Tuesday, August 12, 2014

Preek - Sondag 10 Augustus 2014

Romeine 10: 5-15


Deesdae gebruik ons GPS om te weet waarheen om te ry of wanneer ons verdwaal. Ek onthou nog die tyd van kaarte en kaartboeke. Ons wat met vakansie gaan – my pa wat bestuur en my ma wat met die kaartboek sit en probeer om vir hom die pad te verduidelik.

Of jy nou GPS gebruik of ‘n kaartboek – jy moet net altyd besef dat dit nie volmaak is nie. Mens moet altyd in ag neem dat paaie verander, brûe word gebou, geboue word verwyder of gebou. So, jou GPS moet ook maar soms ge-reset word om die veranderinge in ag te neem. Of jy moet sorg dat jy ‘n opgedateerde kaartboek kry, waarin die veranderinge opgeteken is. Anders gaan jy jouself vasloop. Jy kan nie vandag ry met ‘n kaartboek wat in 1990 gedruk is nie.

Dis ‘n goeie beeld om ons teks te verduidelik. Paulus pleit dat ‘n mens jou GPS moet reset of dat jy jou kaartboek moet opgradeer.

Die ou kaart wat jou nie meer gaan help nie, is Moses se kaart. Ons lees daarvan in vers 5: “Moses skryf naamlik van die vryspraak op grond van wetsonderhouding dat die mens wat doen wat die wet beveel, daardeur sal lewe.”
Met ander woorde Moses se ou kaart sê – jy word vrygemaak/verlos/gered deur die wette en reëls te gehoorsaam. Jy word vrygemaak deur die regte dinge te doen en goed genoeg te probeer wees.
Paulus sê dit is soos om na die hemel toe te probeer opklim om Jesus te gaan haal of om onder die grond in te grawe om Jesus uit die dood uit te gaan haal. Dis harde werk.
Dis die kaart wat verouder is en nie meer geldig is nie.

Die nuwe kaart, sê Paulus – is Jesus se kaart. Ons kry dit in verse 9-10. “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons en ons word gered.
Die nuwe opgedateerde kaart sê dus: dis nie die nakom van  wette en reels wat jou vryspreek nie. Dis Jesus wat dit doen en ons hoef dit net te glo.

Kom ek verduidelik die verskil tussen die 2 kaarte met nog ‘n beeld.
Wanneer iemand besig is om te verdrink en die lewensredder moet uitswem om die persoon te red, is dit soms vir die lewensredder nodig om die drenkeling met ‘n vuishou uit te slaan. Want as die drenkeling paniekerig raak en te veel spartel kan die lewensredder hom nie red nie.
Die boodskap van die lewensredder is met ander woorde: “Hou op spartel, moenie jouself probeer red nie, laat my toe om jou te red.”
Dis wat Paulus hier sê: Jesus is die lewensredder wat ons wil red. Ons moet ophou spartel en Hom toelaat om ons te red. Ware redding is nie iets wat jy doen nie, dis iets wat met jou gebeur.  Al wat jy moet doen is om Hom te erken as Here van jou lewe.

Paulus sê…
As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is wat uit die dood opgestaan het, sal jy gered wees.
En hierdie redding beteken dat jou verlede verby en vergewe is en dat jy ‘n nuwe toekoms kry.

Daar is die mooi verhaal van die ou wat tydens die Eerste wêreldoorlog ‘n interessante gesprek in een van die loopgrawe gehoor het. Een van die soldate was besig om te sterf en sy medesoldaat het hom vasgehou. Die sterwende sê toe vir sy vriend – jy het ‘n slegte lewe gelei. Die polisie soek jou. Maar daar is niks teen my nie. My naam is skoon. So, neem my beursie, my papiere, my identiteit en my goeie naam. Gee dan vir my jou papiere sodat jou misdade saam met my kan sterf.

Dis wat met ons gebeur by ons redding – ons verlede sterf. Dit word uitgewis en ons kry ‘n nuwe toekoms. Dis genade. Ons kry wat ons nie verdien nie.

Kom ons sing van hierdie genade: Amazing grace.

Daar is nog ‘n laaste gedagte – dis eintlik ‘n oproep wat Paulus aan ons almal rig. En ek wil dit met ‘n storie verduidelik.

Edward Kimball het in ‘n skoenwinkel in Chigago gewerk. By sy gemeente was hy ‘n sondagskoolonderwyser. In sy vrye tyd het hy ure spandeer met die straatkinders in Chigago se middestad en hulle van hulle van Jesus geleer. Een van die straatkinders wat so tot bekering gekom het, was D.L. Moody. Moody het ‘n bekende evangelis en prediker geword.
F.B. Meyer het deur Moody se getuienis tot bekering gekom en hy word ‘n prediker wat weer vir J.W Chapman na die Here toe lei. Chapman word ‘n prediker wat vir ‘n bekende basketspeler, Billy Sunday van Jesus vertel.
Billy Sunday begin toe met herlewingsdienste in Charlotte, Noord-Carolina. Die evangelis, Mordagai Ham word toe genooi om by hierdie herlewingsdienste op te tree. Tydens een van hierdie dienste kom ‘n tienerseun tot bekering. Sy naam was Billy Graham en ons almal weet wat ‘n wonderlike prediker hy sou word. 

Dis wat Paulus bedoel met sy woorde in verse 14-15. 
Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: "Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring."

Geloof kom wanneer mense van Jesus hoor. En mense hoor daarvan deur mense wat getuig. God self stuur mense om te verkondig. God stuur gelowiges soos ek en jy om te verkondig. In ons huise, in ons werksplekke, in ons vriendekringe, op straat. Die voetstappe van gelowiges moet oral weerklink, sê Paulus.

