Markus 5: 21-43
Vanoggend se teks gaan
oor 2 genesingsverhale. Die genesing van Jaïrus se dogtertjie en die genesing
van die vrou met bloedvloeiing. Dis ‘n lang gedeelte, so ek gaan nie alles lees
nie, ek gaan eerder net die storie vertel. Terwyl ek dit vertel gaan fotos
verskyn van skilderye wat oor die verhale geskilder is.
Die storie begin met die
raadslid van die sinagoge, ‘n belangrike en godsdienstige man, Jaïrus, wat
desperaat na Jesus toe kom, omdat sy dogter sterwend is. Elkeen van ons wat al
‘n siek kind gehad het, verstaan iets van die man se nood, wanneer hy op sy
knieë voor Jesus neerval en hom smeek:
“My dogtertjie lê op
haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en
lewe.”
Die siekte is ernstig en
vereis Jesus se onmiddelike en dringende aandag. Jesus hoor die dringendheid in
die man se stem en reageer onmiddelik deur saam met Jaïrus na die man se huis
toe te gaan.
Maar op pad soontoe,
gebeur daar ‘n interessante ding. Ons lees dat daar ‘n groot skare mense saam met
Jesus na Jairus se huis toe op pad was. Hulle was nuuskierig en ongeduldig en
wou sien wat gaan gebeur. En almal het teen mekaar en teen Jesus gedruk en
gestamp. Hulle wou tog net nie iets mis nie. In hierdie geharwar was daar ‘n
vrou wat al 12 jaar aanbloedvloeiing gely het. Sy was desperaat en wou met alle
mag by Jesus uitkom.
Ons weet min van hierdie
arme vrou, net dat sy chronies siek was. Sy het al al die verskillende mediese
moontlikhede probeer, maar niks het gewerk nie. Trouens die Bybel sê dat sy
gely het onder al die behandeling van die verskillende dokters en sy het alles
bestee wat sy gehad het. Sy was moedeloos en sy het niks oorgehad nie, maar
haar toestand het net vererger.
Daarmee saam was sy
sosiaal heeltemal verstoot. Volgens die Joodse wette was sy permanent onrein as
gevolg van die bloedvloeiing. Sy was onwelkom in die sinagoge, die tempel en in
die algemene sosiale omgang. Sy was siek, arm en oral onwelkom.
Geen wonder sy doen
alles om by Jesus uit te kom nie. Sy vestig haar laaste hoop op Jesus. Sy wil
nie eers met hom praat nie, as sy net aan sy klere kan raak, sal sy genees
word.
Sy raak aan Jesus se
klere en onmiddelik word sy genees. Jesus kom dadelik agter dat daar van sy
krag gebruik is en hy begin soek die persoon wat aan sy klere geraak het.
Sy dissipels verstaan
dit nie, want wat maak dit saak wie aan Hom geraak het, hulle is immers haastig
om by Jaïrus se dogter uit te kom.
Die vrou weet sy is
skuldig. As ‘n onrein vrou mag sy nie eers in die skare gewees het nie, en veral
nie aan Jesus geraak het nie. Daardeur maak sy hom ook onrein. Sy val daarom
skuldig voor Jesus neer en vertel vir hom haar geskiedenis.
In plaas daarvan dat
Jesus haar teregwys, prys hy haar geloof en Hy seën haar met vrede. Hy genees
haar nie net fisies nie - Hy gee ook haar lewe vir haar terug. Hy maak haar
weer iemand. Ongelooflik!
Hierdie onderbreking
moes waarskynlik vir Jaïrus louter hel gewees het, want sy dogter is besig om
te sterf. En toe gebeur die ergste, iemand kom aangehardloop en breek die nuus
dat sy dogter gesterf het. Maar Jesus sê so terloops, ‘moenie worry nie, glo
net.”
En toe hulle by die huis
kom, is almal ontsteld en aan die huil oor die kind wat gesterf het. Maar Jesus
sê vir hulle – moenie so onsteld wees nie, sy slaap net. Ek dink nie enigiemand
kan die skare kwalik neem dat hulle vir hom begin lag het nie.
Jesus beveel toe almal
om uit te gaan, hy stap na die dogtertjie toe, vat haar hand en beveel haar om
op te staan. Tot almal se verbasing, het sy opgestaan en begin loop.
Ek gaan so ‘n paar dinge
uitlig wat my in die verhaal opgeval het en julle kan self verder daaroor gaan
dink.
Alhoewel
dit belangrik en dringend was om by Jaïrus se dogter uit te kom, maak Jesus tyd
om aandag aan die siek vrou te gee.
Waar die dissipels en
die skare ongeduldig is om by die dogtertjie uit te kom, is Jesus geduldig en
bereid om tyd te maak vir die vrou. Hy onderbreek as’t ware Sy program om
aandag aan die vrou te gee.
Hoe baie gebeur dit nie
dat ons besige en gejaagde lewens, ons vol en bedrywige dagboeke in die pad
staan van mense wat ons nodig het nie?
Hoe baie keer lei ons
verhoudings met die mense wat die naaste aan ons is nie daaronder nie?
