Tuesday, June 24, 2014

Preek 22 Junie 2014

Matteus 10: 26-33

Hierdie is ‘n moeilike interessante teks om mee te werk. Ons moet dit verstaan in die lig van Matteus 10: 5. Jesus stuur sy dissipels uit in die wêreld in en met hierdie teks sê hy vir hulle dat dit gaan moeilik wees om ‘n dissipel te wees. Die teks probeer baie eerlik en realisties wees daaroor. Jesus waarsku hulle, maar probeer ook dan die vrese van die dissipels aanspreek.

Lees teks

Ons almal het vrese of fobies.  Sommige vrese is in ons verbeelding ander werklik. Sommige is gesonde vrese, ander is ongesond. Sommige is bekend, ander is onbekend. Maak nie saak hoe dit is nie, ons almal het dit.

Die word fobie kom van die Griekse word Phobia  wat verwys na ʼn paniek wat uit verhouding is met die bedreiging wat agter dit is. Daar is ongeveer 322 fobies waaraan mense kan ly. Ek het so bietjie gaan kyk na interessante vrese wat mense het.
Gnomophobia – vrees vir tuindwergies
Arachibutyrophobia – vrees dat peanut botter in jou verhemelte vassit
Ephebiphobia – vrees vir jong mense
Genuphobia – vrees vir knieë
Scriptophobia – bang om in openbaar te skryf
Alliumphobia – vrees vir knoffel
Coulrophobia – vrees vir hansworse
Venustraphobia – vrees vir mooi vrouens
Sinistrophobia – vrees vir dinge aan jou linkerkant en vir linkshandige mense
Bibliophobia – vrees vir boeke
Pogonophobia – vrees vir baarde
Consecotaleophobia – vrees vir chopsticks
Papaphobia – bang vir pous
Nomophobia – vrees om selfoon kontak te verloor
Novinophobia – bang wyn raak op
Panophobia – bang vir alles
Phobophobia – vrees vir vrees

Die punt is ons almal het sekere vrese. Sommige bisar, ander meer werklik. In ons teksgedeelte spreek Jesus sy volgelinge se vrese aan. Hulle word nou uitgestuur as dissipels - hulle was waarskynlik bang en onseker, so Jesus wil hulle daarme help.

Om dit wat Jesus doen moet ons onderskei tussen bangwees en vreesbevange wees.
Om bang te voel is ‘n normale reaksie wanneer jy bedreig voel. Ek hou nie van hoogtes nie, so wanneer ek in ‘n hoë gebou is of op ‘n brug stap, dan voel ek bang. Dis ‘n normale emosie.
Om vreesbevange te wees is ‘n houding teenoor die lewe. Dis vrees wat ‘n lewenstyl word. Dit verlam jou heeltemal en maak dat jy nie ordentlik kan lewe nie en nie die mens kan wees wat God wil hê jy moet wees nie. Dis iets wat jou terughou as mens. Dis hierhoor wat Jesus praat in die teksgedeelte. Hy gee 3 opdragte wat sal help om vrese te oorwin.

Die eerste opdrag is in verse 26-27
Jesus sê - moenie bang wees vir mense wat die waarheid wil onderdruk nie. Die waarheid is dat Jesus gekom het om ons vry te maak en die dissipels gaan te doen kry met mense wat hierdie waarheid wil onderdruk. Mense wat nie wil hê dat dit verkondig moet word nie.
In verse 32-33 sê Jesus - moenie julle bekommer oor die mense wat teen waarheid van Jesus optree nie – Jesus sal self met hulle deal, dis nie ons taak nie. Ons taak is om aan te hou om die waarheid van die evangelie te verkondig.
So Jesus sê dus vir hulle – moenie bang wees vir sulke mense nie. Moenie bang wees om aan te hou om die waarheid van Jesus te verkondig nie. Die waarheid sal oorwin.

Die tweede opdrag is in vers 28
Die dissipels het dit baie letterlik verstaan, want hulle leef in ‘n wêreld waar Jesus se volgelinge vervolg, gemartel en doodgemaak word. Jesus sê, moenie bang wees vir hulle nie, want hulle kan miskien jou liggaam doodmaak, maar hulle kan nooit jou siel doodmaak nie.
Hy bevestig ook - Moenie bang wees vir hulle nie, fokus liewer op God wat baie groter en magtiger is as wat hulle ooit kan wees.
Moenie bang wees vir mense wat dit vir jou moeilik maak om jou geloof uit te leef en ‘n getuie te wees te wees nie. Fokus liewer op God wat vir jou sal help en jou vir jou krag sal gee om as ‘n gelowige in hierdie wêreld te leef.

Hudson Taylor het gesê: “It does not matter how great the pressure is, or how powerful the fear. What really matters is where the pressure and fear lies – whether it comes between you and God, or whether it presses you nearer His heart.”

Die derde opdrag is in verse 29-31
Jesus sê moenie bang wees nie, want God is altyd by jou. Belangrik om op te let – Jesus impliseer swaarkry en lyding is deel van die lewe. Dis nie God se wil nie, Hy gaan dit ook nie noodwendig van ‘n mens wegvat nie, maar waaraan ons wel kan vashou – niks gebeur sonder dat Hy by ons is en ons daardeur help nie. (In die oorspronklike teks kom “die wil van” nie voor nie).

Hieruit leer ons 2 dinge:
Eerstens – God weet van my. Jesaja 49 sê dat my naam is in Sy handpalm gegrafeer. Hy ken my op my naam en Hy sal nooit van my vergeet nie. Maak nie saak waardeur ek gaan nie, maak nie saak wat met my gebeur nie – dis ‘n belofte wat nooit sal verander nie.

Tweedens – God is altyd daar vir my. Jesus gebruik 2 beelde om dit te verduidelik – mossies en hare.
Mossies het nie baie waarde nie, maar vir God is hulle kosbaar. Daarom kan ons weet dat ons ook vir God kosbaar is.
In die Ou Testament is die tel van ‘n mens se hare beeldspraak wat vir jou bevestig dat God jou baie goed ken en jou beskerm.
So Jesus gebruik hierdie 2 beelde om vir ons te sê – God sal jou nooit in die steek laat nie. Hy sal altyd daar wees vir jou.

Daar is die mooi storie van die seuntjie wat bang is vir die donker en dan vra hy vir sy pa of hy by hom kan kom lê. Die pa antwoord dan: “maar hier by my is dit ook donker” en dan antwoord die seuntjie: “ek weet, maar pappa is daar”.

Dis hoe dit in Christene se lewe ook werk. God is altyd by my. Daarom hoef ons vir niks bang te wees nie. Ons beweeg heeltyd in God se teenwoordigheid.

Ek wil afsluit met ‘n ander teks, wat hierdie teks in Matteus 10 bevestig, saamvat en verduidelik. Romeine 8: 35, 38-39.
Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here”.

Raak oomblik stil. Dink oor jou lewe en alles wat in jou lewe aan die gang is. Dink nou oor hierdie vrae.
Wat beteken dit vir jou om te weet dat God jou help met jou vrese?
Wat beteken dit vir jou om te weet dat God jou ken en altyd daar is vir jou?

Wat beteken dit vir jou dat niks jou ooit van Sy liefde sal skei nie?

No comments:

Post a Comment