Sunday, February 10, 2013

Preek 10 Februarie 2012


Eksodus 34: 29-35

Greg Boyle is die stigter en direkteur van Homeboy industries. Dis ‘n nie winsgewende besigheid wat bestaan uit ‘n groep plastiese chirurge wat  tatoeermerke van oud-bendelede se lywe verwyder. Dis baie belangrik vir hulle om dit te laat doen sodat hulle kan aanpas in die samelewing as hulle wegbreek uit die bendes uit.
Hierdie tatoeermerke is gewoonlik die merktekens van die bendes waaraan die mense behoort. Dit sê aan watter bende jy behoort. Dit bevestig dat jy die eiendom van die bende is. Dis ‘n ewige herinnering dat jy vir altyd deel is van die bende en nie sonder hulle kan klaarkom nie. 
Wanneer hulle wegbreek uit die bendes uit het hierdie tatoeermerke negatiewe en gevaarlike gevolge vir hierdie oud-bendelede. As mense dit sien – is hulle bang vir die ouens. Werkgewers is ook traag om vir hulle werk te gee as gevolg van die tatoeermerke. Hulle lewens is ook in gevaar want as ander bendelede hulle sien, dan kan hulle doodgemaak word as verraaiers of drosters.
Homeboy Industries help hierdie oud bendelede om van hierdie tatoeermerke ontslae te raak, sodat hulle nuut kan begin.
Om so ‘n tattoo te verwyder is te verwyder is ‘n baie pynlike proses. Tog groei die waglys by Homeboy Industries.
Wat hierdie storie vir ons bevestig, is dat alhoewel voorkoms nie alles is nie, is daar tog tye en plekke waar dit belangrik is. Vra maar enige bendelid wat uit die bendelewe wil ontsnap.

In ons teks sien ons ook dat voorkoms ‘n geweldige impak gehad het. Nadat Moses daar op die berg ‘n ontmoeting met God gehad het, verander sy voorkoms - sy gesig het geblink. Dit het ‘n geweldige impak op die Israeliete gehad. Waar hulle voorheen nie vir Moses geken en vertrou het nie – het dit gemaak dat hulle met meer respek na Moses en die wet gekyk het. 

Kom ons kyk net gou na die groter prentjie sodat ons hierdie teks beter kan verstaan.

In Eksodus 24 word Moses en die ander leiers beveel om teen Sinaiberg op te klim om die Here te gaan ontmoet. Maar net Moses mag tot heel bo klim. Terwyl hy daar bo is ontvang hy die 2 klippe met die 10 gebooie daarop. Hierdie gebooie is amper soos ‘n tattoo in ‘n bende – dit bevestig dat die volk aan God behoort.  
Moses bly lank weg en die volk begin dink dat hy nie weer terugkom nie. Daarom lees ons in Hoofstuk 32 dat hulle toe ‘n goue kalf maak om te aanbid. En kort voor lank aanbid en dans hulle voor hierdie goue kalf.
Toe Moses uiteindelik van die berg afkom en sien wat die volk besig is om te doen is hy so kwaad en ontsteld dat hy die 2 klippe met die wet daarop stukkend gooi.
Maar ten spyte van sy woede en teleurstelling hou Moses aan om vir die volk by God in te tree. Hy smeek eintlik by God om hulle nie te los nie.
God hoor hom en bevel hom om weer teen die berg op te gaan. En daar ontvang hy dan 2 nuwe klippe met die wet daarop. So, ten spyte van hulle ongehoorsaamheid en afgodery gee God vir die volk ‘n tweede kans.

Dis tydens hierdie tweede keer wat Moses se gesig anders lyk. Letterlik staan daar “die vel van sy gesig het geblink”. Dit het gebeur omdat hy in God se teenwoordigheid was. Hy weerkaats die teenwoordigheid van God. En dit het gemaak dat die volk anders na hom gekyk het. Waar hulle voorheen nie veel respek vir hom gehad het nie en hom afgeskryf het, ontvang hulle hom nou met respek. Skielik het hy nou gesag by die volk.
Die boodskap daarvan is dat God in ‘n spesiale verhouding met Moses staan. Hy is God se verteenwoordiger en die volk moet sy boodskap ernstig neem.

In die Nuwe testament sê Paulus dat hierdie weerkaatsing van God se teenwoordigheid wat Moses se gesig laat blink het, is op ons almal van toepassing.
1 Korintiërs 3:18 – “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is”. 

Hoe nader ons aan Christus kom, hoe meer weerspieël ons gesigte ons geloof. Ons gesigte gaan nie noodwendig blink soos Moses se gesig nie, maar elke keer wat ons ‘n ontmoeting met God het behoort ons anders te wees en anders op te tree. 

Die boek Pelgrim se reis, gaan oor die geloofsreis van elke Christen. In een toneel voel die Pelgrim/christen dat die reis teveel en te moeilik word. Dan vra die Evangelis vir hom:  “Sien jy daar anderkant ʼn hek?” Hy antwoord: 'Nee.' Toe sê die Evangelis vir hom: “Sien jy daar anderkant ʼn lig wat skyn?” Pelgrim antwoord:” Ja, ek sien dit!” Toe het Evangelis gesê “Hou daardie lig altyd in jou oog en stap in die rigting van die lig en dan sal jy die hek sien!”

As ons Jesus se lig dophou, dan bly ons op die regte pad. Dan gebeur met ons wat met Moses gebeur het. Hy verlig ons lewe. Hy verander ons. Net soos Hy met ‘n klomp mense in die Bybel gedoen het. Kom ek noem ‘n paar voorbeelde.
Op sy eie het Moses skape in die woestyn opgepas – saam met God het hy die Jode uit Egipte gely.
Op sy eie was Dawid ‘n skaapwagter van sy pa se skape – saam met God het hy die beste koning van Israel geword.
Op sy eie was Johannes die doper ‘n mislukking – saam met God was hy ‘n profeet wat die pad vir Jesus voorberei het.
Op haar eie was Maria ‘n onbelangrike tiener dogter – saam met God was sy Jesus se ma.
Op sy eie het Petrus vir Jesus verloën – saam met God het hy voor duisende mense gepreek.
Op sy eie was Paulus hoogmoedig en ‘n vervolger van Christene – saam met God het hy die grootste sendeling geword. 
Uit hierdie voorbeelde sien ons: God verlig ons. Verander ons. Maak ons meer. Hou ons op die regte pad.

Hierdie ontmoeting met God bring ons ook in beweging. Moses kom van die berg af met die 10 gebooie in sy hand. Die 10 gebooie was bedoel as riglyne vir die lewe. In die Nuwe Testament word dit opgesom as liefde vir God en liefde vir jou naaste.
Paulus bevestig dit ook as hy skryf in 1 Korintiers 3: 18 – “ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here”. Dit beteken – gelowiges wys iets van God in die wêreld. Gelowiges maak dit makliker vir mense om vir God raak te sien.

Hoe doen ons dit? Ek wil vir julle ‘n lied speel wat dit verduidelik. Dis ‘n lied deur Jewel en die lied se naam is “Hands”.
 
Dis waartoe hierdie verhaal van Moses ons oproep.
Mag ons gereeld sulke veranderende ontmoetings met God hê.
Mag ons lewens weerkaatsings wees van hierdie ontmoetings.
Mag mense God se oë en hande van liefde deur ons beleef.

