Romeine 10: 5-15
Deesdae gebruik ons GPS
om te weet waarheen om te ry of wanneer ons verdwaal. Ek onthou nog die tyd van
kaarte en kaartboeke. Ons wat met vakansie gaan – my pa wat bestuur en my ma
wat met die kaartboek sit en probeer om vir hom die pad te verduidelik.
Of jy nou GPS gebruik of
‘n kaartboek – jy moet net altyd besef dat dit nie volmaak is nie. Mens moet
altyd in ag neem dat paaie verander, brûe word gebou, geboue word verwyder of
gebou. So, jou GPS moet ook maar soms ge-reset word om die veranderinge in ag
te neem. Of jy moet sorg dat jy ‘n opgedateerde kaartboek kry, waarin die
veranderinge opgeteken is. Anders gaan jy jouself vasloop. Jy kan nie vandag ry
met ‘n kaartboek wat in 1990 gedruk is nie.
Dis ‘n goeie beeld om
ons teks te verduidelik. Paulus pleit dat ‘n mens jou GPS moet reset of dat jy
jou kaartboek moet opgradeer.
Die ou kaart wat jou nie
meer gaan help nie, is Moses se kaart. Ons lees daarvan in vers 5: “Moses skryf naamlik van die vryspraak op
grond van wetsonderhouding dat die mens wat doen wat die wet beveel, daardeur
sal lewe.”
Met ander woorde Moses
se ou kaart sê – jy word vrygemaak/verlos/gered deur die wette en reëls te
gehoorsaam. Jy word vrygemaak deur die regte dinge te doen en goed genoeg te
probeer wees.
Paulus sê dit is soos om
na die hemel toe te probeer opklim om Jesus te gaan haal of om onder die grond
in te grawe om Jesus uit die dood uit te gaan haal. Dis harde werk.
Dis die kaart wat
verouder is en nie meer geldig is nie.
Die nuwe kaart, sê Paulus
– is Jesus se kaart. Ons kry dit in verse 9-10. “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat
God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en
ons word vrygespreek; en met die mond bely ons en ons word gered.”
Die nuwe opgedateerde
kaart sê dus: dis nie die nakom van
wette en reels wat jou vryspreek nie. Dis Jesus wat dit doen en ons hoef
dit net te glo.
Kom ek verduidelik die
verskil tussen die 2 kaarte met nog ‘n beeld.
Wanneer iemand besig is
om te verdrink en die lewensredder moet uitswem om die persoon te red, is dit
soms vir die lewensredder nodig om die drenkeling met ‘n vuishou uit te slaan.
Want as die drenkeling paniekerig raak en te veel spartel kan die lewensredder
hom nie red nie.
Die boodskap van die
lewensredder is met ander woorde: “Hou op spartel, moenie jouself probeer red
nie, laat my toe om jou te red.”
Dis wat Paulus hier sê:
Jesus is die lewensredder wat ons wil red. Ons moet ophou spartel en Hom
toelaat om ons te red. Ware redding is nie iets wat jy doen nie, dis iets wat
met jou gebeur. Al wat jy moet doen is
om Hom te erken as Here van jou lewe.
Paulus sê…
As jy met jou mond bely
dat Jesus die Here is wat uit die dood opgestaan het, sal jy gered wees.
En hierdie redding
beteken dat jou verlede verby en vergewe is en dat jy ‘n nuwe toekoms kry.
Daar is die mooi verhaal
van die ou wat tydens die Eerste wêreldoorlog ‘n interessante gesprek in een
van die loopgrawe gehoor het. Een van die soldate was besig om te sterf en sy
medesoldaat het hom vasgehou. Die sterwende sê toe vir sy vriend – jy het ‘n
slegte lewe gelei. Die polisie soek jou. Maar daar is niks teen my nie. My naam
is skoon. So, neem my beursie, my papiere, my identiteit en my goeie naam. Gee
dan vir my jou papiere sodat jou misdade saam met my kan sterf.
Dis wat met ons gebeur
by ons redding – ons verlede sterf. Dit word uitgewis en ons kry ‘n nuwe
toekoms. Dis genade. Ons kry wat ons nie verdien nie.
Kom ons sing van hierdie
genade: Amazing grace.
Daar is nog ‘n laaste
gedagte – dis eintlik ‘n oproep wat Paulus aan ons almal rig. En ek wil dit met
‘n storie verduidelik.
Edward Kimball het in ‘n
skoenwinkel in Chigago gewerk. By sy gemeente was hy ‘n sondagskoolonderwyser.
In sy vrye tyd het hy ure spandeer met die straatkinders in Chigago se
middestad en hulle van hulle van Jesus geleer. Een van die straatkinders wat so
tot bekering gekom het, was D.L. Moody. Moody het ‘n bekende evangelis en
prediker geword.
F.B. Meyer het deur
Moody se getuienis tot bekering gekom en hy word ‘n prediker wat weer vir J.W
Chapman na die Here toe lei. Chapman word ‘n prediker wat vir ‘n bekende
basketspeler, Billy Sunday van Jesus vertel.
Billy Sunday begin toe
met herlewingsdienste in Charlotte, Noord-Carolina. Die evangelis, Mordagai Ham
word toe genooi om by hierdie herlewingsdienste op te tree. Tydens een van
hierdie dienste kom ‘n tienerseun tot bekering. Sy naam was Billy Graham en ons
almal weet wat ‘n wonderlike prediker hy sou word.
Dis wat Paulus bedoel
met sy woorde in verse 14-15.
“Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan
jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor
sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar
staan ook geskrywe: "Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die
goeie boodskap bring."
Geloof kom wanneer mense
van Jesus hoor. En mense hoor daarvan deur mense wat getuig. God self stuur
mense om te verkondig. God stuur gelowiges soos ek en jy om te verkondig. In
ons huise, in ons werksplekke, in ons vriendekringe, op straat. Die voetstappe
van gelowiges moet oral weerklink, sê Paulus.
Die vraag is: hoe klink
my voetstappe? Is dit voetstappe wat getuig? Is dit voetstappe van liefde,
omgee en besorgdheid teenoor ander?
Edward Kimbell, wat in
‘n skoenwinkel gewerk het, se voetstappe na ‘n klompie straatkinders het ‘n
groot impak in die wêreld gemaak. Sonder dat hy eers daarvan geweet het. Hoe
lyk my voetstappe?
Wie van julle ken iemand
wat ongelowig is? Of iemand wat kerklos is? My uitdaging is dat jy na hulle sal
stap en hulle saam met jou kerk toe nooi. As elkeen van ons 1 mens saambring
kerk toe, dink net die impak wat ons sal hê in hierdie omgewing.
No comments:
Post a Comment