Sunday, March 1, 2015

Johannes 1: 43-51 Kom kyk! You ain’t seen nothing yet!

Johannes 1: 43-51
Kom kyk! You ain’t seen nothing yet!

Die kerstyd is agter die rug. Jesus se geboorte is gevier. Dit was wonderlik. Maar uiteindelik is dit nie die geboorte wat so belangrik is nie. Sien, mens kan vashaak by die geboorte, terwyl die betekenis daarvan eintlik die belangrikste is. Of daar nou baie engele was of minder engele, of daar nou 3 wyse manne of baie wyse manne was en hoe dit in die stal gelyk en geruik het, is minder belangrik as die feit dat Jesus se geboorte die gang van die geskiedenis verander het.
Kuns, musiek, literatuur, kultuur, politiek – ons hele verstaan van onsself en van die wêreld is verander deur die geboorte van Jesus. Die geskiedenis van die wêreld word verdeel in die tyd voor Jesus se geboorte en na Jesus se geboorte. En wat geloof betref – Jesus se geboorte gee nie net ‘n nuwe verstaan van die lewe nie, maar skep ‘n nuwe manier van lewe. So, ons moenie vashaak by die geboorte nie, die betekenis daarvan is baie belangriker.  

Kom ons lees die teks – dit vertel van die verskil wat Jesus se geboorte gemaak het.

Deur die jare het baie mense soos Philippus gereageer toe Jesus vir hulle gesê het: “Volg my”. En hierdie mense is aangegryp deur Jesus en sy lewe. Hulle het beleef hoe hulle heelgemaak en deur Jesus verander is.  Soveel so dat hulle saam met Philippus kon sê: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.”

En deur die eeue het baie mense op verskillende maniere uitdrukking aan Philippus se woorde gegee. Alles in ‘n poging om te bevestig – in die baba en man wat hy geword het is daar die goddelik krag om die donker in lig te verander, om ons heel te maak, om nuwe lewe te gee aan enigiemand wat in Hom glo. Daarom kan Philippus ook nie anders as om vir Nataniël uit te nooi om ook vir Jesus te volg nie. Hy wil hê Nataniël moet dit ook beleef.

Net soos baie ander mense ook, is Nataniël skepties oor Jesus. Daarom vra hy: “kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”
Nasaret as dorp was nie baie belangrik nie. In geen van die Joodse geskrifte voor of tydens Jesus se lewe word Nasaret genoem nie. Dit was nie naby enige hoofpad geleë nie, so die mense het nie baie daar gekom nie. Boonop was die konserwatiewe Jode in Jerusalem nie baie beïndruk met die manier waarop die Jode in Nasaret gelewe het nie. Volgens hulle het die Jode van Nasaret nie presies gelewe volgens die wet soos hulle moes nie. So Nataniël se reaksie weerspieël die snobisme wat daar was teenoor die mense van Nasaret. Hy is skepties oor Jesus as gevolg daarvan.

En al wat Philippus dan antwoord – “kom kyk”. Hy raak nie in ‘n argument betrokke nie. Hy raak nie aan die stry oor die dorpies nie. Hy sê net – kom kyk. Dit bly maar ‘n feit dat mense nie in die Christendom in geargumenteer word nie. Trouens, dit doen meer kwaad as goed. Mense word eerder daardeur afgesit as nader getrek. Dis beter om net mense uit te nooi en te sê, kom kyk vir jouself.

En dis ons almal se roeping om dit te doen. Ons moenie met mense argumenteer nie, ons moet net vir hulle sê - kom kyk. Kom saam met my kerk toe en kom kyk. Kom saam met my kleingroep toe en kom kyk. Kom saam met my huis toe en kom kyk. Kom kyk wat dit beteken om liggaam van Christus te wees. Kom kyk wat ons doen. Kom kyk en beleef wat ek beleef. Dis vriende wat vriende nooi. Dit beteken natuurlik ook dat my lewe ook vir Jesus moet weerspieel. Ek kan nie een ding sê en ‘n ander ding doen nie. Dit moet ‘n geloofwaardige uitnodiging wees.

En wanneer Nataniël dan naderstaan om te kom kyk, dan verras Jesus hom. Jesus neem die wind uit sy seile, wanneer hy vir hom sê – ek ken jou al lankal, toe jy daar onder die vyeboom gesit het, het ek al geweet van jou. Dit het my laat dink aan die woorde van Psalm 139.
Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.
Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.
Daar is nog nie 'n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.
U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.
Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.

Dis hierdie verwondering oor God. Hierdie besef dat Jesus hom reeds ken wat maak dat Nataniël nie anders kan as om homself oor te gee vir Jesus nie. In daai oomblik besef hy wie Jesus is en hy gee homself oor.  
Ek dink dis iets wat ons almal weer moet hoor – Jesus sien ons raak. Hy lees ons soos ‘n oop boek – en die wonderlikste van alles – Hy is nog steeds lief vir ons. Agter so iemand wil mens mos aanloop.

En wanneer Nataniël vir Jesus begin volg, dan sê Jesus vir hom: “jy sal nog groter dinge as dit sien”. Die engelse het ‘n spreuk wat dit mooi verwoord – “you ain’t seen nothing yet”.
Wat is hierdie groot dinge?
Vir Fillipus, Nataniël en die ander dissipels was dit ‘n ontmoeting met God, ‘n heel nuwe lewe en al die wonderlike goed wat Jesus gedoen het.
Die skrywer James Baldwin skryf in een van sy boeke: “There was a man in the world once who loved me, and because that was the case, I can dare now to continue the struggle to become a man myself.”
Vir ons beteken dit ‘n ontmoeting met God, om Hom beter en dieper te leer ken, om te groei as mens, om op ‘n lewensreis saam met Hom te gaan, om deur Hom gebruik te word om die wêreld ‘n beter plek te maak. Om uiteindelik die mens te wees
wat Hy vir ons in gedagte het.

