Rol van volwassenes in
kinders se lewens
Deuteronomium 11: 1-4,
18-19
In aansluiting by ons
Vadersdag tema wil ek graag met vanoggend se preek praat oor die rol van
volwassenes in kinders se lewens. So ek praat vanoggend met almal wat ouers is
– getroude ouers, enkelouers, geskeide ouers, pleegouers, voogde en
aanneemouers. Ek praat ook met oupas en oumas wat ‘n rol speel in hulle
kleinkinders se lewens. Ook enige iemand anders wat ‘n rol speel in kinders se
lewens – soos onderwysers, sondagskoolleiers en vriende. Alle volwassenes wat
‘n rol speel in kinders se lewens en vir hulle ‘n rolmodel is. Ek het dit ‘n
uitdagende tema gevind en dit het my baie oor myself as ouer laat dink, so ek hoop
dit laat julle ook dink.
Kom ons begin met ‘n
teksgedeelte wat ons herinner aan ons verantwoordelikheid en roeping teenoor
kinders.
Lees Deuteronomium
11:1-4
Die teks herinner die
volk aan alles wat God vir hulle gedoen het, dit waarsku hulle teen die Kanaänitiese
afgode en gee moedig hulle aan om volgens God se voorskrifte te leef.
Lees Deuteronomium 11:
18-19
Dan word hulle
aangemoedig om dit te onthou en aan hulle kinders oor te dra, sodat hulle
kinders met dieselfde herinneringe kan gaan leef. Dis die opdrag. Dis ons roeping as
volwassenes. Leer kinders van geloof!
Die teks herinner my aan
die belofte wat ouers by hulle kinders se doop aflê. Ons belowe voor God en Sy
gemeente dat ons ons kinders sal grootmaak en onderrig volgens die beginsels
van ons geloof en ons belowe dat ons sal sorg dat hulle onderrig ontvang ook –
soos hier by die kerk en in die sondagskool. Ek dink nie ons neem hierdie
belofte ernstig genoeg nie. Dis vir baie mense maar ‘n ritueel waardeur hulle
gaan tydens die doop, maar hulle vergeet dat dit ‘n belofte is wat voor God
afgelê word en ek het ‘n vermoede dat ons dalk eendag verantwoording sal moet
doen daaroor.
Maar kom ons gaan kyk
bietjie hoe hierdie teks en die doopbelofte waar gemaak word.
Kom ek vertel eers 3
ware stories wat my weer hieroor laat dink het.
Terwyl ek in my
langverloftyd op die wynplaas gewerk het, het ek en my wynmakervriend ook oor
kerk en geloof en dies meer gesels. Hy het 3 jong kinders en hulle is ‘n
gelowige gesin, wat baie betrokke is by hulle gemeente op Rawsonville. Hulle
neem deel aan gemeenteaktiwiteite, sy vrou is sondagskoolleier en die kinders
is daar in die sondagskool.
Hulle familie het ‘n
vakansiehuis in Hermanus waarheen hulle so gereeld as moontlik wegbreek as
hulle ‘n kans kry. Met die gevolg dat die naweke wat hulle in Hermanus is, kan
hulle natuurlik nou nie die Sondag kerk toe gaan op Rawsonville nie. So gesels
ons toe die een dag daaroor en hy vertel vir my dat hulle ‘n punt daarvan maak
om kerk toe te gaan wanneer hulle op Hermanus is, want dis vir hulle as ouers
belangrik dat hulle kinders moet leer dat mens op ‘n Sondag kerk toe gaan,
selfs al is jy nie by jou eie gemeente nie. Hulle is nie wetties oor kerk toe
gaan nie, daar is Sondae wat hulle nie gaan nie, maar dis die uitsondering.
So ‘n maand of wat
gelede het Gary Kirsten, die afrigter van SA se krieketspan besluit hy gaan nie
sy kontrak as afrigter hernu nie. Dit was ‘n groot skok vir baie mense en hy
het kritiek ook gekry daaroor. Sy rede daarvoor – hy is teveel tyd weg van die
huis af en hy wil meer tyd saam met sy gesin spandeer. Hy het 3 jong kinders en
hy wil nie hê hulle moet sonder ‘n pa grootword nie. Hy is bereid om ‘n hoë
profiel werk, waarin hy baie goed en suksesvol was en waarvoor hy baie aansien
gekry het te los sodat hy ‘n pa vir sy kinders kan wees.
