Sunday, September 1, 2013

Preek 01 September 2013

Die wel en weë van Jona
Jona 1: 17 – 2: 10


Verlede week het ons gepraat oor die roeping van Jona om die goddelose stad Nineve aan te spreek en op te roep tot bekering. Jona wou dit nie doen nie en het eerder ‘n boot Tarsis toe gehaal. Ons is maar almal so – ons vlug weg van God se opdrag om in Nineve ‘n verskil te maak. Ons wil eerder in veilige Tarsis bly, maar God roep ons om in die Nineve’s van hierdie wêreld ‘n verskil te maak.

As ons oor Jona praat, dan is die eerste gedagte mos – VIS. Vandag gaan ons praat oor die gedeelte waar Jona in die vis se maag beland het. Verlede week het ek gesê dat sommige mense verstaan die verhaal letterlik, ander sien dit weer meer metafories. Uiteindelik maak dit nie saak hoe jy dit verstaan nie, want daar is ‘n boodskap wat groter is as die vis. En dis waarby ons wil uitkom.
“I was so obsessed with what was going on inside the whale that I missed seeing the drama inside Jonah!”
So, kom ons vergeet vanoggend van die vis en probeer by die boodskap uitkom.

Kom ek recap net gou weer die storie voordat ek by die teks uitkom. Jona is op die skip op pad na Tarsis. Skielik breek daar ‘n groot storm uit wat almal bang maak. Die matrose op die skip het begin om te bid – elkeen vir sy eie god. Hulle het begin om goed oorboord te gooi sodat die skip ligter is. Terwyl dit alles gebeur, slaap Jona lekker. Omdat die mense nie al die wetenskaplike kennis van weerpatrone en storms het wat ons vandag het nie – as so iets gebeur, soos hierdie storm, het hulle dadelik gevra – wie se skuld is dit dat hierdie storm oor ons kom. Jona sê toe, hy dink dis sy skuld omdat hy van God af wegvlug. Die uiteinde is dat hulle hom toe oorboord gooi. Dis waar ons teks vanoggend begin.

Lees die teks.

Ek dink die punt van hierdie gedeelte is dat verlossing van God af kom – soms op snaakse en onverwagte maniere. Na ‘n paar slegte dae, waarin Jona moes gevoel het dat sy tyd hier op aarde verby is, ervaar hy God se verlossing op ‘n baie onverwagte manier. Met die hulp van ‘n groot vis.

Terwyl hy daar in die vis is, bid Jona ‘n gebed. Sy gebed is ‘n dankgebed, wat natuurlik vreemd is, omdat hy dit bid voordat hy die verlossing beleef het. Hy dank vir God vir verlossing voordat hy nog die verlossing beleef het – terwyl hy nog binne-in die slegte omstandighede is. Die gebed is eintlik ‘n profetiese gebed waarin hy uitsien na die verlossing wat nog gaan kom. Dus: te midde van die chaos en slegte omstandighede waarin hy hom bevind kies Jona om dankbaar te wees eerder as om te kla.

Wanneer ons deur slegte of moeilik goed gaan in die lewe, dan is dit mos baie natuurlik en baie maklik om te kla daaroor.
Here, hoekom gebeur dit of dat met my?
Here, hoekom gebeur dit juis nou op hierdie stadium met my?
Here, wat het ek gedoen om dit te verdien?
Ons almal vra hierdie vrae. Dis natuurlik en ek dink nie God neem ons daarvoor kwalik nie. Dis maar deel van menswees.
Maar ons kan ook leer by Jona – in daardie slegte omstandighede gee Hy vir God ‘n offer van lof. Hy kies, m.a.w. om nie te kla nie, maar om eerder te fokus op dankbaarheid.
Sielkundiges, dokters ens. sal ook vir ons sê dat dit baie beter vir ons is om soos Jona op dankbaarheid te fokus. Dis goed vir ons geestelike, emosionele en fisiese gesondheid.

Maar dan is daar ook ‘n ander kant van Jona wat ons in sy gebed kan raaksien. Nêrens in die gebed vra Jona vergifnis nie. Nêrens bely hy dat hy verkeerd was nie. Trouens in vers 3 sien ons dat hy vir God blameer:
“U het my die diepte ingegooi, diep in die see, en die watermassa het my omring. U het golf na golf oor my laat gaan.”    
Hy neem geen verantwoordelikheid daarvoor dat dit sy keuse was om God te ignoreer en eerder Tarsis toe te vlug nie. Hy blameer liewer vir God. Hy is maar net die victim.

Jona is ook lekker veroordelend. In vers 8 bid hy:
“Die wat op nuttelose afgode vertrou, verlaat Hom wat liefde aan hulle betoon.”
Dit verwys waarskynlik na die tyd toe hulle op die boot in die storm was en die matrose tot hulle afgode gebid het, terwyl Jona gelê het slaap het. So, Jona is afwysend en veroordelend teenoor die mense wat op afgode vertrou, maar hy dink nie daaraan dat die matrose op daai oomblik in die storm meer geloof in hulle afgode gehad het, was wat hy in God gehad het nie.
Jona is ook arrogant. Nadat die vis hom uitgespoeg het, sou mens dink Jona het sy les geleer en dat hy dadelik Nineve toe sou gaan. Maar nee, God moet hom ‘n tweede keer vra om te gaan.

