8 Junie 2014
Pinksterfees: Handelinge 2: 1-21
Dis ‘n lang teksgedeelte maar ek gaan dit tog heeltemal lees, want ek kom agter daar is baie mense wat nie die storie ken nie. Dit terwyl dit een van die 3 belangrikste gebeure is in die Christelike kalender. Kersfees, Paasfees en Pinksterfees – die belangrikste gebeure vir ‘n Christen, maar om een of ander rede kry Pinksterfees nie soveel aandag soos Kersfees en Paasfees. Dalk ook maar goed so, want dan sou die winkels seker aan nog goed gedink om aan ons te verkoop soos wat hulle met Kersfees en Paasfees doen.
So kom ons lees die teks en dan gaan ek net so ‘n paar goed uitlig.
Hierdie teks het my laat dink aan ‘n ander storie in die OT waar mense ook in verskillende tale gepraat het. Ons kry dit in Genesis 11: 1-9. Die storie van die toring van Babel. Volgens die storie het al die mense op die aarde net een taal gepraat. Hulle het toe besluit om ‘n stad met ‘n toring te bou wat strek tot in die hemel. So die mense is trots en arrogant – hulle probeer God speel. Die gevolg daarvan was dat God hulle toe versprei het in verskillende taalgroepe wat mekaar nie verstaan nie. Dit was die begin van slegte kommunikasie, disharmonie en vyandigheid tussen mense.
Die gebeure op Pinksterdag waarvan ons nou in Handelinge gelees het wil die gebeure by Babel omkeer. Pinksterdag lei ‘n nuwe era in waar mense weer bymekaarkom en na mekaar luister. Dis die rede vir die verskillende tale wat gepraat is – sodat almal die boodskap van Jesus en Sy Gees kan hoor en verstaan.
Dit bevestig Jesus se opdrag dat ons moet lief wees vir ons naaste. Dat ons vir almal moet lief wees.
Dit bevestig ook die opdrag in Handelinge 1: 8 – “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
Almal word ingesluit. Die Gees wat op inksterdag uitgestort is, is ‘n gawe aan almal. Die Gees reik uit na almal. Dit word vir ons bevestig deur die verskillende tale wat gepraat is en deur Petrus se toespraak – hy praat van seuns en dogters, jongmense, ou mense, dienaars en dienaresse. Interessante groepe mense wat hy noem – dis al die mense wat nie baie regte in die samelewing het nie. Die punt is - die Gees word nie ingeperk deur kultuur of taal of status nie. Die Gees is vir alma. Dis ons wat die Gees inperk omdat ons grense aan Hom stel.
Al hierdie tale en kulture beteken dat ons die Gees ook op onverwagte plekke sal hoor. Teveel kere hoor ons by Christene dat God se Gees by sommige mense is by sommige nie is nie. Ons hoor van kerke en mense waar die Gees nie werk nie. Wanneer ons in hierdie slaggat trap dan mis ons die gawe van Pinkster en ons maak vir God baie klein. Dan perk ons vir God in.
Maar wanneer ons begin verstaan dat God se Gees oral is – al is ons nie altyd bewus van Hom nie – dan begin ons idee van ander mense ook verander. As ons dit verstaan dan ontdek ons dat ons vir God kan vind in elke persoon wat ons pad kruis en in elke plek waar ons kom. In die grootste en rykste kerke tot in die kleinste armste kerke. Van die mooiste natuurwonder tot in die vuilste plakkerskamp. Van die mooiste en rykste mens tot die armoedigste en vuilste mens. Van die mense in die grootste huis in Flamingo Vlei tot Jane en Dane wat hier agter die kerk in hulle gebreekte kar slaap. Die Gees werk oral.
Hopelik sal hierdie Pinkster ons help om dit weer te besef en anders na mense te kyk en hulle anders te hanteer as gevolg daarvan.
Hoe doen ons dit? Hoe kry ons dit reg om so anders na mense en die wêreld te kyk? Wel die Gees help ons daarmee. Iemand het gesê – “Sonder die Gees is ons net mense wat die mooi storie van Jesus vertel, met die Gees is ons mense wat Jesus se storie leef.”
En ons leef Jesus se storie in hierdie wêreld deur die uitleef van die vrug van die Gees.
