Sunday, June 23, 2013

Preek 23 Junie 2013

1 Kon 19               Tableview gemeente                    23 Junie 2013


Ons gaan vandag ‘n verhaal van Elia lees – seker een van die bekendste verhale van Elia.  Soos julle weet was Elia een van die mees gesiene en soms ietwat dramatiese profete.  Vanoggend se verhaal is ‘n verhaal wat meeste van ons al gelees het en ken.  Ek moet erken, dat toe ek dit in die week weer lees, was ek so ietwat moedeloos, want wat sal ek nou sê oor hierdie gedeelte wat nuut is.  Maar, soos baie ander kere, het die Here my kom verras en ‘n ander kant van die verhaal kom wys.  ‘n Kant wat veral van toepassing is op die einde van ‘n kwartaal, tye wanneer ons moeg en oorlaai is.

Ons gaan saam lees uit 1 Kon 19

Die verhaal begin waar ons lees hoe Elia vlug vir sy lewe.  Hy is bang.  Dit is eintlik vreemd dat hy hier vlug, veral as ons in ag neem wat net in die vorige hoofstuk gebeur het.  Elia het al die Baal profete in hoofstuk 18 uitgedaag:  Kom ons kyk wie aanbid die ware God!  Hulle moes ‘n bul op die altaar plaas, maar nie die vuur aansteek nie.  Elia het dieselfde gedoen.  Daarna moes hulle van hulle god vra om die vuur aan te steek.  Hulle het die hele dag lank gebid, harder en harder, maar niks het gebeur nie.  Dan bid Elia tot God, en die hele altaar, al die klippe en hout, verbrand heeltemal.  Daarna kon niemand meer twyfel dat die Here die ware God is nie.  Elia het hulle toe opdrag gegee om die Baäl profete te vang en hulle is doodgemaak. 

So dit is amper n hoogtepunt.  Die Here bewys Homself as GOD.  Klomp mense erken vir God as Here.  Hy is groter en magtiger as Baal.  Maar dan dreig Isebel hom en sê dat sy hom gaan laat doodmaak.  Elia vrees vir sy lewe en hy vlug.  T.s.v. die groot wonderwerk wat pas gebeur het.  Hy vlug diep in die woestyn in.  Ons kry die idee dat hy erg depressief was.  Hy gaan lê onder ‘n besembos en wens dat hy eerder doodgaan. Hy vra eintlik maar dat die Here sy lewe neem. Sy woorde aan die Here in vers 4b:  “Nou is dit genoeg Here!  Neem my lewe want ek is niks beter as my voorvaders nie.”   Ek dink hy het heeltemal oorgegee en was gereed om te sterwe.  Hy het nie meer hoop gehad nie. 

Wat het als aanleiding gegee tot Elia se krisis:
1.  Hy was fisies afgetakel – hy was dood moeg gewees.  Ons lees hoe die engel vir hom ‘n dubbele opdrag gee om wakker te word en te eet. 
2.  Hy het alleen gevoel.  Hy het selfs sy slaaf agter gelaat.  Dit voel vir hom asof hy die enigste een is wat oorgebly het.  Ons hoor twee keer in die verhaal hoe hy voel asof hy die enigste een oor is.  En daar is nou niemand naby hom nie.  Stoksielalleen...
3.  Vrees.  Hy vrees vir sy lewe.  Isebel – Agab se vrou en ‘n Baal aanbidder – het gesê sy sal hom doodmaak.  Hy was doodbang gewees. 
4.  Hy beleef ‘n antiklimaks na Hfst. 18.  Hy was skielik sonder ‘n taak en ‘n doel.  Eerder as om ‘n applous of erkenning te kry vir dit wat in hfst. 18 gebeur, ervaar hy vervolging.  Hy het verwag dinge sal anders afspeel.
5.  Hy is ontnugter oor homself.  In vers 4 sê hy:  “Ek is niks beter as my voorvaders nie”.  Hy het moontlik by homself gedink – my voorvaders het soms afgedwaal, maar ek...nooit.  Maar dan tref dit hom – hy is dalk niks beter as sy voorvaders nie.  Dit was ‘n groot skok vir hom op daardie oomblik.
6.  Hy ervaar teleurstelling is sy geloofsgenote.  Hoor vir Elia in vers 10 - “Ek het my met hart en siel gewy aan U saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het U altare afgebreek en U profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.” Hy voel asof hy die enigste een is wat nog geloof in God oor het.

Ons kan aflei dat dit nie goed gegaan het met Elia nie.  Die lewe was net te veel vir hom.  Hy was in ‘n krisis.  Soos ons hier gehoor het het klomp goed aanleiding gegee tot hoe hy gevoel het.  Dis die eerste keer wat ek dit besef het nadat ek die verhaal gelees het.  Elia, hierdie groot profeet wat soveel wondertekens gedoen het, was uitgebrand.  Hy was ook moeg.  Ja, self hy.  Hy het nie meer kans gesien vir die lewe nie.  Dit word hieruit vir my duidelik – ‘die man van God’ was ook maar net ‘n mens.  Dit het my laat dink aan al die kere wat ek al so gevoel het.

T.s.v. die feit dat Elia besluit het hy is nou klaar met sy bediening en dat hy nie verder wil lewe nie, lees ons tog iets van herstel. Die Here is nog nie klaar met hom nie... Waaruit het Elia se herstel bestaan en wat het dit moontlik gemaak.
1.Alhoewel Elia vlug, vlug hy eintlik na God.  Elia is na Horeb (ook Sinai genoem) wat die berg van God was. Dit was ook die plek waar God vir Moses ontmoet het.  Verskeie elemente van die verhaal herinner ’n mens aan Moses se ervarings met die Here.  So hy vlug na ‘n plek waar hy weet sy voorvader die Here al ontmoet het. 
2. God kom hom daar opsoek en versorg: Geestelik sowel as fisies (vers 5 en 7).  God kom sorg vir hom op die mees basiese manier – kos en water.  God weet wat hy nodig het.
 3. God vra verantwoording van hom: "wat maak jy hier""  (Vers 9 en 13). ’n Gelowige is tog op aktiewe diens.  Elia moes weer bewus word van sy opdrag.
 4. Hy word bemoedig deur ’n verskyning van God self (anders as op Karmelberg waar God verskyn met krag en mag, is dit by Horeb in stilte).  Let op: daar is drie hewige natuurverskynsels (die baie sterk wind of in die aardbewing of in die vuur nie) waarin die Here nie verskyn nie. Hy kom eerder saggies, soos in die tuin van Eden (Gen 3:8) in ’n  fluistering in die windstilte.
 5. Hy kry nuwe opdragte - voltooi die revolusie (salf twee konings: Gasael tot koning van Aram en Jehu tot die nuwe koning van Israel en maak Elisa tot profeet).    Die salwing van Gasael wys op God se universele heerskappy.
 6. Hy ontvang ’n korreksie -  hy is nie alleen nie.  Die waarheid is eerder dat alhoewel Isebel die profete van die Here laat doodmaak het, Obadja ’n honderd profete gered en onderhou het (18:4)!  Elia staan dus nie werklik alleen nie.