So as ek dit alles kan saamvat:
Jesus nooi ons almal uit om Hom te volg. Hy ken ons. Hy weet van ons. En nog steeds nooi Hy ons uit om Hom te volg. Gaan ons dit aanvaar?
Daarmee saam word ons ook geroep om ander mense uit te nooi om Jesus te volg. Sonder om te argumenteer, hulle te laat skuldig voel – al wat ons moet doen is om hulle uit te nooi. Te sê – kom kyk.
Dit gesê moet ons natuurlik ook seker maak dat ons eie lewe reg is. Dit help nie ons nooi mense uit om te kom kyk, maar dan getuig my lewe nie ook daarvan nie.

En dan moet ons oop wees vir die lewensreis waarop God ons gaan vat. Ons gaan nuwe dinge leer. Ons gaan ons self en vir God beter leer ken. Ons weet nie altyd hoe hierdie reis gaan wees nie, maar ons weet dat ons groter dinge sal sien. En uiteindelik sal ons die mense wee swat God vir ons in gedagte het.

Lukas 1: 26-38 Laat dit so wees

Lukas 1: 26-38
Laat dit so wees

Hierdie is ‘n vreemde teks vir protestantse en gerformeerde tradisies, want dit fokus so sterk op Maria. Dis iets wat ons meer by die Katolieke tradisie sal verwag. Tog is dit ook nie so vreemd nie, want Lukas fokus sterk op Maria. Lukas fokus eintlik sterk op vroue, want Elizabet speel ook ‘n belangrike rol. Anders as Matteus wat baie min van die vroue maak. In Lukas is dit die vroue wat getrou en betroubaar is, terwyl die mans nie so goed uitgebeeld word nie. So ons kan baie leer by Maria.

Wie was Maria? Sy was ‘n dogter, 12-14 jaar oud. Verloof aan Josef. Dit was die tyd waarop hulle verloof geraak het. Sy kom van Nasaret – ‘n klein armoedige dorpie. Ons lees in vers 29 dat sy nie verstaan het wat met haar gebeur het nie. Sy het geen invloed, besondere vermoëns of belangrike familie nie. Sy was bloedjonk, naief en doodgewoon. Tog word sy deur God gebruik. Soos iemand gesê het: “God entered into the ordinary and made it extra-ordinary”. Reeds hier voordat Jesus gebore is beklemtoon God dat Jesus ‘n gewone mens sou wees. Met die keuse van Maria word Jesus se menswording ge-inisieer.  

Maria is net nog ‘n voorbeeld van ‘n baie onwaarskynlike mens wat deur God gebruik is. Dink aan Moses – hy was ‘n moordenaar en kon nie goed praat nie. Jeremia, wat gevoel het hy is te jonk. Dawid die nederige skaapwagter wat later owerspel gepleeg en Batseba se man laat vermoor het. Petrus wat vir Jesus verloën het. Paulus wat eers die Christene vervolg het. 
Baie mense dink vandag nog steeds so. Dat ‘n mens sekere eienskappe moet hê of bekwaam en aanvaarbaar moet wees om deur God gebruik te word. Maria bevestig vir ons dat God nie soek vir sekere geestelike vermoëns of kwaliteite nie. Hy soek net mense wat oop en gewillig is om deur Hom gebruik te word.

Lukas noem Maria God se begenadigde. Dit het my laat dink aan die storie van Martin Luther. Die Duitse monnik wat in 1517 die Hervorming begin het, wat uitgeloop het op die begin van ons gereformeerde tradisie. Vir baie jare het hy geworstel met sonde en met vrae soos: “hoe kan ek deur God aanvaar word? en waar kan ek genade by God vind? Tot die dag wat hy besef het, dat hy deur genade alleen gered word. Martin Luther het ontdek dat hy ‘n begenadigde is. Dit het sy lewe en die toekoms van die kerk verander. Maria is ‘n begenadigde omdat sy deur God gekies is. So, ons leer weer by haar dat dieselfde vir elkeen van ons geld – ons is ook God se begenadigdes. 

Daar is verskillende maniere om Maria en haar rol te verstaan. Volgens die tradisionele, katolieke siening is sy maagdelik, skoon en sonder sonde omdat Jesus nie in sonde gebore kon word nie. Dis hoekom sy begenadigd is en daarom maak hulle so baie maak van Maria as die ma van Jesus.

Ek dink nie mens moet vasval in Maria se maagdelikheid en sondeloosheid nie, soos die katolieke dit doen nie. Dit gaan eerder hier oor Maria se geloof en getrouheid. Sy hoor dat God haar wil gebruik en sy is bereid om dit te doen.
Ek het al gewonder wat sou gebeur het as Maria nee gesê het vir die engel. Soos ek vir God ken sou hy haar keuse gerespekteer het. Maar sy doen dit nie – sy stel haarself tot beskikking van die Here. Sy gee haarself oor vir God en Sy wil. Prof Dirkie Smit skryf hieroor:
“Nie haar fisiese verbintenis met Jesus gee haar enige waarde nie, dog slegs haar geloof. Sy staan volkome aan óns kant. Sy is een van ons, soos ons. Sy is ’n dissipel, ’n gelowige. Sy is wat ons almal kan en moet wees."
So, by Maria leer ons om oop te wees vir dit wat God van ons vra.  En ons leer van geloof, vertroue en oorgawe aan God.