So, Jona vra nie vergifnis nie, hy sien homself as ‘n victim en hy is bietjie arrogant en veroordelend.

Maar die wonderlike is – tog kies God om vir Jona te gebruik. God se keuse van Jona hang nie af van Jona se goedheid nie. Dit hang alles af van God se genade. God se genade word steeds oor Jona uitgestort al hardloop hy weg en al is hy arrogant. God se genade is nie net vir uitgesorteerde mense nie. Sy genade reën op die uitgesorteerdes en op die onuitgesorteerdes. Sy genade reën op die geregverdigdes en die ongeregverdigdes. Ons almal kry dit sonder dat ons dit verdien.

Ek is ook soos Jona. Ek hardloop ook soms weg van die goed wat God van my vra. Ek hou ook van my comfortzone. Ek kla ook as dinge nie uitwerk soos wat ek gehoop het nie. Maar ek vind troos daarin dat as God lief gebly het vir Jona, dan sal hy ook lief bly vir my. Ons sondes en ons foute sal nooit God se genade wegvat nie. En daarvoor kan ons soos Jona sing van dankbaarheid.

So, alles kom terug na dankbaarheid toe. Wees dankbaarheid eerder as om te kla. Wees dankbaar vir genade wat nooit opraak nie. Koester dankbaarheid en gaan oefen dankbaarheid. Bid elke dag daarvoor want dit kom nie vanself nie. Laat dankbaarheid uit jou vloei sodat jy ‘n seën vir ander kan wees.

Gebed
Miskien is jy vanoggend soos Jona – vasgevang in slegte omstandighede. Dalk oor verkeerde keuses. Dalk oor goed wat gebeur het. Jou respons is om te kla en ‘n slagoffer te wees. Dan bid ek vir jou vir dankbaarheid vir dit wat jy wel het en vir die verlossing wat God sal gee. Want Hy belowe Hy sal alles ten goede laat uitwerk.
Miskien voel jy vanoggend, jy is nie goed genoeg nie. Jy is vol foute en nie uitgesorteer nie. Miskien voel jy - Hoe kan God vir my lief wees. Hoe kan Hy my gebruik? Hoe kan Sy genade vir my genoeg wees, ek verdien dit nie? Dan bid ek vir jou, dat jy onder die indruk sal kom van God se genade en liefde vir jou. Dat jy sal besef jy hoef nie goed genoeg te wees vir God nie. Sy genade is vir jou genoeg. Jy hoef net daarvoor dankbaar te wees.


Sunday, August 25, 2013

Preek 25 Augustus 2013

Wel en weë van Jona

Ons begin vandag met ‘n 4 weke reeks oor die wel en weë van Jona. Eers net so ietsie oor Jona. Die boek Jona bestaan uit 4 hoofstukke – of meer presies, 48 verse, 1328 woorde. Kort boek - mens kan dit waarskynlik in 15 minute deurlees.

Maar wie was Jona? Jona was ‘n Jood. Hy was ‘n gewilde profeet en prediker in die tyd van die baie suksesvolle en magtige koning Jerobeam II.

Maar as ons oor die boek Jona praat dan is daar mos ‘n groot walvis in die kamer. So kom ek sê gou eers iets daaroor voordat ons aangaan. Sommige mense sê ons moet die storie van die walvis letterlik verstaan. Die walvis het letterlik vir Jona ingesluk en uitgespoeg. Ander mense sê weer, nee, dis ‘n metafoor, dit het nie regtig gebeur nie. So as iemand vir my kom vra, is die storie van die walvis nou letterlik of is dit metafories, dan is my antwoord altyd die selfde – ja. Ek gee nie regtig om hoe jy dit verstaan nie, want dit gaan oor die boodskap, nie oor of die walvis. Mens kan so vasgevang raak deur die walvis, dat jy die boodskap mis. As jy by die boodskap uitkom deur dit letterlik te verstaan is dit great, as jy daarby uitkom deur dit metafories te verstaan, dan is dit great. So kom vergeet nou eers van die walvis en ons prober by die wonderlik boodskap van Jona uitkom.

Kom ons bid saam voordat ons vanoggend se teks lees.

Jona was ‘n profeet. Hy het baie  rustig aangegaan met sy lewe. Dit het goed gegaan met hom. Skielik praat God met Hom en gee vir hom ‘n opdrag om na Nineve toe te gaan.
Om te verstaan hoe erg hierdie opdrag vir Jona was, moet ons verstaan wie Nineve was.
Nineve was die hoofstad van die Assiriese koninkryk. Hulle was op daardie stadium die grootste vyande van die Israeliete. Hulle het die Israeliete aangeval, stede verwoes, mense doodgemaak en die mense onderdruk met onder andere erge belastings.
Ninevi  was ook ‘n goddelose stad waar die ergste goed gebeur het. Die godin van die stad was Istar en in haar naam het daar goed gebeur soos kinderoffers, prostitusie, misdaad en geweld. Vyande van die stad en die koning is ook wreed gemartel, een van die gebruike was bv om hulle koppe af te kap en torings daarmee te bou –as ‘n afskrikmiddel. Die stad was sleg, sondig, goddeloos.

