Sunday, March 21, 2010

Preek: 21 Maart 2010

Johannes 12: 1-8


Francis Baur het gesê: “To love another person for the sake of some reward, is to prostitute not merely the meaning of love, but the other person as well. We love simply for the sake of loving, for nothing else and for no other reason".

Kom ek verduidelik dit met ‘n storie:

Twee Suid Afrikaners het op ’n Griekse eiland ’n Griekse visserman raakgeloop wat heel verstaanbare Engels kon praat. Hulle het lekker gesels, toe die een Suid Afrikaner aan die visserman se 14 jarige seun ’n lapelwapentjie sien. Hy was ’n groot versamelaar van lapelwapens! “Sê vir jou seun ek wil graag daardie lapelwapentjie van hom koop. Ek is ’n versamelaar van lapelwapentjies. Ek wil dit nie verniet hê nie, ek wil daarvoor betaal.”

Die pa praat met sy seun, maar dié sê niks.

So hou dit vir ’n hele tydjie aan - die Suid Afrikaner pleit, die pa pleit, maar niks gebeur nie. Toe skielik haal die seun die wapentjie af en steek dit aan die Suid Afrikaner se lapel vas. Die Suid Afrikaner was stomgeslaan.“Vra hom wat dit kos en sê vir hom ek is baie dankbaar en bly”, was die Suid Afrikaner se reaksie. Die pa praat weer met sy seun. “Wat sê hy - hoeveel moet ek betaal?” wou die Suid Afrikaner weet. Die man antwoord “My seun sê dat hy niks daarvoor wil hê nie. Hy sê dat as jy iets regtig baie liefhet, jy dit nie kan verkoop nie. Dit het geen prys nie. Jy kan dit alleen maar net weggee.”

Dis wat ons by Maria vanoggend gaan leer.

Lees teks

Terwyl ’n vrou een aand die tafel dek en haar dogtertjie haar help, hak die dogtertjie skielik af: “As ek kon kies, sou ek liewers ’n lepel wees!” “’n Lepel? Wat van ’n mes of ’n vurk?” wou die mamma by haar dogtertjie weet.“Vurke is te gryperig - hulle steek altyd goed en neem goed asof dit hulle s’n is!” “Goed, wat van ’n mes?” “Nee, messe is scary. Hulle maak jou bang… hulle sny dinge op en vernietig dit, jy kan nie regtig met hulle eet nie!” “Maar”, het die dogtertjie aangepraat, “lepels kan baie goed optel en dit selfs aangee. Hulle is net…” “Goed, oulik en glad en vriendelik.” stel haar ma voor. Die dogtertjie se hele gesig het opgehelder: “Mamma, ek wil ’n lepel wees!”

Om ‘n lepel te wees klink nou na ‘n eenvoudige kinderstorie. Maar dis ‘n baie mooi beeld om die christelike lewenstyl uit te beeld. Dit wys vir hoe die kerk moet wees en nie moet wees nie. Dit beskryf ook hoe Maria in ons teksgedeelte was – sy was soos ‘n lepel wat daar was om te dien, om iets te gee.

Teenoor dit is daar mense wat soos vurke is. Soos die dogtertjie sê, vurke is gryperig. Hulle het nooit geleer om te gee nie. Hulle gun nie vir ander mense enigiets nie. Vir hulle gaan dit net oor hulleself, wat hulle uit iets kan kry.

En dan kry jy die mense wat soos messe is. Die dogtertjie sê hulle is scary, hulle sny goeters en vernietig dit. Hulle is control freaks. Mense wat altyd dinge wil verander en hê soos wat hulle dit wil hê. Hulle is mense wat nie vertrou kan word nie – rugstekers.

In die teks word messe en vurke mense verteenwoordig deur Judas. Judas was deel van die geloofgemeenskap, maar hy het sy eie agenda gehad. Hy wou homself verryk. Dit gaan nie vir Hom oor ‘n commitment aan Jesus nie, dit gaan vir hom oor wat hy kan kry uit sy verbintenis aan Jesus. Hy volg vir Jesus op sy voorwaardes.