Hoe baie keer lei ons
geloof nie daaronder nie? Ons geloof en die kerk is mos die eerste goed wat
moet plek maak vir ons besige lewens.
Jesus wys vir ons, daar
is altyd tyd vir mense.
Hy
keer die Joodse wette en gebruike van die tyd op hulle kop, deur aandag te gee
aan ‘n onrein en sosiaal onaanvaarbare vrou.
Deur Sy hele bediening sien
ons hoe Jesus die godsdienstige wette en reëls uitdaag en omkeer. Hoe hy tyd
maak om met die verkeerde en sondigste mense tyd te spandeer.
Hoe baie keer laat ons
toe dat godsdienstige reëls en dit wat volgens ons reg en verkeerd is in die
pad staan van mense wat Jesus se liefde nodig het?
Hoe baie keer gebeur dit
dat ons vooroordele en vooropgestelde idees oor mense, hulle weg hou van die
kerk en van Jesus se liefde?
Hoe baie keer oordeel en
veroordeel ons mense omdat hulle volgens ons prentjie anders en onrein en
onaanvaarbaar is?
Jesus wys vir ons – as
dit oor (verstote) mense gaan, is Hy bereid om die reëls te breek.
Jesus
se kalmte en hoop staan uit.
Ek kry die idee dat die
mense resultate wou sien. Hulle was ongeduldig om te sien wat Jesus gaan
doen. Maar teenoor die ongeduld van die
dissipels en die skare straal Jesus geduld en kalmte uit. Teenoor die wanhoop
van die huilendes straal Jesus hoop en vrede uit.
In ons land met al haar
probleme en deurmekaarheid, hoor mens dikwels dat mense ongeduldig en
bakleierig en wanhopig raak. Ons hoor dit om braaivleisvure en ons sien dit in
die media.
Christene is
veronderstel om anders te wees. Om ‘n volgeling van Jesus te wees beteken dat
ons altyd kalmte en hoop by ‘n plek en by ‘n gesprek moet indra.
Soos William Barclay
skryf oor die skare wat Jesus uitgelag het:
“They laughed at Jesus
because they thought his hope was groundless and his calm mistaken. But the
great fact of the Christian life is that what looks completely impossible with
men is possible with God... but their laughter must have turned into wonder
when they realized what God can do.”
Jaïrus
en die vrou se gebrekkige geloof is opvallend.
Soms weet ‘n mense mos
nie wat om te bid nie. Soos die vrou in die storie – na 12 jaar se gesukkel is
sy radeloos en moedeloos. Dis hoe sy na Jesus toe kom – sonder woorde, met net
‘n uitgesterkte hand.
Soos Jaïrus, die
raadslid van die sinagoge – ‘n belangrike en godsdienstige man. Hy is desperaat
oor sy dogter wat besig is om te sterf. Hy weet nie meer nie. Dis hoe hy na
Jesus toe kom – desperaat, op sy knieë en smekend.
Nie een van hierdie 2
mense kan as tradisionele geloofhelde voorgehou word nie.
Geloof is nie ‘n
prestasie nie. Geloof is ‘n vaste vertroue dat God die beste weet. Geloof is op
sy sterkste wanneer ek nie meer weet wat om te vra nie. Soos Paulus dit so mooi
verwoord – juis wanneer ek swak is, is ek sterk.
Juis as ek moedeloos is,
wanneer ek sug, wanneer ek clueless is, wanneer ek nie meer weet wat om te bid
nie, dan is ek oop om te ontvang wat Jesus wil gee.
Maar ons word mos geleer
dat geloof altyd sterk moet wees. Dat moedeloosheid en twyfel tekens is van ‘n
swak geloof. Ons word geleer dat ons al die antwoorde het. Dat ons net harder
en meer moet bid, want gebed sal alles regmaak.
Dis nie wat hierdie
verhale vir ons leer nie. Hier leer ons - soms is dit genoeg om net ‘n
moedelose hand na Jesus toe uit te steek en staat te maak op sy genade en
ontferming.
Ek
wil dit alles opsom met ‘n laaste storie.
Een van die beste
basketbalspelers van alle tye was Larry Bird van die Boston Celtics. By sy
uittrede het hulle vir hom ‘n vreeslike fancy seremonie gehou, met ‘n ete, en
oorhandigings en toesprake. K.C. Jones, ‘n vorige afrigter van die span vertel
toe van ‘n keer toe hy tydens ‘n spanpraatjie besig was om sy taktiek aan die
span te verduidelik.
En terwyl hy nog so
praat toe onderbreek Larry Bird hom met woorde: “Just get the ball to me and
get everyone out of my way”.
Jones het gereageer toe
hierop: “I'm the coach, and I will call the plays.”
Daarna draai Jones toe
na die ander spelers toe en sê: “Get the ball to Larry, and get out of his
way.”
Miskien is dit wat ons
ook vanoggend by hierdie wonderlike genesingsverhale moet hoor: Gee die bal vir
Jesus en kom uit die pad uit. Dan sal ons ook soos Jaïrus en die vrou ontdek
dat Hy vol ontferming en liefde is en dat Hy ons nie in die steek sal laat nie.
No comments:
Post a Comment