So, vir Jona, as ‘n Jood, om na die stad toe te gaan was ondenkbaar. Om vir hulle te gaan preek en hulle op te roep tot bekering sou ‘n doodsvonnis wees vir Jona. Hy wil nie gaan nie. Ek dink ook nie hy wou hulle oproep tot bekering nie – hulle verdien tog God se straf vir al die goddelose goed wat hulle aangevang het. Hulle verdien nie God se genade nie.

Ek dink nie mens kan vir Jona kwalik neem dat hy nie na Nineve toe wou gaan nie. Ek dink nie ons kan hom kwalik neem dat hy eerder ‘n kaartjie koop Tarsis toe nie. Tarsis was baie ver van Ninevi af. Nineve is in vandag se Irak. Tarsis was ‘n hawestad in Spanje, langs die meditereense see. Jona wil so ver as moontlik wegkom.
Tarsis was die teenoorgestelde van Nineve. Dis ‘n mooi en rustige stad. ‘n Plek waarheen jy sal gaan op te gaan vakansie hou.

As ek dit kan vergelyk met plekke wat vir ons bekend is. Om Nineve toe te gaan is soos om na Manenberg toe te gaan, hier anderkant op die Kaapse vlakte. Daar waar die skole verlede week moes sluit omdat die bendes mekaar skiet en mense se lewens elke dag in gevaar is. Tarsis is soos Bloubergstrand of Paternoster aan die weskus. Dis mooi, dis rustig, ‘n plek waar jy wil vakansie hou.
Dis verstaanbaar dat Jona eerder in Tarsis as in Nineve wou wees. Tarsis is nice, dis maklik. Nineve is donker, gevaarlik en goddeloos.

Die enigste probleem is – God roep nie vir Jona om in Tarsis ‘n verskil maak nie. God wil in die donker, goddelose Nineve ‘n verskil maak. God wil nie vir Jona in Tarsis gebruik nie, Hy wil vir Jona in Nineve gebruik. God is nie net in die perfekte, nice, maklike plekke nie – God is veral in die donker, goddelose plekke. Die plekke waar ons nie wil wees nie, dis waar Hy ‘n verskil wil maak.

Ons is maar net soos Jona. Ons hou nie daarvan om na Nineve toe te gaan nie. Ons verkies om eerder in Tarsis te wees. Ons wil wegvlug van God en dit wat Hy van ons vra.
Maar ons vergeet wat staan in Ps 139:
“Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas. Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.”
Ons kan nie van God en van sy opdragte ontsnap nie. Hy is oral en Hy ken ons te goed. En Hy wil ons gebruik.

Baie keer is die kerk mos vir ons soos Tarsis. Dis ‘n veilige plek waarheen ons kom om God se teenwoordigheid te beleef. Dit vra nie veel van ons nie. Ons kom hiernatoe om vir ‘n kort tydjie te ontsnap van die deurmekaar wêreld waarin ons leef. Dis veilig. Maar die kerk was nog nooit veronderstel om ‘n veilige plek te wees waarheen ons moet kom om te ontsnap nie. Dis die plek waar ons voorberei word om in die alledaagse wêreld te gaan leef. Die kerk rus ons toe om na ons eie Nineve toe te gaan.

Nineve is oral om ons. Dit het name en gesigte en omstandighede oral waar ons elke dag kom. En God stuur ons soontoe.
Dalk is Nineve jou eie huis – waar dinge met jou partner, jou kinders, jou familie nie lekker is nie. Dalk is dit jou huishulp of jou tuinwerker.
Dalk is Nineve die buurt waarin jy woon. Die huis in jou straat waar siekte, mishandeling of swaarkry is. Die hawelose mens wat elke week in jou drom grawe of die mense wat in hulle kar of in iemand anders se garage slaap.
Dalk is Nineve jou werk waar dinge nie eerlik gedoen word nie of waar mense uitgebuit word.
Dalk is Nineve jou beste vriend of ‘n kennis of kollega wat aan iets verslaaf is.
Ninevi is oral hier rondom ons.

Die vraag is: wat gaan jy doen met God se opdrag om by Nineve betrokke te raak? Gaan ons soos Jona verskonings uitdink en na die lekker, veilige Tarsis toe vlug of gaan ons bereid wees om te gaan na die plekke waar God regtig ‘n verskil wil maak?

Gaan ons gehoorsaam wees aan God se opdragte wanneer hy ons die strate instuur. Na die donker plekke toe. Na die rykes, die belangrikes en die magtiges toe. Maar ook na die armes en die krotbuurte hier rondom ons. Ons gemeente bestaan nie net uit Greylaan nr 41 nie – ons gemeente bestaan uit die hele Table View en almal wat hier woon. En dis waar God ‘n verskil wil maak. Dis waar Hy ons wil gebruik.





