Sunday, October 26, 2014

5 Oktober - Om vrug te dra op God se grond

Matt. 21: 33-46
Om vrug te dra op God se grond

Jesus begin met die woorde: Luister na nog n gelykenis. Dis duidelik – wat nou volg sluit aan by wat Hy net voor dit vertel het.

Ons sou kon sê dat al drie hierdie gelykenisse handel oor mislukking (of ongehoorsaamheid) en verwys na die onvermoë van die geestelike leiers van die Jode (familiehoofde, skrifgeleerdes, Fariseërs) om gepas op die koms van Jesus te reageer. 

Kom ons kyk na die tweede gelykenis: Hierdie gelykenis handel oor 'n man wat grond besit en 'n wingerd daarop aangeplant het. Hy het dit goed voorberei en versorg; 'n klipmuur rondom die wingerd gebou vir beskerming teen wilde diere en ander indringers; 'n parskuip aangebring om die druiwe te verwerk wanneer dit ryp is, en 'n wagtoring opgerig as skuiling vir 'n wag wat die wingerd oppas. Nadat die eienaar die wingerd en al hierdie dinge ingerig het, het hy na ‘n vreemde land vertrek en die grond en wingerd uitverhuur.

Wat hier gebeur het was nie so vreemd nie: Dit was n algemene verskynsel dat die ryk grondeienaars hul wingerd uitverhuur het aan ander.  In n tyd waarin baie boere hul grond verloor het en vir die groot grondbesitters moes gaan werk was hierdie ryk grondeienaars nie gewild onder die gewone mense gewees nie. 

So die verhaal en beelde wat Jesus vertel was vir hulle goed bekend. Hulle kon hulself inleef in die storie – soos die vorige gelykenis is Jesus baie slim met sy storie en die vrae wat hy vra. Net deur die  luister na die storie besef hulle alreeds dat hy op hulle sinspeel.

Die probleem in hierdie gelykenis het ontstaan toe die eienaar na die eerste oestyd van sy werkers gestuur het om sy deel van die oes te gaan haal.  In hierdie gelykenis het die huurders geweier om dit te doen.  In 2 gevalle het hulle die slawe vermoor.

Die eienaar stuur uiteindelik sy seun – want hom sal hulle seker nie doodmaak nie. Omdat dit ’n baie klas gedrewe samelewing was, het dit nog meer sin gemaak. Die seun is in ’n heel ander klas as die slawe en daarom sal hulle hom anders behandel, maar die teendeel vind egter plaas. Hulle maak hom dood, want redeneer hulle, as die erfgenaam dood is, sal ons die grond kry.  Hierdie is die klimaks van hulle rebellie. Hy wou nie luister of aan die eienaar gee wat hom toegekom het nie.

Kom ons kyk kortliks wat met al hierdie beeld bedoel word wat Jesus gebruik (ons sou hierdie ’n allegoriese gelykenis kon noem).  Dit beteken dat meeste van die elemente in hierdie gelykenis na iets spesifiek verwys.
1.       Die wingerd = Israel of die koninkryk van God
2.      Huishouer = God
3.      Huurders = leiers van Israel
4.      Vrugte = die gedrag wat deur God verwag word.
5.      Verwerping van die slawe = die verwerping van profete deur Israel
6.      Seun van die eienaar se dood = Jesus se dood
7.      Die straf van die huurders = oordeel oor Jerusalem en die nuwe huurders vir die kerk

Wat probeer Jesus vir hierdie mense sê met hierdie beelde:
Jesus kom wys weer op die Joodse leiers se ongehoorsaamheid aan God se wil. Hy kom wys op hulle bose leierskap en hulle vyandigheid aangesien hulle nie huur (die eienaar se deel van die oes) wou betaal nie.

Daar was al baie profete en ander voorgangers (soos Johannes), maar hulle wou nie na hulle luister nie.  Hulle is wreed behandel en selfs vermoor, maar tog gee God nie op nie: Hy stuur sy seun.  En ook hom het hulle vermoor.

Soos in die vorige gelykenis, vra Jesus weer ’n slim vraag:  Wat sal die eienaar met daardie huurders/boere maak?

Dan, soos laasweek, antwoord hulle baie vinnig. Hulle gee nogal ’n harde antwoord. Hy sal hulle straf (letterlik staan daar vernietig) en ander huurders aanstel wat wel aan hom sy regmatige deel sal gee.  Hulle stel voor dat die eienaar volgens die wet van vergelding optree – m.a.w. daar sal met geweld op hulle geweld reageer word. 

