Sunday, December 23, 2012

Preek 23 Desember 2012


Lukas 1: 39-55

Jalize het onlangs ‘n baba gedoop. Op die oog af is daar niks snaaks daaraan nie, behalwe dat die ma van die baba ‘n 15 jarige skooldogter is. Julle kan dink die tipe uitdagings wat vir haar voorlê. Om ‘n baba groot te maak, skoolloopbaan te voltooi en al die stigma wat daarmee saamgaan. Sy is in moeilike omstandighede. Gelukkig is sy nie deur haar familie verstoot nie. Hulle help haar en ondersteun haar.  Sy is ook saam met haar baba gedoop, want sy het ‘n nuwe begin gemaak.

Maria was in dieselfde stuasie. Trouens, ek dink sy het groter uitdagings gehad. Sy was ook 14 of 15 jaar oud. Sy was ongetroud. In daardie tyd het vrouens geen regte gehad nie. Hulle status was gekoppel aan hulle mans. Maria het dus geen status gehad nie, want sy was nie getroud nie en sy sou gebrandmerk gewees het as ‘n los vrou omdat sy buite die huwelik swanger geraak het. En wie sou haar glo as sy vertel het hoe sy swanger geraak het? Die enigste ding wat in haar guns sou tel was dat sy Josef se ondersteuning gehad het. Maar deur dit alles het Maria haar nie laat onderkry nie, want iets het met haar gebeur toe Gabriël haar besoek het. Uit haar loflied kan ons iets hiervan agterkom.

Die eerste ding wat met haar gebeur het, was dat sy opgekyk en vir God gesien het. Sy het vir die eerste keer besef hoe groot God is en hoe wonderlik die dinge is wat Hy doen. Daarom sing sy in vers 46-47: "Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser…"
Vir ons om regtig te verstaan wat God met Jesus se geboorte gedoen het. Om regtig die Nuwe Lewe wat Hy gebring te verstaan, moet ons soos Maria opkyk en besef dat God groter is as wat ons ooit kan dink. As ons dit nie meer kan glo nie, wel, dan is ons geloof eintlik maar ‘n leë dop. 
Die ou kerkvader, Augustinus het vertel dat toe Jesus water in wyn verander het, was almal verwonderd oor die wonderwerk, maar eintlik is dit iets wat elke jaar in die wingerde gebeur. Elke jaar verander God druiwe en die water wat uit die wolke val in wyn. Elke jaar doen Hy dieselfde wonderwerk, maar ons sien dit nie meer raak nie. Ons moet weer begin om die grootheid en wonder van God in die alledaagse raak te sien. Ons moet weer ‘n slag opkyk en sê: “WOW, Here, maar U is groot!”

Die tweede ding wat gebeur het nadat Maria opgekyk het, was at sy ingekyk het in haarself.
In vers 48 praat sy van haar geringheid(eenvoudigheid, gewoonheid). Die oomblik toe sy besef hoe groot God is, toe besef sy ook hoe gering of klein sy is. En sy besef, maar as God nog steeds vir haar kan gebruik, ten spyte van haar geringheid, dan kan sy nie anders as om alles vir Hom te gee nie.
Hier is ‘n belangrike geloofsles om te leer. As dit by God kom, gaan dit nooit oor wie ek is nie, maar oor of ek bereid is om te doen wat Hy van my vra. Hy is die God wat enigiemand kan gebruik – as ons dit nie glo nie, dan perk ons vir God in en ons sê dat Hy nie die onmoontlike kan doen nie. Daarom kan ons maar net soos Maria sê: “Ja Here, hier is ek”.

Maria het nie net ingekyk nie, maar ook uitgekyk, weg van haarself af.
Ons almal hou mos daarvan om kersgeskenke te kry. Elke nou en dan gebeur dit mos dat jy iets kry waarvan jy nie hou nie, of wat jy nie wou gehad het nie. Dis soos die dogtertjie wat ‘n geskenk gekry het wat sy nie wou gehad het, maar haar ma het gesê sy moet vir die tannie ‘n dankie briefie skryf. Toe skryf sy: "Thank you for your Christmas present. I always wanted a pin cushion, although not very much."
Baie keer gee ons vir mense geskenke wat ons dink hulle moet hê, maar wat hulleself nie wou hê nie.
Dieselfde beginsel geld vir die Here ook – ons moet vir Hom gee wat Hy wil hê, nie wat ons bereid is om te gee nie. Die probleem is net dat ons nie altyd hou van dit wat Hy van ons wil hê nie. Want dit vra teveel van ons. Ons moet leer by Maria – sy was bereid om te sê: Here, dis nie my wil om buite-egtelik swanger te raak nie, maar maak met my soos wat U wil. 

Wanneer ons so opkyk en God se grootheid raaksien. Wanneer ons inkyk en besef dat God ons wil gebruik. Wanneer ons uitkyk weg van ons eie wil af en God se wil vir ons begin ernstig neem, dan het dit sekere gevolge. Maria sing in haar Loflied oor hierdie gevolge.

Die eerste gevolg kry ons in vers 51: “Hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaar gejaag.”
Die Christendom is die dood van hoogmoed. Wanneer ‘n mens jou lewe in Christus se hand sit, breek dit hoogmoed af. Dan gaan dit nie meer oor my nie, maar oor Christus in my lewe en oor diens aan my medemens. Dit maak my vry om diensbaar te wees.

Die tweede gevolg kry ons in vers 52: “Maghebbers het hy van trone afgeruk en geringes verhoog”.
Kom ek verduidelik dit met ‘n storie wat in die middeleue afspeel. Daar was baie rondreisende geleerdes wat in dorpe mense geleer het. Moretus was ‘n rondreisende geleerde. Hy was arm en het min besit. In ‘n Italiaanse dorpie het hy siek geword en hulle vat hom toe na ‘n hospitaal vir arm mense waar die behandeling nie altyd goed was nie. Die dokters bespreek toe sy toestand in Latyns met mekaar, min wetende dat hy hulle kan verstaan. Omdat hy arm was en nie enigiets besit het nie, stel hulle voor dat hulle hom gebruik vir mediese eksperimente. Hy antwoord hulle toe in Latyns: “Geen mens vir wie Jesus gesterf het, is waardeloos nie”.
Jesus vat die etikette wat ons om mense se nekke hang weg. Hy neem alle sosiale grense tussen mense weg. Hy het gesterf vir elke mens wat my pad kruis en daarom is elke mens waardevol. En daarom moet ek elke mens ook so behandel.

Die derde gevolg kry ons in vers 53:Behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes en rykes met leë hande weggestuur”.
William Barclay stel dit soos volg: “A Christian society is a society where no man dares to have much while others have too little. It’s a society where every man must get only to give away.”
Soos Ghandi lank terug gesê: “The earth produces enough for everyone’s need not greed!”
Jesus het gekom om vir mense te gee wat hulle nodig het.