Dis egter nie maklik om ’n geknakte gees te genees nie.
Alhoewel ons hoor van hierdie dinge wat aanleiding gegee het tot Elia se genesing, was dit steeds nie ‘n kort en maklike proses nie.  Dit belangrik om te besef dat dinge nie dadelik verander nie.  Nadat die engel hom wakker maak, gaan hy ‘n tydperk van herstel binne.  Ons lees dat God 40 dae met hom werk (vers 8).  Hy het tyd nodig gehad om weer te herstel.

Tog verander dinge...
 1. God se opdrag verander egter sake – Hy kry ’n opvolger.  Wanneer hy Elisa op pad teëkom, besig om te ploeg, gooi Elia sy mantel oor hom.  Elisa het sy roeping dadelik verstaan en gehoorsaam nadat hy almal gaan groet het
 2. Later is Elia na Agab se paleis om vreesloos God se oordeel aan te kondig.  Hy het nie meer uit vrees vir Isebel geleef nie.

Wat leer ons uit Elia se verhaal
Daar kom beslis tye in ons lewens wat ons ook soos Elia voel en wat ons wil vlug.  Die redes is dalk anders as Elia s’n, maar op ‘n manier voel ons dieselfde. Ons hoef dalk nie te vlug vir ons lewens nie, maar ons wil vlug van ‘n samelewing wat toenemend druk op ons plaas.  ‘n Samelewing wat sekere dinge van ons vereis.  Dalk voel ons depressief soos Elia omdat ons dink ons het nie ‘n doel nie.  Dalk beleef ons ook ‘n antiklimaks na ‘n groot besigheids transaksie.  Die redes is oneindig...

Ek sien vir Elia moedeloos onder die besembos sit - hy is uitgebrand – “burnout” slagoffer!  Hy het alles vir die Here gegee, maar kyk wat is die gevolge - hulle wil hom doodmaak. Hy het nou genoeg gehad... ’n Man wat 450 profete van Baal en 400 profete van die godin Asjera man alleen teengestaan het op die berg Karmel, word bang, moedeloos en wil handdoek ingooi toe hy die boodskap kry van koningin Isabel: “Môre is jy ’n lyk!”

Maar, ten diepste dink ek is hierdie nie ‘n verhaal oor Elia nie, maar eerder oor God.  Selfs Elia moes hier besef dat nie hy nie, maar God, die hoofkarakter is in hierdie verhaal.  Dat die uitkoms van die verhaal nie van hom afhang nie, maar van God.  In hoofstuk 18 kom wys God dat hy, en nie Baal, die ware God is.  In hoofstuk 19 word daar dan sterk gefokus op Wie hierdie God is en hoe die Here anders as Baal is. 

1.  Die eerste ding wat God ons van Homself kom leer in die verhaal, is dat Hy vir Elia sorg – op die heel basiese manier.  Daar waar Elia in die woestyn was, met geen kos of water nie, stuur God ‘n engel om vir hom te sorg.  God kom stry of argumenteer nie met hom nie.  God kom sorg net vir hom.  Dis juis in tye wat ons wil vlug en alleen voel, wat God die naaste aan ons is.  Dalk is dit soms nodig vir ons om ‘n tyd na die woestyn te vlug en daar te gaan rus, sodat ons weer God se sorg kan ervaar.  Ek dink Elia het gehoop God kom sorg op ‘n ander manier – soos om van Isebel ontslae te raak, of om die volk tot bekering te dwing.  God sorg dus op maniere wat ons nie altyd verkies nie.  Soms is TYD deel van herstel en die Here weet wat ons daarvoor nodig het.  God sorg op vele maniere.

2.  God kom openbaar Hom op maniere wat ons nie altyd verwag nie.  Ons verwag dat God Hom op ‘n spesifieke manier aan ons kom openbaar, maar dan verras Hy ons.  God het Hom net in die vorige hoofstuk en in baie ander dele in die OT op ‘n kragtige manier geopenbaar, maar nie in hierdie hoofstuk nie.  Hier kom God in stilte.  God openbaar homself nie net op kragtige maniere nie, maar ook in stiltes en fyner dinge.  Die teks kom wys dat ons God altyd op ‘n nuwe ek kreatiewe manier kan ervaar.  God kan in die groot en magtige dinge wees, maar ook in die klein alledaagse dinge.

Hierdie verhaal wil nie sê dat ons vir God net in die stilte ervaar nie, maar dat God juis homself aan ons openbaar op maniere wat ons die minste verwag.  Op basiese maniere.  Elia het iets groot verwag – dalk eerder ‘n aardbewing of vuur, soos in die vorige hoofstuk, maar dan is dit in die stilte.  Ek dink wel dat ons as gelowiges te min vir God in die stilte gaan soek.  Met lewens wat gejaag is en waar daar meestal geraas is, hoor ons nie meer stiltes nie.  As ek moet gaan dink wanneer laas ek in die stilte van die natuur vir GOD gaan soek het, moet ek met skaamte erken dat ek nie kan onthou nie. 

3.  Derdens: God gebruik hom weer. God stuur hom.  Nadat God vir Elia versorg en hom op so ‘n ongewone manier in die stilte openbaar het, stuur Hy vir Elia om sy profetiese taak te gaan voltooi nl. om nuwe konings te salf.  Elia het nutteloos gevoel en seker gedink God sal hom nie weer kan gebruik nie.  Nee, God stuur hom weer.  God gee vir hom ‘n nuwe opdrag en doel.  Dit is dan onder hierdie nuwe konings wat Elia salf wat Isebel sterf en die volk gestraf word.  God kies om juis mense te gebruik wat voel hulle is nutteloos, hulle het nie meer ‘n doel nie.  Al voel ons soms soos Elia – moedeloos – kan God ons steeds gebruik.

Ek sluit af – in hoofstuk 18 kom wys God deur vuur te stuur dat Hy werklik God is.  In hierdie hoofstuk leer ons wie hierdie werklike God is.  Ons lees dat wanneer ons op n plek van moegheid en uitbranding is, is Hy ‘n God wat sorg – selfs op die heel basiese manier. Op maniere wat Hy weer die beste is. Ons leer dat Hy homself aan ons openbaar op maniere wat ons nooit verwag nie. En laastens, hy stuur ons met ‘n nuwe opdrag. En daarom, alhoewel ons moeg is hier in die middel van die jaar en waarskynlik die behoefte het om eerder iewers onder ‘n besembos te gaan lê, hoef ons nie moed op te gee nie, want God verskyn op onverwagse maniere en kom gee aan ons onverwagse energie om nuwe opdragte uit te voer.


Tuesday, June 18, 2013

Preek 16 Junie 2013

Moenie begeer nie
1 Konings 21: 1-21

Ek wil begin met ‘n staaltjie wat almal van ons wat kinders het, goed sal verstaan.  Abe Lincoln het met sy twee seuns afgeloop by die straat. Albei het gehuil!  “Wat is verkeerd met jou seuns?” het ’n verbyganger gevra. “Presies wat verkeerd is met die hele wêreld”, het Lincoln geantwoord, “Ek het drie neute in my hande en albei seuns wil twee hê!”

Dis presies die probleem van vandag se Bybelstorie. Dis oor Nabot wat ‘n wingerd het en Koning Agab wat nabot se wingerd bergeer, al het hy reeds genoeg van sy eie.  Dis mos die eeu-oue gevaar vir mense – om ander mense se goed te begeer.