Sunday, August 18, 2013

Preek 18 Augustus 2013

Matteus 9: 9-13 (Nagmaal)
Die evangelie volgens Tony Soprano

James Gandolfini, is ‘n bekende akteur wat onlangs oorlede is. Hy was saam met sy seun met vakansie in Italië, waar hy dood is aan ‘n massiewe hartaanval. Hy was veral bekend vir die rol van Tony Soprano in die TV reeks, The Sopranos. Die reeks het gegaan oor die Mafia, met Tony Soprano wat die leier was van die Mafia familie.
The Sopranos was een van my gunsteling programme op die TV. Hoop nie dis vir julle vreemd om dit te hoor van ‘n NG Kerk dominee nie. Ek dink dis een van die beste reeks wat daar nog was.

Ek dink die rede hoekom die reeks so gewild was, (hoekom ek dit geniet het) was omdat mense met Tony Soprano kon identifiseer. Ons het elke week gekyk, want Tony Soprano het iets van ons almal gereflekteer. Hoekom sê ek dit? Want sover ek weet het niemand van ons nog ooit aan die Mafia behoort of mense doodgemaak nie.
Ek sê dit, want soos Tony het ons almal al dinge gedoen waaroor ons spyt was. Dinge waarop ons nie trots is nie. Dinge wat ons hoop niemand sal van uitvind nie.
Almal van ons is goeie mense, maar ons het ook almal ‘n donkerder kant wat ons gewoonlik goed kan wegsteek(al is dit net iets soos ‘n kwaai humeur). Soms kom dit uit, maar die meeste van die tyd kry ons dit reg om dit weg te steek. Net soos Tony.

Kom ek vertel julle bietjie van Tony se goeie en donker kante.
Hy was die Mafia baas met baie mag oor mense, maar hy het ook weekliks ‘n sielkundige gaan sien om hom te help deel met sy issues en met depressie.
Elke nou en dan het hy ‘n moord gepleeg of laat pleeg of hy het ouens aangerand, maar hy was ook die eerste ou wat gehelp het wanneer sy familie of vriende hom nodig gehad het.
Al het hy gereeld sy vrou verneuk, was dit ook duidelik dat hy baie lief was vir haar en hy sou enige iets vir haar doen.
Hy was baie lief vir sy kinders, al het hy hulle soms met die plathand bygekom en op hulle gevloek. Daar was een toneel waar Tony se seun, A.J., vir hom kom sê het dat hy dink God is dood en daarom gaan hy nie meer sondagskool toe gaan of in die Katolieke kerk bevestig gaan word nie. Tony se reaksie was: “even if God is dead, you go to Catholic school…your mother wants it.”
Dis hoe Tony was – hy mors sy eie lewe op, maar hy wil sorg dat sy kinders nie hulle lewens opmors nie. Hy leef daai spreekwoord: Doen wat ek sê, nie wat ek doen nie.

Tony Soprano was vol kontradiksies. Hy is hierdie nice ou, maar hy het ook ‘n donker kant. Dis juis hoekom ons van hom gehou het. Hy laat ons beter voel oor die kontradiksies in ons eie lewens. In vergelyking met hom is ons baie goeie mense.

Die Bybel is ook vol voorbeelde van sulke mense. Dink aan Noag wat teveel gedrink het. Lot wat sy dogters aanbied vir vreemde mans. Moses wat die Egiptenaar vermoor. Jakob wat sy broer en pa en ander bedrieg het. Simson wat nie die vrouens kon uitlos nie. Dawid wat egbreuk pleeg met Bathseba en dan haar man laat vermoor. Paulus wat Christene vervolg en uitgemoor het. Petrus wat vir Jesus verloën het. So kan mens aangaan.
Tog ten spyte van hulle foute en die dinge wat hulle gedoen het – was hulle geloofshelde deur wie God groot dinge gedoen het.

Jesus self stel vir ons die voorbeeld as dit kom by mense wat vol foute is. In Matteus 9 lees ons…(The Message vertaling)
Passing along, Jesus saw a man at his work collecting taxes. His name was Matthew. Jesus said, “Come along with me.” Matthew stood up and followed him.
Later when Jesus was eating supper at Matthew’s house with his close followers, a lot of disreputable characters came and joined them. When the Pharisees saw him keeping this kind of company, they had a fit, and lit into Jesus’ followers. “What kind of example is this from your Teacher, acting cozy with crooks and riffraff?”
Jesus, overhearing, shot back, “Who needs a doctor: the healthy or the sick? Go figure out what this Scripture means: ‘I’m after mercy, not religion.’ I’m here to invite outsiders, not coddle insiders.”

Jesus gee nie vir Matteus ‘n klomp voorwaardes waaraan hy eers moet voldoen nie, hy nooi hom net uit. Jesus was ook gemaklik met die sondaars en die tollenaars en hulle was gemaklik by Hom. Hy gaan eet saam met hulle, Hy oordeel hulle nie.

En later,  toe Hy die nagmaal ingestel het, het hy nie vir Petrus en Judas oorgeslaan nie. Hy het geweet hulle gaan hom verraai en verloën, maar hy het nog steeds vir hulle die nagmaal bedien.

Die nagmaal is die teken, die herinnering dat Jesus vir alle mense gesterf het. Vir Tony Soprano met al sy kontradiksies. Vir die ouens in die Bybel met al hulle foute.  Vir my met al my kontradiksies en foute. Vir elkeen van julle met al jou kontradiksies en foute.

