Sunday, August 25, 2013

Preek 25 Augustus 2013

Wel en weë van Jona

Ons begin vandag met ‘n 4 weke reeks oor die wel en weë van Jona. Eers net so ietsie oor Jona. Die boek Jona bestaan uit 4 hoofstukke – of meer presies, 48 verse, 1328 woorde. Kort boek - mens kan dit waarskynlik in 15 minute deurlees.

Maar wie was Jona? Jona was ‘n Jood. Hy was ‘n gewilde profeet en prediker in die tyd van die baie suksesvolle en magtige koning Jerobeam II.

Maar as ons oor die boek Jona praat dan is daar mos ‘n groot walvis in die kamer. So kom ek sê gou eers iets daaroor voordat ons aangaan. Sommige mense sê ons moet die storie van die walvis letterlik verstaan. Die walvis het letterlik vir Jona ingesluk en uitgespoeg. Ander mense sê weer, nee, dis ‘n metafoor, dit het nie regtig gebeur nie. So as iemand vir my kom vra, is die storie van die walvis nou letterlik of is dit metafories, dan is my antwoord altyd die selfde – ja. Ek gee nie regtig om hoe jy dit verstaan nie, want dit gaan oor die boodskap, nie oor of die walvis. Mens kan so vasgevang raak deur die walvis, dat jy die boodskap mis. As jy by die boodskap uitkom deur dit letterlik te verstaan is dit great, as jy daarby uitkom deur dit metafories te verstaan, dan is dit great. So kom vergeet nou eers van die walvis en ons prober by die wonderlik boodskap van Jona uitkom.

Kom ons bid saam voordat ons vanoggend se teks lees.

Jona was ‘n profeet. Hy het baie  rustig aangegaan met sy lewe. Dit het goed gegaan met hom. Skielik praat God met Hom en gee vir hom ‘n opdrag om na Nineve toe te gaan.
Om te verstaan hoe erg hierdie opdrag vir Jona was, moet ons verstaan wie Nineve was.
Nineve was die hoofstad van die Assiriese koninkryk. Hulle was op daardie stadium die grootste vyande van die Israeliete. Hulle het die Israeliete aangeval, stede verwoes, mense doodgemaak en die mense onderdruk met onder andere erge belastings.
Ninevi  was ook ‘n goddelose stad waar die ergste goed gebeur het. Die godin van die stad was Istar en in haar naam het daar goed gebeur soos kinderoffers, prostitusie, misdaad en geweld. Vyande van die stad en die koning is ook wreed gemartel, een van die gebruike was bv om hulle koppe af te kap en torings daarmee te bou –as ‘n afskrikmiddel. Die stad was sleg, sondig, goddeloos.

So, vir Jona, as ‘n Jood, om na die stad toe te gaan was ondenkbaar. Om vir hulle te gaan preek en hulle op te roep tot bekering sou ‘n doodsvonnis wees vir Jona. Hy wil nie gaan nie. Ek dink ook nie hy wou hulle oproep tot bekering nie – hulle verdien tog God se straf vir al die goddelose goed wat hulle aangevang het. Hulle verdien nie God se genade nie.

Ek dink nie mens kan vir Jona kwalik neem dat hy nie na Nineve toe wou gaan nie. Ek dink nie ons kan hom kwalik neem dat hy eerder ‘n kaartjie koop Tarsis toe nie. Tarsis was baie ver van Ninevi af. Nineve is in vandag se Irak. Tarsis was ‘n hawestad in Spanje, langs die meditereense see. Jona wil so ver as moontlik wegkom.
Tarsis was die teenoorgestelde van Nineve. Dis ‘n mooi en rustige stad. ‘n Plek waarheen jy sal gaan op te gaan vakansie hou.

As ek dit kan vergelyk met plekke wat vir ons bekend is. Om Nineve toe te gaan is soos om na Manenberg toe te gaan, hier anderkant op die Kaapse vlakte. Daar waar die skole verlede week moes sluit omdat die bendes mekaar skiet en mense se lewens elke dag in gevaar is. Tarsis is soos Bloubergstrand of Paternoster aan die weskus. Dis mooi, dis rustig, ‘n plek waar jy wil vakansie hou.
Dis verstaanbaar dat Jona eerder in Tarsis as in Nineve wou wees. Tarsis is nice, dis maklik. Nineve is donker, gevaarlik en goddeloos.

Die enigste probleem is – God roep nie vir Jona om in Tarsis ‘n verskil maak nie. God wil in die donker, goddelose Nineve ‘n verskil maak. God wil nie vir Jona in Tarsis gebruik nie, Hy wil vir Jona in Nineve gebruik. God is nie net in die perfekte, nice, maklike plekke nie – God is veral in die donker, goddelose plekke. Die plekke waar ons nie wil wees nie, dis waar Hy ‘n verskil wil maak.

Ons is maar net soos Jona. Ons hou nie daarvan om na Nineve toe te gaan nie. Ons verkies om eerder in Tarsis te wees. Ons wil wegvlug van God en dit wat Hy van ons vra.
Maar ons vergeet wat staan in Ps 139:
“Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas. Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.”
Ons kan nie van God en van sy opdragte ontsnap nie. Hy is oral en Hy ken ons te goed. En Hy wil ons gebruik.

Baie keer is die kerk mos vir ons soos Tarsis. Dis ‘n veilige plek waarheen ons kom om God se teenwoordigheid te beleef. Dit vra nie veel van ons nie. Ons kom hiernatoe om vir ‘n kort tydjie te ontsnap van die deurmekaar wêreld waarin ons leef. Dis veilig. Maar die kerk was nog nooit veronderstel om ‘n veilige plek te wees waarheen ons moet kom om te ontsnap nie. Dis die plek waar ons voorberei word om in die alledaagse wêreld te gaan leef. Die kerk rus ons toe om na ons eie Nineve toe te gaan.

Nineve is oral om ons. Dit het name en gesigte en omstandighede oral waar ons elke dag kom. En God stuur ons soontoe.
Dalk is Nineve jou eie huis – waar dinge met jou partner, jou kinders, jou familie nie lekker is nie. Dalk is dit jou huishulp of jou tuinwerker.
Dalk is Nineve die buurt waarin jy woon. Die huis in jou straat waar siekte, mishandeling of swaarkry is. Die hawelose mens wat elke week in jou drom grawe of die mense wat in hulle kar of in iemand anders se garage slaap.
Dalk is Nineve jou werk waar dinge nie eerlik gedoen word nie of waar mense uitgebuit word.
Dalk is Nineve jou beste vriend of ‘n kennis of kollega wat aan iets verslaaf is.
Ninevi is oral hier rondom ons.

Die vraag is: wat gaan jy doen met God se opdrag om by Nineve betrokke te raak? Gaan ons soos Jona verskonings uitdink en na die lekker, veilige Tarsis toe vlug of gaan ons bereid wees om te gaan na die plekke waar God regtig ‘n verskil wil maak?

Gaan ons gehoorsaam wees aan God se opdragte wanneer hy ons die strate instuur. Na die donker plekke toe. Na die rykes, die belangrikes en die magtiges toe. Maar ook na die armes en die krotbuurte hier rondom ons. Ons gemeente bestaan nie net uit Greylaan nr 41 nie – ons gemeente bestaan uit die hele Table View en almal wat hier woon. En dis waar God ‘n verskil wil maak. Dis waar Hy ons wil gebruik.





No comments:

Post a Comment