Aangesien die gelykenis oor die gedrag van die priesterhoofde en familiehoofde handel, is hulle antwoord op Jesus se vraag ook hulle eie skulderkenning en strafaankondiging. Hulle het in die strik getrap en hulle eie oordeel geteken. Hulle praat eintlik oor hulle eie vooruitsigte wanneer die finale oordeel aanbreek. In vers 45 erken hulle dit as hulle besef Hy het op hulle gesinspeel met hierdie gelykenisse.

Jesus vra dan vir hulle of hulle nog nooit in die Skrif gelees het nie: Die een wat deur die Jode verwerp is, sal die hoeksteen word.  Jesus gee die toepassing van hierdie gelykenis: die Joodse leiers sal vir hulle verwerping van God deur God verwerp word.  God sal die koninkryk aan die gee wat sy wil najaag. 

Dis belangrik om te onthou dat hierdie gelykenis oor die leiers van die Jode handel en nie die Jode in die algemeen nie.  Soos laasweek praat Jesus met die mense wat so seker van hulle saak was. In die laaste reël lees ons dat nie almal soos die leiers gedink het nie: die leiers wou Jesus doodmaak maar die mense het hom gesien as ’n profeet.  Daarom word die wingerd (Israel) nie geoordeel nie, maar die huurders (leiers van Israel).

Wat die Jode self voorspel het, het toe met hulle gebeur: Die wingerd is van die Joodse leiers weggeneem. Joodse gelowiges, en die gelowiges uit ander nasies wat deur hul getuienis deel van God se volk geword het, het die wingerd van God ontvang. God hét die wingerd aan ander verhuur, wat Hom op die regte tyd sy vrug gee.

Hoe lyk die lewe van iemand waarvan die hoeksteen die belangrikste is?
Wie deel wil wees van die koninkryk waarvan die Steen van God die belangrikste steen is, moet die vrugte dra wat God vra. Soos ek laasweek gesê het: ons dade moet ons geloof uitbeeld.

Die gelykenis is nie afgehandel met die Joodse leiers se verwerping van Jesus nie. Deur die eeue bly die vraag of die kerk van Christus die vrugte dra wat God vra.  Ons moet onsself gereeld vra: leef ons God se wil op aarde uit? Dra ons vrug?

Ons kan maklik dink dié verhaal het net met die Joodse leiers se struikeling te doen. Dit kan egter ook ons struikeling word. Dit gebeur wanneer ons die kerk en ons geloof vervreem van God se bedoeling daarmee.  Wanneer ons vergeet van God se opdrag om vrugte dra.

Dit kan vir mense in God se wingerd so maklik oor die wingerd begin gaan. Wat met die wingerd gebeur, hoe dit bestuur en gelei word, aan watter verwagtinge ons dit wil laat doen, watter opbrengs dit vir ons moet hê, kan die belangrikste begin raak.  Ons kan so behep raak met die wingerd dat ons vergeet wat God se bedoeling daarmee was – en wanneer daar mense kom om ons te herinner aan ons eintlik roeping, dan maak ons hulle dood.

Die Eienaar hou nie hiervan nie. Terwyl ons hou van verhale wat positief eindig, kan ons so maklik dié gelykenis vergeet. Dit eindig nie op 'n positiewe noot nie. Die Steen het die Joodse tempel platgeloop. Die wingerd is van die Joodse leiers weggeneem. Gelowige Jood en gelowige heiden het die nuwe volk geword aan wie die wingerd gegee is.

Die verhaal het hom telkens weer afgespeel. Deur die eeu het dit gebeur dat die lamp weggeneem word van gemeentes wat wegdraai van God en nie oop is vir die leiding van die HG nie.

Hoe reageer ons vandag?
God gee vandag nog profete om met ons te praat. Om ons te herinner aan ons roeping. Maar meer nog, Jesus het die HG vir ons gegee om elke dag by ons te wees en ons te lei. 

As ons bly voortleef soos die Joodse leiers, dan maak ons Jesus se kruisiging goedkoop. 

Die Joodse Leiers het gedink hulle doen die regte ding. Hulle was so oortuig gewees dat hulle selfs bereid was om Jesus te laat doodmaak.  Die vraag is egter vanoggend op ons gerug: is ons ook so seker van ons saak dat ons nie meer hoor as Jesus praat nie? Ons kan so besig raak met die wingerd dat ons vergeet aan wie dit behoort.


God gun vir ons elkeen om te boer in die wingerd, maar die wingerd behoort aan Hom.  Daarom is my gebed vanoggend dat ons altyd sal onthou aan wie die wingerd behoort en dat ons sal oop wees vir die HG se leiding..

No comments:

Post a Comment