Sunday, May 5, 2013

Preek 05 Mei 2013


Openbaring 21: 10, 22-22:5
Van die bos van vrees na die boom van lewe

Baie van die nuus websites het mos plekke waar mense kan kommentaar lewer. Ek is huiwerig om dit te lees, want die meeste van die kommentaar is oor die algemeen net negatief. So lees ek onlangs hoe iemand die volgende skryf:
“Ek was nooit ‘n ou vol vrese en fobies nie. Maar deesdae is dit asof die lewe amper soort van jou vyand geword het. Jy moet net uitkyk of jy kry ‘n klap. Jy voel jy het nie ‘n kans nie. Kos word al hoe duurder. Elke dag is daar een of ander nuwe belasting. Oral is daar korrupsie en geweld. Jy hoor kort-kort van iemand wat groot en bekend is en die volgende oomblik sit hy in die tronk. So, moenie worry nie, vrees net.”
As jy nie self so voel nie – ek dink ons almal ken mense wat so voel.

Hierdie gevoel van vrees is wat baie mense in ons wêreld en ons land beleef. Dit was waarskynlik die belewenis van die lesers van Openbaring ook. Onthou hulle is vervolg en onderdruk, net omdat hulle Christene is wat nie die keiser en die Romeinse gode wou aanbid nie. Hulle het in vrees geleef.

Deur die hele Openbaring boek is Babilon die simbool van Roemeinse ryk waar daar baie ongeregtigheid, geweld en onderdrukking plaasvind. Dis eintlik Rome, maar Babilon is ‘n metafoor vir ‘n stad wat sleg is – dit kom uit die OT toe die volk na Babilonië toe weggevoer is. So, die idee van ‘n nuwe stad – die nuwe Jerusalem – moes vir die mense baie aanloklik gewees het.
Die NT teoloog, Gail O’Day het gesê: "...the goal of Revelation is to invite the churches to move out of Babylon and into the grace of the city of God."

En watter wonderlike stad is hierdie nuwe Jerusalem nie? Ons lees dat die stad uit die hemel uit afkom. Dit kom van God af. In die stad is dit nie nodig vir ‘n tempel nie, want God is oral.
Dis soos iemand gesê het: “Hell is an unending church service without God. Heaven is God without a church service.”
Die hekke van die stad gaan altyd oop wees, so enigiemand is welkom en almal is veilig. Daar sal altyd lig wees. Daar sal niks onreins of sleg wees nie.
Die boom van die lewe, wat elke maand vrugte dra, gaan daar wees. Daar langs die rivier met die water van die lewe. Sy blare gaan genesing bring vir die nasies.  

Dit is ‘n stad vol goedhartigheid, geregtigheid, eerlikheid, genade en liefde. Dit sal darem wonderlike wees om in so ‘n stad te woon. As daar ooit ‘n tyd was wat die wêreld nodig gehad het om hierdie boodskap te hoor, wel – dan is dit nou.  Mense het hierdie tipe hoop nodig. Soos wat die ou se kommentaar aan die begin vir ons wys. Die wêreld smag na die helende genade van God. Dit smag daarna dat iets van die nuwe stad nou hier moet begin waar word. 

Ek wil ‘n paar goed in die teks uitlig wat ons met hierdie smagting kan help en wat vir ons riglyne gee vir wat ons kan doen.

Ons moet mense van Die Lig wees (vers 23-24)
Ons teks sê dat die son en die maan nie meer nodig gaan wees nie, want God se lig sal die stad en die mense verlig. Dit herinner ons dat God gee Sy lig in ons, ons moet dit gaan uitleef.

In Matteus 5: 14 - 16 lees ons: “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie, maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik”.

As gelowiges moet ons so leef dat mense God se lig in ons doen en late kan raaksien. Ek dink baie keer doen ons die teenoorgestelde. In plaas daarvan dat die goed wat ons doen en sê vir mense wys in wie ons glo, leef ons op ‘n manier wat God se lig verdoof. Ons moenie met ons lewens God se lig onder ‘n emmer wegsteek nie – mense moet dit kan sien en daardeur aangetrek word.

Ons moet met oop deure leef (vers 25)
Geloofsgemeenskappe mag nie geslote deure hê nie. Dit moet ‘n plek wees waar mense veilig voel en waar almal welkom is. En ons moet moeite doen om die deure oop te hou sodat mense (die nasies) God in ons midde kan vind.