En laastens moet ons onthou dat hierdie verhaal het te doen met Jesus se koms na die wêreld om die wêreld ‘n beter plek te maak. Dit het te doen met die vestiging van God se koninkryk hier op aarde.
Maar as ons so na die wêreld kyk – met al die probleme, die ongeregtigheid en onregverdigheid, die hartseer en die wreedheid, dan is dit maklik om te sê, Jesus se koms, sy koninkryk, het geen verskil gemaak nie.
Dis maklik om te sê dis onmoontlik dat Maria wat so onwaarskynlik was en so opgehef kon word.
Dis maklik om te sê dat hierdie maar net ‘n storie is en dat die bo-natuurlike element daarvan sommer nonsens is.
Maar ons moet besef dat hierdie goed moontlik is binne ‘n verhouding met God. Dis binne hierdie verhouding met God waar ons begin besef daar is ‘n bo-natuurlike element aan God wat ons nooit sal verstaan nie – en dis OK so. Dis wanneer ons in ‘n verhouding met God leef, waar ons sien hoe die koninkryk van God in ons deurmekaar wêreld tog deurbreek. Dis binne ‘n verhouding met God waar vrede, liefde, hoop en blydskap begin moontlik raak. En by Maria leer ons wat dit beteken om oop te wees vir hierdie verhouding met God.

So as ek dit alles kan saamvat. By Maria leer ons…
Dat God deur haar mens geword het.
Dat God gewone dinge en mense buitengewoon kan en wil maak.
Dat God nie perfekte mense soek nie, maar eerder oop en gewillige mense.
Dat elkeen van ons God se begenadigde is.
Ons leer by haar van geloof en vertroue in God.

En om oop te wees vir ‘n verhouding met God wat vir ons help om ons God se koninkryk in die wêreld te sien deurbreek.

Markus 1: 1-8 “It’s about Jesus, stupid!”

Markus 1: 1-8
“It’s about Jesus, stupid!”

Die interessante ding van Markus – dit is die enigste evangelie wat geen geboorteverhaal het nie. Al die ander evangelies verwys na Jesus se geboorte – nie Markus nie. Dit wys maar net weer vir ons dat elke evangelie is in ‘n ander konteks en vir ‘n ander gehoor geskryf. Elkeen wou ‘n ander boodskap oordra. Maar dit net so terloops…

Dit kom uit die fliek Godspell, wat ‘n verwerking was van ‘n Broadway musiekblyspel. Dis die openingstoneel wat aansluit by hierdie teks. Let op die afwagting en die blydskap oor die koms van Jesus.

Toe Bill Clinton destyds sy verkiesingsveldtog gehad het om president van Amerika te word, het hy ‘n baie effektiewe slogan gehad – It’s about the economy, stupid. Hy het geweet die ekonomie is die ding wat die meeste Amerikaners bekommer, hy het gefokus op die ekonomie. Nou, wanneer ons hierdie teksgedeelte lees, is dit asof Markus vir ons wil sê – It’s about Jesus, stupid.

Ons sien dit sommer al in die heel eerste sin. Markus skryf: Die evangelie van Jesus Christus, die seun van God, begin so:
Dis opvallend dat daar nie enige werkwoorde in hierdie sin is nie. So, dis ‘n verklaring of ‘n stelling wat hy maak. Dis eintlik die titel van Markus se boek. En dit bevestig 3 goed vir ons: dit gaan alles oor Jesus; Jesus is die seun van God; die boodskap van Jesus is goeie nuus. Sy hele evangelie gaan oor Jesus as die seun van God. Asof hy sê: It’s about Jesus, stupid.

Dit begin hier by Johannes. Hy is die voorloper. Die een wat die pad vir Jesus gereed maak. Ek het onlangs stad toe gery, toe kom daar een van daai groot swaarvoertuie, “abnormal load”, van voor af. Een van daai wat die hele pad vol ry. By sulke voertuie is daar mos altyd ‘n waarskuwings voortuig wat voor hom ry – om ons te waarsku daar is ‘n groot voortuig oppad. Dis wat Johannes kom doen het – hy vertel vir die wêreld dat daar iemand besonders, Jesus Christus oppad is.
Net soos wat die fokus nie op die waarskuwingsvoertuig is nie, net so is die fokus nie op Johannes nie. Die waarskuwingsvoertuig plaas die fokus op die swaarvoertuig, Johannes plaas die fokus op Jesus. Markus is baie duidelik daaroor dat die fokus op Jesus is, die seun van God.

Net so ‘n paar verse verderaan doen Markus dit weer. By Jesus se doop is dit die stem wat uit die hemel bevestig dat Jesus die seun van God is.
En dan heel aan die einde van Markus (15: 39) wanneer Jesus aan die kruis sterf, is dit die Romeinse offisier wat uitroep: “hierdie man was werklik die seun van God.”
So Markus se doel is om die klem op Jesus as die seun van God te laat val. It’s about Jesus, stupid. Dis die Goeie Nuus waaroor ons feesvier in die aanloop tot kerstyd.

Die probleem is net dat ons dit so gou vergeet. Jaar in en jaar uit hoor ons die Goeie nuus van Jesus. Ons raak so gewoond daaraan dat ons dit later nie meer hoor nie. En dit praat nie meer met ons nie. Hierdie tyd van die jaar is dit nog meer so. Ons is so vasgevang in die einde van die jaar se stress, moegheid en gejaagdheid om alles klaar te kry voor die vakansie begin…dat ons vergeet van die Goeie nuus. En so word die Goeie nuus, sommer baie maklik ou nuus. Ons vergeet so gou. Ons het nodig om weer daaraan herinner te word.

Die vraag is nou – hoe reageer ons op hierdie Goeie nuus?

Johannes sê: Bekeer julle?
Bekering beteken jy draai ou rug op dit wat verkeerd is in jou lewe en jy volg vir Jesus. Jy draai om na God toe.
To repent is to came to your senses. It is not so much something you do as something that happens to you. True repentance spend less time looking at the past and saying “I’m sorry” than to your future and saying, “Wow!” (Buechner)
Hierdie is ‘n goeie tyd van die jaar om dit te doen.Miskien is dit iets wat jy vir die eerste keer moet doen? Dalk is dit iets wat jy nou weer moet doen? Nou is ‘n goeie tyd om weg te kyk van alles in jou verlede en vorentoe te kyk saam met Jesus.

