Lukas 1: 39-55
Jalize het onlangs ‘n
baba gedoop. Op die oog af is daar niks snaaks daaraan nie, behalwe dat die ma
van die baba ‘n 15 jarige skooldogter is. Julle kan dink die tipe uitdagings
wat vir haar voorlê. Om ‘n baba groot te maak, skoolloopbaan te voltooi en al
die stigma wat daarmee saamgaan. Sy is in moeilike omstandighede. Gelukkig is
sy nie deur haar familie verstoot nie. Hulle help haar en ondersteun haar. Sy is ook saam met haar baba gedoop, want sy
het ‘n nuwe begin gemaak.
Maria was in dieselfde
stuasie. Trouens, ek dink sy het groter uitdagings gehad. Sy was ook 14 of 15
jaar oud. Sy was ongetroud. In daardie tyd het vrouens geen regte gehad nie.
Hulle status was gekoppel aan hulle mans. Maria het dus geen status gehad nie,
want sy was nie getroud nie en sy sou gebrandmerk gewees het as ‘n los vrou
omdat sy buite die huwelik swanger geraak het. En wie sou haar glo as sy vertel
het hoe sy swanger geraak het? Die enigste ding wat in haar guns sou tel was
dat sy Josef se ondersteuning gehad het. Maar deur dit alles het Maria haar nie
laat onderkry nie, want iets het met haar gebeur toe Gabriël haar besoek het.
Uit haar loflied kan ons iets hiervan agterkom.
Die
eerste ding wat met haar gebeur het, was dat sy opgekyk en vir God gesien het. Sy het vir die eerste keer besef hoe
groot God is en hoe wonderlik die dinge is wat Hy doen. Daarom sing sy in vers
46-47: "Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my
Verlosser…"
Vir ons om regtig te
verstaan wat God met Jesus se geboorte gedoen het. Om regtig die Nuwe Lewe wat
Hy gebring te verstaan, moet ons soos Maria opkyk en besef dat God groter is as
wat ons ooit kan dink. As ons dit nie meer kan glo nie, wel, dan is ons geloof
eintlik maar ‘n leë dop.
Die ou kerkvader,
Augustinus het vertel dat toe Jesus water in wyn verander het, was almal
verwonderd oor die wonderwerk, maar eintlik is dit iets wat elke jaar in die
wingerde gebeur. Elke jaar verander God druiwe en die water wat uit die wolke
val in wyn. Elke jaar doen Hy dieselfde wonderwerk, maar ons sien dit nie meer
raak nie. Ons moet weer begin om die grootheid en wonder van God in die
alledaagse raak te sien. Ons moet weer ‘n slag opkyk en sê: “WOW, Here, maar U
is groot!”
Die
tweede ding wat gebeur het nadat Maria opgekyk het, was at sy ingekyk het in
haarself.
In vers 48 praat sy van
haar geringheid(eenvoudigheid, gewoonheid). Die oomblik toe sy besef hoe groot
God is, toe besef sy ook hoe gering of klein sy is. En sy besef, maar as God
nog steeds vir haar kan gebruik, ten spyte van haar geringheid, dan kan sy nie
anders as om alles vir Hom te gee nie.
Hier is ‘n belangrike
geloofsles om te leer. As dit by God kom, gaan dit nooit oor wie ek is nie,
maar oor of ek bereid is om te doen wat Hy van my vra. Hy is die God wat enigiemand
kan gebruik – as ons dit nie glo nie, dan perk ons vir God in en ons sê dat Hy
nie die onmoontlike kan doen nie. Daarom kan ons maar net soos Maria sê: “Ja
Here, hier is ek”.
Maria
het nie net ingekyk nie, maar ook uitgekyk, weg van haarself af.
Ons almal hou mos
daarvan om kersgeskenke te kry. Elke nou en dan gebeur dit mos dat jy iets kry
waarvan jy nie hou nie, of wat jy nie wou gehad het nie. Dis soos die
dogtertjie wat ‘n geskenk gekry het wat sy nie wou gehad het, maar haar ma het
gesê sy moet vir die tannie ‘n dankie briefie skryf. Toe skryf sy: "Thank
you for your Christmas present. I always wanted a pin cushion, although not
very much."
