Tuesday, June 18, 2013

Preek 16 Junie 2013

Moenie begeer nie
1 Konings 21: 1-21

Ek wil begin met ‘n staaltjie wat almal van ons wat kinders het, goed sal verstaan.  Abe Lincoln het met sy twee seuns afgeloop by die straat. Albei het gehuil!  “Wat is verkeerd met jou seuns?” het ’n verbyganger gevra. “Presies wat verkeerd is met die hele wêreld”, het Lincoln geantwoord, “Ek het drie neute in my hande en albei seuns wil twee hê!”

Dis presies die probleem van vandag se Bybelstorie. Dis oor Nabot wat ‘n wingerd het en Koning Agab wat nabot se wingerd bergeer, al het hy reeds genoeg van sy eie.  Dis mos die eeu-oue gevaar vir mense – om ander mense se goed te begeer.

Lees die teks 1 Konings 21: 1-21

Daar was ‘n briljante orrelis wat ‘n wonderlike orrel uitvoering gelewer het op een van daai ou orrels waar daar iemand was wat moes sorg dat daar heeltyd lug deru die orrelpype blaas.  Aan die einde van die eerste deel van sy uitvoering toe gee die mense vir hom ‘n staande toejuiging waarvoor hy buig.
Toe hy by die ou kom wat moet sorg dat daar lug in die pype is toe sê hy: “dis seker my beste uitvoering nog”. Die man antwoord: “ja, dit is ons beste nog!.  Die orrelis kyk hom verbaas aan en sê: “wat, ons? Van wanneer af kan jy ‘n noot op hierdie orrel speel” en hy stap van die verhoog af.
Na die pouse toe die orrelis die tweede helfte van die program wil speel, toe kom daar nie ‘n klankie uit die orrel uit nie. Skielik besef hy dat die man nie lug in die orrel blaas nie. Toe besef dat hy ‘n fout gemaak en hy het dadelik voor almal die ou bedank vir sy getroue diens. En toe kom daar weer musiek uit die orrel uit.

Hierdie storie verduidelik iets van die verskil tussen Nabot en Agab se sienings van die stuk grond.
Nabot is soos die orrelis wat besef dat die lug in die orrel kom van iemand anders af. Hy  verstaan dat die stuk grond van God af kom. Dis ‘n geskenk van God aan hom en sy familie. Hy kan dit daarom nie sommer net wegmaak nie.
Agab weer, is soos die orrelis toe hy nie besef het waar die lug vandaan kom nie. Hy vergeet wie se grond dit eintlik is. Hy het gedink hy is geregtig daarop. Hy hanteer die grond nie as ‘n geskenk van God nie, maar as ‘n gebruiksartikel. En as Nabot nie sy aanbod aanvaar nie, dan is hy soos ‘n kind wat nie sy sin kry nie. Hy begin sulk.

Agab vergeet wat in die tiende gebod staan: “Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.
Ons mag nie ‘n ander person se lewe begeer of sy werk of motor of huis of tuin nie.
Hierdie problem van Agab sien ons vandag nog – op groter en kleiner skaal. Dis hoekom daar oorloë tussen lande uitbreek en hoekom daar konflik tussen mense gebeur. Ons begeer wat nie ons s’n is nie. Dit maak mense jaloers en onvergenoegd.

In plaas daarvan dat ons leer om te leef wat in Spreuke 11:25 staan:
“Wie ’n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê.
Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is”.

So, wat kan ons doe nom te verhoed dat ons ander mense se wingerde begeer? Sodat ons eerder dinge vir hulle kan gun en dit saam met hulle kan geniet?

Ons moet weer leer wat beteken die woordjie “genoeg”
Rosa se ma is Dinsdagaand oorlede en Woensdag het ek by haar ‘n draai gaan maak. En ons gesels toe so oor dat sy nou ma se goedjies by die aftree-oord moet gaan oppak. Rosa sê toe – dit behoort nie te lank te vat nie, want alles sal waarskynlik net in een of twee tasse pas.
Ek besef toe net weer – ons gaar so op deur ons hele lewe. Ons het soveel dinge wat ons dink ons nie sonder kan klaarkom nie. Maar as mens aan die einde van jou lewe kom dan is een of twee tasse genoeg. Soos die spreekwoord sê: “‘n lykswa kom nie met ‘n sleepwa nie”.
Mens raak soos Agab as jy nie kan leer wat “genoeg” is nie.

Ons moet ook weer leer wat beteken “eenvoud”.
Eenvoud beteken blydskap in God se skepping. Oscar Wilde het lank terug al gesê: “People don't value sunsets, because they cannot pay for them”.  
Hoekom is dit so dat ons meer waarde heg aan goed waarvoor ons betaal? Dink aan die sonsopkoms en ondergang wat mens sien hier by Table View se strand. Dink aan die uitsig op Tafelberg en die see. Dink aan die Bolandse berge.
Ons verstaan eenvoud wanneer ons weer kan begin om die gewone, verniet goed soos God se skepping kan begin geniet.

Eenvoud beteken om vergenoegd en tevrede te wees met wat jy het en te besef dat God voorsien.
Filippense4:6 sê – moet oor niks besorg wees nie. God sal voorsien. Dis soos die liedjie wat sê: “don’t worry, be happy”.
Filippense4:11 sê – ek het geleer om reg te kom met wat ek het. Meer is nie beter nie. Minder is beter.
Het ons al geleer om tevrede te wees met wat ons het. Het ons al geleer om reg te kom met wat ons het?

Eenvoud beteken dat ek dankbaar is vir die materiële goed wat ek wel het. Meister Eckhart het gesê: “As al gebed wat jy ooit bid, ‘Dankie’ is, dan is dit genoeg!”
Dis soos Nabot wat besef het, die stuk grond behoort eintlik aan God. Alles wat ek het kom van God af. En ek kan dit geniet juis omdat dit van Hom af kom.
Daarom moet ek byvoorbeeld nooit vra hoeveel geld moet ek vir God gee nie – die regte vraag is eintlik hoeveel van God se geld mag ek vir myself hou?
Ons moet dankbaar wees vir dit wat ons het.

Eenvoud beteken dat jy jou hand en jou hart vir ander kan oopmaak. In 1 Korintiërs 12:25 lees ons dat God se mense vir mekaar moet sorg.
As mens nie eenvoud verstaan nie, as mens nie in eenvoud leef nie, dan is jy ook beskikbaar vir ander mense nie – nie eers vir jou eie gesin nie, wat nog van jou gemeente en mense wat jou nodig het.

Eenvoud beteken om jouself te gee – aan God en aan jou naaste. Die Christendom werk nie met ‘n wen-verloor of ‘n wen-wen beginsel nie. Die Christendom werk met ‘n dien-dien beginsel. Ons dien God en ons naaste. Eenvoud leer ons om nie op jouself ingestel te wees nie. Dit leer jou om nie ander mense uit te buit nie. Dit leer jou om eerder te help en te dien. 

Koos du Plessis het ‘n liedjie waarin hy sing:
Eenvoud is die vreugde van die lewe
Dis gee en neem, net wat daar is
Dis dankbaar eet van elke skewe stukkie brood
Wat die liefde is”

Om te weet wanneer genoeg, genoeg is…
Om weer te leer van eenvoud…
laat jou weer besef hoe mooi en goed God is;
dit gee jou weer waardering vir wat jy het, vir die lewe en vir die mense daarin;
en dit maak die Agab in jou dood. 


No comments:

Post a Comment