Markus wys ook weer vir ons dat ons nou die mense is wat die pad vir Jesus gereedmaak.
Heiliges is nie bo-natuurlike of onnatuurlike mense of helde nie.  Heiliges is gewone mense wat met hulle lewens dit vir ander gewone mense makliker maak om te glo dat God leef en dat Hy ons liefhet. (L Boff).
Lewe ons op so ‘n manier dat dit vir ander mense makliker is om te glo dat God leef en dat Hy ons liefhet?
Johannes het geweet dis sy taak om die klem op Jesus te laat val. Hy het geweet dit gaan nie oor hom nie. Hy het nie in die pad gestaan van die evangelie nie. Alles wat hy gedoen het, het na Jesus toe gewys.
Hierdie adventstyd is weer ‘n goeie tyd om te dink oor my lewe – staan my lewe in die pad van die evangelie? Of kan mense vir Jesus in my lewe sien?

Mag ons in hierdie adventstyd en kerstyd weer besef – it’s all about Jesus, stupid.
Mag ons ‘n bekeringservaring hê – dalk vir die eerste keer, of dalk net weer as ‘n bevestiging.
Mag ons die dinge van die verlede aflê en vorentoe kyk saam met Jesus.

Mag ons lewens die pad vir Jesus gereed maak. 

Sunday, December 7, 2014

23 November 2014 - Have you ever seen the reign

Matteus 25: 31-46
Have you ever seen the reign?

Vandag is Jesus die koning Sondag. Dit beteken ons vier vandag dat Jesus die koning van die wêreld is.
In Matteus 28: 18 lees ons waar Jesus sê: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.”
Dit wys vir ons – Jesus is die Here. Hy is die koning, die heerser van die koninkryk – van die hemel en die aarde.
Maar ons moet altyd onthou – Jesus is ‘n anderste tipe koning. Hy is anders as wat die Jode van die Bybel verwag het. En hy is anders as wat ons ook verwag hy moet wees.
In Filippense 2: 7-8 lees ons: “Hy het homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.”
So hy het sy hemelse bestaan prysgegee om ‘n mens, koning, hier op aarde te word.
Van die begin af was dit duidelik dat Hy ‘n anderste, vreemde koning is. n Vreemde koning wat nie in ‘n paleis gebore is nie, maar in ‘n stal. ‘n Koning wat op ‘n donkie ry, sy dissipels se voete was, tyd spandeer met sondaars, tollenaars, prostitute, armes en vat aan melaatses en  uiteindelik soos ‘n misdadiger aan ‘n kruis sterf. ‘n Koning wat oor Homself sê: “ek het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien” (Markus 10: 45).
Jesus het nie net gekom om aan ‘n kruis te sterf vir ons sondes, sodat ons gered kan word en hemel toe gaan nie. As dit al is wat ons oor Jesus glo, dan mis ons die punt. Dan maak ons Hom soveel minder as wat Hy is. Jesus is die koning wat gekom het om mense te dien. Hy is die dienende koning.

Vanoggend se teks bevestig vir ons watter tipe koning Jesus is, maar ook wat dit vir ons beteken om as sy mense, sy koningskinders te lewe.

Lees teks

Jana Reiss het oor hierdie teks geskryf: “Calling all sheep! All sheep, head this way to heaven! Thanks for feeding and clothing the poor. PS Sorry, goats, you’re on your own.”

Dis maklik om hierdie teks te lees en bang te raak: gaan ek nou een van die skape wees of een van die bokke? Gaan ek saam met die skape hemel toe? Is ek gered?
Ek sou julle ook lekker kon laat skuldig voel met hierdie teks – as jy nie doen wat die skape doen nie, gaan jy nie hemel toe gaan nie.
Die ander kant is natuurlik ook waar. Die teks sou ons ook kon laat goed voel. Mens kan maklik hierdie teks lees en jouself op die skouer klop, want ons gemeente gee kospakkies en klere kos op ‘n Maandagaand. En ons het die Echo huis. Dankie tog ons is aan die skape se kant.
Die teks wil nie een van hierdie goed doen nie. In hierdie teks gaan dit nie oor wat ek moet doen om ‘n skaap te wees nie. Dit gaan nie oor wat ek moet doen om in die hemel te kom nie.
In hierdie teks gaan dit oor hoe ek my lewe hier en nou op hierdie aarde leef. Oor hoe ek my geloof nou uitleef teenoor my naaste. Oor hoe ek iets van God se koninkryk hier op aarde waar maak. Want elke keer wanneer ek iets vir ander mense doen, laat ek God se koninkryk deurbreek.
Alhoewel die teks dit ook noem, moet ons nie vashak by wat gaan gebeur aan die einde van die wêreld, die laaste oordeel en die hemel nie – die teks wil ons eerder help met hoe ek die res van hierdie week moet leef. Wat is ek veronderstel om nou te doen? Wat wil Jesus hê moet ek doen? Hoe wil Jesus hê moet ek wees? Hoe gaan my lewe verander as ek werklik besef dat Jesus die koning is?

Jesus help ons hiermee. As ons dink oor Jesus se lewe en bediening – hy het hierdie goed in die teks aan sy lyf gevoel. Hy was honger en dors en sonder klere. Hy was ‘n vreemdeling in baie van die plekke waar hy gekom het. Aan die einde van sy lewe was Hy sonder klere en ‘n gevangene. En hy het beleef hoe mense na hom uitgereik het, wanneer hy die goed beleef het.
Aan die ander kant was Hy ook die een wat baie mense wat honger, dors, sonder klere en siek was gehelp het.
Daarmee wys Jesus vir ons dat dit in die koninkryk van God nie gaan oor mag, rykdom en roem nie, maar oor liefde, diens en opoffering. Dit gaan nie oor wie ons is en wat ons bereik het in die lewe nie – dit gaan oor wat ek doen. Dit gaan oor hoe ek ander mense behandel. Dit gaan oor hoe ek liefde uitleef.

