Omgewing Sondag
Genesis 1:
23-31
Vandag is Omgewingsondag, so ek het gedink dit sal goed wees om vanoggend
daarby aan te sluit.
Ek wil julle vanoggend terugvat na Genesis 1 toe…
God het ‘n droom gehad. ‘n Droom van ‘n heelal en ‘n wêreld en mense wat
in harmonie, balans en vrede saam bestaan. Om die droom waar te maak skep Hy…
Die lig en duisternis; hy skep die hemel; hy skep die see en die land.
Dan skep hy die lewende wesens wat die aarde moes bewoon. Die plante,
visse, die voëls en die diere.
Heel laaste skep hy die mens. Die kroon van sy skepping. Die mens is Sy
verteenwoordigers op aarde. Hy gee vir die mens die opdrag om te heers oor sy
skepping, nie oorheers of beheer nie. Heers beteken die mens moet Sy droom
instand hou deur te sorg dat daar balans en vrede en harmonie is.
Vir ‘n hele tyd het dit goed gegaan met God se droom, maar toe gebeur
daar iets wat hierdie droom aan skerwe laat spat het - toe gebeur die sondeval.
En die sondeval belemmer alles. Dit maak dat die harmonie, vrede en balans
verander in chaos, onvrede en wanbalans.
Die sondeval belemmer die verhoudings tussen God en mense, tussen mense
met mekaar en tussen mense en die skepping. Heers verander in oorheers en so
begin die mense om die skepping uit te buit vir sy eie selfsugtige behoeftes.
Kom ek noem ‘n paar gevolge waar ons iets van die uitbuiting kan sien:
Daar word beweer dat daar elke minuut ‘n area so groot soos 20 rugbyvelde
van die wêreld se reënwoude vernietig word – dis nou die reënwoude wat een van
die belangrikste produsente van suurstof is.
Twee derdes van Wes-Afrika en 70% van die Ivoorkus se bosse is in die
vorige eeu vernietig. Die Woenstyn gebied in Noord-Afrika is stadig maar seker
besig om al hoe groter te word.
Tans is daar 3079 diere en 2655 plante spesies wat wêreldwyd as bedreigde
spesies beskou word teenoor 1102 en 1197 in 1998. Wetenskaplikes reken dat teen
die jaar 2100 gaan die helfte van huidige spesies uitgewis wees.
Dink aan die renosters hier is Suid-Afrika. In 2012 is 668 renosters
gestroop. Tot dusver in 2013 is dit 367. Aan die Mosambiekse kant van die
Kruger wildtuin is daar geen renosters meer oor nie.
Besoedeling van die atmosfeer, damme en riviere, olie op ons strande,
Rommel en sigaretstompies.
Weerpatrone wat deurmekaar is a.g.v. Greenhouse-effek.
Die hele skepping is vasgevang in die slawerny van sonde. Soos Paulus
skryf in Romeine 8: 22 “Ons weet dat die
hele skepping tot nou toe sug in die (geboorte)pyne van verwagting”.
En dit beïnvloed ons ook. God se skepping is interafhanklik. Alles sluit
bymekaar aan. So as die omgewing, die natuur swaarkry, het dit op ons ook ‘n
invloed en andersom.
Christene behoort ‘n leidende rol te speel as dit kom by die herstel van
ons omgewing. Ons glo immers dat ons die aarde van God af gekry het en Hy
verwag daarom van ons om daarna om te sien. Dis ook ‘n belangrike deel van die
evangelie boodskap. Luister wat staan in hierdie twee teksgedeeltes:
Efesiers 1:10 “Sy bedoeling was om alles wat in die hemel
en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus”.
Kolossense 1: 19-20. “God het besluit om met sy volle wese in Hom
te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy seun
aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en
in die hemel met Homself versoen”.
Jesus het dus nie net mense kom verlos nie – Hy het gekom om alles op die
aarde, ook die omgewing te verlos. Hy het gesterf om oorheers, beheers en
uitbuit te verander na heers, diens en sorg soos wat God dit in Genesis bedoel
het.
En Hy wil ons gebruik om dit te doen. As Christene het ons ‘n
verantwoordelikheid om te sorg vir die woonplek wat Hy vir ons gegee het.