Die laaste insident het
in die afgelope week by ‘n laerskool in Bloemfontein gebeur. Twee kinders van
die skool het vir hulle pa gaan vertel van ‘n onderwyser by die skool wat ‘n ou
Suid-Afrikaanse landsvlag en plakkate met rassitiese slagspreuke teen hulle
klaskamer se muur opgesit het. Daarmee saam het hy gereeld rassistiese
opmerkings in klas, voor die kinders gemaak. Dit terwyl daar ‘n groot
hoeveelheid swart kinders in die klas is. Die pa het toe gesê, dis nie hoe ek
wil hê dat my kinders moet grootword nie. Omdat die skool hulle nie aan hom
gesteur het nie, het hy die skool gaan verkla by die Vrystaatse onderwys
departement en by die menseregte kommissie. Die onderwyser is intussen geskors.
Ons is mos baie goed
daarmee om dinge vir onsself te rasionaliseer. So dis baie maklik om na hierdie
stories te luister en dink – ag nee man, die wynmaker is darem baie wetties en
rigied oor kerk toe gaan.
Of Gary Kirsten gaan te
ver, dis nie nodig om ‘n goeie werk en al daai aansien te los nie – hy moet net
sy lewe beter beplan.
Of die pa in
Bloemfontein het oorreageer en te ver gegaan – mens kan darem nie jou kinders
so blootstel nie.
Dis maklik om so te dink
as ons vanuit ons volwasse, dikwels selfsugtige, rasionele perspektief daarna
kyk, maar kom ons dink ‘n slag oor hoe die kinders dit sien. Kom ons kyk ‘n
slag vanuit hulle perspektief. Wat sien die kinders in hierdie 3 stories?
My wynmakervriend se
kinders sien ouers vir wie kerk en geloof belangrik is. Ouers wat “practice
what they preach”. Hulle sê nie net vir hulle kinders dis belangrik om kerk toe
te gaan nie, hulle doen dit ook.
Gary Kirsten se kinders
sien ‘n onselfsugtige pa wat bereid is om groot opofferings te maak spesiaal
net vir hulle. ‘n Pa wat meer aan hulle dink, as aan homself.
En die ou van
Bloemfontein se kinders sien ‘n pa wat bereid is om na hulle te luister, hulle
ernstig te neem en op te staan vir dit wat hy glo.
Uit ‘n kind se
perspektief lyk dit heeltemal anders.
Dit kom alles terug na
watter tipe voorbeeld ek stel vir die kinders in my lewe. Watter tipe rolmodel
is ek?
In Genesis 1: 26 lees
ons dat God die mens geskep het as Sy verteenwoordiger hier op aarde. So watter
tipe verteenwoordiger is ek vir die kinders in wie se lewe ek ‘n invloed het?
Kinders speel “follow
the leader” met volwassenes – hulle gaan nie altyd na ons luister nie, maar
hulle hou ons dop, hulle kyk na ons. So, ons moet baie mooi dink oor die voorbeeld
wat ons vir hulle stel.
William Channing het
gesê: “Een van die grootste probleme
waarmee jongmense vandag sukkel, is hoe om goeie gewoontes aan te leer as hulle
dit nêrens meer sien nie”.
Kom ek noem gou ‘n paar
goed. ‘n Paar goeie gewoontes wat ons vir kinders kan wys. Onthou as ek hierdie
goed noem – luister daarna vanuit kinders se perspektief, want as volwassenes
rasionaliseer ons dinge baie maklik vir onsself, terwyl kinders net gaan op wat
hulle sien. Hoe lyk my voorbeeld vanuit die oë van ‘n kind? En as hierdie
voorbeelde jou dalk ongemaklik laat voel, dan is dit great, want ek wil hê ons
moet dink oor hierdie goed en die invloed wat dit het in kinders se
lewens.
Leef
jy so dat kinders kan sien dat God, geloof en kerk vir jou belangrik is. Neem jy vir God in ag wanneer jy
keuses moet maak of besluite moet neem? Sê jy dankie vir God wanneer dit goed
met julle gaan en vra jy Sy hulp wanneer dit nie goed gaan nie? M.a.w – wys jy
vir die kinders dat jy afhanklik van God is?