Lees die teks 1 Konings 21: 1-21

Daar was ‘n briljante orrelis wat ‘n wonderlike orrel uitvoering gelewer het op een van daai ou orrels waar daar iemand was wat moes sorg dat daar heeltyd lug deru die orrelpype blaas.  Aan die einde van die eerste deel van sy uitvoering toe gee die mense vir hom ‘n staande toejuiging waarvoor hy buig.
Toe hy by die ou kom wat moet sorg dat daar lug in die pype is toe sê hy: “dis seker my beste uitvoering nog”. Die man antwoord: “ja, dit is ons beste nog!.  Die orrelis kyk hom verbaas aan en sê: “wat, ons? Van wanneer af kan jy ‘n noot op hierdie orrel speel” en hy stap van die verhoog af.
Na die pouse toe die orrelis die tweede helfte van die program wil speel, toe kom daar nie ‘n klankie uit die orrel uit nie. Skielik besef hy dat die man nie lug in die orrel blaas nie. Toe besef dat hy ‘n fout gemaak en hy het dadelik voor almal die ou bedank vir sy getroue diens. En toe kom daar weer musiek uit die orrel uit.

Hierdie storie verduidelik iets van die verskil tussen Nabot en Agab se sienings van die stuk grond.
Nabot is soos die orrelis wat besef dat die lug in die orrel kom van iemand anders af. Hy  verstaan dat die stuk grond van God af kom. Dis ‘n geskenk van God aan hom en sy familie. Hy kan dit daarom nie sommer net wegmaak nie.
Agab weer, is soos die orrelis toe hy nie besef het waar die lug vandaan kom nie. Hy vergeet wie se grond dit eintlik is. Hy het gedink hy is geregtig daarop. Hy hanteer die grond nie as ‘n geskenk van God nie, maar as ‘n gebruiksartikel. En as Nabot nie sy aanbod aanvaar nie, dan is hy soos ‘n kind wat nie sy sin kry nie. Hy begin sulk.

Agab vergeet wat in die tiende gebod staan: “Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.
Ons mag nie ‘n ander person se lewe begeer of sy werk of motor of huis of tuin nie.
Hierdie problem van Agab sien ons vandag nog – op groter en kleiner skaal. Dis hoekom daar oorloë tussen lande uitbreek en hoekom daar konflik tussen mense gebeur. Ons begeer wat nie ons s’n is nie. Dit maak mense jaloers en onvergenoegd.

In plaas daarvan dat ons leer om te leef wat in Spreuke 11:25 staan:
“Wie ’n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê.
Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is”.

So, wat kan ons doe nom te verhoed dat ons ander mense se wingerde begeer? Sodat ons eerder dinge vir hulle kan gun en dit saam met hulle kan geniet?

Ons moet weer leer wat beteken die woordjie “genoeg”
Rosa se ma is Dinsdagaand oorlede en Woensdag het ek by haar ‘n draai gaan maak. En ons gesels toe so oor dat sy nou ma se goedjies by die aftree-oord moet gaan oppak. Rosa sê toe – dit behoort nie te lank te vat nie, want alles sal waarskynlik net in een of twee tasse pas.
Ek besef toe net weer – ons gaar so op deur ons hele lewe. Ons het soveel dinge wat ons dink ons nie sonder kan klaarkom nie. Maar as mens aan die einde van jou lewe kom dan is een of twee tasse genoeg. Soos die spreekwoord sê: “‘n lykswa kom nie met ‘n sleepwa nie”.
Mens raak soos Agab as jy nie kan leer wat “genoeg” is nie.

Ons moet ook weer leer wat beteken “eenvoud”.
Eenvoud beteken blydskap in God se skepping. Oscar Wilde het lank terug al gesê: “People don't value sunsets, because they cannot pay for them”.  
Hoekom is dit so dat ons meer waarde heg aan goed waarvoor ons betaal? Dink aan die sonsopkoms en ondergang wat mens sien hier by Table View se strand. Dink aan die uitsig op Tafelberg en die see. Dink aan die Bolandse berge.
Ons verstaan eenvoud wanneer ons weer kan begin om die gewone, verniet goed soos God se skepping kan begin geniet.

Eenvoud beteken om vergenoegd en tevrede te wees met wat jy het en te besef dat God voorsien.
Filippense4:6 sê – moet oor niks besorg wees nie. God sal voorsien. Dis soos die liedjie wat sê: “don’t worry, be happy”.
Filippense4:11 sê – ek het geleer om reg te kom met wat ek het. Meer is nie beter nie. Minder is beter.
Het ons al geleer om tevrede te wees met wat ons het. Het ons al geleer om reg te kom met wat ons het?

Eenvoud beteken dat ek dankbaar is vir die materiële goed wat ek wel het. Meister Eckhart het gesê: “As al gebed wat jy ooit bid, ‘Dankie’ is, dan is dit genoeg!”
Dis soos Nabot wat besef het, die stuk grond behoort eintlik aan God. Alles wat ek het kom van God af. En ek kan dit geniet juis omdat dit van Hom af kom.
Daarom moet ek byvoorbeeld nooit vra hoeveel geld moet ek vir God gee nie – die regte vraag is eintlik hoeveel van God se geld mag ek vir myself hou?
Ons moet dankbaar wees vir dit wat ons het.

Eenvoud beteken dat jy jou hand en jou hart vir ander kan oopmaak. In 1 Korintiërs 12:25 lees ons dat God se mense vir mekaar moet sorg.
As mens nie eenvoud verstaan nie, as mens nie in eenvoud leef nie, dan is jy ook beskikbaar vir ander mense nie – nie eers vir jou eie gesin nie, wat nog van jou gemeente en mense wat jou nodig het.

Eenvoud beteken om jouself te gee – aan God en aan jou naaste. Die Christendom werk nie met ‘n wen-verloor of ‘n wen-wen beginsel nie. Die Christendom werk met ‘n dien-dien beginsel. Ons dien God en ons naaste. Eenvoud leer ons om nie op jouself ingestel te wees nie. Dit leer jou om nie ander mense uit te buit nie. Dit leer jou om eerder te help en te dien. 

Koos du Plessis het ‘n liedjie waarin hy sing:
Eenvoud is die vreugde van die lewe
Dis gee en neem, net wat daar is
Dis dankbaar eet van elke skewe stukkie brood
Wat die liefde is”

Om te weet wanneer genoeg, genoeg is…
Om weer te leer van eenvoud…
laat jou weer besef hoe mooi en goed God is;
dit gee jou weer waardering vir wat jy het, vir die lewe en vir die mense daarin;
en dit maak die Agab in jou dood. 


Sunday, June 9, 2013

Preek 09 Junie 2013

Rol van volwassenes in kinders se lewens
Deuteronomium 11: 1-4, 18-19

In aansluiting by ons Vadersdag tema wil ek graag met vanoggend se preek praat oor die rol van volwassenes in kinders se lewens. So ek praat vanoggend met almal wat ouers is – getroude ouers, enkelouers, geskeide ouers, pleegouers, voogde en aanneemouers. Ek praat ook met oupas en oumas wat ‘n rol speel in hulle kleinkinders se lewens. Ook enige iemand anders wat ‘n rol speel in kinders se lewens – soos onderwysers, sondagskoolleiers en vriende. Alle volwassenes wat ‘n rol speel in kinders se lewens en vir hulle ‘n rolmodel is. Ek het dit ‘n uitdagende tema gevind en dit het my baie oor myself as ouer laat dink, so ek hoop dit laat julle ook dink.

