Markus 1: 21-28
Die gesag van die Liefde
Alhoewel dit nie die fokus of die tema van hierdie teks is
nie, kan ons ook nie die bose gees miskyk nie. So, ek wil net so vinnig iets
daaroor sê voordat ek by die punt van die teks uitkom.
Bose geeste het ‘n groot rol gespeel in die Bybelse wêreld.
Omdat hulle nie die wetenskaplike en mediese kennis gehad het wat ons vandag
het nie, het hulle baie van die goed wat ons vandag kan verklaar aan bose
geeste toegeskryf. Hulle het byvoorbeeld goed soos epilepsie, angsaanvalle,
depressie, bipolêre gemoedsteuring, alsheimers en ook fisiese siektes aan bose
geeste toegeskryf. Terwyl die mediese wetenskap mos verklaar het dat dit te
wyte is aan chemiese wanbalanse in die brein en goed wat in die liggaam
verkeerd loop. En daar is vandag maniere om dit te behandel en reg te stel en
verligting te bring. Dit sou dus baie gevaarlik wees om enige siektes vandag
nog as die resultaat van bose geeste te beskou. Ons moet altyd onthou - die
manier hoe die Bybelse mense na die wêreld gekyk het is anders as ons
s’n.
Dit gesê – ons kan ook nie ontken dat daar evil, boosheid in
ons wêreld is nie. Die afgelope week was die 70ste herdenking van die bevryding
van Auschwitz konsentrasiekamp deur die Russiese weermag. Ongeveer 1.1 miljoen
gevangenes het hier gesterf, 90% Jode. Meeste van hulle in die gaskamers. Dis
moeilik om te dink hoe dit kon gebeur dat ‘n opgevoede volk soos die Duitsers
so iets kon doen. En vandag het ons te doen met groepe soos Boko Haram in
Nigerië en Al Kaïda in die midde ooste wat hulle eie mense net voor die voet uitroei.
En die mense wat die joernaliste in Parys afgemaai het.
Ook op ‘n persoonlike vlak, hier tussen ons ,as ons sien wat
mense aanmekaar doen in gesinne en in huwelikke. En die goed waaraan mense
verslaaf raak. Hierdie goed wys vir my dat daar nog steeds boosheid in ons
wêreld is.
Ek het in die week ‘n definisie van boosheid gelees wat vir
my nogal sin gemaak het. Boosheid is enigiets wat nie van God af kom nie en wat
mag of ‘n houvas op mense het.
Dit gebeur te maklik, ook in die kerk dat ons die bose as
iets daar buite sien. Die Russiese skrywer en Ortodokse Christen Alexander
Solzhenitzen het gesê: “the line between good and evil does not go between
countries or empires or religions or political systems. The line between good
and evil goes right down the middle of every human heart.”
Miskien is dit goed om elke nou en dan te vra – wat is die
goed wat nie van God af kom nie en wat ‘n houvas op my lewe het?
Dit bring my dan nou by die punt van hierdie teks. Hierdie
teks gaan oor Jesus se gesag.
In die sinagoge in Kapernaum leer Jesus die mense met gesag.
En dan demonstreer hy ook Sy gesag deur die uitdryf van die bose gees. Selfs
die bose gees erken Jesus se gesag. Jesus maak die gees stil en bevel hom om
die man te verlaat. En ons sien dat al die mense in die sinagoge was verbaas en
verstom oor dit wat Jesus gedoen het.
Hierdie uitdrywing van die bose bevestig dat Jesus die seun
van God is en gesag het oor die bose. Jesus behaal ‘n oorwinning oor die bose.
Dit bevestig vir ons dat Jesus se gesag strek oor elke
deeltjie van hierdie wêreld van ons. Sy gesag strek oor elke aspek van my
mensewees, oor elke aspek van die skepping en die geestelike wêreld. Sy gesag
sterk oor enigiets wat ‘n houvas oor ons het en wat negatief vir ons is. Enige
iets wat nie van God is nie.
Daarom kan ons ook enigiets oorwin. Daarom hoef ons ook nie
bang te wees vir al die bose, slegte en hartseer dinge in hierdie wêreld nie.
Want Jesus het die bose oorwin.
Dit beteken natuurlik ook dat onsself moet oorgee aan Jesus
se gesag in ons lewens. Ons dink baie graag dat ons gesag lê in ons opvoeding,
ons geletterdheid, ons logika en ons vermoë om dinge self uit te sorteer. Dis
mos die ander kant van die wetenskap, tegnologie en al die wonderlike
uitvindings en verklarings wat daar al was.
Aan die een kant het dit ‘n klomp goed vir ons verklaar en
ons lewe en die wêreld beter gemaak, maar die nadeel is dat dit ons onafhanklik
en arrogant gemaak het. Dit maak dat ons dink ons het nie meer die gesag van
Jesus in ons lewens nodig nie. Die gesag lê nou in onsself en in die wetenskap
en die tegnologie.
Hierdie teks herinner ons weer daaraan – alles in hierdie
wêreld – selfs die wetenskap en tegnologie - lê onder die gesag van Jesus
en Sy woord. Soos ons lees in Filippense 2: 9-11:
Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die
Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die
hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong
sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die
Vader.
Dan is daar ‘n laaste ding wat ek in die teks wil uitlig. In
vers 27 lees ons dat almal verbaas was oor wat Jesus gedoen het.
Dis wonderlik dat die mense verbaas was oor Jesus, maar
verbasing is heeltemal anders as toewyding. Daar is ‘n groot verskil tussen
verbaas wees en ‘n toegewyde volgeling of dissipel van Jesus wees. Dis soos die
verskil om rugby te gaan kyk en rugby te speel. Om rugby te kyk vra niks van
jou nie, maar om rugby te speel vra toewyding en harde werk. Dis maklik om
verbaas te wees, dis iets heeltemal anders om ‘n volgeling te wees.
Dit het my weer laat dink aan die 3 soorte volgelinge van
Jesus wat ons kry. Bewonderaars, leerlinge en dissipels.
Bewonderaars is mense wat Jesus en die goed wat Hy gedoen en
geleer het respekteer. Hulle ag Hom hoog en luister graag na Hom. Hulle kom
selfs kerk toe om te luister na wat Jesus gedoen het.
Leerlinge is mense wat Jesus se leringe bestudeer, dit goed
ken en daaroor kan praat.
Dissipels is mense wat in ‘n noue verhouding met Jesus leef.
Dit is mense wie se lewens verander is deur Jesus. Dis mense wat Jesus se gesag
in hulle lewe erken en nie net vir hulle-self leef nie, maar vir Jesus en vir
ander mense.
Jesus soek dissipels – Hy soek nie net mense wat verbaas is
nie. Hy soek nie net bewonderaars en leerlinge nie. Hy soek dissipels. Mense
wat bereid is om hulle hande vuil te maak vir die evangelie.
Om op te som…
Jesus is die gesag oor alles en almal in hierdie wêreld.
Dit beteken ek kan enigiets oorwin en ek hoef vir niks bang
te wees nie.
Daarom moet ek ook vra: wat het die meeste gesag oor my
lewe? Is dit Jesus of dalk dinge wat nie van Hom af kom nie? Wat is daar wat ‘n
houvas oor my lewe het? Wat is die goed wat Jesus se gesag in my lewe verhoed?
En laastens moet ek selfondersoek gaan doen oor of ek ‘n
bewonderaar, leerling of dissipels is. Want Jesus soek dissipels.
No comments:
Post a Comment