Hierdie verhaal van Maria en haar loflied is baie mooi. Die loflied word nie verniet die Magnificat genoem nie. Maar daar is ook waarskuwings en uitdagings vir ons daarin opgesluit. Daarom wil ek afsluit met ‘n paar vrae:
Word jy nog aangegryp deur die grootheid en wonder van God?
Besef jy dat God jou wil gebruik, nes jy is?
Is jy bereid om te sê: nie my wil nie Here, maar U wil?
Het Jesus se koms al tot gevolg gehad dat jy hoogmoed afgelê het?
Dat jy elke mens wat jou pad kruis sien as iemand vir wie Jesus gesterf het?
Dat jy bereid is om goed weg te gee vir hulle wat dit meer nodig het?

Sunday, December 16, 2012

Preek 16 Desember 2012


Lukas 21: 25-36

Op die oomblik is daar baie gerugte dat die wêreld eerskomende Vrydag, 21 Desember, tot ‘n einde gaan kom. Dit het ‘n klomp mense op hol.
So lees ek vroeër die week in die koerant van Robert Sefatsa, van Soweto, wat ‘n uiters dringende aansoek by die Konstitusionele hof ingedien het om die regering te dwing om ‘n taakgroep aan te stel om ons land te help voorberei vir die einde van die wêreld op 21 Desember. Hy vra dat hierdie taakspan moet bestaan uit geoloë, statistici, sterrekundiges, ekonome, ruimte tegnoloë en mense wat opgelei is om nood en ontruimings te hanteer.

Ek lees ook van mense wat in hulle hordes optrek na ‘n dorpie met die naam Sirince, in Turkye, dit is naby die Griekse stad Efese. Volgens sekere New Age geestelikes het hierdie dorpie positiewe energie omdat dit naby die plek is waar Moeder Maria in die hemel opgeneem is. Hulle glo dat hierdie positiewe energie hulle sal beskerm teen die einde van die wêreld. Die mense van die dorp is natuurlik baie bly daaroor, want hulle maak baie geld uit die toeriste. Daar is selfs ‘n Turkse wynmaker en besigheidsman in die dorpie wat ‘n rooi wyn gemaak het spesiaal vir die geleentheid. Hy noem dit “wine of the Apocalypse”.

Die rede hoekom mense so op hol raak hieroor is omdat die Mayan kalender eindig op 21 Desember 2012 en daarom gaan die wêreld eindig. Die Maja beskawing het in Sentraal-Amerika bestaan tussen die 300 en 900. Hulle was bekend vir hulle afgeronde skrif, wiskunde en astronomie. Hulle het ‘n kalender ontwikkel wat oor 5000 jaar strek voordat dit dan weer reset na Zero. 21 Desember 2012 is die dag waarop hierdie reset na zero sal plaasvind. 
NASA het die volgende verklaring uitgereik wat dit bevestig: "Just as the calendar you have on your kitchen wall does not cease to exist after December 31, the Mayan calendar does not cease to exist on December 21, 2012. This date is the end of the Mayan long-count period but then -- just as your calendar begins again on January 1 -- another long-count period begins for the Mayan calendar."
Ek het ‘n spotprentjie raakgeloop wat iets hieroor sê:
Dit bly vir my verstommend dat mense so ophol en bekommerd kan raak oor boodskappe en tekens wat verkeerd is, misverstaan word of onvolledig is

Dis nie net oor die Mayan kalender wat mense so bekommerd en ophol gaan nie, dis ook oor tekste in die Bybel. Veral tekste oor die wederkoms.

Kom ons lees gou Lukas 21: 25-36.

Belangrik om te onthou dat hierdie teks is geskryf vir die mense van Lukas se tyd. Hulle het gedink dat die wederkoms nog in hulle leeftyd gaan gebeur (vers 32). Ons kan dit dus nie so letterlik op ons tyd van toepassing maak nie. Ons moet eerder na die boodskap agter die sogenaamde tekens kyk.

Ons moenie op hol raak oor tekste soos hierdie nie. ons moet ook nie hierdie tekens in die teks van toepassing maak op ons tyd nie. Die Bybel is tog baie duidelik daaroor dat net God weet wanneer die wederkoms gaan wees. Niemand anders nie en ons kan dit ook nie voorspel nie
Geen wonder die wonderlike prediker, Charles Spurgeon, het iewers in ʼn preek gesê nie: “Why do you worry? What possible use does your worrying serve? You are aboard such a large ship that you would be unable to steer even if your Captain placed you at the helm. You would not even be able to adjust the sails, yet you worry as if you were the captain or the helmsman of the vessel. Be quiet, dear soul — God is the Master!”

Hierdie teks gaan oor Jesus se wederkoms en die beelde wat dit laat klink asof dit die einde van die wêreld is, is nie bedoel om mense bang te maak of ophol te jaag nie. Jesus skets hierdie vreeslike prentjie sodat mense sal besef dat dit ‘n ernstige saak is en dat hulle enige tyd daarvoor moet reg wees.

Die teks word in 3 dele verdeel om ons te help cope met die tyd waarin ons wag vir die wederkoms. Dit help ons om te weet hoe ons moet optree terwyl ons wag dat Jesus weer kom. Ons moet dus nie vasval by die onheilsprentjie wat geskets word nie, ons moet fokus op die boodskap en ons roeping terwyl ons wag vir die wederkoms.

Eerste deel (vers 25-28) gaan oor gelowiges se houding teenoor die wederkoms in vergelyking met die res van die wêreld.
Ons weet mos dat die wêreld, die geskiedenis en die die toekoms van die wêreld vorm alles deel van God se storie. En ons weet dat die doel waarheen God met ons oppad is – is dat elke knie sal buig voor Jesus Christus. Dis iets waarna ons kan uitsien. Dit gee ons hoop.

Die wederkoms en die hoop wat dit bring verander ons houding in die wêreld. Dit verander ons manier van leef. Christene is nie negatiewe, klaende mense nie – ons is mense van hoop. Ons is mense wat regop loop en ons koppe oplig, maak nie saak wat rondom ons gebeur nie.
Mense sonder hoop raak negatief, klaerig en teneergedruk oor die dinge wat in ons wêreld aan die gang is. Christene wat vertrou op God en Sy storie met die wêreld leef nie so nie.
Christene is mense wat bo omstandighede kan uitstyg. Mense wat nie alles wat in die wêreld gebeur as slegte voorspellings sien en dan negatief en swartgallig raak nie.
Christene is mense wat weet dat die wederkoms gaan gebeur en daarom kan hulle nou al met hoop en positiwiteit lewe.

Die tweede deel (verse 29-33) gaan oor die sekerheid van die wederkoms. Jesus gebruik die beeld van die vyeboom en ander bome wat begin uitloop en bot. Dis tekens dat die winter verby is en dat die somer oppad is. Daarmee verseker Hy ons dat al die slegte goed wat gebeur gaan soos die winter ook verbygaan en deur die somer vervang word. Dat die koninkryk van God naby is.
Dis mos maar hoe die lewe werk – in seisoene. Daar is slegte tye, maar daar is altyd weer goeie tye. Moenie vashaak by die slegte tye nie.
August Renoir was een van die bekendste Franse skilders. In sy later jare het hy baie pyn verduur as gevolg van arthritis, maar hy het nog steeds aanghou skilder, al was dit baie pynlik. Henri Matisse, self ‘n bekende skilder en goeie vriend van Renoir het eendag, nie lank voor Renoir se dood nie, vir hom gevra hoekom hy nou nie maar ophou skilder nie. Renoir het opgekyk en geantwoord: “Die pyn gaan verby, Henri, maar die skoonheid bly.”  
As Christene wat glo in die wederkoms wanneer alles goed sal wees, hoef ons nie teneergedruk te raak oor die slegte tye en die pyn nie, want ons weet die goeie is altyd weer oppad.

