Sunday, December 25, 2011

Preek 25 Des 2011

Kersdiens

Lees Psalm 98: 1-9

Luister na die lied: “Joy to the world” (jy kan daarna kyk en luister by http://www.youtube.com/watch?v=91brmsKeqcQ)

“Joy to the world” is seker een van die bekendste kersliedere in die wêreld. Dit is lied wat geskryf is deur Isaac Watts in 1719.  Hy was ‘n tiener en het gekla dat die kerkmusiek van sy tyd vir hom te boring was. Sy pa het toe vir hom uitgedaag om sy eie liedere te skryf. Hy wou liedere skryf wat vroliker was, wat getrou aan die Bybel was, maar wat ook geskryf is in gewone taal wat die mense kon verstaan. Toe die lied die eerste keer verskyn het was mense glad nie beindruk daarmee nie. Dit was vir hulle te vrolik en sommige het gesê dit was nie na genoeg aan die Bybel nie.

Daar is 2 redes hoekom ons vanoggend by hierdie lied stilstaan: eerstens omdat dit so ‘n bekende lied is en ons dit oral hoor – van kerke tot winkelsentrums. En tweedens omdat dit gebaseer is op Ps 98 – ons teks vir vandag.
Met die lied wou Isaac Watts Ps 98 beklemtoon. Naamlik dat elke deel van die skepping vir God loof en prys. Die hele skepping word opgeroep om saam tot eer van God te juig.

Ek wonder nogal of ons moderne mense nog die vermoë het om God om hierdie manier te loof. Want aan die eenkant is ons lewens so besig en so vol en probeer ons dikwels net oor leef, dat ons sukkel om vir God nog te loof en te prys ook.

Aan die ander kant het die skepping ook vir ons stil geraak. Die lofdruising van die see is vervang met die gedruis van die karre in die spitsverkeer. Die jubelende gekabbel van ‘n rivier is vervang met die gekabbel van vingers op die keyboard van ‘n rekenaar en ‘n selfoon. Die juigende majesteit van die berge is vervang met die beklemmende beton van kantoorgeboue.

Ons moet weer ‘n slag ons geloofsoë en ore oopmaak, sodat ons weer ‘n slag kan sien en hoor hoe God rondom ons deur die skepping geloof en geprys word. Ons moet ‘n slag weer wegkyk van onsself en ons wêreldtjies af en God se grootsheid begin raaksien en Hom loof daarvoor. Ons moet ‘n slag weer wegkyk van die probleme van ons tyd en vir God loof, want Hy is groter as dit alles.   

Aan die begin van die ons diens, het Jalize-hulle ‘n verwerking van “God is hier teenwoordig” gesing. Julle het seker opgelet hoe hulle dit gesing het – dit het eers rustig begin, net met die klavier en stadig maar seker het meer instrumente bygekom, totdat dit lekker sterk en hard was. Amper soos die rippel-effek as jy ‘n klip in ‘n dam gooi. Ons sien dieselfde opbou in Psalm 98.
Eers word net van sing gepraat, dan verander dit na juig en jubel.
Wat die instrumente betref is dit eers net die snaarinstrumente, dan kom die blaasinstrumente by. Die hoogtepunt is wanneer die hele skepping as ‘n magtige koor bykom.
Ook die mense wat die lof moet bring se sirkel word al hoe groter. Eers is dit net die Godsvolk, Israel, wat opgeroep word, dan is dit alle lande en uiteindelik is dit die totale skepping wat God moet loof. 
Hierdie rippel-effek in die psalm bevestig aan ons dat lof aan God veel groter is as net ek en my gemeente. Lof aan God breek grense en skeidings af – grense tussen verskillende mense, grense tussen mense en die skepping. Lof aan God is met ander woorde ook ‘n getuienis – dit gaan nie net oor ons wat lekker saam sing nie – dit ‘n manier om vir die wêreld te wys wat ons glo en in Wie ons glo. 

In vers 9 lees ons: Alles moet Hom loof, “…want Hy kom om oor die aarde te heers; Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid, oor die volke met billikheid.
Ons wat NT gelowiges is weet ons hoef nie meer uit te sien dat Hy gaan kom nie. Op kersdag vier ons dat Hy reeds gebore is. Ons het reeds die geskenk ontvang. 

Ek lees in verlede Sondag se Sunday Times ‘n artikel van Barry Ronge. Hy skryf hoe hy in ‘n winkel sentrum loop en sien hoe mense spartel om die laaste kersgeskenke te koop. En dit laat dink hom toe aan die 3 kersgeskenke wat die grootste impak in sy lewe gemaak het.
Hy skryf dat hy van kleins af ‘n boekwurm was – en die boeke wat hy as kersgeskenk gekry het hom na ‘n ander wêreld toe geneem en dit het hom ‘n ongelooflike algemene kennis gegee. Dit het sy wêreld vergroot.
‘n Tweede geskenk wat hy gekry het, was ‘n fiets. Dit het sy wêreld groter gemaak. Ewe skielik kon hy op plekke kom waar hy nie vroeër kon kom nie. Onder andere het dit hom by die bioskoop gebring waar hy sy liefde vir flieks ontdek het – vandag is dit sy werk om flieks te resenseer. Dit het hom onafhanklikheid gegee.
‘n Derde geskenk was ‘n draagbare radio. Skielik het hy nie meer nodig gehad om met sy ma en suster te kompeteer oor watter radio program om te luister nie. Hy kon op sy eie Springbok radio en LM radio luister terwyl hulle radioverhale luister.

Hierdie 3 geskenke het sy lewe verander. Geskenke kan mens se lewe verander. Op kersdag vier ons Jesus se geboorte . Die geskenk wat nie net my en jou lewe verander het nie, maar wat die hele wêreld verander het. Dis die gebeurtenis wat die grootste impak in die geskiedenis van die wêreld gehad het. Ons praat nie verniet van die tyd voor Christus en die tyd na Christus nie.
En daarom - Al wat ons kan doen op hierdie kersdag en elke dag daarna, is om gehoor te gee aan die oproep van Psalm 98:

“Juig tot eer van die Here, almal op aarde, wees vrolik, juig en sing! Sing tot eer van die Here met begeleiding van die lier, speel op die lier en sing. Blaas die trompet en die ramshoring, jubel tot eer van die Here, die Koning.”

No comments:

Post a Comment