Die ou kerkvader, Augustinus, het gesê: Die belangrikste ding vir ‘n gelowige is “wees lief vir God en doen dan wat jy wil”.
Vir sommige mense s al dit ‘n verskoning wees om te kan doen en optree soos hulle wil. So asof Augustinus sê: glo in God en dan kan jy optree soos ‘n bok. 
Maar dit is nie wat Augustinus bedoel het nie. Hy bedoel dat as jy werklik in God glo – as Jesus regtig die koning van jou lewe is. As God se waardes ook jou waardes is. Dan sal jy doen soos God doen. Dan sal jy liefhê soos God lief het. Jy sal vergewe soos God vergewe. Jy sal die dinge doen waarvan Jesus in vanoggend se teks praat.

Martin Luther King, die bekende Amerikaanse burgerregte leier het in sy “I have dream” toespraak die volgende gesê: “If Christ is King, what does that mean? If Christ is ruler over our lives, then my Nobel Peace Prize is less important than my trying to feed the hungry. If Christ is King, then my invitations to the White House are less important than that I visited those in prison. If Christ is Lord, then my being TIME magazine's "Man of the Year" is less important than that I tried to love extravagantly, dangerously, with all my being.”

En ek weet dis nie altyd maklik nie. Ek stap ook baie keer by honger mense verby. Ek ignoreer ook baie keer mense wat swaarkry. Ek maak ook nie altyd die deur oop as ek sien dis ‘n bergie wat die klokkie lui nie. Hierdie teks wil ons juis herinner daaraan dat ons moet probeer. Dit wil ons nie laat skuldig voel nie, dit wil ons aanmoedig om te probeer. Want dis wat Jesus vir ons vra.

Ek wil ‘n DVD-clip wys. Dit help ons om te weet hoe om hierdie teks nou al uit te leef. Dit kom uit die fliek “Evan almighty”. In die fliek kom God, wat deur Morgan Freeman gespeel word, na Evan toe en gee hom die opdrag om ‘n ark te bou. Evan is ‘n gewone ou wat ‘n lewe probeer maak en wat nie kan verstaan hoekom hy dit moet doen nie. Hy weet nie eers waar om te begin nie. In die toneel sê God vir hom hoekom hy dit doen en waaroor dit gaan.

Dis waaroor vanoggend se teks gaan. Dit wil ons nie skuldig of oorweldig laat voel nie. Dit wil net vir ons sê – doen net “random acts of kindness”. Dis hoe ons die wêreld gaan verander. Dis hoe ons die koninkryk laat deurbreek.


Hoe die wêreld gaan eindig? Wat gaan gebeur as ons doodgaan? Hoe gaan ons geoordeel word? Niemand van ons weet regtig nie. Wat ons wel weet is dat ons nou al ‘n verskil kan maak. En wat ons wel weet is dat Jesus aan die einde vir ons wag en hy sal ons sien en ons ken en as ons gedoen het wat Hy van ons vra, dan sal Hy ons sy eie maak. Om dit te weet is genoeg vir my. 

9 November 2014 - Dankfees

Dankfees
Ef 5: 19-20 & 1 Tess 5: 16-18

Daar was ‘n verkoopsman wat aan ‘n besigheidsman ‘n donkie verkoop het. Hy vertel vir die besigheidsman dat hy ‘n gelowige man is en daarom die donkie geleer het om gehoorsaam te wees aan godsdienstige opdragte. So, as jy wil hê dat die donkie moet stop, dan sê jy vir hom: “AMEN”. En dan stop die donkie. As jy wil hê hy moet beweeg, dan sê jy vir hom: “Dankie Here”. En dan sal die donkie begin loop.  Die besigheidsman is baie beïndruk en koop die donkie. Hy ry toe op die donkie na ‘n ander afspraak toe. Die rit is baie aangenaam en die besigheidsman is baie rustig. Soveel so dat hy nie oplet dat die donkie besig is om na die rand van ‘n afgrond te stap nie. Uiteindelik skrik hy wakker en hy sien die afgrond: “stop, donkie, stop!” skree hy. Op die nippertjie onthou hy, hy moet “amen” skree as hy wil hê die donkie moet stop. “Amen”, skree hy en die donkie stop op die rand van die afgrond. Die besigheidsman is toe so verlig dat hy net opkyk en sê: “dankie Here”.

Vandag gaan daaroor dat ons vir die Here dankie sê.

Vraag: waarvoor is julle vanoggend dankbaar? Noem een ding - sê vinnig vir mekaar.

Lees Efesiërs 5: 19-20 en 1 Tessalonisense 5: 16-18

Hoekom is dankbaarheid belangrik?

Dankbare mense is tevrede mense. Ondankbare mense gaan nooit tevrede wees nie. Hulle gaan nooit genoeg hê nie. Hulle gaan altyd op soek wees na iets beters. As mens net die hele tyd leef vir die tye wanneer dit gaan beter gaan, dan mis jy die dinge wat nou goed is in jou lewe. En meeste van die tyd ontdek jy in elk geval dat dinge nie altyd beter is aan die ander kant van die draad nie. So dankbare, tevrede mense is mense wat weet hoe om dit wat hulle het te geniet en op te hou verlang na dit wat hulle nie het nie.

Dankbare mense is minder gestress. Hulle kyk nie na mense wat meer as hulle het en raak opgewerk daaroor nie. Hulle dink nie die lewe is onregverdig omdat hulle nie so baie het nie. Hulle gun ander mense dit wat hulle het.