Eintlik is daar ‘n bietjie van Judas in elkeen van ons. Met Judas word ons gekonfronteer met die vraag: Volg ek vir Jesus of gaan dit net oor my eie agenda? Wat beteken Jesus regtig vir my? Wat is die dinge wat my wegtrek van Jesus af? Tot watter mate is ons regtig bereid om Hom te vertrou?

Raak ‘n paar oomblikke stil en dink hoe dit in jou lewe van toepassing is.

Wat die kerk en hierdie wêreld nodig het, is mense wat soos lepels is, mense wat soos Maria is. Mense wat bereid is om te dien. Mense wat bereid is aan te pas. Mense wat bereid is om Jesus met toewyding en liefde te volg, soos Maria.

Kom ons kyk net so bietjie na wat Maria alles gedoen het:

Die olie wat sy gebruik is afkomstig uit Indië, daarom was dit baie duur en is gewoonlik net gebruik by spesiale feeste. Vir iemand soos Maria kos dit ‘n jaar se salaris. Maar sy is bereid om dit te gee, omdat sy lief is vir Jesus

Om iemand se voete te was, was gewoonlik die taak van die slawe. Wanner mense ver geloop, en hulle voete was vuil en seer, dan het ‘n slaaf die voete gewas voordat hulle by die huis ingegaan het. So Maria is bereid om die nederigste en vuilste werk te doen.

Sy was ook ‘n ongetroude vrou wat ‘n ongetroude Rabbi se voete was – dit was nie sosiaal aanvaarbaar nie. So sy was bereid om haar sosiale status prys te gee.

Maria droog Jesus se voete met haar hare af. Joodse vroue mag nie hulle hare in die openbaar losgemaak het nie en olie is ook nie afgedroog nie. Dis die uiterste daad van liefde en nederigheid wat sy verrig.

Waarop dit neerkom: Maria was, anders as Judas, bereid om haarself en haar behoeftes 2de te stel om vir Jesus te dien. Vir Judas het dit oor homself en selfverryking gegaan, vir Maria het dit oor Jesus gegaan.

Miskien sal die volgende storie help om dit nog beter te verstaan.

’n Man is in ’n droom op ’n toer na die hel geneem. Hy kon sy oë nie glo nie ’n wonderlike feesmaal in swart potte wat gevul is met smullekker disse, het oral rondgestaan! Maar al die mense lyk soos brandmaer koeie, skreeu van die hongerte en is onaangenaam met mekaar - want hulle het sulke lang houtlepels gehad wat maak dat hulle nie dié heerlike kos by hul monde kon uitbring nie.

Net toe word die man weggevoer na die hemel. Tot sy verbasing lyk alles presies dieselfde – ’n wonderlike feesmaal in swart potte, gevul met smullekker disse. En weereens is daar sulke reuse, lang houtlepels. Maar die mense is gesond en vrolik en lag en gesels met mekaar. Die verskil? Die mense voer mekaar in die hemel.

Dit is die verskil tussen hemel en hel – In die hemel het mense geleer om mekaar te dien!

Dis die voorbeeld wat Maria vir ons stel.

By haar (en indirek by Judas) leer ons dat om vir Jesus en my medemens te dien beteken:

Dat ek my eie agendas op die agtergrond skuif.

Dat alles nie net om my en my besittings draai nie.

Dat ek vir Jesus moet volg vir wie Hy is en nie wat ek by Hom kan kry nie.

Ons leer dat ‘n volgeling van Jesus niks terug moet hou nie, dat mens alles moet gee.

Mag ons in hierdie lydenstyd weer aangegryp word deur die manier hoe Jesus alles gegee het om ons te dien. En mag ons weer besef wat dit beteken om Hom en ons medemens te dien omdat Hy bereid was om ons te dien.

No comments:

Post a Comment