Ek wil afsluit met ‘n aanhaling. Twee Sondae terug het Jaco Strydom hier by ons gepreek. Hy is die leier van Echo bediening in Pretoria. Hulle werk veral met mense in nood. Voor hulle kerkgebou en op hulle website, het hulle die volgende kennisgewing.
Dwelmverslaafdes, misdadigers, alkoholiste, daggarokers, ateïste, prostitute, prokureurs,
morsjorse, gomsnuifers, Blou Bul ondersteuners, vandaliste, boemelaars, kriminele, rokers,
studente, boeremusiekliefhebbers, gays, freedom fighters, speed cops, swartmense,
pastore, geldgieriges, onnies, kwaadpraters, tronkvoëls, egbrekers, witmense, gomtorre,
geheelonthouers, bruinmense, boelies, dominees, rowers, boere, losbandiges, stadsjapies, tieners, apartheidshelde, nerds, wash-outs, sataniste, hoofdogters, ou tannies, kommuniste,
kunstenaars, materialiste, wewenaars, leuenaars, metal heads, orreliste, skinderbekke,
kerkmense, kerkloses, gewone mense, sondaars...
WELKOM!

Dalk is jy vanoggend deel van hierdie lysie – dan wil ek jou spesiaal uitnooi na hierdie nagmaalstafel – jy is welkom. Hierdie tafel bevestig dat God se liefde en genade vir jou genoeg is.



Sunday, August 11, 2013

Preek 11 Augustus 2013


Maak jou oë toe. Verbeel jou die volgende situasie. Jy en jou gesin hou vakansie in ‘n woonstel op die vierde verdieping.  Skielik breek daar ‘n brand in die gebou uit. Julle is vasgekeer op die balkon. Agter julle is daar net vlamme en rook. Onder op die grond is daar ‘n skare mense besig om te versamel. Hulle begin matrasse op die grond pak en  skree “spring”.
Dink bietjie. Sal jy jou kinders laat spring? Sal jy spring?
Wat jy doen in sulke omstandighede sê iets van jou geloof en van jou vermoë om ander mense te vertrou.
Ons teksgedeelte van vandag wil ons help om geloof so te verstaan.

Lees die teks

Helde – ons almal het helde. Dis mense na wie ons opkyk. Mense wat vir ons ‘n voorbeeld is en wat ons inspireer. Ons gaan dalk nie noodwendig saamstem oor hoekom iemand ‘n held is nie, maar helde bly belangrik in ons lewens. 

My held is…Desmond Tutu – oor sy integriteit, sy eerlikheid, sy sterk geloof, omdat hy so lekker stir en mense kwaad maak en laat dink.
Neem gou ‘n oomblik – dink aan iemand wat jy sal beskou as ‘n held?
Fred Smith het in ‘n boek geskryf:
We cannot live fully without heroes, for they are the stars to guide us upward. They are the peaks on our human mountains. Not only do they personify what we can be, but they also urge us to be. Heroes are who we can become if we diligently pursue our ideas in the furnace of our opportunities. Heroes are those who have changed history for the better. They are not always the men and women of highest potential, but those who have exploited their potential in society's behalf. Their deeds are done not for the honor but for the duty.

Die helde wat ons kies sê iets van dit wat ons glo en van ons ideale en die waardes waarvolgens ons leef. Ons kies helde omdat ons aanklank vind by dit waarvoor hulle staan of dit waaraan hulle glo en dit sê dan iets van onsself ook.
As ek vir julle sou sê, Robert Mugabe of Lance Armstrong is my held. Wat gaan julle van my dink? Waarskynlik nie baie nie. Hulle is nie goeie voorbeelde nie.
Maar as ek sê Desmond Tutu of Moeder Teresa is my helde – dan gaan julle beter van my dink. Die helde wat ons kies sê iets van myself, die waardes wat vir my belangrik is en dit waaraan ek glo.

Ek was onlangs in ‘n gesprek waar iemand vertel het dat een of ander organisasie in Amerika vir 2000 graad 8 kinders gevra wie hulle helde is. Die meeste van hulle het een of ander sport of TV of fliek ster genoem. ‘n Celebrity.
Onder die kinders was daar geen staatsman of vrou, skrywers, skilders, musikante, argitekte, doktors, ruimtevaarders of godsdiens mense nie. Die gevolgtrekking hiervan is dat die helde van ons samelewing mense is wat dit gemaak het, maar hulle is nie mense wat noodwendig iets groots gedoen het om bekend te raak nie.
Dis mos maar hoe die wêreld verander het. Vroeër jare was die helde van die samelewing mense wat iets ontdek of uitgevind het.  Mense wat iets van hulleself gegee het sodat ander kon lewe of die lewe meer kon geniet.  
Vandag se helde is ‘celebrities”. Mense wat bekend geraak het sonder dat hulle veel gedoen het of daarvoor gewerk het. En gereeld lees ons van een of ander skandaal wat hulle ontmasker.
     
Ons het meer helde soos Abraham nodig.  In ons teks word ons voorgestel aan Abraham, maar sy storie kry ons al in Genesis 12. Abraham is iemand wat vir God getrou gevolg het, selfs al het hy nie geweet wat voorlê nie. Hy is iemand wat betekenis gevind het in geloof en die roeping wat God vir hom gehad het. Daarom dat hy as een van die geloofshelde voorgehou word.