Sunday, February 3, 2013

Preek 03 Februarie 2013


Jeremia 1: 4-10

Fred Craddock, Amerikaanse professor in Teologie vertel van ‘n keer toe hy as 20-jarige student vir Albert Schweitzer, die mediese doktor, teoloog, skrywer, musiekkant en sendeling in Afrika,  ontmoet het.  Hy vertel dat hy een van Albert Schweitzer se boeke gelees het en gedink het dat sy verstaan van Jesus gebrekkig was. Kort daarna toe sien hy ‘n advertensie dat Albert Schweitzer in ‘n ander stad ‘n orreluitvoering gaan lewer. Hy besluit toe om te gaan luister en ook sommer vir hom ‘n paar vrae te vra oor sy verstaan van Jesus.
Hy het toe ‘n lysie gemaak met vrae wat hy wil vra, ‘n buskaartjie gekoop en die orreluitvoering gaan bywoon. Dit was ‘n wonderlike uitvoering en na die tyd by die tee en verversings was hy gereed met sy vrae. 
Albert Schweitzer het almal toe bedank en toe sê hy die volgende: ‘
You’ve been very warm, hospitable to me. I thank you for it, and I wish I could stay longer among you, but I must go back to Africa. I must go back to Africa because my people are poor and diseased and hungry and dying, and I have to go. We have a medical station at Lambarene. If there’s anyone here in this room that has the love of Jesus, would you be prompted by that love to go with me and help me?’
Fred Craddock vertel dat hy toe sy vrae so bekyk het en opgefrommel het, want hy het weer geleer wat dit beteken om ‘n Christen te wees en hoe hy graag wil wees.

Albert Schweitzer het geweet wat sy doel in die lewe is – om Jesus en ander mense te dien.
Dis nogal belangrik om te weet wat ons doel in die lewe is. Hopelik sal Jeremia 1: 4-10 ons hiermee help.

Jeremia skryf “Die woord van die Here het tot my gekom”. In Hebreeuse is dit “Dabar Adonia”. Dit kom meer as 50 keer in Jeremia voor – so dis nogal belangrik.  Die “woord van die Here” is ‘n kragtige, aktiewe, dinamiese krag wat ons uitdaag, aan die beweeg kry en ondersteun.

Die ‘woord van die Here” roep vir Jeremia om as profeet te gaan optree. Saam met hierdie “woord van die Here” kom daar 3 gerusstellings na Jeremia (en ons). Ons kry dit in vers 5.

Voor Jeremia vir God geken het, het God hom reeds geken
Alles begin by God. God neem altyd eerste die inisiatief. In die Nuwe Testament lees ons dat Hy ons eerste liefgehad het en dat Jesus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Alles begin by God. Dis wat die doop ook weer vanoggend vir ons bevestig het.
Ons identiteit begin by God. Dit hang nie af van hoe ons is of wie ons is nie. Hy maak ons wie ons is. En dit beïnvloed alle aspekte van my lewe.

Voor jy gebore is, het Ek jou aan My gewy
Ons moet hoor dat God ons al vir Hom gekies het, voordat ons gebore is.
Eugene Peterson vertel dat hy die kleinste kind in hulle buurt was. So, as daar spanne gekies is, dan is hy altyd laaste gekies. Eendag toe stry die 2 kapteins weer oor wie hom gaan kies – niemand wou hom in hulle span hê nie. Hy vertel: “In one moment I changed from a zero to a minus!”
By God sal ons nooit ‘n zero of ‘n minus wees nie. God het reeds besluit dat elkeen van ons goed genoeg is.  Hy het ons aan Hom gewy. Ons is verbind aan ons. Niemand kan ooit jou plek vul nie. 

Ek het jou as profeet aangestel.
Die woord aangestel beteken eintlik “gee”. Soos in – ek het jou as profeet vir die nasies gegee. Dis mos hoe God dinge doen in die Bybel.
Joh 3: 16 – God gee sy seun…
Rom 12 – gee jouself as heilige offer
Hand 20 – om te gee maak ons gelukkiger as om te ontvang.
God gee wat nodig is. God gee Jeremia as profeet vir die nasies.

Profete was God se verteenwoordigers by die volk. Hulle lewens wys wie God is. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat alle gelowiges profete is. Ons almal is verteenwoordigers van God. So ons moet leef soos verteenwoordigers. Soos die bekende spreekwoord moes sê: “ons is dalk die enigste Bybel wat iemand ooit gaan lees”.

So, God roep vir Jeremia en saam met die roeping stel hy hom gerus. Maar dan kom die verskonings.  
“Ek kan nie goed praat nie”
“Ek is nog te jonk”
Jeremia is eintlik besig om vir God “nee” te sê.
Iets wat ek nog nooit verstaan het nie. Dis vir ons moeilik om ‘nee’ te sê vir mense – ons doen goed wat ons nie wil doen of waarvan ons nie hou nie, want ons sukkel om nee te sê vir mense – maar dis baie maklik vir ons om nee te sê vir die goed wat God van ons vra. Ons is tog so vol verskonings as dit kom by die goed wat God van ons vra.
En dis nie moeilik om te weet wat God vra – alles wat Hy vra kan eintlik in 3 sinne saamgevat word:
Hy vra dat ons in ‘n verhouding met Hom moet leef;
Hy vra dat ons lief moet wees vir ons naaste;
Hy vra dat ons ons geloof prakties moet uitleef.
Maar ons is vol verskoning en sê maklik nee as God hierdie goed vir ons vra. Ons sal nog ja sê vir die verhouding met Hom, want dit vra nie so baie, maar as dit kom by liefde vir my naaste en praktiese uitleef van my geloof….dan is ons vol verskonings.

Daar is die mooi storie van die juffrou wat vir haar klas elkeen ‘n papiertjie gegee het en gesê het dat hulle “ek kan nie” daarop moet skryf. Toe het hulle uitgegaan en ‘n “ek kan nie” begrafnis gaan hou. Die begrafnisrede was soos volg:
"Vriende, ons is hier bymekaar ter herinnering aan “Ek kan nie.” Terwyl hy hier op aarde was, het hy baie van ons lewens aangeraak. Ons het vir “Ek kan nie” ’n finale rusplek gegee. Hy word oorleef deur sy familielede, “Ek kan”, “Ek wil”, “Ek gaan dadelik”. Mag “Ek kan nie” in vrede rus en mag ons saam met “Ek kan” vorentoe beweeg.” 

God kies ons elkeen reeds voor ons geboortes. Hy wy ons aan Hom. Hy verbind ons aan Hom. Hy wil elkeen van ons gebruik. Maar Hy het ook nodig dat ons sal ophou verskonings maak en sê ons “kan nie”. Kom ons sê ‘n slag ja met die wete dat Hy ons nie sal los nie.

Sunday, January 20, 2013

Preek 20 Januarie 2012


Johannes 8: 1-11

Ek het gedink dit sal goed wees as ons hierdie jaar begin deur ‘n slag weer by ons gemeentevisie stil te staan.
“Table View gemeente wil 'n biddende, omhelsende liefdesgemeenskap vorm wat ruimte skep vir jonk en oud. 'n Plek waar almal tot hoopvolheid begelei en toegerus word, sodat elkeen 'n onselfsugtige, daadkragtige, diensbare getuie sal wees tot eer van God”.