Dankbare mense beleef blydskap. Hulle besef dat die regte volgorde is: Jesus, ander en dan ekself. As ek myself eerste stel raak ek baie selfsugtig en blydskap en selfsug gaan nie saam nie. Om jouself en jou behoeftes eerste te stel bring dalk kortermyn vreugde, maar dit gaan nie dieper blydskap bing nie. Net God kan dit doen. Wanneer ons vir Jesus eerste stel bring dit blydskap. En ons vind blydskap wanneer ons ander mense dien.

Dankbare mense is vrygewige mense. As ons besef dat ons alles van God af kry. Dat ons niks verdien nie. Dan gee ons ook makliker. Ek weet van ryk mense, wat baie vrygewig is. En ek weet van ryk mense wat baie selfsugtig is. Net so weet ek ook van arm mense wat baie vrygewig is en arm mense wat baie selfsugtig is. Die ding wat die verskil maak is dankbaarheid. Dankbare mense is vrygewige mense.

Dankbaarheid begin by God. Skryf brief aan God waarin ons vir Hom sê waarvoor ons dankbaar is en kom sit dit vas teen die bord voor in die kerk.


Gebruik nagmaal as herinnering aan en teken van dankbaarheid teenoor dit wat Jesus vir ons gedoen het.

2 November 2014 - O, Lord, it's hard to be humble

Matteus 23: 1-12
O, Lord, it’s hard to be humble
Ek het die volgende bloginskrywing onlangs raakgeloop. Die titel is What Would Jesus do? You really want to know?
Dit vertel van ‘n ma wat vir haar seun ‘n WWJD (What would Jesus do) armbandjie gegee het. Sys ê vir haar seun da thy altyd eers na die armbandjie moet kyk voordat hy besluite nee moor hoe om ‘n Christelike lewe te lei.
‘n Week later was sy geskok om te sien dat haar begin uithang het met prostitute, straatmense en ander sondaars. Hy het selfs vir mense in ‘n kroeg  nog drankies gekoop. Een middag het sy gesien hoe hy besig is om ‘n boemelaar se voete te was. Die ergste vir haar was toe sy na ‘n aborsiekliniek toe gegaan het om teen aborsie te betoog. Toe sy daar kom toe sien sy haar seun daar, maar hy staan by die vroue wat ‘n aborsie ondergaan het en skree vir die betogers – “julle wat sonder sonde is, gooi die eerste klip”.
Die ma was baie ongelukkig hieroor, maar sy dink toe aan ‘n plan. Sy gee toe vir hom ‘n ander  armbandjie wat lees WWAPD. Dit staan vir What would a Pharisee do.
Sedertdien is haar seun ‘n ander mens. Hy gee sy tiende baie streng. Hy staan op die straathoeke en bid waar almal hom kan sien. Hy veroordeel sondaars aktief. Hy verdedig die Ou Testamentiese wette. Hy meng nie met enige sondaars nie. Trouens, hy word nou gesien as ‘n baie heilige jong man tussen ander gelowiges.
Die ma is nou baie gelukkig met haar seun. Nou wens sy net dat Jesus ook haar seun se goeie voorbeeld sal volg.

Ek het onmiddelik aan hierdie bloginskrywing gedink toe ek vanoggend se teks gelees het.
Lees die teks

Ek het prentjies saamgebring van die gebedsbande en tossels waarvan ons in die teks lees.
Die gebedsbande is leer bande met klein houertjies aan waarin tekste uit die Torah geplaas word. Dit word deur Joodse mans gedra as ‘n herinnering aan God en gehoorsaamheid aan die wet.
Die tossels is op die vier hoeke van die Joodse gebedsmantel en herinner die Jode aan hulle godsdienstige pligte. 
Hierdie gebedsbande is deel van voorskrifte wat ons in Deuteronomium en Numeri kry. Dis deel van die Torah en is ‘n teken dat jy die wet saam met jou en naby jou dra.

Dis opvallend dat Jesus nêrens sê dat hulle dit nie moet dra nie. Nêrens sê Hy dat dit verkeerd is om die goed te dra nie. As ‘n Jood is daar waarskynlik ‘n kans dat Jesus dit self gedra het. So Jesus is nie teen hierdie tradisies nie, Hy respekteer die tradisies – Hy kyk wel op ‘n nuwe manier daarna. Dit gaan nie vir Hom oor die feit dat hulle hierdie goed doen nie, maar wel oor hoe hulle dit doen.

Vir Jesus gaan dit oor die hart of die motivering van die wet – nie oor die letter van die wet nie. Dit help nie jy hou by die letter van die wet – jy volg al die reels en regulasies - maar jou hart het nie verander nie. Dan is jy net bloot wetties.

Verlede Sondag het ons gesien dat Jesus die hele wet opgesom het. Hy gee die “golden rule” van die wet. Hy sê die hele wet kan opgesom word deur - “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. En die tweede wat hiermee gelykstaan is: jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
So, die wet gaan oor die uitleef van liefde teenoor God, myself en my naaste. Die doel van die wet is om goeie verhoudings met God en my naaste te bou.

So nou sê Jesus vir die mense – luister na die wet, volg die wet, volg die tradisies – moet dit net nie doen soos wat die Fariseërs dit doen nie. Want die manier hoe hulle dit doen, bou nie verhoudings met God en met my naaste nie. Hulle volg die letter van die wet, maar nie die gees van die wet nie.