Abraham het ‘n goeie lewe gehad. Met ‘n familie en eiendom. Eendag ontmoet hy vir God en sy lewe sou nooit weer dieselfde wees nie. God roep hom na ‘n vreemde land toe en belowe vir hom die seun wat hy graag wou gehad het. Sonder aarseling sê hy ja, hy sal dit doen. Maar dit was nie maklik nie. Sy toekoms is onseker in ‘n vreemde land met vyande wat hom wou vernietig. En toe hy uiteindelik op ‘n hoë ouderdom ‘n seun kry, toe vra God vir hom om sy seun op te gee. Deur dit alles het Abraham se geloof nooit gewankel nie. Daarom noem die Hebreers skrywer hom ‘n geloofsheld. Iemand na wie ons kan opkyk en wie se voorbeeld ons kan volg.   

Abraham het verstaan dat geloof is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
Geloof is om te glo wat jy nie kan sien nie, en om dan te sien wat jy nie kan glo nie – Maarten Luther.
Dis wat ons by Abraham sien.

Geloof is die vermoë om beter te kan sien as wat ander mense kan sien. Dis om met geloofsoë na die wêreld te kan kyk. Geloof maak dat jy vir God kan sien – nie net in die goeie tye van die lewe nie, maar ook in die slegte tye. Veral in die slegte tye. Dis om met God se perspektief na die wêreld te kyk, omdat jy weet Hy sal alles ten goede laat uitwerk.

Hierdie tipe geloof het ‘n paar gevolge:
Dit maak jou wêreld groter. Sonder geloof sien mens mos net raak wat hier rondom jou is. Mens sien net die probleme en die onmoontlike raak. Geloof maak die wêreld vir jou oop en jy sien nuwe moontlikhede, want jy weet God is groter.
Dit laat jou leef met ‘n toekomsverwagting. Johannes Calvyn het gesê mens moet elke dag die heerlike toekoms van God bedink en jouself daaraan herinner. Mense kyk mos net vas in hoe die lewe hier en nou is. En dit maak hulle negatief. God gee vir ons ‘n nuwe toekoms, ‘n positiewe, hoopvolle toekoms. En dit gee vir ons weer moed om die dinge van hierdie lewe te kan hanteer.
Dit moedig jou aan om voluit te lewe. Mens raak maklik moedeloos en leef net vir hulleself en om te oorleef. Mens verval so maklik in ‘n groef. Geloof moedig ons aan om voluit te leef al is jou omstandighede nie altyd so lekker nie.  Want ons weet God kom sy beloftes na en het iets beters in gedagte.

Al hierdie goed sien ons by Abraham. In geloof het hy vir God ernstig geneem en Hom vertrou en dit het sy wêreld groter gemaak, dit het vir hom ‘n toekomsverwagting gegee en gemaak dat hy voluit gelewe het. En as dit nie daarvoor was nie, dan was ons waarskynlik nie vandag hier nie.
Ons almal het helde – mense soos wie ons graag sal wil wees. Mense soos Abraham wat geleef het met ‘n diep geloof in God wat groot dinge deur hom gedoen het. ‘n Geloof in God wat hom deur die goeie en slegte tye laat kom het. Hy is die voorbeeld wat ons kan navolg.   
Om ‘n held te wees het mens nie nodig om aandag te trek nie of om jou naam in die koerante te sien nie. Jy’t nie nodig om ‘n klomp geld of mag te hê nie. Jy het net nodig om geloof te hê en dit uit te leef. 

