Jesaja
62 : 1-5
In
die laaste dae van die 2de Wêreldoorlog het ‘n lid van die Italiaanse
weerstandsbeweging alleen in die tronk gesit. Hy was moeg, honger en seer, want
hy was erg gemartel. Dit het vir hom gevoel asof almal van hom vergeet het. Hy
het nie alle hoop verloor.
Skielik
een nag, maak die wag sy sel se deur oop. Met ‘n paar vloek en skelwoorde
daarmee saam, gooi die wag ‘n hele brood na die man se kant toe. Teen die tyd
was die man al doodhonger, so hy gryp die brood en skeur dit oop. Binne-in die
brood ontdek hy toe ‘n boksie vuurhoutjies en ‘n stukkie papier. Hy steek toe
een van die vuurhoutjies aan die brand en in die lig lees hy ‘n enkele woord op
die stukkie papier: “coraggio”.
Coraggio
beteken “hou moed”.
Hierdie
een woord op ‘n stukkie papier het hom laat besef: “moenie opgee nie, moenie
ingee nie. Ons het nie van jou vergeet nie. Ons probeer jou help.
Dis
presies wat Jesaja 62: 1-5 ook wil doen. Dit gee hoop en moed.
Aan
die begin van die jaar is ons uitgerus en weer lus vir alles. Alhoewel ons so
‘n bietjie onseker is oor die jaar wat voorlê is ons ook vol afwagting vir
alles wat voorlê. Dalk begin jy met ‘n nuwe werk, nuwe vooruitsigte, dinge wat
jy beplan vir die jaar. Goed wat jou opgewonde maak. Ons is vol moed en hoop
vir die jaar wat voorlê. Ek hoop dat Jesaja 62 vir ons sal help om vol te hou
met hierdie moed en hoop. Want dis maklik om hoop en moed te verloor.
In
Jesaja se tyd het die mense van Jerusalem verstote en verlate gevoel. Hulle was
platgeslaan en het hoop verloor. Hierdie woorde is dus bedoel as goeie nuus, om
vir hulle weer hoop te gee.
Om
hierdie hoop te bevestig gebruik hy ‘n metafoor van lig om te wys hoe die
heerlikheid van die Here sal inbreek in die donkerte van hulle moedeloosheid.
Dis soos die dag wat breek na die lang donker nag of soos wanneer ‘n mense ‘n
fakkel aansteek of ‘n lig aansit in die donkerte. God se lig sal hulle
moedelose lewens weer verlig.
‘n
Storie om dit te verduidelik. Dis ‘n ware verhaal van Johnny, ‘n 19-jarige
downsindroom jongman wat as ‘n pakker in ‘n groot kruidenierswinkel gewerk het.
Die mense van die winkel het eendag ‘n vrou, Barbara Glanz genooi om met die
werkers te kom praat. Sy praat toe oor die invloed wat mens het op ander mense
en hoe ‘n mens ‘n verskil kan maak. Omtrent ‘n maand later het Johnny vir
Barbara gebel om te sê dat hy van haar praatjie gehou het. Hy het baie gaan
dink oor wat hy kan doen om iets spesiaals vir die kliënte van die winkel te
doen. Toe kry hy die idee om elke aand ‘n gedagte vir die dag te vind wat hy
die volgende dag vir die mense kan gee. Iets positiefs wat mense se dag sal
ophelder of hulle sal laat beter voel.
Elke
aand het sy pa hom toe gehelp om die gedagte vir die dag 6 keer op ‘n bladsy te
tik en dan het hulle 50 bladsye gedruk. Hy het dan met ‘n skêr 300 kopieë
uitgeknip en sy naam op elkeen geskryf.
Elke
keer as hy iemand kruideniersware in die sakke gepak het, dan het hy die
gedagte vir die dag binne-in die laaste sak gesit. Dan het hy die persoon in
die oë gekyk en vir hulle gesê: “Ek het ʼn “gedagte vir die dag” in jou sak
gesit. Ek hoop dit help jou om ʼn goeie dag te hê. Dankie dat jy hierheen gekom
het.”
‘n
Maand later het die winkelbestuurder vir Barbara gebel en vir haar gesê:
“Barbara, jy sal nie glo wat gebeur het nie. Ek het my rondtes gedoen en toe by
die kassierpunte kom, was die ry waar Johnny gewerk het 3x langer as enigiemand
sin. Dit het gestrek tot by die gevriesde kosafdeling!”
