kom en ontdek dat my skoolvriendin verplaas is en die bekende klerke na ander afdelings geskuif het. Toe voel ek sommer verlore. Niemand het my meer geken nie. Dit was asof ek vir die eerste keer daar aangekom het. Dit klink simpel, maar dit was vir my lekker om te weet die mense ken my. Daar was ‘n gemaklikheid, ‘n familiariteit daaraan om die mense te ken. Ek was nie sommer net nog iemand wat by Binnelandse sake in die ry gestaan het nie.
Dis soos wanneer ek my hare laat sny. Ek gaan elke keer terug na dieselfde haarsalon en dieselfde haarkapper. Hulle weet wie ek is, hulle ken my en ek ken hulle. Ek voel gemaklik met hulle. Dis asof ek iewers behoort.
Ons almal het plekke nodig waar ons gemaklik voel. Waar ons voel ons behoort. Selfs al is dit by Binnelandse sake en by die haarkapper. Dis nog belangriker as ons oor die kerk begin praat.    

Ons almal het plekke nodig waar ons behoort. Plekke waar ons mense ken en waar mense ons ken. Waar ons aanvaar word met al ons foute en al ons sterkpunte en gawes. En hier praat ons nie net oor facebook en twitter nie, dit het ook ‘n plek, maar ons het plekke nodig waar ons mense in die oë kan kyk. Kan opsoek wanneer ons hulp of raad nodig het. Waar ons kan ontspan en onsself kan wees, want ons weet dat ons nie verwerp sal word nie. Ons almal het hierdie tipe egte gemeenskap nodig. Ons is geskep daarvoor.

Maar hierdie tipe egte geloofsgemeenskap is nie iets wat vanself gebeur nie. Veral in ons moderne en gebroke samelewing. Ons almal is maar geneig om bietjie selfsugtig te wees. Ons is geneig om net ingestel te wees op onsself en ons eie behoeftes. Ons almal het al slegte ervarings gehad en het al seergekry. En dit maak egte geloofsgemeenskap moeilik. 

Ons teks van vanoggend help ons hiermee. Eers net bietjie agtergrond.
Paulus skryf aan die gemeente in Tessalonika. Dis ‘n nuwe gemeente met mense wat nuwe gelowiges is. Dit gaan oor die algemeen goed met die gemeente, maar Paulus besef ook dat hulle nog baie het om te leer. Daarom moedig hy hulle aan en hy gee vir hulle leiding oor hoe hulle as ‘n geloofsgemeenskap saam moet leef. 

Hy begin deur te fokus op die mense se gedrag binne die geloofsgemeenskap. Hy gebruik ‘n paar sterk woorde in verse 14-15 om te verduidelik hoe mense in ‘n geloofsgemeenskap moet optree. Hy skryf in ‘n geloofsgemeenskap moet ons mekaar tereg wys wanneer dit nodig is. Ons moet mekaar moed inpraat. Wees geduldig met mekaar. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Beywer julle vir die belange van medegelowiges en alle ander mense.
So, die prentjie wat Paulus skilder is van ‘n geloofsgemeenskap wat omgee vir mekaar, wat geduldig is met mekaar, wat hulpvaardig is teenoor mekaar, wat mekaar opbou, aanmoedig en vermaan. Ons almal het dit in ons lewens nodig.

Die probleem is net dat mens kan nie dit in ‘n grootgroep soos by hierdie erediens kan regkry nie. Ons het nodig om mekaar in die oë te kyk om dit te kan regkry. Daarom is dit goed om deel te raak van ‘n kleingroep, of die orkes, of die gebedsgroep of een van die verskillende bedienings in die gemeente. ‘n Kleiner groep waar ons mekaar gereeld in die oë kan kyk, waar ons mekaar se name ken en waar ons by mekaar betrokke kan wees. Dis egte geloofsgemeeskap.  

1 Tessalonisense 5: 16-19
Paulus gaan ook verder. In verse 16-19 gee hy die geestelike onderbou van egte geloofsgemeenskap. Kom ons lees dit.

In egte geloofsgemeenskap moet ons altyd bly wees, gedurig bid, in alle omstandighede dankbaar wees en oop wees vir die werking van die Heilige Gees.
Ons moet bly wees vir dit wat God in ons lewens doen en vir die mense wat Hy oor ons pad bring.
Ons moet gedurig bid. Dit beteken nie ons moet die hele tyd op ons kniee deurbring nie of dat ons net moet bid by ‘n gebedsgroep nie. Dit gaan daaroor dat ons biddend moet leef – dis om te weet dat jy heeltyd in God se teenwoordigheid leef, dat Hy elke oomblik van elke dag by jou is.
In egte geloofsgemeenskap moet ons te alle tye dankbaar wees. Let op - Hy skryf nie dat ons vir alle omstandighede dankbaar moet wees nie. Hy skryf dat ons in alle omstandighede dankbaar moet wees. Ons is dus nie dankbaar vir die slegte goed wat gebeur nie, ons is dankbaar omdat God ons daardeur help.
In egte geloofsgemeenskap is ons oop vir die werking van die Gees. Vir die leiding en die gawes wat Hy vir ons gee. Vir die mense wat Hy in ons lewens gebruik.
As ons ernstig is oor hierdie goed bring dit ons nader aan mekaar en skep dit egte geloofsgemeenskap tussen mekaar. Egte geloofsgemeenskap is mos makliker saam met  mense wat bly is, wat aanbiddend leef, wat dankbaar is en oop is vir die werking van die Gees.

1 Tessalonisense 5: 23-24
Paulus maak nog ‘n laaste punt in hierdie verse.

Hy bevestig dat alles by God begin. Hy is die een wat vrede gee, wat ons toegewyd maak, wat ons roep en wat getrou is. God is die een egte geloofsgemeenskap skep tussen mense. As dit van onsself afgehang het, sou dit nooit gebeur het nie. Ons is te selfsugtig en ingestel op ons eie behoeftes en belange. Gelukkig begin dit by God. Soos Paulus skryf – Hy is die een wat ons roep en Hy is getrou en sal ons bymekaar hou. Egte geloofsgemeenskap begin by God.

Om af te sluit: Ons hoor by Paulus dat egte Christelike geloofsgemeenskap moet anders wees as ander gemeenskappe waarin ons leef.
Egte geloofsgemeenskap moet ‘n plek wees waar ons nie bang is om ons swakhede, ons gebrokenheid met mekaar te deel nie, want ons weet ons word aanvaar.
Egte geloofsgemeenskap is ‘n plek waar ons aangemoedig en ondersteun word om die mense te word wie God wil hê ons moet word.
‘n Egte geloofsgemeenskap is ‘n gemeenskap wat styf vashou aan God. Waar ons met blydskap, aanbiddend en met dankbaarheid vashou aan die genade wat God vir ons almal gegee het. En waar ons oop is vir die werking van die Heilige Gees.

Ek dink as ons iets van hierdie prentjie van Paulus begin regkry en uitleef dan sal dit goed wees vir ons geloofsgemeenskap. Dan het ons iets om vir mekaar te bied. En dan het ons iets wat ons kan bied vir die mense in ons omgewing. Dan is ons ‘n egte geloofsgemeenskap.



No comments:

Post a Comment