Sunday, June 17, 2012

Preek 17 Junie 2012


Eerder immigreer as emigreer
2 Korintiers 5: 6-17

Verlede Sondag het Thinus daaroor gepreek dat ons lewens maar soos soos ‘n tent is, maar eendag gaan ons wees soos ‘n vaste gebou, wat stewig en ewig is. Nou is ons maar soos kleipotte wat maklik breek. Ons is fragile en breekbaar. Maar ons kan uitsien daarna dat Jesus vir ons wag en dat alles goed en reg sal wees saam met Hom. Dit gee vir ons hoop in hierdie lewe, wanneer dinge nie so lekker is nie. Ons moet leef vanuit hierdie hoop en die meeste maak van hierdie lewe.
Ek wil vanoggend aansluit by Thinus se preek en aangaan met die teks wat hy gelees het.

’n Jong seun ry op ’n trein tussen twee stede - dis ’n lang treinrit. Dit was ’n  warm, stowwerige dag, wat dit baie ongemaklik vir treinry gemaak het. Hierdie treinrit was veral in terme van landskap maar ’n bra oninteressante roete.
Maar die seun het geduldig by die venster uitgekyk en die vaal landskap dopgehou.  ’n Ou tannie het met deernis na hom geleun en gevra: “Is jy nie al moeg van die lang rit nie - die stof en die hitte?”
Die seun het glimlaggend geantwoord: “Ja, tannie, so ’n bietjie. Maar ek gee nie baie om nie, want my pa wag vir my aan die einde van hierdie rit!”

Dis hoe dit vir Christene is. Ons lewens is soos ‘n treinrit wat soms maar ongemaklik en seer is, maar ons kan dit hanteer want ons weet dat Jesus wag vir ons aan die einde van die rit.

Paulus besef dit en daarom skryf hy in vers 8: “Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here wil gaan woon.”
Paulus wil uit hierdie deurmekaar lewe na Jesus toe emigreer.
Maar hy besef ook dat dit nou nie so maklik is nie. Daarom sê hy in vers 9: “Maar, as ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil.”
Dus: ons wil graag saam met Jesus wees en ons sien uit daarna, maar ons is nou hier, so ons moet die meeste daarvan maak en lewe volgens Sy wil. In plaas van emigreer na Jesus toe, moet ons imigreer in die lewe in en die meeste maak daarvan. Dis waarvoor God ons roep.

Om te leef volgens Sy wil beteken ons is nuwe mense.
Soos Paulus sê in vers 17. “Iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe mens, die ou mens is verby.”
’n Priester hoor eendag van ’n vrou wat beweer dat God persoonlik aan haar verskyn. Hy was baie skepties en besluit om die vrou se aanspraak te toets.
Hy gaan na haar toe en sê: “Wanneer God weer aan jou verskyn, vra Hom om my geheime sonde, waarvan net Hy weet, aan jou te openbaar.” Só, dink die priester, sal ek vir seker kan bewys dat die ou vrou jok.
’n Maand later gaan die priester terug na die vrou om te hoor wat sy te sê het.
“Mevrou,” vra hy half smalend, “het jy toe vir God gevra om jou van my geheime sonde te vertel?”
“Ja, ek het.”
Die priester skrik. “En wat het Hy toe gesê?” vra hy versigtig.
“Hy het net gesê: ‘Watter sonde? Sê vir die priester sonde wat Ek vergewe het, vergeet Ek.’”

Ons is vergewe, ons is nuut gemaak. God gee vir ons ‘n getuigskrif om dit te bevestig.
Ferdinand Deist het iewers geskryf dat God se getuigskrif vir ‘n nuwe mens lyk soos volg.

Heil die Leser
Hiermee getuig Ek, die ondergetekende, dat Ek (jy kan maar jou eie naam hier invoeg) as mens persoonlik ken en met oortuiging soos volg oor hom kan getuig:
Vir My is hy só belangrik dat Ek die hele skepping vertraag het om hom eers te maak, en dat Ek, toe hy op ’n dag soek geraak het, nie gehuiwer het om my Seun ’n mens te laat word om hom te kom soek en terug te bring nie.
Van hom getuig Ek dat hy uit die goddelike geslagsregister stam en daarom deel het aan die goddelike natuur. Hy is maar weinig minder as ’n goddelike wese. Daarom het hy alle mag oor die bose en kan hy groot dinge doen. Hy kan homself verloën, hy is in staat om te verander, versoeking te weerstaan, te bid en te ontvang, lief te hê, om te gee, jammer te wees vir mense en te vergewe. Hy kan selfs lewe al het hy ook gesterwe.
Ek kan hom met vrymoedigheid aanbeveel.
Geteken: God

Dis hoe God ons sien. Die vraag is, sien ons onsself ook so?

Nuutgemaakte mense, wat leef volgens God se wil word gedring deur die liefde van Christus.
Dis hierdie liefde wat gemaak het dat Paulus by mense betrokke geraak het. Dis hierdie liefde wat gemaak het dat hy nie anders kon as om die evangelie te verkondig nie. Hy wou hê dat ander mense dit ook moes beleef. Dis hierdie liefde wat maak dat hy nie anders kan as om ander mense te dien nie. 
Ou kerkvader Augustinus het hieroor gesê: “hoe lyk die liefde? Dit het sagte hande om ander te versorg. Dit het vinnige voete om ander te gaan help. Dit het skerp oë om ander se nood raak te sien. Dit het goeie ore om die geringste klag of sug van ‘n naaste op te vang. Dit is hoe die liefde lyk.” 

Nuutgemaakte mense, wat leef volgens Sy wil kyk anders na ander mense.
Paulus skryf in vers 16: "Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie.”
In Italië gedurende die Tweede Wêreldoorlog het ’n Amerikaanse kapelaan goeie vriende geraak met ’n plaaslike Katolieke priester. Toe sterf die kapelaan tydens ’n veldslag! Die priester het gevra dat hy in die begraafplaas agter sy kerkie begrawe word. Die Amerikaanse regering het ingestem, maar toe sê die Katolieke kerk dat ’n nie-Katoliek nie in ’n Katolieke begraafplaas begrawe mag word nie! Hy is gevolglik buite die begraafplaas se heining begrawe.
Jare later het ’n vriend van die kapelaan ’n draai by die ou priester in Italië gemaak. Toe hy die kapelaan se graf sien, het hy verbaas uitgeroep: “Ah, I see that you got permission to move the body.” Toe kom hierdie antwoord “No, they told me where I couldn't bury the body. But nobody ever told me I couldn't move the fence.”

Ons skuif heinings as ons anders begin kyk na mense.
As ons ophou om mense te beoordeel volgens hulle swakhede, mislukkings, hulle uiterlike, hulle orientasies – dan skuif ons heinings. 
As ons begin om eerder te fokus op mense se potensiaal, moontlikhede, hulle waarde en kwaliteit – dan skuif ons heinings.
As ons begin om mense te respekteer en hulle met waardigheid en integriteit te behandel – dan skuif ons heinings.

Om op te som:
As ons so kyk na hoe deurmekaar hierdie lewe is, dan wil ons soms eerder na Jesus toe emigreer waar alles perfek sal wees. Maar ons kan nie. Ons is hier en ons moet die meeste daarvan maak en leef volgens sy wil.
So besef en celebrate dat jy ‘n nuwe mens is. En gaan leef soos ‘n nuwe mens.
Iemand wat gedring word deur die liefde van Christus om te gaan dien.
Iemand wat anders na ander mense begin kyk en hulle begin sien soos wat Jesus hulle sien.




