Jeremia 1: 4-10
Fred Craddock,
Amerikaanse professor in Teologie vertel van ‘n keer toe hy as 20-jarige
student vir Albert Schweitzer, die mediese doktor, teoloog, skrywer, musiekkant
en sendeling in Afrika, ontmoet het. Hy vertel dat hy een van Albert Schweitzer se
boeke gelees het en gedink het dat sy verstaan van Jesus gebrekkig was. Kort
daarna toe sien hy ‘n advertensie dat Albert Schweitzer in ‘n ander stad ‘n
orreluitvoering gaan lewer. Hy besluit toe om te gaan luister en ook sommer vir
hom ‘n paar vrae te vra oor sy verstaan van Jesus.
Hy het toe ‘n lysie
gemaak met vrae wat hy wil vra, ‘n buskaartjie gekoop en die orreluitvoering
gaan bywoon. Dit was ‘n wonderlike uitvoering en na die tyd by die tee en
verversings was hy gereed met sy vrae.
Albert Schweitzer het
almal toe bedank en toe sê hy die volgende: ‘
You’ve been very warm,
hospitable to me. I thank you for it, and I wish I could stay longer among you,
but I must go back to Africa. I must go back to Africa because my people are
poor and diseased and hungry and dying, and I have to go. We have a medical
station at Lambarene. If there’s anyone here in this room that has the love of
Jesus, would you be prompted by that love to go with me and help me?’
Fred Craddock vertel dat
hy toe sy vrae so bekyk het en opgefrommel het, want hy het weer geleer wat dit
beteken om ‘n Christen te wees en hoe hy graag wil wees.
Albert Schweitzer het
geweet wat sy doel in die lewe is – om Jesus en ander mense te dien.
Dis nogal belangrik om
te weet wat ons doel in die lewe is. Hopelik sal Jeremia 1: 4-10 ons hiermee
help.
Jeremia skryf “Die woord
van die Here het tot my gekom”. In Hebreeuse is dit “Dabar Adonia”. Dit kom
meer as 50 keer in Jeremia voor – so dis nogal belangrik. Die “woord van die Here” is ‘n kragtige,
aktiewe, dinamiese krag wat ons uitdaag, aan die beweeg kry en ondersteun.
Die ‘woord van die Here”
roep vir Jeremia om as profeet te gaan optree. Saam met hierdie “woord van die
Here” kom daar 3 gerusstellings na Jeremia (en ons). Ons kry dit in vers 5.
Voor
Jeremia vir God geken het, het God hom reeds geken
Alles begin by God. God
neem altyd eerste die inisiatief. In die Nuwe Testament lees ons dat Hy ons
eerste liefgehad het en dat Jesus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
Alles begin by God. Dis wat die doop ook weer vanoggend vir ons bevestig het.
Ons identiteit begin by
God. Dit hang nie af van hoe ons is of wie ons is nie. Hy maak ons wie ons is.
En dit beïnvloed alle aspekte van my lewe.
Voor
jy gebore is, het Ek jou aan My gewy
Ons moet hoor dat God
ons al vir Hom gekies het, voordat ons gebore is.
Eugene Peterson vertel
dat hy die kleinste kind in hulle buurt was. So, as daar spanne gekies is, dan
is hy altyd laaste gekies. Eendag toe stry die 2 kapteins weer oor wie hom gaan
kies – niemand wou hom in hulle span hê nie. Hy vertel: “In one moment I
changed from a zero to a minus!”
By God sal ons nooit ‘n
zero of ‘n minus wees nie. God het reeds besluit dat elkeen van ons goed genoeg
is. Hy het ons aan Hom gewy. Ons is
verbind aan ons. Niemand kan ooit jou plek vul nie.
Ek
het jou as profeet aangestel.
Die woord aangestel
beteken eintlik “gee”. Soos in – ek het jou as profeet vir die nasies gegee.
Dis mos hoe God dinge doen in die Bybel.
Joh 3: 16 – God gee sy
seun…
Rom 12 – gee jouself as
heilige offer
Hand 20 – om te gee maak
ons gelukkiger as om te ontvang.
God gee wat nodig is. God
gee Jeremia as profeet vir die nasies.
Profete was God se
verteenwoordigers by die volk. Hulle lewens wys wie God is. Die Bybel is baie
duidelik daaroor dat alle gelowiges profete is. Ons almal is verteenwoordigers
van God. So ons moet leef soos verteenwoordigers. Soos die bekende spreekwoord
moes sê: “ons is dalk die enigste Bybel wat iemand ooit gaan lees”.
So, God roep vir Jeremia
en saam met die roeping stel hy hom gerus. Maar dan kom die verskonings.
“Ek kan nie goed praat
nie”
“Ek is nog te jonk”
Jeremia is eintlik besig
om vir God “nee” te sê.
Iets wat ek nog nooit
verstaan het nie. Dis vir ons moeilik om ‘nee’ te sê vir mense – ons doen goed
wat ons nie wil doen of waarvan ons nie hou nie, want ons sukkel om nee te sê
vir mense – maar dis baie maklik vir ons om nee te sê vir die goed wat God van
ons vra. Ons is tog so vol verskonings as dit kom by die goed wat God van ons
vra.
En dis nie moeilik om te
weet wat God vra – alles wat Hy vra kan eintlik in 3 sinne saamgevat word:
Hy vra dat ons in ‘n
verhouding met Hom moet leef;
Hy vra dat ons lief moet
wees vir ons naaste;
Hy vra dat ons ons
geloof prakties moet uitleef.
Maar ons is vol
verskoning en sê maklik nee as God hierdie goed vir ons vra. Ons sal nog ja sê
vir die verhouding met Hom, want dit vra nie so baie, maar as dit kom by liefde
vir my naaste en praktiese uitleef van my geloof….dan is ons vol verskonings.
Daar is die mooi storie
van die juffrou wat vir haar klas elkeen ‘n papiertjie gegee het en gesê het
dat hulle “ek kan nie” daarop moet skryf. Toe het hulle uitgegaan en ‘n “ek kan
nie” begrafnis gaan hou. Die begrafnisrede was soos volg:
"Vriende, ons is
hier bymekaar ter herinnering aan “Ek kan nie.” Terwyl hy hier op aarde was,
het hy baie van ons lewens aangeraak. Ons het vir “Ek kan nie” ’n finale
rusplek gegee. Hy word oorleef deur sy familielede, “Ek kan”, “Ek wil”, “Ek
gaan dadelik”. Mag “Ek kan nie” in vrede rus en mag ons saam met “Ek kan”
vorentoe beweeg.”
God kies ons elkeen
reeds voor ons geboortes. Hy wy ons aan Hom. Hy verbind ons aan Hom. Hy wil
elkeen van ons gebruik. Maar Hy het ook nodig dat ons sal ophou verskonings
maak en sê ons “kan nie”. Kom ons sê ‘n slag ja met die wete dat Hy ons nie sal
los nie.
No comments:
Post a Comment