Tuesday, April 7, 2015

5 April 2015 - Opstandingsondag

Raak rustig. Maak miskien jou oe toe. Neem 'n paar oomblikke om te dink oor jou lewe. 
Beleef jy vanoggend een van die volgende:
Gesondheidsprobleme
Familietwis
Het jy onlangs iemand aan die dood afgestaan
Is daar ‘n gebed wat onbeantwoord is
ʼn vrees wat by jou spook,
ʼn depressie of swaar gemoed wat oor jou hang,
ʼn geloofslewe wat stagneer het,
ʼn huwelik wat sukkel,
kinders wat moeilik is,
ouers wat my moedeloos maak,
skoonouers wat nie lekker is nie,
of ʼn toekoms wat onseker is.

As jy een van hierdie goed beleef - en ek vermoed dis meeste van ons - dan wil ek vir jou goeie nuus gee. Paasfees is vir jou bedoel. Paasfees is juis vir mense wat deur moeilike goed gaan, want ons word gevul met die krag van die opstanding. Opstandingsondag maak die woorde van Filippense 4: 13 vir ons almal waar: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee”.

Opstandingsondag gee vir ons hoop, dit bring vir ons nuwe lewe en bevestig vir ons dat die onmoontlike verseker moontlik is. Hier is so ‘n paar aanhalings wat dit bevestig:
The resurrection was when the universe exploded in one man's life. (Bono)
Any fool can feel like a Christian at Christmas. But Easter is the main event; if you don’t believe in the resurrection, you’re not a believer.” (John Irving)
Two impossibilities: “a virgin's womb and an empty tomb”. Jesus entered our world through a door marked, “No Entrance” and left through a door marked “No Exit.” (Peter Larson)
Die leë graf is die simbool van paasfees. Hy het opgestaan, sommige het hom vinnig gesien en selfs met Hom gepraat. As dit waar is, hoef ons niks meer te sê nie. As dit nie waar is nie, hoef ook niks meer te sê nie. Vir gelowiges en ongelowiges is die lewe nooit weer dieselfde nie, en vir sommige ook nie die dood nie. (Frederick Beuchner)

Die opstanding, of jy nou daaraan glo of nie glo nie, het die wêreld en ons almal se lewens onherroeplik verander.

Ek wil vanoggend vir julle Markus se weergawe daarvan lees. Markus 16: 1-8.

Markus se weergawe is anders as enige van die ander evangelies se weergawe van die opstanding. Trouens - dis eintlik nie ‘n opstandingsverhaal nie, dis ‘n leë graf verhaal. Dis kort en eindig baie skielik en stomp. Die oorspronklike Markus evangelie soos hy dit geskryf het, eindig hier aan die einde van vers 8. Verse 9-20 is baie jare later deur die kerk bygevoeg  omdat hulle nie gehou het van Markus se einde nie. Hulle het gevoel dis te stomp. Maar Markus het ‘n doel daarmee gehad, waarby ek nou-nou sal uitkom.

Markus het hierdie weergawe geskryf vir mense wat nie die opstanding beleef het nie. Mense wat nie die storie geken het nie. Mense soos ons. Dit word vir ons bevestig deur die optrede van die vroue – Maria Magdalena, Maria en Salome.
Hulle het na die graf toe gegaan om Jesus te balsam. Hulle wonder selfs hoe hulle die klip voor die graf gaan wegrol. Dis groot en swaar – hulle sou dit nie self kon doen nie. Hulle gaan soek vir Jesus in die graf, maar in plaas daarvan ontdek hulle dat hy opgestaan het. Hulle het vir geen oomblik gedink dat hy opgestaan het nie. Daarom dat hulle so groot geskrik en weggehardloop het.

Sien, God was hulle een voor. God is ons een voor. Hy het daardie tyd al die onverwagte gedoen en Hy doen dit nog steeds. Die Bybel is vol daarvan en gelowiges deur die eeue kan daarvan getuig. Die opstanding bevestig dat God is ons altyd een voor – daarom is die opstanding ‘n teken van hoop en nuwe lewe. Soos Paulus mos skryf in Romeine 8: God sal alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet.  

Terug by die teks. In vers 7 lees ons iets baie interessant. Gaan vertel vir “sy dissipels in besonder vir Petrus”. Petrus word uitgesonder. Dis dieselfde Petrus wat kort tevore vir Jesus verloën het. Hulle moes ook vir al die dissipels gaan vertel – dis nou dieselfde dissipels wat vir Jesus in die steek gelaat en weggehardloop het toe Hy gevange geneem is. Die interessante ding van Markus is verder dat hy nêrens in sy evangelie vertel dat Judas dood is nie. So ons kan aanvaar dat volgens Markus was Judas nog steeds deel van die groep. So gaan vertel vir die dissipels en Petrus en Judas.

Dit wys vir ons dat die opstanding ook stukkende en gebroke verhoudings herstel. Tot so ‘n mate dat die dissipels weer in diens geneem word en gebruik word om die boodskap van Jesus in die wêreld te gaan verkondig.
Die opstanding bring mense weer bymekaar. Die opstanding herstel en empower stukkende mense om hulle roeping te gaan uitleef. Mag dit vir elkeen van ons en vir elke gebroke verhouding weer hoop gee.

En dan wil ook net iets sê oor die stomp einde van Markus se verhaal. Dis asof hy wou hê sy lesers moes wonder wat verder gebeur het. So asof vir ons wil sê – gaan dink self hoe jy hierdie verhaal gaan klaarmaak. Gaan dink self wat jy met die leë graf gaan maak. So ek wil met julle deel hoe ek dink die verhaal klaargemaak moet word.

Peter Rollins het gesê: “The proof that God raised Jesus from the dead is not the empty tomb, but the full hearts of his transformed disciples. The crowning evidence that he lives is not a vacant grave, but a spirit-filled fellowship. Not a rolled-away stone, but a carried-away church.”

Wat ek hierin hoor is dat ons nie moet vassteek by die opstanding nie, ons moenie vasstek by die wonder van die leë graf nie, maar ons moet eerder begin vra hoe ek die opstanding in ons wêreld gaan begin waar maak. Die vraag is – hoe is ek saam met God elke dag besig om hopeloosheid in hoop te verander, om onbetrokkenheid in deernis te verander, om haat in liefde te verander, om dood in lewe te verander.

Ons is besig om die opstanding te ontken elke keer wanneer gebroke verhoudings nie herstel word nie, wanneer ons nie vergewe nie, wanneer ons wegdraai van die armes en sukkelaars en die onderdruktes, wanneer ons ons oë toemaak vir onreg en korrupsie. Elke keer as ons dit doen, ontken ons die opstanding.
Met ander woorde – hoe is ek besig – of dalk nie besig nie - om Jesus se voorbeeld te volg?


So mag ons in hierdie Paastyd ons hele mensewees oopmaak – ons hart, siel, verstand en al ons kragte – vir die boodskap van die opstanding. Mag ons nuwe lewe en liefde bring oral waar ons gaan. Mag ons beleef hoe God ons lok, aanmoedig en ondersteun om elke dag, in elke oomblik die opstanding uit te leef.