Toe ek weer die week na die visie kyk toe kom daar ‘n baie mooi teks by my op. Ek het al voorheen oor die teks gepreek, maar elke keer ontdek mens mos weer nuwe goed in ‘n teks. Die teks is Johannes 8: 1-11.

Die skrifgeleerdes en fariseërs bring nie hierdie vrou na Jesus toe omdat hulle bekommerd was oor haar. Hulle bring haar met bymotiewe. Hulle wil haar gebruik om vir Jesus uit te vang. Hulle wou sien hoe streng Jesus by die wette van die OT gaan hou of nie. As hy streng by die wette hou, dan sou hy in hulle oë aanvaarbaar wees, maar as hy nie streng by die wette hou nie, dan kon hulle Hom brandmerk as iemand wat die wette oortree.

Kom ons kyk gou wat sê die Ou Testament wet oor owerspel:
Levitikus 20:10 - “Iemand wat egbreuk pleeg met die vrou van ‘n medeburger, moet doodgemaak word. Dit geld vir die man en ook vir die vrou wat egbreuk pleeg.”
Deuteronomium 22:22 - “Wanneer ‘n man betrap word terwyl hy gemeenskap het met ‘n ander man se vrou, moet die man en die vrou wat gemeenskap gehad het, altwee doodgemaak word.”

Die wet sê die man en die vrou moet gestenig word, maar let op dat die skirfgeleerdes en fariseërs vir Jesus net oor die vrou uitvra. So hulle probeer Hom uitvang – as Jesus saamstem dat net sy gestenig moet word, dan bewys dit dat Jesus nie die wet ken nie. die wet sê mos die man moet ook gestenig word.
As hy sê dat sy gespaar moet word en nie doodgemaak word nie – dan gaan Hy in teen die wet van Moses. En dan keur Hy sonde goed.Jesus is nogal in ‘n moeilike situasie.

Sy antwoord vermy al die slaggate en hy ontmasker hulle. Hy gebruik ‘n Joodse beginsel teen hulle. Die Jode het geleef met ‘n beginsel dat jy nie aan ander moet doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. So, die maatstawwe wat vir ander geld, geld vir my ook.
In hierdie sin beteken dit - ons almal is ewe sondig en verdien straf. As ek dus vinger wys na ander mense of klippe gooi na ander mense – dan wys ek ook vinger na myself en gooi klippe na myself. So, dis beter om nie te oordeel nie en om eerder te vergewe. Dis beter vir myself en vir die ander persoon.

Toe die Skrifgeleerdes en Fariseërs dit hoor, toe loop hulle weg, want hulle weet hulle het verloor teen Jesus. Hulle verkeerde motiewe is ontmasker en hulle is die mense wat verkeerd was.

Kom ons kyk gou na die verskillende maniere hoe die skrifgeleerdes en fariseers na die vrou kyk en hoe Jesus na die vrou kyk.
Die skrifgeleerdes en die fariseërs sien haar as ‘n sondige vrou wat gestraf moet word. Iemand wat hulle maar kan gebruik vir hulle eie motiewe. Hulle oordeel en veroordeel haar, hulle het geen respek en omgee vir haar nie.

Jesus kyk anders na haar. Hy sien iemand met ‘n gewonde en stukkende lewe. Hy sien iemand wat die gevolge dra van verkeerde keuses. Hy sien ‘n vrou wie se selfwaarde heeltemal afgebreek is deur sonde, vernedering en skuldgevoel.
Maar - Hy sien ook iemand met ongelooflike waarde en potensiaal en wie se toekoms heeltemal anders kan wees as haar verlede. Hy sien iemand wat deur God omhels wil word met sy onvoorwaardelike liefde. 
Omdat Hy so na haar kyk, kan Hy nie anders as om die verrassende woorde van genade en liefde oor haar uit te spreek nie. Soos iemand gesê het: “He speaks words of grace to the disgraced woman”.
Sy was skuldig, maar Hy laat haar nie skuldig laat voel nie. Hy veroordeel haar nie. Hy gee vir haar genade en vergifnis. “Ek veroordeel jou nie”, sê Hy vir haar. En daarmee spreek Hy haar vry.

En dan stuur Jesus haar weg om op ‘n nuwe manier te gaan leef. Hy stuur haar terug na die wêreld waar sy vandaan kom. Dieselfde mense. Dieselfde omgewing. Dieselfde versoekings. Hy sê dus vir haar – jy is nou anders, so gaan leef nou anders in hierdie bekende wêreld.
Wat hier gebeur is - sy het nou God se genade, liefde en vergifnis beleef, daarom is sy nou God se instrument van genade, liefde en vergifnis in die wêreld. 

Kom ons gaan weer terug na ons gemeentevisie en kyk hoe hierdie teks onderliggend is daaraan. Ons gemeentevisie bestaan uit 3 goed wat ons ook in hierdie teks kry.
“Table View gemeente wil 'n biddende,
1)    omhelsende liefdesgemeenskap vorm wat ruimte skep vir jonk en oud.
2)    'n Plek waar almal tot hoopvolheid begelei en toegerus word,
3)    sodat elkeen 'n onselfsugtige, daadkragtige, diensbare getuie sal wees tot eer van God”.

Ons wil ‘n “omhelsende liefdesgemeenskap vorm wat ruimte skep vir jonk en oud.”
Die skrifgeleerdes en fariseërs veroordeel die vrou en wil haar uitsluit. Volgens hulle is sy ‘n sondaar en nie goed genoeg om deel van hulle geloofsgemeenskap te word nie.
Jesus aan die ander kant veroordeel haar nie. Hy keur nie haar sonde goed nie, maar hy oordeel en veroordeel haar ook nie. Hy sluit haar in. Hy maak haar deel. Hy sê vir haar – jy is goed genoeg. 
Dis die tipe gemeente wat ons wil wees. Niemand mag voel hulle is nie welkom hier nie. Hier mag niemand geoordeel en veroordeel word nie. En daarmee keur ons nie sonde goed nie. Ons sê ons gaan jou nie oordeel nie, want niemand van ons kan immers ‘n klip na jou gooi nie – ons is almal sondaars. Jy is welkom, en hier tussen God se mense kan jy kom heel word en kan God jou verander soos Hy wil.

“'n Plek waar almal tot hoopvolheid begelei en toegerus word”
Wanneer Jesus met die vrou begin besig raak, dan maak Hy haar vry. Hy verander haar. Hy empower haar. Hy gee vir haar ‘n nuwe toekoms. Hy gee vir haar hoop.
Dis wat ons ook in ons gemeente wil doen. Ons wil mense bekendstel aan die hoop wat God vir ons gee. Die hoop wat gesetel is in Jesus se sterwe aan ‘n kruis en opgevolg is deur sy opstanding. In ‘n wêreld waar daar soveel dinge is wat mense se hoop steel, is dit ons taak om weer vir mense te herinner aan die hoop van die opstanding.

Ons wil vir mense herinner aan die hoop waarvan ons lees in Romeine 8: 38-39
“Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. 