Luister na lied wat verduidelik hoe geloof werk. Pam Thum: Life is hard




Sunday, July 14, 2013

Preek 14 Julie 2013

Die eeue-oue waarheid...
Ek wil begin met bietjie van ‘n sielkunde les – ‘bear with me please’...
Toe ek op skool was, is ons IK (IQ) getoets. Dit was basies die enigste maatstaf van ‘intellegensie’. In die amper 25 jaar sedert ek skool klaargemaak en sielkunde studeer het, het die verstaan van ‘intellegensie’ verdiep. Vandag word daar gepraat van IQ (verstandelike vermoëens), EQ (emosionele vermoëns) en SQ (sosiale vermoëns). Mense moet ‘slim wees’ in al hierdie aspekte om ‘n sukses van hulle beroep, verhoudings en lewe te maak.
Trouens, deesdae word daar gesê dat mense vier verskillende fokus-areas in hulle lewe het, en al vier moet reg bestuur word vir iemand om gelukkig, tevrede en gebalanseerd te wees. Ons energie word ook aan hierdie vier areas verbind.
Vier areas bepaal die kwaliteit van elke mens se lewe:
   1.      Die verstandelike: die energie wat ons gebruik om te lees, skryf, studeer, reflekteer, konsentreer en dinge met ons verstand uit te werk
  2.    Die fisiese: die energie wat ons gebruik om te stap, bestuur, oefen, inkopies te doen, in die tuin te werk, ens.
 3.    Die emosionele: hoe ons op enige gegewe oomblik voel - opgewonde, gefrustreerd, hartseer, kwaad, verveelt, tevrede, en so meer
4.   
Die geestelike: wat nie in die eerste plek religieus is nie, maar eerder gaan oor vervulling en vergenoegdheid; om die ervaring te hê dat die dinge van jou lewe waarde het, betekenis het, ‘n doel het; om te voel jou lewe, werk en interaksies word waardeer en maak saak. Meaning. Satisfaction. A sense of purpose.
Die interessante ding wat die geleerdes ontdek het, is dat net een van hierdie areas van ons lewe energie kan genereer – en dit is die geestelike. In die ander drie areas gebruik ons energie; hulle kan nie vir ons energie gee nie. Nét die geestelike aspek van ons lewe kan dit doen!
As ons beleef dat die dinge waarmee ons besig is betekenis het, saakmaak en vervullend is, kry ons die energie wat ons nodig het om te doen wat ons moet doen – al kry ons te min slaap, is ons onder baie druk en het ons nie veel tyd vir ontspan nie. As dit vervullend is, is die energie om voort te gaan eenvoudig dáár...!
MAAR... Hoewel die geestelike aspek vir ons energie kan gee, word dit deur die emosionele aspek van ons lewe bepaal. Hoe ons voel (wat in ons hart aangaan) bepaal of ons betekenis kan beleef en vergenoegd kan voel – in watter omstandighede ook al! Soos die aanhaling van Max Lucado wat op die skerm was voor die diens begin het, sê: “The state of your heart dictates whether you harbour a grudge or give grace, seek self-pity or seek Christ, drink human misery of tastes God’s mercy...”
Net die geestelike aspek kan energie genereer, maar ons emosies is ‘koning’ (heers).
Dit was vir my baie interessant dat sielkundiges al ons emosies in twee breë groepe verdeel, naamlik liefde-gedrewe emosies en vrees-gedrewe emosies.
Liefde-gedrewe emosies het nie te doen met ‘affection’ nie. Dit gaan oor lief wees vir wat jy doen en waarmee jy besig is. Dit gaan oor ‘loving life, with all its ups and downs’.
Nie een van ons emosies het enigeiets met omstandighede te doen nie! Jy kan vreesgedrewe emosies beleef terwyl jou omstandighede baie positief is, en jy kan liefde-gedrewe emosies beleef terwyl jy midde-in uiters moeilike omstandighede is. Dink aan Jakobus wat sy brief begin deur te sê: “Julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom...”
Die liefde-gedrewe emosies maak ons positief, optimisties, hoopvol en tevrede. Dit ontsluit letterlik die geestelike aspek van ons lewe, wat vir ons nuwe energie, motivering, stamina en deursettingsvermoë gee.
Die vrees-gedrewe emosies, daarenteen, veroorsaak negatiwiteit, pessimisme en ontevredenheid. Dit sluit die geestelike area van ons lewe toe... Dit draai die kraan met die water van die Lewe toe...
Ons moet bewustelik vir liefde en teen vrees kies!



Noudat ons die vier aspekte van ons lewens verstaan, asook hoe hulle mekaar beïnvloed, wil ek graag vir julle wys presies wat ons energie dreineer in elkeen van die vier areas.
Ons voel dikwels moeg, moedeloos, mismoedig, uitgebrand en sonder energie. As ons hierdie tabel verstaan, kan ons ophou om dinge te doen wat ons energie onnodig uitput!
1)      PHYSICAL (determine health)
§  Addictions (alcohol, cigarettes, drugs)
§  Ill health / physical pain
§  Insufficient sleep
§  Lack of exercise
§  Lack of relaxation
§  Poor eating habits


Too little physical energy = ill health
2)      MENTAL (determine achievement)
§  Boredom / stagnation
§  Complaining / constantly being exposed to people who complain
§  Guilt
§  Negative thinking
§  Stress
§  Expecting the worse (worrying)

Too little mental energy = under-achievement
3)      EMOTIONAL (determine relationships)
§  Controlling other people
§  Allowing others to control you; giving in to their demands
§  Emotional outbursts
§  Fear
§  Fights / arguments
§  Inability to manage own emotions
§  Always sacrificing your needs, dreams and aspirations

Too little emotional energy = relationship breakdowns
4)      SPIRITUAL (determine fulfilment)
§  Lack of discipline
§  Lack of faith
§  Lack of trust
§  Life without meaning or purpose
§  Spending little quality time with the core people in your life and on the critical aspects of your life, such as your job
§  Going through the motions
§  Faking / keeping up appearances

