Sunday, March 28, 2010

Preek: 28 Maart 2010

 SONDAG 28 MAART – Palm-Sondag


Vandag is Palm-Sondag! Die dag toe Jesus Jerusalem binne gestap het op die rug van ‘n donkie! Sy grootste dag van aardse glorie, toe die skare palmtakke – ‘n rooi tapyt as’t ware – voor hom neergegooi het en hom geloof en geprys het…!

Ons lees daarvan in Lukas 19: 28 – 38

Kom ons val in saam met daardie skare van ouds en ons besing die koning van die konings! Verbeel jou jy is daar!

Liedere: Heil aan die koning van die konings; He is the king of kings; What a mighty God we serve; Prys die Here vanuit die hemele

Hier besing hulle Jesus as koning. Maar kort hierna begin alles uitrafel…Die skare vereer hom, want hy gaan al hulle probleme oplos: finansieel, gesondheid, politiek… Jesus is hulle oplossing! Die dissiples vereer hom, want hy gaan hulle sosiale stand verander! Hulle gaan van vissermanne verander na die koning se raadgewers! Dis met oneindig baie verwagtings van hoe Jesus hulle gaan help dat die skare hom vereer en toejuig…Maar as dit lyk asof hy nié gaan help nie, gaan hulle aan met hulle lewens sonder Hom…

Die dissipels se gedrag wys vir ons dat hulle nié verstaan het nie…

In Lukas 22 : 24 – 27 raak hulle aan die stry oor wie van hulle die belangrikste sal wees wanneer Jesus koning word… Geduldig moet Jesus weer vir hulle verduidelik dat Sý koninkryk ánders werk…

In Markus 14 lees ons hoe Jesus hulle saamneem om te gaan bid…maar hulle raak aan die slap.

Toe veraai Judas hom en hy word gevange geneem…

Matteus 26: 56: Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop…

In Matteus 26 lees ons hoe Petrus, sy beste vriend, vir Jesus verloën; sy bestaan ontken en sê: “Ek ken die man nie!”

Die skare het nie veel beter gevaar nie… Op Palm-Sondag gooi hulle die rooi tapyt oop en sing lofliedere. ‘n Week of wat later skree hulle: “Kruisig hom!” (Markus 15: 12-14)

Dan sterwe Jesus…alleen…! (Lukas 23:49) Al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op ‘n afstand bly staan…

Kom ons probeer ook dáárdie oomblik beleef…

Jesus, alleen, sonder genade, sonder bystand, maar gehoorsaam…

Liedere: Vervul, o Heer, my hart met stille wyding; Verlate van U vriende

Ja, hier is ons, 2000 jaar later. En, myns insiens, herhaal hierdie geskiedenis homself elke jaar…Ons “Palm-Sondag” word net “Kersfees” genoem, met skares wat saamdrom in kerke dwarsoor die land, wat God uit volle bors prys, wat Jesus vereer en sing: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!”

Maar wanneer Paasfees aanbreek en gelowiges die heel belangrikste gebeurtenis vier, is die kerke relatief leeg en mense afwesi

Ons het weer ‘n kans hierdie jaar! Ons kan dit hierdie keer reg doen! Ons klomp kan dit anders begin doen!

As ons vandag se boodskap HOOR en besluit om nié die geskiedenis te herhaal nie, moet ons DEURDAG en BEWUSTELIK deur die volgende week en paasnaweek gaan…

Ons moenie wegskram of weghardloop van al die emosie nie! Ons moet SAAM MET JESUS stap en BY HOM BLY.

Ons moet diep onder die indruk kom van Sy angs en lyding…

Ons moet beter vaar as die Joodse Raad, die skare en die dissipels…

Ons moet beter vaar as al die gelowiges wat paasnaweek langnaweek hou en nie naastenby genoeg aandag gee aan wat gevier en onthou word nie…

Dit moenie vir ons gaan oor hoe Jesus ons kan help nie… Ons moet deur ons gedrag in hierdie volgende week wys dat ons vir Jesus liefhet!

Om deurdag en bewustelik deur hierdie tyd te gaan beteken:

Ons moet self-ondersoek doen en nederig raak… Teen Goeie Vrydag moet ons bakhand staan vir die genade van daardie nagmaal!

Ons kan somber kleure dra die volgende week

Ons kan geheel en al ophou om musiek te luister, die radio aan te skakel en selfs TV te kyk. Ons kan die stilte toelaat o mom ons te vou…

Ons kan van iets vas – iets wat ons mis – soos vleis, koffie, die rekenaar, TV, telefoon, lekkergoed…

Ons kan ‘n swart of pers of rooi band om ons arm dra

Ons kan ‘n klip in ons sak dra, oral waar ons gaan, om ons te herinner aan die die gebrokenheid, pyn en lyding waarvoor Jesus gesterf het

Ons kan ‘n kers laat brand en op Goeie Vrydag doodblaas…

Ons hoef Jesus nie te verloën deur Hom in hierdie tyd te ontken nie…!

In hierdie tyd, meer as enige ander, moet Jesus die absolute middelpunt van ons bestaan wees! Só dat ons heeltyd van Hom bewus is. Só dat Hy sigbaar is en mense ons uitvra oor ons gedrag…soda tons kan sê: ons kén vir Jesus en hy is verskriklik belangrik in ons lewe…!

Ek wil afsluit met ‘n storie:

In die laat 1990’s was daar ‘n gemeente in Engeland wat apaties begin raak het oor hulle geloof… Hulle musiek het oppervlakkig geraak en daar was min diepte in hulle geloofslewe. Die dominee het ‘n baie dapper, onpopulêre ding gedoen: hy het opgehou om die band te gebruik om musiek te maak. Geen voorsangers of instrumente nie… Geen speakers en klanksisteme nie. Net mense en hulle stemme. Hy het die sang, die aanbidding gestroop van álles…! Hy het die Gemeente herinner dat hulle nie VERBRUIKERS van aanbidding was nie; dat hulle nie gesing, ge“praise-&-worship” het vir hulleself nie. Dat aanbidding iets is wat ‘n mens vir God géé… Jy aanbid vir God!

Daar het, tydens praise-&-worship tyd, ongemaklike stiltes gevolg, maar dit is met verloop van tyd gebreek deur gebede wat van die hart gekom het; mense wat spontaan begin sing het: liedere van aanbidding…

Stadig maar seker het daardie Gemeente God op ‘n nuwe manier ontdek… Aanbidding het oor Jesus begin gaan. Uit die dieptes van hulle siele, maak nie saak wat hulle omstandighede nie, het hulle Hom begin aanbid… Nie vir wat hulle kon kry nie, maar net oor wie Hy is en wat Hy vir hulle gedoen het…

In daardie tyd is die lied “Back to the heart of worship” geskryf:

When the music fades; all is stripped away and I simply come,

Longing just to bring something that’s of worth, that will bless your heart

I’ll bring You more than a song…

I’m coming back to the heat of worship, when it’s all about You;

It’s all about You, Jesus…

Dis wat in hierdie groot lydensweek wat voorlê met ons moet gebeur: dit moet net oor Jesus gaan! Ons moet die pad saam met hom stap! Terug na die hart van aanbidding…

SING: Back to the heart of worship…

No comments:

Post a Comment