Die derde deel (verse 34-36) is ‘n oproep tot waaksaamheid. Waaksaamheid is nie ‘n passiewe, agteroor sit en wag nie, dis om aktief te wag. 
Jesus se oproep is om te wag – maar dis ‘n aktiewe wag. Ons moet die wagtyd aktief gebruik  deur te bid en te leer en te groei en goeie goed te doen. Ons kan nie maar net stilsit nie, ons moet aktief besig wees om die wêreld ‘n beter plek te maak, sodat die koninkryk nou-al begin deurbreek. Sodat die wêreld voorbereid is vir die wederkoms.
Soos iemand gesê het:
“Werk asof jy nie die geld nodig het nie.
Gee liefde asof jy nog nooit seergekry het nie.
Dans asof niemand kyk nie.
Sing asof net God luister.
Leef met die doel om orals ʼn stukkie hemel op aarde agter te laat.
Doen alles vir jou gehoor van Een.”   

Om op te som: Ons moet ons nie steur aan die voorspellings oor die einde van die wêreld nie. Ons moenie ophol raak oor die sogenaamde tekens van die eindtyd nie, want daai tekens was deur al die eeue daar. Net God weet wanneer dit gaan gebeur.
Terwyl ons wag dat dit gebeur – moet ons met hoop en ‘n positiewe gesindheid lewe.
Leef met hoop. Ons moenie vasgevang raak en teneergedruk raak oor al die negatiewe goed in die wêreld nie, want ons weet die wederkoms kom en dan sal alles wees soos God dit bedoel het. 
Ons moet aktief wag – ons moet deur ons optrede die wêreld ‘n beter plek maak en nou-al die koninkryk laat deurbreek.

Sunday, December 9, 2012

Preek 09 Desember 2012 (Thinus)


LUISTER AS GOD FLUISTER!   
    ‘n Jong Johannesburgse yuppie het eendag naby Edenvale by die Linksfield afrit op die N1 baie vinnig  in sy duur en deftige ingevoerde Italiaanse motor gery .  Die volgende oomblik gewaar hy uit die hoek van sy oog ‘n kind wat ‘n klip na sy duur motor gooi!     Hy kon nie vinnig genoeg stilhou nie ::  Woedend sit hy sy motor in trurat en jaag terug na die plek waar die kind gestaan het.  Snaaks genoeg het die kind nie eers probeer wegharloop nie  ::  Net daar bly staan!!            Die man spring uit sy motor , gryp die kind aan die bors, pluk hom rond en begin wild en woes op die kind skreeu          Die seuntjie kyk verskrik en verward na die man  en probeer verduidelik : Maar oom .. oom …!!  Maar die man BLY op die seuntjie skree en vloek en skel!!!          Uiteindelik, nadat hy die seuntjie verskree en rondgepluk het, kry die seuntjie tog kans om te probeer verduidelik : Hy  stotter en stamel terwyl hy verduidelik dat sy boetie uit sy ROLSTOEL geval het en noual vir meer as ‘n halfuur in die koue op die harde sementpaadjie lê!  Niemand wat verby ry sien hulle raak om te help nie! Hy MOES eenvoudig IETS doen om IEMAND se aandag te trek!  Sy boetie is te SWAAR vir hom! Hy het sy bes probeer, maar kon niks regkry nie!   : Wil oom ons nie HELP nie, asseblief??          Die man het baie sleg gevoel :  Ook maar net een van die baie wat so jaag dat hy nie eers die seuntjie en sy boetie in hulle verknorsing raakgesien het nie!!   Besef dat die tempo waarteen hy leef en jaag, veroorsaak dat hy nie eers meer sy medemens in nood raaksien nie  :: Dat hy nie meer IETS vir sy medemens BETEKEN nie ::  Dat hy inderdaad BY SY EIE HART verby jaag!!!          Nadat hy die seuntjie en sy boetie op en reggehelp het, stap hy na sy motor en besluit om van nou af STADIGER te leef : Sodat hy nie by sy hart verby jaag nie :: Om van nou af sy LIG in hierdie wêreld te laat skyn!!

     IS DIT NIE MAAR BY ONS OOK SO NIE …. ???  .   Soos die jong Johannesburger JAAG jy en ek ook maar elke dag, nie waar nie!!  Is ons nie maar ook al klaar ingetrek in hierdie malle RAT RACE nie??  Jaag ons nie maar ook van bakboord na stuurboord net om aan die lewe te bly nie?? Jaag jy en ek nie ook maar in die proses by ons harte verby nie??     TROUENS : Dit gaan so erg dat jy eintlik opreg moet vra : MAAR JAAG EK NIE OOK BY GOD VERBY NIE??    **  Het God enigsins nog ‘n PLEK in my  lewe??   **   HOOR ek nog enigsins God se stem??  **   VOEL  ek nog Sy stille aanraking en teenwoordigheid in my lewe??     ** Gaan sit ek nog iewers STIL //  Bring ek nog TYD deur SAAM met Hom om sy STEM te hoor  //  Sy AANRAKING te beleef??  Het ons vergeet om te luister as God fluister??     En in die proses van jaag loop ons die SeëN en STEM van God mis //   Sien ons nie meer die ONTMOETINGS wat God met ons maak RAAK nie //  Verloor ons die kanse en geleenthede om kosbare en intieme TYD saam met God deur te bring!!  Is ons so besig met die DINGE van God – Waarmee opsig self niks mee verkeerd is nie  - Maar in die proses vergeet ons die GOD van al die dinge!!!

    BRING TYD SAAM MET GOD DEUR!     In elke VERHOUDING wat werklik die moeite werdis, is daar TWEE belangrike komponente ter sprake **  Bring TYD saam met die anderpersoon deur!   **  Kommunikeer GEREELD met mekaar!!
    MOSES AS VOORBEELD :: Eks 24 :: 12 tot 18   Van iemand wat God GEREELD op afgesonderde plekke ontmoet het / Wonderlike ALLEENTYE saam met God  deurgebring het  :: **   Alleen in die woestyn ::  Maar daar die OPDRAG :  Jy lei my volk uit Egipte uit     **   Alleen op die berg ::  Klim nou die berg verder uit na My toe //  Klim solangs die berg uit  SODAT jy NABY  aan My kan wees  **  Maar daar, met ‘n wolk oor hom getrek, hierdie KOSBARE oomblikke saam met God :: Sodat  Ek vir jou die klippe kan gee waarop Ek die wette en gebooie neergeskryf het vir die onderrig van die volk!   (Eks 24:12)  Klim verder teen die berg op na My toe.  Wanneer jy hier is, sal Ek vir jou plat klippe gee waarop Ek die reëls neergeskryf het wat jy vir die volk moet gee!          

    En dis PRESIES dieselfde met JOU … En God … En JOU verhouding met God ::  Die FORMULE is eenvoudig ::  Vir ‘n SINVOLLE   GEHALTEVERHOUDING saam met God   =  TYD SAAM MET GOD  = PRAAT MET GOD!!