Ek dank U Heer, vir my pappa se liefde trou;
Sy twee arms, wat my stewig elke dag vashou,
Om my te steun wanneer alles skeefloop of sleg;
Met ferme hande my te lei op die regte weg.
Vir blyke van waardering, as ek my bes probeer,
Ofskoon ek nie ’n wenner is, of baie goed presteer.
Ek dank U vir sy hande wat met ywer daagliks werk,
Al is hul vol eelte en grof, maak U hulle sterk.
Ek dank U vir sy oë wat ook alles raaksien,
Al moet ek soms teregwysing en straf verdien;
Ek dank U vir sy hart wat vol liefde klop vir my,
Ek sal nooit in my lewe weer so ’n pappa kry!
Seën en lei hom, Heer, hy is so spesiaal;
Ek is baie lief vir hom Heer, dankie nog ’n maal.
Amen



 




Sunday, June 10, 2012

Preek 10 Junie 2012


HANDE VOL GOEIE GOED!
2 KOR  4 : 13 - 5: 1

Die Amerikaanse skrywer en komediant,  Mark Twain was oppad om met  ‘n trein te vertrek, maar was nie lus om sy aktetas saam met hom te dra nie.  Hy vra toe die man in beheer van die bagasie:   Dink jy hierdie aktetas is sterk genoeg om die reis in die bagasiekompartement te oorleef?   **   Die man het Twain se tas geneem en op die platform neergegooi.  Dis wat hulle in Philadelphia met die tas gaan maak!    **   Toe tel hy dit op en slaan dit  5 tot 6 keer kliphard teen die trein.  Dis wat hulle in Chicago gaan doen!    **   Uiteindelik het hy aktetas op die vloer gegooi en daarop gespring totdat die skrywer se boeke en papiere daaruit gepeul het!   Dis wat hulle in Sioux City gaan doen!       **  Twain het alles sprakeloos geskok aangestaar en toe sê die man:   Meneer, as jy enigsins verder as Sioux City gaan, stel ek voor jy dra maar jou aktetas self.

Voel JOU lewe  ook soms soos Mark Twain se aktetas :: Heen-en-weer geslinger? Op-enAf gegooi? Pimpel-en-Pers geslaan?  Weet nie meer herwaarts of derwaarts?  MIN GOEIE DINGE //  MIN GOEIE NUUS!!     Die afgelope maande het ek opnuut besef dat die mense in ons omgewing regtig swaar kry :  Word soos Mark Twain se tas heen en weer gegooi en geslinger :   En ja! Die ekonomie en ’n klomp ander goete HET skuld hieraan  :: Gaan daarmee saam  : Het my opnuut laat besef dat ons mense BROOS is : Voos en seer en stukkend geslaan deur die lewe :  En ek het sien hoe hierdie BROOSHEID ons mense die DONKER invat ! 
Vr a jy ook baie keer ::  HOEKOM??   HOE gaan ek deur die dag kom?  Hoe gaan ek dit maak?  Hoe gaan ek oorleef?  Voel jy partykeer om net te skree ::  HELP!!!        Paulus help ons om perspektief te kry op hierdie Mark Twain aktetas van ‘n lewe…

THESE DIED THAT THE DESERT  MAY REJOICE .....

Ons swaarkry help ander blom vs 13-15    

Die groot Boulderdam en sy waterskema in die VSA het groot vrugbaarheid na  die omliggende woestynagtige areas gebring ! Daardie woestyngedeeltes floreer nou as gevolg van die water wat uit die Boulderdam se skema vloei.   Op ‘n inskripsie by die dam staan by die name van werkers wat met die bou van hierdie indrukwekkende dam dood is, die volgende woorde:    These died that the desert might rejoice and blossom as the rose.   Ons swaarkry help ander BLOM!

Dis presies wat Paulus hier ook skryf ::  Hy kon deur al die swaarkry en pyne gaan, omdat hy het geweet dat dit ‘n oorvloed egte Jesus-lewe vir ander sou bring.   God gebruik vandag nog vir jou en my as Jesus-volgelinge (én hoe hoopvol ons moelike dinge hanteer) om mense se harte vir Hom oop te maak sodat hulle lewens kan blom!  Hy gebruik JOU om tot seën vir ander te wees!!   **  Let dus maar mooi op hoe jy leef  ::  Jy het ‘n EFFEK op ander mense se lewens ::  Jy kan tot SEËN vir ander mense wees! Jy kan ander mense positief beinvloed!  Jy kan ande rmense positief VERANDER!!     Die Gees help jou om so positief te lewe!    ONTHOU net :: Al gaan dit HOE moeilik // Hoe swaar :: God is  BY ons, al kry ons swaar! 

GELOOF KYK VORENTOE    

Die geheim van vasbyt! Vs 16-18   

Hierdie Mark Twain aktetas van ‘n lewe kan jou en my bekommerd maak // Moed laat verloor!!      Sielkundiges het met navorsing ‘n TYDSTABEL VIR BEKOMMERNIS saamgestel ::  **  Op 18, bekommer ons oor IDEALE    **   Op 20, oor VOORKOMS ::   **  Op 23, oor MORALS   **  Op 26 oor GOEIE INDRUKKE ::  **  Op 30 oor HOË LEWENSKOSTE, SALARIS EN SUKSES ::  **  Op 33 oor WERKSEKURITEIT ::  Op 41 oor die VERLIES AAN AMBISIE  ::  Op 45 + oor GESONDHEID.

Elke stadium van die lewe het  sy eie UITDAGINGS.    Paulus deel hier met jou en my die GEHEIM van VASBYT in én deur moeilike omstandighede ::  JY EN EK IS NOOIT ALLEEN NIE. GOD IS DIE HELE TYD (24/7) VOOR, LANGS, AGTER, BO, ONDER, BY ÉN IN ONS!    GELOOF KYK VORENTOE!!

Dink onwillekeurig aan Sint Patrick se pragtige gebed:   Christus met my, Christus voor my, Christus agter my, Christus in my, Christus onder my, Christus bo my, Christus regs van my, Christus links van my, Christus waar ek lê, Christus waar ek sit, Christus waar ek opstaan, Christus in die hart van elke mens wat aan my dink,  Christus op die tong van elke mens wat oor my praat,  Christus in elke oog wat my sien, Christus in elke oor wat my hoor.  Christus wat vandag my beskerm teen alle gevaar wat oor my pad kom, sodat ek die lewe in sy oorvloed mag beleef. Amen.

’n Storietjie ::  ‘n Klein dogter het naby die begraafplaas gebly en soms in donkerte daardeur geloop. Toe iemand haar vra:  Is jy nie bang nie?   het sy geantwoord ::  O, nee, my huis is net aan die anderkant.        Of soos die klein seuntjie wat saam met  sy oupa in die berge gaan stap het. Toe hulle so ent tussen die rotse en die bome deur gestap het,  vra die oupa vir die seuntjie: “Weet jy  waar ons is?”  Die seuntjie antwoord: “Nee”.   Die oupa vra: “Weet jy waarheen ons oppad is?” En die seuntjie antwoord weer: “Nee, ek  weet nie.”    Die oupa glimlag en sê: “So, wat jy vir my sê is dat ons verdwaal is.”    Die seuntjie kyk op na sy oupa en sê: “Nee, ek is nie verdwaal nie, ek is saam met jou!      Dis wat hoop is ::  Mense op na ons Pa se huis, is nie bang nie, want ons stap in elke geval NOOIT alleen nie.   Mense oppad na ons Pa se huis, stap altyd SAAM met Hom!.