Die vraag is: hoe klink my voetstappe? Is dit voetstappe wat getuig? Is dit voetstappe van liefde, omgee en besorgdheid teenoor ander?
Edward Kimbell, wat in ‘n skoenwinkel gewerk het, se voetstappe na ‘n klompie straatkinders het ‘n groot impak in die wêreld gemaak. Sonder dat hy eers daarvan geweet het. Hoe lyk my voetstappe?

Wie van julle ken iemand wat ongelowig is? Of iemand wat kerklos is? My uitdaging is dat jy na hulle sal stap en hulle saam met jou kerk toe nooi. As elkeen van ons 1 mens saambring kerk toe, dink net die impak wat ons sal hê in hierdie omgewing.


Tuesday, June 24, 2014

Preek 22 Junie 2014

Matteus 10: 26-33

Hierdie is ‘n moeilike interessante teks om mee te werk. Ons moet dit verstaan in die lig van Matteus 10: 5. Jesus stuur sy dissipels uit in die wêreld in en met hierdie teks sê hy vir hulle dat dit gaan moeilik wees om ‘n dissipel te wees. Die teks probeer baie eerlik en realisties wees daaroor. Jesus waarsku hulle, maar probeer ook dan die vrese van die dissipels aanspreek.

Lees teks

Ons almal het vrese of fobies.  Sommige vrese is in ons verbeelding ander werklik. Sommige is gesonde vrese, ander is ongesond. Sommige is bekend, ander is onbekend. Maak nie saak hoe dit is nie, ons almal het dit.

Die word fobie kom van die Griekse word Phobia  wat verwys na ʼn paniek wat uit verhouding is met die bedreiging wat agter dit is. Daar is ongeveer 322 fobies waaraan mense kan ly. Ek het so bietjie gaan kyk na interessante vrese wat mense het.
Gnomophobia – vrees vir tuindwergies
Arachibutyrophobia – vrees dat peanut botter in jou verhemelte vassit
Ephebiphobia – vrees vir jong mense
Genuphobia – vrees vir knieë
Scriptophobia – bang om in openbaar te skryf
Alliumphobia – vrees vir knoffel
Coulrophobia – vrees vir hansworse
Venustraphobia – vrees vir mooi vrouens
Sinistrophobia – vrees vir dinge aan jou linkerkant en vir linkshandige mense
Bibliophobia – vrees vir boeke
Pogonophobia – vrees vir baarde
Consecotaleophobia – vrees vir chopsticks
Papaphobia – bang vir pous
Nomophobia – vrees om selfoon kontak te verloor
Novinophobia – bang wyn raak op
Panophobia – bang vir alles
Phobophobia – vrees vir vrees

Die punt is ons almal het sekere vrese. Sommige bisar, ander meer werklik. In ons teksgedeelte spreek Jesus sy volgelinge se vrese aan. Hulle word nou uitgestuur as dissipels - hulle was waarskynlik bang en onseker, so Jesus wil hulle daarme help.

Om dit wat Jesus doen moet ons onderskei tussen bangwees en vreesbevange wees.
Om bang te voel is ‘n normale reaksie wanneer jy bedreig voel. Ek hou nie van hoogtes nie, so wanneer ek in ‘n hoë gebou is of op ‘n brug stap, dan voel ek bang. Dis ‘n normale emosie.
Om vreesbevange te wees is ‘n houding teenoor die lewe. Dis vrees wat ‘n lewenstyl word. Dit verlam jou heeltemal en maak dat jy nie ordentlik kan lewe nie en nie die mens kan wees wat God wil hê jy moet wees nie. Dis iets wat jou terughou as mens. Dis hierhoor wat Jesus praat in die teksgedeelte. Hy gee 3 opdragte wat sal help om vrese te oorwin.

Die eerste opdrag is in verse 26-27
Jesus sê - moenie bang wees vir mense wat die waarheid wil onderdruk nie. Die waarheid is dat Jesus gekom het om ons vry te maak en die dissipels gaan te doen kry met mense wat hierdie waarheid wil onderdruk. Mense wat nie wil hê dat dit verkondig moet word nie.
In verse 32-33 sê Jesus - moenie julle bekommer oor die mense wat teen waarheid van Jesus optree nie – Jesus sal self met hulle deal, dis nie ons taak nie. Ons taak is om aan te hou om die waarheid van die evangelie te verkondig.
So Jesus sê dus vir hulle – moenie bang wees vir sulke mense nie. Moenie bang wees om aan te hou om die waarheid van Jesus te verkondig nie. Die waarheid sal oorwin.

Die tweede opdrag is in vers 28
Die dissipels het dit baie letterlik verstaan, want hulle leef in ‘n wêreld waar Jesus se volgelinge vervolg, gemartel en doodgemaak word. Jesus sê, moenie bang wees vir hulle nie, want hulle kan miskien jou liggaam doodmaak, maar hulle kan nooit jou siel doodmaak nie.
Hy bevestig ook - Moenie bang wees vir hulle nie, fokus liewer op God wat baie groter en magtiger is as wat hulle ooit kan wees.
Moenie bang wees vir mense wat dit vir jou moeilik maak om jou geloof uit te leef en ‘n getuie te wees te wees nie. Fokus liewer op God wat vir jou sal help en jou vir jou krag sal gee om as ‘n gelowige in hierdie wêreld te leef.

Hudson Taylor het gesê: “It does not matter how great the pressure is, or how powerful the fear. What really matters is where the pressure and fear lies – whether it comes between you and God, or whether it presses you nearer His heart.”

Die derde opdrag is in verse 29-31
Jesus sê moenie bang wees nie, want God is altyd by jou. Belangrik om op te let – Jesus impliseer swaarkry en lyding is deel van die lewe. Dis nie God se wil nie, Hy gaan dit ook nie noodwendig van ‘n mens wegvat nie, maar waaraan ons wel kan vashou – niks gebeur sonder dat Hy by ons is en ons daardeur help nie. (In die oorspronklike teks kom “die wil van” nie voor nie).

