Sunday, September 12, 2010

Preek 12 September 2010

Lukas 15: 1-10

Die gelykenisse van Lukas 15 word mos gewoonlik onthou in negatiewe in plaas van positiewe terme. Ons praat van die verlore skaap, nie die gevindde skaap nie; ons praat van die verlore muntstuk, nie die gevindde muntstuk nie; ons praat van die verlore seun, nie die gelykenis van gevindde seun of die liefdevolle vader nie. Ons praat negatief daaroor, terwyl al 3 hierdie gelykenisse eindig met ‘n feesviering. Al hierdie gelykenisse gaan oor liefde, genade, vergifnis en blydskap. Dit gaan oor God wat nooit opgee op mense nie, maar wat aanhou soek.
Dis so anders as die fariseers en die skrifgeleerdes. Hulle was die leiers van die kerk van daai tyd. Maar hulle is beswaard en moan oor die mense met wie Jesus meng. Oor die tollenaars en die sondaars. So hulle besluit wie deel mag wees van die geloofsgemeenskap en wie nie. Hulle tref ‘n onderskeid tussen mens. Sommige mense kwalifiseer vir genade en ander nie.
Met die gelykenisse wil Jesus vir hulle uitnooi om na die wêreld te kyk soos God daarna kyk. En die wêreld wat hy voorhou, is ‘n wêreld waar die mees sondige mense ‘n plek by God kan kry. Waar verlore mense deur God omhels word. ‘n Wêreld waar die kerklike mense nie in God se pad staan wanneer hy op soek is na hulle wat hom nodig het nie. ‘n Wêreld waar genade nie voorwaardes het nie, maar waar almal ingesluit is.

Hulle vertel dat die skape in die Skotse hooglande dikwels dwaal na die meer rotsagtige dele. Die gras op hierdie dele is lekker soet en die skape hou daarvan. Hulle spring af in die rotsskeure om daarby uit te kom en bly sommer dae lank daar totdat al die gras opgeeet is. Maar dan kan hulle nie weer uitkom nie. Dan staan en blêr hulle daar. Die herders los hulle dan daar totdat hulle moeg is, voordat hulle afklim om die skape te gaan uithaal. Die herders sê, die rede hoekom hulle die skape eers daar los totdat hulle lekker moeg is, is omdat hulle sal skrik en by die afgrond afspring.

Ons is ook mos maar partykeer soos hierdie skape, ons dwaal af, ons leef soms naby die afgrond. Ons vra ook soms – waar is God? Ons wil ook soms weet, waar is die herder wanneer daar slegte goed gebeur met ons of met ander mense gebeur. Ons voel ook soms ver van God af en vasgekeer in die rotsskeure van hierdie wêreld.
Die gelykenisse gee vir ons ‘n antwoord – Hy is altyd by die wat hom reeds gevind het. Hy is teenwoordig by hulle wat Hom nog soek. En hy is spesiaal teenwoordig by hulle wat Hom nie meer kan vind nie.
Hierdie verhael herinner ons dat ons almal ewe waardevol is vir God en hy sal jou soek totdat jy gevind word. Selfs al het almal oor jou moed opgegee, gee God nooit moed op nie.

‘n Vrou het ‘n stuk geskryf waarin sy teruggedink het aan haar verhouding met haar pa. Sy vertel toe sy jonk was, was sy baie na aan haar pa. Die tye wat sy die meeste bewus was daarvan, was by familie-saamtrekke. Iewers tydens hierdie aande het daar gewoonlik ‘n tyd gekom wat die plate uitgehaal is en gedans is. Onvermydelik het iemand gewoonlik ‘n lied met die naam “beer barrel polka” aangesit en dan het haar pa haar geroep en gesê: “Ek glo hierdie is ons dans” en dan het hulle gedans.
Eenkeer toe sy ‘n tiener was en in een van tienerbuie en die “beer barrel polka” het weer gespeel en haar pa het gesê: ‘ek glo hierdie is ons dans”, het sy teruggehap, “moenie aan my vat nie, los my uit” En haar pa het haar nooit weer gevra om te dans nie. Sy skryf dat hulle verhouding deur haar tienerjare maar moeilik was. As sy saans laat by die huis gekom het, dan het hy gewoonlik half aan die slaap op een van die sitkamerstoele gesit en dan het sy na hom gesnap en hy sou maar net met hartseer oë na haar kyk en sê: “Ek het net vir jou gewag”.
Toe sy weggaan college toe, was sy net bly om uit die huis uit te kom en weg te kom en die jare daarna het hulle maar min gekommunikeer. Maar soos sy ouer geword het, het sy hom begin mis. En eendag het sy besluit om weer na een van die familie-saamtrekke te gaan. Iewers in die aand het iemand weer die ‘beer barrel polka’ aangesit. En sy het diep asemgehaal, na haar pa toe gestap en gesê: ‘pa, ek glo hierdie is ons dans”.
Hy het na haar toe gedraai en gesê: “jy weet nie hoe lank ek al hiervoor wag nie…vir jou wag nie.”
Dis hoe God is – Hy plaas nie druk op ons nie en Hy sal wag vir solank as wat dit nodig is.

William Barclay het gesê: “God, too, knows the joy of finding things that have gone lost. Therefore we believe in the seeking love of God because we see that love in Jesus, the Son of God, who came to seek and to save that which was lost.”

Kom ons kyk na ‘n getuienis van iemand wat so ‘n ervaring gehad het. Dis ‘n ou met die naam van Herbert Opalek, hy was ‘n ortodokse Joodse Rabbi, God het hom gevind met die hulp van ‘n Gideonsbybel.

Kyk DVD

God is nooit weg nie, al voel dit soms vir ons so, Hy is die weg. God soek elkeen wat weg is. Maak nie saak hoe lank dit neem nie. Maak nie saak wat dit kos nie. Maak nie saak hoeveel sonde of nood of probleme ‘n mens het nie. Maak nie saak wat die etiket is wat ons so maklik om mense se nekke hang nie. God se liefde is dieselfde vir alle mense. God se liefde is vir jou.

As jy vanoggend hier sit - jy voel dalk ver van God af; jy is dalk kwaad vir God; jy het dalk nog nie vir gevind nie; jy is dalk bekommerd oor iemand naby aan jou wil ek jou uitnooi om vorentoe te kom en hier voor te kom staan vir ‘n gebed.

No comments:

Post a Comment