GOD IS MET JOU WAAR JY OOKAL GAAN  

God  is  BY ons ... Al kry ons swaar!  Vs 8 – 10   

Paulus het OOK so ’n Mark twain-tas lewe beleef!!  Maar hy besef waar sy HOOP lê  // waa sy KRAG lê  :  God is BY ons, al kry ons swaar      **  Ek kry dikwels swaar Maar ek is nooit mismoedig nie.    **  Ek weet nie elke dag presies wat ek moet doen nie ::  Tog is ek nooit radeloos nie.   **  Ek word vervolg  ::  Maar ek weet God los my nooit alleen nie.   **  Ek word onderstebo geloop, maar ek staan elke keer weer op.   
**   Net soos Jesus gely het toe Hy op aarde was, ly ek ook. Die merktekens daarvan is oral aan my lyf te sien. Ja, in my eie liggaam dra ek Christus se lyding en dood heeltyd met my saam  ::  Tog is die groot krag van Jesus ook deur my liggaam aan die werk.

‘n Klein dogter en haar pappa besoek die hoë Empire State gebou. Hulle gaan op en op en op in die hysbak. Die dogtertjie hou haar pappa se hand styf vas en vra later: “Pappa, weet God dat ons kom?” 
Paulus leer ons ::  Ja!!  God WEET dat jy oppad is : Dat jy kom!!!   God weet alles en wat Hy vir ons voorberei  het,  asemrowend mooi is!    Die lewe met al sy oppe en af’s is steeds wonderlik, maar onthou ::  God se beste vir jou en my lê nog en wag…  Die Ewige Lewe wat vir EWIG bly staan!

En ja!  Ons is kleipotte : Breekbaar : Gekraak : En ons weet mos alles gaan  eendag  eindig!!  En ja :: Ongelukkig het jy net een lewe.   Daarom moet jy besef  ::  Ja, die lewe hier is groots, maar dit is net ‘n klein refleksie van iets groters wat vir ons wag!    Ons weet  en verstaan bitter min van die ewge lewe, maar ons weet dat Jesus daar is ::  Dat Jesus vir ons wag.     Hierdie wete van die ewige lewe en Jesus wat vir ons wag – gee vir ons hoop in die onseker wêreld waarin ons nou leef.  Maak nie saak wat ons nou beleef nie – ons kan uitsien na ‘n toekoms waar alles weer sal wees soos God dit bedoel het om te wees.    Daarom moet jy ek ek hierdie een lewe met albei hande aangryp!!  CARPE DIEM :: GRYP DIE DAG!!!    Want weet jy wat ::   Jy en ek het ‘n gewaarborgde toekoms  -  ‘n Onbeskryflike grootse toekoms wat God vir ons voorberei :; ’n EWIGE LEWE saam met Hom!!!  En dit gee ons hoop!    Winston Churchill is gevra wat was die beste wapen wat Brittanje teen Hitler gehad het..    Sy antwoord was:   It was what England's greatest weapon has always been—HOPE!

Die Engelse skrywer-digter, Rudyard Kipling, beskryf dit so mooi  ::    When Earth's last picture is painted :: When the oldest colors have faded,  the Master of all good workmen shall put us to work anew...and never be tired at all. And only the Master shall praise us... And no one will work for the money. No one will work for the fame. But each for the joy of the working, and each will draw the thing as he sees it for the God of things as they are.


Sunday, June 3, 2012

Preek 03 Junie 2012


1 Johannes 5: 6-13

Dit sal darem baie lekker wees om sonder enige onsekerheid in die lewe te kan leef. Om sekerheid te kan hê oor alles in die lewe. Dit sal die lewe voorspelbaar maak met geen onverwagte dinge wat die lewe versteur nie. Jy sal nooit hoef te worry oor hoe dinge gaan uitwerk nie. Daar sal geen of versigtigheid hoef te wees nie.
Dit sal nie meer nodig wees vir korttermynversekering, lewensversekering, ongeskiktheidtoelae, geen medisefondse of werkloosheidversekering nie. Alles is veilig, voorspelbaar en seker.
Dit sou seker lekker wees, maar ons weet mos die lewe werk nie so nie. Die lewe is nou maar eenmaal onseker, onvoorspelbaar en die verander vinnig. En dit help nie ons skop daarteen nie. Ons moet dit aanvaar en die meeste daarvan maak.

Maar as gelowiges is daar tog iets waaroor ons seker kan wees.
Ons lees dit in 1 Johannes 5:6-13.

In die film, Narnie. Voyage of the Dawn Treader vra die kinders vir Aslan, die leeu, of hulle hom weer sal sien. Hy antwoord dat hulle hom verseker eendag weer sal sien.
Dis wat Johannes in die teks ook sê. “Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.”
Dit waarvan ons as gelowiges seker kan wees is dat ons eendag die ewige lewe sal hê. Dat ons eendag vir God sal sien.

In die Joodse regstelsel was dit ‘n vereiste om 3 getuies te gebruik. So Johannes gebruik dan die beeld van ‘n Joodse hofsaak wanneer hy skryf dat daar 3 getuies is wat getuig en bevestig dat die ewige lewe vir gelowiges wag. Water, bloed en die Heilige Gees.

Water dui op Jesus se doop… maar ook op ons doop - ons doop merk ons as God se kinders, wat deur sy genade en liefde toegang het tot die ewige lewe.
Bloed dui op Sy kruis… die offer wat Jesus gebring het sodat ons die ewige lewe kan hê. 
Die Heilige Gees ons 24/7 ons leermeester, mentor, metgesel, lewensafrigter is, wat ons gedurig herinner dat ons die ewige lewe het.

Water, bloed en die Gees - 3 betroubare getuies wat bevestig dat ons deur ons geloof in Jesus die ewige lewe het!

Wat is die Ewige lewe?
Deur die jare het mense al baie hieroor gewonder. Byvoorbeeld, ‘n klompie jare gelede het daar ‘n boekie verskyn met die titel: Die eerste 5 minute na die dood. Ek het na die boek gekyk en onmiddelik gewonder – hoe weet die skrywer wat gebeur in die eerste 5 minute na die dood? Hy was immers nog nie daar nie, anders sou hy nie die boekie kon skryf nie. Dis mos die probleem met die ewige lewe – jy moet dood wees om te weet hoe en wat dit gaan wees.

Paulus som die probleem baie mooi op in 1 Korintiers 13: 12 “Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spiel en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.”

Ons weet nie wat presies die ewige lewe behels nie. Alles wat dus nou daaroor gesê word, is blote spekulasie. Maar eendag sal ons wel alles weet.. 

Donald Shelby het gesê: “There is much we do not know about the little we do know concerning life after death; But the little that we do know is enough - indeed, more than enough.”

Wat is die bietjie wat ons wel weet?
Kom ek verduidelik dit so. Ons het ‘n baie oulike hond, Bella. Sy is ‘n Labrador wat baie lief is vir die kinders. Trouens ek dink sy dink sy is een van die kinders. Soms gebeur dit dat die kinders in hulle kamers is met die deur toe. Bella kan dit nie verstaan nie, so sy gaan krap dan aan die toe deur. Sy weet nie wat daar binne die deur gebeur nie, maar sy weet die kinders is daar binne.
Met die ewige lewe werk dit ook so – ons weet en verstaan bitter min van die eiwge lewe, maar ons weet dat Jesus daar is.
En dis wat die skildery ook vir ons wys – ons weet dat Jesus vir ons wag.

Hierdie wete van die ewige lewe en Jesus wat vir ons wag – gee vir ons hoop in die onseker wêreld waarin ons nou leef.  Maak nie saak wat ons nou beleef nie – ons kan uitsien na ‘n toekoms waar alles weer sal wees soos God dit bedoel het om te wees.

Maar die grootste fout wat ons kan maak is om passief agteroor te sit en net uit te sien na die tyd wat ons saam met Jesus gaan wees.

Jesus se lewe op aarde wys en leer vir ons iets anders. Hy het geweet hy gaan net ‘n kort tydjie op aarde wees. Daarom was hy heeltyd besig om sy dissipels voor te berei en te leer. Daarom beklemtoon hy ook die grootste gebod – alles kom daarop neer – wees lief vir God en wees lief vir jou naaste.  Dis waarop geloof neerkom – liefde vir God en liefde vir jou naaste.