Hieruit leer ons 2 dinge:
Eerstens – God weet van my. Jesaja 49 sê dat my naam is in Sy handpalm gegrafeer. Hy ken my op my naam en Hy sal nooit van my vergeet nie. Maak nie saak waardeur ek gaan nie, maak nie saak wat met my gebeur nie – dis ‘n belofte wat nooit sal verander nie.

Tweedens – God is altyd daar vir my. Jesus gebruik 2 beelde om dit te verduidelik – mossies en hare.
Mossies het nie baie waarde nie, maar vir God is hulle kosbaar. Daarom kan ons weet dat ons ook vir God kosbaar is.
In die Ou Testament is die tel van ‘n mens se hare beeldspraak wat vir jou bevestig dat God jou baie goed ken en jou beskerm.
So Jesus gebruik hierdie 2 beelde om vir ons te sê – God sal jou nooit in die steek laat nie. Hy sal altyd daar wees vir jou.

Daar is die mooi storie van die seuntjie wat bang is vir die donker en dan vra hy vir sy pa of hy by hom kan kom lê. Die pa antwoord dan: “maar hier by my is dit ook donker” en dan antwoord die seuntjie: “ek weet, maar pappa is daar”.

Dis hoe dit in Christene se lewe ook werk. God is altyd by my. Daarom hoef ons vir niks bang te wees nie. Ons beweeg heeltyd in God se teenwoordigheid.

Ek wil afsluit met ‘n ander teks, wat hierdie teks in Matteus 10 bevestig, saamvat en verduidelik. Romeine 8: 35, 38-39.
Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here”.

Raak oomblik stil. Dink oor jou lewe en alles wat in jou lewe aan die gang is. Dink nou oor hierdie vrae.
Wat beteken dit vir jou om te weet dat God jou help met jou vrese?
Wat beteken dit vir jou om te weet dat God jou ken en altyd daar is vir jou?

Wat beteken dit vir jou dat niks jou ooit van Sy liefde sal skei nie?

Preek 22 Junie 2014

Matteus 10: 26-33

Hierdie is ‘n moeilike interessante teks om mee te werk. Ons moet dit verstaan in die lig van Matteus 10: 5. Jesus stuur sy dissipels uit in die wêreld in en met hierdie teks sê hy vir hulle dat dit gaan moeilik wees om ‘n dissipel te wees. Die teks probeer baie eerlik en realisties wees daaroor. Jesus waarsku hulle, maar probeer ook dan die vrese van die dissipels aanspreek.

Lees teks

Ons almal het vrese of fobies.  Sommige vrese is in ons verbeelding ander werklik. Sommige is gesonde vrese, ander is ongesond. Sommige is bekend, ander is onbekend. Maak nie saak hoe dit is nie, ons almal het dit.

Die word fobie kom van die Griekse word Phobia  wat verwys na ʼn paniek wat uit verhouding is met die bedreiging wat agter dit is. Daar is ongeveer 322 fobies waaraan mense kan ly. Ek het so bietjie gaan kyk na interessante vrese wat mense het.
Gnomophobia – vrees vir tuindwergies
Arachibutyrophobia – vrees dat peanut botter in jou verhemelte vassit
Ephebiphobia – vrees vir jong mense
Genuphobia – vrees vir knieë
Scriptophobia – bang om in openbaar te skryf
Alliumphobia – vrees vir knoffel
Coulrophobia – vrees vir hansworse
Venustraphobia – vrees vir mooi vrouens
Sinistrophobia – vrees vir dinge aan jou linkerkant en vir linkshandige mense
Bibliophobia – vrees vir boeke
Pogonophobia – vrees vir baarde
Consecotaleophobia – vrees vir chopsticks
Papaphobia – bang vir pous
Nomophobia – vrees om selfoon kontak te verloor
Novinophobia – bang wyn raak op
Panophobia – bang vir alles
Phobophobia – vrees vir vrees

Die punt is ons almal het sekere vrese. Sommige bisar, ander meer werklik. In ons teksgedeelte spreek Jesus sy volgelinge se vrese aan. Hulle word nou uitgestuur as dissipels - hulle was waarskynlik bang en onseker, so Jesus wil hulle daarme help.

Om dit wat Jesus doen moet ons onderskei tussen bangwees en vreesbevange wees.
Om bang te voel is ‘n normale reaksie wanneer jy bedreig voel. Ek hou nie van hoogtes nie, so wanneer ek in ‘n hoë gebou is of op ‘n brug stap, dan voel ek bang. Dis ‘n normale emosie.
Om vreesbevange te wees is ‘n houding teenoor die lewe. Dis vrees wat ‘n lewenstyl word. Dit verlam jou heeltemal en maak dat jy nie ordentlik kan lewe nie en nie die mens kan wees wat God wil hê jy moet wees nie. Dis iets wat jou terughou as mens. Dis hierhoor wat Jesus praat in die teksgedeelte. Hy gee 3 opdragte wat sal help om vrese te oorwin.

Die eerste opdrag is in verse 26-27
Jesus sê - moenie bang wees vir mense wat die waarheid wil onderdruk nie. Die waarheid is dat Jesus gekom het om ons vry te maak en die dissipels gaan te doen kry met mense wat hierdie waarheid wil onderdruk. Mense wat nie wil hê dat dit verkondig moet word nie.
In verse 32-33 sê Jesus - moenie julle bekommer oor die mense wat teen waarheid van Jesus optree nie – Jesus sal self met hulle deal, dis nie ons taak nie. Ons taak is om aan te hou om die waarheid van die evangelie te verkondig.
So Jesus sê dus vir hulle – moenie bang wees vir sulke mense nie. Moenie bang wees om aan te hou om die waarheid van Jesus te verkondig nie. Die waarheid sal oorwin.