Baie keer gee ons vir
mense geskenke wat ons dink hulle moet hê, maar wat hulleself nie wou hê nie.
Dieselfde beginsel geld
vir die Here ook – ons moet vir Hom gee wat Hy wil hê, nie wat ons bereid is om
te gee nie. Die probleem is net dat ons nie altyd hou van dit wat Hy van ons
wil hê nie. Want dit vra teveel van ons. Ons moet leer by Maria – sy was bereid
om te sê: Here, dis nie my wil om buite-egtelik swanger te raak nie, maar maak
met my soos wat U wil.
Wanneer ons so opkyk en
God se grootheid raaksien. Wanneer ons inkyk en besef dat God ons wil gebruik.
Wanneer ons uitkyk weg van ons eie wil af en God se wil vir ons begin ernstig
neem, dan het dit sekere gevolge. Maria sing in haar Loflied oor hierdie
gevolge.
Die
eerste gevolg kry ons in vers 51:
“Hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy
uitmekaar gejaag.”
Die Christendom is die
dood van hoogmoed. Wanneer ‘n mens jou lewe in Christus se hand sit, breek dit
hoogmoed af. Dan gaan dit nie meer oor my nie, maar oor Christus in my lewe en
oor diens aan my medemens. Dit maak my vry om diensbaar te wees.
Die
tweede gevolg kry ons in vers 52:
“Maghebbers het hy van trone afgeruk en
geringes verhoog”.
Kom ek verduidelik dit
met ‘n storie wat in die middeleue afspeel. Daar was baie rondreisende
geleerdes wat in dorpe mense geleer het. Moretus was ‘n rondreisende geleerde.
Hy was arm en het min besit. In ‘n Italiaanse dorpie het hy siek geword en
hulle vat hom toe na ‘n hospitaal vir arm mense waar die behandeling nie altyd
goed was nie. Die dokters bespreek toe sy toestand in Latyns met mekaar, min
wetende dat hy hulle kan verstaan. Omdat hy arm was en nie enigiets besit het
nie, stel hulle voor dat hulle hom gebruik vir mediese eksperimente. Hy
antwoord hulle toe in Latyns: “Geen mens vir wie Jesus gesterf het, is
waardeloos nie”.
Jesus vat die etikette
wat ons om mense se nekke hang weg. Hy neem alle sosiale grense tussen mense weg.
Hy het gesterf vir elke mens wat my pad kruis en daarom is elke mens waardevol.
En daarom moet ek elke mens ook so behandel.
Die
derde gevolg kry ons in vers 53:
“Behoeftiges het Hy oorlaai met goeie
gawes en rykes met leë hande weggestuur”.
William Barclay stel dit
soos volg: “A Christian society is a society where no man dares to have much
while others have too little. It’s a society where every man must get only to
give away.”
Soos Ghandi lank terug
gesê: “The earth produces enough for everyone’s need not greed!”
Jesus het gekom om vir
mense te gee wat hulle nodig het.
Hierdie verhaal van
Maria en haar loflied is baie mooi. Die loflied word nie verniet die Magnificat
genoem nie. Maar daar is ook waarskuwings en uitdagings vir ons daarin
opgesluit. Daarom wil ek afsluit met ‘n paar vrae:
Word jy nog aangegryp
deur die grootheid en wonder van God?
Besef jy dat God jou wil
gebruik, nes jy is?
Is jy bereid om te sê:
nie my wil nie Here, maar U wil?
Het Jesus se koms al tot
gevolg gehad dat jy hoogmoed afgelê het?
Dat jy elke mens wat jou
pad kruis sien as iemand vir wie Jesus gesterf het?
Dat jy bereid is om goed
weg te gee vir hulle wat dit meer nodig het?
No comments:
Post a Comment