Om hierdie punt te maak - ontmasker Jesus die Fariseërs deur ‘n klomp goed wat hulle doen uit te lig. En al hierdie goed wat hulle doen kan ons terugvat na ander plekke waar Jesus ook daaroor praat. Wel vanuit ‘n ander hoek. Kom ek noem dit gou:

Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers”. Dit verwys na die wet en die nakoming daarvan wat so swaar op mense rus. Dis swaar en moeilik om al daai wette na te kom. Teenoor dit sê Jesus in Matteus 11: 28-30: “Kom na my toe almal wat uitgeput en oorlaai is. My juk is sag en my las is lig”. Om Jesus te volg maak die lewe ligter, nie swaarder nie.

“Alles wat hulle doen, doen hulle om raakgesien te word”. Teenoor dit sê Jesus in Matteus 6: 1-13: Moenie julle godsdienstige pligte, soos om armes te help en om te bid in die openbaar doen sodat almal dit kan sien nie, want dan is jy skynheilig.

Hulle soek ereplekke by die feesmaaltye en die voorste plekke in die sinagoges”. Teenoor dit sê Jesus in Lukas 14: 7-11 jy moenie die voorste plekke soek nie – staan dit liewer aan iemand anders af, want elkeen wat hoogmoedig is sal verneder word en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.

Hulle hou daarvan om as “Rabbi” en “vader” aangespreek te word.  Teenoor dit sê Jesus dat ‘n titel jou nie belangriker maak as ander mense nie. Voor God is ons almal broers en susters. Mekaar se gelykes. Net God en Jesus kan as Rabbi en Vader aangespreek word.

So Jesus ontmasker die Fariseërs as mense wat die wette nakom en die regte klere dra, maar hulle doen dit maar net om raakgesien te word, hulle harte is nie daarin nie. En op so ‘n manier skrik hulle mense af in plaas daarvan dat hulle mense nader trek na God toe.

Jesus gaan dan verder en sê – wat julle eerder moet doen is om mense te dien. Op die oomblik is julle besig om julleself te dien, terwyl dit eerder moet gaan daaroor om ander te dien.
Die enigste manier hoe mense regtig Jesus se liefde gaan leer ken, is wanneer ons hulle dien. As ons nie dit verstaan nie, dan verstaan ons nog nie vir Jesus nie. Soos toe Jesus sy dissipels se voete gewas het – dit was die werk van ‘n slaaf. Hy doen dit omdat Hy wou wys – hy is nie belangriker as enigiemand anders nie. Hy is bereid om die minste te wees. Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien. Dis wie Jesus is.

Iemand het gesê die lewe is soos ‘n resies wat jy hardloop. Aan die einde van hierdie lewensresies gaan God nie vir my sê: mooi my kind, jy het die wenstreep gehaal voor enige iemand anders nie. Nee – Hy gaan vir my vra: wie het jy gehelp om die wenstreep saam met jou oor te steek. Dis dien.

Albert Einstein het gesê: “Probeer om nie ’n persoon van sukses te word nie, maar eerder ’n persoon van waarde”. 
Jy word ’n persoon van waarde deur ander te dien.

Dit beteken jy sê nee vir magspeletjies van die moderne samelewing. Waar dit net gaan oor wat ek kan kry. Vir Jesusvolgelinge gaan dit oor wat ek kan gee

Dien beteken omgee vir alle ander mense - van vriende, familie tot vyande en vreemdelinge.

Dien beteken dat ek nie net ingestel kan wees op myself en my eie welstand nie - soos die Fariseërs nie. Om ander te dien, moet ons bereid wees om soms die minste te wees en ander mense eerste te stel.

Dis ook iets wat die kerk moet besef – kerkwees gaan nie oor vergaderings en geboue en wonderlike eredienste nie. Kerkwees gaan oor hoe ons vir God, mekaar en ander mense dien.


Jesus sê die geheim van ‘n gesonde, sinvolle en gelukkige lewe lê nie in watter klere jy dra, wat jou titel is en of jy al die godsdienstige reels en tradisies perfek nakom nie. Die geheim van ‘n sinvolle en gelukkige lewe lê in dien. Dis die hart van die wet.

26 Oktober 2014 - Die politiek van die liefde

Matteus 22: 34-40
Die politiek van die liefde
Vanoggend se teks is die derde in ‘n reeks waar die godsdienstige leiers vir Jesus challenge en probeer uitvang.
Die vraag oor die belasting (Matt 22: 15-22) waar die Fariseërs en die Herodiane vir Jesus probeer uitvang oor die betaal van belasting. Hy antwoord dat jy belasting moet betaal en vir God moet gee.
Die Sadduseërs wat vir Jesus challenge oor die opstanding van die dooies. (Matt 22: 23-33).
Nou is dit weer die Fariseërs wat vir Jesus challenge oor sy siening van die wet.
Jesus laat hom nie uitvang nie – elke keer antwoord Hy vinnig en duidelik. En na elke antwoord sluip die godsdienstige leiers maar druipstert daar weg.

Kom ons lees dan nou oor hierdie derde challenge.

Daar is die mooi storie van Rabbi Hillel. Hy het voor Jesus geleef, trouens hy is dood 6 jaar voordat Jesus gebore is. Die Jode het hulle daarop geroem dat hulle die Torah (eerste 5 boeke van die Bybel) baie goed ken. Hulle het dit uit hulle koppe geleer. Blykbaar het iemand eenkeer vir Rabbi Hillel gechallenge om die hele Torah op te sê terwyl hy op een been staan. Rabbi Hillel gaan staan toe op een been en sê: “Dit wat jy haat, moet jy nie aan jou medemens doen nie. Dit is die hele Torah: die res is net ‘n verduideliking daarvan. Gaan en leer dit”.
Rabbi Hillel gee die “golden rule” van die Torah. Dis wat Jesus ook doen. Hy quote die Torah. Hy gee ‘n opsomming van die 10 gebooie – hy gee die golden rule..