Die tweede opdrag is in vers 28
Die dissipels het dit baie letterlik verstaan, want hulle leef in ‘n wêreld waar Jesus se volgelinge vervolg, gemartel en doodgemaak word. Jesus sê, moenie bang wees vir hulle nie, want hulle kan miskien jou liggaam doodmaak, maar hulle kan nooit jou siel doodmaak nie.
Hy bevestig ook - Moenie bang wees vir hulle nie, fokus liewer op God wat baie groter en magtiger is as wat hulle ooit kan wees.
Moenie bang wees vir mense wat dit vir jou moeilik maak om jou geloof uit te leef en ‘n getuie te wees te wees nie. Fokus liewer op God wat vir jou sal help en jou vir jou krag sal gee om as ‘n gelowige in hierdie wêreld te leef.

Hudson Taylor het gesê: “It does not matter how great the pressure is, or how powerful the fear. What really matters is where the pressure and fear lies – whether it comes between you and God, or whether it presses you nearer His heart.”

Die derde opdrag is in verse 29-31
Jesus sê moenie bang wees nie, want God is altyd by jou. Belangrik om op te let – Jesus impliseer swaarkry en lyding is deel van die lewe. Dis nie God se wil nie, Hy gaan dit ook nie noodwendig van ‘n mens wegvat nie, maar waaraan ons wel kan vashou – niks gebeur sonder dat Hy by ons is en ons daardeur help nie. (In die oorspronklike teks kom “die wil van” nie voor nie).

Hieruit leer ons 2 dinge:
Eerstens – God weet van my. Jesaja 49 sê dat my naam is in Sy handpalm gegrafeer. Hy ken my op my naam en Hy sal nooit van my vergeet nie. Maak nie saak waardeur ek gaan nie, maak nie saak wat met my gebeur nie – dis ‘n belofte wat nooit sal verander nie.

Tweedens – God is altyd daar vir my. Jesus gebruik 2 beelde om dit te verduidelik – mossies en hare.
Mossies het nie baie waarde nie, maar vir God is hulle kosbaar. Daarom kan ons weet dat ons ook vir God kosbaar is.
In die Ou Testament is die tel van ‘n mens se hare beeldspraak wat vir jou bevestig dat God jou baie goed ken en jou beskerm.
So Jesus gebruik hierdie 2 beelde om vir ons te sê – God sal jou nooit in die steek laat nie. Hy sal altyd daar wees vir jou.

Daar is die mooi storie van die seuntjie wat bang is vir die donker en dan vra hy vir sy pa of hy by hom kan kom lê. Die pa antwoord dan: “maar hier by my is dit ook donker” en dan antwoord die seuntjie: “ek weet, maar pappa is daar”.

Dis hoe dit in Christene se lewe ook werk. God is altyd by my. Daarom hoef ons vir niks bang te wees nie. Ons beweeg heeltyd in God se teenwoordigheid.

Ek wil afsluit met ‘n ander teks, wat hierdie teks in Matteus 10 bevestig, saamvat en verduidelik. Romeine 8: 35, 38-39.
Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here”.

Raak oomblik stil. Dink oor jou lewe en alles wat in jou lewe aan die gang is. Dink nou oor hierdie vrae.
Wat beteken dit vir jou om te weet dat God jou help met jou vrese?
Wat beteken dit vir jou om te weet dat God jou ken en altyd daar is vir jou?

Wat beteken dit vir jou dat niks jou ooit van Sy liefde sal skei nie?

Thursday, June 12, 2014

Preek 8 Junie 2014

8 Junie 2014

Pinksterfees: Handelinge 2: 1-21

Dis ‘n lang teksgedeelte maar ek gaan dit tog heeltemal lees, want ek kom agter daar is baie mense wat nie die storie ken nie. Dit terwyl dit een van die 3 belangrikste gebeure is in die Christelike kalender. Kersfees, Paasfees en Pinksterfees – die belangrikste gebeure vir ‘n Christen, maar om een of ander rede kry Pinksterfees nie soveel aandag soos Kersfees en Paasfees. Dalk ook maar goed so, want dan sou die winkels seker aan nog goed gedink om aan ons te verkoop soos wat hulle met Kersfees en Paasfees doen.
  
So kom ons lees die teks en dan gaan ek net so ‘n paar goed uitlig.

Hierdie teks het my laat dink aan ‘n ander storie in die OT waar mense ook in verskillende tale gepraat het. Ons kry dit in Genesis 11: 1-9. Die storie van die toring van Babel. Volgens die storie het al die mense op die aarde net een taal gepraat. Hulle het toe besluit om ‘n stad met ‘n toring te bou wat strek tot in die hemel. So die mense is trots en arrogant – hulle probeer God speel. Die gevolg daarvan was dat God hulle toe versprei het in verskillende taalgroepe wat mekaar nie verstaan nie. Dit was die begin van slegte kommunikasie, disharmonie en vyandigheid tussen mense.

Die gebeure op Pinksterdag waarvan ons nou in Handelinge gelees het wil die gebeure by Babel omkeer. Pinksterdag lei ‘n nuwe era in waar mense weer bymekaarkom en na mekaar luister. Dis die rede vir die verskillende tale wat gepraat is – sodat almal die boodskap van Jesus en Sy Gees kan hoor en verstaan.
Dit bevestig Jesus se opdrag dat ons moet lief wees vir ons naaste. Dat ons vir almal moet lief wees.
Dit bevestig ook die opdrag in Handelinge 1: 8 – “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Almal word ingesluit. Die Gees wat op inksterdag uitgestort is, is ‘n gawe aan almal. Die Gees reik uit na almal. Dit word vir ons bevestig deur die verskillende tale wat gepraat is en deur Petrus se toespraak – hy praat van seuns en dogters, jongmense, ou mense, dienaars en dienaresse. Interessante groepe mense wat hy noem – dis al die mense wat nie baie regte in die samelewing het nie. Die punt is - die Gees word nie ingeperk deur kultuur of taal of status nie. Die Gees is vir alma. Dis ons wat die Gees inperk omdat ons grense aan Hom stel.