Ons moet God eer met ons allerbeste (vers 26)
M.a.w. – die mense eer vir God deur net die beste wat hulle het na die stad toe te bring. Hulle gaan nie die beste goed vir hulleself hou en die afskeep goed na die stad toe vat nie. Hulle bring die beste goed na die stad toe. Ek dink hier is nogal ‘n baie belangrike lewensbeginsel vir ons hierin opgesluit.
William Barclay beskryf die beginsel vir my duidelik:
When a man enters the Church, he must bring his gift with him; the writer his power in words; the artist his power in colour, the sculptor his mastery of line and form and mass, the musician his music, the craftsman his craft, the cook his flavours. There is no gift which Christ cannot use.”

God wil ons gawes gebruik vir Sy koninkryk. Maar dis ons wat dikwels in die pad staan. Ons is bang en huiwerig. Of ons gee net die afskeepgoed en hou die beste goed vir onsself. Hierdie teks daag ons uit om ons beste te gee. Wanneer ons dit doen dan gebeur daar iets van die hemel in die kerk en die wêreld waarin ons leef. Dan word die wêreld ‘n beter plek. Kom ons eer God met ons allerbeste. 

Ons moet deelneem aan die genesingsproses (22:2)
Die teks vertel van die boom van die lewe. Wat gevoed word deur die lewende water. Wat vrugte dra. Met blare wat genesing bring vir die nasies. So, dis ‘n genesingsboom, ‘n heelmaak boom.
Dis veral relevant in hierdie pinkstertyd. Met die uitstorting van die Heilige Gees het iets van die nuwe Jerusalem al waar geword. Die Gees staan ons by, troos ons, bring genesing en maak heel. Maar die Gees bemagtig ons ook om deel te raak en deel te neem aan die genesingsproses. Om blare van genesing na mense toe te vat.
Ons doen dit deur iets bemoedigends vir ‘n verslae of hartseer mens te doen of sê.
Ons doen dit wanneer ons ons werk eerlik en sonder korrupsie doen.
Ons doen dit wanneer ons nie water en elektrisiteit mors nie.
Ons doen dit wanneer ons ‘n goeie woord vir mense het, al verdien hulle dit nie.
Ons doen dit wanneer ons luister na mense
Ons doen dit wanneer ons na onsself en ons gesondheid omsien. Fisiese en geestelike gesondheid.
Ons doen dit elke keer wanneer ons nie negatief is nie en ons nie oorgee aan ons vrese, maar eerder kies vir die lewe.

Hierdie visie van die Nuwe Jerusalem is kragtig omdat dit, te midde van ons onsekerhede en vrese, ons daaraan herinner dat God nou al hier besig is. Dit nooi ons uit om die lewe voluit te leef. Dit verseker ons dat die goeie altyd die slegte oorwin, dat liefde sterker as haat is, dat hoop sterker is as wanhoop.
Ons bevestig die visie van die Nuwe Jerusalem deur elke dag te kies om mense van die Lig te wees. Deur met oop deure te leef. Deur my beste vir God te gee. En deur deel te neem aan die genesingsproses.
Dan maak ons nou al die Nuwe Jerusalem hier op aarde sigbaar en beweeg ons weg van die bos van vrees waarin ons so maklik verstrengel raak na die lewegewende en bevrydende boom van die lewe.

Gebed van verootmoediging
Genadige God,
Ons bely dat ons teen u in gedagte, word en daad gesondig het.
Ons het gesondig deur wat ons gedoen het
en ook deur wat ons nagelaat het om te doen.
Ons het U nie met ons hele hart liefgehad nie.
Ons het nie ons naaste soos onsself liefgehad nie.
Ons bely ons vrese en negatiwiteit
Ons bely die kere wat ons nie soos mense van U lig opgetree het nie.
Ons bely ons selfsug wat maak dat ons terughou en nie ons allerbeste vir U gee nie.
Ons bely die kere toe ons afgebreek het waar ons eerder moes opbou en heelmaak.
Ons is regtig jammer en bely dit alles nederig voor U.
In die Naam van U seun, Jesus Christus,
Wees ons genadig en vergewe ons sodat ons U teenwoordigheid kan geniet.
Wys ons hoe om so te lewe dat ons u Naam verheerlik. 


No comments:

Post a Comment