Kom ons begin met ‘n teksgedeelte wat ons herinner aan ons verantwoordelikheid en roeping teenoor kinders.
Lees Deuteronomium 11:1-4
Die teks herinner die volk aan alles wat God vir hulle gedoen het, dit waarsku hulle teen die Kanaänitiese afgode en gee moedig hulle aan om volgens God se voorskrifte te leef.
Lees Deuteronomium 11: 18-19
Dan word hulle aangemoedig om dit te onthou en aan hulle kinders oor te dra, sodat hulle kinders met dieselfde herinneringe kan gaan leef.  Dis die opdrag. Dis ons roeping as volwassenes. Leer kinders van geloof!

Die teks herinner my aan die belofte wat ouers by hulle kinders se doop aflê. Ons belowe voor God en Sy gemeente dat ons ons kinders sal grootmaak en onderrig volgens die beginsels van ons geloof en ons belowe dat ons sal sorg dat hulle onderrig ontvang ook – soos hier by die kerk en in die sondagskool. Ek dink nie ons neem hierdie belofte ernstig genoeg nie. Dis vir baie mense maar ‘n ritueel waardeur hulle gaan tydens die doop, maar hulle vergeet dat dit ‘n belofte is wat voor God afgelê word en ek het ‘n vermoede dat ons dalk eendag verantwoording sal moet doen daaroor.
Maar kom ons gaan kyk bietjie hoe hierdie teks en die doopbelofte waar gemaak word.

Kom ek vertel eers 3 ware stories wat my weer hieroor laat dink het.
Terwyl ek in my langverloftyd op die wynplaas gewerk het, het ek en my wynmakervriend ook oor kerk en geloof en dies meer gesels. Hy het 3 jong kinders en hulle is ‘n gelowige gesin, wat baie betrokke is by hulle gemeente op Rawsonville. Hulle neem deel aan gemeenteaktiwiteite, sy vrou is sondagskoolleier en die kinders is daar in die sondagskool.
Hulle familie het ‘n vakansiehuis in Hermanus waarheen hulle so gereeld as moontlik wegbreek as hulle ‘n kans kry. Met die gevolg dat die naweke wat hulle in Hermanus is, kan hulle natuurlik nou nie die Sondag kerk toe gaan op Rawsonville nie. So gesels ons toe die een dag daaroor en hy vertel vir my dat hulle ‘n punt daarvan maak om kerk toe te gaan wanneer hulle op Hermanus is, want dis vir hulle as ouers belangrik dat hulle kinders moet leer dat mens op ‘n Sondag kerk toe gaan, selfs al is jy nie by jou eie gemeente nie. Hulle is nie wetties oor kerk toe gaan nie, daar is Sondae wat hulle nie gaan nie, maar dis die uitsondering.

So ‘n maand of wat gelede het Gary Kirsten, die afrigter van SA se krieketspan besluit hy gaan nie sy kontrak as afrigter hernu nie. Dit was ‘n groot skok vir baie mense en hy het kritiek ook gekry daaroor. Sy rede daarvoor – hy is teveel tyd weg van die huis af en hy wil meer tyd saam met sy gesin spandeer. Hy het 3 jong kinders en hy wil nie hê hulle moet sonder ‘n pa grootword nie. Hy is bereid om ‘n hoë profiel werk, waarin hy baie goed en suksesvol was en waarvoor hy baie aansien gekry het te los sodat hy ‘n pa vir sy kinders kan wees.

Die laaste insident het in die afgelope week by ‘n laerskool in Bloemfontein gebeur. Twee kinders van die skool het vir hulle pa gaan vertel van ‘n onderwyser by die skool wat ‘n ou Suid-Afrikaanse landsvlag en plakkate met rassitiese slagspreuke teen hulle klaskamer se muur opgesit het. Daarmee saam het hy gereeld rassistiese opmerkings in klas, voor die kinders gemaak. Dit terwyl daar ‘n groot hoeveelheid swart kinders in die klas is. Die pa het toe gesê, dis nie hoe ek wil hê dat my kinders moet grootword nie. Omdat die skool hulle nie aan hom gesteur het nie, het hy die skool gaan verkla by die Vrystaatse onderwys departement en by die menseregte kommissie. Die onderwyser is intussen geskors.

Ons is mos baie goed daarmee om dinge vir onsself te rasionaliseer. So dis baie maklik om na hierdie stories te luister en dink – ag nee man, die wynmaker is darem baie wetties en rigied oor kerk toe gaan.
Of Gary Kirsten gaan te ver, dis nie nodig om ‘n goeie werk en al daai aansien te los nie – hy moet net sy lewe beter beplan.
Of die pa in Bloemfontein het oorreageer en te ver gegaan – mens kan darem nie jou kinders so blootstel nie.
Dis maklik om so te dink as ons vanuit ons volwasse, dikwels selfsugtige, rasionele perspektief daarna kyk, maar kom ons dink ‘n slag oor hoe die kinders dit sien. Kom ons kyk ‘n slag vanuit hulle perspektief. Wat sien die kinders in hierdie 3 stories?
My wynmakervriend se kinders sien ouers vir wie kerk en geloof belangrik is. Ouers wat “practice what they preach”. Hulle sê nie net vir hulle kinders dis belangrik om kerk toe te gaan nie, hulle doen dit ook.
Gary Kirsten se kinders sien ‘n onselfsugtige pa wat bereid is om groot opofferings te maak spesiaal net vir hulle. ‘n Pa wat meer aan hulle dink, as aan homself.
En die ou van Bloemfontein se kinders sien ‘n pa wat bereid is om na hulle te luister, hulle ernstig te neem en op te staan vir dit wat hy glo.              
Uit ‘n kind se perspektief lyk dit heeltemal anders.

Dit kom alles terug na watter tipe voorbeeld ek stel vir die kinders in my lewe. Watter tipe rolmodel is ek?
In Genesis 1: 26 lees ons dat God die mens geskep het as Sy verteenwoordiger hier op aarde. So watter tipe verteenwoordiger is ek vir die kinders in wie se lewe ek ‘n invloed het?
Kinders speel “follow the leader” met volwassenes – hulle gaan nie altyd na ons luister nie, maar hulle hou ons dop, hulle kyk na ons. So, ons moet baie mooi dink oor die voorbeeld wat ons vir hulle stel.
William Channing het gesê: “Een van die grootste probleme waarmee jongmense vandag sukkel, is hoe om goeie gewoontes aan te leer as hulle dit nêrens meer sien nie”.

Kom ek noem gou ‘n paar goed. ‘n Paar goeie gewoontes wat ons vir kinders kan wys. Onthou as ek hierdie goed noem – luister daarna vanuit kinders se perspektief, want as volwassenes rasionaliseer ons dinge baie maklik vir onsself, terwyl kinders net gaan op wat hulle sien. Hoe lyk my voorbeeld vanuit die oë van ‘n kind? En as hierdie voorbeelde jou dalk ongemaklik laat voel, dan is dit great, want ek wil hê ons moet dink oor hierdie goed en die invloed wat dit het in kinders se lewens.  

