Sunday, October 5, 2014

28 Sep 2014 - Woorde en dade: twee kante van dieselfde munt

Matt. 21: 23-32.
Woorde en dade: twee kante van dieselfde munt

Net so bietjie agtergrond: Dit is hier naby aan die einde van die Here Jesus se bediening op aarde.  Sy kruisiging is om die draai.  In die begin van die hoofstuk het ons gelees hoe hy op ‘n donkie Jerusalem binnery terwyl die skares klere en palmtakke voor hom oopgooi en uitroep:  “Loof Hom wat in die naam van die Here kom.  Prys Hom tot in die hoogste hemel.”   Daarna lees ons hoe die Here Jesus na die tempel toe gaan en die geldwisselaars en sakemanne wat die tempel ontheilig het, uitjaag.  Dis duidelik dat Jesus se einde naby is.  Die Priesterhoofde en familiehoofde (fariseërs en skrifgeleerdes) bevraagteken Jesus se gesag en dan vertel Jesus drie gelykenisse om God se oordeel oor hulle aan te kondig:  Die gelykenis van die twee seuns, die gelykenis van die boere en die wingerd en die gelykenis van die bruilof.

In ons Skrifgedeelte is Jesus besig met ‘n preek.  Soos baie ander kere gebruik Hy ‘n gelykenis om sy boodskap helder en duidelik te maak.  Die gelykenis gaan oor ‘n man met twee seuns.  Daar is twee seuns.  By ‘n ander geleentheid (Luk 15) het die Here Jesus ook ‘n gelykenis vertel van ‘n man wat twee seuns gehad het:  die baie bekende gelykenis van die verlore seun! In beide die gelykenisse gaan dit oor berou en oor sondaars wat gered word!

Ook belangrik om te sien hoe hy die gelykenis begin.  Hy draai na die priesterhoofde en die familiehoofde en vra vir hulle:  wat sê julle hiervan?  Letterlik staan daar:  Wat dink julle hiervan:

Die Griekse woord vir dink is “dokeo” en beteken om jou mening te gee.  Dis duidelik:  Jesus vertel die gelykenis om die Joodse leiers te laat dink.  Hy soek ‘n reaksie.  Hy wil hulle konfronteer.  Sommige Bybelkenners sê dis een van Jesus se skerpste gelykenisse. Hy vertel dit sodat hulle met die luister na die gelykenis aan die dink sal gaan en besef:  die Here praat van ons.  Dis oor ons wat die gelykenis gaan. 

Die gelykenis moes hulle soos ‘n harde hou in hulle maag getref het. Luister hoe hard die Here Jesus met hulle praat in vers 31b-32

Dit moes skokkend vir die geestelike leiers van destyds gewees het. Hulle is swakker daaraan toe as die slegste sondaars van destyds.  Hulle was so selfversekerd dat hulle gered is, dat hulle nie eers een oomblik dink oor hulle eie lewe, oor hulle eie gehoorsaamheid aan God en oor of hulle die wil van die Vader doen nie.  Dis vir hulle wat Jesus sê:  Wat dink julle hieroor?  Wat sê die gelykenis vir julle?  Hoe reageer julle daarop?   Dis hoekom Jesus die gelykenis vertel:  sodat hulle sal luister en daaroor dink ... en skielik besef:  Jesus praat met ons.  En dis presies wat gebeur:  na die tweede gelykenis lees ons in 21: 45:  “toe die priesterhoofde en die Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy op hulle sinspeel”.

Vandag:  wat sê julle van die gelykenis?  Wat dink jy?  Wat is jou mening?  Hoe raak dit jou?  Jesus praat met mense soos ons wat seker is van ons redding.  Hy praat met die kerk!

Die punt is:  die Here Jesus soek reaksie.  Hoe gaan jy en ek vanoggend reageer?  Gaan ons besef dat Hy met die gelykenis op ons sinspeel(v45)? 

Die bekende prediker Spurgeon gebruik ‘n mooi beeld.  Hy sê gelowiges is of akkerbome wat in ‘n storm deur die wind omgewaai word OF hulle is wilgerbome wat selfs in ‘n orkaan heen en weer buig.  Sy vrees is dat ons soos wilgerbome is.  Selfs al praat God hoe hard met ons, ons buig net so ‘n bietjie heen en weer, maar na die tyd gaan ons doodgewoon voort asof niks gebeur het nie.  Spurgeon is reg:  ons het immuun geword teen die Evangelie.  Ons hoor, maar dit gaan niks verder as ons ore nie. 
Was ons maar akkerbome wat deur die gelykenis omgegooi word sodat God van voor af met ons kan begin.  Want dis wat bekering is.  Om omgegooi te word.  Om 180grade van koers te verander.  Om so diep getref te word deur Jesus se boodskap dat ons nooit weer dieselfde kan of wil wees nie!  Maar nou is ons wilgebome!!