Na Jesus se sterwe en opstanding weet hy dat gaan opvaar na die hemel om saam met sy vader te regeer. So hy doen moeite om vir sy dissipels voor te berei vir die tyd wat hy nie meer by hulle gaan wees nie. 
Hy sê nie vir hulle dat hulle nou rustig moet wees en wag vir die ewige lewe saam met Hom nie.
In Matteus 28: 19-20 sê hy vir hulle: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Geloof gaan nie net oor die ewige lewe nie. Geloof en die ewige lewe is nie ‘n ‘pie in the sky when you die” nie. Geloof is iets wat jy nou al moet doen. Geloof is ‘n werkwoord. Dis om aktief lief te wees vir God, om aktief en prakties uit te reik en lief te wees vir jou naaste. Geloof is om ‘n getuie vir Christus te wees in alles wat jy doen en aanpak totdat die ewige lewe eendag vir jou aanbreek.
Dis nie genoeg om bloot kerk toe te gaan, Bybel te lees en voorbeeldig te lewe en te wag vir die wonder van die ewige lewe nie.
Geloof verg dat ons as gelowiges, in ons omgang met ons vriende, ons ouers en kinders, ons werkgewers en werknemers, in die ekonomie, in die politiek in ons verhoudings met ons landsgenote op ‘n aktiewe en praktiese manier iets van die wonder van die ewige lewe vir mense sal begin wys.    
Dat ons ons geloof op so ‘n manier sal begin uitleef, dat mense so ‘n ietsie van die ewige lewe sal begin raaksien.

Om op te som. As ons in Jesus glo wag die ewige lewe vir ons. En ons weet dit gaan wonderlik wees, want Jesus is daar. En dit gee vir ons hoop. Maar intussen , totdat ons daar kom, kom ons leef op so ‘n manier dat die ewige lewe vir mense aanloklik sal wees en sal begin deurbreek in ons onseker wêreld.

Sunday, May 27, 2012

Preek 27 May 2012


 Dien soos Jesus

Hierdie kwartaal het ons gefokus op die waarde van Betekenisvolle verhoudings. Ons het dit gedoen met die reeks oor doelgerigte liefde aan die hand van 1 Korintiers 13 en met die pinksterreeks wat gegaan het oor Geesvervulde verhoudings waar ons by Jesus geleer het oor verskillende aspekte van verhoudings. Vanoggend op hierdie pinksterfees sluit die pinksterreeks af deur te kyk hoe ons in Geesvervulde verhoudings mekaar moet dien soos Jesus.

Ek wil begin met ‘n storie wat ‘n mooi voorbeeld is van diens. Dit het onlangs as ‘n artikel in Die Beeld verskyn. Dis die oor die NG Gemeente Boksburg-Suid. Die omgewing waarin die gemeente geleë is het verander en baie van die gemeentelede het na ander voorstede toe getrek. Dit het gemaak dat die gemeente op die randjie was om hulle deure te sluit. Daar was net 5 kerkraadslede, 5 kinders in die Sondagskool en op ‘n Sondag was daar net so 20 mense in die erediens. Die Ring het toe aanbeveel dat die gemeente moet gesluit word.
Maar ‘n paar lidmate onder leiding van Choert Maartens het geweier, want hy het gevoel hulle was daar met ‘n roeping. Hulle het toe ‘n kerklike kultuurverandering ondergaan. Waar die gemeente vroeër net ingestel was op instandhouding en oorlewing was hulle fokus nou op dienslewering.
Dit het klein begin, met kos aan ‘n paar lidmate wat dit nodig gehad het. Vandag koop hulle maandeliks kruideniersware vir ‘n hele paar gesinne. Hulle betaal die skoolgeld van ‘n klompie kinders. Hulle het ‘n groot klerebank. Hulle gee vir straatmense kos. Hulle help mense wat vasbrand koshuisgeld vir kinders, huurgeld en munisipale rekeninge.
En die pastorie is omskep in ‘n huis waar 16 mense woon wie nie ‘n ander heenkome het nie. Die vrou wat die huis bestuur het ookal ‘n klompie mense wat in die huis woon gehelp om werk te kry.
Vandag is daar weer 130 mense wat die eredienste bywoon. En hulle weet nie waar al die geld vandaan kom vir al hierdie projekte nie, maar hulle boeke klop en daar is nog geld oor om te spaar ook.   
Toe hulle begin fokus op dienslewering en die aanspreek van nood in hulle omgewing het die gemeente weer begin groei.
Dit het my laat dink aan die eerste gemeente in Handelinge. Hulle het nie gegroei oor die uitstorting van Heilige Gees en al die wonderwerke nie. Hulle het gegroei omdat hulle vir mekaar gesorg het en omdat hulle diens gelewer het in hulle gemeenskap. Die uitstorting van die Heilige Gees het hulle gedagtes verander en hulle bemagtig tot dienslewering.

Kom ons gaan kyk wat leer ons by Jesus oor dienslewering. Ek gaan 2 teksgedeeltes gebruik hiervoor.

Johannes 13: 2-5; 12-17
Toe Jesus vir sy dissipels wou leer wat dienslewering is. Toe was hy hulle voete. Omdat die mense oral gestap het, het hulle voete baie vuil geword en die gebruik was dat die laagste slaaf in ‘n huishouding mense se voete was voordat hulle by die huis ingaan.
Dis die eerste belangrike ding – Jesus, die rabbi, die leermeester doen die werk van ‘n slaaf. Niks is benede hom nie. Diens begin by nederigheid.
Verder was hy ook Petrus en Judas se voete. Hy weet hulle gaan hom verraai en verloën, maar Hy was nog steeds hulle voete. Jesus se liefde en diens bedek hulle foute en sondes. Niemand word dus uitgesluit as dit by diens kom. Ons het nie die luukse om te besluit wie gedien moet word en wie nie. Ons word net geroep om te dien waar dit nodig is.

Wat leer ons nog by Jesus oor diens?

Matteus 5: 41-42.
Om hierdie woorde te verstaan moet ons iets van die gebruike van hulle samelewing verstaan.
Destyds het die Romeinse soldate dikwels dwaar begasie – hulle kit – oor groot afstande gedra. Veral wanneer hulle deur dorpsgebiede gestap, was die gebruik dat iemand hulle swaar vrag dan vir hulle gedra het. Daar was selfs ‘n wet wat jong seuns verplig het om die soldaat se swaar sak vir ten minste ‘n kliometer ver te dra.
Alhoewel dit ‘n alledaagse gebruik was, het niemand daarvan gehou nie. 
Omdat die gebruik so wyd verspreid was in Jesus se tyd, het Jesus iets voorgestel wat total onverwags was en dinge op sy kop gekeer het. Niemand het daarvan gehou om die Romeinse soldate te help nie  - nou kom Jesus en Hy sê moenie die sak net een kilometer dra nie, dra dit nog ‘n kilometer verder. 
So die beginsel wat ons hier by Jesus leer: doen altyd meer as wat van jou verwag word.
My ervaring is dat daar min verkeersknope is in die tweede kilometer, want daar is min van ons wat kans sien om dit te doen. Veral as dit by dienswerk kom.

Vir Jesus-volgelinge gaan dit nie oor mag en heers nie, dit gaan oor nederigheid – dis bereid om die werk van ‘n slaaf te doen.
Diens gaan daaroor om die beste vir almal te soek – dis wen-wen vir almal of niks nie.
Diens beteken gehoorsaamheid aan God – ons maak soos Jesus vir ons gewys het.
Diens beteken omgee vir alle mense – vriende, familie, vyande, vreemdelinge, mense met sondes en foute.
 
