Wednesday, October 6, 2010

Preek 03 Oktober 2010

Ons leef mos in ‘n tyd waar die Christelike geloof baie prominent is. Ons lees daarvan, ons hoor daarvan – positief en negatief. En Christene speel ‘n groot rol in die samelewing. Ek wil julle terugvat na ‘n tyd toe dit baie moeiliker gegaan het met die christelike geloof. Die kerk was nog net ‘n paar dekades aan die gang. Paulus en die ander apostels was hulle geestelike mentor en inspirasie, maar hulle is al oud en besig om te sterf en Paulus is in die tronk. Trouens, hierdie was waarskynlik die laaste brief wat hy geskryf het voor sy dood.
Vir Timoteus was dit ‘n baie moeilike tyd. Hy was een van die nuwe leiers wat deur Paulus opgelei is en hy moes nou die gemeente in Efese bedien. Dit was nie ‘n maklike taak nie. Daar was ‘n paar goed wat teen Timoteus getel het. Hy was hartseer oor dit wat besig was om met Paulus te gebeur en omdat mentor nie meer lank by hom gaan wees nie. Dan was daar die Romeinse owerhede wat baie onverdraagsaam was teenoor die Christene en hulle wou hulle uitwis. En dan het timoteus ook baie onbekwaam gevoel vir die taak wat aan hom opgele is.
Dis in hierdie moeilike omstandighede wat Paulus hierdie brief vir Timoteus skryf.
Lees die teks 2 Timoteus 1: 1-14
Miskien sal die volgende DVD clip mooi verduidelik waaroor die teks gaan. Sieg en
Sakkie. (‘n Hond het vir sakkie bang gemaak. Sieg verseker hom dat hy nie meer
bang hoef te wees nie, want God en, hy wat Sieg is, is by hom) 
Timoteus voel bietjie soos Sakkie. Hy is bang en onseker en hy voel onbekwaam vir die
groot taak wat aan hom opgelê is. Paulus sê dan vir hom ‘n paar dinge om hom te
help.
Hou vas aan dit wat jy by jou geloofsvriende en mentors geleer het.
Hier verwys Paulus na homself as Timoteus se mentor en hy noem ook Timoteus se ma
Eunice en sy ouma Lois. Die mense by wie hy sy geloof geleer het.
Stef Bos sing ‘n lied: Pappa. In die lied sing hy dat hy sy pa se oë en hande het.
Dat hy lyk soos sy pa. Maar hy sing ook dat hy en sy pa baie verskil. Hulle verskil oor godsdiens en hulle uitkyk op die lewe en lewenstyl. Maar ten spyte daarvan het hy ook baie geleer by sy pa en hoe ouer hy word, hoe meer besef hy, hy lyk al meer soos sy pa en hy hou al meer van sy pa.
Ons het almal sulke mense in ons lewens. ‘n Ouma of oupa, pa of ma. Dalk ‘n vriend, iemand by wie jy baie geleer het en vir wie jy respek het. Die punt wat Paulus wil maak aan Timoteus – wanneer jy onseker voel, onbekwaam voel of bekommerd voel is daar behalwe God ook die mense aan wie jy kan dink, met wie jy kan praat en wat vir jou ‘n inspirasie sal wees. Mense wat ‘n belangrike rol in jou lewe speel en gespeel het.
Neem gou ‘n oomblik en dink bietjie wie so ‘n mens vir jou is. Wie is die mens wat  vir jou is, wie Paulus vir Timoteus was? Sê vir God dankie dat hy die persoon in jou lewe gestuur het.  Uitdaging: bel of SMS, of email die persoon en sê dankie.
Paulus herhinner ook vir Timoteus aan sy identiteit in Christus.
Hy herhinner vir Timoteus daaraan dat sy geloof en bediening kom van God af. In vers 9 sê hy dit baie mooi: 
“Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees.  Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.”
Ons geloof is die gevolg van God se werk in ons. Dit hang nie af van hoe ons voel nie of van die dinge waardeur ons gaan nie. Dit bly altyd vas, want dit kom van God af. En daarom kan ons soos Timoteus weer hoor, ons kan aan God vashou, maak nie saak wat oor ons pad kom nie.
Hierdie werking van God in ons lewens maak 4 dinge vir ons moontlik. Volgens vers 7
Dit maak dat ons nie lafhartig hoef te wees nie. Paulus bevestig dat ons vir niks hoef bang te wees nie. Die Heilige Gees woon in ons, is altyd by ons en help ons om dinge te hanteer.
Dit vul ons met krag, sodat ons enigiets kan hanteer en die lewe in die oë kan kyk.
Dit help ons om Jesus se liefde uit te leef. Om sy liefde vir onsself te neem, maar dit dan ook te gaan uitleef teenoor ander.
Dit gee vir ons selfbeheersing om te weet hoe om te reageer en die regte keuses te maak. Sodat ons positiewe getuies vir Jesus sal wees.
Timoteus word opgeroep om dit wat God gedoen het, vir homself toe te eien en daaruit en daarmee te gaan leef.
Ons word geroep om dieselfde te doen. Ons kan moed skep want ons het die krag en die Gees wat in ons werk. 
 
Graffiti op ’n muur van New York se ondergrondse stasie:    

“You can punch my lips so I can't blow my horn,
but my fingers will find a piano.
You can slam the piano lid on my fingers, but you can't stop my toes from tapping like a drum.
You can stomp on my feet to keep my toes from tapping, but my heart will keep swinging
in four/four time.
You can even stop my heart from ticking, but the music of the saints shall never cease.”
Soos Paulus in vers 12 sê:
“Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.”
Bespreking
Dink aan ‘n keer in jou lewe toe jy regtig bang was en hoekom?
In die lig van die teks en die agtergrond, wat staan vir jou uit?
In vers 2, 5 skryf Paulus dat Timoteus moet vashou aan die mentors in sy lewe en aan dit wat hy by hulle geleer het.
  • Wie is die mense wat in jou lewe ‘n belangrike rol gespeel het en hoekom?
Paulus skryf dat Timoteus moet vashou aan sy identiteit in Christus, want dis gesetel in God en nie in hoe hy voel nie. (vers 9).
  • Wat sê hierdie gedagte van God?
  • Wat sê dit vir jou?
Lees die graffiti wat op die muur van die treinstasie geskryf is.
  • Wat beteken dit vir jou?

No comments:

Post a Comment