Al hierdie tale en kulture beteken dat ons die Gees ook op onverwagte plekke sal hoor. Teveel kere hoor ons by Christene dat God se Gees by sommige mense is by sommige nie is nie. Ons hoor van kerke en mense waar die Gees nie werk nie. Wanneer ons in hierdie slaggat trap dan mis ons die gawe van Pinkster en ons maak vir God baie klein. Dan perk ons vir God in.
Maar wanneer ons begin verstaan dat God se Gees oral is – al is ons nie altyd bewus van Hom nie – dan begin ons idee van ander mense ook verander. As ons dit verstaan dan ontdek ons dat ons vir God kan vind in elke persoon wat ons pad kruis en in elke plek waar ons kom. In die grootste en rykste kerke tot in die kleinste armste kerke. Van die mooiste natuurwonder tot in die vuilste plakkerskamp. Van die mooiste en rykste mens tot die armoedigste en vuilste mens. Van die mense in die grootste huis in Flamingo Vlei tot Jane en Dane wat hier agter die kerk in hulle gebreekte kar slaap. Die Gees werk oral.
Hopelik sal hierdie Pinkster ons help om dit weer te besef en anders na mense te kyk en hulle anders te hanteer as gevolg daarvan.

Hoe doen ons dit? Hoe kry ons dit reg om so anders na mense en die wêreld te kyk? Wel die Gees help ons daarmee. Iemand  het gesê – “Sonder die Gees is ons net mense wat die mooi storie van Jesus vertel, met die Gees is ons mense wat Jesus se storie leef.”
En ons leef Jesus se storie in hierdie wêreld deur die uitleef van die vrug van die Gees.
Galasiërs 5: 22 – “Die vrug van die Gees…is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”
Ons leef Jesus se storie wanneer ons hierdie goed begin uitleef met die hulp van die Gees.

Met dit alles in gedagte gaan ons nou ons skuld bely met ‘n gesamentlike gebed.

Dankie Here vir die Gees wat grense tussen mense wil afbreek.
Vergewe ons wanneer ons die werk van U Gees belemmer
Gees van God vergewe ons.
Vergewe ons vir die grense wat ons oprig.
Vergewe ons selfgesentreerdheid, woede, vrees vir verandering en wanneer ons U liefde wantrou.
Gees van God vergewe ons
Vergewe die grense wat ons oprig tussen onsself en U liefde
Vergewe ons besigwees, ons onafhanklikheid en selfsugtigheid
Gees van God vergewe ons
Vergewe die grense wat ons tussen ons en ander oprig.
Vergewe ons wrokke teenoor ander en ons ongeërgdheid teenoor die armstes
Gees van God vergewe ons
Vergewe die manier hoe ons die natuur verwoes.
Vergewe ons gierigheid, die misbruik van bronne en die besoedeling van die omgewing.
Gees van God vergewe ons
Gees van God help ons om te breek met al hierdie grense.
Begelei ons tot vryheid en ‘n lewe geleef tot U eer.
Gees van God help ons
Ons is gevul met die Gees van God
Ons is geroep om te dien
Ons gaan leef ‘n opstandingslewe.
In die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Amen

Dan is daar ‘n laaste gedagte wat ek in die teks raakgesien het en wat ek vining wil uitlig.
Ons kry dit in verse 7 en 12
·         Verras en verbaas sê hulle toe…”
·         Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan…”

Hierdie mense was verbaas, verras en verwonderd oor die werk van die Gees. Wanneer laas was jy verbaas, verras en verwonderd oor die werk van die Gees? Ek dink ons moderne mense sukkel hiermee. Ons het ons “sense of wonder” verloor. Ons hou teveel daarvan om in beheer te wees. Ons hou teveel van antwoorde en goed wat sin maak.

Ek het vir Jalize gevra om vir julle ‘n lied te sing wat sy self geskryf toe sy eendag verbaas en verwonderd was oor die werk van die Gees. Dit was een oggend met ‘n pragtige sonsopkoms toe sy God se teenwoordigheid intens beleef het. Die lied se naam is: Flow through me.

Nagmaalsgebed.
Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.
U gee die brood, die vrug van die aarde en van die arbeid van mense.
Laat dit vir ons die brood van die lewe wees.

Ons verheerlik U, Here God, Skepper van die hemel en die aarde.
U gee die wyn, die vrug van die wingerdstok en van die arbeid van mense.
Laat dit vir ons die wyn van die ewige koninkryk wees.

Soos die koring wat oor die velde  gestrooi was
en die druiwe wat oor die heuwels versprei was,
op hierdie tafel saamgebring is in brood en wyn,
mag u ganse kerk net so van die uithoeke van die aarde af
saamgebring word in u koninkryk.

Ons dank en lof kom U toe, Here God, met hierdie Pinksterfees,
omdat U deur u Gees gekom het om vir ewig met ons te wees.
U het verkondig dat u Gees sal luister om te hoor wat ons van die Here ontvang.
So weet ons dat ons alles ontvang wat die Here vir ons voorsien.
Deur u Gees sal ons alles begryp wat ons nou nog nie verstaan nie.

Mag die Skepper-Gees die woorde van Jesus ’n werklikheid laat word.
Die nag waarin Hy oorgelewer is,       het Hy van die brood gesê dat dit sy liggaam vir ons is.
Hy het die beker wyn die nuwe verbond in sy bloed genoem.
Deur u Gees onthou ons dit vandag en glo ons dat dit vir ons waarlik so sal wees.

Here God, Skepper van die hemel en die aarde,
Laat u lewegewende Gees oor hierdie maaltyd kom
sodat die brood en wyn vir ons die liggaam en bloed van Christus kan wees.