Ek wil afsluit met 2 aanhalings:
Jesus het gesê: “Maar die grootste onder julle moet bereid wees om ander te dien.” (Matt 23: 11)

“Almal het die mag van grootsheid.  Nie vir roem nie, maar vir grootsheid, omdat grootsheid bepaal word deur diens”. (Martin Luther King Jr)



Sunday, May 20, 2012

Preek 20 May 2012


Die gewoontes van die liefde
1 Korintiërs 13:7

Hierdie is nou al reeds die sesde Sondag wat ons besig is met die liefde en as julle selfs net in een van die vorige dienste was sal julle onthou en met my saamstem dat hierdie nie ‘n sommer-maar-net liefde is waarmee ons besig is nie. Hierdie eienskappe wat ons hier van leer oor die liefde gebeur nie net sommer-maar-net omdat ons lief of verlief is nie. Dit gebeur nie sommer-maar-net vanself voordat ons dit nog kon keer soos daai groot liefdes wat ons almal een of ander tyd op skool gehad het nie. Dit kan nie sommer-maar-net wees nie, want dit is ‘n doelbewuste liefde. Dit is daai agape liefde waarvan ons al herhaaldelike kere gepraat het.  Wanneer ons dus vandag oor nog ‘n paar gewoontes van die liefde gaan praat, moet ons dus onthou dat ook hierdie gewoontes van die liefde nie sommer-maar-net is nie. Daarom gaan julle dalk ongemaklik voel as julle dit hoor of (soos ek) sukkel om dit ten volle te verstaan. Maar dis hoe dit moet wees. Dit is onmoontlik dat ons sommer-maar-net sal saamstem of dit sommer-maar-net sal kan doen, want Agape liefde werk nie so nie. Dit is, soos ek gesê het, doelbewus en daarom is ook hierdie gewoontes waaroor ek iets gaan probeer om met julle te deel, ook doelbewus, want hierdie liefde het onvoorwaardelik lief, dit het lief al voel ons nie altyd om lief te he nie.  Dit is die tipe liefde wat uiteindelik daartoe gelei het dat God sy Seun aan die kruis laat sterf het – nie sommer-maar-net nie, maar doelbewus, om vir ons te kom red.

Met dit alles in gedagte, kom ons lees 1 Kor. 13:7. Ons het hier te doen met vier gewoontes van die liefde, maar enige iemand wat al probeer het om elke oggend vroeg op te staan om te gaan draf en hiervan ‘n gewoonte te maak, sal met my saamstem dat gewoontes nie sommer net vanself tot stand kom nie, dit verg harde werk – bitter harde werk. So as jy hierdie vers lees en voel: nooit gaan ek kan liefhê met agape liefde nie, moenie skuldig voel nie, jy is nie alleen nie, maar dit is wel soos iemand wat hom of haarself dwing om elke oggend op te staan: dit raak al hoe makliker soos wat jy fikser raak. So dalk moet ons eerder net aan onsself as onfikse lief hê-ers dink en hierdie volgende vier gewoontes moet ons oefen. Die voordeel hiervan is dat ons darem nie noodwendig vroeg op te staan om dit te doen nie.

Verskillende vetalings:
Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles. Die liefde sal nooit vergaan nie. (NLV)

Puts up with anything, Trusts God always, Always looks for the best, Never looks back, But keeps going to the end. Love never dies. (The Message)

As 'n mens iemand liefhet, kan jy stilbly oor sy foute. Jy kan die beste dinge oor hom glo en die beste van hom verwag en nooit ophou om hom lief te hê nie. Liefde gaan nooit tot niet nie! (Die Lewende Bybel)

It protects more than blockbuster hero; it trusts more than a toddler. It’s always positive; it always hangs in there. Love doesn’t let you down. (The Word on the street)

Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het; liefde glo altyd die beste van ander mense en verwag dit ook van hulle. Liefde ken ook g’n einde nie. Liefde is nie iets wat ’n mens kan opgebruik en dan sê dis klaar nie. (Die Boodskap)

Love knows no limit to its endurance, no end to its trust, no fading of its hope; it can outlast anything. It is, in fact, the one thing that still stands when all else has fallen. (JB Phillips translation)

Die liefde 1) bedek alles, 2) glo alles, 3) hoop alles, 4) verdra alles. (1983 Vertaling)

Dis eenvoudig om hierdie vier punte raak te sien, ons vertaling som dit mooi vir ons op, maar wat beteken dit. Om ‘n gewoonte te vestig, moet ons tog weet wat daardie gewoonte behels. Om vroeg op te staan om te gaan draf, behels dat ek eerstens ‘n wekker moet hê en as ek een het, moet ek hom stel. Dan moet ek actually opstaan en aantrek en buiten toe gaan en begin hardloop. En hardloop op sy beurt het weer ‘n hele stel reëls, soos dat jy moet strek, nie te vinnig moet begin nie, ens. Al hierdie “reëls” vir die vestiging van die gewoonte klink redelik vanself sprekend tot jy dit actually moet begin doen. Want wie druk nie die snooze knoppie ‘n paar keer voor hulle opstaan nie, en wie warm werklik heeltemal op voor hulle begin hardloop?

So al wat ek vandag wil doen is om bietjie met julle te gesels oor wat hierdie vier gewoontes behels, want as ons dit weet kan ons begin deur “ten minste ons wekker te stel.”  

1.  Bedek alles
Die eerste gewoonte waarvan ons lees, is dat die Liefde alles bedek.  Die Griekse woord στέγει kan ook vertaal word met ‘om ‘n dak op te sit’.  

Ons sou dus kon sê: die liefde bou ‘n dak oor als.  En wat is die basiese doel van ‘n dak?  Om ons veilig te hou, om ons te beskerm, om te keer dat ons natreën.  Twee goed is egter belangrik wanneer ons aan die idee van ‘n dak dink, die eerste is dat wanneer ons ‘n huis bou moet ons kies om ‘n dak op te sit (obviously) en tweedens help dit nie daar is ‘n dak, maar ons kies steeds om buite in die reën te slaap nie. Ons moet dus kies dat die liefde alles bedek, die dak spring nie net vanself op die mure nie, maar ons kies ook om self onder daardie liefde in te beweeg.

Onder hierdie dak van liefde hou ons mekaar veilig.  Daar sal foute of gebreke van mense nie in die openbaar gebring word nie.  Onder hierdie dak sal liefde probeer om dinge stilweg reg te maak eerder as om dit in die openbaar te stel sodat mense verneder of oor die vingers getik kan word.  M.a.w. die liefde, agape liefde, is bereid om alles te bedek vir die doel van genesing. Die welwese van die ander persoon is altyd die heel belangrikste en daarom moet versorging onder hierdie dak geskied.

Liefde haat dus ‘n skandaal, want ‘n skandaal maak mense seer en liefde haat dit as mense seerkry.  Onder hierdie dak kan daar nie klippe gegooi word na ander nie, selfs nie na bekende mense se sondes nie.  Dit is belangriker vir liefde dat mense genees word, as wat hulle verneder word. Skinder gebeur dus daar waar ‘n huis sonder ‘n dak staan.

In Matt 18: 15 kom leer Jesus ons iets van hoe ons optree onder die dak van liefde.
As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word.
Hy sê as iemand onreg aan jou gedoen het, probeer dit tussen julle twee oplos en as dit werk het jy jou broer/suster terug gewen.  Indien dit nie werk nie, neem nog een of twee mense saam.  Om die hele kerk te betrek en te vra om hulp moet net as die heel laaste uitweg gebruik word. Let wel dat Hy nêrens sê dat die saak geïgnoreer moet word nie. Bedek beteken nie dat ons net die ander pad kyk uit liefde nie, maar dit beteken wel dat ons wat ook al onder die dak is, nie aan die groot klok  hang nie.

