Die hart van die Vader
Lukas 15: 11-32
Ons tema vir hierdie
kwartaal is die waarde van “gestuurd wees”. Die volgende 4 Sondae gaan ons dit
so ‘n bietjie unpack. Vandag begin ons dan die reeks deur te kyk na wat behels
die hart van die Vader. Dis mos waar alles begin.
Ons teks vir die oggend
is Lukas 15: 11-32
Lied: Amazing Grace
As ons hierdie verhaal
hoor en die Amazing Grace sing dan is dit maklik om onsself in die skoene van
die jonger seun te plaas. Ons sien onsself as die verlore kind wat tot inkeer
kom en reageer op God se liefde. Maar ek wil vandag die verhaal vanuit ‘n ander
hoek bekyk. Ek wil hê ons moet vandag probeer identifiseer met die vader in die
verhaal. Want uiteindelik word ons geroep om meer soos die vader te wees.
In Lukas 15 is Jesus
besig om te reageer op die vrae en beskuldigings van die fariseërs en
skrifgeleerdes. Ons lees dat die tollenaars en die sondaars die gewoonte gehad
het om na Jesus te luister – hulle was gemaklik by Hom. Ons lees dat Jesus by
hulle gaan kuier het en saam met hulle geeet het.
Die Fariseers en
skrifgeleerdes het daarmee ‘n probleem gehad – hulle het gevoel Jesus moet meer
tyd spandeer met hulle wat godsdienstig is en alles reg doen. Nie met die mense
wat sondig is en nie die wet nakom nie. Dan vertel Jesus hierdie verhaal juis
om te beklemtoon dat Hy gekom het vir sondige mense.
Dis die verhaal van ‘n
Midde-Oosterse pa en sy 2 seuns. ‘n Pa, wat ‘n metafoor vir God is, wat nie
optree soos ‘n pa in Jesus se tyd nie. ‘n Pa wat op baie onverwagte en verassende
maniere optree.
Die verhaal begin met ‘n
vertrouensbreuk in die familie. Wanneer die jongste seun vir sy erfporsie vra,
sê hy daarmee: ‘ek vertrou jou nie as ‘n rentmeester van my erfporsie nie. Ek
het jou nie nodig nie, ek wans jy was eerder dood.”
Jesus se gehoor sou hier
verwag het dat die pa sy seun moes aanspreek en teregwys, maar die pa doen dit
nie. Hier kry ons dus die eerste verassing van die storie.
Hier is ‘n pa wat bereid
is om seergemaak en verneder te word deur sy kind - sonder om wraak te neem of
sy kind te straf. Dis ‘n pa wat vir sy kind die ruimte gee om sy liefde en
omgee te verwerp.
So kry die seun toe sy
deel van die erfporsie en hy vertrek na ‘n ander land toe waar hy ‘n losbandige
lewe lei en die geld uitmors. Die gevolg daarvan is dat hy in armoede en
hongersnood verval en varke oppas. Iets wat vir ‘n Jood die ergste ding moes
gewees het.
Jesus se gehoor moes
hiervan gehou het, want die seun kry mos nou wat hy verdien. Hy word gestraf
vir die sonde wat hy aan sy pa gedoen het. Dis sy verdiende loon.
Maar Jesus gaan aan en
vertel hoe die seun dan tot sy sinne kom en ten spyte van sy vernedering besluit om terug te gaan na sy
familie toe. Hy verwag ook nie veel van sy pa nie. Om soos een van die
plaaswerkers behandel te word sal vir hom genoeg wees.
Hier is dit weer
belangrik om te dink hoe Jesus se gehoor sou dink. Hulle sou verwag dat die
Midde-oosterse pa streng sou wees, trots sou wees, en kwaad sou wees vir sy
seun. Dat hy aan iets sou dink om vir sy seun ‘n les te leer.
Maar hier kry ons nog ‘n
paar verassings.
Eerstens sien die pa sy seun van ver af
aankom. Dit dui daarop dat hy vir sy seun gewag het. Dat hy waarskynlik elke
dag by die deur gaan staan en kyk het of hy nie dalk net sy seun sien aankom
nie. Gehoop het dat vandag die dag sal wees waarop sy seun gaan terugkom. Hy
wil sy kinders by hom hê.
Tweedens hardloop hy hom tegemoed en omhels en
soen hom. Vir ‘n ryk Midde-oosterse pa was dit ongehoord om te hardloop en sy
seun te omhels en te soen. Hy het status in die gemeenskap gehad. Hy het ‘n
duur mantel gedra. Jy was veronderstel om rustig en met waardigheid te stap en
nie gevoelens en emosies te wys nie. Om jou mantel op te tel en te begin
hardloop en dan nog jou seun te omhels en te soen, was net nie kultureel aanvaarbaar
nie.
Derdens sou mens verwag dat hy van die seun
sou verwag om eers vergifnis te vra en sy lewe uit te sorteer voordat hy hom
weer in sy huis terug verwelkom. Maar hy doen dit nie, hy verwelkom hom sonder
enige voorwaardes. Belangrik om op te let die vers waar ons lees van die pa wat
hom terugverwelkom is voor die vers waar die seun verskoning vra. Hy is terug
verwelkom voordat hy vergifnis gevra het. Dit bevestig ook wat Paulus later sou
sê: God het ons liefgehad en vergewe, terwyl ons nog sondaars was. God neem
altyd die eerste stap.
Vierdens kry die seun sy waardigheid terug.
Deur vir hom nuwe klere te gee en ‘n partytjie te hou word hy terug verwelkom
in die familie en die gemeenskap. Hy word weer iemand gemaak.
Mens sou verwag dat die verhaal by die partytjie sou
eindig. Maar Jesus wou ‘n laaste boodskap aan die fariseers en skrifgeleerdes
oorbring. Hy het geweet hulle is kwaad vir hom en daarom vertel hy ook van die
ouer seun wat kwaad was. Hy was immers die broer wat altyd die regte goed
gedoen het en al die reëls en wette nagekom het. Hy is kwaad dat hy nie eers
wil inkom na die partytjie toe nie. Hy is nie oop daarvoor dat sy broer weer
deelraak van hulle familie nie.
En weereens verras Jesus
ons. Hy vertel dat die pa ook uitreik na hierdie oudste seun toe en hom nader
trek.
Niks in hierdie verhaal
is soos dit behoort te wees nie. Dis juis die punt wat Jesus wou maak. God se
hart is total anders as wat mens sou verwag. God se liefde is genadig, dis wyd,
dis oop, dit het geen grense nie. Niemand word uitgesluit nie. Hy reik uit na
alle mense. God se liefde is soos ‘n gebou sonder mure. Dit moes totaal nuut en
verassend gewees het vir Jesus se gehoor, maar dit is God se hart vir mense en
dit is vandag nog dieselfde.
Onthou die konteks van
die verhaal – Jesus vertel dit omdat hulle kwaad was vir hom omdat hy met die
verkeerde mense uitgehang het. Jesus sê dus – ek hang saam met hulle uit, want
God is lief vir hulle. God het compassion vir hulle, Hy wil hulle deel maak van
sy familie.
En die uitdaging van die
verhaal is dat ons soos die vader moet wees, want Hy stuur ons om uit reik na
mense en hulle nader te trek en deel te maak van sy familie.
No comments:
Post a Comment