Weet jou kinders dat jy
met God tyd spandeer – sien hulle dat jy die Bybel lees en bid? Praat jy met
hulle oor God en geloof? Selfs al het hulle ongemaklike vrae?
Hoe praat jy met hulle
oor die kerk? Kla jy net oor die kerk en die dominee? Sien hulle dat jy
deelneem aan kerklike aktiwiteite? Op ‘n Sondagoggend – wat kommunikeer jy vir
jou kind as jy besluit, ek gaan nie vanoggend kerk toe nie, want ek het
gisteraand te laat saam met vriende gekuier of ons gaan eerder see toe of ek
gaan eerder fietsry of draf?
Abraham Lincoln het
gesê: “Daar is net een manier om jou
kinders te leer om in Christus se voetspore te loop en dit is om dit self te
doen.”
Hoe
hanteer jy ander mense?
Die manier hoe jy ander mense hanteer is ‘n ongelooflike getuienis. Kinders
sien raak hoe ons ander mense hanteer en oor hulle praat. Hoe hanteer jy die
mense wat saam met jou werk, jou baas en kollegas – hoe praat jy oor hulle? Hoe
hanteer jy jou man of jou vrou? Of jou eks-man of eks-vrou – die ma of pa van
jou kinders? Hoe hanteer jy jou vriende en jou kinders se vriende? Hoe hanteer
jy die straatmense wat aan jou deur kom klop of ander mense wat hulp nodig het?
As kinders van kleins af
sien dat jy mense met respek, deernis en liefde hanteer, dan gaan hulle
waarskynlik mense ook so hanteer.
Hoe
werk jy met jou geld en jou besittings? Is jy iemand wat onverantwoordelik werk met geld en wat
maklik skuld maak? Iemand wat heeltyd kla oor wat jy nie het nie of jou heeltyd
vergelyk met ander mense?
Of is jy ‘n goeie
rentmeester? Iemand wat spaarsamig is en matigheid voor oë hou? Wat vir kinders
leer dat mens nie alles kan kry wat jy wil hê nie. Wat iets gee vir die kerk?
Wat tevrede en dankbaar is vir wat julle het? Hoe lyk jou voorbeeld?
Soos iemand gesê het: “Vyftig jaar van nou af sal dit nie saak maak
met watter soort motor jy gery het, waar jy gewoon het, watter “brand” klere jy
gedra of hoe groot jou bankbalans was nie. Maar die wêreld sal ‘n bietjie beter
wees as jou lewe ‘n kind positief beïnvloed het”.
Hoe
tree jy op wanneer jy alleen is saam met jou kinders? Dis maklik om die regte goed te doen
as jy tussen ander mense is, maar wat doen jy as jy alleen is of net saam met
jou kinders is? Hoeveel krewe of perlemoen haal jy uit as daar niemand is wat
jou sal vang nie? Hoe bestuur jy wanneer jy saam met jou kinders in die kar is?
Gehoorsaam jy die verkeerswette? Hou jy by die spoedgrens? Vat jy kanse? Vloek
en skel jy die ander mense wat volgens jou verkeerde goed doen?
Maak jy onwettige kopieë
van flieks, musiek, rekenaarprogramme en games? Dis diefstal, jy oortree die
wet. As jy dit doen en jou kinders toelaat om dit te doen – wel, dan leer jy
hulle dis OK om die wet te breek.
Dus, alles kom op die ou
end neer op die voorbeeld wat ek stel. Dit kom terug na die vraag – watter tipe
verteenwoordiger van God is ek in kinders se lewens?
‘n Laaste aanhaling om
mee af te sluit: “’n Mens se waarde word
nie gemeet aan die hoeveelheid geld wat jy verdien of die aantal grade of
toekennings wat jy behaal het nie; ook nie in die eerste plek deur die kwaliteit
van jou werk nie. ‘n Mens se waarde hang daarvan af of jy aan jou kinders of
volgelinge integriteit geleer het deur jou voorbeeld?”
Kom ons gaan dink ‘n
slag oor…
watter tipe
verteenwoordiger van God ek is;
watter tipe lewenskeuses
ek maak;
kom ons neem die
doopbelofte erbstig;
watter tipe voorbeeld ek
stel.
Want dit speel ‘n
bepalende rol in watter tipe grootmense die kinders gaan wees in wie se lewe ek
‘n invloed het.
No comments:
Post a Comment