Leef jy so dat kinders kan sien dat God, geloof en kerk vir jou belangrik is. Neem jy vir God in ag wanneer jy keuses moet maak of besluite moet neem? Sê jy dankie vir God wanneer dit goed met julle gaan en vra jy Sy hulp wanneer dit nie goed gaan nie? M.a.w – wys jy vir die kinders dat jy afhanklik van God is?
Weet jou kinders dat jy met God tyd spandeer – sien hulle dat jy die Bybel lees en bid? Praat jy met hulle oor God en geloof? Selfs al het hulle ongemaklike vrae?
Hoe praat jy met hulle oor die kerk? Kla jy net oor die kerk en die dominee? Sien hulle dat jy deelneem aan kerklike aktiwiteite? Op ‘n Sondagoggend – wat kommunikeer jy vir jou kind as jy besluit, ek gaan nie vanoggend kerk toe nie, want ek het gisteraand te laat saam met vriende gekuier of ons gaan eerder see toe of ek gaan eerder fietsry of draf? 
Abraham Lincoln het gesê: “Daar is net een manier om jou kinders te leer om in Christus se voetspore te loop en dit is om dit self te doen.”

Hoe hanteer jy ander mense? Die manier hoe jy ander mense hanteer is ‘n ongelooflike getuienis. Kinders sien raak hoe ons ander mense hanteer en oor hulle praat. Hoe hanteer jy die mense wat saam met jou werk, jou baas en kollegas – hoe praat jy oor hulle? Hoe hanteer jy jou man of jou vrou? Of jou eks-man of eks-vrou – die ma of pa van jou kinders? Hoe hanteer jy jou vriende en jou kinders se vriende? Hoe hanteer jy die straatmense wat aan jou deur kom klop of ander mense wat hulp nodig het?
As kinders van kleins af sien dat jy mense met respek, deernis en liefde hanteer, dan gaan hulle waarskynlik mense ook so hanteer.

Hoe werk jy met jou geld en jou besittings? Is jy iemand wat onverantwoordelik werk met geld en wat maklik skuld maak? Iemand wat heeltyd kla oor wat jy nie het nie of jou heeltyd vergelyk met ander mense?
Of is jy ‘n goeie rentmeester? Iemand wat spaarsamig is en matigheid voor oë hou? Wat vir kinders leer dat mens nie alles kan kry wat jy wil hê nie. Wat iets gee vir die kerk? Wat tevrede en dankbaar is vir wat julle het?  Hoe lyk jou voorbeeld? 
Soos iemand gesê het: “Vyftig jaar van nou af sal dit nie saak maak met watter soort motor jy gery het, waar jy gewoon het, watter “brand” klere jy gedra of hoe groot jou bankbalans was nie. Maar die wêreld sal ‘n bietjie beter wees as jou lewe ‘n kind positief beïnvloed het”. 

Hoe tree jy op wanneer jy alleen is saam met jou kinders? Dis maklik om die regte goed te doen as jy tussen ander mense is, maar wat doen jy as jy alleen is of net saam met jou kinders is? Hoeveel krewe of perlemoen haal jy uit as daar niemand is wat jou sal vang nie? Hoe bestuur jy wanneer jy saam met jou kinders in die kar is? Gehoorsaam jy die verkeerswette? Hou jy by die spoedgrens? Vat jy kanse? Vloek en skel jy die ander mense wat volgens jou verkeerde goed doen?
Maak jy onwettige kopieë van flieks, musiek, rekenaarprogramme en games? Dis diefstal, jy oortree die wet. As jy dit doen en jou kinders toelaat om dit te doen – wel, dan leer jy hulle dis OK om die wet te breek.
Dus, alles kom op die ou end neer op die voorbeeld wat ek stel. Dit kom terug na die vraag – watter tipe verteenwoordiger van God is ek in kinders se lewens?
‘n Laaste aanhaling om mee af te sluit: “’n Mens se waarde word nie gemeet aan die hoeveelheid geld wat jy verdien of die aantal grade of toekennings wat jy behaal het nie; ook nie in die eerste plek deur die kwaliteit van jou werk nie. ‘n Mens se waarde hang daarvan af of jy aan jou kinders of volgelinge integriteit geleer het deur jou voorbeeld?”

Kom ons gaan dink ‘n slag oor…
watter tipe verteenwoordiger van God ek is;
watter tipe lewenskeuses ek maak;
kom ons neem die doopbelofte erbstig;
watter tipe voorbeeld ek stel.
Want dit speel ‘n bepalende rol in watter tipe grootmense die kinders gaan wees in wie se lewe ek ‘n invloed het.



Sunday, June 2, 2013

Preek 02 Junie 2013

Omgewing Sondag
Genesis 1: 23-31

Vandag is Omgewingsondag, so ek het gedink dit sal goed wees om vanoggend daarby aan te sluit.

Ek wil julle vanoggend terugvat na Genesis 1 toe…
God het ‘n droom gehad. ‘n Droom van ‘n heelal en ‘n wêreld en mense wat in harmonie, balans en vrede saam bestaan. Om die droom waar te maak skep Hy…
Die lig en duisternis; hy skep die hemel; hy skep die see en die land.
Dan skep hy die lewende wesens wat die aarde moes bewoon. Die plante, visse,  die voëls en die diere.
Heel laaste skep hy die mens. Die kroon van sy skepping. Die mens is Sy verteenwoordigers op aarde. Hy gee vir die mens die opdrag om te heers oor sy skepping, nie oorheers of beheer nie. Heers beteken die mens moet Sy droom instand hou deur te sorg dat daar balans en vrede en harmonie is.

Vir ‘n hele tyd het dit goed gegaan met God se droom, maar toe gebeur daar iets wat hierdie droom aan skerwe laat spat het - toe gebeur die sondeval. En die sondeval belemmer alles. Dit maak dat die harmonie, vrede en balans verander in chaos, onvrede en wanbalans.
Die sondeval belemmer die verhoudings tussen God en mense, tussen mense met mekaar en tussen mense en die skepping. Heers verander in oorheers en so begin die mense om die skepping uit te buit vir sy eie selfsugtige behoeftes.

Kom ek noem ‘n paar gevolge waar ons iets van die uitbuiting kan sien:
Daar word beweer dat daar elke minuut ‘n area so groot soos 20 rugbyvelde van die wêreld se reënwoude vernietig word – dis nou die reënwoude wat een van die belangrikste produsente van suurstof is.
Twee derdes van Wes-Afrika en 70% van die Ivoorkus se bosse is in die vorige eeu vernietig. Die Woenstyn gebied in Noord-Afrika is stadig maar seker besig om al hoe groter te word.
Tans is daar 3079 diere en 2655 plante spesies wat wêreldwyd as bedreigde spesies beskou word teenoor 1102 en 1197 in 1998. Wetenskaplikes reken dat teen die jaar 2100 gaan die helfte van huidige spesies uitgewis wees.
Dink aan die renosters hier is Suid-Afrika. In 2012 is 668 renosters gestroop. Tot dusver in 2013 is dit 367. Aan die Mosambiekse kant van die Kruger wildtuin is daar geen renosters meer oor nie.
Besoedeling van die atmosfeer, damme en riviere, olie op ons strande, Rommel en sigaretstompies.
Weerpatrone wat deurmekaar is a.g.v. Greenhouse-effek.