Met hierdie oproep sê Jesus dat alles oor die liefde gaan. Liefde vir God, myself, my naaste. Liefde is die bril waardeur ‘n mens na alles moet kyk. Dis hoekom Jesus sê: dat die hele wet en profete in die liefdesgebod saamgevat word.

Dis die bril waarmee ons die Bybel moet lees. Liefde is die sentrale boodskap van die Bybel. Selfs die moeilikste tekste in die Bybel moet gelees word deur die bril van die liefde. Daai ongemaklike tekste wat ons nie graag lees nie – as jy dit deur die bril van liefde lees, kry dit sommer nuwe betekenis. Liefde is die sentrale boodskap van die Bybel.

Liefde is ook die toets vir goed wat mense sê en doen. In ons lewe saam met ander mense - as jy nie iets uit liefde kan sê en doen nie, moet jy dit liewer nie sê en doen nie. Ek dink daar sal baie minder konflik, hartseer, oorloë, rassisme en dies meer wees as mense meer in liefde optree.
Geen wonder nie Jesus het gesê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”  Dis waar alles begin en eindig.

In Jesus se antwoord sien ons 3 vorme van liefde: Liefde vir God, liefde vir jouself en liefde vir jou naaste. Hierdie goed kan nie uitmekaar gehaal word nie. Die een kan nie sonder die ander nie. Jesus sê immers dit is gelykstaande aan mekaar. Miskien sal hierdie prentjie help om dit meer konkreet te maak.


 Alles begin by liefde vir God. Om God lief te hê met jou hele hart, siel en verstand beteken jy moet Hom liefhê met elke aspek van jou menswees. Dis ‘n erkenning dat Hy die Skepper en Verlosser is en dat ek my lewe gaan inrig volgens sy wil. Dis om heeltyd bewus te wees van sy teenwoordigheid – oral waar ek kom en in alles wat ek doen.
Iemand het eendag vir ‘n wyse ou man gevra: “Is dit maklik om God lief te hê?” Hy antwoord: “Dit is maklik vir hulle wat dit doen.”
Wys jou liefde aan God deur Hom te eer Hom te gehoorsaam. En wanneer ons dit doen vloei hierdie liefde ook na al jou ander verhoudings en dit maak jou lewe betekenisvol.

Jesus sê ook dat ons vir onsself moet lief wees.  Daar is ‘n gediggie wat sê:
3 men went down the road.
Down the road he went.
And there were three men.
The man they saw,
the man he was,
the man he wanted to be.”

Dis mos hoe dit is – daar is die mens soos ander jou sien, die mens soos ek myself sien en die mens wie ek graag wil wees.

Maar daar is ook ‘n vierde manier wat alles bepaal en dis hoe God my sien. God het ons na sy beeld gemaak. Dit beteken ons is soos God – goed, heilig, vol liefde. Dis ons wat vir onsself sê ons is nikswerd en sondig. Dis nie wat God sê nie.
Paulus het geskryf in 1 Korintiers 15: 10: “Deur die genade van God, is ek wat ek is
Wanneer ek besef hoe lief God my het, kan ek ook leer om vir myself lief te wees. En dan kan ek ook God se liefde gaan uitleef.
Eric Hoffer het gesê: “The capacity for getting along with our neighbour depends to a large extent on the capacity for getting along with ourselves. The self-respecting individual will try to be as tolerant of his neighbour's shortcomings as he is of his own.”

En dit bring ons dan by die liefde vir ons naaste. Liefde vir my naaste beteken ek moet altyd die beste en die goeie soek vir my naaste. Dis om ander mense te hanteer as die beeld van God. En dis ‘n liefde wat nie bepaal word deur wat ek van ander dink of hoe ek oor hulle oordeel nie. Dit maak nie saak wie my naaste is nie, ek moet liefde aan hulle bewys.

Twee verse in 1 Johannes verduidelik vir ons hierdie naasteliefde:
Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie - hoe kan die liefde van God in hom wees?  Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.” ( 1 Joh 3:17,18)

As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie.” (1 Joh 4: 20)

So Jesus beklemtoon liefde vir God, liefde vir myself en liefde vir my naaste. Dis die bril waardeur ons na alles moet kyk.

‘n Laaste vraag om by stil te staan: Hoe lyk hierdie liefde? Wat doen hierdie liefde?
Uit Jesus se optrede teenoor die ouens wat Hom probeer vasvrae en op ander plekke waar Hy mense vasgevat het, soos om die handelaars uit die tempel te jaag, sien ons dat liefde is nie altyd gelyk aan “nice” nie.

Liefde is nie altyd so nice soos wat dit voorgestel word by Valentinesdag en kersfeestyd nie.
Te maklik gebeur dit dat liefde gebruik word as ‘n verskoning om konflik of moeilike issues te vermy.

Maar dis nie tipe liefde wat ons by Jesus sien nie.  Dieselfde liefde wat gemaak het dat Jesus geëet het saam met die tollenaars en die sondaars en wat hom laat uitreik het na die melaatses en die magteloses het ook gemaak dat hy duiwels uitgedryf en mense gekonfronteer het. Dis ‘n liefde wat kan opstaan vir dit wat reg en regverdig is en onreg wil herstel.

As ons liefde, soos wat Jesus dit gedoen het, net as nice verstaan, dan maak ons liefde minder. Dis liefde wat Hom in allerhande moeilike en ongemaklike situasies laat beland het. Dis liefde wat Hom aan ‘n kruis laat sterf het. Liefde is nie net nice nie, dis ook bereid en gewillig om die moeilike goed in die oë te kyk.

So, Jesus sê: wees lief vir God, wees lief vir jouself en wees lief vir jou naaste. Kyk na alles en almal deur die bril van liefde. En moenie liefde reduseer deur dit soetsappig te maak nie. Liefde is ook soms moeilik. As ons liefde so verstaan en uitleef sal dit ons lewe betekenisvol maak.