“sodat elkeen 'n onselfsugtige, daadkragtige, diensbare getuie sal wees tot eer van God”.
Wanneer Jesus die vrou vrygespreek en nuut gemaak het met Sy genade en liefde – stuur hy haar uit om as ‘n nuwe mens in die wêreld te gaan leef. Sy word nou die instrument, die kanaal van God se liefde, genade en vergfinis.
Wanneer mense tuisgekom het in ons gemeente, wanneer hulle die hoop van God beleef het dan wil ons mense toerus en uitstuur om in die alledaagse wêreld ‘n instrument van God se liefde, genade en vergifnis te wees. Ons is nie net hier vir mekaar nie. Ons is nie hier om mekaar warm te broei of net agteroor te sit en na ‘n preek te luister nie. Ons word gestuur om as nuwe mense in die wêreld te gaan leef.

Om op te som:
In die teks en in ons gemeente is daar dus 3 belangrike goed:
wees oop en verwelkomend teenoor alle mense;
wys vir mense die hoop wat in God opgesluit is;
en word uitgestuur as Sy dissipels in die wêreld.


Sunday, January 13, 2013

Preek 13 Januarie 2013


Jesaja 62 : 1-5

In die laaste dae van die 2de Wêreldoorlog het ‘n lid van die Italiaanse weerstandsbeweging alleen in die tronk gesit. Hy was moeg, honger en seer, want hy was erg gemartel. Dit het vir hom gevoel asof almal van hom vergeet het. Hy het nie alle hoop verloor.
Skielik een nag, maak die wag sy sel se deur oop. Met ‘n paar vloek en skelwoorde daarmee saam, gooi die wag ‘n hele brood na die man se kant toe. Teen die tyd was die man al doodhonger, so hy gryp die brood en skeur dit oop. Binne-in die brood ontdek hy toe ‘n boksie vuurhoutjies en ‘n stukkie papier. Hy steek toe een van die vuurhoutjies aan die brand en in die lig lees hy ‘n enkele woord op die stukkie papier: “coraggio”.
Coraggio beteken “hou moed”.
Hierdie een woord op ‘n stukkie papier het hom laat besef: “moenie opgee nie, moenie ingee nie. Ons het nie van jou vergeet nie. Ons probeer jou help.

Dis presies wat Jesaja 62: 1-5 ook wil doen. Dit gee hoop en moed.

Aan die begin van die jaar is ons uitgerus en weer lus vir alles. Alhoewel ons so ‘n bietjie onseker is oor die jaar wat voorlê is ons ook vol afwagting vir alles wat voorlê. Dalk begin jy met ‘n nuwe werk, nuwe vooruitsigte, dinge wat jy beplan vir die jaar. Goed wat jou opgewonde maak. Ons is vol moed en hoop vir die jaar wat voorlê. Ek hoop dat Jesaja 62 vir ons sal help om vol te hou met hierdie moed en hoop. Want dis maklik om hoop en moed te verloor.

In Jesaja se tyd het die mense van Jerusalem verstote en verlate gevoel. Hulle was platgeslaan en het hoop verloor. Hierdie woorde is dus bedoel as goeie nuus, om vir hulle weer hoop te gee. 

Om hierdie hoop te bevestig gebruik hy ‘n metafoor van lig om te wys hoe die heerlikheid van die Here sal inbreek in die donkerte van hulle moedeloosheid. Dis soos die dag wat breek na die lang donker nag of soos wanneer ‘n mense ‘n fakkel aansteek of ‘n lig aansit in die donkerte. God se lig sal hulle moedelose lewens weer verlig.

‘n Storie om dit te verduidelik. Dis ‘n ware verhaal van Johnny, ‘n 19-jarige downsindroom jongman wat as ‘n pakker in ‘n groot kruidenierswinkel gewerk het. Die mense van die winkel het eendag ‘n vrou, Barbara Glanz genooi om met die werkers te kom praat. Sy praat toe oor die invloed wat mens het op ander mense en hoe ‘n mens ‘n verskil kan maak. Omtrent ‘n maand later het Johnny vir Barbara gebel om te sê dat hy van haar praatjie gehou het. Hy het baie gaan dink oor wat hy kan doen om iets spesiaals vir die kliënte van die winkel te doen. Toe kry hy die idee om elke aand ‘n gedagte vir die dag te vind wat hy die volgende dag vir die mense kan gee. Iets positiefs wat mense se dag sal ophelder of hulle sal laat beter voel.
Elke aand het sy pa hom toe gehelp om die gedagte vir die dag 6 keer op ‘n bladsy te tik en dan het hulle 50 bladsye gedruk. Hy het dan met ‘n skêr 300 kopieë uitgeknip en sy naam op elkeen geskryf.
Elke keer as hy iemand kruideniersware in die sakke gepak het, dan het hy die gedagte vir die dag binne-in die laaste sak gesit. Dan het hy die persoon in die oë gekyk en vir hulle gesê: “Ek het ʼn “gedagte vir die dag” in jou sak gesit. Ek hoop dit help jou om ʼn goeie dag te hê. Dankie dat jy hierheen gekom het.”
‘n Maand later het die winkelbestuurder vir Barbara gebel en vir haar gesê: “Barbara, jy sal nie glo wat gebeur het nie. Ek het my rondtes gedoen en toe by die kassierpunte kom, was die ry waar Johnny gewerk het 3x langer as enigiemand sin. Dit het gestrek tot by die gevriesde kosafdeling!”
Die bestuurder het toe begin reël dat daar nog meer kasregisters oopgemaak word, maar die mense wou nie uit Johnny se ry skuif nie. Hulle wou in Johnny se ry wees. Een vrou het selfs gesê dat sy vroeër net eenkeer ‘n week na die winkel toe gekom het, maar nou kom sy elke dag om Johnny se gedagte vir die dag te kry. 
Johnny het nie net sakke gepak nie – hy was ‘n pakker van hoop. Hy het vir mense hoop gegee.

Jesaja herinner alle gelowiges daaraan dat ons pakkers van hoop moet wees. Dis maklik om te fokus op die negatiewe en om heeltyd krities te wees. Kom ons wees eerder mense wat in 2013 positiwiteit en hoop sal gaan uitdeel.

Kom ons kyk gou watter gedagtes vir die jaar kan ons nog uit hierdie teks saamneem.

Die eerste gedagte kry ons in vers 3:
“Die Here sal jou soos ʼn sierlike kroon in Sy hand hou, jou God sal jou soos ʼn koninklike tulband vashou.” (vs 3)

Die beelde van krone en tulbande wat hier gebruik word is beelde wat hoort by ‘n koninklike troue. ‘n Troue waar net die beste voorgehou word. Jerusalem word God se kroon en tulband egnoem. Hy hou haar in sy hand. Hy versorg en beskerm haar. Sy is nie meer die verstote vrou nie.

Die eerste gedagte van die jaar is dat God op dieselfde manier na my en jou kyk. Ons is vir Hom soos ‘n kroon en ‘n tulband. Hy hou ons in Sy hand, hy versorg en beskerm ons. Ons is vir hom kosbaar.

Dink gou ‘n oomblik. Wat doen die woorde aan jou? Hoe laat dit jou voel oor jouself? Onthou dis God wat dit vir jou sê!