Die hele skepping is vasgevang in die slawerny van sonde. Soos Paulus skryf in Romeine 8: 22 “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die (geboorte)pyne van verwagting”.
En dit beïnvloed ons ook. God se skepping is interafhanklik. Alles sluit bymekaar aan. So as die omgewing, die natuur swaarkry, het dit op ons ook ‘n invloed en andersom.

Christene behoort ‘n leidende rol te speel as dit kom by die herstel van ons omgewing. Ons glo immers dat ons die aarde van God af gekry het en Hy verwag daarom van ons om daarna om te sien. Dis ook ‘n belangrike deel van die evangelie boodskap. Luister wat staan in hierdie twee teksgedeeltes:
Efesiers 1:10Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus”.
Kolossense 1: 19-20.God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen”.  

Jesus het dus nie net mense kom verlos nie – Hy het gekom om alles op die aarde, ook die omgewing te verlos. Hy het gesterf om oorheers, beheers en uitbuit te verander na heers, diens en sorg soos wat God dit in Genesis bedoel het.
En Hy wil ons gebruik om dit te doen. As Christene het ons ‘n verantwoordelikheid om te sorg vir die woonplek wat Hy vir ons gegee het.

So wat moet ons doen?

Bely dat ons ongehoorsaam is aan God se opdrag. As verteenwoordigers van God moet ons omsien na die skepping, maar ons moet bely dat ons dit nie doen nie. Ons is almal skuldig. Ons almal het al gemors en vermors. Ook as ons niks daaraan doen nie is ons skuldig.

As Christene moet ons die voorbeeld stel en voorkomend optree. Ons moenie produkte gebruik wat skadelik is vir die omgewing nie. Ons moenie rommelstrooi nie. En waar dit wel gestrooi is moet ons dit optel al is dit deur iemand anders gestrooi. Ons moet recycle wat ons kan recycle. Ons moenie lui wees om dit te doen nie.

Ons moet betrokke raak by die herstelproses. Ek lees nou die dag weer ‘n storie van ‘n ou man wat na groot reëns begin het om gate in sy tuin te grawe.  “Wat doen jy?” wou sy buurman toe weet. “Ek gaan ‘n klomp mangobome hier plant” antwoord die ou man. “Dink jy jy gaan nog van die mango’s kan eet?” vra die buurman. “Jy is tog al oud en, mangobome vat lank voor hulle begin vrug dra.”
“Natuurlik nie” antwoord die ou man, “ek weet ek sal nie daarvan kan eet nie, maar ander mense sal. Ek het my lewe lank mango’s geëet van bome wat deur ander mense geplant is, so ek los nou maar ‘n paar bome vir die mense wat na my kom”.
Ons het ‘n verantwoordelikheid om te sorg dat ons nageslag nog ‘n natuur het om te geniet. Ons moet bome plant, ons moet veg vir die oorlewing van plant en dierespesies. Ons moet ons kinders bewus maak van die gevare van besoedeling en hulle leer om die natuur te beskerm.

En laastens – ons moet weer begin om God se skepping te geniet. As mens gereeld langs die see gaan stap, dan maak dit saak dat die strand rommelvry en skoon is. As jy gereeld in ‘n bos en die veld kom, dan wil jy graag die voëls hoor sing en bome se skaduwee geniet. Deur weer die natuur te geniet, kom ‘n groot deel van ons verantwoordelikheid terug. En die beste van alles is, dis verniet.
   
Dis nie altyd ‘n maklike taak om ons verantwoordelikheid teenoor die natuur na te kom nie. Maar dis ons roeping as gelowiges. Dis ons plig om alles te doen wat ons kan.
Alan Paton het gesê: “Die grond is heilig. Dit kom immers van die Skepper self. Onderhou dit. Beskerm dit. Sorg daarvoor. Want dit onderhou die mens, beskerm die mens, sorg vir die mens. Vernietig die grond en jy vernietig die mens.”

Mag ons begin om weer die skepping te geniet.
Mag ons weer vir God daarin begin raaksien.
Mag ons weer begin om as God se verteenwoordigers ons verantwoordelikheid teenoor die skepping na te kom.
Mag ons weer begin heers soos wat God dit oorspronklik bedoel het.

Geloofsbelydenis
Ons glo in God, die almagtige Vader, wat uit liefde die aarde vir alle mense gegee het.
Ons glo dat ons as mense ‘n spesiale deel van die skepping is, en dat elke deel van die skepping ‘n kosbare geskenk is om te gebruik en in liefde na om te sien.
Ons glo in Jesus Christus, wat die koninkryk laat kom, die skepping genees, en deur sy dood en opstanding die vrede van God aan mense bied.
Ons glo in die Gees van God, wat oor die waters gesweef en orde in ons wêreld gebring het. Ons wil glo in die skoonheid van eenvoud, in liefde met oop hande.
Ons waag dit om te glo in ‘n nuwe mensheid, waar geregtigheid sal floreer, respek vir die hele skepping sal gedy, en vrede ‘n werklikheid is.
Ons uiter vanoggend ons oortuigings terwyl ons hier herinner word aan die liefde van God, die genade van Christus en die gemeenskap van die Gees. Amen   


Sunday, May 5, 2013

Preek 05 Mei 2013


Openbaring 21: 10, 22-22:5
Van die bos van vrees na die boom van lewe

Baie van die nuus websites het mos plekke waar mense kan kommentaar lewer. Ek is huiwerig om dit te lees, want die meeste van die kommentaar is oor die algemeen net negatief. So lees ek onlangs hoe iemand die volgende skryf:
“Ek was nooit ‘n ou vol vrese en fobies nie. Maar deesdae is dit asof die lewe amper soort van jou vyand geword het. Jy moet net uitkyk of jy kry ‘n klap. Jy voel jy het nie ‘n kans nie. Kos word al hoe duurder. Elke dag is daar een of ander nuwe belasting. Oral is daar korrupsie en geweld. Jy hoor kort-kort van iemand wat groot en bekend is en die volgende oomblik sit hy in die tronk. So, moenie worry nie, vrees net.”
As jy nie self so voel nie – ek dink ons almal ken mense wat so voel.

Hierdie gevoel van vrees is wat baie mense in ons wêreld en ons land beleef. Dit was waarskynlik die belewenis van die lesers van Openbaring ook. Onthou hulle is vervolg en onderdruk, net omdat hulle Christene is wat nie die keiser en die Romeinse gode wou aanbid nie. Hulle het in vrees geleef.

Deur die hele Openbaring boek is Babilon die simbool van Roemeinse ryk waar daar baie ongeregtigheid, geweld en onderdrukking plaasvind. Dis eintlik Rome, maar Babilon is ‘n metafoor vir ‘n stad wat sleg is – dit kom uit die OT toe die volk na Babilonië toe weggevoer is. So, die idee van ‘n nuwe stad – die nuwe Jerusalem – moes vir die mense baie aanloklik gewees het.
Die NT teoloog, Gail O’Day het gesê: "...the goal of Revelation is to invite the churches to move out of Babylon and into the grace of the city of God."

En watter wonderlike stad is hierdie nuwe Jerusalem nie? Ons lees dat die stad uit die hemel uit afkom. Dit kom van God af. In die stad is dit nie nodig vir ‘n tempel nie, want God is oral.
Dis soos iemand gesê het: “Hell is an unending church service without God. Heaven is God without a church service.”
Die hekke van die stad gaan altyd oop wees, so enigiemand is welkom en almal is veilig. Daar sal altyd lig wees. Daar sal niks onreins of sleg wees nie.
Die boom van die lewe, wat elke maand vrugte dra, gaan daar wees. Daar langs die rivier met die water van die lewe. Sy blare gaan genesing bring vir die nasies.  