   En dis die punt :: STILTE kan partykeer bedreigend en eensaam voorkom as jy van buite daarna kyk. Maar dis juis die tweekantigheid van STILWEES :: Wanneer jy in stil tye rondbeweeg, vind jy dikwels daar is ruimte om net te kan wees :: Sonder maskers, sonder verwagtings, Sonder prestasies, sonder die behoeftes om jouself te moet bewys!  Dis juis in hierdie gevoel van leeg en kaal wees voor God –
In die woestyntye, dat jy meer oor jouself en jou verhouding met God leer!  Soek dus God se teenwoordigheid op :: Raak bewus daarvan en GENIET dit!  Dis kosbaar!  Moenie te veel vir God probeer sê nie :; Raak net RUSTIG ::ONTSPAN :: LUISTER :  En word bewus daarvan DAT Hy DAAR is!

   Want sien : NET SOOS Jy hierdie tyd saam met God nodig het, het HY dit OOK nodig saam met jou :   **  Om net SAAM met jou te wees!!   **  Om jou te VERTEL hoe LIEF Hy jou het!!!   **  Om jou lewe aan te raak en te verander!!   **  Om van jou ‘n GELUKKIGE mens te maak!!  GOD IS IMMERS LIEFDE : EN HY WIL HIERDIE LIEFDE OOR JOU UITSTORT!!

   Jaag jy OOK … NOG by jou hart verby  ..... En in die gejaag ook by God verby????     Het  jy ‘n Berg??  Waar is  JOU WOESTYN :: Waar jy IN STILTE … na God kan LUISTER … Met God kan PRAAT??    Jou hart vir Hillbrow kan gee??

  En veral ook nou juis met die naderende kerstyd!    Slaan ons die hande gemaak-verbaas ...... saam en roep ONTSTELD  uit :  O Krismis! Is dit alweer daardie tyd?   WAT gaan ek tog die jaar vir WIE WAAR koop? Is daar enige voorstelle??   Ek is tog so besig ... besig .. besig ...!!      WAT gaan ons keer dat ons die jaar maar weer so jaag : Wat gaan maak dat ek die jaar  gaan STOP :: En LUISTER na God :: En DOEN wat God wil hê ons moet doen ....??  Hoe GROOT moet die klip die jaar wees??   Watter klip gaan jou laat STOP die Kersfees //  Jou tot STILSTAND bring // Jou minder gaan laat jaag??   


    Riana se klip WAT HAAR LAAT stop HET, was die oorsprong van Vader Kersfees, aka Saint Nicholas.    Saint Nicholas was ‘n man in die 4de eeu met ‘n oneindige, ongelooflike simpatieke hart vir die armes. Hy was bekend as ‘n wonderwerker, want hy het homself vermom en skelm in die nagte vir die arm mense kos en geld deur hulle vensters gaan gooi. Sommige van die geld het in die proses binne-in skoene en kledingstukke beland. Die armes het later die gebruik gehad om hulle skoene naby die venster te sit en kouse in die kaggel op te hang in die hoop dat hulle die volgende oggend gaan wakker word en daar kos of geld in die skoene of kouse sou wees.
    Daarom gaan sy die Kersfees haar  ”rooi jassie” aantrek en biki Krismisvader speel. Sy gaan OM haar kyk en haar HART oop maak vir die mense wat in haar teenwoordigheid kom.  Sy gaan na haar seëninge kyk en biki daarvan uitdeel, veral omdat sy weet dat dit haar nie armer gaan maak nie.  Sy gaan haar kinders LEER om klein kersvadertjies te wees deur daardie ou teddiebeer of inkleurboek vir ’n ander kind te gee.        Die geskenk wat hulle daaruit gaan kry, sal groter wees as enige geskenk op aarde en dit sal iets wees wat geld nooit sal kan koop nie.  WANT SY WEET haar Vader sal in liefde op hulle neerkyk en wéét dat hulle iets besef van Kersfees, omdat hulle Hom help om weer hoop in hierdie mense se harte te vestig!!  Dankie Riana!
   Nataniël se klip het vir hom as sy grootste les gekom die jaar ::  Dat dinge so vinnig in ’n oogwink kan verander en verdwyn : Daarom wil hy hierdie Kersfees iemand onthaal wat weer VOOR moet begin
    Hoe groot moet die klip wees wat JOU gaan laat STOP die jaar :: Wat jou gaan laat LUISTER na God : Wat jou ’n slag by Hom gaanlaat STILSIT??? Wat gaan maak dat jy die Kersfees na Hom gaan luister?
   Mag vrede heers hierdie Kersfees en as die wêreld nie op 21 Desember op ‘n einde kom nie, bid ek dat die nuwe jaar ook nuwe vooruitsigte en HOOP sal bring vir jou en ook vir almal wat jy gaan aanraak met jou Kersvader gesindheid!

Monday, November 19, 2012

Preek 18 November 2012 (Johannes)


Hou dit eg! Omarm jou uniekheid.

Ek wil begin deur vir julle ‘n storie te vertel. Ek dink ons almal ken die mense van hierdie storie of het al soortgelyk situasies teëgekom.

Dis die storie van mense in ‘n spesifieke gemeente.  Anel, haar man Jan en hulle kinders is lidmate van die gemeente. Anel het ‘n drankprobleem wat buite beheer is en Jan is moeg daarvoor om vir haar verskoning te maak en vir haar te cover. Almal weet van Anel se probleem maar hulle maak asof dit nie bestaan nie. ‘n Klassieke geval van ontkenning. Elke Sondag trek Anel en haar familie netjies aan en gaan hulle kerk toe soos die perfekte familie. Almal by die kerk, alhoewel hulle weet van die probleem, kyk vir Anel en haar familie en hanteer hulle asof hulle die perfekte familie is.

In die kerkbank agter Anel en haar familie sit Joe elke Sondagoggend. Almal hou van Joe, veral die manne, want Joe is ‘n “man’s man”. Joe is ‘n sportman, hy was ‘n goeie rugbyspeler en is nog steeds baie by sport betrokke. Maar wanneer Joe alleen is, is hy eensaam, want hy kan nie daarin slaag om langtermyn verhoudings in stand te hou nie. Sy huwelik het net ‘n jaar gehou en hy dryf almal van hom af weg omdat hy so kort en vinnige humeur het. Maar op Sondae by die kerk wanneer mense vir hom vra hoe dit gaan, dan is hy vining om te sê: “dit gaan goed, geen probleme nie”.

Anel en Joe het geleer dat dit OK is om fronte voor te hou. Dat die kerk ‘n plek is vir perfekte mense en as jy nie jou perfekte front voorhou nie, is jy nie aanvaarbaar nie. Hulle is mense wat na buite al die fronte voorhou, maar na binne is hulle besig om dood te gaan.
Ongelukkig is dit iets wat mens baie in die kerk en in ons sameleiwng sien. “Image” is alles, hoe jy lyk, die indruk wat jy skep is wat belangrik is. Ons is goed daarmee om die fronte voor te hou.