Die tweede gedagte vir die jaar kry ons in vers 2, 4:
“Jy sal ‘n nuwe naam kry, ‘n naam wat die Here self vir jou gekies het.”
“Jy sal genoem word: “Die een vir wie die Here liefhet…die een wat aan die Here behoort ”

In die Bybel sien ons baie keer, wanneer God mense se lewens verander of as hy vir hulle ‘n spesifieke roeping het, dan word hulle name ook verander. Abram wat Abraham word, Jakob wat Israel word, Saulus wat Paulus word. Dit was ‘n gebruik van daardie tyd.

Jesaja praat hier van Jerusalem wat ‘n nuwe naam gaan kry. Hulle is nou nie meer die mense wat verstoot is nie, wat sonder hoop is nie. Hulle is die mense vir wie die Here lief is en wat aan Hom behoort.
Dis soos ons ook lees in Sefanja 3: 17 “Die Here jou God is by jou. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou”

Julle het seker al gehoor van Norman Vincent Peale. Daar word vertel dat hy eenkeer in ‘n preek gesê het dat daar nêrens in die Bybel ‘n plek is waar God iemand label as ‘n sondaar nie. Hy het ook gesê dat Jesus nooit enigiemand ‘n sondaar genoem het nie. Robert Schuller, bekende TV prediker en skrywer wat die Crystal Cathedral in Californië begin het, het dit gehoor en gedink dat dit mos nie waar kan wees nie. Hy het toe sy Bybel gevat en dit gaan navors en ontdek dat Norman Vincent Peale reg was. Nêrens  label Jesus ooit iemand as ‘n sondaar en ‘n mislukking nie.
Ek kan ook nie aan een plek dink waar Jesus dit doen nie. Hy sou wel vir iemand bv sê om nie meer te gaan sondig nie, maar hy het nooit mense as sondaars gelabel nie. Hy het altyd positief gepraat en mense opgebou. Hy het mense gelabel as vergeefde mense, as nuwe mense.  

Dis die 2de gedagte vir die jaar. Jy behoort aan die Here. Hy is lief vir jou. Hy is vol vreugde oor jou. Hy is stil-tevrede met jou. Hy jubel en juig oor jou. Hy label jou as iemand wat vergewe is en as ‘n nuwe mens.

So gaan 2013 in as iemand wat weet dat jy vir God kosbaar is.
As iemand wat weet dat Hy vol vreugde is oor jou. Ge-label as ‘n nuwe mens.
En leef in hierdie jaar as ‘n pakker van hoop. Iemand wat vir ander mense hoop gee.


Sunday, December 23, 2012

Preek 23 Desember 2012


Lukas 1: 39-55

Jalize het onlangs ‘n baba gedoop. Op die oog af is daar niks snaaks daaraan nie, behalwe dat die ma van die baba ‘n 15 jarige skooldogter is. Julle kan dink die tipe uitdagings wat vir haar voorlê. Om ‘n baba groot te maak, skoolloopbaan te voltooi en al die stigma wat daarmee saamgaan. Sy is in moeilike omstandighede. Gelukkig is sy nie deur haar familie verstoot nie. Hulle help haar en ondersteun haar.  Sy is ook saam met haar baba gedoop, want sy het ‘n nuwe begin gemaak.

Maria was in dieselfde stuasie. Trouens, ek dink sy het groter uitdagings gehad. Sy was ook 14 of 15 jaar oud. Sy was ongetroud. In daardie tyd het vrouens geen regte gehad nie. Hulle status was gekoppel aan hulle mans. Maria het dus geen status gehad nie, want sy was nie getroud nie en sy sou gebrandmerk gewees het as ‘n los vrou omdat sy buite die huwelik swanger geraak het. En wie sou haar glo as sy vertel het hoe sy swanger geraak het? Die enigste ding wat in haar guns sou tel was dat sy Josef se ondersteuning gehad het. Maar deur dit alles het Maria haar nie laat onderkry nie, want iets het met haar gebeur toe Gabriël haar besoek het. Uit haar loflied kan ons iets hiervan agterkom.

Die eerste ding wat met haar gebeur het, was dat sy opgekyk en vir God gesien het. Sy het vir die eerste keer besef hoe groot God is en hoe wonderlik die dinge is wat Hy doen. Daarom sing sy in vers 46-47: "Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser…"
Vir ons om regtig te verstaan wat God met Jesus se geboorte gedoen het. Om regtig die Nuwe Lewe wat Hy gebring te verstaan, moet ons soos Maria opkyk en besef dat God groter is as wat ons ooit kan dink. As ons dit nie meer kan glo nie, wel, dan is ons geloof eintlik maar ‘n leë dop. 
Die ou kerkvader, Augustinus het vertel dat toe Jesus water in wyn verander het, was almal verwonderd oor die wonderwerk, maar eintlik is dit iets wat elke jaar in die wingerde gebeur. Elke jaar verander God druiwe en die water wat uit die wolke val in wyn. Elke jaar doen Hy dieselfde wonderwerk, maar ons sien dit nie meer raak nie. Ons moet weer begin om die grootheid en wonder van God in die alledaagse raak te sien. Ons moet weer ‘n slag opkyk en sê: “WOW, Here, maar U is groot!”

Die tweede ding wat gebeur het nadat Maria opgekyk het, was at sy ingekyk het in haarself.
In vers 48 praat sy van haar geringheid(eenvoudigheid, gewoonheid). Die oomblik toe sy besef hoe groot God is, toe besef sy ook hoe gering of klein sy is. En sy besef, maar as God nog steeds vir haar kan gebruik, ten spyte van haar geringheid, dan kan sy nie anders as om alles vir Hom te gee nie.
Hier is ‘n belangrike geloofsles om te leer. As dit by God kom, gaan dit nooit oor wie ek is nie, maar oor of ek bereid is om te doen wat Hy van my vra. Hy is die God wat enigiemand kan gebruik – as ons dit nie glo nie, dan perk ons vir God in en ons sê dat Hy nie die onmoontlike kan doen nie. Daarom kan ons maar net soos Maria sê: “Ja Here, hier is ek”.

Maria het nie net ingekyk nie, maar ook uitgekyk, weg van haarself af.
Ons almal hou mos daarvan om kersgeskenke te kry. Elke nou en dan gebeur dit mos dat jy iets kry waarvan jy nie hou nie, of wat jy nie wou gehad het nie. Dis soos die dogtertjie wat ‘n geskenk gekry het wat sy nie wou gehad het, maar haar ma het gesê sy moet vir die tannie ‘n dankie briefie skryf. Toe skryf sy: "Thank you for your Christmas present. I always wanted a pin cushion, although not very much."
Baie keer gee ons vir mense geskenke wat ons dink hulle moet hê, maar wat hulleself nie wou hê nie.
Dieselfde beginsel geld vir die Here ook – ons moet vir Hom gee wat Hy wil hê, nie wat ons bereid is om te gee nie. Die probleem is net dat ons nie altyd hou van dit wat Hy van ons wil hê nie. Want dit vra teveel van ons. Ons moet leer by Maria – sy was bereid om te sê: Here, dis nie my wil om buite-egtelik swanger te raak nie, maar maak met my soos wat U wil. 