Dit is ‘n stad vol goedhartigheid, geregtigheid, eerlikheid, genade en liefde. Dit sal darem wonderlike wees om in so ‘n stad te woon. As daar ooit ‘n tyd was wat die wêreld nodig gehad het om hierdie boodskap te hoor, wel – dan is dit nou.  Mense het hierdie tipe hoop nodig. Soos wat die ou se kommentaar aan die begin vir ons wys. Die wêreld smag na die helende genade van God. Dit smag daarna dat iets van die nuwe stad nou hier moet begin waar word. 

Ek wil ‘n paar goed in die teks uitlig wat ons met hierdie smagting kan help en wat vir ons riglyne gee vir wat ons kan doen.

Ons moet mense van Die Lig wees (vers 23-24)
Ons teks sê dat die son en die maan nie meer nodig gaan wees nie, want God se lig sal die stad en die mense verlig. Dit herinner ons dat God gee Sy lig in ons, ons moet dit gaan uitleef.

In Matteus 5: 14 - 16 lees ons: “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie, maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik”.

As gelowiges moet ons so leef dat mense God se lig in ons doen en late kan raaksien. Ek dink baie keer doen ons die teenoorgestelde. In plaas daarvan dat die goed wat ons doen en sê vir mense wys in wie ons glo, leef ons op ‘n manier wat God se lig verdoof. Ons moenie met ons lewens God se lig onder ‘n emmer wegsteek nie – mense moet dit kan sien en daardeur aangetrek word.

Ons moet met oop deure leef (vers 25)
Geloofsgemeenskappe mag nie geslote deure hê nie. Dit moet ‘n plek wees waar mense veilig voel en waar almal welkom is. En ons moet moeite doen om die deure oop te hou sodat mense (die nasies) God in ons midde kan vind.

Ons moet God eer met ons allerbeste (vers 26)
M.a.w. – die mense eer vir God deur net die beste wat hulle het na die stad toe te bring. Hulle gaan nie die beste goed vir hulleself hou en die afskeep goed na die stad toe vat nie. Hulle bring die beste goed na die stad toe. Ek dink hier is nogal ‘n baie belangrike lewensbeginsel vir ons hierin opgesluit.
William Barclay beskryf die beginsel vir my duidelik:
When a man enters the Church, he must bring his gift with him; the writer his power in words; the artist his power in colour, the sculptor his mastery of line and form and mass, the musician his music, the craftsman his craft, the cook his flavours. There is no gift which Christ cannot use.”

God wil ons gawes gebruik vir Sy koninkryk. Maar dis ons wat dikwels in die pad staan. Ons is bang en huiwerig. Of ons gee net die afskeepgoed en hou die beste goed vir onsself. Hierdie teks daag ons uit om ons beste te gee. Wanneer ons dit doen dan gebeur daar iets van die hemel in die kerk en die wêreld waarin ons leef. Dan word die wêreld ‘n beter plek. Kom ons eer God met ons allerbeste. 

Ons moet deelneem aan die genesingsproses (22:2)
Die teks vertel van die boom van die lewe. Wat gevoed word deur die lewende water. Wat vrugte dra. Met blare wat genesing bring vir die nasies. So, dis ‘n genesingsboom, ‘n heelmaak boom.
Dis veral relevant in hierdie pinkstertyd. Met die uitstorting van die Heilige Gees het iets van die nuwe Jerusalem al waar geword. Die Gees staan ons by, troos ons, bring genesing en maak heel. Maar die Gees bemagtig ons ook om deel te raak en deel te neem aan die genesingsproses. Om blare van genesing na mense toe te vat.
Ons doen dit deur iets bemoedigends vir ‘n verslae of hartseer mens te doen of sê.
Ons doen dit wanneer ons ons werk eerlik en sonder korrupsie doen.
Ons doen dit wanneer ons nie water en elektrisiteit mors nie.
Ons doen dit wanneer ons ‘n goeie woord vir mense het, al verdien hulle dit nie.
Ons doen dit wanneer ons luister na mense
Ons doen dit wanneer ons na onsself en ons gesondheid omsien. Fisiese en geestelike gesondheid.
Ons doen dit elke keer wanneer ons nie negatief is nie en ons nie oorgee aan ons vrese, maar eerder kies vir die lewe.

Hierdie visie van die Nuwe Jerusalem is kragtig omdat dit, te midde van ons onsekerhede en vrese, ons daaraan herinner dat God nou al hier besig is. Dit nooi ons uit om die lewe voluit te leef. Dit verseker ons dat die goeie altyd die slegte oorwin, dat liefde sterker as haat is, dat hoop sterker is as wanhoop.
Ons bevestig die visie van die Nuwe Jerusalem deur elke dag te kies om mense van die Lig te wees. Deur met oop deure te leef. Deur my beste vir God te gee. En deur deel te neem aan die genesingsproses.
Dan maak ons nou al die Nuwe Jerusalem hier op aarde sigbaar en beweeg ons weg van die bos van vrees waarin ons so maklik verstrengel raak na die lewegewende en bevrydende boom van die lewe.

Gebed van verootmoediging
Genadige God,
Ons bely dat ons teen u in gedagte, word en daad gesondig het.
Ons het gesondig deur wat ons gedoen het
en ook deur wat ons nagelaat het om te doen.
Ons het U nie met ons hele hart liefgehad nie.
Ons het nie ons naaste soos onsself liefgehad nie.
Ons bely ons vrese en negatiwiteit
Ons bely die kere wat ons nie soos mense van U lig opgetree het nie.
Ons bely ons selfsug wat maak dat ons terughou en nie ons allerbeste vir U gee nie.
Ons bely die kere toe ons afgebreek het waar ons eerder moes opbou en heelmaak.
Ons is regtig jammer en bely dit alles nederig voor U.
In die Naam van U seun, Jesus Christus,
Wees ons genadig en vergewe ons sodat ons U teenwoordigheid kan geniet.
Wys ons hoe om so te lewe dat ons u Naam verheerlik. 


Sunday, April 28, 2013

Preek 28 April 2013


Openbaring 21: 1-7

Van julle sal seker hierdie prent, van die Breede en Smalle weg, onthou. Ek vermoed dit het in baie van ons se oumas se huise gehang. Die Breede weg met al sy versoekings lei na die hel en die Smalle weg lei na die hemel. Aan die een kant het die prent my nog altyd bietjie bang gemaak, want sê nou ek is nie op die smalle weg nie? Aan die ander kant het dit my ook laat skuldig voel oor goed wat ek gedoen het. ‘n Vriend van my het eenkeer gesê, die grootste probleem wat hy met die prent het, is dat al die lekkerste goed op die Breede weg is, die Smalle weg lyk so vervelig. Die prent is natuurlik ook nie baie gereformeerd nie, want dit skep die idee dat jy op ‘n sekere manier moet leef om in die hemel te kom, terwyl ons mos weet dat dit nie jou lewenswyse is wat jou in die hemel bring nie, maar genade. Lewenswyse is iets wat jy doen uit dankbaarheid vir genade.