Kyk weer na die storie: In die gelykenis wat net in Matteus voorkom, roep die Vader een van sy seuns en vra hom om in hulle wingerd te gaan werk.  Op ‘n verskriklike kru manier, openlik rebels, antwoord die seun:  Ek wil nie!  Maar later kry hy tog spyt en gaan dan wel werk in die wingerd.  Die Vader gaan dan na die ander seun en vra hom presies dieselfde.  Hierdie seun stel die vader tevrede en antwoord gehoorsaam:  “Goed pa”, maar uiteindelik het hy nie gegaan nie.

Daarna vra Jesus vir die Joodse leiers:  wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?  Eintlik staan daar:  wie van hulle het die wil van die Vader gedoen?(21:31)  Sien julle wat die Here Jesus se taktiek is?  Hy vertel ‘n storie.  Hy vra ‘n vraag.  En as hulle dan kies, dan spreek hulle ‘n oordeel uit oor hulself!

Beide seuns was eintlik verkeerd.   Die een het skande oor sy pa gebring deur sy woorde, en die ander een deur sy dade.  Maar die punt wat Jesus probeer maak is dat dit ons woorde en ons dade moet klop.  Ware geloof gaan uiteindelik oor in dade.  Daarom eindig Jesus sy preek op die berg in Matt. 7 deur te sê dat nie elkeen wat sê Here, Here, sal die Koninkryk van God ingaan nie, maar net hulle wat die wil doen van die Vader wat in die hemel is(Matt 7: 21).

Dis duidelik dat Matteus ‘n noue verband trek tussen die gelykenis van die 2 seuns en die preek wat Jesus vroeër op die berg gehou het.  In albei gaan dit oor hoor en doen.  Dis interessant dat die tweede seun presies dieselfde woorde gebruik as die mense in Jesus se preek op die berg.  Die 2de seun  sê: “ ja, Kyrie:  “ja HEER (LORD)”  En dis dieselfde woorde wat ons kry in Matteus 7:21:  Nie almal wat vir my sê:  Kyrie, kyrie – HERE, HERE.  In beide gevalle sê mense baie vroom:  Kyrie ... HERE ... maar in albei gevalle word hulle verwerp omdat hulle woorde nie oorgegaan het in aksie en hulle die wil van die Vader gedoen het nie! 

Daarom is dit die vraag wat elkeen van ons moet antwoord:  watter een van die twee broers is jy?  Is jy dalk soos die 2de broer? Bely jy ook maklik dat jy glo en dat jy die Here liefhet ... maar dit bly net by mooi woorde?  Ware geloof is wanneer ‘n mens se woorde en dade bymekaar uitkom, wanneer dit wat die kerk bely, oorgaan in sigbare, gehoorsame en dienende dade.

Die meeste van ons vanoggend hier het al baie kere vir God “ja” gesê: toe ons belydenis van geloof afgelê het, Hoeveel van ons het nie na ons ‘ja’,  tog presies die teenoorgestelde gaan doen nie. Ja, die belydenisse was daar, maar nie die dade nie.

Vriende, dis wat my sal bybly van die gelykenis:  die geweldige hoë premie wat God plaas op gehoorsaamheid aan Sy wil.  Dis nie wat ons met die mond bely nie, maar wat ons met ons dade van gehoorsaamheid wys, wat vir God tel.  Geen mens kan sê dat hy of sy glo SONDER om gehoorsaam te wees nie.  Geloof en diens vir God is sinonieme.  Geloof en dissipelskap loop hand aan hand.  Geloof en betrokkenheid by my naaste se nood is dieselfde ding. Geloof en versoening, geloof en geregtigheid hoort bymekaar.  Om te glo veronderstel gehoorsaamheid!!

Die ironie is natuurlik as mens weet wie Jesus is.  As jy besef dat Hy Kyrie, HERE, is.  As jy snap dat Hy die Koning van die heelal is en ook oor jou heers as koning; as jy besef Hy is die Een met alle mag en gesag; die Een voor wie elke knie uiteindelik sal buig, dan kan jy nie anders as om sy gesag oor jou lewe te aanvaar en met vreugde vir Hom te dien nie.  Hy is HERE.  Daarom sê ek ja.  Daarom leef ek gehoorsaam.  Daarom klop my woorde en my dade.

Daar is nog iets wat my in die gelykenis tref.  Iets wonderliks.  Dis die hart van die Bybel en die kern van die verlossingsboodskap.  Dis so ‘n kort sinnetjie, mens kan dit maklik mislees.  Na die eerste seun aanvanklik teen die pa gerebelleer het en geweier het om gehoorsaam te wees aan die Vader se opdrag om in die wingerd te gaan werk, staan daar die woorde in vers 29:  “ maar later het hy spyt gekry en tog gegaan.” 