Wanneer ons so opkyk en God se grootheid raaksien. Wanneer ons inkyk en besef dat God ons wil gebruik. Wanneer ons uitkyk weg van ons eie wil af en God se wil vir ons begin ernstig neem, dan het dit sekere gevolge. Maria sing in haar Loflied oor hierdie gevolge.

Die eerste gevolg kry ons in vers 51: “Hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaar gejaag.”
Die Christendom is die dood van hoogmoed. Wanneer ‘n mens jou lewe in Christus se hand sit, breek dit hoogmoed af. Dan gaan dit nie meer oor my nie, maar oor Christus in my lewe en oor diens aan my medemens. Dit maak my vry om diensbaar te wees.

Die tweede gevolg kry ons in vers 52: “Maghebbers het hy van trone afgeruk en geringes verhoog”.
Kom ek verduidelik dit met ‘n storie wat in die middeleue afspeel. Daar was baie rondreisende geleerdes wat in dorpe mense geleer het. Moretus was ‘n rondreisende geleerde. Hy was arm en het min besit. In ‘n Italiaanse dorpie het hy siek geword en hulle vat hom toe na ‘n hospitaal vir arm mense waar die behandeling nie altyd goed was nie. Die dokters bespreek toe sy toestand in Latyns met mekaar, min wetende dat hy hulle kan verstaan. Omdat hy arm was en nie enigiets besit het nie, stel hulle voor dat hulle hom gebruik vir mediese eksperimente. Hy antwoord hulle toe in Latyns: “Geen mens vir wie Jesus gesterf het, is waardeloos nie”.
Jesus vat die etikette wat ons om mense se nekke hang weg. Hy neem alle sosiale grense tussen mense weg. Hy het gesterf vir elke mens wat my pad kruis en daarom is elke mens waardevol. En daarom moet ek elke mens ook so behandel.

Die derde gevolg kry ons in vers 53: “Behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes en rykes met leë hande weggestuur”.
William Barclay stel dit soos volg: “A Christian society is a society where no man dares to have much while others have too little. It’s a society where every man must get only to give away.”
Soos Ghandi lank terug gesê: “The earth produces enough for everyone’s need not greed!”
Jesus het gekom om vir mense te gee wat hulle nodig het.

Hierdie verhaal van Maria en haar loflied is baie mooi. Die loflied word nie verniet die Magnificat genoem nie. Maar daar is ook waarskuwings en uitdagings vir ons daarin opgesluit. Daarom wil ek afsluit met ‘n paar vrae:
Word jy nog aangegryp deur die grootheid en wonder van God?
Besef jy dat God jou wil gebruik, nes jy is?
Is jy bereid om te sê: nie my wil nie Here, maar U wil?
Het Jesus se koms al tot gevolg gehad dat jy hoogmoed afgelê het?
Dat jy elke mens wat jou pad kruis sien as iemand vir wie Jesus gesterf het?
Dat jy bereid is om goed weg te gee vir hulle wat dit meer nodig het?

Sunday, December 16, 2012

Preek 16 Desember 2012


Lukas 21: 25-36

Op die oomblik is daar baie gerugte dat die wêreld eerskomende Vrydag, 21 Desember, tot ‘n einde gaan kom. Dit het ‘n klomp mense op hol.
So lees ek vroeër die week in die koerant van Robert Sefatsa, van Soweto, wat ‘n uiters dringende aansoek by die Konstitusionele hof ingedien het om die regering te dwing om ‘n taakgroep aan te stel om ons land te help voorberei vir die einde van die wêreld op 21 Desember. Hy vra dat hierdie taakspan moet bestaan uit geoloë, statistici, sterrekundiges, ekonome, ruimte tegnoloë en mense wat opgelei is om nood en ontruimings te hanteer.

Ek lees ook van mense wat in hulle hordes optrek na ‘n dorpie met die naam Sirince, in Turkye, dit is naby die Griekse stad Efese. Volgens sekere New Age geestelikes het hierdie dorpie positiewe energie omdat dit naby die plek is waar Moeder Maria in die hemel opgeneem is. Hulle glo dat hierdie positiewe energie hulle sal beskerm teen die einde van die wêreld. Die mense van die dorp is natuurlik baie bly daaroor, want hulle maak baie geld uit die toeriste. Daar is selfs ‘n Turkse wynmaker en besigheidsman in die dorpie wat ‘n rooi wyn gemaak het spesiaal vir die geleentheid. Hy noem dit “wine of the Apocalypse”.

Die rede hoekom mense so op hol raak hieroor is omdat die Mayan kalender eindig op 21 Desember 2012 en daarom gaan die wêreld eindig. Die Maja beskawing het in Sentraal-Amerika bestaan tussen die 300 en 900. Hulle was bekend vir hulle afgeronde skrif, wiskunde en astronomie. Hulle het ‘n kalender ontwikkel wat oor 5000 jaar strek voordat dit dan weer reset na Zero. 21 Desember 2012 is die dag waarop hierdie reset na zero sal plaasvind. 
NASA het die volgende verklaring uitgereik wat dit bevestig: "Just as the calendar you have on your kitchen wall does not cease to exist after December 31, the Mayan calendar does not cease to exist on December 21, 2012. This date is the end of the Mayan long-count period but then -- just as your calendar begins again on January 1 -- another long-count period begins for the Mayan calendar."
Ek het ‘n spotprentjie raakgeloop wat iets hieroor sê:
Dit bly vir my verstommend dat mense so ophol en bekommerd kan raak oor boodskappe en tekens wat verkeerd is, misverstaan word of onvolledig is

Dis nie net oor die Mayan kalender wat mense so bekommerd en ophol gaan nie, dis ook oor tekste in die Bybel. Veral tekste oor die wederkoms.

Kom ons lees gou Lukas 21: 25-36.

Belangrik om te onthou dat hierdie teks is geskryf vir die mense van Lukas se tyd. Hulle het gedink dat die wederkoms nog in hulle leeftyd gaan gebeur (vers 32). Ons kan dit dus nie so letterlik op ons tyd van toepassing maak nie. Ons moet eerder na die boodskap agter die sogenaamde tekens kyk.

Ons moenie op hol raak oor tekste soos hierdie nie. ons moet ook nie hierdie tekens in die teks van toepassing maak op ons tyd nie. Die Bybel is tog baie duidelik daaroor dat net God weet wanneer die wederkoms gaan wees. Niemand anders nie en ons kan dit ook nie voorspel nie
Geen wonder die wonderlike prediker, Charles Spurgeon, het iewers in ʼn preek gesê nie: “Why do you worry? What possible use does your worrying serve? You are aboard such a large ship that you would be unable to steer even if your Captain placed you at the helm. You would not even be able to adjust the sails, yet you worry as if you were the captain or the helmsman of the vessel. Be quiet, dear soul — God is the Master!”

Hierdie teks gaan oor Jesus se wederkoms en die beelde wat dit laat klink asof dit die einde van die wêreld is, is nie bedoel om mense bang te maak of ophol te jaag nie. Jesus skets hierdie vreeslike prentjie sodat mense sal besef dat dit ‘n ernstige saak is en dat hulle enige tyd daarvoor moet reg wees.