Too little spiritual energy = lack of fulfilment
Fascinating stuff...! Merkwaardig hoe die geleerdes se kennis en begrip vir mense se funksionering gedurende die afgelope 25 jaar toegeneem het...
Nog meer merkwaardig dat, toe Jesus op ‘n keer gevra word wat ‘n mens moet doen om seker te wees jy leef volgens God se wil, Hy antwoord:
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en al jou krag...”
Interessant... Dieselfde vier areas!
Jesus is quoting Deuteronomy 6: 4 – 8:
Hear, O Israel:  the Lord our God is the only Lord. And you shall love the Lord your God with all your mind and heart, all your soul and with all your strength.
And these words which I am commanding you this day shall be first in your own minds and hearts (PARENTS)...then you shall whet (stimulate) and sharpen them so as to make them penetrate, and teach and impress them diligently upon the minds and hearts of your children (CHILDREN), and you shall talk of them when you sit in your house and when you walk by the way, and when you lie down and when you rise up...
Dit moet dus ‘n lewenstyl wees: om God lief te hê met jou verstand, hart, siel en krag moet in jou eie lewe ingeoefen word – en moet dan daagliks, in alles wat jy doen en oral waar jy gaan, by jou kinders vasgelê word...
·         In Deuternomium, min of meer 3400 jaar gelede, sê God die eerste keer: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele verstand, jou hele hart, jou hele siel en al jou krag...”
·         Jesus herhaal dit 1400 jaar later, 2000 jaar gelede: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en al jou krag...”
·         Spreuke 4:23, omtrent 2800 jaar gelede, sê: “Wees veral versigtig met wat in jou hart aangaan (emosies), want dit bepaal jou hele lewe...”
God noem dus 1) duisende jare gelede reeds al vier areas, 2) dring daarop aan dat alles op God moet fokus (dat mense vanuit die geestelike dimensie moet lewe), 3) waarsku ons dat ons emosies ons hele lewe bepaal, en 4) roep ons deurlopende op tot liefde – vir God, jouself en jou naaste...
Moderne mense sukkel om balans in hulle lewens te kry!
As ons na die moderne samelewing kyk, sien ons die gevolge van lewens wat nie hierdie vier areas van ons menswees goed bestuur nie:
·         Verhoudings val uitmekaar, die egskeidingsyfer is hoog, gesinne word uitmekaar geruk en familielede praat nie met mekaar nie...
·         Tallose mense lei aan depressie...
·         Mense sukkel met stres-verwante siektetoestande soos angs, spastiese kolons, migraine-hoofpyne, spierpyn, rugpyn...
·         Al hoe meer mense is oorgewig, met siektetoestande wat daaraan gekoppel word...
·         Mense sukkel met verslawings aan drank, pille, dwelms, opkikkers, sigarette...
Die boekwinkels se rakke staan propvol self-help boeke en daar is oneindig baie DVDs, CDs, en kursusse wat ‘die antwoord’ belowe! En tog is die oplossing so oud soos die berge! Duisende jare oud! Letterlik antiek...!
Jesus het mense meer as 2000 gelede (in Mat. 11: 28 – 30) al uitgenooi, en Sy uitnodiging is vandag steeds brood-nodig:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”
Anders gestel in die Message, wat die betekenis van die Griekse woorde besonder duidelik vertaal: “Are you tired? Worn out? Burned out on religion? Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest. Walk with me and work with me - watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.”
God het ons op ‘n spesifieke manier geskep, vir LIEFDE!
·         God het ons so geskep dat die geestelike aspek van ons lewe ons belangrikste bron van energie is... Dit is nie toevallig so nie!
·         En God het ons so geskep dat LIEFDE vir ons vervulling, bevrediging en betekenis bring – en nie geld, populariteit, sukses of mag nie...
·         God IS liefde! God hét nie bloot lief nie... En ons is na God se beeld geskep! Ons is op ons gelukkigste wanneer ons God / Liefde toelaat om ons heel te maak, op te hef, te inspireer en rustig te maak... Liefde is die grootste krag is die heelal! Dit kan gebroke harte heelmaak, die grootste onreg vergewe, die grootste afstand oorkom, die grootste vyande versoen, die grootste skade herstel...
·         Met liefde kan ons alle uitdagings oorkom! Sonder liefde gooi die kleinste dingetjie ons onderstebo... Dís hoe God ons geskep het! Liefde ontsluit ons potensiaal. Vrees verlam ons en laat ons opgee...
·         God, wat Liefde IS, het ons liewer as wat enige mens ons ooit kan hê! Liewer as wat woorde kan sê! Liewer as wat ons kan droom of dink!
En die doop is seker die mooiste, diepste, amazingste liefdesverklaring van God! Die doop is Liefde sélf wat ‘n hand op ‘n mensekind se lewe lê en sê:
“Ek het jou lief...! Ek het jou oneindig lief! Ek het jou liewer as My lewe! En elke dag wat Ek sien hoe jy lewe, het Ek jou nóg liewer! Ek is elke sekonde by jou om vir jou krag en wysheid te gee; om jou te beskerm! Daar is absoluut niks wat jou van My liefde kan skei nie...”
Die doop is God se belofte-teken – bietjie soos ‘n trou-ring. Dit is die teken en simbool van God se liefde en trou; van God se persoonlike verbintenis tot elkeen van ons...
Raak dus elke dan en wan aan jou voorkop en onthou: jy is geskep vir liefde en jy is geskep om vanuit jou verhouding met God te leef... Die modern sielkundiges dink hulle het soveel nuwe dinge ontdek die afgelope 25 jaar, maar hulle is verkeerd! Hulle het maar net eeue-oue waarhede ontdek...
Wees vir God lief met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en al jou krag. En onthou! Wees veral versigtig met wat in jou hart aangaan, want dit bepaal jou hele lewe...!