Die skrywer Philip Yancey vertel in sy boek, What’s so amazing about grace, van ‘n prostituut met wie hy eendag die christelike boodskap gedeel het. Toe hy voorstel dat sy ‘n kerk gaan soek waar sy kan inskakel toe kyk sy vir hom en sê:  "Why would I want to do that? I already feel awful enough about my life?"
Sy het gevoel - Om by ‘n kerk vol perfekte mense in te stap, gaan net haar mislukkings en
tekortkominge beklemtoon en sy gaan geoordeel word.

Daarom is dit nodig om oor egtheid te praat en is dit een van ons waardes Want wanneer God se mense nie meer eg kan wees nie, wanneer ons fronte voorhou en perfekte Christene probeer wees, dan is ons nie meer ‘n kerk nie, maar ‘n sosiale klub waar ons mekaar moet probeer beïndruk om lidmaatskap te kry. 

Ek wil vanoggend ‘n bekende karakter in die Bybel gebruik om ons te help met die gedagte van egtheid. Iemand wat baie eg en deursigtig was. Dis Petrus. Op die oog af was hy ‘n gewone ou, nie vreeslik geletterd nie, getroud, miskien met ‘n paar kinders en hy het gewerk as ‘n visserman. Maar daar was baie meer aan hom as wat ons dink.

Petrus was nie bang om te vra wat die ander net gedink het nie.
  • By die laaste maaltyd waar Jesus die nagmaal ingestel het sê Jesus dat een van hulle gaan hom verraai. Wat doen Petrus – hy leun oor na Jesus toe en vra: “Here, wie is dit?”
  • Kort daarna praat Jesus oor sy dood met Petrus wat vra: “Here, waarheen gaan U?”

Petrus het gereeld “sy voet in sy mond gesit”.
  • Toe Jesus die dissipels se voete wou was, was dit Petrus wat gesê het: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie”. Jesus antwoord hom toe: “as ek jou nie was nie, het jy nie deel aan my nie”. Waarop Petrus baie beskeie terug antwoord: “was dan sommer my hande en gesig ook.”
  • Een van die bekendste oomblikke was toe Jesus praat oor sy kruisiging. Petrus roep hom toe eenkant toe en sê vir Hom: “Dit sal beslis nie met U gebeur nie”. Waarop Jesus vir hom sê: “Jy is vir my ‘n struikelblok, want jy dink nie aan God wil hê nie, maar aan wat mense wil hê.”
   
Petrus het gedoen sonder om te dink.
  • By Jesus se verheerliking op die berg, verskyn Moses en Elia in ‘n wolk aan hulle. Wat doen Petrus? Hy sê vir Jesus: Here, kan ons sommer gou 3 hutte bou sodat jy, Moses en Elia hier kan bly nie.
  • Toe Jesus in die tuin van Getsemane gearresteer word, het Petrus onmiddelik sy swaard uitgepluk en ‘n slaaf se oor afgekap. Hy wou iets doen aan Jesus se arrestasie. 
  • Bekendste voorbeeld is natuurlik toe Petrus vir Jesus verloen het en die haan 3 keer gekraai het.

Petrus is voortvarend
·         Toe hulle almal in die boot bymekaar was en Jesus kom op die water aangeloop, was dit Petrus wat uit die boot uitgeklim het om ook op die water te loop.
·          Terug by die nagmaalsete. Petrus het nie verstaan toe Jesus vir hulle sê: ‘waar ek gaan, kan julle my nie volg nie”. Petrus antwoord, “Here, hoekom kan ek u nie nou volg nie. Ek sal my lewe vir U aflê”

Petrus was voortvarend, emosioneel en het nie altyd gedink voor hy gepraat en gedoen het. Beslis nie die volmaakte en perfekte dissipel nie, maar hy was eg en deursigtig. Hy was homself.

Die punt van dit alles. Petrus was homself by Jesus. Hy het nie fronte voorgehou nie. Hy kon dit doen want Jesus het hom aanvaar soos hy is. Jesus het nooit vir Petrus gesê hy moet ‘n bietjie meer soos Jakobus of Johannes wees nie.
Jesus was vir hom ‘n mentor. Hy vir hom goed gesê soos dat hy meer geloof moet hê. Dat hy nie moet doen wat mense wil nie, maar wat God wil. Dat hy meer moet luister na die Gees.
Ek dink die meeste van ons sou ongeduldig geraak het met Petrus. Ons sou van hom verwag het om anders te wees en dinge anders te doen.
Dis nie wat Jesus gedoen het nie – Hy het hom gehelp om te groei in sy menswees, maar hy het hom nooit verkleineer, of hom afgejak, of hom vergelyk met die ander dissipels nie. Hy was geduldig met hom en het hom toegelaat om te wees wie hy is terwyl Hy hom begelei het om te groei en te ontwikkel op sy eie tyd.

As ek dit alles kan saamvat. Iemand het eenkeer gesê: "I find more honesty in one Alcoholic’s Anonymous meeting than in an entire year going to church."

Dis vir my baie hartseer dat mense na groepe buite die kerk gaan omdat hulle daar meer egtheid en eerlikheid kry as wat hulle in God se kerk beleef. Die kerk moet juis ‘n plek wees waar mense hulleself kan wees, waar hulle nie bang is om eg en eerlik te wees nie.
Waar mense nie bang is om te sê waarmee hulle worstel nie en waar hulle nie bang is om foute te maak nie. As jy nie in die kerk kan foute maak nie, waar anders kan jy foute maak. Die moet juis die plek wees waar ons kan foute maak, sonder om geoordeel te word.

Dit kerk moet die plek wees waar Anel kan sê, ek sukkel met ‘n drankprobleem, help my. Waar Joe kan sê dat hy eensaam is. Sonder dat hulle skeef aangekyk of geoordeel word. Dit moet ‘n plek wees waar hulle met geduld en liefde hanteer sal word en ondersteun sal word. Soos wat Jesus met Petrus en met baie ander mense gedoen het.

God roep ons om eg en eerlik te wees – nie om perfek te wees nie. Niemand van ons is immers perfek nie. Ons almal sukkel met sonde, probleme, bekommernisse en mislukkings. Maar God wil ons nog steeds gebruik in mekaar se lewens en in Sy koninkryk. Soos daai spreekwoord mos sê: God kan ‘n reguit hou met ‘n krom stok slaan.  
God roe pons o meg te wees, nie om perfek te wees nie!

Sunday, November 11, 2012

Preek 11 November 2012


Wees eg! Selfs as niemand kyk nie. (2 Kor 6: 1-13)


Die HAT beskryf iemand met integriteit as iemand wat eerlik en opreg is en met karakter leef, in volledige eerlikheid, is onomkoopbaar en die Oxford woordeboek beskryf dit as die kwaliteit om sterk morele beginsels te hê sowel as ‘n “state of being whole”. Integriteit is die woordeboek woord vir vandag se tema: Wees eg: selfs as niemand jou sien nie. ‘n Tema waaroor ek nie sommer uit my eie sal preek nie, bloot omdat dit nie so eenvoudig is nie. Daar is net te min van ons wat altyd kan sê dat ons altyd met integriteit leef. En die Woordeboek definisie is nog eenvoudig. Vir Jesus-volgelinge beteken dit om vreesloos jou lewe te leef, omdat jy die God-pad loop én jy boonop weet, jy lewe 24/7 in God se teenwoordigheid!
As ek dit reg verstaan, beteken Integriteit dan vir ons as gelowiges, en seker ook vir alle ander mense, dat dit wat jy glo en doen, sal ooreenstem. 