Deur Christus, saam met Christus, in Christus,
behoort aan U al die eer en die heerlikheid, Almagtige God en Vader,
in die eenheid van die Heilige Gees, nou en vir ewig. Amen.

Gebruik nagmaal



Wednesday, November 27, 2013

Preek 24 November 2013

Kolossense 1: 15-20
Christus die koning Sondag


Vandag is Christus die koning Sondag. Op hierdie Sondag vier vir Jesus wat die koning van ons lewens en van die heelal is.
James Allen Francis het in 1926 die volgende oor Jesus geskryf.
Hier was ʼn man, wat gebore is in ʼn klein dorpie, die seun van ʼn plattelandse boeremeisie. Hy word groot in ʼn ander agter-af dorpie. Hy werk as ʼn timmerman van die dorp totdat Hy 30 jaar oud is.  Daarna is Hy drie jaar lank ʼn rondreisende prediker. Hy het nooit ʼn boek geskryf nie. Hy het geen vername pos beklee nie. Hy het nooit ʼn huis besit nie. Hy het nooit verder as 250 km gereis van die plek waar Hy gebore is nie. Hy het slegs Homself as CV gehad het. Hy het niks in die wêreld besit nie.  Terwyl Hy nog baie jonk was en sommer vroeg in Sy loopbaan, het die openbare mening algaande teen Hom gedraai. Sy vriende het hom in die steek gelaat.  Hy het in die hande van Sy vyande geval.  Hulle het Hom vasgespyker aan ʼn kruis tussen 2 diewe!  Sy laksmanne het ʼn speletjie gespeel oor Sy enigste aardse besittings wat Hy gehad het – die klere aan Sy liggaam. Toe Hy dood was, is Sy liggaam in ʼn geleende graf gelê, die eiendom van ʼn vriend wat vir Hom jammer was.  20 lang eeue het gekom en gegaan en vandag is Hy die Middelpunt van die ganse mensdom en die Leier van vooruitgang en beskawing.  Hy is die begin- en vertrekpunt van die jaartelling van ons kalender.  Ek is volkome binne my reg, wanneer ek beweer dat al die skepe wat al gebou is, al die weermagte wat al gemarsjeer het, al die parlemente wat nog gesit het en al die konings\regerings wat al geregeer het, dat hulle nie die lewe van die mens op aarde so radikaal en volledig beïnvloed het soos hierdie een enkele lewe van Jesus Christus nie!

In die dertiende eeu het iemand 30 bokvelle aanmekaar vasgewerk en ‘n kaart van die wêreld daarop geverf. Dit was 12 voet by 12 voet. Die Latynse naam van hierdie kaart is Mappa mundi Christiana – dit beteken “‘n Christelike kaart van die wêreld”.
Hierdie kaart is in 1843 in ‘n klooster in Duitsland ontdek. Ons het egter nie meer hierdie oorspronkilik weergawe van die kaart nie – dis tydens die Tweede wêreld oorlog in ‘n bomaanval verwoes. Al wat ons daarvan het is foto’s en afdrukke.
Aan die bopunt van die kaart is die kop van Jesus. Aan die twee kante is Jesus se hande en onder is sy voete.  Jerusalem is in die middel van die kaart, waar Jesus se naeltjie sou wees.
Rondom die kaart is daar beskrywings van diere en die skepping van die wêreld. En die Bybelse stede en plekke is oral ingeteken.
Wat die skepper van hierdie kaart wou oordra, is dat Jesus is die een wat die wêreld bymekaar hou. Hy is agter alles. Hy is die middelpunt van alles. Hy raak alles en almal.

Dis waaroor vanoggend se teksgedeelte gaan.  Lees Kolossense 1: 15-20

Paulus skryf hierdie lied aan die gemeente in Kolosse. Daar was dwaalleraars wat die mense verwar het. Hulle het vertel dat Jesus nie regtig so belangrik is nie. Volgens hulle was Hy maar net nog ‘n manier om by God uit te kom. Hulle ontken dus die rol wat Jesus speel in die Christelike geloof en in mense se lewens. In reaksie hierop sê Paulus dan ‘n paar goed oor Jesus.

Jesus is die beeld van God (vers 15a). Paulus sê – as jy wil weet wie God is. As jy wil weet hoe God is. Kyk na Jesus. Jesus maak vir God sigbaar.

Jesus is die eerste (vers 15b-17). Jesus was nog altyd daar. Hy was betrokke by die skepping en Hy is steeds daarby betrokke. So daar is niks in hierdie skepping wat belangriker is as Jesus nie. Hy is belangriker as die heelal en alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie. Belangriker as enige konings en regerings.  

Jesus, hoof van die kerk (vers 18). Nou skuif die fokus van die heelal af na Jesus se verhouding met die kerk (ons). Paulus bevestig – Jesus is die hoof van die kerk en Hy hou dit in stand. Hy sorg vir sy kerk.

Jesus se werk is versoening (vers 19-20). Jesus het mense en die hele skepping en God bymekaar uitgebring.  Die kruis is soos ‘n brug tussen die wêreld en God. Die kruis het vrede gebring tussen God en die wêreld. 

Paulus doen wat die skepper van die Mappa mundi Christiana wou doen – hy bevestig dat Jesus die oorsprong, die middelpunt en die onderhouer van alles en almal is.

In verse 16-17skryf Paulus: “God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie… voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand”.

Dis wonderlik om dit te hoor, maar soms voel dit mos nie asof Hy alles in stand hou nie. As ons so kyk na die wêreld waarin ons leef, met al die wreedheid wat mense teenoor mekaar pleeg. As ons so kyk na al die hartseer wat mense beleef. As ons so kyk na die natuurrampe waarin 1000de mense sterf.
Mense beleef seer en hartseer en gaan deur worstelinge. Soms voel dit mos asof die lewe jou so platslaan dat jy net uitmekaar wil val. Dan lyk dit nie asof Jesus alles in stand hou nie.