Juis oor dit wat ons in Matt. 18 lees, moet ons ook onthou wat in 1Kor.13:6 (die vers net voor ons s’n) staan: die liefde hou nie van onreg nie. Want die vraag kan maklik by ons ontstaan: Bedek die liefde regtig alles?  Dit is dan wat ons herinner moet word dat die doel altyd genesing is: Om sekere weggesteekte booshede te bedek, is soos om ‘n dak te hê, maar die spreiers onder die dak aan te sit. It defeats the whole purpose. Ons moet onthou dat hierdie dak nie net vir jou en jou verhoudinge (goed of sleg) is nie, maar dat die liefde genesing vir almal moet bring. Wanneer seker dinge dus weggesteek word onder die dak, eerder as beskerm word, keer dit dat genesing vir ander moontlik is en daarom moet ons vir ‘n baie diepe wysheid bid sodat die Here ons kan help onderskei wat ons motiewe is wanneer ons iets “bedek.” Doen ons dit om te beskerm en sodoende vind almal genesing, of doen ons dit om weg te steek, wat almal net sieker maak.

2.  Glo alles
Die tweede gewoonte waarvan vers 7 ons kom leer is dat die liefde alles glo. Let wel, dit sê nie dat die liefde naïef is of stupid is nie. Dit beteken wel dat die liefde nie onnodig skepties is nie.
Die oorgrote meerderheid van kommentare stem ooreen dat daar hier bedoel word dat die liefde die goeie dinge glo.  Die liefde kies altyd om die goeie dinge van ander te glo, eerder as die slegte.  Een skrywer beskryf dit goed as hy sê: ‘love is always eager to believe the best’.  Ek wil nie hierdie idee van geloof oor vereenvoudig nie, maar ons moet erken dat as mense is ons van nature meer geneig om die slegte van mense te glo. As mense is ons van nature skepties. Die liefde is egter nie. Die liefde se geneigdheid is om die goeie te glo.  Ek dink nie hier word bedoel dat liefde maklik verneuk kan word deur mense se valse bedoelings nie, maar ek dink tog dat ons in liefde eerder vir mense die ‘benefit of the doubt’ moet gee, dat ons eerder moet kies om die goeie dinge te glo.

Soos ek gesê het beteken dit nie dat die liefde stupid is nie. Die liefde kan wel onderskei tussen die ongeregtigheid en die waarheid. En daarom kan ons nie vers 6 apart van hierdie vers lees nie, maar liefde wil nie in alles altyd eers die on-waarheid soek nie.  Hierdie agape-liefde sien  die beeld van God in ander raak.  Dit is altyd opsoek na daardie iets van God binne ‘n ander persoon, al sukkel ons soms om te glo dat sekere mense iets ‘goeds’ kan bevat.

3.  Hoop alles
Die derde gewoonte wat ons hier mee kennis maak is hoop. ελπιζει  - letterlik: om te verwag, om te vertrou, om te hoop.
Ek dink die eerste ding wat belangrik is om te besef as daar gesê word dat die liefde ‘alles hoop’, is dat dit nie verwys na ‘n tipe onredelike optimisme wat nie die werklikheid in ag kan neem nie.  Hierdie hoop verwys eerder daarna dat dit wyer om mislukking of hopeloosheid as finaal te beskou.  Hierdie hoop is anders as die optimisme wat ‘n trotse rugby ondersteuner het as hy dink sy span kan nog wen as hulle 30 punte agter is 3 min voor die einde.

Liefde wat ‘alles hoop’ rig hier die oog op die toekoms en verwag dat dinge goed sal afloop.  Dit is m.a.w. nie bereid om ‘n persoon of ‘n saak te los as verlore nie, maar verwag ‘n gelukkige wending ten goede.

Soos ek reeds genoem het moet daar ‘n onderskeid getref word tussen gewone menslike optimisme en ware hoop.  Gewone optimisme verwag dat ‘n saak of persoon vanself sal beter raak.  Ware hoop kan egter nie sonder vertroue in God nie.  Hoop gaan dus saam met die vertroue dat God die wêreld sal lei deur sy genade, tot beter dinge.

Dit is doelbewus dat ‘hoop alles’ na ‘glo alles’ geplaas word in hierdie vers.  Hoop is die sekerheid dat dit wat ons glo, die oorwinning van God se genade, uiteindelik sal waar word.  Die liefde kan nie sonder hoop nie, want dit is hoop wat liefde lewendig hou.  Dink bv.: Wanneer daar liefde aan iemand gegee word het daardie persoon weer hoop.  Wanneer iemand weet hy/sy is geliefd, het hy/sy weer hoop.  Ons moet onthou dat wanneer ons lief het, gaan ons seer kry, pyn he.  Maar hierdie ‘hoop-alles gewoonte’ waarvan Paulus in 1 Kor. 13 praat  stel ons in staat om te kan liefhê te midde van pyn, want ons leer dan om te verwag en om verras te word deur God en vreugde in ons seer.

Die volgende storie kan dalk help om die ‘hoop alles’ gewoonte van liefde te verduidelik:
In sy boek, The Mystery of Love, vertel Rabbi Marc Gafni van sy heel eerste bar mitzvahs wat hy moes doen. (’n Bar mitzvah is ’n Joodse oorgangsritueel waartydens ’n seun volwasse godsdienstige verantwoordelikhede kry.) Hierdie  bar mitzvah was vir ’n seun met die naam Louis gehou. Louis was egter ’n ongelukkige, onseker en hartseer kind. Sy onsensitiewe ouers het geen bydrae gelewer om sy selfbeeld op te bou nie, inteendeel! Hulle het nie ’n geheim daarvan gemaak dat hulle glo dat hy te dom was om die tradisioneel Hebreeuse gedeeltes te memoriseer wat van ’n seun verwag word om tydens bar mitzvah voor te dra nie.

Rabbi Gafni was vasberade om die beste uit Louis na vore te bring. Hy het ekstra tyd met Louis deurgebring deur liedere en gebede vir hom te leer. In die proses ontdek hy dat Louis eintlik ’n baie knap seun met ’n pragtige stem was.  Op die dag van sy bar mitzvah, het Louis vol selfvertroue die gedeeltes wat hy moes memoriseer, voorgedra.
Na afloop van die seremonie, het Rabbi Gafni voor die gemeente gaan staan, Louis in die oë gekyk en gesê: “Louis, this morning you met your real self. This is who you are. You are good, graceful, talented, and smart. Whatever people told you yesterday, and Louis, whatever happens tomorrow, promise me one thing. Remember . . . this is you. Remember, and don't ever lose it.”
’n Paar jaar later het Rabbi Gafni ’n brief van Louis ontvang. Die seun wie se ouers voorspel het dat hy te dom was om ’n tradisionele bar mitzvah te kon doen, was besig om medies te studeer. Hy was ook verloof en op die punt om te trou. Louis het sy brief so geëindig “. . . I kept my promise - I always remembered my bar mitzvah morning when you said that this is who I am. For this, I thank you.”

Die feit dat iemand in hom geglo het, alles gehoop het, het ‘n verskil gemaak in Louis se lewe.  Elkeen van ons kan ook weet dat daar Iemand is wat in ons glo en wat die beste vir ons hoop – en dit is God self.

4.  Verdra alles
υπομενει  - om onder iets te bly, om vol moed te wees, om te volhard, om te ly
Die werkwoord wat Paulus hier gebruik verwys nie daarna om iets passief te verdra nie.  Hierdie verdra verwys eerder daarna dat ons dinge aktief positief kan oorwin en verander.  So dit beteken nie dat ons net passief aan als moet onderwerp en moet ly nie.  Dit wys eerder op ‘n aktiewe aanvaarding van alles wat as lewenslas opgelê word.  Wat die liefde dan kan doen, is om te volhard in die uithou.