Ek wil vanoggend saam met julle lees uit 2 Kor. 6: 1-13.  Daar is klomp agtergrond wat ek vir julle kan gee oor hierdie 2 Korintiërs, waarvan sommige dalk heeltemal irrelevant is vir vanoggend, maar tog wil ek dit gee sodat julle darem kan weet dat ek studeer het. Maar ook as ons oor integriteit praat, is dit belangrik om die verhouding wat daar op hierdie stadium tussen Paulus en die Korintiërs was, te verstaan.

Die eerste 7 hoofstukke van 2 Korintiërs handel oor die krisis wat daar ontstaan het tussen Paulus en die gemeente in Korinte.  Om van die misverstande en probleme op te los oor sy amp as apostel en sy reisplanne op te klaar, skryf hy vir hulle hierdie brief terwyl hy in Masedonië is.  Dit moes omtrent hier tussen 55 en 56 n.C. gewees het.  Hulle verhouding is eintlik op hierdie stadium nie so goed nie. Hy oorweeg dit selfs op ’n stadium om sy beplande reis na hulle toe af te stel omdat hy nie lus het vir die konflik nie. In 2:1 sê hy: Daarom het ek besluit ek kom nie weer na julle toe as my besoek op droefheid uitloop nie. En in 2:4 verwys hy na ’n brief wat hy onder baie droefheid en groot beklemming van die hart geskryf het sodat hulle kan besef dat hy eintlik wel lief is vir hulle. En in 7:8 skryf hy dat daardie brief hulle hartseer gemaak het.

Histories weet ons min van hierdie brief en moontlike besoek aan die Korintiërs aangesien dit nie in Handelinge (waar ons van al Paulus se reise lees) saamgevat word nie maar dit is duidelik dat daar een of ander vorm van konflik voorgekom het en dat dit so erg was dat Paulus huiwerig was om enigsins weer terug te gaan na hierdie gemeenskap van gelowiges toe. Soos dit vir my klink, het hy eintlik geen verwagting van hierdie groepie gelowiges om goed en reg te leef volgens die wet – om met integriteit te leef nie. Hulle maak hom eintlik net bedroef. So erg so dat hy hulle nie eers meer wil besoek nie.

So as ons dan 2 Korintiërs 6 lees, moet ons dit lees teen die agtergrond van die Korintiërs se skeptisisme oor Paulus se apostelskap en die versteurde verhouding wat daar tussen hulle was. Geen wonder dat hy in die laaste vers van ons gedeelte vandag by hulle pleit om nie hulle harte vir hom te sluit nie. En hy doen dit deur in die hele hoofstuk 6 voortdurend aan hulle te probeer bewys dat hy altyd met integriteit optree, maar hy vra ook van hulle om dan met dieselfde integriteit op te tree.

“As medewerkers van God doen ons ’n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. Hy sê: ”Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp.” Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.”
Paulus haal hier Jesaja 49: 8 aan.  Met hierdie aanhaling wys Paulus daarop dat in die dood en opstanding van Jesus het die dag van God se beloofde verlossing aangebreek. Met  Die genade van God waarvan Paulus praat in vers 1, word daar verwys na die werklikheid van God se verlossing wat aangebreek het.  Deur die opstanding van Jesus het daar ‘n nuwe tydvak in die geskiedenis van die heilsgeskiedenis aangebreek en gelowiges leef daarom in die nou van God se genade en nie net in die eendag nie.

Hierdie genade waarin ons leef het implikasies vir die manier hoe ons optree teenoor ander, teenoor God en wanneer daar niemand naby is nie. Dit het implikasies vir ons integriteit. Paulus gee reg aan die begin vir hulle die grootste rede om met integriteit op te tree asook die rede hoekom hy self met integriteit lewe: Die genade kan nie goedkoop wees nie. Ons kan nie maak asof dit nie bestaan nie. Dit is hier. Ons leef in die tyd van genade. Nou is die regte tyd.  Maar integriteit beteken dat ons nie in teenstrydigheid met daardie genade sal leef nie. Genade gee aan ons integriteit. Deur genade is ons verlos en ‘sondevry’, maar genade vra ook van ons integriteit sodat ons nie die genade goedkoop sal maak, soos wat Bonhoeffer gesê het nie.

“3Ons wil nie hê dat daar met ons bediening fout gevind word nie. Daarom gee ons ook niemand aanleiding tot aanstoot nie, 4maar in alles laat ons ons ken as dienaars van God.”
In vers 1 en 2 skryf Paulus aan hulle hoe belangrik dit is om integriteit te he.  Maar gaan gaan verder in vers 3 en begin om sy eie integriteit te herstel onder mense wat moontlik vertroue in hom verloor het. Hy beklemtoon hier ‘n kenmerke van God se gesante.  1)  hulle gee nie aanstoot nie, maar laat hulle hulself ken as dienaars.  Met die eerste kenmerk kom sê Paulus dat hy nie onnodig vir die mense kom aanstoot gee het nie – dit was nie sy bedoeling nie. Sy bediening is vir hom belangriker as hyself. Wanneer ons Paulus se briewe lees kan hy nogal as redelik arrogant voorkom, maar hier sê hy duidelik dat sy bediening vir hom bo alles belangrik is. Die werk wat hy in diens van die Here Jesus Christus doen, trumps all – sy eie wil, sy eie dunk van homself, sy eie behoeftes, sy eie gemaklikheid en daarom is dit vir hom nodig om onberispelik te leef.  

“Dit doen ons met baie geduld in verdrukking, ontbering en nood. 5Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely. 6Ons het onberispelik opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid. Dit alles het ons gedoen deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, 7deur die woord van die waarheid en deur die krag van God. Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen.”
Hierdie werk t.w.v. die bediening gebeur egter nie net vanself nie. Dit verg baie geduld. Ons hoor hier ‘n tweede eienskap van gesante van God.  Hulle kan volhard onder alle omstandighede, al het dit soms swaar gegaan.  Om te volhard was ‘n belangrike eienskap in die Vroeë kerk. Hierdie geduld gaan dus nie net oor “tot 10 tel as ek geïrriteerd is nie” dit gaan ook daaroor om geduldig te wag, ook wanneer dit sleg gaan.

Ons integriteit gaan dus nie net daaroor om reg teenoor ander op te tree of om reg op te tree wanneer ons alleen is nie, maar om op ’n seker manier op te tree wanneer dit sleg ook gaan. Dit beteken nie dat ons ’n glimlag sal fake maak nie saak hoe sleg dit gaan nie, want dit is juis nie integriteit nie, maar dat die geduld en selfs vrede waarmee ons die swaar tye hanteer ook aan ons kredietwaardigheid sal gee.
Dit gebeur egter nie vanself nie. Hierdie hang nie van ons af en hoe vinnig ons geduld kan vang nie. Paulus sê self dat dit gedoen word deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, deur die Woord en deur die krag van God. Dit is onmoontlik vir ons as mense om self so te leef. Om self met integriteit in ALLE omstandighede te leef, daarom gee God self aan ons die krag om dit te doen. En dit moet ons kan vryspreek van die las wat ons dalk tot nou toe nog gevoel het. Ons integriteit hang nie van onsself af nie. Dit vra net van ons om in fyn aanvoeling met die Gees te wees.