As dit is hoe jy voel dan wil ek jou vertel van laminien. As jy al ‘n praatjie van Louie Giglio gekyk het, sal jy dalk weet wat laminien is, maar ek het nie geweet wat dit is nie. Eenvoudig gestel – laminien is ‘n extra sellulêre protein in ons liggame. Dit beteken dit lê buite die selle in ons liggame. Dit gee ondersteuning aan die selle en dit bind die selle aanmekaar. Dit sorg dat ons nie uitmekaar val nie. As dit nie reg funksioneer nie kan dit byvoorbeeld lei tot spier distrofie. So dis ‘n baie belangrike protein.
Nou wil ek ook vir julle ‘n foto wys van Laminien wat met ‘n baie sterk mikroskoop afgeneem is. Laminien is in die vorm van ‘n kruis.

Soos wat die laminien ons liggame in stand hou en bymekaar hou, so hou Jesus alles in stand. Ons liggame, ons wêreld, ons lewens. En ja, ons word siek en ons wêreld is deurmekaar en ons lewens is soms chaos en seer, maar Jesus is die een wat ons daardeur help en alles weer bymekaar laat kom. 
Soos Rob Bell in een van sy boeke skryf: “God is putting the world back together, and God is doing this through Jesus."

Wat beteken dit alles vir ons wat onsself Jesus-volgelinge noem?
Ons moet begin deur weer vir Jesus die middelpunt van ons lewens en ons wêreld te maak. Die beste manier om dit te doen is om ‘n slag weer te gaan kyk hoe lyk sy voorbeeld en dit na te volg. Dit beteken ‘n paar goed…
Ons moet leef met liefde teenoor alle mense. En onthou Christene kan nie kies wie hulle liefhet nie.  Soos Jesus moet ons alle mense liefhê.   
Ons moet barmhartigheid bewys aan alle mense.
Ons moet vredemakers wees in ‘n wêreld waar daar baie onvrede is.
Ons moet mense vergewe, soos wat Jesus ons vergewe het.
Ons moet genadig wees teenoor alle mense. Is altyd vir my interessant hoe ons geneig is om Jesus se genade vir onsself toe te eien, maar as dit kom by ander mense, dan is ons traag om genade te bewys.
Ons moet die kwaad in hierdie wêreld oorwin met die goeie.
Ons moet ophou om so pessimisties en negatief te wees. Wanneer dinge sleg lyk en voel moet ons leef soos mense wat glo dat Jesus ons sal heelmaak en dinge ten goede sal laat uitwerk. 

Die punt is – Ons moet Jesus as die koning van ons lewens erken. Maar dis die maklike deel. Die uitdaging is - ons moet dit begin leef ook. Op hierdie Christus die koning Sondag erken en vier ons dat Hy die koning van ons lewens is – veral deur te begin leef soos mense wat erken dat Hy ons koning is.


Sunday, November 17, 2013

Preek 17 November 2013

2 Tessalonisense 3: 6-13


Verlede week het Jalize vertel van die wederkoms en die einde van die wêreld. Sy het vertel hoe baie voorspelling daar al was oor wanneer dit gaan gebeur en vir wanneer dit nog gaan gebeur. Ek wil begin deur vir julle te vertel van een van hierdie voorspellings en mense se reaksie daarop.
Harold Camping – hy was die president van Family Radio in California. Hy was self ook ‘n omroeper by die radio stasie. Hy is waarskynlik meer bekend daarvoor dat hy op grond van allerhande berekeninge die wederkoms en einde van die wêreld voorspel het vir 21 Mei 2011. Toe dit nie gebeur het nie, het hy die datum aangeskuif na 21 Oktober 2011, waarna hy maar eerder afgetree het.
Sy voorspelling het ‘n klomp mense op hol gehad en hulle het ekstreme goed gedoen. Ek wil gou vir julle ‘n artikel lees wat gaan oor die goed wat mense gedoen het. Dit het op 23 Mei 2011 verskyn in The Examiner. Twee dae nadat die wederkoms moes gebeur het.

The Examiner: May 23, 2011
May 21st has come and gone, and the biblical Rapture event did not come. For tens of thousands, if not millions of followers of Harold Campings timeline for the coming of Jesus to get his bride, the aftermath of economic choices made leading up to the prophetic date now stands squarely in front of them.
For many people who accepted and chose to be a part of Harold Camping and Family Radio's call to warn the world of impending doomsday, their actions stemmed from simple spoken warnings to friends, colleagues, and work associates, to others selling all they had, including retirement funds, and using the money to purchase such things as billboards and radio spots.
Because Camping was certain “without any shadow of a doubt it (Doomsday) is going to happen,” many of his followers sold their possessions and quit their jobs.
Adrienne Martinez, a follower of Camping, and her husband have reportedly quit their jobs and spent the last penny in their bank account towards a rented house in Orlando. “We budgeted everything so that, on May 21, we won’t have anything left,” said Adrienne.
But the false prediction might not be so easily effaced from the lives of Camping's followers. The L.A. Times writes that Keith Bauer, a 38-year-old tractor trailer driver, took a road trip with his family to see the Grand Canyon before the world ended.
"With maxed-out credit cards and a growing mountain of bills, he said, the rapture would have been a relief," the paper writes.
But Bauer is not angry at Camping for his false prediction. "Worst-case scenario for me, I got to see the country," he told the paper. "If I should be angry at anybody, it should be me."
Robert Fitzpatrick, who spent $140,000 of his life savings to advertise the rapture in New York, said he was dumbfounded when life went on as usual Saturday.
What is very poignant are the reactions throughout history by people who have been deceived into believing a Rapture event was ready to take place. In the 19th century, followers of a church minister named William Miller sold all their goods and land, and followed the preacher up to a mountain where they truly believed Jesus was returning for them. Over 50,000 Christians succumbed to Miller's doctrine and prophetic interpretations, and this was during a time when mass communications weren't what they are today.
For many followers of Harold Camping's belief in May 21st, having to start over in a working career will be very difficult, since those who quit their jobs did so of their own accord. Subsequently, they and their familes will not be eligible for unemployment insurance, and only time will tell if their previous employers will find compassion in re-hiring them to prior positions.
Harold Camping responded on Sunday in a brief statement that he has no answers, and doesn't understand why the rapture did not occur on May 21st. There was no contrition for the tens, if not hundreds of thousands of believers who followed the man, and his interpretations blindly, and chose to make economic choices that wouldn't even stand up to scriptural confirmation.
It is now two days after the missed Rapture date of May 21st, and in the aftermath for the followers of Harold Camping they must now deal with the realization of their economic choices, and overcome the disappointment to begin again building their financial futures, and employment careers.