Die teks word in 3 dele verdeel om ons te help cope met die tyd waarin ons wag vir die wederkoms. Dit help ons om te weet hoe ons moet optree terwyl ons wag dat Jesus weer kom. Ons moet dus nie vasval by die onheilsprentjie wat geskets word nie, ons moet fokus op die boodskap en ons roeping terwyl ons wag vir die wederkoms.

Eerste deel (vers 25-28) gaan oor gelowiges se houding teenoor die wederkoms in vergelyking met die res van die wêreld.
Ons weet mos dat die wêreld, die geskiedenis en die die toekoms van die wêreld vorm alles deel van God se storie. En ons weet dat die doel waarheen God met ons oppad is – is dat elke knie sal buig voor Jesus Christus. Dis iets waarna ons kan uitsien. Dit gee ons hoop.

Die wederkoms en die hoop wat dit bring verander ons houding in die wêreld. Dit verander ons manier van leef. Christene is nie negatiewe, klaende mense nie – ons is mense van hoop. Ons is mense wat regop loop en ons koppe oplig, maak nie saak wat rondom ons gebeur nie.
Mense sonder hoop raak negatief, klaerig en teneergedruk oor die dinge wat in ons wêreld aan die gang is. Christene wat vertrou op God en Sy storie met die wêreld leef nie so nie.
Christene is mense wat bo omstandighede kan uitstyg. Mense wat nie alles wat in die wêreld gebeur as slegte voorspellings sien en dan negatief en swartgallig raak nie.
Christene is mense wat weet dat die wederkoms gaan gebeur en daarom kan hulle nou al met hoop en positiwiteit lewe.

Die tweede deel (verse 29-33) gaan oor die sekerheid van die wederkoms. Jesus gebruik die beeld van die vyeboom en ander bome wat begin uitloop en bot. Dis tekens dat die winter verby is en dat die somer oppad is. Daarmee verseker Hy ons dat al die slegte goed wat gebeur gaan soos die winter ook verbygaan en deur die somer vervang word. Dat die koninkryk van God naby is.
Dis mos maar hoe die lewe werk – in seisoene. Daar is slegte tye, maar daar is altyd weer goeie tye. Moenie vashaak by die slegte tye nie.
August Renoir was een van die bekendste Franse skilders. In sy later jare het hy baie pyn verduur as gevolg van arthritis, maar hy het nog steeds aanghou skilder, al was dit baie pynlik. Henri Matisse, self ‘n bekende skilder en goeie vriend van Renoir het eendag, nie lank voor Renoir se dood nie, vir hom gevra hoekom hy nou nie maar ophou skilder nie. Renoir het opgekyk en geantwoord: “Die pyn gaan verby, Henri, maar die skoonheid bly.”  
As Christene wat glo in die wederkoms wanneer alles goed sal wees, hoef ons nie teneergedruk te raak oor die slegte tye en die pyn nie, want ons weet die goeie is altyd weer oppad.

Die derde deel (verse 34-36) is ‘n oproep tot waaksaamheid. Waaksaamheid is nie ‘n passiewe, agteroor sit en wag nie, dis om aktief te wag. 
Jesus se oproep is om te wag – maar dis ‘n aktiewe wag. Ons moet die wagtyd aktief gebruik  deur te bid en te leer en te groei en goeie goed te doen. Ons kan nie maar net stilsit nie, ons moet aktief besig wees om die wêreld ‘n beter plek te maak, sodat die koninkryk nou-al begin deurbreek. Sodat die wêreld voorbereid is vir die wederkoms.
Soos iemand gesê het:
“Werk asof jy nie die geld nodig het nie.
Gee liefde asof jy nog nooit seergekry het nie.
Dans asof niemand kyk nie.
Sing asof net God luister.
Leef met die doel om orals ʼn stukkie hemel op aarde agter te laat.
Doen alles vir jou gehoor van Een.”   

Om op te som: Ons moet ons nie steur aan die voorspellings oor die einde van die wêreld nie. Ons moenie ophol raak oor die sogenaamde tekens van die eindtyd nie, want daai tekens was deur al die eeue daar. Net God weet wanneer dit gaan gebeur.
Terwyl ons wag dat dit gebeur – moet ons met hoop en ‘n positiewe gesindheid lewe.
Leef met hoop. Ons moenie vasgevang raak en teneergedruk raak oor al die negatiewe goed in die wêreld nie, want ons weet die wederkoms kom en dan sal alles wees soos God dit bedoel het. 
Ons moet aktief wag – ons moet deur ons optrede die wêreld ‘n beter plek maak en nou-al die koninkryk laat deurbreek.

Sunday, December 9, 2012

Preek 09 Desember 2012 (Thinus)


LUISTER AS GOD FLUISTER!   
    ‘n Jong Johannesburgse yuppie het eendag naby Edenvale by die Linksfield afrit op die N1 baie vinnig  in sy duur en deftige ingevoerde Italiaanse motor gery .  Die volgende oomblik gewaar hy uit die hoek van sy oog ‘n kind wat ‘n klip na sy duur motor gooi!     Hy kon nie vinnig genoeg stilhou nie ::  Woedend sit hy sy motor in trurat en jaag terug na die plek waar die kind gestaan het.  Snaaks genoeg het die kind nie eers probeer wegharloop nie  ::  Net daar bly staan!!            Die man spring uit sy motor , gryp die kind aan die bors, pluk hom rond en begin wild en woes op die kind skreeu          Die seuntjie kyk verskrik en verward na die man  en probeer verduidelik : Maar oom .. oom …!!  Maar die man BLY op die seuntjie skree en vloek en skel!!!          Uiteindelik, nadat hy die seuntjie verskree en rondgepluk het, kry die seuntjie tog kans om te probeer verduidelik : Hy  stotter en stamel terwyl hy verduidelik dat sy boetie uit sy ROLSTOEL geval het en noual vir meer as ‘n halfuur in die koue op die harde sementpaadjie lê!  Niemand wat verby ry sien hulle raak om te help nie! Hy MOES eenvoudig IETS doen om IEMAND se aandag te trek!  Sy boetie is te SWAAR vir hom! Hy het sy bes probeer, maar kon niks regkry nie!   : Wil oom ons nie HELP nie, asseblief??          Die man het baie sleg gevoel :  Ook maar net een van die baie wat so jaag dat hy nie eers die seuntjie en sy boetie in hulle verknorsing raakgesien het nie!!   Besef dat die tempo waarteen hy leef en jaag, veroorsaak dat hy nie eers meer sy medemens in nood raaksien nie  :: Dat hy nie meer IETS vir sy medemens BETEKEN nie ::  Dat hy inderdaad BY SY EIE HART verby jaag!!!          Nadat hy die seuntjie en sy boetie op en reggehelp het, stap hy na sy motor en besluit om van nou af STADIGER te leef : Sodat hy nie by sy hart verby jaag nie :: Om van nou af sy LIG in hierdie wêreld te laat skyn!!