“8Ons ontvang eer en oneer, ons word beledig en geprys.
Ons word behandel as verleiers, en tog is ons betroubaar;
9as onbekendes, en tog is ons goed bekend;
as sterwendes en, soos julle sien, ons lewe;
as gestraf, maar ons is nie doodgemaak nie;
10as bedroefdes, en tog is ons altyd opgeruimd;
as armes, maar ons maak baie ander ryk;
as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles.”
God se krag en die werking van die Heilige Gees stel ons in staat om op te tree soos wat daar nie van ons verwag word nie. Die mense kyk al vir eeue na die Christen gemeenskap en wonder oor die skynheiligheid wat hulle sien. Hulle verwag nie meer mense wat met integriteit gaan optree nie. En ons word volgens hierdie siening behandel. Die uitdaging van integriteit is dus nie net om op te tree soos wat ons sê ons sal nie, maar ook so op te tree al verwag mense dit nie van ons nie.

“11Ons het openhartig met julle gepraat, Korintiërs. Ons harte is vir julle wyd oop. 12Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit. 13Ek praat met julle as my kinders. Doen aan ons wat ons aan julle gedoen het: maak julle harte ook wyd oop!”
In die laaste gedeelte spreek Paulus die Korintiërs persoonlik aan.  Dit kom wys hoe na hierdie saak aan sy hart lê.  Hierdie is van die mees persoonlike woorde van Paulus.  Eerstens omdat hy hulle by die naam noem (wat net op twee ander plekke gebeur) en Tweedens omdat hy sy hart aan hulle oopgestel het.  Hierdie persoonlike pleidooi kom openbaar sy hart agter die hele voorafgaande gedeelte. Eintlik wil hy net weer in hulle vertroue staan. Dit maak nie saak wie verkeerd was nie, dit is duidelik dat hierdie integriteit waarvan hy hierbo gepraat het, nodig is om die verhouding te herstel. 

Die verhouding tussen Paulus en die Korintiërs het egter niks met ons te make nie. Dit was 2000 jaar terug. So hoekom vanoggend hierdie gedeelte lees? Want ons verhouding lei vandag nog so skipbreuk soos daardie verhouding omdat ons nog nie die volle omvang van integriteit verstaan nie.

Paulus noem in vers 4: “maar in alles laat ons ons ken as dienaars van Christus”.  In ALLES.  Is dit nie wat Christelike integriteit is nie?  Hy gaan verder en noem voorbeelde van hoe hulle integriteit getoets is.  Hy noem drie voorbeelde van algemene swaarkry: verdrukking, ontbering, nood.  Dan is daar drie voorbeelde van wat mense aan hulle gedoen het: geslaan, in die tronk gegooi, mense het oproerig geraak en laastens noem hy drie voorbeelde van opofferings wat hulle gemaak het:  hulle het swaar gewerk, nagte sonder slaap gegaan en honger gely.  En tog, in alle hierdie moeilike omstandighede het hulle laat ken as dienaars van Christus. Verstaan ons dat integriteit ook van belang is ons seerkry en alleenwees?

Verstaan ons dat integriteit ook van belang is wanneer niemand kyk nie?  Is jy bereid om met integriteit te leef selfs al sien niemand wat jy doen nie, of is dit net vir jou belangrik om reg te doen as jy weet daar is klomp belangrike mense is wat jou dophou. Paulus sê dat hulle hul in alles laat ken het as dienaars van God.  In alles, in die tye wat ons alleen is, in die tye wat ons swaarkry.

Opsomming
By die eerste reformasie wat deur Martin Luther gelei is, het dit gegaan oor reg gló.  Maar nou het ons ‘n tweede reformasie nodig:  om reg te leef.  Reg glo en reg leef gaan hand aan hand en ons noem dit integriteit. 
Toe hulle Lloyd George Patterson, ’n kerk geskiedkundige, gevra het wat die geheim van die vroeë kerk se volhardende groei was  t.s.v. die tekort aan kommunikasie hulpmiddele (waaraan ons groei vandag so sterk verbind is) en te midde van so ’n vyandige omgewing,  was sy antwoord:
 “The early Christian communities were characterized by unusual integrity, and people were attracted to that.”

Geen wonder dat Calvyn, ons kerkvader, gesê het: die strategie van die duiwel is om die wangedrag van die kerkmense uit te snuffel en die evangelie so te onteer.
En ons almal ken Ghandi se bekende opmerking dat hy ’n Christen sou word as hy ’n Christen ontmoet.

So hoe help 2 Kor. 6 ons hiermee? En ek som hiermee op:
1.    Ons moet soos mense leef wat die genade verstaan wat ons ontvang het.
2.    Ons moet altyd die bediening ingedagte hou – die getuienis wat ons het om te bring
3.    Dit verg baie geduld (veral in die tye wat dit nie goed gaan nie)
4.    Maar ons het hulp deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, deur die Woord en deur die krag van God
5.    Ons moet ook kan optree soos wat mense nie van ons verwag nie
6.    En die vrugte van hierdie dade is te sien in al ons verhoudinge

Die gevolge van Integriteit
Die gevolg is dat ons anders lewe.  Ons kan nie meer leef om mense te beïndruk nie.  Ons leef nou vir God.  In als wat ons doen wil ons eerstens vir God eer.  Dan maak dit nie meer saak of ons alleen is of tussen mense is nie.  Dit gaan oor God. 

En wanneer God eerste is, dan raak ons glo en doen dieselfde ... in alle omstandighede

Sunday, November 4, 2012

Preek 04 November 2012 (Johannes)


Egte geloofsgemeenskap

Vandag is die eerste tema van ‘n kort preekreeks oor die waarde van Egtheid. In die eerste kwartaal het ons gepraat oor die waarde van Eenvoud; 2de kwartaal oor Betekenisvolle verhoudings; 3de kwartaal oor Gestuurdheid. Vandag praat ons oor Egte geloofsgemeenskap, volgende week se tema is – Wees eg! Selfs as niemand kyk nie. Die week daarna is dit – Hou dit eg! Omarm jou uniekheid.