So wat moet ons doen?
Bely dat ons
ongehoorsaam is aan God se opdrag. As
verteenwoordigers van God moet ons omsien na die skepping, maar ons moet bely
dat ons dit nie doen nie. Ons is almal skuldig. Ons almal het al gemors en
vermors. Ook as ons niks daaraan doen nie is ons skuldig.
As Christene moet ons
die voorbeeld stel en voorkomend optree. Ons moenie produkte gebruik wat skadelik is vir die omgewing nie. Ons
moenie rommelstrooi nie. En waar dit wel gestrooi is moet ons dit optel al is
dit deur iemand anders gestrooi. Ons moet recycle wat ons kan recycle. Ons
moenie lui wees om dit te doen nie.
Ons moet betrokke
raak by die herstelproses. Ek lees nou die
dag weer ‘n storie van ‘n ou man wat na groot reëns begin het om gate in sy
tuin te grawe. “Wat doen jy?” wou sy
buurman toe weet. “Ek gaan ‘n klomp mangobome hier plant” antwoord die ou man.
“Dink jy jy gaan nog van die mango’s kan eet?” vra die buurman. “Jy is tog al
oud en, mangobome vat lank voor hulle begin vrug dra.”
“Natuurlik nie” antwoord die ou man, “ek weet ek sal nie daarvan kan eet
nie, maar ander mense sal. Ek het my lewe lank mango’s geëet van bome wat deur
ander mense geplant is, so ek los nou maar ‘n paar bome vir die mense wat na my
kom”.
Ons het ‘n verantwoordelikheid om te sorg dat ons nageslag nog ‘n natuur
het om te geniet. Ons moet bome plant, ons moet veg vir die oorlewing van plant
en dierespesies. Ons moet ons kinders bewus maak van die gevare van besoedeling
en hulle leer om die natuur te beskerm.
En laastens – ons
moet weer begin om God se skepping te geniet. As mens gereeld langs die see gaan stap, dan maak dit saak dat die
strand rommelvry en skoon is. As jy gereeld in ‘n bos en die veld kom, dan wil
jy graag die voëls hoor sing en bome se skaduwee geniet. Deur weer die natuur
te geniet, kom ‘n groot deel van ons verantwoordelikheid terug. En die beste
van alles is, dis verniet.
Dis nie altyd ‘n maklike taak om ons verantwoordelikheid teenoor die
natuur na te kom nie. Maar dis ons roeping as gelowiges. Dis ons plig om alles
te doen wat ons kan.
Alan Paton het gesê: “Die grond is
heilig. Dit kom immers van die Skepper self. Onderhou dit. Beskerm dit. Sorg
daarvoor. Want dit onderhou die mens, beskerm die mens, sorg vir die mens.
Vernietig die grond en jy vernietig die mens.”
Mag ons begin om weer die skepping te geniet.
Mag ons weer vir God daarin begin raaksien.
Mag ons weer begin om as God se verteenwoordigers ons verantwoordelikheid
teenoor die skepping na te kom.
Mag ons weer begin heers soos wat God dit oorspronklik bedoel het.
Geloofsbelydenis
Ons glo in God, die almagtige Vader, wat uit liefde die aarde vir alle
mense gegee het.
Ons glo dat ons as mense ‘n spesiale deel van die skepping is, en dat
elke deel van die skepping ‘n kosbare geskenk is om te gebruik en in liefde na
om te sien.
Ons glo in Jesus Christus, wat die koninkryk laat kom, die skepping genees,
en deur sy dood en opstanding die vrede van God aan mense bied.
Ons glo in die Gees van God, wat oor die waters gesweef en orde in ons
wêreld gebring het. Ons wil glo in die skoonheid van eenvoud, in liefde met oop
hande.
Ons waag dit om te glo in ‘n nuwe mensheid, waar geregtigheid sal
floreer, respek vir die hele skepping sal gedy, en vrede ‘n werklikheid is.
Ons uiter vanoggend ons oortuigings terwyl ons hier herinner word aan die
liefde van God, die genade van Christus en die gemeenskap van die Gees.
Amen
No comments:
Post a Comment