Mens kan baie oor die prent sê, maar die rede hoekom ek dit vir julle wys, is omdat dit ‘n storie vertel. Dit vertel ‘n storie van beweging. Beweging van een plek na ‘n ander plek. Van die aarde na die hemel of hel. Van dood na ewige lewe. Die mense in die prent kies om op ‘n sekere manier te leef , wat hulle uiteindelik by ‘n sekere bestemming, hemel of hel gaan uitbring.

Die idee wat die prent skep is dat die hemel iewers anders is. Ons is nou hier, die hemel is iewers anders. Dis ‘n plek waarheen jy gaan. Ons weet nie waar dit is nie. Ons weet ook nie eintlik hoe dit gaan wees nie. Maar die idee wat ons wel daaroor het, is dat dit iewers anders is.  

Ek weet nie lekker waar hierdie idee vandaan kom nie, want dis nie hoe die Bybel dit beskryf nie. Ons teksgedeelte praat van die eerste hemel en aarde wat gaan verdwyn en ‘n nuwe hemel en aarde wat gaan kom.
So, die hemel en die aarde word aanmekaar gekoppel. Dis verbind. Dis wat ons in die Bybel ook leer. Wanneer ons praat van die aarde en die hemel is dit belangrik om die sienings van die mense in die Bybelse tyd in ag te neem. Hulle het nie die hemel gesien as ‘n plek wat iewers anders is nie. Hulle sien uit na ‘n dag wanneer die wêreld/die aarde nuut gemaak en verlos gaan word, wanneer dit sal wees soos die hemel.
Johannes se visie van die nuwe hemel en aarde is ‘n vars begin vir albei, want op die oomblik is dit nie soos dit moet wees nie.

In die Ons Vader gebed hoor ons: “Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel”. Op die oomblik is God se wil nog nie die enigste wil wat op aarde geskied nie, My wil, ons wil geskied ook nog. Dis hoekom die mense vir wie Openbaring oorspronklik geskryf is, swaargekry het. Dis hoekom daar vandag nog slegte dinge in die wêreld is. Dis onder andere omdat mense hulle wil laat geld ten koste van ander mense. Daarom is hierdie visie van die nuwe aarde en hemel nodig. Sodat God se wil op aarde sal geskied soos in die hemel waar dit is soos dit moet wees.

In die oorspronklike Grieks beteken dit dat die wêreld nuut gemaak gaan word, maar dis nie ‘n ander wêreld wat gaan gebeur nie. Dis dieselfde wêreld wat ons ken, dis net nuut gemaak. Dis soos ‘n verwaarloosde, bouvallige huis wat gerestoureer word. Dis nog dieselfde huis en fondamente, maar dis heeltemal oorgedoen. Dis dieselfde ou aarde wat nuutgemaak word sodat dit is soos wat God dit oorspronklik bedoel het om te wees. 

Dis belangrik om te verstaan dat die aarde en hemel aan mekaar verbind is, want dit beïnvloed die manier hoe ek nou hier op aarde my lewe leef. Hoe ek my tyd en energie gaan gebruik en uitleef.
As ons hierdie nuwe hemel losmaak van die aarde en dit sien as ‘n plek daar iewers anders waar ek later heen gaan, dan kan die hemel baie maklik net ‘n “pie in the sky when you die” word. Met ander woorde, ek hoef nie nou enige verantwoordelikheid te neem vir hierdie wêreld nie, want eendag sal dit tog beter gemaak word. 
Soos Eugene Peterson skryf: “Heaven is not simply a dream to retreat to when things get messy and inhospitable on earth. We have access to heaven now.

Ons het nou-al toegang tot die hemel. Ons moet nou-al iets daarvan laat waar word.
Ons teks gee vir ons ‘n prentjie van hoe dit gaan wees in die hemel – daar sal nie meer trane wees nie. Dat daar nie meer pyn, lyding, swaarkry en dood wees nie. Daar sal ook nie meer honger en dors wees nie. Op die aarde gebeur al hierdie goed nog, maar in die hemel gaan dit nie meer gebeur nie. Ons kan daarna uitsien, maar ook iets daarvan nou-al begin waar maak.

Die bekende liedjieskrywer, sanger en kitaarspeler, Eric Clapton het ‘n lied geskryf, “Tears in heaven”. In 1993 was dit die liedjie van die jaar. Dis ‘n aangrypende, maar hartseer liedjie wat hy geskryf het nadat sy 4-jarige seuntjie dood is. Hy het in New York by hulle woonstel se balkon afgeval. 
Hy begin sing: "Would you know my name, if I saw you in heaven? Would it be the same, if I saw you in heaven?"
Hy sing dan hoe hy nie hoort in die hemel nie en dat hy sy hartseer nou self moet dra. Hy sing dat hy moet "find his own way through night and day."
Maar deur sy hartseer en trane sien kry hy dan hoop, want hy sien die hemel as ‘n plek waar daar nie meer hartseer en trane gaan wees nie. Daarom sluit hy die lied af met die woorde: “"There will be no more tears in heaven”.

Dis waarna ons kan uitsien – ‘n tyd sonder trane, maar nou lyk die wêreld nog nie so nie. Daarom moet ons die hemel hier laat deurbreek.
Theresa van Avila  sê: “Die betaling begin alreeds in hierdie lewe!” Ons moet nou daaruit lewe en ons moet nou al dit ’n stukkie hemel op aarde maak vir almal wat met ons te doen kry.”

As ons die hemel begin ernstig neem en dit nie net sien as ‘n plek iewers anders waar dit eendag gaan beter gaan nie, maar as ‘n plek wat deurbreek in ons wêreld in, dan gaan ons begin besef…
Ons moet begin om die trane van mense te begin afdroog.
Ons moet die seer en die hartseer van mense begin ernstig neem.
Ons moet mense se honger en dors begin aanspreek.
Ons moet vrede en geregtigheid en gasvryheid begin uitleef.
Ons moet meer positief wees en vir mense hoop gee in hierdie deurmekaar wêreld.
Ons moet met integriteit en eerlikheid begin leef.

Ons kan dit net doen as ons anders oor die hemel begin dink. As ons die hemel sien as ‘n plek daar iewers anders, waar alles eendag sal beter gaan – dan gaan ons waarskynlik ook niks nou begin doen nie.
Maar as ons besef dat die aarde en die hemel aanmekaar verbind is, dan kan ons nie anders as om nou-al iets van die hemel hier te begin waarmaak nie. Dan help ons om God se wil hier op aarde te laat geskied.
 
Paar oomblikke van stilte: dink oor jou lewe, die mense met wie jy elke dag te doen kry. Wat kan jy doen om iets van die hemel op aarde te laat deurbreek?

Gebed
Here ons God,
U wil geskied en u voornemens realiseer.
U teenwoordigheid verander ‘n woestynland in ‘n lushof.
U bring ons waar U ons wil hê.
Dankie dat ons in ons lewens kan sien hoe U besig is.
Dankie dat ons op ons verledes mag terugkyk, vandag mag lééf en oor ons moontlike môre’s mag droom.
Dankie dat u betrokkenheid by mense oor alle tye en alle grense heen strek.
Ek wíl my hierwees en alles wat ek het as u roeping en gawes beskou.
Ek wíl dit wat ek het en my opbrengste met húlle rondom my deel.
Ek sál U in gedagte hou in my besluite en my woorde, doen en late. Amen.