Die
bestuurder het toe begin reël dat daar nog meer kasregisters oopgemaak word,
maar die mense wou nie uit Johnny se ry skuif nie. Hulle wou in Johnny se ry
wees. Een vrou het selfs gesê dat sy vroeër net eenkeer ‘n week na die winkel
toe gekom het, maar nou kom sy elke dag om Johnny se gedagte vir die dag te
kry.
Johnny
het nie net sakke gepak nie – hy was ‘n pakker van hoop. Hy het vir mense hoop
gegee.
Jesaja
herinner alle gelowiges daaraan dat ons pakkers van hoop moet wees. Dis maklik
om te fokus op die negatiewe en om heeltyd krities te wees. Kom ons wees eerder
mense wat in 2013 positiwiteit en hoop sal gaan uitdeel.
Kom
ons kyk gou watter gedagtes vir die jaar kan ons nog uit hierdie teks saamneem.
Die eerste gedagte kry ons
in vers 3:
“Die
Here sal jou soos ʼn sierlike kroon in Sy hand hou, jou God sal jou soos ʼn
koninklike tulband vashou.” (vs 3)
Die
beelde van krone en tulbande wat hier gebruik word is beelde wat hoort by ‘n
koninklike troue. ‘n Troue waar net die beste voorgehou word. Jerusalem word
God se kroon en tulband egnoem. Hy hou haar in sy hand. Hy versorg en beskerm
haar. Sy is nie meer die verstote vrou nie.
Die
eerste gedagte van die jaar is dat God op dieselfde manier na my en jou kyk.
Ons is vir Hom soos ‘n kroon en ‘n tulband. Hy hou ons in Sy hand, hy versorg
en beskerm ons. Ons is vir hom kosbaar.
Dink
gou ‘n oomblik. Wat doen die woorde aan jou? Hoe laat dit jou voel oor jouself?
Onthou dis God wat dit vir jou sê!
Die tweede gedagte vir die
jaar kry ons in vers 2, 4:
“Jy
sal ‘n nuwe naam kry, ‘n naam wat die Here self vir jou gekies het.”
“Jy
sal genoem word: “Die een vir wie die Here liefhet…die een wat aan die Here
behoort ”
In
die Bybel sien ons baie keer, wanneer God mense se lewens verander of as hy vir
hulle ‘n spesifieke roeping het, dan word hulle name ook verander. Abram wat
Abraham word, Jakob wat Israel word, Saulus wat Paulus word. Dit was ‘n gebruik
van daardie tyd.
Jesaja
praat hier van Jerusalem wat ‘n nuwe naam gaan kry. Hulle is nou nie meer die
mense wat verstoot is nie, wat sonder hoop is nie. Hulle is die mense vir wie
die Here lief is en wat aan Hom behoort.
Dis
soos ons ook lees in Sefanja 3: 17 “Die Here jou God is by jou. Hy is vol
vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou”
Julle
het seker al gehoor van Norman Vincent Peale. Daar word vertel dat hy eenkeer
in ‘n preek gesê het dat daar nêrens in die Bybel ‘n plek is waar God iemand
label as ‘n sondaar nie. Hy het ook gesê dat Jesus nooit enigiemand ‘n sondaar
genoem het nie. Robert Schuller, bekende TV prediker en skrywer wat die Crystal
Cathedral in Californië begin het, het dit gehoor en gedink dat dit mos nie
waar kan wees nie. Hy het toe sy Bybel gevat en dit gaan navors en ontdek dat
Norman Vincent Peale reg was. Nêrens
label Jesus ooit iemand as ‘n sondaar en ‘n mislukking nie.
Ek
kan ook nie aan een plek dink waar Jesus dit doen nie. Hy sou wel vir iemand bv
sê om nie meer te gaan sondig nie, maar hy het nooit mense as sondaars gelabel
nie. Hy het altyd positief gepraat en mense opgebou. Hy het mense gelabel as
vergeefde mense, as nuwe mense.
Dis
die 2de gedagte vir die jaar. Jy behoort aan die Here. Hy is lief vir jou. Hy
is vol vreugde oor jou. Hy is stil-tevrede met jou. Hy jubel en juig oor jou.
Hy label jou as iemand wat vergewe is en as ‘n nuwe mens.
So
gaan 2013 in as iemand wat weet dat jy vir God kosbaar is.
As
iemand wat weet dat Hy vol vreugde is oor jou. Ge-label as ‘n nuwe mens.
En
leef in hierdie jaar as ‘n pakker van hoop. Iemand wat vir ander mense hoop
gee.
No comments:
Post a Comment