Al kom daar teleurstelling of allerlei moeilikhede of langdurige beproewings laat die liefde nie toe dat dit die gees breek nie.  Die liefde is sterker as al hierdie dinge – nie omdat dit gegrond is in my of jou wilskrag nie, nee, maar omdat dit ‘n vrug van die Heilige Gees in ons lewens is.

Kom ons kies doelbewus vir die liefde. Kom ons kies vir die liefde wat alles bedek, alles glo, alles hoop en alles verdra.

Monday, May 14, 2012

Preek 13 May 2012


Die liefde is onselfsugtig
1 Korintiers 13: 4, 5

Ons praat oor die verskillende gestaltes van Agape-liefde. Ons het al gepraat oor agape-liefde wat geduldig en vriendelik is. Liefde wat saam met die waarheid loop. Verlede week het gegaan oor liefde wat vergewe. Vandag praat ons oor Agape-liefde wat onselfsugtig is. 

Dis vir my nogal gepas dat ons op Moedersdag praat oor die liefde wat onselfsugtig is. Ek dink ‘n ma is die beste voorbeeld van onselfsugtigheid.
“The natural state of motherhood is unselfishness. When you become a mother, you are no longer the center of your own universe. You relinquish that position to your children.”
(Jessica Lange)

1 Kor 13:4, 5 “Die liefde…is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie… soek nie sy eie belang nie…

“Die liefde is…om ander mense dit wat hulle het of kry te gun sonder om lelik te wees as hulle dinge het wat jy nie het nie; om nie heeltyd oor jouself te praat en te spog nie; om nie heeltyd te maak asof jy soveel beter as ander mense is nie;...om nie net heeltyd aan jouself en jou eie voordeel te dink nie;” (Die Boodskap)

Al die goed wat ons in hierdie teks lees - nie afgunstig nie, nie grootpraterig nie, nie verwaand nie, soek nie eie belang nie – is eienskappe van liefde wat onselfsugtig is. So ek wil so vining iets oor elkeen van hulle sê.

Is nie afgunstig nie
Wanneer kinders klein is, dan sukkel hulle mos om te deel. Hulle wil tog net nie hê hulle maatjies moet met hulle speelgoed speel nie – myne, myne, myne.  As hulle ouer word, dan moet jy tog net seker maak jy behandel albei dieselfde, gee vir altwee dieselfde goed sodat die een nie veronreg voel nie.
By volwassenes sien mens dit ook, net op ‘n ander manier – wanneer iemand bo jou gekies word vir ‘n bevordering. Wanneer iemand meer geld verdien, of ‘n nuwe kar koop. Mense is afgunstig of jaloers teenoor mekaar. Iemand anders moet tog net nie beter wees as ek of meer hê as ek nie.

Daar is 2 soorte afguns: die een soort is wanneer mense ander mense se besittings begeer. Maar die ander soort is veel erger en gevaarliker. Dis wanneer jy nie kan verdra dat ander mense dinge het of prestasies bereik wat jy nie het nie. Jy wens dus nie die dinge soseer vir jouself nie, jy wens dat die ander persoon dit nie het nie. Jy kan dit nie net gun vir die ander persoon en saam met hulle bly wees nie – jy wens hulle het dit glad nie.

FB Meyer was die predikant van die Westminster Chapel in London. Dit was in dieselfde omgewing as die Christ Church waar Cambell Morgan die predikant was en die Metropolitan Chapel waar Charles Spurgeon die predikant was. Hulle was albei baie bekende predikers so hulle het groot skares getrek. FB Meyer was dikwels gepla deur gevoelens van afguns en jaloesie. Hy vertel dat hy eers vrede gekry het toe hy begin het om vir sy kollegas te bid. Hy getuig:  “When I prayed for their success, the result was that God filled their churches so full that the overflow filled mine, and it has been full ever since.”

Ons gaan net vrede kan kry as ons wegbeweeg van ‘n Ek-fokus, na ‘n Jy-fokus. Wanneer ek nie meer afgunstig is op ander mense nie, maar ander mense goeie dinge kan gun.

Is nie grootpratering nie
Mac Davis het ‘n liedjie geskryf: “O, Lord, it’s hard to be humble”. Die koor gaan so:
Oh Lord it's hard to be humble when you're perfect in every way.
I can't wait to look in the mirror 'cos I get better looking each day
to know me is to love me I must be a hell of a man.
O Lord it's hard to be humble but I'm doing the best that I can.

“Come over here and sit next to me, I’m dying to tell you all about myself.” (Oscar Wilde)

Grootpraterige mense is selfversekerde mense wat teveel van hulleself dink. Dis mense wat soms God wil speel en ander mense se lewens wil beheer. Dis mense wat al die antwoorde het en dit baie maklik en met baie selfvertroue met almal wil deel. In Engels is daar ‘n mooi word daarvoor om so iemand te beskryf: “self righteous”  (selfvoldaan)
Petrus was ‘n goeie voorbeeld hiervan. Hy was baie grootpraterig en selfversekerd oor sy geloof…en toe kraai die haan drie keer. En daarna was hy baie nederiger.

“Be humble; you will like yourself that way and so will other people.”  

Is nie verwaand nie
Dit sluit aan by die vorige punt.
Onthou julle vir Tom Selleck, wat in die 80’s die hoofrol gespeel het in die TV reeks Magnum PI. Hy was op daardie stadium die hoogs betaalde akteur op TV.
Hy vertel: “Wanneer ek al te vol van myself raak, onthou ek die vriendelike, bejaarde paartjie wat in 'n straat in Honolulu met ’n kamera na my toe aangeloop gekom het. Toe ek gaan staan dat hulle my kan afneem, sê die man: ‘Nee, nee, ons wil hê jy moet óns afneem.”

Romeine 12: 16 sê: “ Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges.”

Soek nie sy eie belang nie
Mense wat die hele tyd hulle eie belang soek is soos passers – alles draai net om hulleself. Dis soos die broer en suster wat saam op ‘n hobbelperdjie( rocking horse) gery het totdat die boetie later vir sy sussie sê: “as een van ons nou van hierdie perdjie afklim, dan is daar meer plek vir my”.

Wanneer ek besef dat dinge nie net oor my belange gaan nie – dan kan ek ophou worry oor wat ander mense van my dink. Dan hoef ek nie altyd die laaste woord te probeer inkry nie. Dan is dit nie belangrik dat almal dinge moet sien en moet doen soos wat ek dit wil hê nie. Dan besef ek ook, die wêreld skuld my niks.
Agape-liefde weet daar is meer in hierdie lewe as ekself en my eie belange en behoeftes. Dit neem ook ander se belange ernstig.
 
Soos ek aan die begin gesê het – die 4 goed is eienskappe van die liefde wat onselfsugtig is. As dus net kan opsom: liefde wat onselfsugtig is - is nie afgunstig nie, maar gun mense goeie goed; is nie grootpraterig en verwaand nie, maar nederig en minder selfversekerd en selfvoldaan; soek nie net my eie belang nie, maar ook die van ander.

Preek 06 May 2012


1 Korintiers 13: 5
Die liefde vergewe altyd

Soos julle reeds weet praat ons die afgelope paar weke oor die liefde en die impak wat dit in ons lewens het. Die eerste week het Jalize gepraat oor die uitdaging van Agape-liefde – om lief te hê ten spyte van. Die tweede week het ek gepraat oor die liefde wat geduldig en vriendelik is – dit maak dat mens aanhou om die goeie te soek in mense en dit bepaal hoe ons van mekaar verskil en dit vra dat ons mekaar seën met goedheid. Verlede week het Niel gepraat oor liefde wat hou van die waarheid. Liefde en waarheid loop saam, Waarheid hou liefde eerlik en liefde verhoed dat waarheid seermaak.