Galasiërs 5: 22 – “Die vrug van die Gees…is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”
Ons leef Jesus se storie wanneer ons hierdie goed begin uitleef met die hulp van die Gees.
Met dit alles in gedagte gaan ons nou ons skuld bely met ‘n gesamentlike gebed.
Dankie Here vir die Gees wat grense tussen mense wil afbreek.
Vergewe ons wanneer ons die werk van U Gees belemmer
Gees van God vergewe ons.
Vergewe ons vir die grense wat ons oprig.
Vergewe ons selfgesentreerdheid, woede, vrees vir verandering en wanneer ons U liefde wantrou.
Gees van God vergewe ons
Vergewe die grense wat ons oprig tussen onsself en U liefde
Vergewe ons besigwees, ons onafhanklikheid en selfsugtigheid
Gees van God vergewe ons
Vergewe die grense wat ons tussen ons en ander oprig.
Vergewe ons wrokke teenoor ander en ons ongeërgdheid teenoor die armstes
Gees van God vergewe ons
Vergewe die manier hoe ons die natuur verwoes.
Vergewe ons gierigheid, die misbruik van bronne en die besoedeling van die omgewing.
Gees van God vergewe ons
Gees van God help ons om te breek met al hierdie grense.
Begelei ons tot vryheid en ‘n lewe geleef tot U eer.
Gees van God help ons
Ons is gevul met die Gees van God
Ons is geroep om te dien
Ons gaan leef ‘n opstandingslewe.
In die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Amen
Dan is daar ‘n laaste gedagte wat ek in die teks raakgesien het en wat ek vining wil uitlig.
Ons kry dit in verse 7 en 12
· “Verras en verbaas sê hulle toe…”
· “Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan…”
Hierdie mense was verbaas, verras en verwonderd oor die werk van die Gees. Wanneer laas was jy verbaas, verras en verwonderd oor die werk van die Gees? Ek dink ons moderne mense sukkel hiermee. Ons het ons “sense of wonder” verloor. Ons hou teveel daarvan om in beheer te wees. Ons hou teveel van antwoorde en goed wat sin maak.
Ek het vir Jalize gevra om vir julle ‘n lied te sing wat sy self geskryf toe sy eendag verbaas en verwonderd was oor die werk van die Gees. Dit was een oggend met ‘n pragtige sonsopkoms toe sy God se teenwoordigheid intens beleef het. Die lied se naam is: Flow through me.
Nagmaalsgebed.
Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.
U gee die brood, die vrug van die aarde en van die arbeid van mense.
Laat dit vir ons die brood van die lewe wees.
Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.
U gee die wyn, die vrug van die wingerdstok en van die arbeid van mense.
Laat dit vir ons die wyn van die ewige koninkryk wees.
Soos die koring wat oor die velde gestrooi was
en die druiwe wat oor die heuwels versprei was,
op hierdie tafel saamgebring is in brood en wyn,
mag u ganse kerk net so van die uithoeke van die aarde af
saamgebring word in u koninkryk.
Ons dank en lof kom U toe, Here God, met hierdie Pinksterfees,
omdat U deur u Gees gekom het om vir ewig met ons te wees.
U het verkondig dat u Gees sal luister om te hoor wat ons van die Here ontvang.
So weet ons dat ons alles ontvang wat die Here vir ons voorsien.
Deur u Gees sal ons alles begryp wat ons nou nog nie verstaan nie.
Mag die Skepper-Gees die woorde van Jesus ’n werklikheid laat word.
Die nag waarin Hy oorgelewer is, het Hy van die brood gesê dat dit sy liggaam vir ons is.
Hy het die beker wyn die nuwe verbond in sy bloed genoem.
Deur u Gees onthou ons dit vandag en glo ons dat dit vir ons waarlik so sal wees.
Here God, Skepper van die hemel en die aarde,
Laat u lewegewende Gees oor hierdie maaltyd kom
sodat die brood en wyn vir ons die liggaam en bloed van Christus kan wees.
Deur Christus, saam met Christus, in Christus,
behoort aan U al die eer en die heerlikheid, Almagtige God en Vader,
in die eenheid van die Heilige Gees, nou en vir ewig. Amen.
Gebruik nagmaal
No comments:
Post a Comment