Dit is wat gebeur het in die tyd van 2 Tessalonisense. Die mense het gedink die wederkoms gaan enige tyd gebeur, so daar was van die gelowiges wat verkondig het dat alle gelowiges hulle werk en daaglikse verantwoordelikhede moet los. Hulle hoef ook nie enige beplanning vir die toekoms te doen nie. Hulle moet net passief wag vir die dag wanneer Jesus weer kom.
Dis hoekom Paulus in vers 10 skryf: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie”.
Dis ‘n waarskuwing aan die mense wat net wil sit en wag op die wederkoms.

Ons kan dus nie hierdie teks gebruik as ‘n rede om nie mense te help nie. In ons land met die 25% werkloosheidsyfer sal dit darem ‘n baie ongevoelige en onredelike ding wees om te doen. Dit gaan nie oor mense wat nie werk kan kry nie, of wat graag wil werk maar hulle werk het nie.
Dit gaan hier oor mense wat spesifiek kies om nie te werk nie oor die wederkoms en daarom ‘n las is vir die gemeente. Hulle is ledig en bemoei hulle daarom net met ander mense en maak ‘n oorlas van hulleself.
Soos die spreekwoord sê: “ledigheid is die duiwel se oorkussing”.
Wat Paulus dus sê is dat – maak nie saak wanneer die wederkoms is nie – ons moet aangaan met ons lewe, ons werk en ons verantwoordelikhede.

Teen hierdie agtergrond moet ons verstaan dat werk vir ‘n Christen veel meer is as net ‘n manier om luiheid te verhoed of om geld te maak. Vir ‘n Christen is werk ‘n roeping. Die Bybel help ons om perspektief te kry oor werk.

Werk is ‘n geskenk van God. Hy gee vir ons gawes en talente om te kan werk. So, werk is ‘n manier om Hom te verheerlik. Dis ‘n teken van dankbaarheid teenoor God.

Werk as ‘n geskenk van God help ons om vervullende en betekenisvolle lewens te kan lei. Daarom moet ons ook nie toelaat dat werk ons hele lewe oorneem nie.
Marguret Fuller het gesê: “Ons sê ons moet werk om ‘n lewe te maak, maar dan raak ons so vasgevang in ons werk dat ons nie tyd het om te lewe nie”.
Werk is nie die doel van die lewe nie. Om ‘n vervulde, betekenisvolle en gelukkige lewe te lei – dis die doel. Werk is ‘n manier om daarby uit te kom. So wees gebalanseerd.

Werk weerhou ons van ledigheid. Ledigheid lei tot allerhande verkeerde goed. Soos Paulus skryf dit maak dat jy jou onnodig bemoei met ander mense.
Voltaire het gesê: “Werk hou drie wolwe van die deur weg: armoede, kwaaddoen en verveling”.
Dis een van die redes hoekom ons in ons land iets moet doen aan die hoë werkloosheidsyfer. Want dit veroorsaak armoede, kwaaddoen en verveling.

Werk help jou om in jou behoeftes te voorsien. Wanneer jy in jou behoeftes kan voorsien, dan gee dit vir jou menswaardigheid. Let wel – dit gaan hier daaroor om in jou behoeftes te voorsien. Behoeftes gaan oor dit wat jy nodig het. Ons het nie die duurste karre, die grootste huise, duurste vakansies en baie bling nie nodig nie. As dit jou motivering is om te werk, gaan jy nooit tevrede wees nie en jy gaan nooit genoeg hê nie.   

Werk gee ook vir ons die geleentheid om goed te doen aan ander – soos Paulus skryf in vers 13. Werk maak dat ons ‘n positiewe bydrae kan maak in die samelewing en aan die lewens van mense. As mens jou werk sien as ‘n geskenk van God. As jy dankbaar is vir jou werk, dan is dit ook baie makliker om ‘n positiewe bydrae te lewer en van jou geld en goed weg te gee om die wêreld ‘n beter plek te maak.

In 2 Tessalonisense 3 spreek Paulus ‘n negatiewe situasie aan, maar terselfdertyd gooi hy ‘n positiewe lig op werk.
Hy spreek die negatiewe situasie rondom die wederkoms aan. Hy beklemtoon dat die wederkoms ons nie moet laat onttrek en alles verkoop om te sit en wag nie dat dit gebeur nie. Dit moet ons juis aanspoor om te werk en hard te werk en ‘n verskil te maak totdat Jesus eendag weer kom.
Daarmee saam bevestig hy dat werk nie bedoel is as ‘n straf nie. Dis ‘n geskenk van God af. Hy weet dit gee vir ons menswaardigheid, dit maak dat ons in ons behoeftes kan voorsien. Dit gee vir ons ‘n geleentheid om ‘n positiewe bydrae tot die samelewing en in mense se lewens te maak. Dit skep vir ons ‘n geleentheid om in ons werksplekke ‘n getuie vir Hom te wees.   

Gebed.