Vandag praat ons oor die liefde wat altyd vergewe. Ek het baie gewonder hoe ek hierdie saak moet aanroer. Vergifnis is nie ‘n maklike ding nie en ek wil ook nie vir julle net ‘n klomp teorie daaroor gee nie. Ek wil byvoorbeeld nie vanoggend vir julle vertel hoe ‘n mens iemand anders moet vergewe nie. Ek wil dit ook nie eenvoudig laat klink nie, want dit is nie eenvoudig nie – dis soms ‘n lang en moeilike proses wat met seer gepaard gaan. Ek voel in elk geval nie bevoeg om daaroor te praat nie – ek het nog nooit nodig gehad om deur ‘n lang, moeilike vergifnisproses te gaan nie. Ek kan maar net dankbaar wees daarvoor. Al wat ek vanoggend gaan doen is kortliks te praat oor die 2 belangrikste redes hoekom dit belangrik is om te vergewe en dan gaan ons ‘n kort DVD-clip kyk wat eintlik alles sê wat ons moet hoor oor vergifnis.  

1 Korintiers 13: 5: “Die liefde…hou nie boek van die kwaad nie”
Verskillende vertalings:
“Love…does not keep account of evil. (JB Phillips Translation)
“Die liefde…hou nie boek van die kwaad wat jou aangedoen is nie.” (NLV) 
“Om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou sodat jy hom kan terugkry nie.” (Die Boodskap)
“Love…Doesn't keep score of the sins of others,” (The Message)
“Die liefde…onthou nie altyd dat mense slegte dinge aan hom gedoen het nie.” (Die Bybel vir almal)

Wat ek in al hierdie vertalings hoor is dat vergifnis ontken nie en vergeet nie die slegte, kwade goed wat my aangedoen is nie, maar dit help my om op ‘n nuwe, vryer manier vorentoe te kyk, sonder om die goed wat my aangedoen is te vertroetel of heeltyd ou koeie uit die sloot te gaan grawe.
CS Lewis het gesê: “Ons sal almal sê vergifnis is ‘n wonderlike idee, dat dit reg en noodsaaklik is – totdat ons self iemand moet vergewe.”
Ek vermoed dat vergifnis waarskynlik die grootste toets vir die liefde is – hoe jy optree teenoor iemand wat jou seergemaak het of ontnugter het of teleurgestel het.
Dit is een van die moeilikste aspekte van Agape-liefde. Agape-liefde is om lief te hê ten spyte van hoe jy voel. Mens voel meestal nie om te vergewe nie. Vergifnis is dus ultimately ‘n keuse wat jy maak al voel jy nie so nie. Daar is 2 redes om die keuse vir vergifnis te maak.

Ons vergewe ander omdat God ons en hulle vergewe het.
Kolossense 3:13 “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.

As God my vergewe, sê Hy daarmee dat ek vir Hom so waardevol is dat Hy bereid is om my verlede te vergeef en vir my ‘n ruimte te gee om weer te begin. So die vraag is dan nou: Hoe kan ek dit dan waag om my medemens, wat net soveel waarde in God se oë het, nie te vergewe nie? Onthou, God het sy seun vir elke mens laat sterf. Hy het dit vir my gedoen en ook vir daai persoon wat my seergemaak, of ontnugter of teleurgestel het. Hoe kan ek hulle dan nie ook vergewe nie?

In die afgelope week het daar ‘n brief in Die Beeld verskyn wat geskryf is deur ‘n Zimbabwiese boer, Henry Jackson nadat sy plaas op 24 April afgevat is. Hy skryf oor wat gebeur het en hoe hy dit beleef het. Dan skryf hy onder andere die volgende:   
Matteus 5:44 sê: ‘Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel ...’
Is Jesus se opdrag vir ons bedoel of nie? Waarom sien ek so baie Christene met sulke diep rassehaat en bitterheid wat in hulle kook? 
Moet ons nie kinders van ons Hemelse Vader wees wat sy karakter uitstraal nie? Watter getuienis leef ons uit as ons met siedende woede reageer? Hoe is ons dan beter as die wêreld?
Waarom sal ek dan toelaat dat my hart gevul word met haat vir ’n man vir wie Jesus gesterf het? Ek wil liewer sien dat dié man en sy gewelddadige vriende in die Koninkryk ingebring word.
Jy sal nooit die oorlog van rassehaat met haat wen nie. Dit kan slegs gewen word met liefde en vergifnis. Die sterkste krag ter wêreld is nederige liefde. Het Hy nie gesê: ‘Die sagmoediges sal die aarde beërwe’ nie?

Die boer het alle rede gehad om kwaad te wees, maar hy het besef hy moet vergewe, omdat God hom vergewe het en die plaasbesetter vergewe het. En dit het gemaak dat hy met ander oë na die plaasbesetter gekyk het.

Ons moet vergewe omdat bitterheid jou diep ongelukkig maak.
Stel julleself gou die volgende prentjie voor: Jy sit elke week die swartsak met die vullis in die drom sodat die vullisverwyderaars dit moet kom haal. Maar dan, wanneer jy die vragmotor hoor aankom, hardloop jy uit, gryp die swartsak en bring dit weer binne toe en plaas dit op die hoop swartsakke wat besig is om in jou kombuis op te gaar.
Later stink dit verskriklik, die bure dreig om jou aan te kla, jou vriendekring raak al hoe kleiner, jou gesin wil later wegtrek…maar jy gaan maar net aan om die vullissakke op te gaar. Dis ‘n absurde storie…tog is dit wat baie mense doen. Nie letterlik nie, maar met hulle onvergewensgesindheid. Onvergewensgesindheid is om heeltyd sakke vol vullis op te gaar en met jou saam te sleep totdat jy later stink daarvan. In plaas daarvan dat jy toelaat dat God die sonde-vullis vir altyd wegvat.

Ons noem dit ook die tronkvoël effek van vergifnis. Om nie te vergewe nie, is om jouself in ‘n tronk van bitterheid toe te sluit terwyl die ander persoon aangaan met hulle lewe.   
Lewis B Smedes skryf: The first and often the only person to be healed by forgiveness is the person who does the forgiveness … When we genuinely forgive, we set a prisoner free, and then discover that the prisoner we set free was us.
Om iemand anders te vergewe is soos om ‘n gevangene te bevry, en dan agter te kom die gevangene was jyself.
Ons moet vergewe want overgewensgesindheid veroorsaak bitterheid en bitterheid is ‘n tronk wat jou diep ongelukkig maak, dit kan jou selfs siek maak. Om te vergewe aan die ander kant maak jou vry.

Die boer van Zimbabwe het dit verstaan. Hy het alle rede gehad om bitter te wees, maar hy kies om eerder te vergewe en vry te raak.
Hoor net wat het hy vir die plaasbesetter gesê:
“al het ek nêrens om heen te gaan nie en al het jy op een dag my lewensdroom van my weggeneem, sal ek nie bitter of kwaad vir jou wees nie.
‘Ek wil jou seën as jy die plaas oorneem. Ek wil jou help sover ek kan. Ek wil hê jy moet dié plaas soveel geniet as wat ek dit geniet het.’

DVD-clip: Dis van ‘n seun wat vir sy pa in die tronk gaan kuier en met flitskaarte deur glas met hom kommunikeer. Hy vertel hoe sy pa hom verwaarloos het, sy vermoë om te vertrou gesteel het en sy ma vermoor het. Dan eindig dit met die seun wat sy pa vergewe.
Kliek hier om die video te kyk of "copy & paste" die volgende in u "browser" - http://bit.ly/NQPGT

Gee tyd vir stilte.
Om te kan vergewe, moet ons besef dat God ons vergewe het. Het jy al God se vergifnis aanvaar? Ek wil vir jou bid.
Ek vermoed dat hier van julle is wat sukkel om te vergewe, wat dalk in die tronk van bitterheid vasgevang is. Ek wil vir jou bid om vry te raak.