     IS DIT NIE MAAR BY ONS OOK SO NIE …. ???  .   Soos die jong Johannesburger JAAG jy en ek ook maar elke dag, nie waar nie!!  Is ons nie maar ook al klaar ingetrek in hierdie malle RAT RACE nie??  Jaag ons nie maar ook van bakboord na stuurboord net om aan die lewe te bly nie?? Jaag jy en ek nie ook maar in die proses by ons harte verby nie??     TROUENS : Dit gaan so erg dat jy eintlik opreg moet vra : MAAR JAAG EK NIE OOK BY GOD VERBY NIE??    **  Het God enigsins nog ‘n PLEK in my  lewe??   **   HOOR ek nog enigsins God se stem??  **   VOEL  ek nog Sy stille aanraking en teenwoordigheid in my lewe??     ** Gaan sit ek nog iewers STIL //  Bring ek nog TYD deur SAAM met Hom om sy STEM te hoor  //  Sy AANRAKING te beleef??  Het ons vergeet om te luister as God fluister??     En in die proses van jaag loop ons die SeëN en STEM van God mis //   Sien ons nie meer die ONTMOETINGS wat God met ons maak RAAK nie //  Verloor ons die kanse en geleenthede om kosbare en intieme TYD saam met God deur te bring!!  Is ons so besig met die DINGE van God – Waarmee opsig self niks mee verkeerd is nie  - Maar in die proses vergeet ons die GOD van al die dinge!!!

    BRING TYD SAAM MET GOD DEUR!     In elke VERHOUDING wat werklik die moeite werdis, is daar TWEE belangrike komponente ter sprake **  Bring TYD saam met die anderpersoon deur!   **  Kommunikeer GEREELD met mekaar!!
    MOSES AS VOORBEELD :: Eks 24 :: 12 tot 18   Van iemand wat God GEREELD op afgesonderde plekke ontmoet het / Wonderlike ALLEENTYE saam met God  deurgebring het  :: **   Alleen in die woestyn ::  Maar daar die OPDRAG :  Jy lei my volk uit Egipte uit     **   Alleen op die berg ::  Klim nou die berg verder uit na My toe //  Klim solangs die berg uit  SODAT jy NABY  aan My kan wees  **  Maar daar, met ‘n wolk oor hom getrek, hierdie KOSBARE oomblikke saam met God :: Sodat  Ek vir jou die klippe kan gee waarop Ek die wette en gebooie neergeskryf het vir die onderrig van die volk!   (Eks 24:12)  Klim verder teen die berg op na My toe.  Wanneer jy hier is, sal Ek vir jou plat klippe gee waarop Ek die reëls neergeskryf het wat jy vir die volk moet gee!          

    En dis PRESIES dieselfde met JOU … En God … En JOU verhouding met God ::  Die FORMULE is eenvoudig ::  Vir ‘n SINVOLLE   GEHALTEVERHOUDING saam met God   =  TYD SAAM MET GOD  = PRAAT MET GOD!!

   En dis die punt :: STILTE kan partykeer bedreigend en eensaam voorkom as jy van buite daarna kyk. Maar dis juis die tweekantigheid van STILWEES :: Wanneer jy in stil tye rondbeweeg, vind jy dikwels daar is ruimte om net te kan wees :: Sonder maskers, sonder verwagtings, Sonder prestasies, sonder die behoeftes om jouself te moet bewys!  Dis juis in hierdie gevoel van leeg en kaal wees voor God –
In die woestyntye, dat jy meer oor jouself en jou verhouding met God leer!  Soek dus God se teenwoordigheid op :: Raak bewus daarvan en GENIET dit!  Dis kosbaar!  Moenie te veel vir God probeer sê nie :; Raak net RUSTIG ::ONTSPAN :: LUISTER :  En word bewus daarvan DAT Hy DAAR is!

   Want sien : NET SOOS Jy hierdie tyd saam met God nodig het, het HY dit OOK nodig saam met jou :   **  Om net SAAM met jou te wees!!   **  Om jou te VERTEL hoe LIEF Hy jou het!!!   **  Om jou lewe aan te raak en te verander!!   **  Om van jou ‘n GELUKKIGE mens te maak!!  GOD IS IMMERS LIEFDE : EN HY WIL HIERDIE LIEFDE OOR JOU UITSTORT!!

   Jaag jy OOK … NOG by jou hart verby  ..... En in die gejaag ook by God verby????     Het  jy ‘n Berg??  Waar is  JOU WOESTYN :: Waar jy IN STILTE … na God kan LUISTER … Met God kan PRAAT??    Jou hart vir Hillbrow kan gee??

  En veral ook nou juis met die naderende kerstyd!    Slaan ons die hande gemaak-verbaas ...... saam en roep ONTSTELD  uit :  O Krismis! Is dit alweer daardie tyd?   WAT gaan ek tog die jaar vir WIE WAAR koop? Is daar enige voorstelle??   Ek is tog so besig ... besig .. besig ...!!      WAT gaan ons keer dat ons die jaar maar weer so jaag : Wat gaan maak dat ek die jaar  gaan STOP :: En LUISTER na God :: En DOEN wat God wil hê ons moet doen ....??  Hoe GROOT moet die klip die jaar wees??   Watter klip gaan jou laat STOP die Kersfees //  Jou tot STILSTAND bring // Jou minder gaan laat jaag??   


    Riana se klip WAT HAAR LAAT stop HET, was die oorsprong van Vader Kersfees, aka Saint Nicholas.    Saint Nicholas was ‘n man in die 4de eeu met ‘n oneindige, ongelooflike simpatieke hart vir die armes. Hy was bekend as ‘n wonderwerker, want hy het homself vermom en skelm in die nagte vir die arm mense kos en geld deur hulle vensters gaan gooi. Sommige van die geld het in die proses binne-in skoene en kledingstukke beland. Die armes het later die gebruik gehad om hulle skoene naby die venster te sit en kouse in die kaggel op te hang in die hoop dat hulle die volgende oggend gaan wakker word en daar kos of geld in die skoene of kouse sou wees.
    Daarom gaan sy die Kersfees haar  ”rooi jassie” aantrek en biki Krismisvader speel. Sy gaan OM haar kyk en haar HART oop maak vir die mense wat in haar teenwoordigheid kom.  Sy gaan na haar seëninge kyk en biki daarvan uitdeel, veral omdat sy weet dat dit haar nie armer gaan maak nie.  Sy gaan haar kinders LEER om klein kersvadertjies te wees deur daardie ou teddiebeer of inkleurboek vir ’n ander kind te gee.        Die geskenk wat hulle daaruit gaan kry, sal groter wees as enige geskenk op aarde en dit sal iets wees wat geld nooit sal kan koop nie.  WANT SY WEET haar Vader sal in liefde op hulle neerkyk en wéét dat hulle iets besef van Kersfees, omdat hulle Hom help om weer hoop in hierdie mense se harte te vestig!!  Dankie Riana!
   Nataniël se klip het vir hom as sy grootste les gekom die jaar ::  Dat dinge so vinnig in ’n oogwink kan verander en verdwyn : Daarom wil hy hierdie Kersfees iemand onthaal wat weer VOOR moet begin
    Hoe groot moet die klip wees wat JOU gaan laat STOP die jaar :: Wat jou gaan laat LUISTER na God : Wat jou ’n slag by Hom gaanlaat STILSIT??? Wat gaan maak dat jy die Kersfees na Hom gaan luister?
   Mag vrede heers hierdie Kersfees en as die wêreld nie op 21 Desember op ‘n einde kom nie, bid ek dat die nuwe jaar ook nuwe vooruitsigte en HOOP sal bring vir jou en ook vir almal wat jy gaan aanraak met jou Kersvader gesindheid!