Ek kom baie by Binnelandse sake. Wanneer ons troues doen dan is dit ons verantwoordelikheid om die huwelik by Binnelandse sake te registreer. Oor die algemeen is dit ‘n redelik vinnige en maklike proses, maar elke nou en dan is daar ‘n probleem. Veral as ons oorsese mense se huwelikke moet registreer. Dan moet ek die probleem probeer uitsorteer met die mense wat agter die toonbank werk. Dis nie so ‘n maklike taak nie. Op ‘n stadium ontdek ek toe dat die vrou wat in beheer is van die kantoor, was saam met my op skool. Toe is dit sommer baie maklik om enige probleme uit te sorteer. Die ander klerke was toe ook sommer baie vriendeliker en meer behulpsaam. Omdat ek ook gereeld daar kom, het hulle my ook begin ken. Tot op ‘n dag, vroeër vanjaar, toe ek weer daar kom en ontdek dat my skoolvriendin verplaas is en die bekende klerke na ander afdelings geskuif het. Toe voel ek sommer verlore. Niemand het my meer geken nie. Dit was asof ek vir die eerste keer daar aangekom het. Dit klink simpel, maar dit was vir my lekker om te weet die mense ken my. Daar was ‘n gemaklikheid, ‘n familiariteit daaraan om die mense te ken. Ek was nie sommer net nog iemand wat by Binnelandse sake in die ry gestaan het nie.
Dis soos wanneer ek my hare laat sny. Ek gaan elke keer terug na dieselfde haarsalon en dieselfde haarkapper. Hulle weet wie ek is, hulle ken my en ek ken hulle. Ek voel gemaklik met hulle. Dis asof ek iewers behoort.
Ons almal het plekke nodig waar ons gemaklik voel. Waar ons voel ons behoort. Selfs al is dit by Binnelandse sake en by die haarkapper. Dis nog belangriker as ons oor die kerk begin praat.    

Ons almal het plekke nodig waar ons behoort. Plekke waar ons mense ken en waar mense ons ken. Waar ons aanvaar word met al ons foute en al ons sterkpunte en gawes. En hier praat ons nie net oor facebook en twitter nie, dit het ook ‘n plek, maar ons het plekke nodig waar ons mense in die oë kan kyk. Kan opsoek wanneer ons hulp of raad nodig het. Waar ons kan ontspan en onsself kan wees, want ons weet dat ons nie verwerp sal word nie. Ons almal het hierdie tipe egte gemeenskap nodig. Ons is geskep daarvoor.

Maar hierdie tipe egte geloofsgemeenskap is nie iets wat vanself gebeur nie. Veral in ons moderne en gebroke samelewing. Ons almal is maar geneig om bietjie selfsugtig te wees. Ons is geneig om net ingestel te wees op onsself en ons eie behoeftes. Ons almal het al slegte ervarings gehad en het al seergekry. En dit maak egte geloofsgemeenskap moeilik. 

Ons teks van vanoggend help ons hiermee. Eers net bietjie agtergrond.
Paulus skryf aan die gemeente in Tessalonika. Dis ‘n nuwe gemeente met mense wat nuwe gelowiges is. Dit gaan oor die algemeen goed met die gemeente, maar Paulus besef ook dat hulle nog baie het om te leer. Daarom moedig hy hulle aan en hy gee vir hulle leiding oor hoe hulle as ‘n geloofsgemeenskap saam moet leef. 

Hy begin deur te fokus op die mense se gedrag binne die geloofsgemeenskap. Hy gebruik ‘n paar sterk woorde in verse 14-15 om te verduidelik hoe mense in ‘n geloofsgemeenskap moet optree. Hy skryf in ‘n geloofsgemeenskap moet ons mekaar tereg wys wanneer dit nodig is. Ons moet mekaar moed inpraat. Wees geduldig met mekaar. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Beywer julle vir die belange van medegelowiges en alle ander mense.
So, die prentjie wat Paulus skilder is van ‘n geloofsgemeenskap wat omgee vir mekaar, wat geduldig is met mekaar, wat hulpvaardig is teenoor mekaar, wat mekaar opbou, aanmoedig en vermaan. Ons almal het dit in ons lewens nodig.

Die probleem is net dat mens kan nie dit in ‘n grootgroep soos by hierdie erediens kan regkry nie. Ons het nodig om mekaar in die oë te kyk om dit te kan regkry. Daarom is dit goed om deel te raak van ‘n kleingroep, of die orkes, of die gebedsgroep of een van die verskillende bedienings in die gemeente. ‘n Kleiner groep waar ons mekaar gereeld in die oë kan kyk, waar ons mekaar se name ken en waar ons by mekaar betrokke kan wees. Dis egte geloofsgemeeskap.  

1 Tessalonisense 5: 16-19
Paulus gaan ook verder. In verse 16-19 gee hy die geestelike onderbou van egte geloofsgemeenskap. Kom ons lees dit.

In egte geloofsgemeenskap moet ons altyd bly wees, gedurig bid, in alle omstandighede dankbaar wees en oop wees vir die werking van die Heilige Gees.
Ons moet bly wees vir dit wat God in ons lewens doen en vir die mense wat Hy oor ons pad bring.
Ons moet gedurig bid. Dit beteken nie ons moet die hele tyd op ons kniee deurbring nie of dat ons net moet bid by ‘n gebedsgroep nie. Dit gaan daaroor dat ons biddend moet leef – dis om te weet dat jy heeltyd in God se teenwoordigheid leef, dat Hy elke oomblik van elke dag by jou is.
In egte geloofsgemeenskap moet ons te alle tye dankbaar wees. Let op - Hy skryf nie dat ons vir alle omstandighede dankbaar moet wees nie. Hy skryf dat ons in alle omstandighede dankbaar moet wees. Ons is dus nie dankbaar vir die slegte goed wat gebeur nie, ons is dankbaar omdat God ons daardeur help.
In egte geloofsgemeenskap is ons oop vir die werking van die Gees. Vir die leiding en die gawes wat Hy vir ons gee. Vir die mense wat Hy in ons lewens gebruik.
As ons ernstig is oor hierdie goed bring dit ons nader aan mekaar en skep dit egte geloofsgemeenskap tussen mekaar. Egte geloofsgemeenskap is mos makliker saam met  mense wat bly is, wat aanbiddend leef, wat dankbaar is en oop is vir die werking van die Gees.

1 Tessalonisense 5: 23-24
Paulus maak nog ‘n laaste punt in hierdie verse.

Hy bevestig dat alles by God begin. Hy is die een wat vrede gee, wat ons toegewyd maak, wat ons roep en wat getrou is. God is die een egte geloofsgemeenskap skep tussen mense. As dit van onsself afgehang het, sou dit nooit gebeur het nie. Ons is te selfsugtig en ingestel op ons eie behoeftes en belange. Gelukkig begin dit by God. Soos Paulus skryf – Hy is die een wat ons roep en Hy is getrou en sal ons bymekaar hou. Egte geloofsgemeenskap begin by God.

Om af te sluit: Ons hoor by Paulus dat egte Christelike geloofsgemeenskap moet anders wees as ander gemeenskappe waarin ons leef.
Egte geloofsgemeenskap moet ‘n plek wees waar ons nie bang is om ons swakhede, ons gebrokenheid met mekaar te deel nie, want ons weet ons word aanvaar.
Egte geloofsgemeenskap is ‘n plek waar ons aangemoedig en ondersteun word om die mense te word wie God wil hê ons moet word.
‘n Egte geloofsgemeenskap is ‘n gemeenskap wat styf vashou aan God. Waar ons met blydskap, aanbiddend en met dankbaarheid vashou aan die genade wat God vir ons almal gegee het. En waar ons oop is vir die werking van die Heilige Gees.

Ek dink as ons iets van hierdie prentjie van Paulus begin regkry en uitleef dan sal dit goed wees vir ons geloofsgemeenskap. Dan het ons iets om vir mekaar te bied. En dan het ons iets wat ons kan bied vir die mense in ons omgewing. Dan is ons ‘n egte geloofsgemeenskap.