Watter wonderlike woorde.  Maar later (husterion – uiteindelik) het hy spyt gekry en tog gegaan.  Hoor julle dieselfde tema as in die verhaal van die verlore seun.  Die sit ook later by die varke wat hy oppas en dan kry hy spyt. Die griekse woord (metamellomai) vir spyt kry kan mens ook vertaal met hy het diepe berou gehad of dit het hom diep geraak/bekommer.  Die eerste seun se geheim is dat hy diep bewus word van sy rebellie en opstand en ongehoorsaamheid aan die vader.  Dit raak hom diep.  So diep dat hy nie net ‘n hartsverandering ondergaan nie.  Nee, dit raak ook sy gedrag.  Dit raak sy wil.  Hy staan op en gaan gehoorsaam na die vader se wingerd en gee gehoor aan die Vader se opdrag!

Maar is dit nie die storie van elke sondaar nie?  Dat ons teen God in opstand was en allerhande redes gehad het waarom ons al Sy opdragte kon ignoreer nie.  Maar wonderbaarlik was daar vir ons tyd gegun om onsself te bedink en in diepe berou na God toe te gaan. 

EK wil ook vandag vra:  is die storie van die eerste seun dalk jou eie getuienis?  Laat ons die Here vanoggend prys vir duisende sulke verhale.  Verhale van diepe berou en bekering.  Van ‘n God wat mense wat in opstand was, nuut gemaak en nou as gehoorsame kinders laat werk in Sy wingerd nie.

Maar weet julle wat pla my?  Dat ons so min sulke verhale in ons gemeentes hoor.  Dit pla my dat ek self so lank laas voor God gebreek het en gehuil het oor my sonde en my ongehoorsaamheid.  Dit maak my bang dat ek al meer ongevoelig raak vir sonde en dat my gebrek aan toewyding my min pla en dat ek so lekker saam met die stroom gly.  Vriende, die Here wil my waarsku dat dit tyd is dat ek innig spyt moet kry en teruggaan na my Vader se wingerd.

EK wil ook vra: hoekom is ons soos wilgerbome en nie soos akkerbome nie.  Hoekom hoor en sien ek nie getuienisse van mense wat sê:  die Here het my op my knieë gebring.  Ek het ‘n diepe kommer oor my lewe;  oor my sonde;  oor my ontrou,  oor my taal,  oor my gesindheid teenoor mense van ander rasse,  oor my gebrek aan liefde vir my vrou/kinders;  oor my valsheid.  Hoekom sien ek soveel van ons wat neersien op tollenaars en die prostitute en nie besef ons eie verlossing is dalk in gedrang nie.

Vriende, hoeveel kanse het jy al gekry om tot inkeer te kom en in diepe berou jou toevlug tot die Here Jesus te neem?  Die Here Jesus sê die Joodse leiers het 3 kanse gehad.  Hulle het gehoor hoe Johannes die Doper hulle oproep tot bekering en die regte pad wys, en tog het hulle nie geglo nie.  Daarna het Jesus hulle gewaarsku dat die tollenaars en prostitute voor hulle die koninkryk sal ingaan, maar dit het hulle koud gelaat.  En selfs toe hulle sien hoe die tollenaars en die prostitute glo en hoe hulle lewe verander, het hulle steeds nie berou gekry en geglo nie.  Hoeveel keer het die Here nie al na jou geroep nie?  Hoeveel keer het jy nie al die boodskap van bekering en vergiffenis gehoor nie?  En hoeveel keer het jy nie geglo nie!

Daarom is dit so belangrik om raak te sien dat daar nie net twee seuns in die verhaal is nie, maar drie.  Die derde seun, is natuurlik Christus.  Die derde seun is die Seun van die Vader wat in die verhaal besig is om in gesprek te tree met die twee seuns.  Hy weet ons is soos die twee seuns.  Hy weet hoe maklik ons “ja” sê, maar ongehoorsaam bly.  Hy weet ook dat dit moontlik is om te rebelleer teen God, en tog tot inkeer te kom en om te draai.  En dis die derde Seun wat ons hoop gee.  Hy is God se “ja” aan die wêreld.  Al sê ons hoeveel keer “nee” vir Hom, Hy bly getrou.  En vanoggend weer vra Hy:  wat sê julle hiervan?  Wie van die 2 seuns het die wil van die vader gedoen?  Hy vertel die storie en Matteus teken dit op sodat ons kan weet:  daar’s ‘n Vader wat wag op sy seuns/dogters.  Sy oë is vol liefde.  Hy wag met geopende arms vir jou.  Wil jy dit nie oorweeg om op te staan, om te draai, en jou te haas na die vader nie.  Baie is immers geroep, maar min is uitverkies. (22:14) Amen.


No comments:

Post a Comment